Posted by: proregno | September 14, 2016

Die Kerk (1): Die woord ‘kerk’ – prof. WJ Snyman

vermaak_church

DIE KERK (1): DIE WOORD ‘KERK’

deur prof. WJ Snyman

Inleiding (deur S. Le Cornu)

Ek beplan om in die opkomende weke artikels te plaas van prof. Willie Snyman aangaande die kerk, DV.  Dit is seker nie nuwe nuus dat ons land al minder kerklik word nie.  Daar heers groot verwarring, en al meer mense word kerklos.  Mense is teleurgestel in ‘die kerk’, vir goeie maar ongelukkig ook vir slegte redes.  Allerlei alternatiewe vorme van ‘kerke’ word opgesoek. Daar is ook ‘n jonger geslag wat begin pleit vir ‘churchless christianity’ (sien bv. Kevin die Young se artikel oor hierdie tendens: Stop the Revolution. Join the Plodders).

Hopelik kan hierdie artikels mense help om opnuut te besin oor wat kerk is volgens die Skrif en waar ek my moet voeg by ‘n plaaslike kerk.

Prof. WJ (Willie) Snyman, was dosent in Nuwe Testament aan die Teologiese Skool, Potchefstroom (1946 – 1969).  Die artikels kom uit die bundel, Nuwe en Ou Dinge (Potchefstroom: Pro Rege, 1977), maar ek gaan my eie indeling volg waar nodig, om sy artikels hier op my blog te plaas, met hier en daar opmerkings bygevoeg. U is welkom om in die ‘comments’ afdeling saam te gesels oor hierdie baie belangrike onderwerp.

Hier is prof. Snyman aan die woord:

_____________________________________

1. DIE WOORD ‘KERK’ 

(a) Ons Belydenis verstaan daaronder: ‘n “heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo”. Dus, die gelowiges as groot geheel, en wel “van die begin van die wêreld af …. tot aan die einde toe” (Nederlandse Geloofsbelydenis, Art. 27). In die volgende artikel word “kerk” egter gebruik vir gelowiges in plaaslike verband, deur ons gewoonlik “gemeente” genoem.

Die Heidelbergse Kategismus vervang weer “kerk” deur “gemeente” (Sondag 21), en gebruik dan die woord “gemeente” vir al die gelowiges saam.

So ook die Kerkorde (Art. 1). Hier sien “gemeente” op die kerk as geheel, maar dan ook weer op ‘n “plaaslike gemeente” (Artt. 4 en 5). In hierdie selfde artikel word die “plaaslike gemeente” ook “kerk” genoem, en word gespreek van kerke (Art. 4) in dieselfde sin as van gemeentes (Art. 5).

Hieruit is duidelik: Die onderskeiding dat “gemeente” ‘n versameling sou wees van versone (gelowiges) en “kerk” ‘n versameling van gemeentes, is nie juis nie.

Ewemin die onderskeiding dat “kerk” die gelowiges as groot geheel sou wees, en “gemeente” die gelowiges in plaaslike verband.

Kerk is die vergadering van gelowiges (a) as groot geheel, en (b) ook in plaaslike verband — net soos “gemeente”.

In geen geval sien kerk op ‘n versameling van gemeentes nie.

(b) “Kerk” is ook nie ‘n samekoms van mense (gelowiges) sonder meer nie, maar ‘n samekoms met God.

“Kerk” is afkomstig van die Griekse woordvorm kuriakè, wat beteken “die Here s’n”, of “eiendom van die Here”.

Noem ons die gebou waarin die gemeente saamkom “kerk”, dan beteken kerk: “Die huis van die Here”, en dan beteken ons samekoms in die “kerk” ‘n samekoms met die Here.

In eintlike sin is egter die gemeente wat in die gebou saamkom, die “kerk”.

Hiermee word die gemeente dan beskryf as “die Here s’n”, “die volk van sy eiendom” (1 Petr. 2:9), wat Hy gekoop het deur sy bloed (Kateg., Sondag 1). Daarom is Hy onse Here (Kurios, Sondag 13), en ons sy eiendom (“Kuriakè”, “kerk”).

Dink ons verder daaraan dat die “vergadering van die gelowiges” self ook genoem word ‘n gebou van God (1 Kor. 3:9), dan is die verband duidelik tussen die kerk en die tempel, die plek waar God gewoon het onder sy volk, en hulle met Hom saamgekom het. So is die kerk nou self die tempel, “die woning van God in die Gees” (Ef. 2:22).

Hoeseer “kerk” en “gemeente” dus ook dieselfde mag beteken, wil ons tog die woord “kerk” behou, omdat hierin tot uitdrukking kom: Die samekoms met God, wat ons tot sy eiendom gemaak het deur die bloed van Christus, en onder ons woon deur sy Gees.

So is “kerk” dan (a) al die gelowiges saam, as gebou van God, maar ook (b) die gelowiges in hul samekoms, as samekoms met God.

(c) Kerk is nie alleen ‘n saamvergadering met God nie, maar ook ‘n saamvergadering deur God: deur God saamgeroep.

Ook hier sal die woord “kerk” vir homself spreek as ons weet dat waar die woorde”roep” en “roeping” voorkom in die Nuwe Testament, ‘n vorm van dieselfde woord staan, wat by ons vertaal is met “gemeente” (kerk). Die oorspronklike is hier “Ekklesia”, en as die apostel sy gemeentes toespreek as “geroepe heiliges” (Rom. 1:7; 1 Kor. 1:2) dan gebruik hy net ‘n ander vorm van dieselfde woord.

“Gemeente” lê nadruk op die gemeenskap van gelowiges.

“Kerk” lê nadruk op hul saamvergadering met God.

Die Nuwe Testamentiese woord “ekklesia” lê nadruk op hul sameroeping deur God.

Meer bepaald het die Grieke hierdie woord gebruik vir die vergadering van die volk, saamgeroep deur ‘n gevolmagtigde bode.

So is die verband duidelik tussen Kerk en “prediking”. Wat is predikant? Dit is om ‘n boodskap te bring namens God. Hier is dit die evangelie, die “goeie boodskap” (Jes. 40:9), eers deur God self geopenbaar in die paradys, verkondig deur die aartsvaders en profete, afgebeeld in die skadudiens van Israel, en ten laaste vervul in Christus (HK, Sondag VI). En so roep Christus nog deur sy boodskappers, die apostels, en in aansluiting aan hulle, deur sy predikers (2 Kor. 4:20).

Waar is die kerk? Waar God roep.

Sinds wanneer is daar ‘n kerk en tot wanneer?

Sinds God roep en solank God roep, d.i. van die begin van die wêreld af …. tot die einde toe (Matt. 16:18b).

Maar dan is ook duidelik dat die predikamp nog glad nie die kerk uitmaak nie (Luthers). Die boodskappers is nie die kerk nie, maar die geroepenes. Kerk is die “vergadering van gelowiges”.

(d) Kerk is: die volk van God.

“Ekklesia” (gemeente, kerk) in die Nuwe Testament is vertaling van die Ou Testament “kahal” (of “eda”): “vergadering”. en wel: die vergadering van Israel (vg. Ex. 12, en deurgaans) as ‘n vergadering (volk) van God.

Israel was “volk van God” omdat die Here onder hulle gewoon het, eers in die tabernakel (“tent van samekoms”, vg. Ex. 27:21, en deurgaans), later in die tempel waar hulle met die Here moes vergader. Maar ook omdat die Here hulle in Abraham geroep het, en uit hom op wonderdadige wyse geformeer het. Daarom was hulle syne (Jes. 43:1; 44:2). As “volk van God” is hulle daardeur onderskei dat hulle die woorde van God gehad het (Rom. 3:2) deur sy profete; die diens van die versoening in die tempel met die priester, en geregeer is deur ‘n koning, hulle van God gegee. Hulle was ‘n “koninkryk van priesters”, ‘n heilige nasie vir die Here (Ex. 19:6).

In die kerk sien ons egter die vervulling van wat in Israel slegs skadu was. Daarom geld van die kerk met geestelike verdieping, dat die kerk is wat Israel was: die volk van God (1 Petr. 2:9 vgl. Ex. 19:6).

Daar moet nog op gelet word dat Israel nie allengs die volk van God geword het nie. Hulle was die volk van God van die aanvang af. Die geskiedenis toon veeleer hoe hulle geword het van ‘n vergadering (Kahal) tot ‘n verstrooiing, omdat hulle die Here verlaat het.

Maar ook in die Verstrooiing is hulle weer beeld van die Kerk soos dit versprei is oor die ganse aarde. Nou kan Israel nie meer vergader om die tempel nie, maar net nog in aparte samekomste. So ontstaan sinds die ballingskap die “sinagoges”: niks anders as die openbaring van die kahal in die verstrooiing. Hulle eie samekomste noem die Christene egter kerke (ekklessia in die meervoud, o.a. Gal. 1:2), en gee daarmee te kenne dat hulle die ware voortsetting is van wat Israel was. Die kerk is die ware volk van God in die plek van Israel.

____________________________

Volgende keer: Die eienskappe van die kerk

Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman


Responses

  1. Ja!
    Die Kerk is die Verbondsgemeenskap van God. In die Ou Testament was dit die volk Israel, die teken van God se teenwoordigheid in Israel was die tempel in Jerusalem. God het met sy glorie in die tempel inbeweeg toe Salomo dit ingewy het. Jesus noem die Verbondsgemeenskap die “koningkryk van God”. Daar is ware gelowiges en ongelowiges in die koningkryk: Koring en onkruid. Goeie en slegte visse. Met Christus se sterwe het die voorhangsel geskeur, en God het die tempel verlaat. Met Pinksterdag het God met sy glorie (tonge van vuur) in die Kerk ingegaan, en mense het skielik wonderbaarlik in ander tale begin praat. Die Kerk is nou verteenwoordig in alle nasies, en is die locus van God se teenwoordigheid – sy tempel – op aarde.

  2. Baie dankie- dis mooi uiteengesit en bemoedigend om te weet ons is volk en gemeente en kerk van Hom wat die oorsprong daarvan is

  3. […] Sien inleiding en nommer 1 in die reeks hier. […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: