‘N SABBAT VIR DIE LAND
deur Totius
“Om boer te wees is ‘n hoë, goddelike roeping. Ter wille van die Here moet ons die aarde liefhê en dit liefderyk versorg. ‘n Boer wat sy perd liefhet, sal dit nie ooreis nie.”
[Nota: In tye van reën én droogte in Suid-Afrika, plaas ek graag hierdie artikel van Totius om oor biddend te besin, veral vir ons boere in hierdie tyd.]
Vanweë die Here het Moses die Israeliete beveel dat hulle ses jaar lank die land moet besaai, die wingerd moet snoei en die opbrings daarvan moet insamel. Die sewende jaar egter sou, volgens bevel van die Here, ‘n jaar van volkome rus vir die land wees, “‘n sabbat vir die Here”. Dan mag nie gesaai of gesnoei word nie. Wat van die oes opslaan, mag nie afgeoes en die druiwe van die ongesnoeide stok nie afgesny word nie. Wat die aarde vanself voortbring in die rusjaar, moet die voedsel wees van die Israeliet, van sy slaaf en slavin, van sy huurling en bywoner, van sy vee en die wilde diere (Lev. 25:1-7).
En as gevra word: Wat moet ons eet in die sewende jaar as ons nie mag saai en die oes nie mag insamel nie, dan lui die Goddelike antwoord:
“In die sesde jaar gebied Ek my seën vir julle, en dit sal die oes vir die drie jare oplewer.”
Eers in die agtste jaar moet hulle saai en van die ou opbrings eet tot die negende jaar toe. Totdat die opbrings hiervan inkom, moet hulle die oue eet (Lev. 25:20-22). Dit is dus duidelik dat eers in die derde jaar na die sabbatjaar alles weer sy gewone loop sal hervat. Intussen sal die Here deur sy wonderdadige beskikking vir die volk sorg.
Dié rusjaar “vir die land” hoef egter nie in niksdoen te verloop nie. Soos Bush in sy kommentaar opmerk, kon voortgegaan word met visvangs en jag, met versorging van kuddes en bye, met die herstel van geboue en meubels, met die maak van klere en die voortsetting van die handelsbedrywigheid. Die rus was besonder vir die bodem bedoel.
Hoe belangrik hierdie aankondiging is, blyk uit Lev. 26, waar die Here spreek oor die ballingskap wat die volk sal oorkom weens sy menigvuldige sondes:
“Dan sal die land vir sy sabbatte vergoeding kry, al die dae van sy verwoesting, terwyl julle in die land van julle vyande (nl. in Babel) is . . . Al die dae van sy verwoesting sal dit rus — die rus wat dit nie gehad het in julle sabbatte toe julle daarin gewoon het nie” (vs. 34 en 35).
Belangrik is ook dat die Heilige Skrif nadruklik melding maak van hierdie profesie in sy vervulling. Die wegvoering na Babel het geskied, so staan dit daar:
“sodat die woord van die Here deur die mond van Jeremia vervul sou word: totdat die land vir sy sabbatte vergoeding gekry het; al die dae van die verwoesting het dit gerus om sewentig jaar vol te maak” (2 Kron. 36:21).
Die profesie van Jeremia vind die leser in hoofst. 25:11.
Wat wil dit alles sê?
Toe ons in die vorige artikel oor Agab en Nabot gehandel het, waar dit gegaan het oor die erfbesit van ‘n wingerd, kon vasgestel word dat die grondbesit in Israel van verreikende betekenis was. Dit was nie bloot ‘n kwessie van myn en dyn nie. Maatskaplik, politiek en godsdienstig sou die optrede van Nabot ‘n spoorslag wees om in die weë van die Here te wandel.
Dit kan ook gesê word van die sabbatjaar.
Wat het die maatskaplike lewe daardeur ‘n ander aansien verkry vir slaaf en slavin, vir huurling en bywoner, vir ryk en arm, ja, selfs vir die vee en die wilde diere van die veld! Ook aan die wild het die Here gedink. Die Bybel is dan ook geen boek van geestelike afgetrokkenhede nie. Die onophoudelike geswoeg, die benoude kommernis — dienaangaande sou daar verligting kom. Die lewensdoel van Israel sou nie bestaan in voortdurende, met sure arbeid verbonde bewerking van die aarde nie (Gen. 3:17, 19) maar ook in die genieting van die opbrings wat die Here sonder arbeid aan Israel gee as die volk die verbond van sy God onderhou.
Dieper lê die meer godsdienstige waarde van die rusjaar. Dit is ‘n sabbat vir die Here (Lev. 25:2). Die sabbatdag, sabbatjaar en jubeljaar wys heen na die Goddelike rus waarin alle dinge eenmaal hul einddoel sal vind (vgl. Gen. 2:1-3).
Die hele inrigting van Israel se samelewing moes dan ook dien om dié hoë bestemming te bereik. Ook die aarde onder ons voete is heilig aan die Here en moet aan sy salige rus deel hê. Die felle skeiding van hemel en aarde, godsdiens en lewe, genade en natuur wat die Metodisme onder ons volk ingang laat vind het, vind ons in die Woord van God nie, allermins onder die ou Bondsvolk.
Maar elkeen voel dat die bepaling aangaande die sabbatjaar ook ‘n sterk natuurlike, die aarde betreffende, drangrede in hom dra.
“Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan” (Ps. 24:1).
Hy het die bodem waaruit ons lewe, nie gegee dat die mens daarmee kan maak wat hy wil nie. Ook die bewerkte grond mag nie verwaarloos word nie.
Nou het manne wat ‘n studie maak van landbou en bodemvrugbaarheid aan ons verduidelik dat in die bewerkbare laag grond miljoene, vir die blote oog onsigbare wesens woon. Hulle word mikrobes genoem en is altyd besig om oorblyfsels van plante, grassoorte en dergelike te verwerk, sodat weer ander plante in dié bodem kan groei.
Wanneer dus die grond voorsien word van kraalmis, blare, gras ens., word dit vrugbaar; terwyl die grond wat hierdie voorrade nie ontvang nie en nietemin besaai en beplant word, in ‘n toestand van onvrugbaarheid geraak. Die mikrobes sterwe dan by miljoene. Dan word gespreek van roofbou.
Wat ‘n troostelose gesig is dit dan ook om ‘n mielieland te sien wat jaar na jaar geploeg en besaai word sonder om die bodem van die vrugbaarmakende stowwe te voorsien. Alleen die allersterkste grond is enigsins teen so ‘n uitbuiting bestand. Die einde is gewoonlik dat die boer sy land moet laat lê – ‘n prooi van skadelike gewasse en onkruid, en dat hy op ‘n ander plek die uitbuitingsproses moet voortsit. In so ‘n land is ‘n moord op groot skaal gepleeg. Die mikrobes het gesterwe.
Die mikrobes moet lewe van mineraalsoute én organiese voedsel (oorblyfsels van plante, ens.). As ‘n boer net die oog het op groot insamelings, maak hy die mikrobes en sy plaas gedaan.
Daarom moet roofbou en ook oorbeweiding teëgegaan word. Die natuur beskerm en wreek hom dan ook self deur by oorbeweiding steekgras voort te bring, en deur by oorproduksie naderhand die opbrings te weier.
Natuurlik spreek die Bybel nie van mikrobes nie. As dit die geval was, sou in die verlede, eeu na eeu, die mense die Bybel op hierdie punt nie verstaan het nie. Die mikroskoop en die mikrobes is eers eeue later ontdek. Die Bybel spreek die taal van die daaglikse ervaring, en elke boer het van eeue her maar alte goed geweet dat die grond uitgeput kan word. Vandaar dat die bemestingstowwe aangewend is. Dit het dus gegaan om die saak self.
‘n Boerdery mag nie in ‘n goudmyn omgeskep word nie. Elke ons goud wat uit ‘n myn gehaal word, is weg. Dit kan nie weer met goudstippels vervang word nie. ‘n Goudland word ‘n arm land as die goudopbrings nie andersins tot verryking van die land gebruik word nie. Suid-Afrika weet om daaroor saam te praat.
Die hele saak kom hierop neer dat aan die akkeraarde geen rus gegun word nie. Die grond word aangedrywe en is naderhand soos ‘n flou perd wat nie meer die verlangde arbeid kan lewer nie. Die einde is by albei uitputting en ineenstorting.
Om boer te wees is ‘n hoë, goddelike roeping
Ter wille van die Here moet ons die aarde liefhê en dit liefderyk versorg. ‘n Boer wat sy perd liefhet, sal dit nie ooreis nie.
Rus vir die aarde – dit is wat die sabbatjaar proklameer. En hierdie goddelike wysheid kan nooit verouder nie. As die landbouers maar meer hul Bybel wou bestudeer!
Hoe die beginsel van die sabbatjaar in besonderhede toegepas moet word – dit is nie ons saak om daaromtrent bepalinge op te stel nie. Alleen was dit nodig om die hoofsaak weer duidelik na vore te bring en daarin die goddelike wysheid te eer en dankbaar te erken.
Bron: Die Kerkblad, 6 Augustus 1943.