‘n Dopper ‘omkeerstrategie’ – ‘n Bekeringstrategie

 

Tydens die GKSA sinode 2012 is ‘n beskrywingspunt (25.4 bl.767) aanvaar van die streeksinode Vrystaat – Kwazulu Natal aangaande ‘n ‘omkeerstrategie’ vir ons kerke (kan afgelaai word by Agenda op www.gksa.co.za)

Hierdie omkeerstrategie het ook ‘n wesentlike rol gespeel in die aanvaarding van die VIDA-ordevoorstel:

“2.2 Die Here het die Algemene Sinode gelei om die missionêre roeping van die Kerke op die voorgrond te stel. Die Sinode het besluit  om ‘n Omkeerstrategie vir die GKSA uit te werk om hierdie roeping na te kom. Indien daar tydens hierdie Sinode uitspraak gegee word oor die beswaarskrifte, gaan die verskillende standpunte nog nie opgeklaar wees nie.Inteendeel, dit kan die fokus van ons kerke eerder op die onderlinge verskille plaas.En daardeur kan die heerlike positiewe en eenparige gesindheid by kerke jeens die besluit oor ons roeping gedemp word. …

 3.4 Die Sinode doen ‘n ernstige beroep op kerke om in hierdie tyd, totdat die beswaarskrifte afgehandel is:

3.4.1 die verskeidenheid in gebruike in ons kerke met liefde en begrip teenoor mekaar te hanteer in die gees van Rom 14.

3.4.2  nie ander gebruike in te voer, wat verskil van dit waarin kerke met mekaar ooreengekom het of wat tans in kerke in gebruik is nie.

Hierdie oproepe word spesifiek gemaak om kerke in hierdie tyd te help om op die Omkeerstrategie en ons missionêre roeping te fokus en nie deur verskille tot strydvrae verlei te word nie.”

In wese kom die omkeerstrategie daarop neer dat ons almal bekommerd is oor die dalende getalle in die GKSA, die morele verval, en die gebrek aan evangelisasie en missionêre ywer (en dit geld ook vir ons ‘susterskerke’, ons stiefsuster, die APK ingesluit).   Die volgende aanbevelings is gedoen deur die beskrywingspunt en is aanvaar:

“4. Aanbeveling

4.1 Dat ʼn omkeerstrategie in die GKSA uitgewerk, beplan en gevolg word om die dalende tendens in lidmaatgetalle in die GKSA en ander kerke in Suidelike Afrika om te draai, sodat die kerk van ons Here in Suidelike Afrika kan groei en Sy koninkryk so uitgebou kan word.

4.2 In antwoord op Christus se opdrag tot die uitdra van die evangelie, en op dit wat Hy Sy kerk geroep het om te doen en te wees, word elke gemeente en meerdere vergadering van die GKSA opgeroep om afsonderlik en gesamentlik te beplan om kerke te wees wat God verheerlik deur mense te begelei tot geloofsvolwassenheid, sodat gelowiges saam verantwoordelikheid kan neem om mense en gemeenskappe onder die gesag van Christus te bring.

4.3 Dat in afhanklikheid van God in elke gemeente en kerklike vergadering van die Here gesmeek word dat ons as gelowiges onder leiding van Sy Gees, sal soek om ons Verlosser te behaag in alles wat ons doen, ʼn godvrugte lewe sal leef, en gevul sal wees met ʼn biddende en opofferende deernis vir diegene in die hele wêreld wat verlore is.

4.4 Dat elke plaaslike kerke opgeroep word om getallegewys uit te brei, hul lidmate toe te rus en te versorg, en die moeder-kerke te word van soveel as moontlik geloofsgroepe en gemeentes, asook om deur inisiatiewe en samewerking in te dring met die evangelie in strukture van die samelewing wat buite die bereik van die plaaslike kerk is.

4.5 Dat die GKSA haar ten doel stel om die aantal goed opgeleide persone (georden, nie georden, voltyds, deeltyds, vrywillig) te vermenigvuldig, wat die evangelie kan uitdra op ‘n liefdevolle, toegewyde wyse op elke moontlike lewensterrein.

4.6 Dat die lewenswyse van die GKSA (insluitende ons kerk etos, gewoontes, Kerkorde, die gebruik van hulpbronne, kerklike Deputaatskappe, ondersteuningspersoneel ens.) voortdurend hervorm word, om aan die opdrag van ons Here aan ons as die kerk te kan voldoen.”

In die beskrywingspunt se inhoud word ook die volgende oproep gemaak:

“Dit bring vir ons nog ‘n uitdaging, naamlik om kreatief en innoverend te wees. Groei en gepaardgaande verandering is nie iets opsioneel in die lewe van ʼn gelowige of in enige gemeente nie. Nuwe benaderings om die ou waarhede in ooreenstemming met wat God in Sy Woord sê, in die lewe van mense en kerke in te dra, behoort op ʼn verantwoordelike manier daargestel te word. Die GKSA moet bekend wees as ʼn kerk wat ‘n katalisator is vir Bybelse verandering.”

Aangesien ekself – en ek glo elke ware dopper gelowige – ‘verandering’ van harte ondersteun, wil ek in my eenvoud gehoor gee aan hierdie belangrike oproep, en is tans besig om te werk aan ‘n omkeringstrategie, wat ek noem:

Die Bekeringstrategie vir die kerke van ons Here Jesus Christus in Suid-Afrika volgens die Pastorale Briewe van die Apostel Paulus

Enige een is welkom om my hiermee te help, insette te gee, ens.  Meer as welkom.  Ek glo dit is elke gelowige, kerkraad en gemeente se taak, nie net ‘n sekere groep wat dit moet doen nie.

Sodra ek dit klaar voltooi het, sal ek dit beskikbaar stel.

My hoop is dat my kerkraad en gemeente dit ook sal aanvaar sodat ons daadwerklik tot eer van die Here en die heil van sy kerke die bekeringstrategie kan begin uitleef in ons persoonlike lewens, gesinslewens, gemeentelewens, gemeenskaplewens, ens.  Dit kan egter groot opofferings vra, veral in vandag se kerke en wêreld wat die “gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim.3:5).  Sou kerkrade en gemeentes dit nie aanvaar nie, kan dit beteken dat daar nuwe gemeentes moet ontstaan, as die Here wil.

En alles, ons hele omkeer/bekeringstrategie begin met twee Skrifgedeeltes wat ek en u biddend moet oorweeg:

1. Redding

15 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. – 1 Tim.1:15

2. Heiligmaking

5 Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid. – 1 Tim.3:15

Die bekeringstrategie moet vanselfsprekend gegrond wees in die Heilige Skrif en gereformeerde belydenis, en die volgende belangrike sake moet ook huidiglik aandag kry:

a. die kerk moet gesubsidieer word deur die tiendes, nie die staat, wêreld of allerlei projekte nie.

b. aanvaarding van ‘n betroubare vertaling, OAV.

c. sing van die Psalms alleen

d. slegs die NT Sabbat, die Sondag as feesdag

e. godsvresende manlike leierskap en vroue wat weer die roeping van moederskap najaag, insluitende die herstel van die huisaltaar.

f. ons kinders tuis of deur gereformeerde privaatskole te onderrig.

g. roeping om die evangelie orals te verkondig in leer en lewe, met ‘n passie.

Maar, voor die omkeer/bekering kan plaasvind, moet ons eers weet wat ons ons van moet bekeer en omkeer, wat die struikelblokke is en hoekom ons gemeentes so verdeeld is.  Volgende keer meer daaroor, maar bid en besin solank oor Luk.11:17, waaroor ek preek komende Sondag, DV:

“Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en ‘n huis wat teen homself is, val.” – Jesus Christus

19 thoughts on “‘n Dopper ‘omkeerstrategie’ – ‘n Bekeringstrategie

Add yours

  1. Ek stem saam. Omkeer is reformeer. Maar oppas dat die beskrywingspunt die onaard in ‘n gejaag na getalle nie. Dit moet wees die suiwere verkondiging van die WOORD. Ons moet die saad saai en die KONING sal die wasdom gee.

  2. Inderdaad, Dominee.
    Die land is vol en reg om ge-oes te word. Maar die werkers ?. Is ons almal nie lou,lusteloos en sonder ywer nie?.
    Dat daar ‘n omkeerstrategie moet wees is reg.
    As die omkeerstrategie nie eers in elke Lidmaat se hart plaasvind nie, gaan daar geen omkeer wees nie.
    Laat ons almal dus biddend, in die besef van ons groot afhanklikheid, vra vir leiding, geloofsvertroue, geloofsdeursettingsvermoe om elke dag meer en meer te word soos wat ons graag wil wees. Opreg, dienende Gelowiges.

  3. Ek stem heelhartig saam!
    As die Woord suiwer bedien word, en die GKSA meer op die voorgrond tree, veral met geleenthede soos radiodienste en radio oordenkings van suiwer Woord oor veral die knelpunte in ons tyd, hoef mens nie getalle na te jaag nie. God sal self die oes gee.

    Slabbert, met die evaluering van die suiwer vertaling van die Woord bied ek myself aan. Kyk gerus na wat ek reeds op my blog het. Oor van Bruggen sal ek jou eerder in ‘n privaat e-pos antwoord voor ek dit sommer op jou blog plaas. Watter e-adres kan ek gebruik?
    Seën, Herman.

  4. Herman, jy is meer as welkom om die bespreking van Van Bruggen hier te plaas, sodat meer dit kan deel. As jy nie wil nie, klik op my naam bo op die prentjie, daar is al my besonderhede.

    1. Slabbert, ek vra verskoning vir hierdie lang plasing. Dit moet eintlik saam met Van Bruggen se dissertasie gelees word.
      Van Bruggen, “The Ancient Text of the New Testament”
      Van Bruggen se dissertasie kom op die volgende punte neer:
      1. The last certainty of New Testament textual criticism
      Sedert 1881 maak meeste moderne vertalings van die Nuwe Testament nie meer gebruik van die Textus Receptus (TR) nie. Die TR is op the Bisantynse of Kerkteks gebaseer wat deur Die Griekse Kerk reeds vir 1000 jaar gebruik word. Die TR het ook gedien as bronteks vir die meeste vertalings van ons reformatoriese vaders soos die KJV, die Lutherse Vertaling en die Hollandse Staten Vertaling. Vanaf 1966 gebruik vertalers meestal die Griekse NT teks van die UBS waar vyf moderne tekskritici (Aland, Black, Martini, Metzger en Wikgren) deur meerderheid stem besluit het watter variasie van die teks as gesaghebbend aanvaar moet word. (…per reading a decision is made on the basis of a complicated structure of considerations.) Vir hulle is die enigste sekerheid dat die TR ‘n onbetroubare teks is.
      Die feite:
      Daar bestaan geen homogene Bisantynse teks nie. Verskeie weergawes is deur die Griekse Kerk op verskillende plekke en tye gebruik. Om so ‘n teks te druk, sal iemand ‘n keuse tussen die variasies moet maak. Selfs die Textus Receptus (TR) wat deur kerke van die Reformasie gebruik is, verskil op meer as 2000 plekke van die standaard Bisantynse teks. Die TR het ontstaan uit die eerste gedrukte Griekse teks wat Desiderius Erasmus in 1516 saamgestel het uit enkele Griekse manuskripte wat hy haastig in Basel kon vind. Hierdie teks was van die begin deur baie teoloë en kenners van die Griekse NT manuskripte as minderwaardig afgewys en Universiteite soos o.a. Cambridge en Oxford het hul studente verbied het om die teks van Erasmus te gebruik! Talle foute en tekortkominge is deurlopend uitgewys, en nie eers sedert die agtiende eeu geopper nie! Die Erasmus-teks se populariteit en invloed kan toegeskryf word aan die feit dat daar geen praktiese alternatief was nie. Die eerste twee uitgawes het meer as 3300 eksemplare binne drie jaar in die mark geplaas. Erasmus het ‘n verdere drie uitgawes gepubliseer, met talle veranderings in elke nuwe uitgawe. Daar is ook sowat dertig ongemagtigde uitgawes deur ander drukkers versprei! Hierdie teks se posisie en invloed was nie vanweë sy korrektheid nie, maar vanweë sy beskikbaarheid. Vandaar die latere naam Textus Receptus, die “teks wat ontvang is.”
      Ek vertrou eerder die deeglik oorwoë mening van vyf toegewyde kenners, wat meer as 5600 Griekse manuskripte en 19000 manuskripte van antieke vertalings asook duisende aanhalings van Kerkvaders in ag neem, as die lukraak keuse van een man wat haastig geld wou maak!
      Ek het kortliks Erasmus se teks bespreek by: http://bybelverskille.wordpress.com/2011/05/27/22-die-eerste-gedrukte-griekse-nt/

      2. The value of the number of manuscripts
      Van Bruggen betwyfel die algemeen aanvaarde vermoede dat Lucianus van Antiochië (±310 n.C.) ‘n hersiening van die Septuagint asook die NT tekste onderneem het. Verder betwyfel hy dat sodanige hersiening ten grondslag lê van die Bisantynse tekstipe. Dit is natuurlik moeilik om iets sonder direkte gegewens na die een of die ander kant toe te bewys. Hiëronimus (345-420) verwys na tekste van Lucianus wat daar bekend was, en op ander plekke verwys hy weer met groot afkeur na die Lucianus-tekste. Dat bepaalde NT tekste wel aan Lucianus toegeskryf is, kan nie betwyfel word nie.
      Van Bruggen beskou die Bisantynse tekstradisie eerder as die gelyktydige terugkeer in verskeie sentrums in die negende eeu na die oudste en mees geloofwaardige oorspronklike teks. Hiervoor is daar geen ondersteuning of bewyse nie.
      Wanneer ‘n bepaalde teks binne ‘n geloofsgemeenskap ingeburger is, word enige verandering of aanpassing in die teks met sterk weerstand teengestaan. Dit maak die voorstel van van Bruggen redelik onwaarskynlik. Dit is meer logies dat ‘n geleidelike aanpassing van die teks deur die eeue se kopieer van ‘n teks met sy foute en veranderinge tot die tekstipe aanleiding gegee het.
      Die groot getalle manuskripte van die Bisantynse tekstipe is ‘n logiese uitvloeisel van die gebruik en kopieer vir Gemeentelik gebruik binne die Griekse Kerk. Konstantyn die Grote het byvoorbeeld teen ongeveer 331 n.C. ‘n bestelling by Eusebius van Caesarea geplaas vir “vyftig perkament kodekse van hoë gehalte” vir sy nuutgestigte kerke. Die moontlikheid dat kopië van die hersiening van Lucianus van skaars twintig jaar vroeër as brontekste gebruik was, kan nie uitgesluit word nie.
      3. The age of the Byzantine type
      Van Bruggen maak ‘n baie belangrike stelling dat die ouderdom van die manuskrip self, nie noodwendig die ouderdom van die teks verteenwoordig wat daarin vervat is nie. Dit het twee belangrike implikasies vir die beoordeling van variasies. 1) ‘n Manuskrip uit die sestiende eeu kan moontlik ‘n baie ou teks verteenwoordig, maar meestal verteenwoordig dit ‘n meer resente teks, veral wanneer dit met die grootste groep manuskripte uit daardie tyd ooreenstem. Daar is manuskripte soos MS.33 wat ‘n teks verteenwoordig wat duidelik uit die derde eeu dateer. 2) Aan die ander kant bevat kodeks Sinaïtikus (±350 n.C.) ‘n teks uit sy tyd of ouer, en Papirus 46 (±200 n.C.) ‘n teks wat nie meer as 150 jaar van die oorspronklike outografie verwyder is nie.
      Daar is ‘n gebrek aan geskrifte van Kerkvaders uit Antiochië en die Siriese gebied wat in aanhalings die vroeë bestaan van die Bisantynse tekstipe bevestig. Dit beteken nie dat op grond van hierdie afwesigheid, die Bisantynse teks juis voorkeur moet verkry bo die ander drie tekstipes waarvan daar wel bewyse bestaan nie. Vir van Bruggen se beeld van die ruïnes van ‘n gebou moet daar darem ‘n ruïne bestaan. Die afwesigheid van ‘n ruïne is beslis nie ‘n bewys dat daar wel ‘n gebou bestaan het nie!
      1. Dit is wel so dat die oudste manuskripte in Egipte bewaar is, maar die keuse vban ‘n variant berus nie net daarop nie. Ek het hierdie saak met Dr. Daniel Wallis van die Center for the Study of New Testament Manuscripts opgeneem. Hy sê: “Van Bruggen’s argument about the papyri is not valid, as I have shown elsewhere (see several of my essays on the majority text theory posted at bible.org). Although of course all our NT papyri have been found in Egypt, they are not all of the Alexandrian text-form. The Western is represented as well, and probably even the Caesarean. Remarkably, the Caesarean text-form’s existence has been disputed for more than half a century, yet if it exists P45 would seem to be a representative of it. Van Bruggen has used a bait and switch argument: because papyri are found in Egypt, they must therefore be of the Egyptian text-type. Where MSS are found does not necessarily correlate with their text-forms, as 1739, 33, B, W, etc. would attest. What I find remarkable is that ALL text-forms EXCEPT the Byzantine have been found in the early papyri. Yet if the Byzantine text-form was the dominant text from the first century on, how could this be?”
      Afgesien van die manuskripbewyse word ander sake soos die tipiese manier waarop kopieerders te werk gegaan het, ook deur huidige tekskenners en vertalers in ag geneem. Ook die intrinsieke gegewens word ook oorweeg. Ek het ‘n paar gevalle op my blog hanteer, o.a. of Jesus vas as ‘n voorvereiste vir die uitdryf van duiwels gestel het. (http://bybelverskille.wordpress.com/2011/09/01/39-gebed-en-vas-markus-929/)
      2. Die bewering dat AL die antieke Bisantynse brontekste vernietig is sodra ‘n afskrif gemaak is, is ongeloofwaardig! Perkament was ‘n baie duur maar ook duursame materiaal. Manuskripte wat in onbruik geraak het, is skoongewas en hergebruik deur ‘n ander geskrif daaroor te skrywe, of dit is in die bind van kodekse gebruik. Met bepaalde chemikalië behandel, kan die oorspronklike dokument onder ultrafioletlig ontsyfer word, ‘n palimpses genoem. Daar is 52 palimpsesse bekend, maar nie een verteenwoordig hierdie misterieuse “oorspronklike” Bisantynse bronteks nie. Waarom sou ook net die Bisantynse brontekste vernietig wees en nie die ander tekstipes nie? Daar is geen breuk in die bewoording van die Bisantynse tekste tussen die majuskel en minuskel tydperk aan te dui nie, slegs ‘n geleidelike voortgang. Dit is ook nie waar dat die majuskel manuskripte van die ander tekstipes die enigste is wat oorgebly het nie. Sien ‘n bespreking van bv. die Aleksandrynse tekstipe by: http://bybelverskille.wordpress.com/2011/09/26/23-1-aleksandrynse-tekstipe/
      3. Die redinasie wat van Bruggen gebruik om die ander tekstipes te diskrediteer, nl. dat hulle uit Egipte kom, is juis die redinasie wat hy gebruik om die Bisantynse teks aan te prys!
      Van Bruggen sluit met ‘n belangrike punt. Baie goeie manuskripte is vernietig, valse leraars het in die tweede eeu met tekste gepeuter, en kopieerders het tekste verander en aanpassings gemaak. Maar dit is op alle tekstipes van toepassing en kan sekerlik nie dien as bewys dat die Bisantynse teks “suiwerder” as die ander deur die proses gekom het nie! Dis seker net van Bruggen wat kan verstaan dat “…the history of text-corruption and text-preservation plead in favour of the antiquity of the so-called Byzantine text-type;…”

      4. The nature of the Byzantine type
      Wanneer enige saak beoordeel moet word, moet voorbeelde aangehaal word. Wat in die een die uitsondering is, is in die ander die reël. Dit is wat die karakter van ‘n tekstipe bepaal. Dat enkele voorbeelde van harmoniëring in bv. die Vatikanus aangedui kan word, kanselleer nie die feit dat dit ‘n algemene kenmerk in die Bisantynse Tekstipe is nie. Dieselfde geld uitbreiding van die teks of byvoeging van verwagte sinsnedes. Dit is wanneer mens verval in die sinlose geredekawel of Nasarener “Nazarenos” of “Nazooraios” geskryf moet word.
      Dit is interessant dat van Bruggen self meld dat 1Joh.5:7-8 (soos in die OAV), nie deel is van die Bisantynse teks nie. Handelinge 9:5b-6a is ook aangepas om met die Vulgaat ooreen te stem. Wie sal bereid wees om hul OAV dienooreenkomstig terug na die oorspronklike te korregeer en daardie dele te skrap?
      Hierdie redenasies om die een teks teen die ander af te speel het egter nie vir my deurslaggewende waarde nie. Elke variasie behoort met verantwoordelikheid bestudeer te word en al die feite moet objektief beoordeel word.

      5. Rehabilitation of the ancient text
      Dat die Griekse Kerk vir eeue die Bisantynse Teks gebruik het, bewys nie dat dit korrek of sonder foute is nie.As ‘n monnik in ‘n klooster ‘n opdrag ontvang het om ‘n nuwe manuskrip te maak, het hy die een wat in sy klooster gebruik was, gedupliseer. Watter moontlikheid het hy gehad om dit selfs met net drie ander manuskripte te vergelyk, een uit Afrika, een uit Rome en een uit Frankryk. En selfs al kon hy daarheen reis, waarvolgens sou hy kon bepaal watter bewoording die beste moontlikheid sou hê om die oorspronklike outografie te verteenwoordig.
      Dit is juis die koms van die gedrukte Griekse teks wat sinvolle teksvergelyking en tekskritiek moontlik gemaak het. Meteens was èèn spesifieke teks goedkoop en wêreldwyd beskikbaar om jou eie teks mee te vergelyk.
      Lees gerus die fassinerende geskiedenis van die ontstaan en ontwikkeling van teksvergelyking, teksevaluering en tekskritiek in Metzger se boek “The Text of the New Testament”. Om enige manuskrip of enige tekstipe tot die enigste ware teks te verhef, is nie wetenskaplik of teologies verantwoordbaar nie.
      Van Bruggen verwys na die verdedigers van die Bisantynse teks Nolan, Reiche, Scrivener, Burgon, Birks en Miller. Ek is nie met almal se werk bekend nie, maar hulle metodes stem moontlik ooreen met dié van Burgon wat ek kortliks bespreek:
      Met die gebruik van die Bybel, word ‘n bepaalde Teologiese beginsel of dogma vasgestel. Neem as voorbeeld die Drie-Eenheid waarin 1Joh.5:7-8 ‘n belangrike rol speel.
      Wanneer die nuwer vertalings afwyk van die King James Version om dit in ooreenstemming te bring met die oudste en beste manuskripte (ook die Bisantynse teks), sien Burgon dit as ‘n aanslag op die leer van die Drie-Eenheid self en daarom van die bose en uit die hel gedrewe! Gevolglik sien hy die vertalers boos en nie onder die leiding van die Heilige Gees nie. Hierdie verse in uitgebreide vorm kom slegs in èèn Griekse manuskrip voor. Dit is in die tyd van Erasmus geskrywe en hy was self daarvan ooruig dat dit spesiaal so vir hom voorberei is! Dit tel vir Burgon niks. Die Drie-Eenheid van God word aangetas en daarom is die nuwe vertalings uit die hel! So gaan hy ook met alle ander veranderinge te werk!
      Die korrekte pad is eerder om die feite onder oë te sien. Hierdie teks is in ‘n manuskrip van die Latynse Vulgaat deur iemand aangepas om die leer van die Drie-Eenheid ‘n direkte Bybelse grond te gee. God het nie ons inmenging met die Woord wat Hy laat neerskryf het, nodig nie. Gevolglik verstaan ons òf die Drie-Eenheid verkeerd, òf die leer oor die Drie-Eenheid is gebaseer op baie meer as net hierdie “aangepaste” verse. En nou bestudeer ons die hele Bybel opnuut en sien! Van Gen1:1 loop die Drie-Eenheid soos ‘n goue draad regdeur tot in Openbaring! God het NIE ons inmenging, met watter goeie bedoelinge ookal, in sy Woord nodig NIE!
      Ek beplan om binne kort hierdie verse in 1Joh.5:7-8 op my blog te hanteer.
      Heel dikwels veroorsaak die inmenging met die oorspronklike teks ‘n klemverskuiwing waardeur kosbare insig verlore kan gaan. Ek het ‘n besondere voorbeeld behandel in die gesprek tussen Filippus en die Etiopiër by: http://bybelverskille.wordpress.com/lesers-vrae/handelinge-837/

      Slotwoord: Die pad wat ek voorstel.
      1. Aanvaar dat daar foute in alle manuskripte voorkom, ook die brontekste van die Textus Receptus en dat dit in vertalings oorgedra is. Van Bruggen wys self op Hand.9:5b-6a en 1Joh.5:7-8 wat ook in ons eie Ou Afrikaanse Bybel so foutiewelik oorgedra is.
      2. Geen manuskrip mag verabsoluteer word as die “enigste ware eksemplaar” van die woorde wat God laat opteken het nie.
      3. Gebruik die Griekse teks van die United Bible Societies waar al die verskillende variasies met al die bewyse deur die eeue heen in ‘n tekskritiese apparaat aangedui word. (Of enige ander teks met uitgebreide tekskritiese apparaat, soos dié van Nestle en Aland)
      4. Bestudeer met ‘n oop gemoed die variasies en probeer verstaan hoe dit kon ontstaan het. Daar is baie goeie kreteria om te volg. Dit behels veral die eksterne gegewens soos die manuskripte en hul ouderdom of familieverband. Verder ook die interne faktore soos hoe die kopieerder moontlik ‘n fout kon maak of sou optree as hy onseker sou wees oor twee verskillende lesings.
      5. Bestudeer die intrinsieke faktore wat ‘n rol kan speel. Dit behels tipiese kenmerke van die persoon aan die woord soos taalgebruik, voorliefde vir spesifieke woorde of sinonieme asook onderwerpe.
      6. Wat ek laastens doen is om regtig eerlik te kyk na die effek van die variasie binne die konteks van die perikoop of selfs die boek as geheel. Ek wys o.a. op ‘n swak vertaling in die 1983 NAV om die misbruik van ‘n teksvers deur die aanhangers van die wegraping te probeer voorkom.
      7. Laastens wil ek pleit vir die aanvaarding van die integriteit van ons Bybelvertalers. Iemand soos Wim Vergeer se integriteit rondom Bybelvertaling in die NLV staan absoluut bo verdenking en dwing die hoogste respek af!

      Totius en die ander vertalers het deeglik geweet dat hulle nie die beste bronteks gebruik nie, maar dit was ‘n berekende besluit omdat hulle gevrees het dat indien die Afrikaanse Bybel te ver van die Statevertaling afwyk, dit moontlik totaal verwerp sou word.

      Ek doen myself nie as ‘n kenner voor nie, maar ek soek die feite en niks meer of niks minder nie. Ek wil ook nie om die bos gelei word deur onlogiese redinasies of verdraaide feite nie. As daar iets op my blog (www.bybelverskille.wordpress.com ) is wat onduidelik of foutief is, wys my dit gerus uit en ek stel dit reg.

      Op die ou end gaan dit om die eer van God alleen.

      Herman.

  5. Die woord ‘omkeerstrategie” klink vir my kerkvreemd. ‘n Omkeerstrategie word gewoonlik gebruik om ‘n besigheid wat op bankrotskap afstuur, op ‘n meer winsgewende pad te bring. Dit klink vir my dus na ‘n besigheidsterm. Hoewel die woord oppervlakkig dieselfde betekenis mag hê as “bekering”, het die woord “bekering” ‘n ryk, gevestigde en skerp gedefiniëerde betekenis in die Bybel en in die kerk. “Bekering” is ‘n kerklike saak op ‘n kerklike kerklike wyse. “Omkeerstrategie” is ‘n besigheidsterm en kan die kerk in ‘n besigheidsrigting stuur waar net syfers tel en nie die hartsgesindheid nie. Om enige verwarring en misverstand oor die bedoeling met die woord “omkeerstrategie” te voorkom, wil ek voorstel dat ons voortaan net die woord “bekering” sal gebruik en nie “omkeerstrategie” nie.

  6. Oom Peet, stem saam met oom, ek is so bietjie sarkasties met die omkeer woord, en stem volkome vir die woord ‘bekering’, soos ons dit bely volgens die Skrifte in HK Sondag 33.

  7. Slabbert, die kerkvreemdtaal ding pla nogal baie. Dit lyk duidelik of ‘bekering’ nie heeltemal die kerke se gedagte is nie, omdat ons in die belydenis HK So 33 oor ‘ware bekering’ nie ‘n mensgemaakte strategie bely nie, maar ‘n Gees gewerkte vernuwing om aan God gehoorsaam te wees en Hom te dien en eer in alle goeie werke. (My kinders het die goeie werke defenisie opgesom met die woord: WêWê! As die GKSA kan wêwê sê dan het ons goeie werke gedoen: In ‘n Ware geloof(W), tot Eer van God(ê), volgens sy Wet (W) en nie Eie goeddunke (ê) nie!!!) Dit lyk vir my of hier van lg diskwalifikasie vir ‘n goeie werk dalk baie verwag kan word in die uitwerk van hierdie ‘omkeerstrategie’. Ek grond dit daarop dat die GKSA in hulle “kerklied” hantering (KO Art 69) op Sinode 2012 hulself bewys het as ‘n kerkverband wat eie-goeddunke nogal hoog aanprys.
    Mag die Here gee dat sy kerk wel altyd sal TERUGKEER na die WOORD! Dat ons ons immer sal bekeer tot gehoorsaamheid aan die Here in sy WOORD!
    Ek het onlangs baie versterking gekry uit Gary Gilley se behandeling van 2Tim – en ek dink ons ‘pastors’ het in hierdie tye 2Tim se bemoedigin van Paulus in ons kerkwees baie nodig. (Vid o.a. 2Tim2:13 – wat verwys na die ryke Evangelie met as inhoud CHRISTUS! in die voorafgaande verse).
    As jy Gilley se lesing nie het nie, sal ek jou dit per CD of derglike wyse aanstuur.
    Terloops, Gary Gilley is ook die skrywer van ‘This little Church went to market’!!! En ek wonder waar het die ‘ouens’ wat die ‘omkeerstrategie’ uitgedink het gaan ‘shopping’ doen???!!!!

  8. Faan, dankie vir jou bydrae. Hierdie sinode het – wetend en/of onwetend – met ‘n paar besluite (o.a. die omkeerstrategie, die Gesange, deel word van die Godsdiensraad, saam met ander gelowe ‘getuig’ by die owerheid, die aanvaarding van die ‘openbare getuienis oor die ekologiese krisis’, die ordevoorstel, ens., ens.), gedoen wat Jesus oor waarsku in Luk.11:24-26. … die volgende sinode gaan erger wees as hierdie een …

    Is Gary Gilley se lesings iewers op die web beskikbaar, anders moet jy dit vir my pos asb. Ek moet ook nog sy boeke lees.

  9. Dat die “sinode” hierdie kerkvreemde mensgerigte strategie-snert aanvaar het, is nog ‘n spyker in die kis van die “GKSA”. Die praatjies oor getalle klink baie meer soos mense wat in eie krag met allerlei dwaalkerke wil kompeteer, as wat dit klink na die selfvertroue dat God se seën en die vaste geloof oor die onderhouding van die ware kerk nooit in gedrang is nie (Nederlandse Geloofsbelydenis).

    Terloops, die getallekwessie is ons eie skuld, met die deelword oor baie jare van die afbreek van die skoonheid en onvergelyklike seën van groot gesinne, waarmee daar deesdae so maklik gespot word. Ironies né, die verband tussen ‘n houding wat die vrou in die amp wil hê, en dus afbreek aan die gesinsorde wat deur God daargestel is, met die gekerm dat ons meer getalle wil hê. Die modernisme is die oorsaak van leë kerkbanke, nie gebrek aan “missionêre roeping” en ander moderne twak nie. As ons maar die Woord in rustige suiwerheid aan ons eie kinders wil verkondig, en ‘n ingesteldheid terugbring wat sal sorg dat daar kinders is om dit aan te verkondig, het ons nie omkeerstrategieë nodig nie – ons sal net rustig reguit vorentoe stap.

    Die sogenaamde “omkeerstrategie” is oëverblindery en deel van die “fabels” (1 Tim 1:4) waarmee ons nie moet besig wees nie. Dit is seker die oudste triek in die boek (van politieke skelmstreke) om – wanneer jy nuwighede wil insleep – die woorde van die ou sentiment (bv “omkeer” skimp om met “hervorming”, “terugkeer”, “bekering” te skakel) te benut om mense op jou pad saam te sleep terwyl jy tyd koop om die nuwighede slu in te voer – die kerklik liberales het gesien dat die vrou in die amp nog nie heeltemaal gaan deurglip nie. Die verleentheid wat dit vir die University of Northwest te liberale vriendskappe sal verskaf, is net te groot. Dus moes daar tyd gekoop word vir dinge wat net mooi niks met kerksuiwerheid te doen het nie – inteendeel.

    Gee die duiwel wat hom toekom: nie net was Plan A gereed deur nie die VIDA-saak na links in net een beswaarskrif ens deur te gee nie en dus ‘n veelvuldige moontlikheid oop te hou vir deurdryf daarvan nie, maar ook Plan B, nadat die wind op die sinode gepeil is. Plan B is hierdie misleidende weerligafleierstrategie, wat briljant met die ordevoorstel gesinchroniseer is – en wat die kerk nou verlam.

    Die kerk kan nie gebind word nie! Die kerk is nie geboue, strukture of sinodes nie. Die kerk is mense wat in God glo. Ek vrees God, en stap dus weg van die “GKSA” as dit nie meer ‘n sinvolle verband is wat meerdere vergaderings daarstel wat die ware kerk, en slegs dit, bevorder nie. Ek is wel lidmaat van ‘n gereformeerde kerk wat duidelike besluite het oor Bybelvertaling wat gebruik word en hou by dit wat ons almal eintlik weet doodeenvoudig in ‘n gereformeerde kerk onderhou en gedoen word. Ons moet maar versigtig wees dat vredespraatjies en verdraagsaamheid nie naderhand daartoe lei dat “GKSA” ‘n doel opsigself word nie; iets wat ten koste van waarheid en ware daadkragtigheid nou in stand gehou word – vir wat? Verstaan my goed: ek bepleit vir geen oomblik “huiskerke” of sulke dinge nie – ons bely dat ons ons by die kerk moet voeg; maar dit gebeur ten eerste in die plaaslike kerk.

    Kerklike daadkragtigheid kom voort uit die instandhouding van die kenmerke van die ware kerk: suiwere Woordverkondiging en sakramentsonderhouding, en instandhouding van die tug. In laasgenoemde het die “sinode” nou besluit dis bietjie te veel moeite en inspanning om die Lindens, Kaapstadte, Wapadrande en ander opsetlike onordelikes tot orde te roep en voor die noodwendige keuse van nakoming van afspraak of uittrede te stel. As die “sinode”, m a w die “GKSA” nie die kenmerke van die ware kerk (Nederlandse Geloofsbelydenis) bevorder nie – nou ja, na wie moet ons nou luister?

    Ek bly by die ware kerk waar ons stoei om kinders se Bybelkennis op peil te kry, hulle te probeer oproep met lus en ywer om die Bybel te lees, om meer Bybelstudie en gemeentelike onderlinge gemeenskap aan die gang te kry – en het ongelukkig nie tyd vir “sinodale” speletjies nie.

    Leonard van der Dussen – 15 Januarie 2012

  10. Leonard, jy slaan die spyker op die kop met veral hierdie opmerking:

    “Kerklike daadkragtigheid kom voort uit die instandhouding van die kenmerke van die ware kerk: suiwere Woordverkondiging en sakramentsonderhouding, en instandhouding van die tug. In laasgenoemde het die “sinode” nou besluit dis bietjie te veel moeite en inspanning om die Lindens, Kaapstadte, Wapadrande en ander opsetlike onordelikes tot orde te roep en voor die noodwendige keuse van nakoming van afspraak of uittrede te stel. As die “sinode”, m a w die “GKSA” nie die kenmerke van die ware kerk (Nederlandse Geloofsbelydenis) bevorder nie – nou ja, na wie moet ons nou luister?”

    Dit is juis die punt wat ek gemaak het teenoor een van ons behoudende predikante wat die ‘ordevoorstel’ ondersteun het. Ons het vir 30 jaar die saak bestudeer, ons het ‘n spesiale GTV konferensie oor die onderwerp gehou, ons het ‘n verlengende sinode oor die saak gehad (Jun/Jul 2009) en toe het ons besluit (hoe krom en skeef ookal) dat vroue nie predikante en ouderlinge kon word nie. Daar het ons aan die einde van die saak gekom, en kerke moes daarby berus of die kerkverband verlaat sodat ons almal kon voortgaan met ons roeping en take.

    Maar, toe begin ‘n paar gemeentes buite orde optree, en in plaas van die 3de kenmerk van ware kerke wat toegepas word, word hul al drie op verskeie maniere beskerm en ge-akkomodeer vir drie jaar, en nou met die ordevoorstel vir ‘n verdere 3 jaar.

    Intussen word ‘n gemeente soos ons wat ‘n pad met Linden gestap de facto uit die kerkregering gedwing, ten minste op streeksinode en algemene sinode vlak, omdat ons nie teen die Skrif, belydenis en kerkorde mag en wil optree nie.

    Hoe ironies, die wat ordelik optree word vermaan om ‘ordelik’ op te tree, en hulle wat onordelik optree word binne die orde beskerm en bewaar.

    NGB art.29 is onder groot druk, as dit IN DIE PRAKTYK nie reeds deur ons kerkverband oortree word nie.

    Ek begin al meer myself die vraag afvra of baie wat vir die ordevoorstel gestem het, wel werklik oortuig is vanuit die Skrif dat VIDA verkeerd is, en of hul bloot uit tradisie daarteen is ?

  11. Ek plaas Neels Malan se bydrae op die gksaforum ook hier met sy toestemming:

    Geagte Gespreksgenote

    Ek het via Pro Regno die besluit van die gemeentes in Alg Sinode se besluit in hierdie verband gelees.

    Soos ek die besluit verstaan, moet ons as Gereformeerde gelowiges binne die GKSA fokus op Mattheüs 28:18v, en nie toelaat dat ons fokus verdof weens binnegevegte oor bv VIDA nie, want anders gaan ons getalle bly daal totdat ons verdwyn.

    Ek wens dit was so eenvoudig.

    Ek wens dit was so eenvoudig om eenheid te soek (kom ons fokus almal op ons missionêre roeping) sonder om die waarheid van die evangelie (kom ons kry helderheid oor die invloed van Rudolph Bultmann en sy evangelie- verwoestende Skrifbeskouing via Eugene Nida en die 1983 Vertaling) skade aan te doen.

    Ons missionêre roeping, dws ons roeping kragtens Mattheüs 28:18v dui immers op ons roeping om drie dinge te doen:

    Om (gaande: Aoristus deelwoord) dissipels te maak van al die nasies;

    Om (gaande) hulle te doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (hulle te lei tot geloof en belydenis van Christus);

    Om (gaande) hulle te leer om alles te onderhou wat Christus ons beveel het.

    · Vir my het die VIDA kwessie met ‘n hermeneutiese krisis te doen, dws ‘n Skrifbeskouingskrisis. Ons moet kies tussen die Skrifbeskouing van Bultmann (die Bybel is ‘n feilbare menslike weergawe van God se Woord) of die Skrifbeskouing van die NGB art 2-7 (die Bybel is God se Woord, soos betroubaar bewaar in die Meerderheidstekste).

    · Ook hang die VIDA kwessie met die tot op datum onaangespreekte onSkriftuurlike diensbeskouing wat die vrou enersyds feministies benader en andersyds beledig asof sy ‘n man is.

    Wat ek bedoel, is dat die VIDA vraag saamhang met die vraag: Wie is die vrou, dws ‘n Bybelse vroubeskouing.

    a. Die vrou is volgens God se Woord volkome mens. Mbt haar menslike status is sy aan die man volkome gelyk, en as gelowige ook mede-erfgenaam van die ewige lewe (vgl 1 Pet 3:7).

    b. Die vrou is volgens God se Woord nie die man nie. Om haar vrou-wees te vermanlik is om teen God te sondig, wat haar met Goddelike liefde en wysheid as hulp vir die man en uniek geskape het (Gen 2).

    Wat ek verder bedoel, is dat die VIDA vraag ook saamhang met die vraag: Wat is die diens, (amp) dws saamhang met ‘n Bybelse diensbeskouing.

    c. Daar is die diens van die gelowige. Elke gelowige is ‘n profeet, ‘n priester en ‘n koning, met ‘n unieke, bepaalde profetiese, priesterlike en koninklike salwing, dws toerusting deur die Heilige Gees vir sy (haar) roeping of bediening of dienswerk (diakonia). Die Heilige Gees skenk deur sy salwing profetiese, priesterlike of koninklike gawes aan elke gelowige in unieke (enkapties vervlegte) kombinasies. Iemand se roeping of bediening (diakonia) moet onderskei word van iemand se gawes, in dié sin dat ‘n gelowige se bediening die eenheid in sy (haar) persoon is van sy gawes (charismata, donata).

    d. Dan is daar die sgn besondere dienste van ouderling en diaken. By die ouderling kry ons profetiese gawes (‘leer-ouderling’) en koninklike gawes (‘regeer-ouderling’). By die diaken kry ons priesterlike gawes. Let daarop dat die besondere diens van bv ‘n ouderling nooit losgemaak kan word van sy persoon as gelowige nie. Daar is nie nog ‘n ouderling soos hy nie.

    e. Die gelowige vrou kan, volgens duidelike Bybelse getuienis, nie in die besondere dienste staan nie, want sy is tweede-geskapene en ‘eerste-gesondigde’ (my uitdrukking), vgl 1 Tim 2:9v.

    f. Daar is m.i. geen beswaar dat ‘n gelowige vrou die Woord van God in die gemeente verkondig nie, mits sy dit tot eer van God en tot stigting van die gemeente doen.

    g. Maar sy mag nie regeer nie – nie as ouderling nie, en ook nie as diaken nie.

    h. Dit impliseer dat sy, as sy bv die Woord sou bedien in die erediens, nie deel mag wees van die besluit om haar toe te laat om die Woord te bedien in die erediens nie (of om haar te verhinder om die Woord in die erediens te bedien nie). Dit is die roeping van die (manlike) ouderlinge of opsieners om oor haar, soos oor enige ander verkondiger van God se Woord, toesig te hou. As die gelowige vrou bid of profeteer, moet sy egter ‘n teken van gesag op haar kop hê, om haar te onderskei van vroue wat hulle roeping as vroue misverstaan.

    i. Eweneens mag en moet die gelowige vrou met priesterlike gawes ten nouste saamwerk met die diakens, deur bv hulle vergaderings by te woon, en unieke deel te vorm van die besinning en bespreking en onderlinge liefdesdiens in die gemeente … mits dit tot eer van God en stigting van die gemeente, net soos die geval by die manlike diakens, plaasvind.

    j. Die diakens is ontman deur die ouderlinge wat die diakens se diens ingedring het, en saam met die diakens oor die tydelike sake van die gemeente wil regeer – vgl die praktyk van ‘breë’ kerkraadsvergaderings. Om die gelowige vrou in hierdie ontmande diens te wil indruk, is ‘n dubbele belediging. Diakens, en nie ouderlinge nie, is deur die Heilige Gees gesalf om te besin en te besluit oor alle tydelike sake, insluitende alle finansiële sake. Dit is deel van die VIDA-skande (impotensie van jare se beraadslaag, dreigende kerkskeuring, invoering van feminisme, handhawing van klerikalisme) dat die diakendiens steeds verdoem bly tot wat dit is.

    Ek vat saam:

    Ek is dankbaar dat die gelowige vroue die dubbele belediging gespaar gebly het om in die diens van ouderling (leer en regeer) ingedruk te word deur die gemeentes in Algemene Sinode, 2012.

    Ek stem egter nie saam dat die ‘gaande een’ (poreuthentes) dws maak dissipels van al die nasies en die ‘gaande twee’ (dopende hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees) afgespeel word teen die ‘gaande drie’ (lerende hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het – maw, om die inhoud van die evangelie veilig te bewaar).

    Gaande moet ons dissipels maak; gaande moet ons doop; gaande moet ons leer.

    Ons kan nie ons fokus op die ‘nasies’ hou, en ons fokus op die leeropdrag van ons Here Jesus verdof nie. Tegelyk, en onverswak, moet ons die VIDA-saak (wat ‘n dodelike hermeneutiese krisis is) bly aanspreek.

    Of met watter evangelie wil ons na die nasies gaan? Bultmann s’n?

    Neels M

  12. Beste Herman, dankie vir jou moeites met jou skrywes. Ek beskou my ook glad nie as ‘n kenner op die gebied nie en leer graag. Daar is egter ‘n paar veronderstellings oor die hele onderwerp wat pla, veral oor die voorsienigheid van God soos bely in WCF 1.8

    Ek wil net noem dat ek darem nie heeltemal onkundig is oor die onderwerp nie, en wel by prof. Jorrie Jordaan (TSP, en as ek reg onthou, het hy onder Metzger gestudeer) die onderwerp van Tekskritiek bestudeer, en ek onthou een van my heel laaste vrae aan hom was: hoekom word die UBS Griekse teks gebruik vir al die nuwe vertalings en nie bv die Meerderheidsteks of die TR nie. Sy antwoord was: bloot omdat die UBS teks die aanvaarde gebruikte gesubsidieerde teks is vir vandag (dus dit het die TR van die dag geword!), en nie omdat dit noodwendig beter of betroubaarder is as die TR of die MT (Meerderheidsteks) nie.

    Ek bly nog by my voorstel, om die MT te gebruik en dan bloot in die voetnotas die verskille aan te dui wat enige ander tekste het, sonder om enige waarde uitsprake daaroor te maak. Dit is wat die NKJV doen en myns insiens die mees eerbare eerlike weg.

    Herman, my standpunt word in die volgende artikel saamgevat, ek dink jy sal die artikel ook leersaam vind vir jou belangstellingsveld:

    Oorspronklike manuskripte, die Meerderheidsteks en vertalings, dr. W.G. Crampton

    Hier beskikbaar:

    Click to access pr-2009-07-22-nr-6.pdf

    Groete, S.

  13. BAIE goed gestel Dss Leonard en Slabbert. dit is die gevoel van baie behoudende/ouer kerkgangers.die sinode is nie meer n sinode soos dit KO gereel en deur die Waarheid onderskryf behoort te word nie.die sinode is besig om vele te manupuleer en met oe verblindery te mislei deur allerande stories te fabriseer en te pleit vir verdraagsaamheid ,”liefde”,nie-veroordeeling,”eenheid” en ander taktiek.die eeningste waarheid is die Woord en dit word ook nou onder verdenking geplaas deur beweringe van watter vertaling en grondteks nou eindelik reg is en aanvaar moet word.die openlike verklaring word ook maar net uit tradiese gebruik en dien geen doel meer nie want hoe verklaar dit alles wat gebeur dat ons nog een in dien,leer en tug is, as dit nie werklik so is nie-skyn eenheid is onaanvaarbaar. die indrukke is dat geld en getalle n groot rol speel in die chaos.
    reformeer na die enigste Waarheid toe is al wat tel en behoort te gebeur!

  14. Goeie dag
    Ek werk tans in Duitsland en het vir my tydperk hier by SERK aangesluit. (www.serk-heidelberg.de).
    Jy kan gerus ‘n link op die webblad sit en enige gereformeerde is welkom om eredienste by te woon as hulle in die omgewing is.
    Groete
    Hillegert Wilcocks

  15. Hillegert, ek ken nie die SERK nie, en kan daarom nie net dit as ‘link’ plaas nie, so jy sal meer moet verduidelik wie hul is, wat hul bely, ens. Jammer, my Duits is nie goed genoeg nie, ‘n Engelse link sal my help ! Dankie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: