Preek: Jakobus 2:1-13 Die geloof in Christus moet nie met die aanneming van die persoon wees nie

DIE GELOOF IN CHRISTUS MOET NIE

MET DIE AANNEMING VAN DIE PERSOON WEES NIE 

Skriflesing: Ex.23:1-3; 1 Kor.1:26-31; Filp.2:4-11; Jakobus 2:1-13

Preekteks: Jakobus 2:1-13

Die preek (asook die res van die Jakobus-reeks) kan hier geluister word:

Jakobus 2:1-13 (gaan na: 2015-04-19)

(Nota: Ek het in die verlede al my preke vanaf, Jak.2:14 tot 5:20, reeds hier op my blog geplaas. Ek is besig om Jak.1:1-2:13 se preke ook hier plaas, hierdie is die laaste een, dan is die reeks volledig.)

Preeknotas (die preeknotas stem nie presies ooreen met die audio preke nie, aangesien die preek gelewer is by beide GK Carletonville en GK Bet-el, waar dit in toepassing kan verskil):

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

(Inleiding: voorbeeld van arm jongman en die ryk jongman, die arm jongman word getug oor sy volhardende sonde, die ryk jongman nie oor sy volhardende sonde nie)

Dit is dan ’n geval van om, partydig te wees, om nie volgens God se Wet nie,

maar ’n persoon te beoordeel, in die woorde van een verklaarder

“volgens uiterlike posisie, afkoms, voorkoms, rykdom of stand van mense”

En dit is die saak wat die Woord ons oor aanspreek in Jak.2:1-13

– v.1 julle geloof in Christus moet nie met die aanneming van persoon wees nie

– v.4 julle moet nie self onderskeid maak en regters met verkeerde oorlegginge wees nie

– v.9 as julle partydig is doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf.

Die woord partydigheid beteken letterlik: “wat voor oë is” of “volgens die gesig”, d.w.s. bloot volgens uiterlike voorkoms, status, aansien, mag, rykdom ens., iemand of iets te beoordeel, wat deurslaggewend is.

En die Here sê dit mag nie so in sy gemeente wees nie.

Daarom, is ons tema vir vandag:

Ons geloof in Christus moet onpartydig wees,

nie met die aanneming van die persoon nie.

Ons gaan let op 3 sake,

  1. die spesifieke geval wat Jakobus na verwys oor partydige optrede, v.2-4
  2. waarom partydigheid verkeerd is, v.5-11
  3. die oproep en waarskuwing om barmhartig te wees in Christus, v.1,12,13

 

1 Die spesifieke geval wat Jakobus na verwys oor partydige optrede, v.2-4

In hfst.1:19-27 het ons geleer dat die ware reine onbesmette godsdiens,

is die godsdiens wat:

– v.19, 20: gou die Woord hoor, en stadig is om toornig te word

– v.21, die boosheid aflê en die Woord met sagmoedigheid ontvang

– v.22-25, nie net hoorders nie maar daders van die Woord is

En in v.27 het hy gewys op een van daardie konkrete dade wat gedoen word: om wees en weduwees te besoek.

Die doel van daardie woorde is nie om te sê net hulle nie,

maar dat geloof in God, om die Woord waarlik te hoor

is om mense op te soek wat dit moeilik het, swaar het,

wat baiemaal oorgelewer is aan ander se misbruik en mag,

wat nie altyd beskerming het nie.

En nou, in hfst.2 spreek hy dan so konkrete situasie aan,

waar die reine en onbesmette godsdiens nie gesien word nie,

waar die geloof nie in die dade gesien word ten opsigte van die naaste nie.

In v.2-4 is dan so spesifieke geval, verklaardes verskil onder mekaar

of Jakobus na ’n werklike geval verwys of ’n hipotetiese geval.

Hoe dit ookal sy, die saak is duidelik:

Daar het twee persone die vergadering, die gemeente byeenkoms besoek.

Dit blyk dat hul nie gelowiges is nie, maar besoekers.

Iets wat heelwat gebeur het in die eerste eeu,

dink maar ook aan Paulus se woorde in 1 Kor.14:23 (lees).

Die een was ’n ryk man en die ander een arm man, nog meer letterlik, ’n boemelaar met sy vuil klere.

