Totius oor die charismatiese en pinksterleringe: (2) Die wonder van die uitstorting van die Gees

TOTIUS OOR DIE CHARISMATIESE EN PINKSTERLERINGE

(2) Die wonder van die uitstorting van die Gees

Daar kan dus geen twyfel bestaan dat die Apostoliese en aanverwante sektes in die waan lewe dat hulle weer Pinksterfees vier en metterdaad die Pinksterwonders werk nie. Hiermee het ons dan by die punt gekom waar die Apostoliese die vastheid van die Heilige Skrif verlaat en aan die leer van die hele Christelike kerk vaarwel sê.” – Totius

[Sien die inleiding tot die reeks en deel 1 hier.]

In ons (vorige) artikel het ons gesien dat daar tussen drie soorte doop onderskei moet word:

(1) die doop van Johannes, (2) die Christelike doop en (3) die doop van die Gees.

Van hierdie laaste soort (nl. die doop van die Gees) het ons beweer dat dit in oordragtelike of figuurlike sin verstaan moet word. So spreek ons ook van ‘n wetenskap wat gedoop is, dit is wat heeltemal onder die beheersing van die Christelike beginsel staan. So het Jesus ook in figuurlike sin van sy lydensdoop gespreek: “Ek het ‘n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is” (Luk. 12:50).

Verder het ons beweer dat die doop van die Gees, wat op die Pinksterdag plaasgevind het, nie vir alle tye en alle persone, as individue geneem, bestem was nie.

Bro. Lake en die Apostoliese leer egter die teendeel. Bro. Lake sê o.m.: “Die Apostoliese Geloofsending staan die ontvang van die Heilige Gees deur persoonlike doop in Hom voor.”

Hierdie bewering wil hy bewys deur hom op dié plekke in die Handelinge te beroep waar buitengewone gebeurtenisse vir ons verhaal word. Onder andere verwys hy na wat op die Pinksterdag plaasgevind het, en na wat met Cornelius gebeur het. Sonder om enige onderskeid te maak tussen toe en nou word hierdie voorbeelde vir ons ter navolging voorgehou. Ja, selfs die uitwendige tekens van die eerste tyd moet nou nog gesien word. Daarom dat bro. Lake sê: “Die spreek in vreemde tale is die uitwendige bewys dat die Heilige Gees besit geneem het van die liggaam van die gelowige.”

Vir elkeen wat kan lees, is dit dus duidelik dat die Apostoliese niks minder as dit beweer nie: die Heilige Gees moet vandag nog uitgestort word, en dit moet wees net soos in die dae van die apostels.

Die “Manifes” van die Apostoliese Broeders van Johannesburg bring ons hieromtrent nog verder op hoogte. In Gods latter rain, no. 1 lees ons dit: “Wie is ons? Ons is bekend as die Apostoliese Geloofsen­ding van Johannesburg, wat opgeneem is in die groot wêreldwye Herlewing van die H. Gees wat sy beweegkrag (impetus) ontvang het uit die werk van die Azuzastraat sending, Los Angeles, Kalifornië, waar die H. Gees gedurende die afgelope 18 maande op die gelowiges uitgestort is en wat reeds oor die hele wêreld bekend is.”

In dieselfde trant spreek die tydskrif De laatste dagen, orgaan van die Pinkstersending­beweging. Daar lees ons: “Is dit moontlik dat u nog nie van die wonderlike Pinksterwerk gehoor het wat daar nou reeds jare lank in die wêreld aan die gang is nie? … In elke land gebeur dieselfde dinge, dieselfde tekens word bespeur, naamlik dat mans en vrouens glo en salig word, gedoop word, vervul met die Heilige Gees, spreek in vreemde tale, met die uitlegging van die tale, gesigte van die wederkoms van die Here vir sy gelowiges en van Jesus aan die Kruis, en baie ander gesigte, wonderlike genesings of van krankes na oplegging van die hande of salwing met olie met die gebede van gelowiges (Mark. 16:17-20; Matt. 10:1; Jak. 5:14-16)”.

In hierdie tydskrif dus al weer dieselfde: (1) Pinksterwerk en (2) wondergawes soos die van die eerste Christelike kerk.

Die skrywer van die betrokke artikel kom eindelik met hierdie oproep: “Bid dat u gedoop mag word met die Heilige Gees, soos die dissipels gedoop is op die dag van Pinkster.”

Christus, Licht en Waarheid (‘n tydskrif wat op Kroonstad uitgegee word) sê: “Of is u van diegene wat sê en glo dat die H. Gees net op die dag van Pinkster uitgestort is en daarna nie weer nie. Lees Hand. 10:46. Ons glo en ons het dit ondervind dat die Here nog sy H. Gees uitstort” (I. 7).

Daar kan dus geen twyfel bestaan dat die Apostoliese en aanverwante sektes in die waan lewe dat hulle weer Pinksterfees vier en metterdaad die Pinksterwonders werk nie.

Hiermee het ons dan by die punt gekom waar die Apostoliese die vastheid van die H. Skrif verlaat en aan die leer van die hele Christelike kerk vaarwel sê.

Immers, die Skrif leer ons duidelik dat die uitstorting van die H. Gees die derde groot daad van God na die skepping en die vleeswording is. Nou is dit opmerklik dat die Apostoliese wel ‘n herhaling van die Pinksterwonder veronderstel maar dit nie waag om van ‘n tweede skepping en tweede vleeswording te spreek nie!

Dit is ‘n in-die-oog-lopende inkonsekwensie waarvoor hulle hulle tevergeefs op die Skrif beroep.

Jesus het duidelik belowe dat die Vader aan ons ‘n ander Trooster sal gee “om by ons te bly tot in ewigheid” (Joh. 14:16). Die H. Gees hoef dus nie wéér deur ‘n nuwe uitstorting te kom nie. Hy is in die gemeente; Hy woon daarin as sy woonplek (Ef. 2:22). Hy verlaat die gemeente nooit nie maar bly by hom tot die laaste dae van hierdie teenswoordige wêreld (Openb. 22:17). Het so min as die Seun weer gebore word om weer aan die kruis te hang, net so min word die H. Gees, wat gekom het, weer uitgestort. Daarom dat Paulus hierdie twee gebeurtenisse langs mekaar stel en in dieselfde tydvorm van al twee spreek. In Gal. 4:4 sê hy: “God het sy Seun uitgestuur”, en in vs. 6: “God het die Gees van sy Seun uitgestuur.”

Op die Apostoliese rus dus die taak om te bewys dat God êrens in die Skrif ‘n tweede uitstorting beloof het of ‘n gebed gegee het om vir ‘n tweede uitstorting te bid. So lank as hulle dit nie kan doen nie, hou ons vol om met die kerk van alle eeue te bely dat die Gees wat gekom het, nie meer kan kom nie. Ons gaan selfs verder en verklaar dat om te bid vir ‘n nuwe koms niks anders as ‘n loëning van die Pinksterwonder is nie.

Maar, sê die leser, die Apostoliese beroep hulle op Hand. 10:44-47, waar staan: “die Heilige Gees het op almal geval wat die woord gehoor het” (nl. in die huis van Cornelius). Waaraan dit toegevoeg word: “En die gelowiges uit die besnydenis was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is.”

Ongetwyfeld het die Apostoliese hier ‘n “letter”, maar dit ontval hulle geheel en al wanneer ons die Skrif met die Skrif verklaar.

Wat was die geval? Op die Pinksterdag sou die H. Gees uit die Hoof (Christus) in die liggaam (die gemeente) uitgestort word. Nou was op die Pinksterdag egter nog slegs die kerk uit die Jode aanwesig. Daarin het dan ook op dié dag die Gees kom woon. Daaroor bestaan geen verskil van gevoele nie.

Die kerk uit die heidene het egter nog getoef. Toe hierdie kerk egter in die huis van Cornelius openbaar geword het, het die H. Gees ook daarop geval.

Waarom moes dit gebeur? Eenvoudig omdat die Joodse Christene sonder hierdie gebeurtenis die kerk van die heidene nie as sodanig sou erken het nie. Dit blyk duidelik uit Hand. 15:8 – ‘n plek waarop in hierdie verband nie genoeg gelet is nie. Daar verklaar Petrus, toe daar groot woordewisseling in die Jerusalemse vergadering plaasgevind het: “God wat die harte ken, het vir hulle (nl. die heidene) getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons.”

Volkome duidelik is dit vir ons waarom die kerk van die heidene, naas die Israelitiese deel die Gees op wonderdadige wyse moes ontvang. Dat dit só gebeur het, verbaas ons dus glad nie.

Aan die oorspronklike uitstorting op die Pinksterdag moes hierdie aanvullende uitstorting noodwendig toegevoeg word. Daar moes eenheid kom, en die hele liggaam van Christus moes met die H. Gees gedrenk word.

Ons spreek van ‘n “aanvullende” uitstorting, omdat daar by alle ooreenkoms ook ‘n effense verskil bestaan tussen die koms van die Gees op die Pinksterdag en sy koms in die huis van Cornelius.

Hierop moet gelet word om in te sien hoe swak die saak van die Apostoliese staan.

(1) In Jerusalem is die H. Gees uitgestort deur die Vader (Hand. 2:17). In Cesarea val die H. Gees egter self op die vergaderdes. Die Gees tree dus hier reeds werksaam op. (2) In Jerusalem is die Gees self uitgestort; in Cesarea is egter sprake van die gawe van die Gees.

Hierdie twee punte van verskil gee ons die reg om van ‘n aanvullende uitstorting te spreek. Maar daarmee het God dan ook alles gedoen wat nodig was. Wel word ook in Hand. 8 gespreek van ‘n ontvang van die H. Gees deur die gelowiges in Samaria, maar ons het reeds in die vorige artikel aangewys dat dit verstaan moet word van die wondergawes van die Gees (waaronder die spreek met vreemde tale). Immers, die gelowiges daar het reeds die geloof tot saligheid ontvang, want hulle was in die naam van Jesus gedoop (vs. 16). Dit kon sonder voorafgaande werking van die Gees nie gebeur nie (i Kor. 12:3).

Ook wat aangaande die Johannesdissipels in Hand. 19 gesê word, dui op hierdie wondergawes en kan nooit diens doen om ‘n tweede of herhaalde uitstorting van die H. Gees te bewys nie.

Oor die wondergawes spreek ons in ons volgende artikels. Nou moes alleen blyk dat die Skrif ons nie grond gee om van ‘n tweede of herhaal­de uitstorting van die Gees te praat nie. Wat onder ons gebeur, mag nooit op een lyn gestel word met die wonderbare gebeurtenisse van die Pinksterdag nie. Toe het die Kerk eens en vir altyd sy doop van die Gees ontvang. Alle wedergeboorte en bekering kom nou voort uit die gawe van die Gees, wat op die Pinksterdag aan die kerk geskenk is.

Hiermee verval reeds die leer van die “Apostoliese” aangaande die Geestesdoop. Die fondament is nie goed nie. Daarom moet die hele huis val. Dit sal blyk wanneer die wondergawes netnou bespreek word.
_________________________

Volgende keer: Die wonders

Die volledige reeks kan hier gevind word: Totius oor die charismatiese en pinkster leringe

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: