DIE LEEROWERSTE VAN DIE HERE
LEI ONS IN DIE STRYD EN OORWINNING
Skriflesing: Josua 5:1-6:5 en Efesiërs 6:10-20
Preekteks: Josua 5 (“13 En terwyl Josua by Jérigo was, slaan hy sy oë op en kyk, en daar staan ‘n man teenoor hom met ‘n ontblote swaard in sy hand; en Josua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort U by ons of by ons vyande?
14 En Hy sê: Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom. Toe val Josua met sy aangesig op die grond en buig hom neer en vra Hom: Wat wil my Here aan sy dienskneg sê? 15 Toe sê die leërowerste van die HERE vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig. En Josua het so gedoen..”)
Preekopname (GK Carletonville, 2016-05-08):
Aflaai: Josua 5
Die preeknotas:
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Die eerste 4 hoofstukke van Josua gaan oor al die voorbereidings,
agtergrond en intog in die beloofde land,
volgens die belofte wat aan die aartsvaders gedoen is,
Abraham, Isak en Jakob (sien die vorige 4 preke in die reeks).
Vanaf hoofstuk 6 tot 12 gaan dit oor die werklike inname van die land,
deur stryd en oorlog !
Maar, voordat die volk kon oorgaan tot die stryd,
moet daar eers ’n heilige vernuwing en toewyding plaasvind,
tussen die volk en die Here van die verbond.
Daarsonder kan geen stryd plaasvind nie,
daarsonder is daar geen oorwinning vir die Here se volk nie,
ook nie vir ons, as sy kinders, sy volk vandag en in die toekoms nie.
En daarvan gaan ons vandag leer volgens ons teks, Josua 5.
Ons doen dit onder die tema:
DIE LEEROWERSTE VAN DIE HERE
LEI ONS IN DIE STRYD EN OORWINNING
Ons let op 2 sake:
- Die verbondshernuwing en toewyding aan die Here, v.1-12
- Die onderwerping aan die leërowerste van die Here, v.13-15
1 Die verbondshernuwing en toewyding aan die Here, v.1-12
Vers 1, die Here het sy volk deur die Jordaan laat trek,
dit wys nie net op hul letterlike redding nie,
maar ook op die redding van sy volk van die dood en sonde,
en dat hul nou gered is om vir Hom opnuut te lewe in die beloofde land.
Die heidense volke het hul gevrees, oor die groot dade van die Here,
en daarom het hul Israel nie aangeval nie, v.1.
Hierdie kort vredestyd het geleentheid gegee vir die gebeure
in Josua 5, waar die volk opnuut die verbond met die Here
vernuwe het, deur die besnydenis en die viering van die pasga.
Die eerste geslag van die volk wat uit Egipte getrek het, was besny.
Maar nie hul seuns nie, soos ons leer daar uit verse 4-6.
Vir 40 jaar is die seuns nie besny nie, hoekom nie ?
Die teks sê in vers 6, wat die rede oor die algemeen was,
omdat die volk “nie aan die stem van die HERE gehoorsaam was nie”
Dit verwys veral terug na die gebeure in Num.13 en 14,
toe die volk 40 jaar terug op die drumpel gestaan het om die land in te gaan,
maar toe 10 van die 12 verspieders slegte gerugte versprei het,
dat hul nie die land kan inneem nie, die Kanaaniete te groot en sterk is,
toe het die Here gesweer hulle sou die land nie ingaan nie.
Die 10 se ‘Godsbeskouing en mensbeskouing’ was verkeerd:
GROOT mense en ‘n klein God, in plaas van ‘n GROOT God en klein mense.
Die eerste geslag se verwerping van die Here se verbondsbelofte,
dat Hy die land vir hul sal gee,
het tot openbaring gekom dat hulle nie hul seuns besny het nie.
Die teken van die belofte, van die Here wat getrou is, wat verlos en red,
is daarom ook verwerp.
Party verklaarders meen dat juis omdat hierdie eerste geslag,
onthou dit is spesifiek die krygsmanne gewees, vers 6,
God se beloftes verwerp het, sien ook Hebr.4,
daarom het die Here dit ook nie toegelaat dat hulle hul seuns besny nie.
Die teken van sy verbond ontvang nie.
Maar nou, die intog wat plaasgevind het, die wonder van die deurtog deur die Jordaan, wys op ’n nuwe eksodus, ’n nuwe begin met die volgende geslag,
daarom die woorde in vers 7,
Maar in hulle plek het Hy hul seuns gestel; dié het Josua besny; want hulle was onbesnede, omdat hulle op pad nie besny is nie.
En vers 8, lees ons hulle het in die laer gebly totdat hul gesond was.
En dan die Here se woorde van vers 9,
Vandag het Ek die smaad van Egipte van julle afgewentel. Daarom het hulle dié plek Gilgal genoem tot vandag toe.
Die smaad van Egipte verwys na die volgende aspekte,
– die smarte en jammerklagte van die volk, wat slawe was in Egipte,
– die volk wat vir 40 jaar rondgeswerf het en geen land gehad het nie
– die spot wat hul moes verduur het omdat baie volke gedink het die
Here het hul uit Egipte verlos, net om hul almal te laat omkom in die woestyn.
Dus, daar het niks van die Here se beloftes gekom nie, sien Num.14:13-16; Dt.9:28
Maar hier is dit nou, die Here het sy volk bewaar in die geslagte,
en Hy gaan daarmee voort, die seuns, in en deur die volgende geslag,
het Hy nou sy belofte vervul, hulle het ingegaan in die land,
en Hy gaan dit ook vervul, soos ons weet deur die res van die boek Josua !
Sien die wonderlike verbondstrou van die Here raak geliefdes !
400 jaar terug se beloftes, maar ook 40 jaar terug se beloftes,
die Here verlos en red, Hy bly getrou, altyd !
En dit gedenk die volk dan opnuut ook hier by Gilgal, v.10-12
“op die veertiende van dag van die maand”
Soos met die uittog uit Egipte,
so hier na die deurtog deur die Jordaan,
wat wys op die verbondshernuwing tussen die Here en sy volk.
Die Here se verbondstekens wys op hul redding, na gees,
maar ook na liggaam, en daarom lees ons ook in verse 11,12
dat die Here, wat hul vir 40 jaar op ‘n besondere manier,
die manna, versorg het, hul nog steeds gaan versorg op die algemene
manier, uit die opbrings van die land … maar dit is nog steeds Hy wat sorg,
wat hul die land van melk en heuning, van oorvloed gee !
Hoe groot en wonderlike God het ons nie !
So geliefdes, sorg die Here vir ons ook as sy kinders, vandag,
na gees en liggaam, dag vir dag, maand vir maand, jaar vir jaar.
Hierin moet ons ook sien, dat die tekens van die verbond,
roep op tot die geloof in die verbondsbeloftes,
Daardie eerste geslag het nie met die geloof die Here se beloftes omhels nie,
en weens hul ongehoorsaamheid kon hul die land nie ingaan nie.
Daardie oproep, daardie eis geld vandag nog, vir alle mense,
ongeag of jy die verbondstekens ontvang het of nie,
om die Belofte, Jesus Christus te omhels, Hand.17:30,31:
God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.
Vir die OT mense het dit gegeld dat hul Christus moes omhels soos Hy geopenbaar is in die skaduwees, seremonies, heenwysings en beloftes van die Here se redding en sorg, VIR ONS, geld dit dat ons die belofte wat nou vervul is, Jesus wat gekom het, moet omhels, deur die geloof (Joh.3:36).
Ons moet ons onderwerp aan die Here in Christus, om gered te word,
maar ook die goeie stryd van die geloof te stry en te oorwin,
en dit sien ons ook in die tweede plek,
wat ons vandag oproep:
2 Die onderwerping aan die leërowerste van die Here, v.13-15
Josua is besig om Jerigo te verken,
as goeie krygsman is hy besig om sy roeping te vervul,
as aanvoerder van die leer van Israel.
En as hy skielik opkyk, staan daar ’n man voor hom, met ’n ontblote swaard
Natuurlik is dit nou oorlogstyd, en sonder vrees nader Josua hierdie man,
en vra hom dadelik: Is jy vir ons of teen ons, behoort jy aan Israel of die Kanaaniete?
Wat volg in vers 14 en 15, openbaar wie hierdie ‘man’ eintlik is,
en dat dit nie ’n mens is wat die oorwinning behaal vir die volk nie,
maar die Here self, en dit is ons troos !
Ons sien eerstens wie hierdie man is, deur wat Hy sê:
“Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom”
Die leërowerste van die Here, is die Prins, Regeerder, Hoof, Stryder, Kaptein, Leier, Generaal, Kommandeur, van die leermagte van die Here.
Die ‘leër’ wys op twee aspekte,
die engele leerskare wat die geestelike stryd stry, en
die Here volk as sy leerskare, sy weermag
En hierdie Man, hoofletter, is die Aanvoerder,
Hy is ook Josua se aanvoerder !
want, Hy is die Here self, ons sien dit in hierdie Man se 2de keer as Hy praat,
v.15, “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig.”
Dieselfde woorde wat die Here aan Moses gespreek het daar by die brandende bos en Ex.3:5, Josua jy is nou in die teenwoordigheid van die Here self,
En dan, in hfst.6:2, as hierdie Man aan die praat gaan, word Hy beskryf, as die HERE, die God van die Verbond, “Toe het die HERE vir Josua gesê …”
Ons sien die goddelikheid van hierdie Man ook in Josua se reaksie,
– v.14 en 15, Josua het met sy aangesig op die grond geval en buig hom neer,
die woord ‘buig neer’, veral saam op die grond val, dui op aanbidding,
op die erkenning dat Hy nou voor die Here is, nie maar net nog ‘n man nie.
Op ander plekke in die Bybel, hoor ons hoe eers Petrus, as dit met hom gebeur,
vir Cornelius vermaan om hom nie te aanbid nie (Hand.10:25,26), en in Op.22:8,9 hoe ‘n engel vir Johannes reghelp om hom nie te aanbid nie, maar God alleen !
En hier doen hierdie Man dit nie, Hy weier nie aanbidding nie,
want Hy is God self !
Wat hier plaasvind is ‘n God wat verskyn/manifisteer in sienbare, partymaal menslike vorm, die teologiese woord daarvoor is teofanie (teo = God; fanie = verskynsel).
– dit het gebeur met Abraham, daar in Gen.18 en 19 toe 3 manne aan Abraham verskyn het oor die verwoesting van Sodom en Gomorra,
– Jakob wat met ‘n man gestoei het, God self, Gen.32
– Die Here het aan Moses en Josua verskyn, Ex.24 en Deut.31
En ander gaan verder, en ek stem daarmee saam, dat ons hier met ‘n Christofanie te doen het: dat die 2de Persoon van die Drie-eenheid, as ‘n Engel van die Here, die Engel van die Here hier aan Josua verskyn.
Dit het ook regdeur die OT plaasgevind:
– bogenoemde verse en Sag.3:1 … die Engel van die HERE wat vir ons intree, Christus ! (lees)
In v.14, vra Josua ook vir hierdie Man, “…. my Here ….” ?
Adon = meester, heer,
Adoni = my heer
En die hele konteks wys dat dit dié Here en dié Meester was, die Meester van Ps.110:1, Die HERE het tot My Here … gesê = die Vader het tot Sy Seun gesê !
Later in die NT, Matt.22, wys Jesus daarop dat Hy daardie ‘My Here’ is !
Ja, ... die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, 1 Tim.6:15.
Die Owerste oor die Konings van die aarde, Op.1:4-8.
Toepassing
Wat ’n groot troos !
Vir Josua maar dan ook vir die volk,
dat die Here self hulle Aanvoerder is in die stryd en oorwinning.
Moses het dit reeds bely, Ex.14: 14, Wees stil, die Here sal vir ons stry !
Nou mag Josua en die hele volk dit ook weet.
Gaan voort om die Here te volg, te dien, soek sy tekens op, aanbid Hom.
Hy sal vir ons stry !
DIT MOET ONS VANDAG OOK ONTHOU
Die Man het ’n swaard in sy hand, wat wys dat Hy sy volk sal beskerm, en al
hul vyande vernietig en sal vernietig.
Dit was Christus ook in beginsel reeds vir ons gedoen het, deur die sonde, wêreld en die Satan te oorwin (Rom.6; Joh.16:33; Luk.10:18).
En deur Sy oorwinning stry ons die goeie stryd en oorwin, sien HK So.52.
Ons moet ook nou daardie stryd stry, nee nie ’n fisies stryd opsigself nie, alhoewel dit ook fisies kan raak, maar met die wapenrusting van Ef.6 gewapen, moet ons met die Woord en Gees in die gebed die goeie stryd stry, dit is ons geestelike wapens:
16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. 17En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—
18terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees….
In Joshua sien ons ook dan wie die ware krygsmanne was en is vir die Here.
In v.4-6 word ook gepraat van krygsmanne, maar hulle was ongehoorsaam teenoor die Here, hulle het die verbond nie ernstig opgeneem nie, hulle het gemurmureer teen die Here en sy volk.
Ons lees ook van hulle in Ps.78:8-11 (lees), hulle het omgespring in die stryd.
Maar Josua is die ware krygsman, hy was uit om krygsmanswerk te doen,
maar waar het dit alles begin, saam met Jos 1 se opdrag en bemoediging,
ook hier in vers 14:
Toe val Josua met sy aangesig op die grond en buig hom neer en vra Hom: Wat wil my Here aan sy dienskneg sê?
Die ware krygsmanne (en vroue) van die HERE buig voor Hom, aanbid Hom, vra na sy wil in Jesus Christus, ons leerowerste, ons Aanvoerder in die goeie stryd !
DIT is waar die stryd gewen of verloor word,
waar is jy man, waar is jy vrou, waar is jy kind ?
Soek jy die leerowerste van die Here, Christus in jou hele lewe ?
Onthou, die vraag is nie of die Here getrou sal wees aan sy verbondsbeloftes nie, ons weet Hy sal.
Die vraag is of ek en my gesin, die verbondsbeloftes omhels deur die geloof in Christus, van geslag tot geslag.
Amen.
Leave a Reply