UIT DIE KERKGESKIEDENIS
TE PERD NA KERK OM OP MIERSHOPE TE GAAN SIT?
In aansluiting by my vorige skrywe oor die vermaning om die Here se Dag te onderhou, sien hierdie uitreksel uit die Afrikanerjoernaal (12 Januarie) oor die Afrikaners se geskiedenis in Suid-Afrika, daar in die beginjare:
” ‘n Franse predikant, Pierre Simond, het in Augustus 1688 aangekom. Hy is soos die ander predikante betaal deur die Kompanjie. Sy eerste gemeente was in Drakenstein, waar Simondium nou geleë is.
Die eerste “stoele” was glo van swart miershope wat afgesteek en in rye in die kerkgebou gepak is. Die mense was so arm dat hulle te voet moes kerk toe kom. Later het van hulle saamgemaak en een perd vir die ou en swak mense gekoop. Hulle het soms só gemaak: een persoon ry die perd ‘n end, maak dit dan vas aan ‘n boom en loop verder. Wanneer die volgende groep by die perd kom, klim die swakste op en ry verder.”
Hierdie is tot ons geslag se beskaming !
Die Here het ons in Sy voorsienigheid soveel meer vooruitgang gegee, veral wat vervoer betref met ons blink motors, elektriese huisware wat ons tyd spaar, mooi kerkgeboue om in te sit … en tog … is die erediensbywoning onder Afrikaners so swak, soveel swakker as in ons voorgeslagte, daar is soveel ondankbaarheid.
“Here laat ek eers … dit … laat ek eers dat doen … en as daar nog afskeeptyd oor is … sal ek tyd probeer maak vir U en u gemeente …” (sien Luk.9:57-62).
In plaas van dat al die tegnologiese vooruitgang ons net nog nader aan die Here bring, om op te trek na sy huis in dankbaarheid en aanbidding (Ps.122:1), gebruik ons die tegnologie en tyd net nog meer om ons eie plesiere en begeertes te dien, en nie die Here en sy Koninkryk te soek nie (Matt.6:33). Om nog meer weg te dwaal van die Here en sy genade te minag, om die wêreld en sy begeertes te dien, onsself te dien.
Ag, mag die Here ons genadig wees, sodat ons as gesinne, as ‘n volk van Afrika, in Afrika geroep, weer mag uitsien en uitroep dat ons die Here nog meer wil dien in dankbaarheid, nog meer Skrifgetroue preke wil hoor, nog meer Hom wil aanbid volgens sy bevele (HK Sondag 35), nog meer wil hoor van Jesus Christus, en Hom as gekruisigde, dat ons sonder sy redding en liefde nie een oomblik kan bestaan nie (1 Kor.2:2) !
As jy vandag sy roepstem hoor deur sy Woord (sien die verse hier onder), as jy mislei is deur onkunde en verkeerde leringe dat die dag van die Here nie meer belangrik is nie, begin die eerste dag van hierdie week, oormôre, nou Sondag, die opstandingsdag, die rusdag in Christus, heel anders, deur jou vrou en kinders saam te neem na sy huis.
En ja, loop voor, wees manlik volgens die Bybel, nie volgens die glanstydskrifte of hollywood-kultuur se nie (Ps.27:4; 1 Kor.16:13; 1 Tim.3; Titus 1,2), want onthou: as die Here die huis – my eie huis en die kerkhuis nie bou nie, bou ons tevergeefs die res van die week (Ps.127).
“Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.” – Hebr.4:7
“… en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. – Hebr.10:25
“Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan!” – Ps.122:1
En as ek in Christus is, dan is sy juk, sy wil vir my lewe sag en lig, ook die vierde gebod vervul en gehandhaaf in Christus (Matt.5:17-19) dan wil ek optrek na die huis van die Here, van rusdag tot rusdag, totdat ek in die ewige volmaakte rus ingaan (Matt.11:28-30; Hebr.4, 12:23,24).
Het jy daardie ewige rus deur die geloof in Christus gevind ?
Indien wel, wys dit met jou (dankbaarheidswerke), deur op te trek na die huis van die Here !
_______________________________
Sien ook hierdie treffende artikel deur ds. Gustav Opperman (GK Matlabas), waarin hy wys hoe ons gereformeerde vaders die rusdag van die Here kosbaar geag het, en hoe die GKSA Sinode van 2003 die dag van die Here as skeppingsorde in Christus verwerp het:
“Met die sinodebesluit van 2003 van die GKSA aangaande die verhouding Sondag en Sabbat word daar ‘n verhouding met die Sabbat-beginsel verbreek. Hierdie Sabbat-beginsel het onder gereformeerdes in Suid-Afrika gegeld vanaf die kerkstigting in Suid-Afrika in 1652. Volgens die 2003 sinodebesluit is die Sabbat-beginsel nie meer ‘n skeppingsordening nie. Gelowiges en ander staatsburgers staan ook onder geen verpligting meer om een uit sewe dae van hulle arbeid te rus nie. Alhoewel rus van werk goed en nodig is vir die mens, is daar, volgens Sinode 2003 nie ‘n bepaalde Skriftelike opdrag om een dag daarvoor af te sonder nie …”
“Volgens prof. Andries Raath is dit vir baie Afrikaners vandag nie meer God en sy gebod wat bepaal hoe die lewe geleef moet word nie. Die kerk het miskien vir sommige op Sondae nog ‘n rol te speel, maar die boodskap van die kerk geld vir vele hoegenaamd nie meer gedurende die week nie. So ‘n dualistiese Christendom is kragteloos en beslis op die afdraande pad[40].
Dat die kerk en veral die Dopper kerk nog op Sondae ‘n rol te speel het, is na Sinode 2003 se besluit aangaande die Sondag/Sabbat klaarblyklik ook nie meer vanselfsprekend nie. Met hierdie besluit het die kwessie van die Sondag/Sabbat onder die Afrikaner en die Doppers in besonder inderdaad tot rus gekom … alhoewel nie ‘n Sabbatsrus nie.”
Dankie Slabbert! Dié toewyding geld uiteraard ook op ander terreine van ons geloof en spreek ‘n mens aan!!