REFORMASIE 500: Deel I: Die besnydenis – hoe gereformeerdes en (ana)baptiste daaroor verskil

REFORMASIE 500: DIE BESNYDENIS 

HOE GEREFORMEERDES EN (ANA)BAPTISTE DAAROOR VERSKIL (deel 1)
deur prof. L. Floor

[Geneem uit prof Floor se boek: Die Heilige Doop in die Nuwe Testament, bl.13-19. Opskrif bygevoeg.]

“En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof.” – Romeine 4:11

Die besnydenis

Alvorens die Christelike doop soos dit in die Nuwe Testament na vore kom, bespreek kan word, moet daar eers nog aandag gegee word aan die besnydenis soos dit in die Ou Testament voorkom. Op die vraag of daar ‘n regstreekse verbindingslyn van die besnydenis na de doop is, loop juis die gedagtes ver uiteen. In die gereformeerde tradisie word die kinderdoop verdedig met die argument dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het. Sonder enige twyfel het ons hier met een van die sentrale kinderdoop-argumente van Christene wat in die gereformeerde tradisie staan, te doen.

By Calvyn is dit selfs die deurslaggewende argument.

Alle bewerings van die Anabaptiste, alle verwysings na die samehang van geloof en doop, alle argumente dat in die Nuwe Testament geloof en geloofsbelydenis tog steeds aan die doop voorafgaan, kon Calvyn nie oortuig nie. Hy erken dat daar in die Nuwe Testament telkens van die doop van die volwassenes gepraat word, maar die klein kindertjies behoort volgens Calvyn tot ‘n ander kategorie.

Calvyn wys dan op die kindertjies in Israel. Wie hom as ‘n volwassene by die volk Israel wou aansluit, kon eers besny word nadat hy in die verbond en die wet van die Here onderrig ontvang het. Trouens, Abraham het eers geglo en daarna is hy besny. By hom volg die sakrament van die besnydenis op sy geloof. Maar by sy seun Isak sien ons die omgekeerde (Inst. IV, xvi, 16-20).

Die teenstanders van die kinderdoop laat hulle egter nie deur hierdie argumente oortuig nie. Volgens hulle beskouinge verskil die Christelike doop radikaal van die besnydenis. Die besnydenis het alleen iets met bloedafstamming te doen en nie met geloof en wedergeboorte soos die doop nie. Die bekende baptistiese Nuwe Testamentikus, Beasley-Murray, wat ‘n voortreflike studie oor die doop in die Nuwe Testament geskryf het, stel dit onomwonde dat daar ‘n wesenlike verskil tussen die Ou en die Nuwe Testament is. Die voorstanders van die kinderdoop beklemtoon eensydig die elemente van eenheid in verbond, evangelie en kerk van die twee bedelings, die Ou Verbond en die Nuwe Verbond, en hulle maak hulle oë toe vir die baie duidelike elemente van verskil wat daar tussen die twee bedelings is (Beasley-Murray, 19793:337). By hulle wat die nadruk op die eenheid van die twee Testamente lê word die betekenis van die kruis en die opstanding van Christus en die koms van die Heilige Gees nie reg verstaan nie (Beasley-Murray, 19793:338).

Daar is volgens die bestryders van die kinderdoop ‘n diep ingrypende verskil tussen die twee Verbonde. Die Ou Verbond is die bedeling van die veroordeling en die dood, terwyl die Nuwe Verbond die bedeling van vergifnis, regverdiging en lewe is (Beasley-Murray, 19793:338).

Die besnydenis kan dus ook geen teken en seël van sondevergewing, regverdiging, hartsverandering of heiliging wees nie (Beasley-Murray, 19793:340). Die besnydenis is maar net ‘n teken dat die kind in Israel tot die verbondsvolk behoort, maar dit het niks met morele vernuwing te doen nie (Beasley-Murray, 19793:341).

Ook Karl Barth is oortuig dat die besnydenis in Israel op die natuurlike geboorte betrekking het. Dit het net met bloedafstamming te doen. Dit kan volgens Barth ook nie anders nie, want die Ou Testament is volgens hom ‘n natuurlike verbond teenoor die Nuwe Testament as ‘n geestelike verbond (Barth, 1943:81).

In die diskussie oor die kinderdoop gaan dit in wese oor die verhouding tussen die Ou en Die Nuwe Testament. Een van twee is waar: òf die handhawers van die kinderdoop oorskat die betekenis van die Ou Testament en hulle maak geestelik wat net natuurlik is, òf die teenstanders van die kinderdoop onderskat die Ou Testament en hulle beskou net as natuurlik wat ook geestelik is. Dit gaan dus in die stryd oor die kinderdoop ten diepste oor die regte waardering van die Ou Testament. Moet ons soos Calvyn en die reformatoriese tradisie uitgaan van die eenheid tussen die twee Testamente en verbonde, of moet ons soos Barth, Beasley-Murray en die Anabaptiste uitgaan van ‘n totale teenstelling tussen Ou en Nuwe Testament?

Hier beweeg ons op die terrein van die hermeneutiek

Hoe verklaar ons die Heilige Skrif? Hoe sien ons die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament? Die antwoord sal ons uit die Skrif self moet soek. Die vraag of daar kontinuïteit dan wel diskontinuïteit tussen die twee verbonde is, sal beantwoord kan word wanneer ons nagaan wat die eintlike betekenis van die besnydenis in die Ou Testament is.

Dit is al dadelik besonder treffend dat die feit van die besnydenis van die hart nie ‘n nuwe ding is wat net in die Nuwe Testament genoem word nie. Ook in die Ou Testament is daar reeds sprake van die besnydenis van die hart. Die verbond met Abraham, waarin die besnydenis so ‘n belangrike rol gespeel het, was van die begin af op geloof in God en sy Messias gerig. Die Ou Testament was dus nie ‘n natuurlike verbond waarin die mens as vanselfsprekend tot die verbond behoort het, terwyl die Nuwe Testament geesteliker is in die sin dat ‘n individuele geloofstoe-eiening geëis word om tot die verbond toe te tree nie.

Wanneer daar al van ‘n teenstelling sprake is, dan is dit nie die teenstelling natuurlik-geestelik nie, maar dan gaan dit om ‘n teenstelling wat dwarsdeur die Ou en die Nuwe Testament loop, naamlik die teenstelling: geloof — ongeloof. Reeds in die Ou Testament was die profetiese kritiek voortdurend gerig teen die sondige beskouing dat ‘n mens sonder bekering en geloof, sonder die besnydenis van die hart in ‘n regte verhouding tot God staan. Dit alles sal nog duideliker word wanneer ons kyk na die betekenis van die besnydenis in die Ou Testament en die verklaring van die besnydenis in die Nuwe Testament.

Beasley-Murray (1979:341) is van oordeel dat die besnydenis van die hart of die geestelike besnydenis, soos hy dit noem, wel onder die Ou Verbond beloof word maar eers onder die Nuwe Verbond deur die doop ‘n werklikheid geword het. Wanneer die besnydenis in die Ou Verbond met die doop in die Nuwe Verbond vergelyk word, dan verhef ons, volgens Beasley-Murray (1979:341), die besnydenis tot ‘n hoogte van betekenis wat dit in Israel nooit gehad het nie.

Indien hierdie siening van die besnydenis in die Ou Testament reg is, impliseer dit dat daar in die Ou Testament geen besnydenis van die hart plaasgevind het nie en dat die geloof van God se kinders in die Ou Testament eintlik nie die ware geloof was nie en dat hulle bekering nie as ‘n egte, waaragtige bekering beskou kan word nie. Waar die Hebreërbrief in die elfde hoofstuk so indringend oor die geloof van die mense van die ou tyd praat, moet dit ‘n ander tipe geloof wees en het daardie geloofshelde op ‘n ander manier salig geword as manne soos Petrus en Paulus in die Nuwe Testament.

Dan is daar twee soorte gelowe: een vir die mense van die Ou Verbond en ‘n ander een vir die mense van die Nuwe Verbond. In verband hiermee is dit van die allergrootste belang om na te gaan wat die Bybel self ons oor die wese, die waarde, die betekenis van die besnydenis leer.

Wat die besnydenis betref: ook buite die grense van die volk Israel was die besnydenis bekend soos ons dit vandag nog by verskillende heidense swartvolke teëkom. By die WesSemitiese volkere en selfs onder die Maleisiese en Polinesiese stamme het die besnydenis voorgekom. By Israel was die besnydenis egter ‘n teken van die verbond wat die Here met die volk gesluit het. In Gen. 17:1-14 word die besnydenis beskryf as ‘n teken en ‘n seël van die verbond wat God met sy volk gesluit het. Ons moet daarop let dat die besnydenis waarvan in die boek Genesis gepraat word, ‘n volwassenebesnydenis is. Ons lees dit in Gen. 15:6 en 17:10.

Wanneer die apostel Paulus later in sy brief aan die Romeine oor die volle, NuweTestamentiese heil wat in Jesus Christus verskyn het, skrywe (Rom. 3:21-31), dan praat hy in hierdie verband merkwaardigerwyse ook oor die besnydenis. God se heil in Jesus Christus is volgens Paulus ‘n heil wat net deur geloof ons deel word. Teenoor sy lesers wys Paulus dan daarop dat hierdie heil reeds in die Ou Testament teruggevind word. Met twee voorbeelde word dit dan aangetoon. Paulus wys op Abraham (Rom. 4:3) en Dawid (Rom. 4:6). Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken (Rom. 4:3,9). God se heil bestaan in vergewing van ons ongeregtighede, in bedekking van ons sondes (Rom. 4:7,8).

Paulus brei dan verder uit op die figuur van Abraham, en dan praat hy oor Abraham se besnydenis. Die apostel stel dit nadruklik: Abraham is besny nadat hy tot geloof gekom het (Rom. 4:10). Dus eers geloof en daarna besnydenis. Ons kan dus Abraham se besnydenis omskryf as ‘n geloofsbesnydenis of ‘n volwassenebesnydenis. Hierdie volwassenebesnydenis het ook plaasgevind by die proseliete wat tot de volk Israel wou toetree: eers belydenis en daarna besnydenis.

Soos daar in die Nuwe Testament ‘n volwassenedoop is, so is daar in die Ou Testament ‘n volwassenebesnydenis. Soos die dooppraktyk in die Nuwe Testament met die doop van volwassenes, gelowiges, begin, so begin in die Ou Testament die besnydenispraktyk met die besnydenis van volwassenes, gelowiges.

In Rom. 4:11 gee die apostel Paulus dan ‘n omskrywing van die besnydenis

Hy noem die besnydenis van Abraham ‘n teken en ‘n seël. Waarvan is die besnydenis ‘n teken en wat word presies met die besnydenis verseël? By die verbondsluiting met Abraham sê die Here dat die besnydenis ‘n teken sal wees van die verbond wat God met hom sluit (Gen. 17:11).

‘n Verbond is ‘n ooreenkoms tussen twee persone of twee groepe persone . Dit dui dus nie ‘n natuurlike ooreenkoms aan nie. Dit hoef nie op ‘n vrye ooreenkoms te berus nie, want ‘n magtige koning kan byvoorbeeld ‘n verbond aan ‘n ander oplê. Dieselfde geld van die verbond tussen die Here en Abraham: God kies eiemagtig sy ‘verbondsvennoot’. God bepaal self die verpligtinge en lê dit aan hom op. God sal Abraham tot ‘n groot volk maak (Gen. 17:2) – dit is die belofte.

Abraham moet voor God se aangesig wandel (Gen. 17:1) —dit is die eis. Die belofte van die verbond praat van ‘n nakroos, maar die teken van die verbond is ‘n simbool van die verminking van die voortplantingsorgaan en verkondig so dat die nakroos in die eerste plek ‘n gawe van God is (Van Selms, 1978:74).

Beteken dit dat die verbond van die Here met Abraham ‘n natuurlike verbond is?

Hoegenaamd nie.

Abraham is die klassieke voorbeeld van hoe ‘n mens gered word. Hy het in God geglo, en God het hom dit tot geregtigheid gereken (Gen. 15:16). Dit is juis die teken van die verbond, die besnydenis, wat die geestelike karakter van die verbond van God met Abraham ontvou. Daar is immers volgens die Heilige Skrif ‘n tweevoudige besnydenis: ‘n besnydenis wat in die vlees met hande verrig is (Ef. 2:11), en ‘n besnydenis wat nie met hande verrig is nie (Kol. 2:11). Die Ou Testament noem die besnydenis wat nie met hande verrig is nie, die besnydenis van die hart (Deut. 10:16; Jer. 4:4). Ook Paulus omskryf in die Nuwe Testament hierdie besnydenis as ‘n besnydenis van die hart, in die gees (Rom.2:29).

Behalwe ‘n teken noem Paulus die besnydenis ook ‘n seël. Die apostel skrywe oor Abraham in Rom. 4:11:

En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof.

Ons moet goed daarop let waarvan die besnydenis ‘n seël is. Dit is nie ‘n seël van die geloof nie maar van die geregtigheid van die geloof. Wat bedoel Paulus hier met die woord seël? In die oudheid het seël in die eerste plek ‘n eiendomsmerk beteken. Diegene wat verseël word, is daardeur gemerk as die eiendom van die persoon wat verseël (Fitzer, 1964:940). Die Jode het die besnydenis wel “die seël van Abraham” genoem (Sanday-Headlam, 1902:107). In die tyd na die voltooiing van die Nuwe Testament vind ons in die vroeë Christelike kerk dat die doop as ‘n seël aangedui word (2 Clem. 7,6; 8,6; Hermas Sim. IX, 16). Met die woord seël word dus bedoel eiendomsmerk, waarborg, bevestiging. Om vas te stel wat presies deur die besnydenis verseël word, moet ons na die struktuur van Rom. 4:11 kyk (nota: sien die ‘struktuur’ in die boek op bl.16).

Volgens die struktuurontleding moet ons die genitief: “van die besnydenis”, as ‘n appositiewe of epeksegetiese genitief beskou. Met hierdie genitief word aangedui wat die teken is. Die teken bestaan in die besnydenis. F.F. Bruce (1975:116) noem die frase: van die besnydenis ‘n “genitive of definition”. Vir Abraham is die besnydenis ‘n teken van die verbond wat God die Here met hom gesluit het. Die verbond met Abraham word met sy nakroos bevestig. ‘n Nuwe karakter kry dit na die verlossing uit Egipte. Exodus 24 verhaal van die verbondsluiting by die Sinai. Die eis van die verbond het reeds ontwikkel tot ‘n hele wetboek, die verbondsboek van Ex. 20-24. Die belofte konsentreer op die besitneming van Kanaän (Ex. 23:20-33), en die teken van die verbond is die offerbloed (Ex. 24:8).

Dit gaan in die verbond nie net om die verowering van Kanaän nie maar ook om vrede in die land en welvaart, sowel stoflik as geestelik (vgl. Lev. 26:1-13; Deut. 28:1-14). Die verbondsvolk moet ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees (Ex. 19:6), en daarom is die besnydenis as ‘n uiterlike teken alleen nie voldoende nie. Die hart van die verbondsvolk en die harte van hulle nageslag moet besny word, sodat hulle die God van die verbond kan liefhê met hulle hele hart en met hulle hele siel (Deut. 30:6).

Die besnydenis is volgens die woorde van Paulus behalwe ‘n teken ook ‘n seël. Die apostel noem die besnydenis ‘n seël van die geregtigheid van die geloof. In Rom. 4:11 is die woord seël volgens die struktuur van die teks ‘n bepaling van doel. Greijdanus (1933:229) noem die seël ‘n predikaat van die teken. Die teken van die besnydenis is ‘n seël. Die groot vraag is: Wat verseël die besnydenis? Paulus sê: die geregtigheid van die geloof. Die genitief waarin die woord geregtigheid staan, is ‘n objektiewe genitief (vgl. Greijdanus, 1933:229). Die genitief waarin die woord geloof staan, moet as ‘n instrumentele genitief beskou word. Ons sou hierdie genitief selfs as ‘n kwalifiserende of deskriptiewe genitief kan aandui. Die woord geloof kwalifiseer naamlik die bepaalde soort geregtigheid waarvan Paulus in die teks praat. In Rom. 3:22 en 25 noem die apostel hierdie geregtigheid die geregtigheid deur die geloof, en in Rom. 9:30 omskryf hy dit as geregtigheid uit die geloof.

Hierdie geloofsgeregtigheid, ‘n geregtigheid wat net deur geloof ontvang word, staan teenoor ‘n ander soort geregtigheid, naamlik ‘n geregtigheid op grond van die werke van die wet (Fil. 3:9). Paulus plaas in Rom. 4 werkgeregtigheid teenoor geloofsgeregtigheid (vgl. v.2 en 3).

Wat word dus in sy besnydenis aan Abraham verseël?

Nie Abraham se geloof nie, maar dit wat hy deur die geloof ontvang het: die geregtigheid van God. In die vorige hoofstuk het Paulus op ‘n indringende wyse aangetoon dat hierdie geregtigheid die geregtigheid van Christus is.

Paulus maak dus vir sy lesers duidelik dat dit wat in die besnydenis verseël word, in verband gebring moet word met die heil wat Christus bewerk het. Die besnydenis het derhalwe betrekking op die heilswerklikheid van Christus. In die Ou Testament in die tyd van Abraham het die heil in Christus nog ‘n beloftekarakter gehad.

God het deur die besnydenis aan Abraham beteken en verseël dat hy voor God regverdig is. Abraham staan in ‘n regte verhouding met God. Die besnydenis is die seël van geloofsgeregtigheid. Dit beteken: die besnydenis is die waarborg dat die mens wat in God glo gered word.

Ons beroof die besnydenis van sy geestelike karakter wanneer ons soos Karl Barth die besnydenis maar net op die natuurlike geboorte betrek en daarin ‘n teken sien van die toebehoort tot die verbondsvolk Israel (Barth, 1943:31). Dan dryf ons ‘n wig tussen die Ou en die Nuwe Testament . Karl Barth doen dit in feite wanneer hy beweer dat daar ‘n beslissende verskil tussen Israel en die kerk is. In die kerk van die Nuwe Verbond gaan dit volgens Barth nie om die opvolging van die geslagte, die binding aan familie en volk nie maar om die persoonlike geloofsband met Jesus Christus.

Maar Paulus se uiteensetting van die besnydenis wys duidelik op die geestelike karakter van die besnydenis. Dit het te doen met die regverdiging, die regte verhouding teenoor God.

Trouens, wanneer ons verder in Rom. 4 lees, word deur Paulus op ‘n ondubbelsinnige wyse die eenheid tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament benadruk. Daardie eenheid kom besonder sterk na vore in die vaderskap van Abraham. ‘n Sintaktiese struktuurontleding van Rom. 4:11b, 12 toon vir ons die volgende aan (nota: sien die ‘struktuur’ in die boek op bl.17,18).

Uit hierdie gedeelte leer ons dat Abraham die vader van twee groepe mense was: Hy is die vader van almal wat glo terwyl hulle nog onbesnede was. Maar hy is ook die vader van diegene wat nie alleen uit die besnydenis is nie maar wat ook in die voetstappe van Abraham se geloof wandel. Abraham is dus die vader van die gelowiges uit Israel, maar hy is ook die vader van die gelowiges uit die heidene (Botha, 1982:24).

Die eenheid tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond word hier deur Paulus op ‘n kernagtige wyse tot uitdrukking gebring. Dit gaan in wese sowel in die Ou Testament as in die Nuwe Testament om dieselfde geloof en dieselfde verbond. Abraham is die vader van hulle wat tot geloof gekom het en in die verbond opgeneem is. Maar hy is ook die vader van hulle wat in die verbond opgeneem was en wat as kinders besny is en later tot geloof gekom het. In die Ou Testament is die waarborg dat ‘n mens deur geloof gered word, ook al aan mense gegee wat as kindertjies nog nie kon glo nie.

Uit Rom. 4:11, 12 is wel baie duidelik dat geloof by Abraham aan die besnydenis voorafgaan. Die volgorde was by hom: eers geloof en daarna die besnydenis. Sy besnydenis is vir hom ‘n teken en ‘n seël dat hy deur geloof gered is. Deur sy geloof staan hy in ‘n regte verhouding tot God. Hy hoef daaraan nie te twyfel nie, want dit is vir hom in sy besnydenis bevestig en verseël. Ons moet egter goed daarop let: nie sy geloof is deur sy besnydenis verseël nie maar sy regte verhouding tot God, wat alleen deur geloof ontvang kan word. Die besnydenis dien juis om daardie geloof te versterk.

In Gal. 3 word ook deur Paulus die eenheid tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond ter sprake gebring. Paulus wys daarop dat Abraham in God geglo het en dit is hom tot geregtigheid gereken (v.6). In Gal. 3:7 en 3:9 lees ons dan die uitdrukking: die wat glo. Daarmee bedoel Paulus die heidene wat glo. Twee dinge word dan van die gelowiges uit die heidene gesê: hulle is kinders van Abraham (v. 7) en hulle word saam met die gelowige Abraham geseën (v. 9). Die seën wat die gelowiges uit die heidene ontvang, word in Gal. 3:14 die seën van Abraham genoem.

Die seën van Abraham is volgens Gal. 3:6, 11, 13 die regverdiging deur die geloof. Hierdie seën is aan Abraham as evangelie verkondig (Gal. 3:8). Inhoud van die evangelie is: in Abraham sal die heidene, die heidenvolkere, geseën word.

En waaruit bestaan die seën?

Die regverdiging uit die geloof (v. 8).

Die Skrif kom met die evangelie, met die goeie nuus dat die heidene op dieselfde wyse as Abraham gered sal word as hulle glo (König, 1979:28).

Van hierdie redding is in die Ou Testament die besnydenis ‘n teken en ‘n seël soos in die Nuwe Testament die doop van dieselfde redding ‘n teken en ‘n seël is. Dit is dan ook heeltemal onverklaarbaar dat Beasley-Murray (19793:340) kan beweer dat die besnydenis nie die teken en die seël van vergewing van sondes, van regverdiging, van hartsverandering, van heiliging, van die objektiewe werk van God se genade is nie, terwyl Paulus tog nadruklik skrywe dat die besnydenis die teken en die seël van die regverdiging deur die geloof is.

Die sakrament van die besnydenis bly die teken en die seël dat ‘n mens deur geloof gered word, ook al is die hele wêreld ongelowig. Waar geen geloof is nie, kan dit wat die besnydenis beteken en verseël, nie ontvang word nie. Maar wat God belowe het, is daarom nie minder waar en waaragtig nie. Besnydenis as sodanig bied geen waarborg vir redding nie. Geloof is noodsaaklik.

_________________________

Volgende keer: deel 2 – Die kinderbesnydenis

Prof Paul de Bruyn se resensie van prof. Floor se boek.

Sien ook prof Floor se kleiner boekie oor die onderwerp: Grootdoop, kinderdoop, herdoop

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: