Preek: 1 Sam.26:19,20 Die kerk is die Here se erfdeel vir ewig

Die kerk is die Here se erfdeel vir ewig

Teks: 1 Samuel 26:1-27:2.

Teksverse: “Laat my heer die koning dan nou luister na die woorde van sy dienaar: As die HERE u teen my aanhits, bied Hom dan ‘n spysoffer aan; maar as dit mensekinders is—vervloek is hulle voor die aangesig van die HERE, omdat hulle my vandag verdrywe, sodat ek my nie kan aansluit by die erfdeel van die HERE nie deurdat hulle sê: Gaan weg, dien ander gode! Laat my bloed dan nou nie op die aarde val ver van die aangesig van die HERE nie, want die koning van Israel het uitgetrek om een enkele vlooi te soek, soos ‘n man ‘n patrys op die berge agtervolg.” -1 Samuel 26:19,20.

Tema: Die kerk is die Here se erfdeel vir ewig

Prediker: ds. Ronald Bain (GK Cachet)  

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Toe Samuel vir Saul salf sê Samuel vir hom: die Here salf jou as vors oor sy erfdeel. Die koning se groot roeping was die beskerming van die Here se erfdeel, want God bly Koning en Vors oor sy erfdeel. Saul het vir Dawid probeer afsny uit die Here se erfdeel. Hy het gedink die koningskap en die volk kom hom toe.

Die Here pas vir Dawid wonderlik op, elke keer. By twee geleenthede het die Here selfs vir Saul in Dawid se mag gegee. Die eerste keer in die grot toe Dawid die slip van sy mantel afgesny het en hier by die Hagila heuwel toe Dawid en Abisai in die laer ingekom het.

Dis merkwaardig dat Dawid telkens Saul se lewe spaar. Hy sê vir Abisai: bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die HERE en bly ongestraf? Dawid verstaan veel meer van die koning se roeping as wat Saul verstaan het. Ek mag die Here se erfdeel nie met geweld gryp nie. Ek is slegs ‘n rentmeester. Die erfdeel behoort aan die Here. Die volk en die land is die Here sin.

Die Here het Saul en al sy manne diep laat slaap sodat Dawid by die koning kon staan. Hoe ontsaglik moes die Satan hom nie versoek het om die erfdeel van die Here vir homself met geweld te gryp nie? Hy hoef dit nie eers self te doen nie. Abisai kan dit sommer doen. Die Here bewaar hom daarvan. Dawid gaan staan vêr oorkant die vallei en roep na die koning. Hy vermaan die koning.

Sy vermaning kom van die Gees af. As dit die Here is wat u teen my aanpor, laat Hy ‘n spysoffer ruik, staan daar letterlik. Dawid vra dus dat Saul ‘n aanneemlike offer vir God sal bring, dan sal die Here se toorn bedaar. Dawid sal dan kan woon in die land.

Dawid weet egter dis mense, hy weet dis Saul self. Hy weet goed hoe ‘n bose gees Saul aangepor het om hom wat Dawid is met ‘n spies dood te gooi. Op ‘n mooi manier sorg hy dat hy die koning nie belaster nie. Daarom roep hy: as dit mense is: vervloek is hulle voor die Here se aangesig. Dawid roep die Here se ewige straf op sulke mense af. Vervloek is hulle voor God se aangesig.

Hoekom vervloek?

Dawid sê hy word verstoot, sodat hy hom nie kan aansluit by die Here se erfdeel nie. Hy word verdryf na die land van die afgode. Dawid is ontsaglik ontsteld. Dawid se bitterheid en ontroering word met hierdie woord, die HERE se erfenis, verduidelik.

Vreemd nie waar nie?

Dat die Here ‘n erfdeel het. Hoe kan Hy ‘n erfdeel hê?

Alles is dan syne!

Die Here se erfdeel is sy volk. Hierdie openbaring dat ons die Here se erfdeel is kom reg deur die Skrif na vore. Moses bid bv. in Deut. 9:26: stort u erfdeel wat u deur u grootheid verlos het nie in die verderf nie. Hy herhaal dit dan weer in vers 29: hulle is u volk en u erfdeel. Elders staan daar: U afgemete erfdeel. Net soos die stamme afgemete stukke erfgrond van God ontvang het met die intog, kry die Here die volk ook as sy afgemete erfdeel.

As die volk die Here se erfdeel genoem word dan beteken dit nie bloot dat hulle sy eiendom is nie. Dit beteken dat die Here hulle verwerf het om vir ewig onder hulle te woon. Die volk is sy erfdeel tot gemeenskap. Die volk is dus meer as die Here se eiendom. Hulle is sy eiendom sodat Hy vir ewig onder hulle kan woon. Hierdie gedagte word so duidelik met die intog in die beloofde land. Met die intog in die beloofde land sorg die Here dat Hy onder sy erfdeel kan rus. Die Here hoef nie meer met die verbondsark voor sy volk uit te trek nie om vir hulle rusplek te soek nie.

Hy het vir sy volk ‘n erfdeel gegee: grond, woonplek en Hy kan daar in die tabernakel onder sy volk woon. Dink aan die aangrypende Psalm 132 waar Sion, die tempelberg, die rusplek van die Here genoem word. Dis nie net die volk se rusplek nie, dis die Here se rusplek. Dit is my rusplek vir ewig sê die HERE; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer.

Daarom kan ‘n mens nie vir Dawid sê: ag wat gaan jy so te kere nie. Jy kan die Here mos op enige plek gaan dien. Die volk se erfdeel en se rus is juis ook die Here se erfdeel en rus. Waar God rus en waar God woon, daar rus die volk en daar woon God se erfdeel. Die Here laat sy erfdeel nooit sonder ‘n plek om Hom te aanbid nie. Dis krities om dit te verstaan. God pas juis sy erfdeel op om vir hulle ‘n plek te gee. Die volk moes uit Egipte om die Here te aanbid. Toe God sy volk aangeneem het as sy erfdeel het Hy vir hulle plek gemaak, ruimte gemaak om Hom te aanbid.

Dawid verstaan dit baie goed. Om deel van die Here se volk te wees beteken om op die plek te wees waar die Here sy erfdeel vergader het en ook oppas. In die Ou Testament baie spesifiek in die beloofde land rondom die tempel. Dawid sê dus vir Saul: vervloek is u voor God se aangesig, want ek is deel van die Here se erfdeel, nou word ek verdryf sodat ek my nie kan aansluit by die Here se erfdeel nie.

Dawid sê eintlik: hy kan nie wees waar God hom wil hê nie. Hy kan nie wees waar Hy moet wees nie. Hy kan nie sy roeping uitvoer in die ruimte en plek wat God hom gegee het nie. Dis ‘n vreeslike ding: om uit die erfdeel van die Here verdryf te word. Dat mense jou weerhou om saam met God se volk te wees. Dawid word verdryf uit die Here se erfdeel na die land van die afgode. Hy sal doodgaan in ‘n land wat nie die Here se erfdeel is nie. Vêr van God se aangesig. Weg van die tempel, weg van die Here se volk. Saul ontsê hom die gemeenskap met die Here se erfdeel.

Daarom doen Dawid ‘n beroep op die koning om weer koning te wees as hy sê: laat my bloed tog nie ver van die aangesig van die Here op die aarde val nie. Moet my tog nie verjaag nie en moet my tog nie dwing om in ‘n vreemde land te sterf nie, moet my nie dwing dat om te wees waar ek nie mag wees nie. Moenie maak dat ek op ‘n verkeerde plek is nie.

Nou kom ons by die tweede versoeking. Dawid praat reg met Saul, maar dan doen hy verkeerd. Moet nooit dink dat Satan net met een versoeking kom nie. As die een nie werk nie is daar altyd ‘n ander een wat hy gereed het.

Na hierdie verkondiging aan Saul doen Dawid die ondenkbare, hy vlug na die verkeerde plek. Die Here het hom nog altyd bewaar. Trouens, die Here het Saul nou al twee keer in sy mag gegee, maar Dawid vertrou nie. Dawid vlug weg van die Here se erfdeel en gaan woon onder die volk se groot vyande – die Filistyne.

Dawid het uit die kerk gevlug na die wêreld. Hy het die tempel van God verruil vir die afgode. Hy wou eerder lewe weg van sy roeping, weg van God se volk, eerder as om te sterf op die plek waar hy moes wees. Hoor mooi: Dawid wou eerder op die verkeerde plek lewe as om op die regte plek te sterwe. Wat ‘n skaamte, wat ‘n verleentheid, wat ‘n ongehoorsaamheid as die Here jou op ‘n plek kry waar jy nie moet wees nie. As Hy jou op ‘n plek kry waar jy nie mag wees nie. As Hy jou betrap op ‘n plek waar jy jou, al is dit net vir ‘n oomblik, afgeskei het van sy erfdeel.

In watter benarde posisie het die erfdeel van die Here hulle nie bevind nie? Die eerste gesalfde gepla deur ‘n bose gees en deur God verlaat en die ander gesalfde het landuit gevlug. Ons lees later dat Dawid vir ‘n tweede maal uit die erfdeel van die Here verdryf word, die keer deur die Here self. Dit was die Here se straf na sy sonde met Batseba. Toe hy op die slagveld moes wees, was hy by die paleis besig om na Batseba te kyk en sy planne te beraam om Uria te vermoor. Dawid was weer op die verkeerde plek. Om die erfdeel van die Here op te pas moet jy fyn luister na waar die Here jou wil hê.

Kan jy sien, om deel van die Here se erfdeel te wees, om deel te wees van sy volk, van sy kinders eis die gehoorsaamheid van roeping op ‘n plek. Dit is so belangrik om dit vanaand te verstaan. Die Here gee ruimte saam met roeping aan sy erfdeel. Hy eis dat ons Hom op die regte plek moet dien en moet volg.

Daarom het Dawid en die volk ‘n Koning nodig gehad wat God se erfdeel volkome opgepas het, ‘n Koning wat die erfdeel nie verwaarloos het of soos Dawid weggevlug het uit die Here se erfdeel toe mense Hom met die dood gedreig het nie. Hierdie Koning het nooit weggevlug toe Hy hoor hulle wil Hom dood nie. Nee, Hy het sy roeping volvoer, al het dit sy lewe gekos. Hy was altyd op die regte plek gewees.

Ja as Hy sy bloed op die aarde stort dan is dit nie voor God se vriendelike aangesig nie. God self verdryf Hom uit sy erfdeel uit ter wille van ons. Hoe verskriklik, die keer is dit nie mense nie, maar God self wat die koning verdryf uit sy erfdeel.

Christus bied egter die volmaakte offer aan. Sodoende word Hy die erfgenaam van die hele skepping. So verwerf die HERE ons ook as sy erfdeel, en maak ons Christus se mede-erfgename. Ons sal die aarde ontvang. So verwerf Hy vir sy volk ‘n blyplek, die nuwe aarde. Met sy bloed koop Christus nie net ‘n stukkie grond nie, Hy koop die hele aarde sodat dit die woonplek van sy erfdeel kan wees. Sodoende sorg God dat Hy vir ewig onder sy erfdeel sal woon op die nuwe aarde.

Nou moet ons versigtig wees om nie te dink dat grond en plek hier op aarde onbelangrik is nie, asof die nuwe aarde, die kerk se woonplek voor God se aangesig ons lewe hier op aarde onbenullig maak nie. Dat plek en roeping, dat om erfdeel van die Here te wees en grond bloot Ou-Testamenties is nie. God woon nou reeds onder sy erfdeel.

Ons is die tempel van God se Gees. Hy het begeer om in sy kinders te woon. Hy wil dat die kerk sy rusplek sal wees. Nie net eendag nie. Ons ervaar die ewige vreugde in ons harte reeds nou al. Die Gees stuur die erfgename uit sodat die hele erfdeel bymekaar gemaak kan word. Dit gebeur deur die verkondiging van die evangelie. Wat gebeur dan? Die Here gee ruimte, Hy gee plek vir die gelowiges om Hom te aanbid. Hy woon onder en in sy volk op hierdie aarde, al is dit bedoel vir heiliging met vuur.

Ons dink grond is so onbelangrik. Ag dis maar alles deel van die ou bedeling. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Die koninkryk is ‘n saak van plek en grond. Die hele Klein-Asië was naderhand ‘n plek wat God vir die kerk gegee het, vandag is dit die plek van die Moslems. Soos wat die kerk groei lê Christus ook beslag op die grond. Hy maak die plek groter. Waar die erfdeel kwyn daar staan ons die grondgebied af vir Satan. Dit beteken heel prakties: huisgesinne, skole, universiteite, samelewings, volke, lande en regerings wat Christus erken as Koning of nie. Roeping en plek maak baie saak! Om deel van die Here erfdeel te wees beteken dat dit vir jou krities sal wees dat daar ‘n plek is om God te dien.

Die feit dat hier vanaand op hierdie kampus ‘n erediens kan hê, is geen geringe sakie nie. Op hierdie plek maak God sy kinders bymekaar, op hierdie stuk grond. Die Here maak vir sy erfdeel ruimte. Hy wil dat ons hier sy Koningskap sal verkondig sodat sy erfdeel kan uitbrei.

Mense sal ons altyd uit die Here se erfdeel wil verdryf. Weg van die kerk en weg van die plek waar ek moet wees. Dan mag ons nie wegvlug nie, ons moet vertrou en ons roeping volvoer. Het mense jou ook dalk al uit die kerk probeer dryf? Nie net ongelowiges nie, dalk mense in die kerk? Dan mag ons nooit soos Dawid wegvlug en vir ons ‘n ander plek gaan soek nie. Waar is jy later vanaand? Waar is jy môreoggend, waar is jy volgende Sondag? Onthou God wil onder sy erfdeel woon.

Wat is die ergste verleentheid en beskaming?

Om te wees waar jy nie moet wees nie, om weg te vlug van God se aangesig. Dat God jou op die verkeerde plek sal betrap. Dat jy jou roeping gelos het. Onthou om erfdeel van die Here te wees beteken juis dat jy op die regte plek moet wees. Hoe weet ek wat is die regte plek? Net deur die Woord. Moenie dat die wêreld en die heidene met hulle fundamentele regte vir jou probeer wys maak waar jy eintlik moet wees nie.

Baie gelowiges immigreer, want hulle glo hulle plek onder die erfdeel van die Here is oorsee. Dis veiliger daar, daar is ‘n beter toekoms vir my kinders. Dis natuurlik nie so eenvoudig nie. Wil die Here die Afrikaner se plek heeltemal wegvat, sodat daar niks oorbly nie of het Hy dalk vir ons nog plek gemaak? Wil Hy dalk weer ruimte vir ons maak? Jy sal dit net weet as jy daaraan vashou dat jy erfdeel van die Here is en as jy jou roeping nie versaak nie. As jy na God se wil soek.  Moenie jou behoort aan ‘n volk ooit gering skat nie liewe Broer en Suster en moenie jou roeping as deel van ‘n volk ooit as ‘n nasionalistiese onbenulligheidjie beskou nie.

Omdat ons die Here se erfdeel is moet ons in alle verbande vra waar die Here ons wil hê. Wat van die opvoeding van ons kinders? Tersiêre opvoeding, wetenskapsbeoefening, die regte. Alle samelewingsverbande. Daardie grondgebied is mos die Here sin. Hierdie is nie net ‘n indiwiduele vraag nie. Waar moet jy wees as student of werkende, waar moet jy wees as man of vrou of kind of lidmaat van ‘n gemeente nie. Maar ook waar roep God jou as deel van ‘n huisgesin, ‘n gemeente, ‘n gemeenskap, as deel van ‘n volk.

God gee vir ons ‘n plek om op te wees. Hy gee vir ons plek om Hom te aanbid. Hy gee vir sy erfdeel ruimte. Hy pas sy erfdeel vir ewig op. Daar wil Hy woon, vir ewig, dis sy rusplek, onder sy volk. Ja, dit begin nou al. Die kerk is die tempel van God se Gees. Al beteken dit vir ons baie beproewing.

Nou mag jy nie soos Dawid sê: wat sal van my word nie, ek sal nie lewe nie. Ek wil eerder lewe op die verkeerde plek as om beproef te word op die regte plek. Moet jou nie afskei van die Here se erfdeel deur jou roeping na te laat nie. Jy moet die gebed bid as erfgenaam, jy moet die gebed bid as iemand wie die Here aangeneem het as sy erfdeel: Here waar wil U hê moet ek wees? O Here wys tog vir u erfdeel waar ons moet wees? God antwoord die gebede van sy kinders, want Hy self vergader hulle as sy erfdeel en Hy self pas sy erfdeel op.

AMEN.   

4 thoughts on “Preek: 1 Sam.26:19,20 Die kerk is die Here se erfdeel vir ewig

Add yours

  1. Miskien moet ek byvoeg dat die Here self ons erfdeel is. Die ewige lewe is om Hom te ken! (Johannes 17:3) Ons staan in die vervulling van die rol van die priesters (wat geen grond in ou Israel ontvang het nie, juis omdat die Here self hulle erfdeel was), want almal wat aan Jesus behoort is mos priesters!

    1. Johannes, dankie vir jou gedagtes.

      Ek dink nie jy het preek mooi gelees nie, doen dit gerus weer. Die prediker wys daarop dat die Here self ons erfdeel is, en dat dit praktiese gevolge het vir nie net die ewige lewe nie, maar ook hierdie lewe, o. a. dat die Here ook genadiglik tyd en plek gee, sodat ons Hom kan eer en dien.

      Ja, die gevaar van nasionalisme kan daar wees, maar dit klink of die gevaar by jou weer dalk wereldmyding is, asof hier en nou, nie “ook” belangrik is nie.

      Ons ewige geestelike erfdeel, beteken ook tydelike erfdele wat die Here skenk soos Hy behaag.

      Onthou, ons Here Jesus het ook liggaamlik opgestaan.

      Dink daarin.

      Groetnis.
      S.

  2. Ek is nie seker of hierdie preek (hoe goed ook bedoel) rekening hou met die werklikhede van die Nuwe Verbond nie. Die lyne word te simplisties getrek. Binne die konteks van God se Nuwe Verbond is ons erfdeel nie meer hier op aarde waar ons slegs vreemdelinge en bywoners is nie! (1Petrus brief) Ons burgerskap is elders! Die kerk, die Here se tempel is nie gekoppel aan titelaktes nie, maar aan die harte van mense wat Hom eer in enige land, in enige taal, binne enige politieke bestel! Hierdie kerk floreer dalk juis op plekke waar Christene volgens die staat geen besit of bestaansreg het nie! Dit voel my tog dat die geskeurde onderrok van Afrikanernasionalisme hier uithang…
    Johannes de Koning.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: