Posted by: proregno | May 31, 2017

Die Heilsorde: van begin tot einde – Genade, alles Genade ! (deel 1: Inleiding, Roeping, Wedergeboorte en Geloof)

Die Heilsorde

– deel 1: Inleiding, Roeping, Wedergeboorte, Geloof –

deur dr. B. Duvenhage

[Bron: Geloofsleer]

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” – Romeine 8:28-32

DIE HEILSORDE (1) 

Inleiding

1. GOD SE WERK IS VOLKOME
Die heilsorde is die weg waarlangs die Vader ons die weldade wat die Seun verwerf het, deur die Heilige Gees in die genadeverbond deelagtig maak. Ons moet onderskei tussen die verwerwing en die toepassing van die heil. Christus het deur sy plekbekledende voldoening die geregtigheid en heiligheid en ewige lewe verwerf, maar wat sou dit ons baat as dit nie ons deel word nie?

As iemand byvoorbeeld aan jou sê: Daar is R 1 000 in die bank, maak dit jou nog nie ryker nie. Eers as die R 1 000 op jou bankrekening is, is jy ryker. Maar God se werk is volkome. Hy laat nie alleen die skatte verwerf nie maar laat dit ook toepas. Dit geskied langs ‘n sekere weg, wat ons die heilsorde noem.

Hierdie orde is egter nie willekeurig nie. Dit gaan uit van die totale verdorwenheid van die mens. As die mens die heil in Christus deelagtig moet word, kan dit nie van homself uitgaan nie.

God se werk en sy genade staan voorop. Dis Hy wat die mens verkies, hom roep en wederbaar en hom laat glo.

Is die koms van Christus ‘n wonder, nie minder kan ons ons verwonder oor hierdie genadewerk van God in ons nie! In Romeine 8:30 staan: “en die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep; en die [88] wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik”.

Die Pelagiane en Remonstrante ontken die mens se verdorwenheid. In moderne vorm kom dit voor by verskillende sektes en sektariese strominge. Hulle meen dat die mens aan God ‘n kans moet gee om in hom te werk. Daarom stel hulle die bekering voorop en daarna die wedergeboorte. Die saligheid hang so van die mens af. Die genade word slegs ‘n hulpmiddel.

Die Heilige Skrif en die belydenisskrifte leer egter dat ook die toepassing van die heil in Christus allesgenade is en stel daarom die orde soos volg:

Roeping,

wedergeboorte,

geloof,

bekering,

regverdigmaking,

heiligmaking,

volharding van die heiliges, en

heerlikmaking.

2. DIE ROEPING
LEES: Heidelbergse Kategismus, vr. 65; Romeine 10:14, 16.
BEANTWOORD DIE VOLGENDE VRAE:
1. Wat is die onverganklike saad waardeur ‘n mens wedergebore word? (I Petr. 1:23).
2. Wat word ons in die gelykenis van die saaier geleer? (Matth. 13:18-23).
3. Wat moes Esegiël met die doodsbeendere doen? (Eseg. 37:1-10).

Ons onderskei die volgende:

a. Die roeping deur die algemene openbaring. Ons het reeds gehandel oor die algemene openbaring van God (hfst. II). Ons het gesien dat God Hom in die natuur of die skepping openbaar. Dit vertel ook die eer van God. Daardeur word die mens ook tot God geroep. Tog is [89] hierdie roeping nie voldoende nie. Sonder die roeping deur die Heilige Skrif kan ons nie die roepstem van God in sy skepping en regering van die wêreld mooi hoor nie. Maar hierdie roeping is tog so dat die mens sonder verontskuldiging sal wees. Niemand sal in die oordeelsdag kan sê: Ek het nie geweet nie. Romeine 1:20: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle sonder verontskuldiging kan wees”.

b. Die roeping deur die besondere openbaring. God laat sy Woord verkondig om die mens tot geloof te bring. Christus sit sy profetiese werk deur die eeue voort in die prediking van die Woord (Dordtse Leerreëls, I Par. 3). God laat sy roeping gaan aan alle mense. (Rom. 10:14, 15: “Want hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie”? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?” Die roeping deur die evangelie geskied in alle erns (Dordtse Leerreëls, III en IV, par. 8).

c. Die uitwerking van die roeping.
(i) Die roeping deur die Skrif word nie deur alle mense met geloof en bekering beantwoord nie.
“Die skuld daarvan lê nie in die Evangelie of in Christus wat deur die Evangelie aangebied is nie, ook nie in God wat deur die Evangelie roep en selfs ook aan hulle wat Hy roep, verskillende gawes meedeel nie, maar in die geroepenes self …” (Dordtse Leerreëls, III en IV, par. 9). Die gelykenis van die saaier (Matth. 13) leer ons die verskillende uitwerking van die roeping. By baie verstik die saad of kom nie op nie.

(ii) Ander luister na die roepstem van God en kom, maar dit kan nie aan die mens toegeskryf word nie maar aan God, wat die mens se hart wat gesluit is, deur die wedergeboorte open (Dordtse Leerreëls, III en IV, par. 11).

3. DIE WEDERGEBOORTE
a. Die noodsaaklikheid van die wedergeboorte. Aan gesien die mens dood is deur die sonde (Ef. 2:1), moet hy lewend gemaak word voordat hy uit die sonde kan opstaan. Hy kan hom nie self lewend maak nie. Maar God maak lewend. Dis wat ons onder die wedergeboorte verstaan. Die Heilige Gees wek die nuwe lewe in die hart van die sondaar. By die wedergeboorte is die mens heeltemal passief. Dis net God se werk (Joh. 3:3: ” … as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”).

b. Die wonder van die wedergeboorte. Die wedergeboorte is ‘n geheel bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie soete, wonderbare, verborge en onuitspreeklike werking wat in sy krag nie minder of geringer is as die skepping of die opwekking van die dode nie” (Dordtse Leerreëls, III en IV, par.
12).

Die skepping is ‘n wonder! Ons kan ons alleen verwonder oor die grootheid van die werk van God.

Die opstanding uit die dode! Daaroor staan ons verstom!

En dat iemand in Christus glo, is nie vanselfsprekend nie maar ‘n wonder van God.

Geen wonder dat die engele juig oor een sondaar wat hom bekeer nie (Luk. 15:10). Die wedergeboorte word nie teweeggebring deur middel van die uiterlike prediking alleen nie maar is ‘n direkte werking van die Heilige Gees in die hart om dit te vermurf en in die wil nuwe hoedanighede in te stort wat [91] die weerspannigheid wegneem. (Dordtse Leerreëls, III en IV, par. 11, 12).

c. Die aard van die wedergeboorte.
(i) Die wedergeboorte is onverganklik (I Petr. 1:23: “want julle is wedergebore … uit onverganklike saad”).
(ii) Die wedergeboorte is verborge Ons weet nie altyd wanneer die wedergeboorte plaasvind nie. Dis belangrik om te weet dat dit plaasgevind het. God werk dit op sy tyd en wyse.
(iii) Die vrugte van die wedergeboorte is openbaar, nl. die geloof (Rom. 8:14: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God”).

DIE HEILSORDE (2) DIE GELOOF
BEANTWOORD DIE VOLGENDE VRAE:
1. Waarom is die geloof ‘n gawe van God? (Ef. 2:1-10).
2. Wat doen die bediening van die Woord aan ons geloof? (Heidelbergse Kategismus, vr. 65).
3. Waarom is die geloof noodsaaklik? (Joh. 6:47-56).
LEES: Heidelbergse Kategismus, Sondag 7.

1. Die onmisbaarheid van die geloof 
Die Heilige Skrif leer ons dat alleen die wat in Christus glo, die ewige lewe het (Joh. 3:16). Alleen deur die geloof in Christus Jesus is daar versoening moontlik. Christus is die plekbekledende Borg alleen vir hulle wat in Hom glo. Sonder die geloof kan niemand die saligheid verkry nie (Dordtse Leerreëls, I, par. 4). Deur die geloof word die weldade van Christus aangeneem waardeur ons geregverdig word.

2. Die wese van die geloof 
In die algemeen kan ons sê dat die geloof die lewensband is wat ons met God verbind. Die geloof lê beslag op die hele mens. Daarom kan ons die geloof onderskei in die volgende:

a. Geloofskennis. Die hoof van die gelowige word verlig, sodat hy die Woord van God waaragtig glo. Die gelowige is profeet.

b. Geloofsvertroue. In die hart werk die Heilige Gees die vertroue dat Christus ook vir jou gesterf het en jy jou toevlug na God moet neem. Die gelowige is priester wat homself aan God offer.

c. Geloofswerke. Ook die hand word deur God in die geloof opgeëis. Die geloof is ook ‘n daad (Joh. 2:17: “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood”). Die gelowige is koning wat teen die sonde moet stry (I Tim. 6:12: “Stry die goeie stryd van die geloof”).

3. Die oorsprong van die geloof 
In die wedergeboorte plant die Heilige Gees die kiem van die ware geloof. ‘n Mens kan nie uit homself glo nie; dis ‘n gawe van God aan sy uitverkorenes (Ef. 2:8, 9). Deur die prediking van die Woord groei die geloof uit tot ‘n vaste oortuiging en vertroue.
Dordtse Leerreëls, 111 en IV, par. 14: “So is die geloof dan ‘n gawe van God; nie omdat dit aan die vrye wil van die mens deur God aangebied word nie, maar omdat dit die mens inderdaad meegedeel, ingegee en ingestort word”.

Ons onderskei tussen die geloofsvermoë of die geloof as hebbelikheid wat by die wedergeboorte ontvang word, en die geloofsakte of geloof as daad waartoe die kiem van die geloof uitgroei onder die voortgaande bearbeiding van Gods Woord en Gees.

Die versterking van die geloof vind deur die bediening van die Woord en Sakramente plaas.

4. Die sekerheid van die geloof 
Die sekerheid hoort wesenlik tot die geloof. Die Heilige Gees gebruik juis die middels van Woord en Sakrament om ons die vaste sekerheid te gee. Hierdie sekerheid lê nie in die mens nie maar in die vastigheid van God se Woord en werke. Judas, vers 20: “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid”. (Vgl. Dordtse Leerreëls, III en IV, par. 17).

5. Die vals geloof 
Daar is veral drie soorte onegte of vals geloof:
a. Die historiese geloof. Dis alleen die Verstandelike aanvaarding van die waarheid. Dit is sonder diepte en erns en lei tot koue verstardheid. (Vgl. die saad wat op die harde grond geval het, Matth. 13:19).

b. Die tydgeloof. Hier tree die gevoel op die voorgrond. Die gevoelsopsweping duur ‘n tydlank, maar ook hier is geen diepte nie. (Vgl. die saad wat op die rotsagtige plekke geval het, Matth. 13:20, 21.) By die geringste teenstand word die geloof afgelê.

c. Die wondergeloof. Hier tree die wil weer op die voorgrond. Die mens vestig die vertroue op ‘n bonatuurlike wonder van God. Dink aan die nege melaatse wat geglo het tot hulle genees was en toe weggegaan het (Luk. 17:11-19). Baie mense ken die geloof in dae van siekte en stryd. Dan bid is alles vergeet. Die ware geloof omvat verstand, gevoel en wil. ‘n Gelowige dink anders, voel anders en wil anders as die ongelowige.

____________________________

Volgende keer: Deel 2: Volharding van die heiliges en heerlikmaking


Responses

  1. Goeie môre Slabbert,

    Ons vertrou dit gaan goed met julle gesin. Dit is nou weer winter met sy verkoues. Kyk maar mooi na julleself.

    Baie dankie vir hierdie besondere heilsorde leerstuk. Weet jy of daar nog van hierdie bundels iewers beskikbaar is? Selfs as dit elektronies beskikbaar is. My behoefte is om dit aan die jong geslag oor te gee soos ‘n aflosstokkie.

    Groete CB

    Sent from my iPhone

    >

    • Hallo CB, dankie vir die mooi woorde. Die boek van Duvenhage is nie meer beskikbaar nie, maar as jy kliek op die skakel net onder die opskrif, “Bron: Geloofsleer”, sal jy die boek kry in e-boek formaat. Ook groete en sterkte daar vir julle toegebid.

  2. […] (Sien deel 1 hier: Heilsorde) […]

  3. […] deel 1 hier: Heilsorde, en deel 2 hier: […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: