Preek: 2 Sam.16 Christus het die vloek in ons plek gedra

CHRISTUS HET DIE VLOEK IN ONS PLEK GEDRA

Skriflesing: 2 Sam.16:5-14; Gal.3:10-14

Preekteks: “Miskien sal die HERE my ellende aansien en sal die HERE my goed vergelde vir die vloek wat my vandag tref.” (2 Sam.16:12)

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Koning Dawid, die gesalfde van die Here, is op vlug.

Sy seun Absolom het in opstand gekom, om die troon van sy vader te neem.

In Dawid se vlug, kom hy ’n man teë, ’n woedende verbitterde man,

met die naam van Simei, wat uit die huis van Saul is, uit die stam van Benjamin.

Hy vervloek vir Dawid.

Hy gooi vir Dawid en sy manskappe met klippe al vloekende.

Hy noem vir Dawid, v.6, ’n bloedvergieter en ’n deugniet,

meer letterlik vertaal: ’n seun van Belial

Die woorde vir vervloeking en Belial beteken letterlik

– om niks werd te wees, te lig te wees, waardeloos, afkeurenswaardig, veragtelik, boos, iets wat bedoel is om vernietig te word, vir die verderf bedoel is.

Die rede wat Simei vir sy optrede gee, vind ons daar in v.8,

Dawid is volgens hom skuldig aan die bloed van die huis van Saul,

– Saul self,

– maar ook die dood van Abner, Saul se leerowerste (hfst.3), en

– Saul se kleinseun (hfst.4), Isboset (Jonatan, sy seun se seun)

Simei is oortuig, dat die feit dat Dawid nou vlug vir sy eie seun,

die vloek en oordeel is van die Here, en dat die Here Dawid nou verwerp het.

Maar, is dit waar geliefdes ?

Nee, Dawid het hoeveel keer die kans gehad om Saul dood te maak,

maar hy het gesê hy durf nie die gesalfde van die Here aanraak nie.

Hy was ook nie naby toe Saul doodgeslaan is deur die Filistyne nie,

inteendeel hy het hartstogtelik gerou oor Saul se dood.

Hy was ook nie skuldig aan Abner se dood nie, Joab was wel.

En Isboset is vermoor deur Saul se eie bendes !

Abisai, v.9, een van Dawid se dapper helde,

se oplossing vir hierdie gevloekery en klipgooiery is eenvoudig:

Laat ons hierdie dooie hond wat die koning vloek se kop afkop.

Soos een verklaarder sarkasties sê: Abisai het as soldaat uit ervaring

geleer dat mense sonder koppe nie so maklik vloek nie ….

En, in ’n sekere sin was Abisai reg, ten minste dat Simei nie

die gesalfde van die Here so mag vloek nie.

Ons moet dit ook nooit vergeet as ons leer van Dawid nie,

dit gaan nie bloot oor sy persoon nie, dit gaan oor die amp

die roeping wat hy ook beklee as verteenwoordiger van die

Here by sy volk, hy is die gesalfde koning van die Here,

en ’n vloek teen Dawid is ook ’n vloek teen die Here self.

Ex.22:28 staan daar duidelik: Jy mag God nie vloek nie, en ‘n owerste onder jou volk mag jy nie verwens nie.

En tog, geliefdes, sien ons by Dawid ‘n heel ander reaksie,

sy reaksie wat vir ons as nagmaalgangers, kinders vd Here opnuut oproep tot besinning.

Sy reaksie as man van God is dat hy weet hoe groot sy sonde en ellende is,

‘n man wat besef hy verdien nie die Here se genade nie,

maar pleit vir genade dat die Here hom sal genadig behandel en aansien,

as dit die Here se wil is.

Dawid sien die Here se hand in Simei se vloekery, v.10 …. en v.11 (lees)

Hy erken dat sy vlug van Absolom, wat sy lewe soek, asook die vloek deur Simei, v.11, die Here se regverdige streng tugtende straf oor sy sondes is.

Nee, nie die sondes teen Saul se huis soos Simei beweer nie,

maar sy oortreding teen die Here se gebooie in hfst.11,

dat hy vir Batseba gesteel het van haar man Uria,

en Uria laat vermoor het, sy leuens en misleiding.

Die profeet Natan het toe geprofeteer, hfst.12:10,

10 En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees. 

En Dawid onderwerp hom aan die tugtende hand van die Here,

en beroep hom alleen op die Here se genade om sy ellende raak te sien,

en hom ten goede te vergelde vir die vloek wat hom getref het, v.12

Dawid ken ‘n regverdige heilige God, maar ook ‘n genadige barmhartige God!

Dit hoor ons dit ook in sy woorde aan Sadok die priester in hfst.15, as hy vlug van Absolom:

25Toe sê die koning vir Sadok: Bring die ark van God terug in die stad. As ek genade vind in die oë van die HERE, sal Hy my terugbring, en Hy sal my dit en sy woning laat sien. 26Maar as Hy so sê: Ek het in jou geen behae nie—hier is ek! Laat Hy met my doen soos goed is in sy oë. 

En die wonderlike troos is, ons weet Dawid is later weer herstel as koning,

die Here het vir beide Absolom en later deur Salomo, vir Simei geoordeel en gestraf.

Hierin sien ons geliefdes, dat die Here sy kinders wel tydelik straf en tugtig,

maar in sy genadeverbond en liefde straf nie vir ewig nie !

Hoekom nie ?

 

Want geliefdes, in die woorde van v.12, het die Here Dawid se ellende aangesien, nie net oor sy sondes oor Batseba en Uria nie,

maar al sy sondes en ellende wat die vloek verdien het,

en dit ten goede omgedraai deur sy Seun vir ons te stuur,

om die vloek van die wet op ons sondes in ons plek te dra !

Dawid moes tydelik boet vir sy sondes, die gevolge dra,

maar nie vir ewig nie, want Christus het vir hom en ons die vloek gedra.

Daarvan het ons gelees in Gal.3:10-14

10 Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. 

13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word

Ja, ook ons verdien al die vloek van die wet op ons sondes,

maar elkeen wat in Christus glo, word verlos van die vloek van die wet !

Daarom is die Evangelie dan goeie nuus

Want die HERE het my ellende aangesien en het my

deur sy genadige liefde te goede vergelde,

deur sy Seun vir my te gee aan die kruis.

Dit is wat ons gedenk vandag weer aan die Here se tafel geliefdes,

soos dit ook afgebeeld word deur die verhaal van Dawid hier.

In Simei sien ons die goddelose, die haters, die hipokriete,

wat lê en loer op die ware gelowiges en die ware kerk,

wat ons vloek en vervloek in die naam van hul gode,

party selfs in die naam van die Here wat hul misbruik.

Dit is hulle wat nie kan wag dat ‘n medegelowige struikel en sondig,

sodat ons hom kan vloek en verag en beskuldig as Satan se instrumente nie.

Dawid, verteenwoordiger van die Here, voorvader waaruit die seun van Dawid,

Jesus gebore sou word, is gevloek en gespot, ‘n seun van Bilial genoem, seun van die duiwel.

En, dit het die goddelose afvallige leierskap met Jesus ook gedoen op aarde,

Hom beskuldig dat Hy van die duiwel is, Mark.3:22

En in al die valse beskuldigings en vloeke,

het Jesus dit gesien – soos Dawid – as die Vader se beker van oordeel wat Hy moes drink VIR ONS !  (Hand.2:23)

Ja, Dawid en ons, moet erken dat baie haat, bitterheid, vervolging en vloek kom van mense teen ons, en dan verdien ons dit eintlik, omdat ons nog so baie sondig en oortree, selfs as kinders van die Here.

Hy tugtig en spreek ons aan !

Maar nié Christus nié, Hy het geen sonde gehad nie,

want Hy het die wet volkome nagekom, geen onreg was of is in Hom nie.

Maar vir ons geliefdes, het Hy daardie verskriklike vloeke van mens, die Satan en al ons vyande gedra, en bo alles die vloek van die Here op ons sondes aan die kruis.

En Hy het dit gedoen sodat ons nou, deur die geloof,

kan deel in die waarheid van Op.22:3,

dit wat ons nou in beginsel reeds beleef,

maar in sy volkomenheid by die ewige bruilofsmaal:

Op 22:3 En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien. 

 

So kinders van die Here, kom na die Here se tafel,

kom gedenk en glo, in die woorde van die nagmaalsformulier:

Hy is onskuldig ter dood veroordeel sodat ons voor die gerig van God vrygespreek kan word. Hy is aan die kruis gespyker om die skuldbrief van ons sondes vas te nael. So het Hy ons vervloeking op Hom geneem om ons met sy seën te vul.

Ja, die Here het Dawid se ellende, elke gelowige ellende, my ellende aangesien !

En het my ten goede vergelde in Jesus Christus.

Laat ons dankbaar wees !

Laat ons kom feesvier, aan sy tafel, en leef deur sy Gees en Woord.

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: