Die Baptistiese verwerping van kinders as lidmate van die kerk: ‘n Paar opmerkings op John Piper se artikel oor besnydenis en doop

Die Baptistiese verwerping van kinders as lidmate van die kerk: ‘n Paar opmerkings op John Piper se artikel oor besnydenis en doop

Dr. John Piper se artikel oor besnydenis en doop kan hier gelees word: “How do circumcision and baptism correspond?

Photo of John Piper, Oct 2010 (cropped).jpgHierdie artikel van Piper wys duidelik en mooi – na my mening – een van die belangrikste wesentlike verskille wat daar is, tussen ons gereformeerdes se verbond- en kerkbeskouing, en die baptiste s’n, soos dit na vore kom in:

– Verhouding OT en NT

– Wie sigbare – onsigbare kerk is in beide OT en NT

– Hoe ons volgens die Skrif na kinders van gelowiges moet kyk, hul beskou en behandel

Die probleem kan as volg saamgevat word, Piper/baptiste meen:

  1. (heeltemal reg) dat die sigbare kerk in die OT bedeling ‘n mengsel was van ‘geestelike en vleeslike kinders’, en
  2. (heeltemal verkeerd) dat daar in die NT net ‘geestelike kinders’ in die sigbare kerk is, en nie ook ‘vleeslike kinders’ nie.

Onthou die vraag is hoe dit werklik is volgens die Skrif, en wat ons regdeur die geskiedenis sien en beleef, in beide OT en NT bedeling, bestaan die sigbare kerk regtig net uit ‘n onvermengde groep van (volwasse) gelowiges ?

Dit lyk vir my, baptiste dink  – met goeie bedoelings en al – dat hul deur die doop as teken te bedien, net aan hulle wat hul geloof bely (belydenisdoop), waarvan ons as mense iets kan beoordeel, hul daardeur ‘n onvermengde kerk van ‘net geestelike kinders’, hier kan handhaaf wat net uit uitverkorenes (net volwasse gelowiges) bestaan. Die Skrif en die werklikheid/geskiedenis van ook groot gedoopte ketters leer natuurlik die teenoorgestelde.

Kom ons kyk na wat Piper self skryf, in sy artikel oor die kerk in die OT en NT bedeling (beklemtonings bygevoeg):

The covenant people in the Old Testament were mixed. They were all physical Israelites who were circumcised, but within that national-ethnic group there was a remnant of the true Israel, the true children of God (Rom.9:6- 8).”

“The Church (Piper verwys nou na die NT kerk -slc) is not to be a mixed heritage like Abraham’s seed. The Church is not to be like Israel—a physical multitude and in it a small remnant of true saints. The Church is the saints, by definition. The Church continues the remnant. As verse 28 (Gal. 3 – slc) says, the Church is “like Isaac, children of promise.”

“The church is the new covenant community—”This cup is the new covenant in my blood” (Luke 22:201 Corinthians 11:25)—we say when we take communion.”

Unlike the old covenant community it (NT kerk – slc) is defined by true spiritual life and faith.”

Daar is heelwat probleme met hierdie uitsprake, ek wys op ’n paar, spesifiek sy Skrifberoep:

1. Galasiërs 3

Piper meen tereg dat die Kerk ’n voortbestaan is van die oorblyfsel (‘remnant’), so was dit in OT, asook in die NT.

Maar die groter en belangriker vraag is: uit wie het die ‘remnant’ bestaan in die OT, slegs uit volwassenes, of ook uit kinders, d.w.s. gelowiges en hul kinders ? Slegs volwasse uitverkorenes, of ook hul uitverkore kinders? Dus, bestaan die Kerk van die Here, in beide bedelings uit ‘net volwassenes’ of ‘ volwassenes en kinders’, wat danksy die Here se genade en vrye welbehae, op grond van die bloed van Christus, geheilig, gered en regverdig is ?

Om die vraag te vra, is om dit te antwoord.

In hierdie teksgedeelte wat Piper gebruik om die kinderdoop te verwerp, word juis geleer dat die Here sy kinders het onder kinders en volwassenes, nie net die een groep of die ander nie.

Gal. 3 wys daarop dat dieselfde Belofte (Christus se redding; “Ek is julle God, julle is My kinders, ens. Sien Gen. 3:15; 12:1-3; Gen. 17) wat nou bedien word in die ‘NT bedeling’, dieselfde Belofte is wat aan Abraham en sy kinders bedien is in die OT bedeling (Gal. 3:6-19).

In vers 19 noem Paulus van ‘die saad aan wie die Belofte gedoen is’, ’n verwysing na Gen. 13 en 17, en daar staan dit dat die Belofte is aan ‘jou en jou nageslag’, aan Abraham en sy kinders, daarom dat hul ook the teken van die verbond en belofte ontvang het.

[Nota: Baptistiese teologie en eskatologie
So terloops, as baptiste meen dat hierdie Belofte is bloot die fisiese land Kanaän, en nie die ‘geestelike Kanaän = redding, ewige lewe, Heilige Gees, geloof, ens.’, nie, dan moet hul soos MacArthur dispensasie eskatologie handhaaf, want dan beteken daardie Belofte van Gen. 17 bloot dat Abraham se fisiese afstammelinge die fisiese land Kanaän vandag vir altyd moet behou.  Die konteks van Gen. 17 en die hele Skrif, sien veral Gal. 3, Rom. 4, Hebreërs, ens., is egter baie duidelik: die wesentlike saak van die verbond en beloftes was Geestelik, was Christus, die ewige lewe, ewige Kanaän, ens., ongeag die tydelike beloftes van land en ’n fisiese nageslag, wat ook sy doel gedien het, maar alles in diens van die Belofte, Christus, vir al die volke gestaan het, Gen. 12:1-3]

Piper verwys ook na Rom. 9 (sien hieronder), en dit is juis hier waar dit so baie duidelik na vore kom wie die ‘remnant’ is in die OT bedeling, uit wie die ‘verbond of kerkgemeenskap’ bestaan het in die OT bedeling (wat voortgaan in die NT bedeling, wat baptiste ongelukkig verwerp), en dit is:

9 Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal ‘n seun hê. 10 En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader. 11 Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep 12 is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. 13 Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat. 14 Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie! 15 Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. 16 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.

Hier leer ons, dat ‘die woord van belofte’ is aan gelowige ouers en hul kinders, waarvan ook een ’n uitverkorene was. Die Here het sy kinders, sy kerk onder volwassenes en kinders, nie net volwassenes nie. Sy koninkryk en kerk bestaan uit uitverkore volwassenes en uitverkore kinders.

Die oorblyfsel, die ‘remnant’ van die OT en NT bedeling, bestaan dus beide uit gees en vlees, beide uit volwassenes en kinders, en so is dit ook in die NT bedeling, soos Paulus duidelik maak in Gal. 3.

Gal. 3 wil nie wys op – soos die baptiste verkeerdelik redeneer- ’n oorgang van ’n vleeslike kerk in die OT wat uit beide volwassenes en kinders bestaan het (met so bietjie remnant daarin vermeng) teenoor die kerk wat nou sogenaamd ‘net volwasse geestelike gelowiges’ is nie, en die kinders word uitgeskop uit die verbond nie ?

Nee, stellig nie !

Die oorgang van die OT na NT bedeling, soos Gal. 3 (en ander NT dele wil uitwys), is van die genadeverbond onder een volk (gelowiges en hul kinders), na die genadeverbond onder alle volke (gelowiges en hul kinders). Daarom die woorde van Paulus in Gal. 3 (met verwysing na Gen. 12:3),

8 En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. 9 Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.

Die Belofte (die evangelie – Christus, 3:16) wat aan Abraham en sy kinders, sy nageslag bedien is, moet ook nou aan en onder alle volke bedien word.

Die ‘remnant’ volgens die uitverkiesing (Rom. 9:6-23; 10:5; 2 Tim. 2:19), soos God dit bepaal en sien (wat geen mens, predikant, kerkraad, hetsy gereformeerd of baptisties, kan bepaal nie), bestaan uit alle uitverkore volwassenes en alle uitverkore kinders, onder alle volke, orals waar die Here roep en geloof en redding stuur (Hand. 2:39).

Op grond van God se bevel, en omdat Hy sy uitverkorenes onder klein en groot, man en vrou, volwassenes en babas/kinders, onder alle volke, versamel deur sy Gees en Woord, moet ons aanhou, Christus verkondig, en die teken van die verbond aan gelowige ouers en hul kinders bedien, want, soos Paulus ons leer in Gal.3, vir die NT bedeling, geld soos die OT bedeling, vir beide volwassenes en kinders:

“En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”

Dit is vreemd – en verraai juis die probleem van die Baptiste se siening van die kerk in die OT, as Piper skryf “Unlike the old covenant community it (verwysende na die NT kerk – slc) is defined by true spiritual life and faith.”

Nou hoe was die ‘old covenant community’ dan van  Abraham, Moses, Dawid, Daniël, Josef, ens.,  was dit dan nié – in ander vorm, maar in wese – ook deur ‘spiritual life en faith’ bepaal nie, soos Gal. 3 tog self leer ?

5 Hy wat julle (NT gelowiges/kerk – slc) dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 6 Net soos Abraham in God geglo het (OT gelowiges/kerk – slc), en dit is hom tot geregtigheid gereken. 7 Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.

Hoe is die mense van die ‘old covenant community’ anders gered as ‘deur die geloof’ alleen’ (sien Gen. 15:6; Rom. 4:9-11 wat dit duidelik stel, dit was die ware ‘covenant community’, hulle wat waarlik glo en gered is, hetsy volwassenes of kindertjies).

Die groot werklikheid van die ware Israel na die belofte (Gen. 3:15; 2 Tim. 1:9; Tit. 1:2), was van die begin af reeds daar, God se Belofte, Christus, sien hoe ons dit volgens die Skrif bely in HK v/a 19, wat deur die land en nageslag afgebeeld is.

Dus, die wesentlike aspek van die kerkwees ook in die OT was nie die fisiese land, uiterlike besydenis, ens. nie (dit het sy tydelike betekenisse en toepassings gehad, wat vervul is in Christus, sien NGB art. 25), maar die wesentlike wat altyd bly, is die ‘ewige Kanaän’, die besnydenis van harte in en deur Christus (Gen. 17:8; Deut. 10:16; Jer. 4:4; Hebr. 12:22). Die  besnydenis het in sy wese geestelik gewys op die genadeverbond, Christus, die ewige lewe, geloof, redding, wedergeboorte, ens. … so is dit ook in die NT bedeling, wat van onder een volk en land (OT), nou na onder alle lande/volke uitbrei (NT), met die teken van die verbond wat verander het van die heenwysende besnydenis (bloed) na die vervulde doop (water), ens.

So, kontra wat die Baptiste probeer leer (deur o.a. Gal. 3 verkeerdelik daarvoor te gebruik) om ’n sogenaamde ‘volwasse onvermengde remnant’ daar te probeer stel, in hul groot ywer om kindertjies van gelowiges buite die verbond, kerk en koniNkryk van God te probeer plaas, sien ons dat Gal. 3 by implikasie, gelees in sy regte konteks en die res van die Skrif,baie duidelik leer: die genadeverbond is met gelowiges én hul kinders, soos in die OT bedeling, so ook in die NT bedeling. Die ‘remnant’ bestaan dus vandag nog in sy verbondstruktuur soos dit bestaan het in die OT bedeling, gelowiges én hul kinders (Gen. 17:7; Hand. 2:39).

2. Romeine 9

Verder, let op die teks waarop Piper hom beroep om te meen die NT kerk is vandag ‘net gelowiges’ (wat kinders volgens hom dan uitsluit, beteken dit dan dalk dat hy/hulle glo daar was ook geen uitverkore babas/kinders in die OT bedeling nie? – in ’n opvolg artikel meer daaroor, naamlik kindertjies se plek in die koninkryk, verbond en kerk), dit is Rom. 9:6-8,

6 Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. 7 Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. 8 Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.

Nou stem ons saam met Piper, dat daar ‘n ‘remnant’ van ware gelowiges onder die vleeslike Israel was, dus dat nie almal kop-vir-kop gered was nie, nie almal was ware gelowiges in of onder die vleeslike Israel nie.

Maar hy is totaal verkeerd om te dink dat daardie werklikheid van ‘vermenging’ net ‘n OT werklikheid was, en nie ook NT bedeling werklikheid is nie.

Kyk na die konteks van Rom. 9:6-8, wat is die konteks?

Dit is verse 1-5 van hoofstuk 9 (asook wat volg in Rom.9:6-11:36):

1 Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees 2 dat dit vir my ‘n groot droefheid is en ‘n onophoudelike smart vir my hart. 3 Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ‘n vervloeking te wees, wég van Christus af. 4 Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; 5 aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.

Hier is Paulus hartseer, dat in sy eie tyd, d.w.s. nou in die NT bedeling, dus na Christus gekom het, daar soveel is wat Christus nie aanvaar nie, wat nie ware gelowiges is nie (die NT beskryf ook op verskeie plekke van hulle wat van ons uitgegaan het, nadat hul onder ons was, dus by implikasie ‘gedoop’ was, maar afvallig geraak het, sien bv. Matt. 7:21-23; Hebr. 6:1-12; 2 Pe. 2; 1 Joh. 2:19, ens.). Hy beskryf dan daar in vers 4 dat aan die Israeliete die ‘aanneming tot kinders behoort en die … verbonde .. erediens .. ens.’, d.w.s. ook sy tydsgenote en volksgenote van sy dag.

DUS, die verbondsbediening gaan na Christus gekom het voort (met al sy veranderinge in ag geneem, bv. Hebreërsboek, besnydenis na doop, skadu na vervulling, ens. Sien NGB art. 25), in die NT bedeling, maar nou is daar ook in Paulus se tyd soveel wat die verbond verag en daarteen sondig, wat ‘in’ die verbond is, maar nie ‘van’ die verbond nie.

En dan die antwoord, daar in verse 6-8, maar ook die hele Rom. 9-11.

Die Teks daar leer onder andere, so was dit gewees in die OT bedeling, en so gaan dit wees, in die NT bedeling tot die laaste dag: daar was die wat in die sigbare Israel die bediening van die verbond ontvang het, maar hul het nie Christus ontvang, die inhoud nie, en, so is dit ook in die NT bedeling en sal dit wees: daar is die wat in die sigbare kerk is, in die verbondgemeenskap lewe (jonk of oud, kind of volwassene, man of vrou, ens), wat nie die inhoud ontvang nie, nie Christus ontvang nie.  God bepaal wie -jonk of oud – wie gered sal word, alles in sy vrye welbehae, sien vers 9-23 !

Maar, die bediening van die verbond gaan voort, aan gelowiges en hul kinders, soos dit ook was in die OT bedeling. Die verbond se teken het verander, nie die wesentlike ‘inhoud’ asook dat kinders ingesluit is by hul ouers in die verbondsbediening, nie.

So in ‘n neutedop, die teks wat Piper wil gebruik om te wys dat die NT sigbare kerk nou sogenaamd ‘net gelowiges’ is ‘contra die OT’, sê presies die teenoorgestelde, naamlik, die Here troos is vir Paulus, en Paulus skryf dit vir Rome en die hele NT tyd, dat ook ons sal besef, wat Paulus dan later skryf, in Rom. 11:

1 Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.
2 God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? hoe hy by God optree teen Israel en sê: 3 Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! 4 Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself sewe duisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. 5 Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.

Paulus beroep hom op die OT se ‘remnant’, om die huidige ‘remnant’ te bevestig en te herhaal, sonder enige aanduiding hier (of elders in die NT), dat gelowiges se kinders nie ook deel is en kan wees van daardie ‘remnant’ nie.

Dus, soos in die OT “almal nie Israel is, wat van Israel is nie”, so is “almal nie kerk, wat in die kerk is nie”, alles ‘ooreenkomstig die verkiesing van genade’, wat geld vir beide volwassenes en kinders in die verbondsgemeenskap.

Om dit anders te stel, soos ons gereformeerde vaders dit deur die eeue verduidelik het: nie almal wat aan die sigbare aspek (verbondsgemeenskap) van die kerk behoort, behoort aan die onsigbare aspek van die kerk nie, kragtens die uitverkiesing (sien NGB art. 29 oor die ware kerk).

Prof. Willie Snyman skryf daaroor as volg:

“Onsigbaar is die kerk (a) soos dit rus in Gods ewige verkiesing, en soos die “Here alleen ken die wat syne is” (2 Tim. 2:19). (b) Soos dit sentraliseer om die hemelse heiligdom (Hebr. 12:22-24) waar Christus as Hoëpriester intree (Rom. 8:34). (c) Soos dit tot stand kom deur die verborge werkinge van die Heilige Gees. Dit is die “onsigbare kant” van die kerk, wat ‘n beter uitdrukking is as “onsigbare kerk”. Hiervan moet dan onderskei word die “sigbare kant” van die kerk, soos dit uitkom in die ampte en bedieninge: die instituut.

Wat is die verband tussen die twee?
Nie so dat die “sigbare kerk” die “onsigbare” voortbring nie. Dan word die sigbare kerk ‘n middel tot saligheid, en ons lidmaatskap noodsaaklik as voorwaarde tot saligheid. So wil die Roomse Kerk dit. Ons bely Christus as ons enigste Middelaar. Egter ook nie so dat dit maar net daarop aankom om lidmaat te wees van die “onsigbare kerk”, asof die uitwendige kerk iets bykomstigs is, en ook wel só of anders ingerig kan wees na omstandighede, of desnoods geheel kon ontbreek (Lutherse menings). Lidmaatskap van die sigbare kerk is noodsaaklik — nie as voorwaarde nie, maar as voorskrif vir die gelowiges. Christus het verordineer dat die gelowiges hulle sal saam voeg, sy dood sal gedenk, ens. Dit na te laat is ongehoorsaamheid, wat nie ‘n eienskap van die geloof is nie. Dit is noodsaaklik vir die welsyn van die geloof, om Christus hierin te gehoorsaam. Ook wat die inrigting van die sigbare kerk betref, moet gelet word op die voorskrifte van Christus.”

Die verdelingslyn waarvolgens die uitverkiesing en verbond werk, is egter nie volwasse gelowiges teenoor ongelowige kinders nie (soos die baptiste daaroor dwaal nie); maar tussen geloof en ongeloof, uitverkies en nie uitverkies nie, kragtens die Here se vrye welbehae, onder beide volwassenes en kindertjies.

Kyk hoe wys die teks van Romeine 9 self op kinders in die genadeverbond, kerk en koninkryk, saam met volwasse gelowiges, kragtens die ‘verkiesing van die genade’:

“ Vers 11 Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep”

Onder volwassenes:

“1 Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.” (Rom. 11)

En dit – kinders van die Here onder volwassenes én – geld vir albei bedelinge, dit geld vir beide Israel en die NT kerk.

As Piper en die baptiste meen, dat hul deur die grootdoop (alleen) ‘n suiwer onvermengde kerk daar kan stel, dan probeer hul die werk van God deur die sakrament van die doop doen, wat dan juis hul skuldig maak aan dit waarvan hul die ‘kinderdopers’ beskuldig, nl. ‘n verbondsoutomatisme of ‘n siening dat iemand deur die doop as teken gered word, en daarom dan ‘n gelowige/uitverkorene is.

Is dit baptiste se standpunt dat elkeen wat by hul gedoop is, waarlik kind van God is, uitverkorene is, en nie een verlore sal gaan nie, in hul ‘onvermengde’ gelowige sigbare kerk ?

Ek glo en hoop dit is nie so nie, veral nie by die ‘reformed baptists’ nie, en tog is dit die implikasie van hul siening dat die sigbare kerk nou ‘net gelowiges’ is, soos hul dit kan bepaal deur die ‘belydenisdoop’ ?

En as dit dan so is dat hul meen hul kan die ‘onvermengde’ kerk bereik (o.a. deur die kinderdoop te verwerp), dan is hul dwaling netso erg as wat hul roomse of gereformeerde kinderdopers van aankla?

Maar, as hul erken dat hul doop nie red nie, dan is dit vanselfsprekend dat hul dan nie:

  1. deur die grootdoop alleen teen die verbondsdoop (gelowiges en hul kinders) te handhaaf, ‘n ‘onvermengde’ volmaakte kerk hier op aarde kan skep of handhaaf nie, en,
  2. is die strewe na ‘n ‘onvermengde kerk’ geen grond of rede om dan die kinderdoop te verwerp nie, want soos daar uitverkore volwassenes is wat ‘groot gedoop’ is, netso is daar uitverkore kinders onder die kindertjies van gelowige ouers wat ook gedoop moet word.

Ja, die kerk van die Here is gelowiges, dit bely ons van harte (sien wat ons bely in NGB art. 27), maar gelowiges én hul kinders (Hand. 2:39ev, sien HK v/a 74), daarom word die teken van die verbond aan gelowiges én hul kinders bedien. God bepaal die uitverkiesing, die ‘onvermengde’ kerk, ons moet die verbond bedien soos Hy beveel, aan gelowiges en hul kinders, in beide bedelinge (Gen. 17:7 en Hand. 2:39), met ‘n oproep van geloof en bekering aan almal, altyd.

3. Lukas 12:20

Piper verwys ook na Luk. 22:20 om kinders in die verbond, kerk en koninkryk uit te sluit, en om daardeur aan te dui dat die NT sigbare kerk bestaan nou net uit ‘ware gelowiges’. Hy skryf:  “The church is the new covenant community—”This cup is the new covenant in my blood” (Luke 22:201 Corinthians 11:25)—we say when we take communion.”

Maar, wat sien ons van een van die heel eerste ‘lidmate’ van die NT kerk bedeling, van die onvermengde ‘remnant’, uitverkore kerk wat net uit ware gelowiges bestaan (volgens Piper/die baptiste se standpunt), daar met die eerste nagmaal, toe die NT kerk seker in sy mees suiwerste onvermengde vorm van sigbare kerkwees kon wees, met die Hoof van die kerk self fisies teenwoordig?

Judas, die verraaier, Judas die een wat Christus weet is nie ’n uitverkorene nie, neem deel aan die Pasga en Nagmaal.  Sy gebruik en misbruik van die sakramente hef nie die ware betekenis en gebruik van die sakramente op nie, maak nie die res van die kerk, die dissipels daar onrein of vleeslik nie:

25 En Judas, wat Hom sou verraai, antwoord en sê: Is dit miskien ek, Rabbi? Hy antwoord hom: Jy het dit gesê.
26 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.
27 Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
28 Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. (Matteus 26:25-28)

19 Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.
20 Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.
21 Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel.
22 Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!
23 Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen. (Lukas 22:19-23)

En ja, Christus se teenwoordigheid en wete van Judas is uniek en eenmalig, maar dit is belangrik om raak te sien, wat die suiwere onvermengde kerk daar se beoordeling en handeling ook is, nl. dat al die dissipels het rondgekyk en gevra, wie die verraaier is, want, hulle, die naastes aan Christus, kon nie dit self regkry om ‘n ‘ware onvermengde net gelowiges’ kerk eers daar in hul kleinheid te handhaaf nie. Hoe meen die baptiste gaan hul dit regkry ?

Onthou, die vraag is nié of ons moet strewe na ’n suiwere heilige kerk, soos ons tog bely nie (sien die NGB, HK), dit is opdrag en taak om na te strewe, hetsy in ’n gereformeerde of baptistiese kerk. Maar die Skrif leer die werklikheid, asook die geskiedenis, dat dit nie op hierdie aarde gaan ‘onvermeng’ plaasvind nie. Die Here weet alleen wie Syne is, en ons het die roeping om die geloof, bekering, heiligmaking na te jaag met die bediening van sleutels van die Koninkryk, die Woord en die Christelike tug (2 Tim. 2:19).

Die laaste ding wat ons dan moet doen, is om in goedbedoelde maar verkeerdelike ywer, hulle wat Jesus duidelik sê dat hul na Hom toe moet kom, die kinders van gelowiges (Luk. 18:15-17), wil verwerp en uitsluit uit sy kerk, met bediening van die sakrament van die doop alleen aan volwassenes.

Samevatting

Baptiste – met goeie bedoelings en al – probeer iets in die NT bedeling skep, wat net God kan doen, en eers na die wederkoms sal plaasvind en geopenbaar word vir ons in sy volkomenheid, naamlik die kerk soos voor God gesien en bepaal.

Die gevaar van die perfektionistiese dwaling moet ook vermy word.

Die kerk sal eers in die volkomendheid ‘volkome en onvermeng’ wees, ons almal verlang en begeer daarna.  Deur die Woordverkondiging, toepassing van die tug, onderlinge vermaning, ens., roep ons mekaar op tot geloof en bekering, groei ons in suiwerheid van leer en lewe, maar die Here alleen skenk en bepaal die volkomenheid, dit is nie die werk van mense deur sakramente nie (lees weer Matt. 3:11).

In die volgende artikel gaan ek antwoord op die siening van Piper (en die baptiste), oor hoe hul verkeerdelik kyk na kinders van gelowiges, en daarom gevolglik kinders verwerp as lidmate van die Here se verbond, kerk en koninkryk.
__________________________
Sien ook hierdie bronne oor die verhouding tussen besnydenis en doop:

Die kinderdoop en besnydenis, Joh. Jansen

Die besnydenis: Hoe gereformeerdes en (ana)baptiste daaroor verskil, prof. L. Floor

Die kinderbesnydenis, prof. L. Floor

Moet ons kinders gedoop word?, ds. Cobus Rossouw

19 thoughts on “Die Baptistiese verwerping van kinders as lidmate van die kerk: ‘n Paar opmerkings op John Piper se artikel oor besnydenis en doop

Add yours

  1. Dit sal interessant wees om te sien as jy jou eie artikel kon evauleer uit die oogpunt van ‘n baptis en hoe hulle jou weerlegging sou antwoord. JP sou kon sê, “well, that is debatable”, bv. neem die voorbeeld van Judas. Mens sou kon redeneer, wel dit was nou maar daardie eenkeer nie ‘n suiwer toepassing van die sakrament as ‘n uitsondering. Hulle sou jou ook daarop wys dat Judas vroeër geloop het terwyl die pasga eintlik nog aan die gang was, etc. Ek dink jy kry die idee.

    1. Ek sien nie in die Skrif dat Judas nie die sakramente ontvang het nie:

      25 En Judas, wat Hom sou verraai, antwoord en sê: Is dit miskien ek, Rabbi? Hy antwoord hom: Jy het dit gesê.
      26 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.
      27 Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
      28 Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. (Matt. 26:25-28 A53)

      19 Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.
      20 Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.
      21 Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel.
      22 Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!
      23 Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen. (Lk. 22:19-23 A53)

      So bely ons ook NGB art. 35, o.a. die volgende oor die nagmaal:

      “Verder, hoewel die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort, word nie beide deur alle mense ontvang nie (1 Kor. 2:14).

      “Die goddelose ontvang wel die sakrament tot sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die sakrament nie. So het Judas en Simon die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus, wat daardeur voorgestel word nie (Lukas 22:19-22; Handelinge 8:13; Handelinge 8:21). Hý word slegs aan die gelowiges gegee (Joh. 3:36).”

      1. Net vir die rekord, ek stem 100% met jou saam. Ek wou maar net daarop wys dat mens gereed moet wees vir die tipe vrae/kritiek.

      2. Is reg so, het dit ook so verstaan, en daarom het ek die antwoord gegee oor die moontlike Judas vraag. Groete.

  2. Die soetheid van Gereformeerdheid met Die Geloof gee ons soveel berusting in ons kinders se ewige toekoms. Die wederdopers en bekering en dan doop laat die Baptiste onseker wag wanneer hulle kinders tot bekering gaan kom. Indien jy nie begryp wat die verbond werklik beteken nie en die belofte dat kinders van gelowige ouers uitverkies is dan wanneer jou kind sterf op n seker jong ouderdom en hy het nie sy hart vir die Here gegee nie dan is dit n wrede saak vir die Baprtiste. Ons weet ook dat Gereformeerdheid het die antwoord van berusting daar dat die baba wat sterwe is uitverkies. Die Roomse sienswyse dat babas en jong kinders is gered want hulle was nog nie verantwoordelik vir hulle keuse nie. Nou vra ons wanneer jy tien is, of 16 of 18 wanneer is jy nou verantwoordelik vir jou keuse? Die antwoord is mos ons is voor geboorte of met geboorte al uitverkies en babas is nie onskuldig nie.
    Jy word aan desepsie oorgegee wanneer jy nie die verbond begryp nie, dit is so eenvoudig maar word deur mistasting van die Woord verdraai en die Leunaar is daar baie betrokke. Die begin by die wederdoop en die verwerping van die verbond dan is jy in die moeilikheid want daar begin die oorgee aan desepsie. Net soos die wederdopers in Munich, hulle het begin profeteer, soos charismanie opgetree en wou n koningkryk nou stig. Wat hulle dink is geestelik is aards hulle Kanaan is nou met n 1000 jarige sogenaamde koningkryk, materieele rykdom nou, en nie geestelike rykdom nie, fisiese genesing nou en nie sonde genesing nie. voortuitgang nou, Tempel met steen en witkalk nou en nie die Steen van aanstoots nie wat ewig bestaan. Hulle kan nie meer opkyk na n hemelse Tempel nie.

    1. As jy sê “Die wederdopers en bekering en dan doop laat die Baptiste onseker wag wanneer hulle kinders tot bekering gaan kom,” beteken dit dat die kinders van gelowiges nie tot bekering hoef te kom in die Gereformeerde kerk nie?

  3. Slabbert, ek dink nie dat jy die Baptistiese siening korrek voorstel nie, en jy spreek jouself uit teen ’n siening wat hulle nie handhaaf nie – in elk geval nie vooraanstaande figure in die Baptistiese kringe nie, en ek twyfel baie sterk of John Piper ’n ander standpunt sou huldig. Hulle sê nié “dat daar in die NT net ‘geestelike kinders’ in die sigbare kerk is” nie, en dit sou nie reg wees om hulle sodanige woorde in die mond te lê nie. Wat hulle wel sê is dat daar in die NT sigbare kerk, sover dit moontlik is – en dit word gedoen op grond van ’n belydenis van geloof – slegs uit gelowiges behóórt te bestaan. Hulle sê nie dat dit haalbaar is nie, en dit is juis om hierdie rede dat hulle iets soos kerklike tug moet beoefen en dit in die praktyk inderdaad ook doen. Maar die Gereformeerde kerk is nie gevrywaar van die poging om die kerk suiwer te hou nie, want ook in die Gereformeerde kerk is kerklike tug veronderstel om plaas te vind. (Hierin wil dit voorkom asof daar moontlik inkonsekwentheid is, want kerklike tug is veronderstel om ongeloof, wat in leer of lewe reflekteer, uit die gemeente te verwyder, maar dit kan myns insiens slegs reg toegepas word onder die aanname dat die kerk slegs uit gelowiges behoort te bestaan.) Verder het ’n teoloog soos Paul K. Jewett etlike jare gelede al uitgewys dat Reformatoriese paedobaptiste inkonsekwent is wanneer hulle kinders weerhou van die nagmaaltafel. (Het die Joodse kinders nie ook pasga gevier nie? Mag “verbondskinders” nie die nagmaal as ’n “sakrament van die verbond” vier, soos die Joodse kinders die pasga gevier het nie?) Die hele gedagte van belydenisaflegging en die feit dat slegs diegene wat belydenis van geloof afgelê het aan die nagmaaltafel behoort te sit, met 1 Kor. 11 in gedagte, veronderstel ’n siening dat daar eintlik slegs gelowiges in die kerk behóórt te wees.

    1. Pieter, ek dink jy moet weer Piper se artikel gaan lees, dalk verstaan jy nie sy standpunt, asook die baptiste se standpunt oor die algemeen goed nie.

      Die rede waarom hy die artikel skryf, is juis om te verduidelik waarom die kerk in die NT verbondsbedeling nie meer ook uit volwassenes én kinders bestaan nie. En dan verduidelik hy dit juis as dat in die NT bedeling die kerk sogenaamd nie meer ‘n ‘mixed’ gemeenskap is nie, maar nou net ‘spiritual’, wat daartoe lei dat kinders wat nog nie ‘glo’ nie, dus nog ‘vleeslik’ is, en daarom buite die kerk staan, en dus nie die teken van die doop mag ontvang nie.

      Sien my opvolg artikel wat ek vandag geskryf het, dit sal die saak dalk vir jou duideliker maak:

      “Behoort kindertjies ook aan die koninkryk, verbond en kerk van die Here, en moet daarom gedoop word?”

      Ons probleem met die baptiste is nie dat hul strewe na ‘n heilige geestelike kerk nie, ons as gereformeerdes doen dit ook !

      Ons probleem met die baptiste is dat hy dink die ‘geestelike vs vleeslike’ geld nie ook vir almal wat gedoop word, ook dus grootdoop nie, en daarom is die kerk – volgens die hele Skrif – altyd ‘gemeng’, ook in die NT, want, in die NT kerk is daar

      “kinders van die vlees, en kinders van die belofte” in,

      – beide bedelinge, OT en NT, en
      – onder babas, kinders én ook onder volwassenes, wat tog albei gedoop word.

      So sy hele OT – NT verbondsbeskouing is ook nie reg nie, en dit beinvloed sy siening van kerk, wie behoort aan die kerk, en wie dan ook die teken van die verbond, die doop moet ontvang of nie.

      1. Oor die ‘konsekwentheids’ argument, nl. dat ‘omdat’ kinders in die OT aan die pasga gedeel het, daarom moet hul ook in die NT aan die nagmaal deelneem, is ek van plan om dalk ‘n artikel op sy eie daaroor te skryf.

        Ek kan kortliks vir nou net die 2 volgende sake noem:

        1. dit is nie so duidelik dat kinders, veral klein kindertjies aan die pasga gedeel het nie. Interessant, ek is van mening as baptiste daardie afleidings maak uit daardie OT tekste, hoekom kan hul dan nie dieselfde afleiding maak oor die ‘huistekste’ in die NT aangaande die doop nie ?

        2. daar moet duidelik, in navolging van die Skrif onderskei word tussen die twee sakramente.

        Baptiste (saam met kindernagmalers), meen die een saak moet lei tot die ander: besnydenis en pasga vir kinders in OT, daarom doop en nagmaal in NT. Dit blyk egter nie so volgens die Skrif te wees nie, luister gerus na hierdie goeie uiteensetting van die saak (o.a. ons is passief in die doop as teken van ‘n [eenmalige] inlywing in verbond/kerk wanneer dit God behaag, teenoor ons is [voortdurend, herhalend] aktief in die lewe in die verbond/kerk = met die nagmaal.

        “If Infant Baptism, why not Infant Communion?”

        https://www.sermonaudio.com/sermoninfo.asp?m=t&s=928091527233

      2. Dit mag dalk wees dat Piper (en moontlik Baptiste oor die algemeen) nie so ’n skerp onderskeid tref tussen die “sigbare kerk” en die “onsigbare kerk” as in die Gereformeerde Kerk nie – nou dat ek daaraan dink – maar dit mag dalk dan ook juis om hierdie rede wees dat ’n mens een artikel van Piper kan verkeerd verstaan in die lig van sy teologie in geheel. Ek is seker dat as ’n mens hom reguit daaroor sou uitvra, hy sou beaam dat daar mense is wat hulle geloof bely het, gedoop is, as deel van die kerk gereken is, en nie gered is nie. Maar ek dink ek is vertroud genoeg met die Baptistiese siening dat ek gronde het om te beweer dat jy nie die Baptistiese standpunt heeltemal korrek formuleer nie.

        Hier is ’n aanhaling uit ’n boek deur Schreiner & Wright (2006) met die titel “Believer’s Baptism – sign of the new covenant in Christ,” wat ’n samestelling van artikels deur verskeie Baptiste is:

        “Paedobaptists often say that Baptists do not escape the charge of a mixed community since some of those who claim to be converted do not truly belong to the people of God. It is true, of course, that some of those who claim to believe are subsequently revealed to be inauthentic (e.g. 1 John 2:19). Nevertheless, a profound difference still exists between Baptists and paedobaptists, for Baptists do not allow anyone into the church without trying to discern whether the person is truly saved, whereas paedobaptists knowingly include some who do not believe into the covenant community” (bl. 3)

        Paul K. Jewett (1978:149) skryf aangaande dieselfde saak:

        “When one says, then, that Baptists baptize on presumption, he is simply saying that they accept a human profession of faith as credible without claiming infallibly to know the heart. Hence their trust may be deceived.”

        Dit is goed en wel om te verduidelik waarom ‘n mens verskil van ‘n standpunt wat deur iemand anders gehuldig word, maar dan moet die ander persoon se standpunt, sover moontlik, so aangebied word dat daardie persoon sal kan beaam: “ja, dit is wat ek sê”. Ek besit heelwat literatuur oor beide kante van die debat, en ek is nie oortuig dat jy die Baptistiese siening heeltemal korrek weergegee het nie.

    2. Pieter, ek dink die aanhalings uit die twee baptistiese bronne bevestig dan juis die probleem en/of inkonsekwentheid van die baptistiese standpunt, nl.

      – dat hul blykbaar meen dat kinders nie wedergebore kan wees, en nie enige vorm van geloof kan hê nie (sien Ursinus se aanhaling in my nuutste artikel), en

      – dat hul dink die sigbare kerk van NT is dus, volgens hul redenasies, wesentlik anders as die kerk van die OT, soos hul self daar skryf:

      “…or Baptists do not allow anyone into the church without trying to discern whether the person is truly saved, whereas paedobaptists knowingly include some who do not believe into the covenant community”

      Die OT kerk, die gelowiges van die OT het ook kindertjies ‘knowingly’ gesien as deel van die ‘covenant community’, so hierdie skrywers meen hul was verkeerd in daardie siening van die verbondsgemeenskap, en nou word dit darem ‘reggestel’ in die NT gemeenskap?

      Dit is die wesentlike verskil, die baptiste veronderstel dat kindertjies kan nie gered wees, glo, gewederbaar wees as klein kindertjies nie, ten minste nie, totdat hulle as volwasse mense dit kan ‘discern’ nie ?

      Soos vir baptiste, is vir ons gereformeerdes – volgens ons leer (in die praktyk is daar ongelukkig ook ongehoorsaamheid en inkonsekwentheid) dit ook belangrik om by volwassenes te onderskei wie gelowig is en gedoop moet word, en as kinders gedoop word, dat die ouers gelowiges is.

      Maar ons erken ook die Here se aaneming van gelowiges se kinders, in beide OT en NT, as deel van die kerk, koninkryk en verbond, en aan hulle, soveel meer, moet dan ook aanvaar word dat hul kinders van die Here is, totdat die teendeel blyk in hul leer en/of lewe.

      As iemand soos Jewett dan erken dat as hul grootdoop, dit nie onfeilbaar beteken dat elkeen wat grootgedoop is werklik wedergebore, gered is, geloof het, ens. nie, dan bevestig dit juis ons argument aan die baptiste: daarom kan julle ook nie die doop weerhou van kindertjies nie, want ook ons weet dat elke kind wat gedoop word, nie noodwendig wedergebore, gered, geloof het, ens. nie.

      Daarom doop ons o.g.v. God se bevel en belofte, dat Hy sy uitverkorenees vergader onder beide volwassenes (wat openlik kan bely), asook hulle wat – in ons oë – nog nie kan bely of getuig nie, klein kindertjies, maar wat die Here wel van weet, sy kinders is.

    3. “Hierin wil dit voorkom asof daar moontlik inkonsekwentheid is, want kerklike tug is veronderstel om ongeloof, wat in leer of lewe reflekteer, uit die gemeente te verwyder, maar dit kan myns insiens slegs reg toegepas word onder die aanname dat die kerk slegs uit gelowiges behoort te bestaan.”

      Die doel van tug is nie om onstlae te raak van ongeloof en dus ongelowiges nie, dit is eerstens ‘n liefdes handeling om gelowiges tot inkeer te bring (Heb 12). Wanneer iemand in sonde leef is die eerste aanname nie: “Aha, ongelowige, onkruid, trek hom uit” nie. Die aanname is dat dit ‘n gelowige is, wat gestruikel het en opgehelp moet word (Gal 6:1).
      Dat ongelowiges nie tug kan verdra nie en tot gevolg breek met die kerk is ‘n byproduk, dit was nie die oorspronklike doel met tug nie. Vgl Matteus 13:24-30

      1. Kerklike tug is veronderstel om in liefde te geskied, ja, wat insluit dat ‘n betrokke persoon vir solank moontlik voordeel van die twyfel geskenk word en as gelowige beskou word. Maar ek stem nie saam met die stelling “Dat ongelowiges nie tug kan verdra nie en tot gevolg breek met die kerk is ‘n byproduk” nie. (Matt. 13:24-30 het myns insiens in elk geval niks te doen met kerklike tug nie, en praat van gelowiges en ongelowiges wat saam leef in hierdie wêreld, soos Matt. 13:38 ook uitdruklik sê: “… die saailand is die wêreld”).

        Die Kerkorde lê nie die inisiatief om met die kerk te breek by die persoon onder tug nie, maar “Diegene wat … hardnekkig in die sonde volhard, moet eindelik met die laaste tugmiddel … afgesny word” (Artikel 77). So ook 1 Kor. 5:2: “… sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit”. Matt. 18:17 is duidelik dat die persoon op ‘n sekere punt nie meer as gelowige hanteer behoort te word nie: “…as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.” En 1 Kor. 5:7 gee ‘n motivering saam: “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees …”

        (Hebreërs 12 handel oor Goddelike tug, nie kerklike tug as sodanig nie.)

      2. Op watse gronde maak jy ‘n onderskeid tussen kerklike tug en Godelike tug asof die twee niks met mekaar te make het nie?

        Matteus 18:18: ““Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit,
        sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit,
        sal in die hemel oopgesluit bly.”

      3. Wat my betref is dit duidelik dat Heb. 12 en Mat. 18 nie oor dieselfde saak praat nie – vandaar die onderskeid – want Heb. 12 praat nêrens van die kerk se betrokkenheid by die tug wat daar beskryf word nie, en Matt. 18 praat nie van Goddelike tug as sodanig nie. (Dit beteken nie dat Goddelike tug nie soms in die vorm van kerklike tug kan manifesteer nie, en dit het ek ook nie gesê nie, maar die tekste self trek nie ’n direkte verband daartussen nie.) Bowendien, as Goddelike tug slegs in kerklike tug gemanifesteer het, dan moes kerklike tug baie meer algemeen voorgekom het in die lig van Heb. 12:7: “Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”

        (Ek glo nie Mat. 18:18, soos ook Mat. 16:19, suggereer noodwendig dat ons van Goddelike tug praat nie; die vers gaan oor ’n ander saak, naamlik die gesag wat aan die kerk gegee is.)

  4. Ek sukkel bietjie om die argument aangaande Galasiërs 3 te volg.

    SLC sê byvoorbeeld: “Maar die groter en belangriker vraag is: uit wie het die ‘remnant’ bestaan in die OT, slegs uit volwassenes, of ook uit kinders, d.w.s. gelowiges en hul kinders ? Slegs volwasse uitverkorenes, of ook hul uitverkore kinders? Dus, bestaan die Kerk van die Here, in beide bedelings uit ‘net volwassenes’ of ‘ volwassenes en kinders’, wat danksy die Here se genade en vrye welbehae, op grond van die bloed van Christus, geheilig, gered en regverdig is ?”

    Dalk verstaan ek dit verkeerd, maar dit klink asof geïnsinueer word dat Baptiste nie erken dat kinders ook deel van die oorblyfsel (‘remnant’) kan wees nie. Indien dit is wat bedoel word, is dit eenvoudig nie waar nie, want hulle siening is wel dat kinders deel van die uitverkorenes kan wees. (Trouens, hulle onderskei nie tussen volwassenes en kinders per se nie, maar tussen dié wat glo en dié wat nie glo nie of nog nie glo nie). Maar wat hulle wél sê, is dat die kinders van gelowiges nie outomaties – d.i. sonder geloof, en op grond van bloedafstamming – noodwéndig ook deel is van die “oorblyfsel” of uitverkorenes omdat hulle ouers glo nie. Ek sien nie waar Galasiërs 3 dit impliseer nie, en ek is ook nie oortuig dat dit ’n Gereformeerde siening is waarmee almal sal saamstem nie. Daar is immers verskeie Gereformeerdes wat veronderstelde wedergeboorte (of veronderstelde uitverkiesing) verwerp.

    SLC sê: “In vers 19 noem Paulus van ‘die saad aan wie die Belofte gedoen is’, ’n verwysing na Gen. 13 en 17, en daar staan dit dat die Belofte is aan ‘jou en jou nageslag’, aan Abraham en sy kinders, daarom dat hul ook [die] teken van die verbond en belofte ontvang het.”
    Die verwysing is hier na Galasiërs 3:19, wat naamlik sê: “Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ’n middelaar.” Verskeie kommentators verstaan dat “die saad” na Christus verwys, soos dit duidelik in die konteks – vers 16 – gestel word. Ek verstaan daarom nie hoe hieruit afgelei kan word dat “Abraham en sy kinders, daarom … ook [die] teken van die verbond en belofte ontvang het” nie. Die hele argument van Paulus, soos ek dit verstaan, is dat die belofte aan “die Saad” – Christus – toegesê is (vers 16), en dat gelowiges, omdat hulle IN Christus is deur die geloof (vers 22, 26-27), saam met Christus die belofte ontvang (vers 29). In die konteks (vers 14) is die belofte “die Heilige Gees” wat deur die geloof ontvang word.

    1. Pieter, Piper skryf:

      “The Church (Piper verwys nou na die NT kerk -slc) is not to be a mixed heritage like Abraham’s seed. The Church is not to be like Israel—a physical multitude and in it a small remnant of true saints. The Church is the saints, by definition. The Church continues the remnant. As verse 28 (Gal. 3 – slc) says, the Church is “like Isaac, children of promise.”

      Daar sê hy dit uitdruklik waarom kinders in die NT nie die verbondsteken ontvang nie, want Abraham se saad het bestaan uit volwasse gelowiges en hul kinders, maar nou, in die NT is dit net die ‘remnant’, dus hulle wat ‘glo’, dus net volwassenes ?

      Nou, as hy meen die kerk is al die uitverkorenes, dus ook klein kindertjies, nou wat dan die probleem ? Kan babas nie ook wedergebore en uitverkore wees nie ? Natuurlik almal wat die Here uitverkies het, onder beide volwassenes en kindertjies.

      Dus, die ‘remnant’ in beide die OT en NT is die uitverkorenes onder volwassenes (hulle wat ‘bely’) en onder kindertjies (wat die Here weet).

      So in die OT het hulle wat bely, Abraham het geglo .. en hy het die teken ontvang, so ook sy kinders (al was daar nie-uitverkorenes onder hulle, bv. Ismael, Esau later, ens.)

      Netso as iemand nou tot geloof kom as volwassene, dan ontvang hy die teken, en so ook sy kinders, al is daar nie-uitverkorenes onder hulle, die Here weet wie syne is.

      Netso, as baptiste doop, dan weet hulle dat nie noodwendig almal uitvekorenes is wat ‘grootgedoop’ is nie, en ons weet dit ook so met al ons kinders wat gedoop is, die Here weet wie syne is.

      Maar, as die oordeel van liefde oor volwassenes gehandhaaf word, tot die teendeel blyk, hoeveel te meer vir kindertjies van gelowiges? Die oordeel van liefde is daar, totdat die teendeel blyk as hul later groter word. Dan moet daar natuurlik oproep tot bekering, vermaning, tug, ens. plaasvind.

      Gal. 3:28 waarna Piper verwys as die ‘remnant’ gedagte, was dus waar reeds in die OT, nie net nou in NT bedeling nie. Die ‘mixed seed’ gedagte is ook nog vandag ‘n realiteit, daarom is die ‘remnant’ gedagte nie ‘n rede om kinders opsigself uit te sluit uit die kerk en verbond in vandag se remnant- mixed seed voortsetting nie. Gelowiges en hul kinders moet ook die teken van die verbond ontvang, soos die Here beveel het, in die NT tye. Hy bepaal soewerein die remNant, onder volwassenes en kindertjies, nie ons deur wanneer ons die doopteken bedien nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: