Die Heilsorde
– deel 2: Bekering en Regverdiging –
deur dr. B. Duvenhage
[Bron: Geloofsleer]
(Sien deel 1 hier: Heilsorde)
DIE BEKERING
LEES: Heidelbergse Kategismus, Sondag 33.
1. BEKERING AS ‘N DAAD VAN GOD
In die Ou Testament word vyf maal en in die Nuwe Testament drie maal gespreek oor die bekering as die werk van God in die sondaar (vgl. Jer. 31:1 8 en Hand. 11:18). Omdat die geloof ‘n gawe van God is en die bekering die vrug van die geloof, kom die bekering ook van Hom.
Die Dordtse Leerreëls bring die bekering en die geloof saam in verband met die wedergeboorte (vgl. hfst. III en IV, par. 16: “Daarom werk hierdie goddelike genade van die wedergeboorte in die mense nie asof hulle stokke en blokke is nie, dit vernietig die wil en sy eienskappe nie . . . maar maak dit geestelik lewend, genees dit, verbeter dit en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtiglik. . .”).
2. BEKERING AS DAAD VAN DIE MENS
In die Ou Testament word vier-en-sewentig maal en in die Nuwe Testament ses-en-twintig maal oor die bekering gespreek. God skenk die gawe van die geloof maar eis dat dit vrugte moet dra (Hosea 14:2, 3; Mark. 1:15).
Die mens is in die bekering nie passief soos in die wedergeboorte nie. Dit is sy verantwoordelikheid om vrugte van bekering te dra. Maar as hy dit dra, het hy niks om op te roem nie (Gal. 6:14a: “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie”).
3. WORTELBEKERING EN DAAGLIKSE BEKERING
Ons onderskei tussen die wortelbekering en die daaglikse bekering.
1) Die eerste of wortelbekering. Dit is ook ‘n vrug van die geloof maar val dikwels saam met die “kom tot die geloof”. Dit kan op verskillende maniere geskied: Plotseling (bv. die sipier van Filippi, Hand. 16:27), sonder skokke (Lidia, Hand. 16:14-16). Iemand wat van jongs af in die Skrif opgevoed is, mis die skokkende bekering van iemand wat eers met hart en siel die sonde gedien het.
In die eerste bekering is veral drie momente te onderskei; inkeer tot sigself, afkeer van die sonde en terugkeer tot God. In II Korinthiërs 7:10 staan: “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot verlossing …” In die gelykenis van die verlore seun (Luk. 15:11-31) sien ons hierdie drie momente baie duidelik.
As iemand dus vra of jy bekeer is, en dAäronder bedoel of jy glo, dan is dit in hierdie sin wat hy oor bekering praat. Op die vraag kan die gelowige ja antwoord. As iemand egter vra of jy bekeer is en daarmee bedoel of jy sonder sonde is en die bekering nie nodig het nie, dan kan die gelowige nooit ja sê nie. Daarom moet ons ook stil staan by
2) Die daaglikse bekering. Dit sien op ‘n voortdurende proses wat eers met die dood ophou. Hier is sprake van
- die afsterwe van die oue mens, ‘n voortdurende stryd teen die sonde en berou oor die sonde, en
- die opstanding van die nuwe mens (Ef. 4:24), ‘n aanhoudende vreugde wat die gelowige in die wil van God moet koester. Die gelowige kry nooit klaar met hierdie bekering nie.
4. DIE BEKERING OMVAT ONS HELE LEWE
Die Bybel gebruik sowel in die Ou as Nuwe Testament veral twee woorde vir bekering.
- Die eerste beteken ‘n verandering van opinie, van denke. ‘n Bekeerde dink anders, het ‘n ander opinie as die ongelowige. Die Griekse woord metanoia dui op die verandering in gesindheid.
- Die tweede woord wys op ‘n verandering in lewensrigting. Die Griekse woord is epistrofe.
Die verandering van die lewenswandel volg op die verandering van gesindheid. In Handelinge 3:19 gebruik Petrus albei die woorde as hy sê: “Kom dan tot inkeer (verandering van hart) en bekeer julle (verandering van lewensrigting) …”
5. DIE SKYNBEKERING
Dis byna dieselfde as die tydgeloof. Die voortgaande bekering ontbreek. Dink aan Manasse (II Kron. 33).
Hy het hom wel in die gevangenis bekeer maar dit nie opgevolg deur die daaglikse bekering daarna nie. In Matthéüs 12:44-45 lees ons: “Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hyself met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. So sal dit ook wees met hierdie bose geslag”.
BEANTWOORD DIE VOLGENDE VRAE:
- Watter kenmerk van die ware bekering tref ons in Ps. 51 aan?
- Wat is die vrugte van die Gees volgens Gal. 6:16-25 [?? Gal 5:16-25]?
- Het die mens ‘n vrye wil om te beslis of hy die genade-aanbod wil aanvaar of nie? (Dordtse Leerreëls, III en IV, par. 3).
- Noem twee persone by wie die bekering geleidelik geskied het. (I Sam. 2:11; II Tim. 1:5; 3:15.)
DIE REGVERDIGMAKING
LEES: Heidelbergse Kategismus, Sondag 23; Rom. 1:17.
BEANTWOORD DIE VOLGENDE VRAE:
- Waarin bestaan ons regverdigmaking volgens Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 23?
- Waarom kan ons nie deur die werkverbond die ewige lewe verkry nie? (Hoofstuk XVI [?? Waarskynlik hoofstuk XII]).
- Gaan die volgende tekste na oor die begrip regverdigmaking: Exodus 23:7; 1 Konings 8:32; Jesaja 50:8.
- By regverdigmaking dink ons aan ‘n hofsitting. Wie is die Regter? (Jes. 1:18). Wie is die beskuldigdes? (I Kor. 6:9-11).
- Wat is regverdigmaking? Onder die regverdigmaking verstaan ons die regterlike daad van God waardeur Hy die voldoening van Christus as Borg aan die uitverkorenes toereken. Rom. 3:23, 24: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is”. Ons sien hieruit dat die regverdigmaking noodsaaklik is.
Ons het reeds tevore geleer dat die mens nie deur sy werke of langs die weg van die werkverbond die ewige lewe kan verkry nie. Aan God se reg moes voldoen word. Dit het ons Borg Jesus Christus gedoen. Maar net soos die erfskuld van Adam ons toegereken is, moet die voldoening van Christus, die tweede Adam, aan ons toegereken word alvorens dit ons voor God vrystel.
Hierdie toerekening geskied by die regverdigmaking. Romeine 5:19: “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word”.
Wanneer geskied die regverdigmaking?
- God het in die ewigheid besluit om die voldoening van Christus aan die uitverkorenes toe te reken. Daarom het Christus as Borg gekom (Rom. 8:33).
- Christus het in die volheid van die tyd gekom as Borg en vir die sondes ten volle betaal. Met sy opstanding is sy voldoening deur God aanvaar. (Rom. 4:25b: “wat opgewek is ter wille van ons regverdigmaking”.
- Die sondaar word by God geregverdig wanneer hy in die geloof Christus omhels. Romeine 3:28: “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet”.
Die geloof is dus die middel waardeur ons deel kry aan die voldoening van Christus tot ‘n versoening van ons sondes (Rom. 5:1: “omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus”).
Met die oordeelsdag word die gelowiges openlik regverdig verklaar en ontvang hulle die vryspraak. (Matth. 25:34: “Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk van die hemele wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af”).
Die oorsaak van die regverdigmaking
Die reg verdigmaking geskied nie op grond van ons werke of [101] verdienste nie (Rom. 3:23), en ook nie op grond van die waardigheid van ons geloof nie.
Die oorsake van die regverdigmaking is die volgende:
- Die barmhartigheid van die Vader is die werkende oorsaak (Rom. 8:33).
- Die borgskap van die Seun is die verdienende oorsaak (Rom. 5:25).
- Die geloof, gewerk deur die Heilige Gees is die middellike of instrumentele oorsaak. Filippense 3:9: ” … en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met die wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof”).
Waarin bestaan die regverdigmaking?
Die regverdige ontvang deur die toerekening van Christus se verdienste: Die vergewing van die sonde.
LEES: Heidelbergse Kategismus, vr. 56.
Daarom mag ons nooit in die sonde volhard nie maar moet ons berou hê dat ons telkens weer God deur ons sondes vertoorn. So kry ons die vrede by God (Rom. 5:1) en kan ons met Paulus roem (Rom. 8:31b): “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?”
- Die toegang tot die ewige heerlikheid en die reg op die erfenis wat Christus vir ons verwerf het. (I Petr. 1:4: “sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons”).
En die einddoel van die regverdiging is die eer van God “tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde” (Ef. 1:6).
____________________________
Volgende keer: Deel 3: Heiligmaking, Volharding van die heiliges en Heerlikmaking