HOE LYK ‘N LEWE VAN BEKERING NA CHRISTUS ?
Lees: Hand.9:1-20
Preekopname (GK Carletonville, 2016-06-19):
Aflaai: Hand.9:1-20 (regs kliek en dan ‘save link as’)
Preeknotas:
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Ons wil vanoggend kyk na 7 kenmerke van bekering,
soos dit tot openbaring kom, in die bekering van die apostel Paulus.
Ons wil daarna kyk vir 2 redes,
1 Die Skrif roep ons heeltyd op, om ons roeping en verkiesing vas te maak,
2 Pe.1:10, “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” (2 Pe 1:10)
2 Omdat ons sonder bekering nie die Koninkryk van God sal sien nie.
Die Skrif maak dit baie duidelik hoe noodsaaklik ons bekering is,
en dat ons ’n lewe van bekering lei, dus vrugte dra wat by die bekering pas
Jesus se eie woorde,
“… Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Mt 3:2)
“Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.” (Re 3:19)
En in Luk.13:1-5, as ons ons nie bekeer nie, gaan ons ook omkom, ewig verlore gaan.
Paulus wat ook verkondig aan ‘alle mense’ (binne en buite die kerk),
“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,” (Ac 17:30)
Regdeur die Skrif, OT en NT is die oproep baie duidelik, die mens moet hom bekeer van die sonde en onreg en boosheid, en vlug na die Here vir vergifnis en die lewe.
Hand.26:17,18 vat die bekering goed saam, in Jesus se woorde aan Paulus:
“terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie Ek jou nou stuur, om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ’n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang.” (Ac 26:17–18)
Bekering is om te verander van duisternis na lig in ons hele lewe, van harte, denke en dade. Soos die HK So.32 dit stel ‘n afsterwe van die ou mens en ‘n opstanding van die nuwe mens (lees).
Maar geliefdes,
Nou weet ons dat ons kan nie onsself bekeer nie,
dit bly ‘n opdrag, maar is in wese ‘n Goddelike ingrype van wedergeboorte,
die werk van die Gees is nodig om ons te bekeer,
sodat ons kan bekeer.
Die oproep en gebed van Klaagl.5:20,21
“Bekeer ons tot U, Here, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd.” (La 5:21)
Ons lees ook later,
“En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Ac 13:48)
Maar geliefdes,
die oproep tot bekering, voortgaande lewe van bekering,
om vrugte van bekering te dra bly in die gelowige se lewe, bly lewenslank.
Johannes die Doper se oproep, Matt.3:8, dra dan vrugte wat by die bekering pas !
Daarom heeltyd deur die Skrif die oproep om ons heeltyd te bekeer,
aan te hou bekeer, te groei in liefde, kennis en heiligmaking.
En om ons daarmee te help, kyk ons na Paulus se bekering hier in Hand.9,
om die bekering en vrugte van bekering in sy lewe te sien.
Die sewe kenmerke is om ons te help,
natuurlik is dit nie die enigste kenmerke nie,
of is die doel nie om volledig te wees,
of te sê dat dit presies in ons lewens op dieselfde wyse as by Paulus tot openbaring sal kom nie.
Nee, Jesus leer ook op ‘n ander plek dat die vrug dra verskillend sal wees by sy kinders, “die een honderd, ander sestig die ander dertigvoudig, Matt.13:23
So kom ons kyk na daardie kenmerke van bekering, of die vrug van bekering:
1 Ek begin vra: Wie is die Here ? (v.5)
Paulus vra heel eerstens wie die Here is.
Hy het in sy blinde ywer, terwyl hy die kerk vervolg het,
gedink hy ken die Here werklik, maar nie eintlik nie.
Nie soos die Here Hom openbaar in Christus nie.
Hier begin alles geliefdes,
Die gelowige vra nie eerstens na homself,
wat my behoeftes is, wat is daar in dit vir my om gelowige te word nie.
Gaan ek ryk word, gesond wees, populêr wees, ens nie.
Die verlossing is nie ‘dinge’ of ‘voordele’ nie, die verlossing is DIE HERE SELF!
Wie Hy is, en wat sy eer bevorder !
Jesus stel dit as volg,
“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” (Jn 17:3)
Wanneer iemand dus tot bekering kom, vra so iemand heeltyd die vraag,
en is sy hele lewe daarmee besig: wie is die Here ?
Ek wil dan die Here beter leer ken, sy wil ken, wie Hy is, wat Hy doen,
sy eienskappe …
VRAAG: is dit u lewensvraag ook, is u heeltyd soekend en vraend na die Here
Is u besig met die Woord, want dit is waardeur ons die Here leer ken ?
Ondersoek u die Skrifte, lees boeke wat u daarmee gaan help ?
2 Ek begin te vra: Wat wil U hê moet ek doen, Here ? (v.6)
Soos ek die Here beter leer ken, so begin my dade ook te verander,
wat ek moet doen. Bekering veroorsaak ‘n hartsverandering in denke en dade.
Paulus vra dadelik, as bekeerde, na die wil van die Here.
Paulus se eie sondige wil was om die kerk te vervolg in sy eie selfregverdigende idees, nou word hy gelei, v.8, ‘n bekeerde is ‘n volgeling van die Here.
Maar nou bely hy dat die Here nie net sy Verlosser is nie, maar ook sy Koning.
Dit wat ons gesing het in Ps.40:4,5
“Net om u wil te doen soos in u Boek … dit wil ek van ganser harte soek
… diep in my ingewand waar liefde en ywer brand draag ek u heilige wet”
Jesus in Joh.14;15, as julle My liefhet, bewaar my gebooie.
Christus het die wet volkome vervul en kom doen,
sodat ons nou daarvolgens in dankbaarheid hoe langer hoe meer kan lewe.
Ja, die wet red ons nie, maar is heilig, regverdig en goed (Rom.7:12) as dit reg aangewend word, en vir die bekeerde gelowige is dit nou om sy hele lewe daarvolgens in dankbaarheid te lewe.
VRAAG: Vir Paulus het die ‘doen’ spesfiek behels om die opdrag van v.6 uit te voer, en dan die res van sy lewe, v.15 se opdrag: sendeling, apostel, skrywer, ens.
Maar hoe lyk dit met u lewe van bekering, soek u die Here se aangesig, ondersoek sy Woord om dit te DOEN ?
Onthou Jesus se woorde in Matt.12:48-50 (lees).
Iemand kan nie beweer hy is bekeerd, maar wil nie die wil van sy Vader, van Jesus leer ken én doen nie ….
3 Ek begin te bid (en te aanbid) (v.11)
Voor Paulus se bekering het hy voortgewoeke in sy ywer om sy wil te doen.
Hom beroem op sy vlees, sien Filp.3 … Paulus is groot en sterk …
Maar nou dat hy bekeerd is, is Paulus klein, afhanklik, swak,
en hy vlug na die Here in gebed, v.11 … want kyk, hy bid
Besig om die Here se genade op te soek, te bid vir die wil van sy Vader,
En Paulus wat nooit meer dieselfde nie, sy briewe is deurdring van ‘n lewe
van gebed, niks aangepak sonder gebed nie, al sy briewe begin met gebed
en aanbidding, tot eer van God en vir sy kerk:
terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges. Ef.6:18
VRAAG: hoe lyk u en my lewe van gebed, is ons totaal afhanklik van die Here,
sien ons dit as aanbidding, volhard ek in gebed, soek die Here se aangesig.
Iemand het dit gestel dat om te bid is mens wat dood was en nou dat hy gered is, bekeer is, begin hy weer asemhaal, te bid !
As jy nie asemhaal nie, is jy dood.
As jy nie bid nie, is jy nie bekeerd nie.
Hoekom is die gebed so moeilik?
Want dit gaan oor die wese van kind van God wees,
om Hom te aan … bid !
Ook omdat dit die vernaamste deel van ons dankbaarheidslewe is, lees HK v/a 116?
4 Ek begin sy Naam te verkondig (v.15)
Nadat Paulus gelei is na Damaskus, en hy bid vir die Here se wil,
dan openbaar die Here deur Ananias die Here se wil vir Paulus,
en so vir ons almal, v.15 (lees): verkondig sy Naam !
Ek kan nie stil bly nie, ek verkondig nou sy Naam.
Nie my naam nie, nie my eer nie, nie my agenda nie, nie my behoeftes nie
Uit Hom, en deur Hom en tot Hom is alle dinge, syne is die eer tot in alle ewigheid, Rom.11:36,
Paulus skryf dit later in Filp.2:9-11, 9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, 11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
Kyk na verse 20 (Hand.9), en Paulus het ‘dadelik’ Christus begin verkondig !
VRAAG: Bekeerde kind van God, verkondig jy Christus, verkondig jy sy Naam, of skuil jy daaragter dat jy te skaam is ? Of dat dit net die ds en sendelinge se taak is, of hier en daar ‘n ywerige Christen ?
Kyk na Hand.8:4 (lees) … elke kind van God is getuie van die evangelie.
Ja, net sommiges word geroep om dit in die ampte van predikant, ouderling en diaken te doen, maar almal wat bekeerd is kan nie meer stil bly nie.
‘n Baba wat gebore word skree …
‘n Mens wat wedergebore word, bekeer is, verkondig Christus van die dakke (Matt.10:27).
En terloops, alles wat verkondig word moet sentreer om Christus en alles wat Hy leer:
Paulus in 1 Kor.2:1, “want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” (1 Co 2:2)
5 Ek begin te ly vir Christus (v.16)
En dan, as ek Hom begin verkondig, besef daar kom lyding, swaarkry, verdrukking,
ja, geen kind, bekeerde sal ooit verlore gaan nie, maar daar wag lyding AS ONS CHRISTUS VERKONDIG EN HOM EN SY WOORD ALLEEN.
Jesus leer dit self in Matt.5:10-12, 10:12 = julle sal gehaat word TER WILLE VAN MY NAAM,
Joh.16:33, julle sal in die wêreld verdruk word, maar Jesus het wêreld oorwin. Ons vrede is nie in hierdie wêreld, in mense, in dinge nie, maar in Jesus alleen!
Vrede met God, vyandskap met die sondige wêreld (Jak.4;4)!
VRAAG: aanvaar jy die lyding, het jy die kostes bereken om Christus te volg, daagliks, opofferings te maak, al kos dit jou gemak, geld, populariteit (Matt.16:24-28)?
Moenie val vir die health en wealth gospel dwalings van die Joel Osteen geslag nie. Ons beste lewe is nie hier en nou nie, maar in die ewigheid, 1 Joh.2:17 !
6 Ek deel in die gemeenskap van die heiliges, sy gemeente, sakramente (v.17,18)
Kyk na Ananias se kosbare woorde daar in vers 17, Saul, BROEDER …
Paulus wat eers die kerk vervolg het, gehaat het, wat sekerlik vyand nr.1 was van die kerk toe, is is nou my broer ….
Wat impliseer dit geliefdes: ware vergifnis vir ware bekering in Christus !
Elkeen wat in Jesus Christus glo, wat tot bekering gekom het, is my kosbare broer en suster in die Here.
Dit is die groot hartseer van ons tye, nie die wêreld se verval, die ekonomies of politieke verval, volksverdeling, armoed nie, maar dat broer teen broer te staan kom, en nie meer die broederskap in Christus deur sy Woord en Gees beleef nie.
Ons sien ook Paulus is gedoop, v.18, hy word deel van die sigbare kerk van Christus, en deel met die gemeenskap van die gelowiges, deel van kerk, en die res van sy lewe, van rusdag tot rusdag deel van die kerk, omdat die Here vir hom kosbaar is, is die kerk vir hom kosbaar, sien vers 19.
7 Die bekeerde, die gelowige erken hy kan dit alles nie doen sonder die krag van die Heilige Gees nie (v.17).
Daar is nie so iets soos bekeerde sonder die Gees, of later eers vervul word met die Heilige Gees nie, elke kind van God het die Heilige Gees.
Ons kan die Gees bedroef, maar nie verloor nie (Ef.4:30-32).
Alleen deur die Gees kan ons bekeer word én bekeerde lewe lei in volhardings, sien Gal.5:16-25. (lees)
Daarom geliefdes, laat ons opnuut bid – ons lewe lank – in die woorde van Klaagl.5:21,
“Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer”
Amen.
Leave a Reply