VERMANING OM DIE
DAG VAN DIE HERE TE ONDERHOU
“23 Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; 24 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; 25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. 26 Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, 27 maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.” – Hebreërs 10:25,26
Dit is erg as die Here se toorn die mens tref (Rom.1:18-32) … dit is nog erger as mense nie eers meer besef sy toorn is oor sonde en ongehoorsaamheid nie, en dat hul daarom nie bekering en geloof nodig het nie (Rom.3:8; 6:1,2; 1 Joh.1).
Een van die sake wat duidelik wys of ‘n mens, gesin, gemeente, volk of land nog die Here waarlik vrees, erken as Skepper (Ex.20:11) en dankbaar is vir sy verlossingswerk in Christus (Deut.5:15), is wat hul met sy skeppingsordinasie van die rusdag doen, wat Hy vir altyd verorden het (Gen.2:1-3; Ex.20:9-11; Luk.4;16; Hand.20:7; 1 Kor.16:2; Hebr.4; Op.1:10).
Luister gerus na die volgende audio uittreksel van dr. Willie Marais (“Sondag: die dag van die Here”) waar hy na Hebr.10:25 verwys.
Dit is veral die konteks waarbinne Hebr.10:25 staan, naamlik vers 26 (sien hierbo) wat ons elkeen saam met ons gesinne en families baie ernstig oor sal moet besin oor wat ons glo en doen elke Sondag wat die Here vir ons gee. Ek weet daar is opnuut reformasie en bekering nodig in my lewe … hoe lyk dit met jou sondagheiliging tot eer van die Here?
Bron: http://www.eeds.co.za/
Ek plaas ook hier ‘n deel van Totius (dr. JD du Toit) se preek oor Jes.58:13,14, wat handel oor ‘hoe’ ons die rusdag deurbring, in aanbidding en dankbaarheid vir sy groot verlossingwerk in Christus:
Die sabbatsviering
deur Totius
“Die profeet stel twee sake naas mekaar. Hy sê: as iemand die sabbat ‘n verlustiging noem, dan verlustig hy hom in die HERE. … “Wat ook al bygevoeg of weggelaat word, sorg dat julle die rusdag hou, want dis ‘n uitdruklike ordinansie van God; geen dag mag daarmee gelykgestel word nie. Ons voel dus dat die sabbat of rusdag in die besonder ingestel is ter wille van die Here en ter wille van sy diens.”
Die profeet het die vormdiens van sy tyd veroordeel (Jes.58:1-8), maar daarmee sê hy nog niks van die vorme self nie. Hy trek op teen die vas van die Jode, omdat daaraan liefdeloosheid en onderdrukking van die naaste verbande was. Maar die vas self is goed. Die woorde: “Is dit die vas wat Ek verkies” (vs. 5), veronderstel dat daar gevas word. Die profeet veroordeel net die manier waarop die Jode dit gedoen het.
Hy gaan selfs verder. Hy beëindig sy rede nie voordat hy ‘n bepaalde vorm aanbeveel het nie. En hierdie godsdienstige vorm is die onderhouding van die sabbat. Ons lees in vers 13 en 14:
“As jy jou voet terughou van die sabbat – om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hoog hou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HEIRE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek”.
Waarom word die sabbat so besonder aanbeveel? Die oorsaak is dat die eerste gedeelte van ons hoofstuk aangetoon is dat daar met die vas verbonde moet wees ‘n dien van die naaste.
Maar hiermee kan ons nie volstaan nie.
Godsdiens moet veral wees die dien van God. Daarom is die onderhouding van die sabbat nodig.
Ons lees teenswoordig baie van die broederskap van alle mense. Kongresse word gehou om vyandskap tussen die nasies uit die weg te ruim; planne word beraam om armoede te beteuel en aan almal ‘n menswaardige bestaan te verseker. Dis alles baie goed, maar dit bly ongelukkig daarby. Vergeet word dat die diens van die mens nooit die diens van God kan vervang nie. Naas die tweede tafel van die wet stel die profeet as hoofsaak die eerste tafel: die liefde tot God.
Let op die twee woorde verlustiging en verlustig in vers 13 en 14. Die profeet stel twee sake naas mekaar. Hy sê: as iemand die sabbat ‘n verlustiging noem, dan verlustig hy hom in die HERE.
Ons voel dus dat die sabbat of rusdag in die besonder ingestel is ter wille van die Here en ter wille van sy diens.
‘n Sabbat wat in ledigheid deurgebring word, het iemand tereg genoem: ‘n sabbat van osse en esels. En ‘n sabbat waarop wilde losbandigheid die botoon voer, word deur dieselfde persoon gebrandmerk as: ‘n sabbat van die goue kalf, toe die volk gaan sit het om te eet en te drink en opgestaan het om te speel.
Die sabbat kan nie ‘n enkele oomblik van die diens van God afgeskei word nie. ‘n Skrifverklaarder druk dit só uit: “Wat ‘n mens aan die sabbat doen, dit doen jy aan God”.
In ons tyd waai daar glad ‘n ander wind. Natuurlik was daar altyd mense wat die rusdag ontheilig het ter wille van hulleself. Maar teenswoordig word die ontheiliging stelselmatig en openbaar geëis en voorgestaan. Die rusdag word opgevorder vir die diens van die mens en daarvoor alleen.
In een van ons Engelse dagblaaie kon ‘n mens nog onlangs lees hoe namens die publiek by die munisipaliteite aangedring is dat op die rusdag meer geleentheid vir pIesier verskaf moet word; daar moet meer trems loop, daar moet ruimer gesorg word vir “sport”, sport op land en op die water; niemand moes vir ‘n oomblik met sy Sondag opgeskeep sit nie.
Dis die kenmerk van ons tyd: offisieel en publiek word daarop aangestuur om die sabbat ‘n dag van pret en vrolikheid te maak. Nouwel, dis die sabbat van die goue kalf. Op dié manier gaan die sabbat as dag van die Here verlore en het dit nie meer enige wesenlike betekenis nie.
Daarom pas dit ons om noukeurig daarop te let hoe ons ons rusdae deurbring. Ons Gereformeerde vaders het by die vermenigvuldiging van die sg. kerklike feesdae altyd gesê:
“Wat ook al bygevoeg of weggelaat word, sorg dat julle die rusdag hou, want dis ‘n uitdruklike ordinansie van God; geen dag mag daarmee gelykgestel word nie”.
Die sg. Engelse sabbat, ‘n oorlewering van die Puriteine, beskryf dr. Kuyper soos volg:
“Ken u die Engelse sabbat, daardie Sondag soos hy in Engeland, Skotland en Amerika gevier word (is?)? “Maar dan het u mos ook in die huisgesinne daardie sagte, weldadige indruk ontvang, wat die stilheid en soberheid van die lewe aan u gegee het. Daar is nie ‘n gehardloop op die trappe nie; nie ’n haastige geloop deur die gange nie; in en buite die huis is die pas so rustig en so stil. Die deurklokkie het amper nie gelui nie. Die kombuis skaars in beweging, die skoorsteen rook hoogstens effentjies, en op die gemeenskaplike tafel is presies genoeg van die eenvoudigste voedsel om ‘n mens sonder dat jy geëet het, nie honger te laat voel nie”.
Die sabbat is deur ons ou vaders gebruik om die siel voor God te stel. Die dag was ‘n geestelike verlustiging. Hulle het gevoel dat Christus ons deur sy bloed van sonde en sonde-angs verlos het, sodat die sabbat inderdaad vir ons ‘n dag van vrede en rus kan wees; vrede met God en rus in God.
Deur die genade van Christus kan ons op die dag van ons bose werke rus, die Here deur sy Gees in ons laat werk en die ewige sabbat in hierdie lewe laat begin. En, as die eersteling heilig is, dan is al die dae van die week Godgewyd. Dan is daar nie moegheid, gejaagdheid of onrus nie.
Die goddelose het geen vrede nie – so eindig Jesaja elke keer die drie onderdele van sy tweede boek, sy troosboek (48: 22; 57: 21; 66: 24). Namate die wêreld dan ook in goddeloosheid toeneem, na die mate sal ook ‘n see van onrus sy golwe oor die mensheid uitstort. Die wêreld het geen sabbat nie, dit het geen rus nie. Dit is ‘n voortgejaagde see.
Mag dit dan aan ons gegee word om, te midde van klimmende onrus en storm, ons des te vaster te klem aan die groot en positiewe gebod van die rusdag.
Leser, gee daar noukeurig op ag hoe u die rusdag deurbring.
Dis ‘n ordinansie van God.
Weë hom wat dit oortree. Sy oordeel is: “Geen vrede !”
Maar wel hom wat die ordinansie hou.
Die Here sal hom laat geniet die erfenis van vader Jakob en sal hom oor die hoogtes van die aarde laat ry.
Sabbatsonderhouding was ‘n verbondsteken en -voorwaarde; daarom volg daarop so ‘n uitmuntende verbondseën (vs. 14).
Bron: Het Kerkblad, no. 428, 1 Oktober 1919.
_________________________
Sien ook die volgende artikels oor die rusdag van die Here: