Preek: Josua 8:30-35 Is daar belangriker dinge as om grond en besittings te verower ?

IS DAAR BELANGRIKER DINGE AS OM

GROND EN BESITTINGS TE VEROWER ?

Skriflesing: Deut.27:1-26; Josua 8:30-35 en 1 Kor.16:22-24

Preekteks: Josua 8:30-35

Preekopname (GK Carletonville, 2016-09-25):

Aflaai: Josua 8:30-35 (regs kliek en dan ‘save as’)

Preeknotas (let wel, dit is net notas, die volledige preek is die opname hierbo):

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

In v.30 tot 35 leer ons daar is baie belangriker dinge is as om fisiese oorlog te voer,

as om die land in besit te neem, as om grond te besit,

om die land van melk en heuning te ontvan,

spesifiek ook Ai wat ingeneem is en waarvan ons geleer het in v.1-29 ‘n vorige keer.

Ons sien dat die verbondslewe self,

‘n lewe totaal oorgegee aan die Here,

in aanbidding en dankbare gehoorsaamheid,

wesentlik is en moet wees vir die Here se volk.

Om dit anders te stel: die bevestiging van die verbondslewe met die Here,

is die belangrikste aspek van die volk se lewe,

vir die kerk se lewe vandag.

Ons wil dit dan leer, onder tema:

Die doel van die Here se verbond,

die doel van sy redding,

is dat ons Hom sal aanbid in oorgawe,

en in dankbaarheid sal lewe volgens sy wet/bevele. 

Ons let op 2 sake,

  1. die Here in sy verbondstrou verlos ons om Hom te aanbid, v.30-31, en
  2. die Here in sy verbondstrou verlos ons om Hom dankbaar te gehoorsaam volgens sy bevele, v.32-35

1 die Here in sy verbondstrou verlos ons om Hom te aanbid, v.30-31

Die volk het verder noord beweeg, ongeveer 32 km en kom

by die berge Geresim en Ebal, wat naby Sigem is waar die Here aan Abraham

verskyn het en hom belowe het dat sy nageslag die land sal kry, Gen.12:7.

En toe bou Abraham daar vir die Here ‘n altaar , ‘n plek van aanbidding !

En nou sien ons dit weer, Josua bou ‘n altaar vir die Here, die God van Israel, v.30.

Ja, hul gaan nie dadelik oor tot die verowering van nog stede en gebiede nie,

al is hul in ‘n staat van oorlog.

Hoekom nie ?

Want aanbidding is baie belangrike as verowering,

as die woonplek en gebied wat hul gaan besit.

Die volk moet opnuut herinner word – en ons saam met hulle –

dat die doel van die besit van die land,

is die aanbidding van die HERE,

die HERE self is ons hoogste goed, heil en doel,

die rede van ons bestaan.

Dinge, besittings, oorloë, stryd is nie ‘n doel opsigself nie.

Die Here self is ons doel, die wese van ons lewe.

En hier wys Josua ons die regte weg, hy bou ‘n altaar, ‘n plek van aanbidding

vir die Here, na die groot oorwinning oor die stad Ai.

En daarop word brandoffers gebring en dankoffers geslag, v.31

– Die brandofffers wat gebring is, het gewys daarop dat hulle as volk aan die Here behoort, dat Hy hul verlos het om sy eiendom te wees.

En belangrik dat hul heeltemal en alles wat hul is en het aan Hom behoort.

Dit wys dus op totale oorgawe.

Die gedagte agter die brand-offer, is twee erlei:

– as ‘n dier ge-offer is, die rook wat opgaan na die Here, wys na Hom,

dit gaan oor Hom, nie ons nie.

Maar dan ook,

– die dier moes heeltemal verbrand/verteer word, totaal oorgegee as offer.

Ja, en dit is wat nie gebeur het in hfst.7 toe Agan, toe Israel hul vergryp het aan die bangoed nie, hul was nie totaal oorgegee aan die Here nie.

Agan het die besittings as doel self gesien, hom vergryp daaraan.

En daarom is hierdie verbondsbevestiging of vernuwing by die berg Ebal nodig, om opnuut aan die Here toegewy te wees as sy volk.

– Die dankoffers, ook genoem vredesoffers wys op die vriendskap,

die gemeenskap tussen God en sy volk wat herstel is,

deur die verlossing van die Here van sy volk.

En daarvoor is die volk dankbaar teenoor die Here.

Ja, vir die groot verlossing uit Egipte, uit die slawehuis,

maar ook elke keer in die woestyn en ook nou met die gebeure

van die intog, en in hfst.8:1-29,

dat die Here sy volk verlos het deur die oorwinning oor Ai te gee.

Die volk is opnuut dankbaar dat Hy hul vergewe het oor die sonde

van Agan, vanselfsprekend oor al hul eie sondes en oortredinge.

Hul is dankbaar dat die Here hul genadig is,

en nie weens hul verbondsontrou vernietig het in sy heilige toorn nie.

En nou bring die volk hier offers,

om die trou en liefde van God te gedenk,

dat Hy nog met hul ‘n pad bewandel.

Alles genade !

Die brandoffer moes totaal verteer word, opgaan in die rook,

maar gedeeltes van die dankoffer moes met vrolikheid ge-eet word:

Deut 27: 7 Ook moet jy dankoffers slag en daar eet en vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God. 

Ja, en in die konteks van die res van die Skrif,

soos ons al geleer het in die prediking oor Josua 1-7,

al daardie offers het gewys na of was skadus van die vergifnis en redding wat daar in Christus is,

die Een wat sou kom om vir al sy volk se sondes ge-offer te word aan die kruis.

En net Hy was en is die volkome offer vir die Here,

net Hy het volkome in oorgawe vir die Here gelewe,

in totale vrede en vriendskap met God.

En Hy het dit gedoen vir sy kinders, vir ons geliefdes,

sodat ons nou waarlik weer Hom sal aanbid en gehoorsaam,

en nooit sy groot verlossingsdade sal vergeet nie.

Dat ons ook hier en nou en veral in die toekoms,

sal besef daar is baie belangriker dinge in die lewe,

as die tydelike dinge,

en dit is om die Here waarlik te ken en te aanbid (Joh.17:3).

Daarom moet ons ook hierdie lering hoor vandag:

die rede waarom die Here nog vir ons grond gee, geld, kos, klere,

plek om te woon, ‘n kerkgebou waarin ons nou is:

is dat ons Hom sal aanbid en eer !

Hoe maklik kan ons lief word vir hierdie wêreld, die dinge van die wêreld,

hoe maklik kan ons ook in die strik van Agan en soveel ander val

en Mammon, geld, rykdom, status, ons huise, besittings verafgod (2 Tim.4:10).

Hoe maklik kan ons die huis van die Here en sy belange vergeet ?

Ons kan nie genoeg die woorde van ons Here Jesus Christus hoor nie:

Ons Koning wat sê: soek allereers die Koninkryk van God en sy geregtigheid, en al die aardse dinge en besittings wat nodig is sal Hy gee (Matt.6:33).

Daarom geliefdes, moet ons aanhou bid en aanbid,

midde die stryd, midde die aanslag van vandag se Kanaaniete

Ja ons moet aanhou aanbid, tyd maak vir die Here en sy dinge

juis sodat ons die goeie stryd van die geloof kan stry !

– ekself persoonlike moet aanbid: my self as ‘n lewende offer aan die Here toewy in dankbare gehoorsaamheid (Rom.12:1)

– ek en my gesin moet aanhou aanbid: hier is ek en die kinders wat u my gegee het (Jes.8:18)

– ek en my gemeente moet aanhou aanbid: moenie wegbly van die eredienste nie (Hebr.10:25)

Daarom dat ons ook die huis van die Here wil in stand hou,

nie omdat die plek of gebou die kerk is nie,

maar omdat elke kind van God die kerk,

die gemeente van Christus, sodat:

die Woord nog verkondig mag word,

dat ons nog die sakramente mag gebruik word

onderrig mag plaasvind,

die gemeenskap van die heiliges beoefen mag word

(Sien Sondag 21; NGB artikel 29)

Geliefdes, as mens na ons volk se geskiedenis kyk,

en ons sien nou nog ten minste die uiterlike of uitwendige vrug daarvan,

as mens bv al die kerktorings in die stede en dorpe sien,

dan het orals waar ons volk getrek het,

waar dorpe gestig is,

dadelik die huis van die Here, die plek van aanbidding ook sy plek gekry

(gewoonlik in die middel van die dorp).

Want ons het daardeur erken, hoe sondig en gebroke en onvolmaak ookal:

“… die HERE is ons Regter,

die HERE is ons Aanvoerder,

die HERE is ons Koning:

Hy sal ons verlos.” (Jes.33;22)

Geliefde, hoor u dit, hoor u sy roepstem vandag (Hebr.4:7) ?

Daar is baie meer op die spel,

daar is baie meer wat saak maak in die lewe

as om te eet, drink en te besit

Alles gaan oor aanbidding

Sake van die ewigheid

Onthou Jesus se woorde in Lukas 9:23-26 (lees dit nou !)

Maar wat van nou, in ons land, nou ?

Ek wonder as ons vandag oor moes begin het om dorpe te stig,

met die huidige geslag,

wat sou dan eerste gebou word in die middel van die dorp:

– die mall, die sportstadion, die bioskoop, die dobbelhuis … ?

Ag, mag die Here ons weer opnuut verlos van ons afgode,

van ons selfsugtige eie belange, ons liefde vir Mammon,

sodat die aanbidding van sy Naam met lof en dankoffers

weer sentraal in ons lewens mag wees !

Dit bring ons by die tweede saak,

 

2 die Here in sy verbondstrou verlos ons om Hom dankbaar te gehoorsaam, v.32-35

Anders gestel: ons aanbidding moet in dankbare gehoorsaamheid wees.

As die Here sy volk verlos het uit Egipte, deur die woestyn, met die inname,

dan wil Hy hê dat sy volk Hom nou in dankbaarheid sal dien volgens sy bevele.

Dit het ons vorige keer heel duidelik geleer in 8:1-29,

na die straf op Agan, die stad Ai word presies inneem volgens God se bevele (sien 8:8,27).

Hier sien ons dit ook duidelik vanaf vers 31-35:

– v.31 Josua het die altaar gebou in gehoorsaamheid aan God se bevel deur Moses, waarvan ons gelees het in Deut.27

Dus, die Here wil hê ons aanbidding moet volgens sy bevele wees, nie eiewillig nie.

– v.32 Josua het opnuut ‘n afskrif gemaak van die wet van Moses,

dit was heel waarskynlik die 10 gebooie of die seën en die vloek wat genoem word daar in v.34 (Dt.27,28)

en nou is dit belangrik om twee dinge raak te sien as Josua opnuut die wet vir die volk voorhou:

a) almal moes opnuut die wet aanhoor, niemand is uitgesluit nie,

– v.33 ons lees van die hele Israel wat die wet moet hoor.

– v. 35 die hele vergadering, vroue en kinders en vreemdelinge

– die woord ‘kinders’ daar verwys oor die algemeen na almal wat nie

as mans en vrouens tel nie, 0-20 oud gewoonlik,

maar word in die besonder ook gebruik om te wys op ‘klein kindertjies’ dus ook hulle wat nie eers verstaan nie.

Die Here eis almal op in sy verbond – om dit te gehoorsaam, klein en groot,

man en vrou, en in die konteks van die NT:

Jesus gee die ‘groot opdrag’ om almal dissipels te maak (Matt.28:18,19),

mans en vrouens, oues en jonges, ouers en kinders, almal !

So word almal opgeroep om sy Woord te hoor, sy verbond aan te hoor,

en na sy goeie wet te luister, te glo en te bekeer,

en dan daarvolgens in dankbaarheid te lewe.

Want die HERE sê so en eis dit !

b) ‘n Tweede saak wat hier gesien moet word, as Josua die wet vir hul voorhou,

is dat nie net sekere dele van sy wet moet aangehoor moet word nie, nie net sekere dele van sy Woord en verbond nie, maar alles wat Moses beveel het.

Natuurlik vir ons – in die konteks waarin elke woord gegee is,

en natuurlik in die lig van die laaste en finale Openbaring wat verder plaasgevind het, in vervulling en bevestiging,

gesien in die lig van die NT bedeling (NGB art.25).

Hoor wat sê Josua oor die wet, wat natuurlik vir ons geld vir die hele Woord:

– “al die woorde van die wet … die seën en die vloek .. net soos dit geskrywe staan in die wetboek”moet aangehoor word, v.34

En om dit verder te beklemtoon, v.35:

– “Daar was geen woord …. “ wat uitgelaat is nie.

Ja, die volk moes hoor van die Here se seën, daarom het een klomp op die berg Ebal gestaan en die seën vir mekaar uitgeroep, v.33, dit het ons in Deut.27:12 gelees,

maar die vloek moes ook aangehoor word, hulle wat op die berg Gerisim was moes dit uitroep, Deut.27:13 het ons dit gelees.

En in die middel was die verbondsark van die Here … met die twee tafels daarbinne (v.33).

En Josua hou albei vir die volk voor: die seën én die vloek van die verbond.

Hul moes inderdaad besef:

– die Here vloek en straf hul ongehoorsaamheid, bv. Agan, hfst.7

– maar dank God, Hy seën ook, die oorwinning oor Ai, hfst.8

En geliefdes, hierdie tweesnydende swaard van die verbond,

van die Evangelie, van God se Woord moet vandag nog verkondig word,

soos Jesus dit stel, Joh.3:36

Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

Soos Paulus dit stel, 2 Kor.2:14-16

Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.  15 Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan;  16 vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe.

Soos Petrus dit stel, 1 Pe.2:6,7

 6 Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.  7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling

Die wet, die verbond, die Evangelie, die hele Woord is ‘n tweesnydende swaard.

Ja, ons as gelowiges, elke prediker moet die volle raad van God verkondig (Hand.20:27), en soos Josua geen woord van die Here nalaat nie.

Met wysheid, liefde en krag moet die Woord van die waarheid reg gesny en verkondig word (2 Tim.2:15; 4:1-5), met die waarskuwing van sy vloeke en strawwe en tugtiginge, maar ook die wonderlike belofte, dat die Here ons werklik wil seën, maar seën alleen in sy Seun !

Daarom dat Paulus ook skryf:

“As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom ‘n vervloeking wees!” (1 Kor.6:22)

En dan besef ons geliefdes, veral as ons Deut.27:26 lees, dat ons nie self, uit onsself die Here volkome kan aanbid nie, of kan gehoorsaam nie, selfs nie eers as gelowiges nie.

Ons ‘brandoffers’ en ‘dankoffers’ is maar klein en min en met sonde bevlek.

Maar dank God, Jesus alleen het die volmaakte offer gebring aan die kruis.

Hy alleen het die volmaakte brandoffer gebring – volkome toegewy aan die Here, die ywer van die Here het Hom verteer

Hy alleen het die volmaakte dankoffer gebring – deur volkome gehoorsaam te wees aan die hele verbond en wet van God.

Dit waarvan die brand- en dankoffers ‘n skaduwee en beeld en heenwysing na was (v.31).

En Hy het dit vir ons gedoen, sodat ons nou brandoffers en dankoffers in Hom kan bring!

Een verklaarder wys daarop dat die ongekapte klippe (v.31) wys daarop dat die mens kan nie vir die Here die volmaakte altaar bou en daarop volmaakte offers nie.

Daarom moes en het die Vader dit self gedoen en geskenk deur sy Seun.

Sy Seun in wie se offers Hy ‘n volkome welbehae het (Matt.3:17).

En geliefdes, in Christus en deur sy offer, moet en kan ons Hom nou weer aanbid, en in dankbaarheid volgens nie sommige nie,  maar al sy bevele lewe, hoe langer hoe meer.

Daarom, as iemand waarlik wil aanbid en weer gehoorsaam,

moet jy oorgebring word van die dood na die lewe.

Van die vloek na die seën … ja na die eniggebore Seun: Jesus Christus !

Hy het die vloeke van die verbond op Hom geneem,

wat ons moes getref het (soos dit die koning van Ai getref het, 8:29)

en die seëninge van die verbond vir ons verdien.

Ja, daar kan baie tydelike vloeke en strawwe in hierdie lewe wees oor die Here se kinders, as ons sy weë verlaat en vergeet,

maar die ewige seën, die ewige lewe sal danksy Christus se volkome offer,

nie van ons weggeneem word nie (Joh.10:28).

Laat ons in antwoord op hierdie groot genade, liefde en ontferming van die Here, Hom alleen aanbid en dankbaar leef volgens sy bevele.

“Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?” – Lukas 9:25

Amen.   

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: