Preek: Genesis 3:20 Die Kinderseën

Die kinderseën

Plek en datum: GK Matlabas 2016-01-24
Lees: Gen 2:19-25; 3:14-20
Teksvers: “En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe.” (Gen.3:20)
Tema: Die kinderseën.
Psalms:89:1,2; 89:3,4; 89:12,14; 102:8,9;128:1,2,3

Prediker: ds. Gustav Opperman

Openingsgebed (getranskribeer na die erediens)
Kom ons bid saam!
Drie maal heilige God,
Op U woord word die woeste see getem.
Dit luister na U wil.

Op U woord
ontstaan die verskriklike sneeustorms
in Noord-Amerika
en die ewe verskriklike droogtes
in Suidelike Afrika.
Op U woord skeur die aarde
en aardbewings ontstaan
en op U woord ontplof die berge
wanneer U die lawa laat opstoot.

Op U woord
kom die hemelliggame in beweging,
daar U alles geskep het.
Niks hier op aarde is vas
en niks in die hemele is vas nie,
behalwe U en U ewige Woord.

En ons dank U, Hemelse Vader,
dat ons vanoggend onsself
weer aan U kan anker,
dat ons, in hierdie tye van onstuimigheid
waar volke ook in opstand kom en in beroering is,
dat ons na U kan kom en na U huis kan kom
en daar in U vaderhuis rus kan vind;
dat ons daar in U vaderhuis weer
vastigheid kan vind
ook in ons eie onsekere lewens
wat aan die verbygaan is.

Hemelse vader,
te weet dat U Woord standvastig is;
dat dit sal bly tot in ewigheid,
ook soos ons sopas in Psalm 89 gesing het:
U goedertierenheid …
dit wat oor geslagte heen kom
en wat oor geslagte heen
altyd daar sal wees …
goedertierenheid wat voortduur
tot in ewigheid
en dit was van ewigheid daar gewees.

Ons begrip en ons verstand
is te klein om dit te begryp;
te klein om dit te omvat
en die volheid van die genade
wat daarin spreek.

Ons bid, Hemelse Vader,
dat die Gees van onse HERE Jesus Christus
ons vandag sal lei ook
in die bediening van hierdie Woord
wat Hy duisende jare
voor die HERE Jesus Christus se geboorte
deur sy profete en deur sy apostels,
deur sy diensknegte,
laat opteken het.
Ons dank U daarvoor!

Ons dank U
dat dit vir ons ‘n perspektief gee
op die hemelse dinge
en dit wat U heilige wil is.

En waar ons sondige mense is,
bely ons, Hemelse Vader,
dat ons U hulp nodig het
om daardie Woord te verstaan
en om dit uit te lê.

Ons bid dat U u dienskneg
sal bystaan
in die bediening van hierdie Woord.

Ons bid, Hemelse Vader,
dat U u diensknegte wat
na hierdie Woord luister,
u kinders wat na hierdie Woord luister,
geduld sal gee
met die prediker,
nie omdat dit sy woord is nie,
maar omdat dit U ewige Woord is
en dit nog altyd daar was
en daar’t niks verander daaraan nie.

Ons bid dat hierdie Woord
ook mag voortgaan
in ons kerke …
die kerke van onse HERE Jesus Christus
wat ons sopas bely het …
die wêreld oor:
‘n heilige algemene Christelike kerk,
die bruid van onse HERE Jesus Christus.
Mag sy hierdie Woord hoor
en mag sy ook weer opgewek word
tot ‘n nuwe gehoorsaamheid
en ‘n nuwe vreugde
om diensbaar te wees
vir onse HERE Jesus Christus!
Ons vra dit in Sy heilige Naam!
Amen.

Geliefdes in Onse Here Jesus Christus,

Waarvoor sal ons nog kinders hê?
Hoekom sal ons nog kinders in hierdie land voortbring?
Net om uiteindelik werkloos by die huis te sit?
Net om ook deel te word van die geweldstatistiek?
Net om die volgende plaasmoord- of kapingslagoffer te word?
Net om uiteindelik soos so baie ander bleek siele
in die strate van London of Auckland rond te dwaal?

Waarvoor nog kinders hê?

Die Here het gesê: “Vul die aarde …”
Maar enigeen met oë kan mos sien,
kan mos sien: die aarde is vol … oorvol,
oorbevolk … oorbevolk en ondervoed.
Daar is net eenvoudig nie genoeg kos en water nie.

Waarvoor nog kinders hê?
Buitendien, wie kan nog kinders bekostig?

Weet julle wat dit deesdae kos?
Weet julle hoeveel duisende rande kos ‘n bevalling?
Weet jy hoe jy jou mediese fonds gaan oorlaai?
Weet julle wat is skoolgelde en universiteitsgelde deesdae?
Wie kan dit bekostig?

U ken die argumente.
Oortuigende argumente, harde werklikhede.

Broeders en Susters,
Daarmee kon ons die saak afgesluit het,
as dit nie was …
as dit nie was dat die Skrif anders sê nie.

Die Here sê anders:
Ons lees in die professie van Maleagi :
Die Here het man en vrou een gemaak …
En waarom een?
Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees,
(‘n Nageslag) wat Hom eer (2:15 ’83Vert).
Omdat Hy wil hê …

Ja, teenoor geboortebeperking sê die Here:
Uit die mond van kinders en suiglinge
het Ek sterkte gegrondves.
Daarmee maak Ek die vyand en wraakgierige stil (Ps 8:2).

Ja, Broers en Susters,
Uit die mond van kinders en suiglinge …
Die kindergeluide in die kerk …
Dit wat dikwels vir ons so hinderlik is,
dit dra ‘n sterker getuienis van God se mag
as die beste prediking.

God se mag oor die duiwel,
God se mag oor die dood,
word deur die lag en huil van kinders in die kerk geprofeteer.

Want sien:
Die vrou het ‘n naamsverandering ondergaan:
“Mannin” het “Eva” geword
“Eva”, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe.
Eva beteken lewe of lewensbron.
Eva is die bron,
die oorsprong van alle mense wat lewe.

Alles wat lewe.
Dit klink snaaks.
Het ons nie tot dusver juis gelees
dat die mens ter dood veroordeel is nie?

Hulle het geëet
en hulle sal sekerlik sterwe …
In die man en sy vrou sal die dood uiteindelik oorwin.
Die dood en nie die lewe nie …
Stof is hulle, en tot stof sal hulle terugkeer.

Besef Adam nie … het Adam reg gehoor?
Sy vrou is die moeder van almal wat sterwend is.
Sy is die moeder van die dooies, ja …
nie van die lewendes nie.

Nee, sê Adam,
ek het gehoor … ek het alles gehoor …
Ek het gehoor
dat my vrou in smart kinders sal voortbring.
Ek het gehoor
ons gaan ‘n lewenstryd voer.
Ek gaan ploeg en plant tussen die dorings en distels.
Tot stof sal ons terugkeer.

Dis die harde werklikheid van die lewe.
Dis nou die realiteit van ons bestaan,
tot vandag toe.
Smart, sweet, terugslae, teenspoed op teenspoed.
Uiteindelik aftakeling en graf.
Uiteindelik verrotting en ontbinding.

Maar, sê Adam, ek noem my vrou Eva,
omdat sy moeder geword van almal wat lewe.
Sy is nie moeder van die sterwendes nie.
Sy is nie moeder van die dooies nie.
Sy is die moeder van almal wat lewe!
Nie moeder van dié wat onder die vloek is nie,
maar moeder van dié wat onder die seën sal lewe!

Hierdie is ‘n geloofsbelydenis!
Dis die erkenning van nog ‘n groter werklikheid.
Dis die aanvaarding van ‘n belofte in die geloof.

Waar kom Adam daaraan?
Het Adam dalk ook iets anders as die doodstyding gehoor?
Ja, hy het.
Hy het gehoor
hoe die Here die slang aanspreek.
Hy het dié belofte gehoor:
Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou,
en tussen jou saad en haar saad.
Hy sal jou die kop vermorsel,
en jy sal hom in die hakskeen byt (Gen 3:15).

Die God wat onderskei, die God wat skei …
Hy bring vyandskap tussen vrou en slang.
Tussen die vrouegeslag en die slanggeslag.
Tussen die Vrouvolk en die Slangvolk.

Die Slang het die dood gebring.
Die Slangvolk is die geslag van die dood.
God bring skeiding tussen twee soorte mense.
Daar is God se geslag, die Vrouvolk,
en daar is die geslag van die dood.

Maar die Here het ook nog iets gesê:
Die vrouesaad word ook “Hy” genoem.
Hy sal jou die kop vermorsel …
Die vrouesaad word deur Een verpersoonlik.
Die vrouesaad dui ook op een manlike Kind.

In die laaste boek in die Bybel, Openbaring,
ontmoet ons daardie Kind weer.
In Openbaring 12 lees ons:
Sy het ‘n manlike kind gebaar,
wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer;
en haar kind is weggeruk na God en sy troon.

En daar het oorlog in die hemel gekom:
die draak en sy engele het oorlog gevoer;
en hulle kon nie oorwin nie,
en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie.
En die groot draak is neergewerp,
die ou slang wat genoem word duiwel en Satan,
Hy wat die hele wêreld verlei,
hy is neergewerp op die aarde,
en sy engele is saam met hom neergewerp (Op 12:5-9).

Dis die Evangelie wat ons glo, Broeders en Susters.
Dis die Evangelie wat Adam geglo het,
die dag toe Hy sy vrou hernoem het.
Sy is die moeder van ons almal,
almal van ons wat deel van die lewendes is.
Sy is ook die moeder van die Kind,
die een besonderse Kind,
Hy wat die Slangkop sou vermorsel.
Die Kind wat ons weer die lewe sou skenk.

Julle ondersoek die Skrifte …
(het die Here Jesus vir die Jode gesê)
Julle ondersoek die Skrifte
omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het;
dit is dié Skrifte wat van My getuig (Joh 5:39).

Só het Adam van Christus getuig die dag,
dié dag toe hy sy vrou ‘n nuwe naam gegee het.
Die eerste keer toe Adam haar ‘n naam gegee het …
die eerste keer het Adam haar “mannin” genoem.
Been van sy gebeente, vlees van sy vlees.

Daar het haar naam beteken:
Die Man en vrou is vir mekaar geskape.
Sy is die hulp wat by hom pas …
om in mekaar te pas, soos ‘n sleutel in ‘n slot.
Die eerste naam dui op die huweliksvreugde,
die spel van man en vrou wat mekaar ontdek,
die natuurlike en die seksuele.

Die tweede naam dui op veel meer.
En die mens het sy vrou Eva genoem,
omdat sy moeder geword het van alles wat lewe.
Die tweede naam is Evangelieverkondiging!
Dit getuig van Christus!
Die tweede naam is ‘n geloofsbelydenis!

‘n Geloofsbelydenis van ‘n man,
van Adam, wat die moederbelofte gehoor het,
wat die eerste Evangeliewoorde gehoor het
en dit geglo het.

Eva, die moeder van dié Kind …
Die Kind van almal wat sal lewe … laat lewe.
Eva, die moeder van die Christus-geslag.
Sy is moeder van die Kind,
Maar sy is ook die moeder van die Kind se geslag.

Paulus sluit sy Brief aan die kerk in Rome af met dié woorde:
En die God van vrede sal spoedig …
Hy sal spoedig die Satan onder julle voete verbrysel (16:20).
Deur God, deur Christus,
land die Satan uiteindelik ook onder die voete van die kerk.

Die Christus-kind het die slang ‘n doodshou toegedien.
Hy het dit op Golgota gedoen.
Reeds, in Lukas 10:18 voorspel Jesus:
Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.
Kyk ek gee aan julle, die dissipels
die mag om op slange en skerpioene te trap
ek gee aan julle die mag oor al die krag van die vyand (10:18,19).

Ook die Eva-geslag … ook die Kerk-geslag,
sal as oorwinnaars uit die stryd tree.
En die God van vrede sal spoedig …
die Satan onder hulle voete verbrysel.
Die Eva-geslag is die Kerkgeslag.

Ons keer terug na ons Skrifgedeelte, Genesis 3.
Adam benoem sy vrou vir die tweede keer.
Eva, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe.
Daarom is die beginpunt van die Christelike huwelik
nie ons drange nie.
Die beginpunt lê nie by die seksuele nie.
Ons beginpunt lê by die genade van die moederbelofte.
Ons beginpunt lê by Adam se belydenis.

Die seksuele is nog daar,
maar dis diensbaar aan Christus en sy kerk.
Die drang van die bloed is steeds daar,
maar dit is ondergeskik
ondergeskik aan God se wil …
Die Here het man en vrou een gemaak …
En waarom een?
Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees,
(‘n Nageslag) wat Hom eer.

Ons sien hierdie ondergeskiktheid in die gebeure rondom Josef en Maria.
Wanneer Josef die eerste keer verneem sy vrou is swanger,
dan is sy natuurlike reaksie:
“Dis nie my kind nie!
Daarom is die verlowing af.”
Sy drang is om sy instink te gehoorsaam:
“Hierdie kind is nie my bloed nie.”
Maar wanneer die engel God se Woord na hom bring,
dan reageer hy in geloof:
En hy het sy vrou by hom geneem;
en hy het haar nie beken
totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie (Mat 1:25).
Die drang van die bloed bly,
maar dis ondergeskik gemaak,
ondergeskik gemaak aan God se wil.

In Genesis 38 lees ons van ‘n man,
‘n man wat ook die drang van die bloed gevoel het,
maar nie dié drang aan die wil van die Here
ondergeskik wou stel nie.
Sy naam was Onan.
Hy was ‘n seun van Juda.

Nou weet u:
Uit Juda sou die Koningsgeslag voortkom.
Uit Juda sou die Christus voortkom.
Maar Onan wou nie sy vrou bevrug nie.
Onan wou nie meewerk aan die bou van die Christus geslag nie.
Hy wou nog steeds omgang met sy vrou hê.
Hy wou nog steeds die drang van die bloed uitleef.
Daarom het hy sy saad op die grond gestort.

En dan lees ons:
Dit was verkeerd in die oë van die HERE;
daarom het die HERE hom … laat sterwe.
Onan het die dood gekies …
en daarom het hy die dood gekry.

Die mens het sy vrou Eva genoem,
omdat sy moeder geword het van alles wat lewe …

Ek neem u vir ‘n oomblik na die Skrifgedeelte
wat die afgelope jare baie aandag by ons sinodes gekry het:
1Tim 2:9 tot 15:
Die vrou moet haar in stilte laat leer
in alle onderdanigheid.
Ek laat die vrou egter nie toe
om onderrig te gee
of oor die man te heers nie,
maar sy moet haar stil hou.
Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.
En Adam is nie verlei nie,
maardie vrou het haar laat verlei
en het in oortreding gekom.
Maar sy sal gered word
deur kinders te baar,
as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking,
met ingetoënheid.

Paulus laat nie die vrou toe
om in die leer- en regeeramp te dien nie,
want Adam het daardie verantwoordelikheid ontvang,
want dis Eva wat haarself laat verlei het.
Só skryf Paulus aan Timoteus.
Maar, dan skryf hy ook:
Sy sal gered word deur kinders te baar (1Tim 2:15).
Met ander woorde:
Sy sal in ere herstel word
deur die Christus-geslag voort te bring.
Sy sal haar roeping vervul
deur God se huis vol te maak.
Saam met Eva is sy die moeder van almal wat lewe.

God se redding kom deur die vrou!
God het nie eers die man se saad nodig gehad
om Maria te bevrug nie.
Uit die vrou kom die Christus-Kind
Uit die vrou kom die Christus-geslag.
Wat ‘n wonderlike eer!
Wat ‘n wonderlike roeping!
Wat ‘n wonderlike belofte!

Met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag
hoor ons weer van daardie belofte.
Petrus spreek daar die gelowiges toe.
Hy praat met die Christus geslag:
Die belofte kom julle toe (sê hy_
julle en julle kinders …
en almal wat daar ver is (Hand 2:39).
Ons en ons kinders …

God bring steeds skeiding.
Skeiding tussen diegene wat die belofte aanvaar
en diegene wat die belofte verwerp …
reeds van Adam se tyd:
Diegene wat die moederbelofte aanvaar
en diegene wat die moederbelofte verwerp.

Susters en Jonge Susters,
Waar staan julle in hierdie saak?
Wil julle “Mannin” vir julle man wees,
maar nie “Eva” vir die Christus-geslag nie?
“Mannin”, maar nie “Eva” nie.

Ouer Susters, Moeders en Grootmoeders,
hoe leer julle julle kinders en kleinkinders?

Die gereformeerde kerke van Suid Afrika maak hulle deure toe.
Elke jaar is daar ‘n duisende lidmate minder …

Waarvan getuig die droë doopvont in ons kerke?

Dit getuig tog seker nie van Verbondsgehoorsaamheid nie?
Om God se huis vol te maak,
is ons heerlike taak.
Reeds van Eva se tyd is dit ons roeping.

God se huis sal vol word, Broeders en Susters.
Dis ‘n uitgemaakte saak.
Of ons ons taak uitgevoer het …
en sal uitvoer;
of ons ons roeping uitgeleef het
of sal uitleef;
of ons die belofte aanvaar
of sal aanvaar?

Dis nie ‘n uitgemaakte saak nie.

Amen.

Slotgebed (getranskribeer na die erediens)
Genadige God en Hemelse Vader,
en as ons hierdie Woord
gebring het vandag,
‘n Woord van opwekking
en vermaning;
‘n Woord om vir ons
weer ‘n nuwe perspektief te gee,
(wat ‘n ou perspektief is
op ‘n baie ou saak)
dan kom ons na U toe
en ons bid, Hemelse Vader,
terselfdertyd
dat U sal wees met al die vroue
wat smag daarna
om ‘n kind te hê
en dit nie kan hê nie;
dat U sal wees
met die moeders
wat so graag gehoorsaam wil wees
aan hierdie Woord,
maar vir wie dit nie beskore is nie.

Ons bid, Hemelse Vader,
in u groot mededoë,
dat U self daar ook
vertroosting sal gee
en roepingsbewustheid,
want U is ‘n genadige God
en U Koninkryk is groot
en die werk
wat onse HERE Jesus Christus
vir ons gegee het
op soveel ander terreine
is wonderlik.

Ons dank U daarvoor!
Ons dank U
dat U ons in genade aansien
en ons bid dat U met u kerk sal wees.
Ons bid dat U sal wees
met u kinders oor die ganse aarde.

Ons bid dat U sal wees
met elke ouerpaar,
sodat die getal van die uitverkorenes
in hierdie wêreld voltallig kan word
en ons onse HERE Jesus Christus
weer kan sien kom op die wolke …
dit wat ons so reikhalsend
na uitsien!
Ons weet dit sal nie gebeur
voor sy broers en susters
nie voltallig is nie.

Ons bid dit in die Naam
van onse HERE Jesus Christus!

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: