Die Kerk (14) – Die Kerk en sy ekumeniese roeping volgens die Nuwe Testament

vermaak_churchDIE KERK EN SY EKUMENIESE ROEPING VOLGENS DIE NUWE TESTAMENT[1]

deur prof. WJ Snyman

  1. In die Nuwe Testament word van “kerk” slegs in tweërlei sin gespreek, nl. as universele kerk en as plaaslike kerk.

Die enigste uitsondering op hierdie spreekwyse skyn Hand. 9:31 te wees. Dit is die enigste locus waarna H. Bavinck kon verwys by sy vasstelling dat die woord “kerk” in die Nuwe Testament in vierderlei sin voorkom, nl.:

a) vir alle gelowiges (universele kerk),

b) vir die gelowiges in een land (nasionale kerk),

c) vir die gelowiges in een provinsie (provinsiale kerk),

d) in plaaslike sin.

“Al de gemeenten van Judéa, Galiléa en Samaria (worden) hier onder dien éénen naam van ekklêsia in singulari saamgevat”, aldus Bavinck (Dogmatiek IV, p. 301).

Hierby moet egter die volgende bedink word:

(1) Hierdie teks is die alleenstaande en dus hoogs uitsonderlik.

(2) Die teks van hierdie enigste locus staan nie vas nie.

(3) Dit staan nie teenoor ‘n kerk in ander landstreke nie, want op hierdie tydstip was dit die uiterste grense van die kerk en was daar ook nog geen gemeentes in Judéa ens. buite Jerusalem nie.

(4) As kerk hier ‘n samevatting van gemeentes sou wees, dan het die eerste Christene die naam kerk (ekklêsia) in ‘n heel ander sin op hulself toegepas as waarin hulle dit gevind het.

Ons sou dus hoogstens ‘n uitsonderlike gebruik van die lei, maar sekerlik nie as samevatting van gemeentes in een landstreek nie.

  1. Volgens die Skrif is kerk geen kollektivum van “gemeentes” nie, maar steeds ‘n vergadering van gelowiges, hetsy in hulle totaliteit as volk van God (1 Petrus 2:9, 10, vgl. Matt. 16:18; Ef. 2:22; 1 Kor. 12:25), as liggaam van Christus (o.a. Rom. 12:4, 5; 1 Kor. 10:17; 11:27; 12:27; Ef. 1:23; Kol. 1:24) en as tempel van die Heilige Gees (Ef. 2:22), hetsy as plaaslike kerk. Waar die Skrif van ‘n veelheid van kerke spreek, is dit steeds in die sin van plaaslike kerke en nooit in die sin van “nasionale kerke” nie.

Die idee van ‘n nasionale of provinsiale “kerk” skyn selfs opsetlik vermy te word. Vanwaar anders hierdie omslagtige omskrywinge: “kerke van Judéa, wat in Christus is” (Gal. 1:22), “kerke van God wat in Christus Jesus is in Judéa (1 Thess. 2:14), “al die kerke onder die heidene” (Rom. 16:4) in plaas van ons gebruiklike “Joods-Christelike” en “heiden-Christelike kerk”? As Paulus die oog het op die hele kerk (in die wêreld) dan spreek hy van “die kerke in Christus” (Rom. 16:16), “die kerke van God” (1 Kor. 11:16; 2 Thess. 1:4), “al die kerke” (1 Kor. 7:17; 14:33; 2 Kor. 8:18; 11:28). As ‘n keer van “die hele kerk” gespreek word, dan sien dit op die (plaaslike) kerk van Rome (Rom. 16:23). Rom. 16:4, 16 en 23 is tiperend en insiggewend vir die wyse waarop die Nuwe Testament van die kerk spreek.

  1. Die plaaslike kerke in die lande of oor die wêreld versprei, is elkeen die universele kerk ter plaatse — die universele kerk verstaan as die een kerk soos dit voor die grondlegging van die wêreld in die verkiesing gegrond is (Ef. 1:14), waaraan ons Here Jesus Christus as Hoof-bo-álles gegee is by sy verhoging na sy dood en opstanding (Ef. 1:2022) en wat op Pinksterdag vervul is met die Heilige Gees (Hand. 2:4). 

a) Die plaaslike kerk is die universele kerk: die universele kerk ter plaatse. Vandaar die beskrywing van die plaaslike kerk(e) as die “kerk van God in Efese” (Hand. 20:28); “die kerk van God” in Jerusalem, wat Paulus probeer uitroei het (1 Kor. 15 :9; Gal. 1:13; Filipp. 3:6); “die kerk van God” in Korinthe (1 Kor. 10:32); “die kerk van die Thessalonicense wat in God die Vader en die Here Jesus Christus is” (1 Thess. 1:1); “die kerke van God wat in Christus Jesus is in Judéa” (1 Thess. 1:14); “die huis van God, wat die kerk is van die lewende God” (1 Tim. 3:15). Dit is ook die antwoord op die vraag waarom die identiese woord kerk (ekklêsia) vir die geheel sy dele gebruik word. Hieruit is ook duidelik waarom baie kerke nie één kerk kan wees nie, sonder om daarin op te gaan en dat daarenteë die een kerk wel tot openbaring kan kom in baie.

b) Tereg sê Bavinck dat die ecclesia universalis aan die ecclesia particularis vooraf gaan (a.w., p. 357) — die ecclesia particularis dan, volgens die Nuwe Testament, uitdruklik te verstaan as die ecclesia localis. 

c) Die ekumeniese roeping van die kerk bestaan derhalwe nie daarin om tot stand te bring wat nog nie bestaan nie, maar om tot uitdrukking te bring wat die kerk is en wat ons omtrent die kerk bely.

  1. Die onderskeiding van universele en plaaslike kerk val nie saam met die van sigbare en onsigbare kerk nie, en ook nie met die van kerk as organisme en instituut nie. Die een en die ander is verskillende kante van die universele sowel as van die plaaslike kerk. Die universele kerk was verborge (dus onsigbaar) in die raadsplan van God (Ef. 3:9), maar is in Christus geopenbaar (Ef. 1:9; 3:35). Die plaaslike kerk het ook sy onsigbare kant (2 Tim. 2:19). Die universele kerk bestaan nie slegs organies nie, maar is geïnstitueer in die apostolaat (Matt. 16:18; Ef. 2:20; 4:11, vgl. 1 Kor. 12:28).

a) ‘n Apostel is nie alleen ‘n sendeling nie, maar ook ‘n gesant: ‘n verteenwoordiger van sy Sender (Matt. 10:40; Luk. 10:16). Calvyn het dit reeds so verstaan: “…..hen stellende tot zijne plaatsbekleders” (Inst. IV. 3. 1). Apostolisiteit druk dus nie alleen ‘n ekumeniese roeping uit nie, maar ook ekumeniese gefundeerdheid, nl. op die apostolaat.

b) As apostoliese kerk is die ekumeniese roeping duidelik. Dit bestaan in sending. Die evangelie aan hom toevertrou, is ekumenies: Die hele mensheid (Kol. 1:23; Matt. 24:14; Mark. 16:15; Openb. 14:6), elke individu (Kol. 1:28), elke nasie (Matt. 28:19; Openb. 10:11), is daarby betrokke. Soos Israel moet nasies, alle nasies, voor die beslissing gestel word: Dit moet vir hulle gebring word tot ‘n getuienis (Matt. 24:14).

c) Terwyl die volksgedagte (laós, die tipiese benaming van Israel as verbondsvolk, oorgedra op die Nieu-Testamentiese kerk) die oorheersende is met betrekking tot God [Matt 1 :21; 2:6; Luk. 1:68, 77; 2:33; Rom. 11:1; 15:10 (gelowige Israel); Rom. 9 :24, 25; Hand. 15:14 (gelowiges uit die heidene); Rom. 9:24; Hand. 15:14 (kerk as geheel)], en die gedagte van organisme (liggaam) met betrekking tot Christus (Rom. 12:4, 5; 1 Kor. 10 :17, ens.), is dit opvallend dat die gedagte van gebou na vore kom met betrekking tot die Heilige Gees (Ef. 2:22, vgl. 2 Kor. 6:16). Die Heilige Gees is die onsigbare band wat die kerk onsigbaar saambind tot ‘n eenheid. Die aanwesigheid van die Heilige Gees kom egter tot openbaring in ampte en gawes, waarvan die apostoliese die grondslag vorm (1 Kor. 12:4, 7-11, 28-31; Ef. 4:11).

d) Gevolgtrekking uit die voorgaande: Die band tussen die universele en plaaslike kerk is nie slegs ‘n direk-geestelike band nie, en bestaan ook nie slegs “in en deur en met” die bediening van die Woord in soverre dit effektief bedien word nie, maar is ‘n fundamenteel-historiese, gegee in die apostoliese Woord wat saam met die Skrifte van die Ou Testament die onfeilbare grondslag van die Nieu-Testamentiese kerk vorm (Matt. 16:18, 19; Joh. 15:26; 16:13; 20:21-23).

e) Die kontinuïteit tussen die universele en die plaaslike kerk blyk ook uit die opsomming van die ampte en gawes in 1 Kor. 12:28 en Ef. 4:11 (vgl. Rom. 12:7 en 8), met die universele voorop en die plaaslike kerk met sy ampte daaraan gebonde (vgl. ook Matt. 16:18 en 18:18), waar die sleutelmag wat aan die apostels toevertrou was ook aan die gemeente toevertrou word om die te bedien in afhanklikheid en op die grondslag van die apostoliese Woord. Ons word hier (Matt. 18:18) tewens herinner aan die amp van die gelowiges. Al die gelowiges het die salwing van die Heilige Gees (Hand. 2:4; Rom. 8:15; 1 Joh. 2:20). Die apostels het dit egter op besondere wyse (Joh. 20:21).

  1. Omdat die (plaaslike) kerke niks anders is nie as die (universele) kerk, die enige volk van God, die liggaam van Christus, die tempel van die Heilige Gees, daarom moet die (plaaslike) kerke met mekaar in verband tree. Kerkverband vloei egter nie slegs voort uit die wese van die kerk nie, maar word ook uitdruklik in die Nuwe Testament gegee as ‘n Goddelike opdrag aan die kerk wat gehoorsaam moet word.

a) Met kerkverband word nie ‘n nuwe “kerk” gevorm nie. Hierdie kerkbegrip word nie in die Skrif gevind nie (vgl. par. 1). Die (plaaslike) kerke vloei nie saam in ‘n eenheids- kerk nie, maar vloei daaruit voort (vgl. par. 3, a. en b.).

c) By kerkverband gaan dit nie om meerdere kompleetheid van die (plaaslike) kerke nie. Elke afsonderlike kerk is ‘n komplete kerk, op sigself ‘n tempel van die Heilige Gees (2 Kor. 6:16), soos die kerk in sy geheel (Ef. 2:22), soos ook elke gelowige (1 Kor. 6:19).

d) Hoewel ‘n komplete kerk met sy ampte en gawes, is elke (plaaslike) kerk tog ook weer ‘n deel van die geheel. Hierin is die grondbeginsel van die Gereformeerde kerkinrigting en -regering gegee, soos dit wortel in die Skrif en gegryp is deur Calvyn en besit ons die rigsnoer om veilig tussen die Scylla en Charibdis van Kollegialisme en Independentisme heen te beweeg: Synde die universele kerk ter plaatse is die (plaas like) kerke selfstandig, maar is hulle as sodanig ook verplig tot kerkverband. Die kerke is selfstandig (outonoom) maar nie onafhanklik (independent) nie, nog as plaaslike nog as sg. “nasionale kerke”.

d) Die bewering dat kerkverband (nog) nie in die Nuwe Testament voorkom nie, kan alleen gemaak word as daar nie onderskei word tussen die blywende betekenis van die apostels as fondament vir die kerk van alle tye (Matt. 16:18, Ef. 2 :20) en hulle optrede in die kerke van daardie tyd nie. In hulle briewe (apostoliese geskrifte vir alle tye, maar in die eerste instansie bedoel vir die geadresseerdes) en in hulle herderlike optrede (vgl. Hand. 14:22) bewaar hulle die band met die jong kerke en met die kerke onderling. Daar was dus kerkverband van die begin af. Dit is gegee in die apostels en hulle helpers. Saaklik bestaan dit in die volgende:

  • Verordeninge wat moes geld in “al die kerke” (1 Kor. 7:17): verhouding van kerklike en maatskaplike lewe; (14:33): orde vir die bediening van die Woord.
  • Onderlinge hulpverlening of wedersydse aanvulling met geestelike en stoflike goedere (Rom. 15:25-27; 2 Kor. 8:14): die gelykheidsbeginsel in die kerk van Christus; verder beskryf as godsdiensoefening (2 Kor. 9:12); leitourgia; as gemeenskap van die heiliges (Rom. 15:26; 2 Kor. 8:4); koinonia en ook as konfessie (2 Kor. 9:13): homologia.
  • Eenheid van Belydenis (Ef. 4:13; Hebr. 3:1; 10:23); die leer van Christus (2 Joh. :9), soos vervat in die Skrifte (2 Tim. 3:14; 2 Petr. 1:16); die waarheid van die evangelie (Kol. 1:5; Ef. 1:13); die geloof in die waarheid (2 Thess. 2:13); die gesonde leer (2 Tim.:3; Tit. 1:9); want die kerk is ‘n pilaar en grondslag van die waarheid (1 Tim. 3:15).

e) Dit gaan dan ook daarom om onwankelbaar vas te staan in die belydenis (Hebr. 10:23); om die handhawing van die enig ware evangelie teen heterodoksie, ‘n “ander” evangelie (Gal. 1:6). ‘n “ander” Jesus, ‘n “ander” gees (2 Kor. 11:4); teen heresie (2 Petr. 2:1); teen vervalsing en verdraaiing van die Woord (2 Kor. 4:2; 2 Petr. 3:1); teen valse leraars in die kerke, soos daar valse apostels onder die volk Israel was (2 Petr. 3:2); teen valse apostels, wat hulle voordoen as apostels van Christus (2 Kor. 11:3); teen mense, wat die waarheid weerstaan en onbetroubaar is in die geloof (2 Tim. 2:18); teen verleidende geeste en leringe van die duiwels (1 Tim. 4:1). Ten diepste is dit ‘n stryd tussen die Gees van die waarheid en die gees van dwaling (1 Joh. 4:6); tussen die Gees van God, wat in die kerk woon en die gees van die antichris (1 Joh. 4:2), die teëstander wat nie ‘n eie kerk, die valse kerk, teenoor die ware kerk wil oprig nie, maar in die ware kerk indring om dit te vervals (2 Thess. 2:4). Daarom is dit nie so ‘n eenvoudige saak om die valse kerk sonder voorbehoud (Calvyn) te lokaliseer nie. In hierdie stryd word die kerk as strydende kerk (Ef. 5:10, e.v.) opgeroep om in een Gees vas te staan en, een van siel, saam te stry vir die geloof van die evangelie (Fil. 1:28, vgl. Hand. 14:22).

  • Verdeeldhede is die gevolg van die indringing van die gees van dwaling in die kerk.
  • Onder die soewereine beskikking van God en die leiding van die Heilige Gees, word die gees van dwaling en die verdeeldhede wat dit veroorsaak diensbaar gemaak aan die waarheid (1 Kor. 11:19), deurdat dit die kerk bring tot formulering en uitbouing van die belydenis in die loop van sy geskiedenis.

f) Kerkverband vloei derhalwe voort uit die wese van die kerk as die liggaam van Christus. Dit is gegee in die apostels en in hulle bediening, in die maatreëls wat hulle getref het in “al die kerke”; in die onderlinge hulpverlening; in die gemeenskaplike geloofsbelydenis en die handhawing daarvan. Dit is egter ook in feite gegee in die Kerkvergadering van Jerusalem (Hand. 15:6-27). In hierdie Vergadering kom die besondere karakter van ‘n kerklike vergadering na vore as ‘n vergadering waarin ook die Heilige Gees en die apostels teenwoordig is, en dat daarin beslissinge geneem word wat bindend is vir al die kerke (Hand. 15:28).

  • Dit gaan hier om die eenheid van die kerke (Gal. 2:9).
  • Die besluite was bindend vir al die kerke (Hand. 15:28, 29).
  • Hierdie Vergadering is ‘n onmiskenbare aanwysing vir die kerke van alle tye tot selfopbouing van die liggaam van Christus op die grondslag van die apostoliese Woord en onder die leiding van die Heilige Gees (vgl. Ef. 4:12 e.v.).
  • Hierdie eerste Kerkvergadering dra ‘n ekumeniese karakter (Hand. 15:23).

g) Kerkverband is ‘n Goddelike opdrag waaraan die kerke moet gehoorsaam. Dit was op grond van ‘n direkte Goddelike openbaring dat Paulus opgegaan het na Jerusalem met die oog op hierdie Kerkvergadering (Gal. 2:2).

  1. Kerkverband, wat aan die kerke opgelê is, kan nie by nasionale grense bly staan nie, maar moet ‘n ekumeniese karakter dra, omdat die liggaam van Christus Een en Algemeen is.

a) Die eenheid en die ekumenisiteit van die kerk staan in noue verband met mekaar, maar moet tog onderskei word as twee verskillende eienskappe van die kerk. By ekumenisiteit gaan dit primêr teen nasionale begrensing van die kerk (vgl. par. 4, b). Dit raak die eenheid van die kerk slegs in soverre as wat die idee van “nasionale kerke” op sigself reeds ‘n opbreking van die kerk in ‘n veelheid van (nasionale) kerke inhou. Die veelheid van nasionale kerke moet veral nie vereenselwig en verdedig word met “pluriformiteit” nie. Dan word van die pluriformiteit van die kerk, waaronder ons graag die openbaring van die ryke verskeidenheid van die een kerk van Christus onder die verskillende volkere wil verstaan, ‘n pluraliteit van kerke gemaak.

b) Nie alleen impliseer die idee van nasionale kerke as sodanig die verbreking van die eenheid van die kerk in ‘n pluraliteit van kerke nie, maar dit hou ook die werklike gevaar in dat die kerk nie alleen in sy verskeidenheid tot openbaring kom nie, maar ook in sy eenheid bedreig word as die eenheid nie in ekumeniese kerkverband beskerm word nie.

c) In plaas van die oog te rig op wyer kringe is dit nodig om dit te rig op die naaste kring en om as ons ekumeniese roeping eerstens te sien, om te hou wat ons het (vgl. Openb. 3:11), nl. om die eenheid sowel in belydenis as in kerkregering te bewaar waar dit nog bestaan. Die eenheid van Gereformeerde kerke moet gesien word as die gewigtigste ekumeniese roeping. Voorkoming is  beter as genesing.

d) Enkele vrae in verband met voorafgaande, wat onder oë gesien moet word:

  • Hang die “buitengewone karakter” van die Geref. Ekumeniese Sinode noodwendig saam met die internasionale (ekumeniese) karakter daarvan? Of hang dit daarmee saam dat dit terselfdertyd ‘n interkerklike karakter dra?
  • Vrae in verband met kerklike korrespondensie wat nog altyd onderhou is tussen buitelandse kerke met dieselfde belydenis en kerkregering met die oog op die bewaring van die eenheid. Word dit wel op doeltreffende wyse onderhou? Kan dit nie op meer konkrete wyse geskied nie?
  1. Waar dit gaan om kerke in ander kerkverbande op grond van verskil in leer of kerkregering, het die kerke die roeping om alles te doen om die eenheid te herstel.

a) Dit gaan hier meer om die eenheid van die kerke as om ekumenisiteit (vgl. par. 6, a.).

b) Dit is ‘n ontwyking van die vraagstuk as die eenheid van die kerk verwys word na die onsigbare kerk as ‘n saak net van die geloof. Soos by die heiligheid van die kerk moet die belydenis ook in die geval van die eenheid gesien word as ‘n roeping.

c) Die eenheid van die kerk kan op geen ander grondslag tot stand kom nie as alleen op die vaste grondslag van die geloof en die waarheid (vgl. p. 5, c, 3 en d), soos gegee in die Heilige Skrif as die Woord van God en soos dit in die loop van die eeue beslag gekry het in die belydenis onder die leiding van die Heilige Gees.

  • “Geloof en waarheid” (2 Thess. 2:13; 1 Tim. 2:7; Tit. 1:1; Gal. 2:14; Ef. 1:13, ens.). Dit gaan nie om “geloofseenheid” nie, maar ‘n eenheid op grond van wat geglo word. Waarheid en eenheid word met mekaar verbind in die hoëpriesterlike gebed van ons Here Jesus Christus (Joh. 17:11, 17).
  • Die idee van ‘n gekonsentreerde belydenis as eenheidsgrondslag hou nie rekening daarmee dat met konsentrasie die dwaling nie uitgesuiwer word nie.

d) Die weg wat gevolg moet word, is die van kerklike samespreking.

  • Amptelike samespreking moet gesien word as ‘n vorm van kerkverband by gebroke eenheid en berus per slot van rekening op Matt. 18:15 (vgl. 2 Thess. 3:15, 16; 2 Tim. 2:25, e.a.). Soos daar enersyds sprake is van liefde tot die waarheid (2 Thess. 2:10) en liefde wat hom in die waarheid verbly (1 Kor. 13:6) moet andersyds die waarheid ook in liefde betrag word (Ef. 4:15).
  • Omdat dit hier nie soseer om die ekumenisiteit maar om die eenheid van die kerk gaan, is dit die beste om hiermee tuis te begin, d.w.s. op nasionale vlak.
  • Hier moet nie in die eerste plek uitgesien word na resultate nie. Dit gaan om die vervulling van ‘n roeping.

e) Of en, so ja, wanneer so ‘n kerklike samespreking beëindig moet word, is nie so ‘n eenvoudige saak nie. Die Skrif waarsku teen ‘n ydele en eindelose twisgesprek (1 Tim. 6:3, e.v.; 2 Tim. 2:14 e.v.; 2 Tim. 3:1 e.v.). Andersyds sien ons dat die kerk in sy laaste stadium van deformasie deur ons Here Jesus Christus nog tot reformasie geroep word (Openb. 3:20).

f) Anders as by samesluiting in kerkverband sal by samespreking van kerke die basisformule as uitgangspunt ruimer moet wees namate die afstand tussen die betrokke kerke groter is.

Kritiek teen die basisformule van die Wêreldraad van Kerke is ter sake wanneer die basisformule bedoel is as basis van kerklike eenheid, maar nie as dit gesien word as uitgangspunt tot herstel van eenheid nie.

g) Behalwe die roeping (1) tot ekumeniese kerkverband ter bewaring van kerklike eenheid, waar dit bestaan en (2) tot kerklike samespreking met die oog op herstel van kerklike eenheid, waar dit ontbreek, is daar (3) ook nog die roeping tot samewerking, in soverre daar samestemming is. Dit dra egter ‘n ad hoc karakter en is so gevarieerd dat dit nie in ‘n eenheidsorganisasie saamgetrek kan word nie.

  1. Op grond van die eenheid van die kerk kan daar op elke plek slegs een kerk wees, tensy dat dit op grond van natuurlike oorsake (Voetius), soos taal en getal, nuttig is om aparte kerke te institueer. Maar, eweneens op grond van die eenheid van die kerk, moet ook hier die eenheid van die kerk in kerkverband bewaar word.

a) Die laaste moet beklemtoon word met betrekking tot “jong” kerke. Aangesien die kerkverband hier oor die nasionale grense strek, het ons hier ekumeniese kerkverband in beginsel, soos beoog in par. 6, c. Juis die jong kerke het die toesig en hulp van die gevestigde kerke nodig, maar die omgekeerde is ewe waar. Die laaste het ook van die eerste te leer.

b) Selfstandigheid van jong kerke kom nie eers in ‘n sg. “selfstandige kerkverband” uit nie. Tot selfstandigheid kom kerke by hulle instituering.

c) Die noodsaaklikheid van aparte instituering by taalverskille vloei daaruit voort dat dit in die kerk alles gaan om die diens van die Woord. Dit bereik die hart alleen as dit gespreek en gehoor word in die eie taal (Hand. 2:8). Wat op Pinkster op ‘n wonderlike wyse geskied het, moet nou langs die gewone weg plaasvind. Selfs die Rooms-Katolieke Kerk moes in die praktyk van die idee van ‘n kerktaal afsien.

  1. Die kerk van Christus is nie maar ‘n vergadering van individuele gelowiges nie, maar is die samebinding van nasies in hulle gelowiges (Ef. 2:16; vgl. o.a. Matt. 28:19; Openb. 5:9; 7:4 e.v.; 1:9 e.v.; 21:24, 26), die verborgenheid naamlik, wat sinds alle eeue in die voorneme van God bestaan het, en geopenbaar en gerealiseer is in Christus en sy kerk (Ef. 3:911), teenoor die menslike strewe na volkere-eenheid. 

a) Die kerklike lewe staan nie los van die volks- en volkerelewe nie. Ook dit sit opgesluit in die ekumenisiteit van die kerk. Sake rakende die volks- en volkerelewe sal op ‘n ekumeniese kerkvergadering ter sprake kom, maar dan op kerklike wyse en op die grondslag van die Heilige Skrif en die Belydenis.

b) Afgesien hiervan is die blote samekoms van gelowiges uit verskillende volkere op die grondslag van die eenheid van ‘n gemeenskaplike en saambindende geloof, hoop en liefde, van groot betekenis vir menslike verhoudinge. Hierin lê ‘n gewigtige ekumeniese roeping, voortvloeiende uit die wese van die kerk.

  1. Enkele samevattende konklusies uit die voorafgaande is:

a) Dat die ekumenisiteit (ook in noue verband met die eenheid van die kerk), vanweë die konfessionele en nasionale verskille, gesien moet word, soos dit in werklikheid is, as ‘n uiters gekompliseerde saak (soos ook blyk uit die veelheid van ekumeniese bewegings); dat dit gevolglik nie in ‘n eenheidsformule en ewemin in ‘n eenheidsorganisasie saamgevat kan word nie; dat sodanige poging neerkom op ‘n oorvereenvoudiging van die vraagstuk, met relativering van konfessionele verskille en onderskatting van nasionale verskeidenhede as uitloopsels;

b) dat by alle bedenkinge wat teen die Wêreldraad van Kerke ingebring kan word, daar nie met ‘n negatiewe en afsydige houding volstaan mag word nie, maar dat dit, wat na ons oortuiging die regte antwoord is op die ekumeniese roeping van die kerk, ook aan die Wêreldraad van Kerke voorgelê sal word as uitgangspunt van bespreking, afgesien van resultate;

c) dat voortgegaan word met die vervulling van ons onmiddellike ekumeniese roeping, naamlik om te doen wat gedoen moet word ter bewaring van kerklike eenheid, waar dit nog bestaan; ter herstelling van die eenheid, waar dit gebreek is, beginnende by wat die naaste is, met bereidheid tot samewerking op allerlei gebied, sover daar ooreenstemming bestaan;

d) dat besondere aandag gegee word aan die bestaande kerklike korrespondensie, naamlik hoe dit op meer effektiewe en, indien moontlik, op meer konkrete wyse, onderhou kan word ter voorkoming van uiteendrywing en verdere verbrokkeling van Gereformeerde Kerke.

[1] “Handelinge van die 36e Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika”, Potchefstroom, 1967, pp. 377—386.

_________________________________________________

Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman

Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman

_________________________________________________

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: