TOTIUS OOR DIE CHARISMATIESE EN
PINKSTERLERINGE
(3) Die wonders
[Sien die inleiding tot die reeks en deel 1 hier.]
In ons (vorige) artikel het ons gesien dat die huis van ons Apostoliese Broeders op sand gebou is. Die fondament is nie goed nie.
Immers, hulle leer aangaande die doop van die Gees is gegrond op die veronderstelling dat die H. Gees nog gedurig uitgestort word. Maar hierdie veronderstelling vind in Gods Woord geen steun nie.
Die H. Gees is eens en vir altyd op die Pinksterdag uitgestort. Daarom dat die tekens wat aan die uitstorting voorafgaan, hulle nooit weer herhaal het nie. Net een maal, naamlik op die groot Pinksterdag, lees ons in die Skrif van hierdie “geweldige rukwind” en van hierdie “verdeelde tonge soos van vuur” (Hand. 2:2, 3).
Alleen die teken wat op die uitstorting gevolg het, tref ons weer aan, naamlik die taalwonder (Hand. 8:10 en 19). En dan ook nog met ‘n aanmerklike verskil, soos in ‘n volgende artikel aangetoon sal word. Die taalwonder veronderstel dus dat die H. Gees aanwesig is en nie meer uitgestort hoef te word nie.
Dit is dan ook opmerklik dat hierdie geweldige wind en hierdie verdeelde tonge in die huis van Cornelius nie weer aangetref word nie. Daar is alleen sprake van ‘n “val” van die H. Gees op almal wat die woord gehoor het. Die H. Gees is dus reeds in die kerk en tree reeds selfwerksaam op. Daarom dat ons van ‘n “aanvullende” uitstorting gespreek het. En dat hierdie één, aanvullende herhaling noodsaaklik was – daarvoor is die bewys in ons vorige artikel gelewer.
Wat origens in die Skrif van ‘n “ontvang” en “kom” van die H. Gees gesê word (Hand. 8:19; 19:6), kan saamgevat word onder die mededeling van die buitengewone gawes – ‘n punt waaroor ons nou gaan handel.
Waar hy van hierdie gawes spreek, sê bro. Lake: “Weet u ook van dergelike openbaringe (soos van Paulus), sulke gemeenskap en gesprekke met God? So nie, soek die doop van die H. Gees wat die eerste Christene ontvang het en hulle kennis en ondervinding sal u s’n wees. Ons word gevra: ‘Waarvandaan kry julle ‘n insig in Gods Woord?’ Ons antwoord: waar Petrus en Paulus hulle ontvang het.”
Verder sê hy: “Ek dank God vir al hierdie heerlike Gawes van die Gees (1 Kor. 12:8) veral vir die gawe van Gesondmaking.” Eindelik verklaar bro. Lake dat die spreek in vreemde tale “die uitwendige bewys is dat die H. Gees besit geneem het van die liggaam van die gelowige”.
Die Apostoliese Broeders maak dus aanspraak op die besit van die buitengewone gawes van die Gees. Geen wonder nie, want
(1) as mens jou “Apostolies” noem en die hele apostoliese kerk weer in die lewe wil roep;
(2) as mens jou insake die inspirasie of goddelike ingewing met Petrus en Paulus gelykstel;
(3) as mens jou beroem op ‘n nuwe “uitstorting” van die Gees –
geen wonder, sê ons, dat jy dan ook aanspraak gaan maak op die wondergawes van die eerste kerk nie. Wie eenmaal die verkeerde pad gekies het, dwaal al verder weg van die regte spoor.
Om nou vir die leser ‘n duidelike begrip van die buitengewone Geestesgawes te gee, sal ons nie met die bespreking van ‘n paar los tekste of plekke uit die H. Skrif begin nie. Nee, ons moet lewe “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4). Daarom moet eers die vraag gestel word:
Wat leer Gods Woord ons aangaande die wonder?
Daaruit sal opnuut blyk hoe die Apostoliese afgewyk het.
Die Skrif leer ons dat die sonde twee dinge gedoen het: ten eerste het dit die mens inwendig, d.i. na sy siel, geheel en al verderwe; ten tweede het dit uitwendig die mens se liggaam en die wêreld waarin hy leef, in die grootste ellende gedompel.
Om die mens nou uit sy sonde en ellende te verlos is daar twee wonders nodig: die een wonder is geestelik en vind plaas as die mens se siel uit sy dooie toestand deur die wedergeboorte lewend gemaak word. Die tweede wonder vertoef egter nog in sy heerlikheid en is stoflik na sy aard. Dit gebeur wanneer die liggaam van die gelowige uit die diensbaarheid van die verderwing vrygemaak word en wanneer hemel en aarde geheel en al vernuut word.
Nou is daardie geestelike wonder, naamlik die wedergeboorte van die sondaar, in sy wese onsigbaar. Daarom dat die vraag gestel kan word: Is dit nou genoeg? Daarop antwoord God dat Hy ter wille van die swakheid van ons geloof aan ons ook die stoflike wonder gee, met ander woorde Hy maak nie alleen die siel lewend nie, maar Hy gee ons ook die bewys en teken dat Hy magtig is om ons liggame op te wek en die aarde te vernuut – die stoflike wonder, dus, wat selfs uitsluitend deur ons met die naam “wonder” betitel is.
Nou is daardie stoflike wonder uiteraard nie reël nie maar hoë uitsondering. Dit is slegs bewys, teken en profesie van ‘n beter toekoms. En dit is nou die punt waar die Apostoliese verkeerd gaan.
Om duideliker te praat gee ons enkele voorbeelde. Jesus het die mag gehad om dooies op te wek. Was dit nou sy doel om alle dooies in die Joodse land lewend te maak? Nee tog, want dan was sy koms ‘n mislukking.
Tydens Jesus se omwandeling op aarde het die mense net soos nou gesterf en is begrawe.
Wat dan? Jesus het sover ons weet, drie dooies opgewek, en dit is vir ons genoeg. Daardeur sê Hy dit so duidelik vir ons: “Ek het die mag om ook julle liggame lewend te maak – glo in My.”
‘n Ander voorbeeld. Jesus kon siekes genees. Wil dit nou sê dat Hy alle siekes van sy tyd en in die land van Israel genees het? Ver daarvandaan. Hy het ons slegs die onfeilbare voorsmaak gegee van die tyd waarin niemand meer sal sê: Ek is siek nie.
So sou die voorbeelde vermenigvuldig kon word. Maar hierdie twee is voldoende om te laat verstaan dat die wondermag van Jesus en die apostels nie bedoel was om as reël aangewend te word nie. Die openbaring daarvan was die bewys en die voorspelling van die eeu van die heerlikheid, wanneer die ellende van die aarde en van die mens weggeneem sal wees. Maar hierdie tyd het nog nie aangebreek nie.
Daarom het dit geen sin nie wanneer bro. Lake triomfantlik vra: “Kan u êrens in Gods Woord vind dat die gawes van die Gees van die kerk van Christus teruggetrek is?” (Wat hy uit Rom. 11:29 aanhaal, sien op Israel se herstel en, blykens die leer van die Skrif, op die gewone genadegawes, wat die teenswoordige bedéling raak. Daarvoor lewer ons nou die bewys.)
Ons antwoord op bro. Lake se vraag doodeenvoudig dat dit uit die raad van God en uit die aard van die saak volg dat die buitengewone gawes opgehou het om te bestaan.
Immers, dit was nie God se plan om nou reeds alle dooies op te wek en nou reeds alle siekes te genees nie. Dit sou ‘n vooruitloop wees van wat sy Woord vir ons sê. Eers aan die einde kom daar ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Eers dan word alle trane afgevee; eers dan sal die dood nie meer wees nie; want eers dan het die eerste dinge verbygegaan. Eers dan word ons van die ellende verlos (Openb. 21).
Wie dus nou reeds die wondermag algemeen in werking sien, gaan teen die deur God gestelde orde in en gryp na ‘n toestand wat eers hiernamaals sal kom.
In verband hiermee kan gevra word: Waarom het God juis in die eerste kerk hierdie buitengewone gawes geopenbaar? Ons antwoord is: Die kerk moes in ‘n wêreld wat teen God vyandig is, geplant word, in ‘n wêreld van ongelowige Jode en heidene.
En nou weet ons wel dat die ongelowige ook aan daardie wonderteken niks het nie. Die natuurlike mens kan die heerlikheid van God nou maar eenmaal nie sien nie. Nietemin het die wonders kragtig meegewerk om vir die kerk ‘n plek vir die holte van sy voet op aarde te verseker. In ‘n wêreld vol ellende was die openbaring van ‘n stukkie heerlikheid die middel om aan die kerk ‘n blywende plek te verseker. Die gelowige is versterk, en die ongelowige het verbaas gestaan!
“Maar,” sê dr. Bavinck, “die wondermag het opgehou toe die Christendom gevestig is en die kerk die voorwerp is waarin God die wonders van sy genade verheerlik. Die geestelike wonders (van wedergeboorte ens.) is dit waarin God tans sy mag en sy heerlikheid openbaar” (Dogm. I, bl. 353).
‘n Kind kan dus verstaan waarom die wonders moes ophou. Die fondament van die kerk moes gelê word, maar as die fondament klaar is, dan hou dit op. ‘n Fondament wat deurentyd hoër word, is nie meer ‘n fondament nie. As die hele huis fondament is, waar is die muur en die dak dan? . . .
As die Apostoliese dus vir ons ‘n teks vra (want hulle leef by los tekste); dan antwoord ons dat die hele Godsopenbaring ons leer dat die wonders nie gekom het om te bly nie. Die praktyk van die godsaligheid is nou die ingaan deur baie verdrukking en moeite in die koninkryk van God. Eers op die nuwe aarde sal die wonder nie meer weggaan nie. Onnatuurlik sal dit dan wees om siek te word of dood te gaan. Maar hierdie tyd wag nog totdat die raad van God deur die kerk uitgedien is.
As die Apostoliese ons ‘n teks vra, dan kom ons met ‘n teenvraag, naamlik:
“Gee vir ons ‘n teks waarin geleer word dat die wonders wel sal bly.”
Terwyl hulle na hierdie teks soek, verwys ons hulle na 1 Kor. 12:31. Daar skryf die apostel (en dit terwyl die buitengewone gawes nog bestaan): “Beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ‘n nog uitnemender weg.” Kyk 1 Kor. 14:5, waar staan dat die profesie beter is as om in vreemde tale te spreek. En wat is nog beter, nog uitnemender as die profesie? Die Liefde (i Kor. 13). Daarmee het Paulus toe reeds, heeltemal in ooreenstemming met die hele Skrifopenbaring, die swaartepunt verlê van die buitengewone gawes na die gereelde en gewone werksaamheid en dienende liefde. Waarom? Omdat daarsonder die ander gawes waardeloos is (1 Kor. 13:2) en omdat dit nimmermeer vergaan nie (vs. 8); dit alleen bly (saam met geloof en hoop) èn nou èn in die dag van die ewigheid (vs. 13).
Hierdie orde van Paulus word deur die Apostoliese heeltemal omgekeer. Hulle verlê, lynreg teen die gebod van die apostel in, die swaartepunt uit die gewone in die buitengewone. Vir hulle is hoofsaak die spreek in tale en die bewerking van wonderdadige genesinge.
So maak hulle die gebod van die apostel kragteloos – hulle, hierdie Apostoliese!
__________________
Volgende keer: Wonders van die tal
Die volledige reeks kan hier gevind word: Totius oor die charismatiese en pinkster leringe
Leave a Reply