DIE KERK (2): DIE EIENSKAPPE VAN DIE KERK
deur prof. WJ Snyman
Sien die inleiding en nommer 1 in die reeks hier.
2. Die eienskappe van die kerk.
“Volk van God” sê vir ons eers wat die kerk wesenlik is. So noem die apostel die kerk dan ook telkens “gemeente” (kerk) van God (Hand. 20:38; 1 Kor. 10:32; 11:16, 22 ens.) en versier dit met die heerlikste eienskappe:
gemeente van heiliges (1 Kor. 14:4), heiliges (Ef. 1:1), in Christus Jesus (Fil. 1:1), geroepe heiliges (Rom. 1:7, 1 Kor. 1:7), heilige en gelowige broeders (Kol. 1:2), geliefdes van God (Rom. 1:7), liggaam van Christus (Ef. 1:23, 4:16, Kol. 1:18, 24), bruid van Christus (Ef. 5:25-32, 2 Kor. 11:2 vg. Openb. 21:2), tempel van God (1 Kor. 3:9, Ef. 2:20, 21). Dit is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry (1 Petr. 2:9), en word deur ons bely as “‘n heilige, algemene, Christelike Kerk”.
(a) Die kerk is heilig.
Die heiligheid van die kerk mag nie beperk word tot instellings, of tot ‘n sekere stand (“geestelikheid”), soos die Roomse doen nie. Die kerk is die volk van God en daarom is die volk heilig. Die vólk is die klerus (= die erfdeel van die Here, 1 Petr. 5:3). Onder die heiligheid van die kerk verstaan ons dus: die heiligheid van sy lede.
Die heiligheid is ook nie ‘n ideaal nie, wat die kerk moet word en nog nie is en moet nastrewe nie. Dit is ‘n eienskap, d.w.s. iets wat sy lede eie is.
Dit is dus ‘n (geestelike) werklikheid, wat ons glo en nie nog moet hoop nie.
Die heiligheid kom nie tot stand deur ‘n uiterlike afsondering van die wêreld nie (Kol. 1:20-23), maar is deel van die gelowiges in Christus, wat hulle gewas en gereinig het deur sy bloed, en ook in beginsel, deur die inwoning van die Heilige Gees.
Ons het hier te doen met ‘n geestelike werklikheid wat nie gesien nie en juis daarom geglo moet word.
Tog bly die heiligheid van die kerk nie in die onsigbare terug nie, maar word sigbaar, hoewel onvolmaak, in die bekering van die gelowige en sy vlug vir die bose.
(b) Die kerk is algemeen.
Die woord “algemeen” beteken “wêreldomvattend”. Die kerk is wêreldkerk.
Dit is ook ‘n wesenlike eienskap van die “volk van God”, dat dit nie tot ‘n enkele volk beperk mag wees nie, maar al die volkere van die wêreld moet omvat (Matt. 28:19, Luk. 24:47). Die Belydenis gaan hier direk in teen die gedagte van ‘n “volkskerk”. By Israel het ons nie te doen met ‘n volkskerk nie, maar met ‘n kerkvolk wat slegs beeld was van die ware volk van God, wat alle volkere omvat.
Maar in hierdie belydenis van ‘n wêreldkerk sit nog iets opgeslote: hoewel die volk van God, en derhalwe heilig, vorm die kerk tog nie ‘n teenstelling met die wêreld nie. Die wêreld is die skepping van God. Daarom, al is die kerk met God verbonde, bly dit nogtans ook met die wêreld verbonde.
Deur die Roomse Kerk is hierdie “katolisiteit” van die kerk veruitwendig en gevind in die opperhoofdigheid van die pous, en in oorheersing van die wêreld.
Deur die Skrif word dit gestel in Christus, aan wie alle mag gegee is in hemel en op aarde (Matt. 28:18) en in die roeping van sy kerk om as ‘n lig en sout die ganse wêreld en elke gebied van die lewe te deurdring (Matt. 5:13-16).
(c) Die kerk is Christelik.
Dit druk die verband uit tussen Christus en sy kerk.
Ook hier het ons te doen met ‘n eienskap van die kerk, en nie met ‘n ideaal nie: die verband tussen Christus en sy kerk is nie die los verband van ideaal en navolgers van die ideaal nie.
As eienskap van die kerk sê dit ook vir ons dat die kerk nie die verband moet tot stand bring tussen die gelowige en Christus nie. Daarom is dit ook nie reg om te spreek van ‘n saligmakende kerk nie. Jesus is ons Saligmaker, en Hy alleen (Sondag 11). Die kerk is die gemeenskap van verlostes in Christus.
Christelik as eienskap druk uit die eenheid tussen Christus en sy kerk. Dit kom tot stand deur die Heilige Gees (Sondag 20). Die apostel spreek hiervan as ‘n “groot verborgenheid” (Ef. 5:32). Die Here Jesus verklaar dit met die beeld van die wynstok en die ranke (Joh. 15:1 vv.). Op grond hiervan word die kerk genoem: die bruid van Christus, en: die liggaam van Christus.
Dit sê vir ons wat Christus vir sy kerk is, nl. die Hoof in wie hulle begrepe is, en in wie hulle besit: “die vergewing van sondes”, en verwag: “die wederopstanding van die vlees, en ‘n ewige lewe”.
Christelik beskryf die kerk dus as ‘n gemeenskap van geloof en van hoop.
Maar dit sê vir ons ook wat die kerk vir Christus is: die lede van Christus, sy organe deur wie Hy werk (1 Kor. 12:12-31). Daartoe is hulle die salwing van Christus (=die Gesalfde) deelagtig, en “deur die Gees gedoop tot een liggaam” (1 Kor. 12:13): Dit is wat plaasvind op Pinksterdag.
Hierdie salwing is tot onderlinge diens, om elkeen “sy gawes tot nut en saligheid van die ander lede gewillig en met vreugde aan te wend” (Sondag 21: gemeenskap van die heiliges) tot opbouing van die liggaam van Christus (Ef. 4:12): die kerk is nie alleen ‘n gemeenskap van geloof en van hoop nie, maar ook van liefde (1 Kor. 13:13).
So is die “Christelike kerk” dan ‘n “koninklike priesterdom, ‘n heilige volk …. om te verkondig die deugde van Hom wat hulle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Petr. 2:9).
Elke poging om hierdie amp van die gelowiges aan te tas, tas die kerk in sy Christelikheid aan.
(d) Die kerk is een.
Dit word deur die Apostoliese Geloofsbelydenis onderstel: “Ek glo ‘n heilige, algemene, Christelike kerk,” en deur die Nederlandse Geloofsbelydenis uitgespreek: “Ons glo en bely ‘n enige, katolieke of algemene kerk . . . .”
Die eenheid kan gesien word soos dit voortvloei uit die algemeenheid van die kerk, nl., dat daar net één kerk kan wees. Daar is dan ook net één Middelaar tussen God en mense, die mens Jesus Christus (1 Tim. 2:5); so is daar net één kerk vir alle tye. En, soos Israel enig was onder die nasies van die wêreld, so kan die kerk as “volk van God” ook net een wees uit al die nasies van die wêreld.
Die eenheid kan ook gesien word soos dit voortvloei uit die Christelikheid van die kerk, en beskryf dan as eienskap die innerlike eenheid van die kerk. Dit is ook eienskap en nie ideaal nie. Die eenheid is iets wat bestaan, wel onsigbaar, maar as ‘n geestelike werklikheid in Christus: sy liggaam. Die eenheid bestaan ook in die apostoliese Woord, waarop Christus sy gemeente bou (Matt. 16:18).
Kerkverband bring dus nie hierdie eenheid tot stand nie, maar bring ‘n bestaande eenheid tot openbaring. Dit kan egter alleen op die gegewe grondslag van Gods Woord.
Hierdie eenheid is ook gegee in die woord “kerk” = “vergadering” (kahal). In “kerk” sit dus opgeslote die gedagte van “byeenbrenging”, en wel in “een liggaam”. Die middelmuur van skeiding is hier afgebreek tussen Israel en die nasies (Ef. 2:14 vv.) en alle skeidsmure tussen mens en mens (Gal. 3:23; Kol. 3:11).
Hierdie eenheid in Christus staan teenoor die valse eenheidstrewe om al die nasies in een wêreldryk of sisteem saam te dwing: die Pinksterwonder teenoor Babel.
_____________________________
Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman
Volgende keer: Die kentekens van die kerk
Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman
Leave a Reply