Die rykman se uiterlike – goue ringe, pragtige kleed – word raakgesien,

maar so ook die arm man se uiterlike – vuil klere.

En volgens hierdie uiterlike voorkoms of status, word dan besluit hoe hul behandel gaan word, en wat hul plek in die vergadering gaan wees:

– die ryk man kry erkenning, aansien, word as belangrik beskou en so behandel, daarom kry hy ’n goeie plek.

– die arm man moet staan of by die voetbank plek inneem, hy word minderwaardig behandel.

En dit veroordeel Jakobus as’n sonde, v.9

Dat dit hulleself regters maak met verkeerde oorlegginge,

vanuit hul sondige harte, v.4

Die sleutel van die sonde is, die woord ‘julleself’, v4.

Dinge en mense word beoordeel volgens die sondige harte en mense se wil.

En hierdie aanneming van persoon is in stryd met die geloof in Jesus Christus,

dit is in stryd met om dienskneg te wees van Christus,

dit sien ons in die 2de plek:

 

2. Waarom partydigheid verkeerd is, v.5-11

Nadat hy gewys het op die probleem geval,

kom Jakobus nou en roep hul om aandag te gee,

noukeurig te let waarom hierdie partydigheid boos en verkeerd is,

daarom dat hy begin met die woord daar in vers 5: “Luister, my geliefde broers”

Hy gee dan ’n paar redes waarom partydigheid in stryd is met die Here se wil.

a. Partydigheid is in stryd met die Here se karakter, in die besonder die leer van die uitverkiesing.

Vers 5 (lees)

Dit is wat ons daar gelees het in 1 Kor.1:26-31 (lees)

Die Here se kinders is in baie gevalle, die meeste gevalle juis hulle wat onderdruk word, misbruik word, vervolg word, ens,

soos die Jakobus, Petrus brief ook aandui.

En die Here het nie enigsins ons armoede, hetsy geestelik of fisies in ag geneem toe Hy ons uitverkies het nie,

Hy het in sy vrye welbehae sonder om ons persoon aan te neem op enige wyse (status, rykdom, aansien, mag, ens.),

ons uitverkies om as sy kinders ryk in die geloof en erfgename van die koninkryk te wees, v.5

So lees ons ook van die Here se onpartydigehid regdeur die Skrif, bv:

1 Sam. 16:7   7 Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.

Rom.2:11 Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie

Ef.6:9   9 En, here, doen dieselfde teenoor hulle en laat staan die dreigemente, omdat julle weet dat ook julle eie Here in die hemele is en by Hom geen aanneming van die persoon is nie. [Ef.6:9; sien ook Rom.2:6; Kol.3:25)

Jakobus wil hul ook hier laat dink oor wie dit is wat hul as gemeente vervolg en sleg behandel.

Dit is nie die armes en swakkes van die wêreld nie, maar juis hulle wat magtig is, rykes wat hul voor die regbanke gesleep het,

wat die gelowiges, die gemeente partydig behandel het (sien Jak.5:1-6).

Hierdie ongelowige ryk mense belaster juis die Here se Naam,

verag Christus, hoe is dit dan hul juis daardie mense wil voortrek bo mense

wat nie daardie mag en aansien het nie ?

b. Die tweede rede waardeur hy wys partydigheid is sonde, is omdat dit teen

die Here se gebod, se wet is, wat hy in vers 8 die koninklike wet noem.

Hierdie koninklike wet in die Skrif is in die besonder Lev.19:18,

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself

As jy partydig optree het jy nie jou naaste, hetsy arm of ryk lief nie.

Dan doen jy nie goed nie maar is ’n oortreder van die wet van die Here.

Onthou die Here se wet, die 10 gebooie is die fondament en opsomming.

Daar is ook ander wette wat daardie 10 gebooie in die besonder toepas.

So daarom hoor ons ook uit God se wet:

Deut.1:17   17 Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.

Exodus 23:1-3  Jy mag geen valse gerug rondstrooi nie. Verbind jou nie met die skuldige om ‘n kwaadwillige getuie te wees nie.  2 Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in ‘n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie.  3 Ook mag jy die geringe nie voortrek in sy regsaak nie.

Daarin hoor ons ook dat ons nie ryk of arm, sterke of swakke, minderheid of meerderheid partydig mag behandel nie.

Dit is wat die Here van sy kinders vra, teenoor die naaste.

So teenoor die verkeerde manier om met jou naaste om te gaan, nl.

v.4 ‘julleself’ as standaard, met verkeerde oorlegginge = sondige harte,

wil die Here hê ons moet almal regverdig behandel volgens sy wet.

En, om almal regverdig volgens sy wet te behandel is om hul gelyk te behandel.

Hierdie Skifgedeelte is nie ’n pleitdooi dat die Here in die besonder ’n God is van die armes is bloot omdat hul armes is nie …

soos Belhar belydenis impliseer nie,

maar dat almal regverdig behandel sal word volgens sy wet.

En ja, dit is ongelukkig meestal die rykes wat armes misbruik en uitbuit,

maar daar is ook gelowige rykes deur die Skrif,

dink aan Abraham, Job, Dawid, Josef van Arimetea, ens.

Ja, dit is moeiliker vir rykes,

maar deur die Here se genade nie onmoontlik om gered te word nie (Markus 10:25-27).

En, daar was blykbaar sommige wat geredeneer het,

hul doen al die ander gebooie van die Here,

maar nie die liefde tot die naaste nie.

En Jakobus wys in verse 10,11 dat as jy so redeneer,

jy nog die hele wet verbreek.

So, enige wet se oortreding is ernstig vir die Here.

Dit wat 1 Joh.4:20-21 leer: 20 As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?  21 En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.

So, hoe moet ons onpartydig optree teenoor ons naaste ?

Nie een of ander voortrek nie, maar v.11, volgens sy wet hul waarlik liefhê in waarheid en geregtigheid, Rom.13:8-10,

Rom 13:8-10   8 ¶ Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.  9 Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  10 Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

Dit bring ons by die laaste punt,

 

3 Die oproep en waarskuwing om barmhartig te wees in Christus, v.12,13

Gelowiges, v.1, hulle wat glo in die Christus van die heerlikheid,

se spreek en doen moet nou bepaal word deur die wet van vryheid.

Ons is nou vrygekoop van sonde en onsself, om ons naaste dien.

Om volgens v.13, ’n lewe van barmhartigheid aan ons naaste te toon.

Om onpartydig te kan optree teenoor almal volgens sy wet.

Dit is juis wat Christus vir ons kom bewerkstellig het,

maar ook vir ons ’n voorbeeld nagelaat het.

Die verwysing in v.1 het reeds daarop gewys:

My broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie.

Christus wat as Seun van God volkome heerlikheid het,

het – beskryf Filp.2:5 en verder dit – Homself ontledig en dienskneg geword,

aan mense gelyk geword, het Homself verneder tot aan die kruis vir ons,

om ons te dien en ’n voorbeeld te stel.

Om te dien, om barmhartig te wees.

Om soos Hy ons aangeneem het met ons vuil klere en al,

ons te vergewe en ‘n nuwe kleed te gee (Sag.3:4),

sodat ons ook mekaar sal vergewe (Ef.4:32) en aan te neem,

sodat ons mekaar kan beklee (Luk.15:22).

Daardie gesindheid, geliefdes, moet ook in ons lewe.

En as ons lewe nie barmhartigheid, onpartydigheid kenmerk nie,

sê vers 13 gaan ons ook nie met barmhartigheid geoordeel word nie.

Maar as ons barmhartigheid nastrewe teen oor ons naaste,

sonder die aanneem van persoon,

dan in die dag van oordeel,

sal ons geloof bevestig word as ‘n ware geloof in die Christus van die heerlikheid.

NEE, DIT IS GLAD NIE MAKLIK IN ONS TYE NIE, MENS WEET NIE IN ONS MISDADIGE GEVAARLIKE WERELD HOE OM ALTYD OP TE TREE NIE.

DAAROM MOET ONS BID VIR WYSHEID, Jak.1:5 OM OOK ONPARTYDIGE BARMHARTIGE MENSE TEENOOR ONS NAASTE WEES IN ONS TYD

SODAT ONS GELOOF OOK GETUIG DAT ONS IN CHRISTUS IS,

DIE HERE VAN DIE HEERLIKHEID.

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: