Angus Buchan: toe en nou ?

ANGUS BUCHAN: TOE EN NOU ?

Toe Angus Buchan ‘n klompie jare terug op die toneel verskyn het deur sy film, Faith like Potatoes, het hy heelwat dinge gesê waarmee ek meen enige gereformeerde gelowige kon saamstem.

In April 2011 was daar eenkeer ‘n radio onderhoud met hom, waar hy sterk getuienis gelewer het. Op grond van daardie onderhoud, het ek ‘n artikel geskryf waarin ek saam hom die sake verdedig het wat hy op daardie program genoem het. Ek plaas graag daardie artikel hier vandag (sien hier onder).

Nou het ek nie Buchan se bediening daarna gevolg nie, en miskien was ek onkundig oor al sy leringe wat hy dalk reeds onderskryf het wat gelei het tot sy dwalinge vandag. Maar daar is sekerlik ook charismate en charismate, soos daar gereformeerdes en gereformeerdes is. As mens bv. vergelyk wat iemand glo en leer soos dr. Wayne Grudem wat bekend kan staan as ‘n ‘gereformeerde charismaat’ (?), met wat Angus Buchan deesdae glo en leer, sal mens sien daar is ‘n wêreldse verskil, en is dr. Grudem natuurlik baie nader aan die bybelse gereformeerde leer as Buchan.

Dit was egter veral vanaf hierdie jaar, toe die sogenaamde ‘roeping van God’ oor die 22ste April begin het, dat ek meer begin lees en luister het wat Angus Buchan vandag glo en leer, en dit maak mens baie besorg, ook vir die wat hom dan so navolg. Dit wat ek destyds gehoor het en nou hoor is baie ver van mekaar (en dalk het ek nie goed genoeg geluister nie). Ek gaan wat hy nou glo nie alles herhaal hier nie, maar verwys u na Jaco de Beer se skrywes hier wat sy dwalinge deeglik aanspreek:

Angus Buchan dwalinge

Die grootste probleem is dat hy aanspraak maak daarop dat die Here met hom direk spreek deur eksta nuwe openbaringe, asof hy ‘n nuwe apostel is wat spesiale openbaringe ontvang. Hy beloof ook wondergenesings wat sal plaasvind, en in sy oproepe na vandag se byeenkoms klink dit asof hy meen hy is ‘n Noag of Moses figuur wat almal in sy ark vandag moet kry, anders is dit te laat vir Christus se kerk in SA? Dit lyk verder ook asof sy leringe al meer ooreenstem met die dwalings van die NAR (New Apostolic Reformation).

Sien ook die reeks wat ek geplaas het wat die charismatiese en pinksterdwalinge weerlê (wat basies dieselfde is as Buchan se leringe), asook verdere bronne:

Totius oor die charismatiese en pinksterleringe 

Bronne om charismatiese/pinkstergroepe te beoordeel

The Angus Buchan dilemma 

Dus, ek is van mening dat baie goedgelowige mense dalk mislei word, dat hul dink hulle het nogsteeds net met die eenvoudige omie te doen van ‘Faith Like Potatoes’, terwyl dit vir my lyk asof hy ongelukkig baie verder beweeg het in ‘n verkeerde dwalende rigting. Nou is dit ‘n groot ‘show’ wat gefokus is op ‘signs and wonders’, ‘the bigger the better’, die mens wat God aan die beweeg gaan sit, ens.

Maar dit was nog altyd so, die wese van die sondeval is ons en ons mense se ‘ongenoegsaamheid’, dat ons nie tevrede is met wat die Here vir ons gegee het en aanhou gee nie. Daarom is ons nie tevrede met die Gees en Woord nie, soek nog tekens en wonders, die ‘buitengewone’ gebeure en ekstases. Christus is nie (meer) genoeg as Verlosser en Koning nie, altyd Christus plus iets is sogenaamd nog ‘nodig’ (sien 2 Tim.4:3,4). God se finale geskrewe Openbaring is nie meer genoeg nie, ons wil heeltyd byvoeg of weglaat.

Soos iemand dit eenkeer gestel het: ons wil ons so besig hou met die onbekende, die mistiese, die buitengewone, dat ons nie meer kragte en tyd oor het om die gewone dankbare gehoorsame lewe te lei deur sy Woord en Gees nie.

Ek plaas daarom weer my artikel van 2011, terwyl die oproepe wat ek daarin maak aan die einde van die artikel, opnuut geld vir ons almal en veral ook hulle wat vandag se byeenkoms gaan bywoon.

Soos iemand anders reeds geskryf het, die vraag is nie soveel waar is ons vandag nie, maar waar is ons môre, op die rusdag en feesdag wat die Here verorden het, beveel het, vir elke week, tot die laaste dag ? (sien die volgende artikel: My 2 sent oor Angus Buchan se 1 miljoen)

Jammer as ek ‘negatief’ klink (2 Tim.4:1-5?), maar ek sien nie in ons plaaslike kerke en samelewing die groot deurgaande bekering en reformasie na hoeveel ‘Mighty Men’ konferensies deur al die jare nie, daarom is ek ook nie optimisties oor vandag se gebeure nie.

Kan ‘n slegte boom (gevaarlike dwalende teologie), goeie vrugte dra ? Hier is my artikel wat ek weer hier plaas (geskryf in 2011):

ANGUS BUCHAN SE RADIO ONDERHOUD: APRIL 2011

Die wêreld begin al meer (vyandig) kennis neem van die bediening van Angus Buchan. Vanoggend op RSG (Radio sonder Grense) is daar tussen 08h00-09h00 ‘n onderhoud met hom gevoer, op die geselsprogram ‘Praat Saam’.

Die RSG aanbiedster het haar bes probeer doen, met die hulp van enkele paar inbellers, om Buchan se bediening in ‘n slegte lig te probeer stel, onder andere dat sy bediening nie genoeg aandag skenk aan die vrou nie (te mansgesentreerd) en dat hy in die proses lekker baie geld maak.

Albei aantuigings is natuurlik ‘n klomp snert, want al kan mens as mede-gelowige met Buchan in liefde verskil oor sekere teologiese standpunte en metodes wat hy gebruik (sien: “Open Letter to Angus Buchan“), glo ek nie ‘n mens kan die man van God beskuldig van allerleie valse bymotiewe en idees met sy bediening nie.   Wat sy gesindheid en motiewe betref, wat die Here alleen oordeel, glo ek ons kan dieselfde van hom sê as wat ons Here van Nataneal gesê het: “Hier is waarlik ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” (Joh.1:48)

Wat is dit van Buchan se eenvoudige boodskap wat soveel aanstoot by die valse kerk en nou ook die afvallige wêreld veroorsaak ?

In die onderhoud het die volgende 5 sake na vore gekom waaroor Buchan onbeskaamd sy standpunt gestel het sonder om verskoning daarvoor te vra:

1. Verwerping van ewolusie

Hy glo die skepping soos die Bybel dit openbaar, die mens is nie afkomstig van ‘n aap nie, maar is geskape na God se beeld.

2. Verwerping van die gay lewenswyse

Die Here het die man vir die vrou geskape en andersom, nie mans vir mans of vrouens vir vrouens nie. Hy het al vir mense gebid om verlos word van  homoseksualisme en lesbianisme.

3.  Geen teologiese opleiding nie

Op hierdie aanklag het Buchan verwys na Petrus en Johannes wat ook nie ‘formele teologiese opleiding’ ontvang het nie.

4. Verwerping van godsdiensgelykheid

Buchan wys daarop dat hy alle mense van alle gelowe liefhet, maar geen mens kan gered word en hemel toe gaan sonder geloof in Jesus Christus nie (Joh.14:6).

5. En, wat heel moontlik die grootste aanstoot veroorsaak van Buchan se bediening wat lynreg in stryd is met die valse feministiese kerk en samelewing : hy pleit vir ‘n terugkeer na die bybelse tradisionele gesin van manlike leierskap en vroulike onderdanigheid. 

Mans moet bevry word deur Christus om weer hul vrouens en kinders met self-opofferende liefde te dien.  Mans moet weer leer om hul vrouens soos prinsesse te behandel, hulle moet weer ‘manlik’ wees en soos mans begin lyk.

Dit is baie duidelik dat sou Buchan vir roem, geld of aansien sy bediening begin het, hy nie baie ‘strategies’ en ‘polities korrek’ is in sy boodskap nie. Nee, met ‘n goeie sin vir humor en kalmte van gees het hy die vuurpyle van die RSG aanbiedster en sekere inbellers afgeweer en goed beantwoord.

Twee inbellers het egter goeie vrae gevra wat ‘n mens wel oor moet dink:

1. Waarom het veral so baie Afrikaner mans na Buchan se saamtrekke gegaan, terwyl hul tog as ‘tradisionele Afrikaners’ al dekades lank in hul eie tradisionele kerke min of meer dieselfde boodskap hoor ?, en

2. Is daar ook gevra wat dink Buchan van die ‘Toronto blessings en revivals’ wat gepaardgaan met allerlei ‘laughing in the spirit’ en ander vreemde verskynsels ?

Buchan se antwoord op eersgenoemde was dat sy boodskap altyd is dat mans moet terugkeer na hul gesinne en kerke, en daar opofferend, betrokke en diensbaar sal wees. Dit wil sê sy doel is nooit om ‘n nuwe kerk te stig nie.

Hier wil ek ook ‘n antwoord gee: ek glo in die meerderheid gevalle hoor mans nie meer die boodskap van ‘manlike leierskap en vroulike onderdanigheid: die man en vrou is gelyk in waarde en wese, maar verskillend in rol’ nie.  Daarom dat hul in hierdie tye van rolverwarring juis Buchan se boodskap waardeer hieroor, omdat hul weer die stem van die Bybel hoor wat hul rolle en take betref, wat hul nie in hul kerke meer hoor nie, ten minste nie in die oorgrote hoeveelheid ‘tradisionele susterskerke’ nie.

(nota: sien ook hierdie artikel om hierdie Angusmania te help verduidelik: Angus, die Afrikaners en Gereformeerd wees)

Op die tweede vraag het hy ge-antwoord dat ware herlewing word in die vrugte gesien, wat dus beteken dat daar ‘n lewe van liefde, diens aan God en die naaste, en godsvrugtigheid daaruit sal vloei.  So ons moet ‘n ware herlewing aan sy vrugte toets.  Ware herlewing is ‘to be saturated with God’, met verwysing na Wesley, volgens Buchan.

Nou is dit die vraag, en hier is my eie besinning oor die Mighty Men Conferences:

Eerstens, positief, glo ek dat deur Buchan se bediening, Christus ten minste verkondig word, en daarvoor is ‘n mens dankbaar en moedig dit aan. Dat dit al duisende mans se lewens verander het, huwelike gered het, en weer lewe in gesinne geblaas het, is ‘n mens net so dankbaar, soos ook deur vele getuienis tydens die onderhoud en deur inbellers gehoor kon word.  Mag dit voortgaan, hoe meer ons manne op ons knieë kom, hoe meer ons begin Bybel lees, ons vrouens en kinders weer dien, die huisgodsdiens herstel word, hoe groter ‘herlewing’ (lees: reformasie) mag daar wees, as die Here wil.

Maar, tweedens, en dit is my broederlike kritiek en vraag: kan daar ware standhoudende deurgaande persoonlike-, huwelik- en gesinsreformasie wees, sonder kerklike reformasie oor dit wat veral sentraal staan in Buchan se bediening: die reformasie, die terugkeer, die herstel van die bybelse leer oor die besondere ampte spesifiek in die plaaslike gemeente, nl. dat mans soos hulle hul vrouens en kinders lei, ook die gemeente as predikante, ouderlinge en diakens in liefde sal dien en lei, soos hul die gawes en roeping het (1 Tim.3:3,4) ?

Hoeveel van daardie duisende mans, wat met hul bekering by een van Buchan se konferensies ‘nee’ gesê het vir die God onterende feminisme in hul huwelike en huise, het dit ook gesê wat hul kerke en gemeentes betref, daar waar die feminisme in hul kerke ons vrouens al mislei het om hul te vergryp aan die besondere ampte wat die Here hulle nie gun nie (1 Kon.12:31b; 1 Tim.2:11-15) ?

Ek weet nie of Buchan selfs hierdie valse dualisme handhaaf nie, nl dat die vrou kan maar die ‘broek dra’ in die kerk (in die besondere ampte staan), maar net nie in die huwelik en gesin nie.  Ek hoop regtig nie so nie, want dan val sy hele bediening in mekaar wat sy hoofboodskap betref, nl. dat mans opnuut hul roeping as mans in Christus sal herontdek en hul vrouens en gesinne in die waarheid van die Woord sal lei.

Daarom kom die vraag op, waar is die vrugte van die herlewing van die duisende manne wat deur al die jare die MMC bygewoon het, spesifiek wat ‘kerklike herlewing en reformasie’ betref ?

Want, een konferensie in ‘n jaar of lewe kan glad nie opmaak vir die weeklikse erediens, broederskap en gemeenskap van die heiliges wat nodig is vir elke Christenman (en vrou!) om die Here te dien soos Hy ons beveel nie.

Wat help dit ‘n man het oor ‘n naweek die waarheid gehoor, maar nou sit hy vir die res van sy lewe in ‘n gemeente wat ‘n valse leer verkondig oor die rol van man en vrou, wat ewolusie goedpraat of akkomodeer (‘God het deur ewolusie geskep’), wat homoseksualisme goedpraat, waar godsdiensgelykheid bevorder word deur ‘n humanistiese menseregte kultuur onder invloed van die Wêreldraad van Kerke, waar die broederbonders die kerk regeer volgens die tydsgees, en nie in Christus deur sy Gees en Woord nie.

Hopelik sal hierdie vrug van ware herlewing/hervorming nog kom onder die manne van ons land ?

‘n Ware man bedink God se wet, sy Woord, dag en nag, hy is passievol oor die waarheid, oor Christus se eer, sy gesin, sy gemeente, hy lees bybelse teologie, want dit bepaal sy lewe en die lewe van sy geliefdes: Ps.1:2; 2 Tim.3:16,17

Hopelik is dit deel van die toekomstige boodskap van oom Angus, dat manne wat hul waarlik bekeer, terugkeer na Christus, terugkeer na die Bybel – saam met hul gesinne – daardie valse kerke sal verlaat wat ‘iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus nie’ (1 Tim.6:3), spesifiek nie instem met wat Jesus Christus ons deur Paulus leer dat die vrou nie oor die man mag regeer deur die besondere ampte nie (1 Tim.2:10-15).

Wanneer daar openlik getuig is, opgeroep is tot bekering terug na God se skeppingsorde in beide gesin en kerk, en ‘n kerk en sy leiers volhard in die feministiese dwaling en tydsgees wat tot vernietiging is van die bybelse gesin, kerk en samelewing en God se Naam onteer, dan kom daar ‘n tyd om meer gehoorsaam te wees aan God soos ons dit vind in Paulus se oproep aan die ware gelowiges en die ware kerk, hoe hartseer en gebroke dit ook al mag wees vir ons lewens:

“Ontrek jou aan sulke mense” (1 Tim.6:5c)

Dit is ware bekering, dit is ware deurgaande reformasie tot lof van God en heil van sy kerk orals, om weer gemeentes daar te stel wat God waarlik dien en aanbid in alles, en wat weer sy skeppingsorde en plan vir man en vrou, vir gesinne hoe langer hoe meer konsekwent begin handhaaf.

Ek het groot respek vir oom Angus, vir die feit dat hy op ‘n wêreldse stasie wat hom nie goedgesind is nie, openlik sy geloof bely het, aan God al die eer gee, nie skaam is om die Bybelse standpunt oor ‘kontroversiële’ sake te stel nie, hom nie skaam om Christus te bely voor mense nie. Ek voel my in baie gevalle baie nader aan die broer as baie in my eie kerkverband wat die geloof al meer kompromeer ter wille van die tydsgees.  Ook in my eie kerkverband blyk dit dat die aanslag en tyd gaan kom, waar die feministiese tydsgees ook amptelik gaan oorneem, en dan sal die getroue gelowiges hul moet verantwoord aan 1 Tim.6:3-5.

Ek dink ek sal met baie van Buchan se ervarings kan deel, omdat ekself ‘n stuk brandhout is, ‘n swak erdekruik is wat deur die Here se genade alleen gered is, en wat daagliks nog moet stry teen my eie bose sondes, die aanslae van die wêreld en die Satan se bose magte.

Maar oom Angus is reg, ons kort weer passie in ons kerke, en daardie passie kan nie daar wees sonder Jesus Christus nie.  Petrus en Johannes en die ander manne kon alleen ‘manlik’ wees, en die evangelie met vrymoedigheid verkondig en geen mens vrees nie, omdat ‘hulle metgeselle van Jesus’ was (Hand.4:13c) !

Saam met oom Angus is my passie ook dat ons mans weer gehoor sal gee aan ons Koning en Verlosser se oproep in Luk.9:23ev, en dit is nie maklik nie, sonder sy Gees en Woord kan ons dit nie doen nie, en ons het mekaar as broers in die geloof nodig.  Ons moet mekaar weer in die oë kyk, erken ons is swak en nietig, en kan alleen ‘manlik’ wees in Christus, want daarvoor is ons geskape en daarvoor word ons gered: om mans tot eer van God te wees !

Soos ‘n ander broer van my dit ook stel: ons is saam almal in die modder (die sonde en die gevolge daarvan, soos ons tye dit ook uitwys), en moet saam tot lof van God en deur Christus die goeie stryd stry.

Daartoe roep Paulus ons ook op, nie net persoonlik nie, nie net in ons huwelike en gesinne nie, maar ook (en veral) in die plaaslike kerk en gemeente van ons Here Jesus Christus:

1 Kor.16:13-14 “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk. Laat alles by julle in liefde geskied.”

Ware mans het Jesus lief.

Ware mans het hul vrouens en kinders lief.

Ware mans het hul gemeentes lief.

Here, help ons om waarlik ‘manlik’ te wees tot U eer !

__________________

Sien ook hierdie artikels:

Die belangrikste vraag wat al ooit gevra is

‘n Dopper omkeerstrategie – ‘n bekeringstrategie

Die gewone middele manier van groei

One thought on “Angus Buchan: toe en nou ?

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: