REFORMASIE 500: DIE KINDERBESNYDENIS
HOE GEREFORMEERDES EN (ANA)BAPTISTE DAAROOR VERSKIL (deel 2)
deur prof. L. Floor
[Geneem uit prof. Floor se boek: Die Heilige Doop in die Nuwe Testament, bl.13-19. Opskrif bygevoeg. Deel 1 kan hier gelees word]
“En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof.” – Romeine 4:11
Die kinderbesnydenis
Ons het gesien dat die besnydenis van Abraham geheel en al ‘n volwassenebesnydenis was. Maar nou kry ons in die Ou Testament die merkwaardige verskynsel dat dieselfde besnydenis wat Abraham ontvang het en wat ‘n teken en ‘n seël van die geregtigheid van die geloof is, ook deur sy huis ontvang moet word.
Die volwassenebesnydenis gaan oor in ‘n huisbesnydenis (Gen. 17:12-14). Die volwassenebesnydenis word selfs ‘n suigeling-besnydenis (Gen. 17:12). Kinders wat nog maar agt dae oud is, moet besny word. Die vraag kan gestel word: Hoekom moet Abraham die klein kindertjies besny terwyl daar by hulle nog geen geloof is soos dit by Abraham die geval is nie? Die antwoord is eenvoudig: Omdat die Here dit beveel het.
Ons kan nog wel verstaan dat die kinderbesnydenis die teken van die verbond is, maar kan ons die kinderbesnydenis nog wel ‘n seël van die geregtigheid van die geloof noem?
Sonder enige twyfel, want die Here het dit so ingestel en beveel.
Dit is beslis nie so dat die volwassenebesnydenis van die kinderbesnydenis verskil nie. Ons lees in Gen. 17:26 dat Abraham en Isak, vader en seun, op een en dieselfde dag dieselfde besnydenis ondergaan het. Ook aan die kindertjies word deur die sakrament van die besnydenis die waarborg gegee dat hulle deur geloof gered word. Hierdie waarborg ontvang hulle nie omdat hulle reeds glo nie. Nee, God gee selfs hierdie waarborg aan hulle wat nog glad nie glo nie. Wel roep die besnydenis die kindertjies tot geloof op.
Daarom moes die Joodse ouers die kinders ook in die verbond van die Here opvoed. Ook al dwaal die volk Israel van die Here af weg, ook al neem hulle die verbond met God nie ernstig op nie, dan nog is die besnydenis die teken van die verbond en die seël, die waarborg, dat elkeen wat glo, gered sal word. Maar dan moet die volk tot die Here teruggeroep word; dan moet ook die harte van die mense wat besny is, besny word.
Maar teenoor die seën wat God op verbondsgehoorsaamheid skenk, staan ook die dreiging van die vloek vir verbondsongehoorsaamheid (Lev. 26:14-39; Deut. 28:15-68). Die Ou Testament toon baie duidelik aan dat die besnydenis as sodanig nie voldoende is om die seën van die verbond: die geloofsgeregtigheid, te ontvang nie. Die hart moet ook besny word. Op die besnydenis moet die bekering en die geloof volg. In Eseg. 44:7 word die onbesnedenes van hart en die onbesnedenes van vlees selfs op een lyn geplaas. Die besnydenis van die liggaam is dan ook nooit ‘n waarborg dat die hart ook besny is nie.
Daar was in Israel die voortdurende gevaar van veruitwendiging van die besnydenis en van devaluering van die verbond. Die geestelike betekenis van die besnydenis, naamlik dat dit die teken van die verbond en die seël van die geregtigheid van die geloof is, is dikwels onder die volk Israel uit die oog verloor. Wanneer dit gebeur het, het die Here tog nie die besnydenis as sonder enige waarde beskou nie, maar Hy het sy profete gestuur om die volk op te roep tot terugkeer na die Here, tot ‘n verstaan van die ware, geestelike geloofsbetekenis van die besnydenis.
Ook al het die hele volk Israel van die Here afgedwaal, ook al is almal tevrede met die uiterlike teken van die verbond, dan bly die besnydenis tog nog die seël van die geregtigheid van die geloof. Maar wanneer daar geen geloof is nie, kan die geregtigheid nie ontvang word nie, en dan kan die versekering van die regte verhouding tot God nie geniet word nie.
Uit die voortsetting van die volwassenebesnydenis in die kinderbesnydenis kan ons leer dat die volgorde: geloof — besnydenis, wat vir Abraham by die verbondsluiting gegeld het, ook omgekeer kan word: besnydenis —geloof.
Blykbaar is volgens die duidelike onderwysing van die Skrif by die kinders die volgorde juis omgekeerd: eers besnydenis en daarna geloof. Dit beteken hoegenaamd nie dat die kinderbesnydenis van minder gehalte as die volwassenebesnydenis is nie. Maar dit beteken wel dat die kinderbesnydenis om die besnydenis van die hart roep, dat die kinderbesnydenis vra om die geloof wanneer die kind opgroei.
Ons moet by die besnydenis baie goed onderskei tussen die moment van die besnydenis en die resultaat van die besnydenis. Die geloof het met die resultaat van die besnydenis te doen. Paulus wys op die twee elemente wanneer hy skrywe oor die doop van die volk Israel in Moses in die wolk en in die see. Almal (Gr.: pantes) is gedoop (1 Kor. 10:2), maar in die meeste van hulle (Gr. en tois pleiosin autōn) het God geen welgevalle gehad nie (1 Kor. 10:5). Sommige (Gr.: tines) was afgodedienaars, het gehoereer en gemurmureer en Christus versoek (1 Kor. 10:7,8,9,10).
In sy kommentaar op Rom. 4:11 wys Calvyn daarop dat die besnydenis by Abraham op die regverdiging volg maar dat by Isak en sy nakomelinge die omgekeerde die geval is. Ons kan hieruit die baie belangrike les leer dat ons ons nie op een volgorde, naamlik die van geloof— besnydenis, moet vaspen nie. Wanneer die Here in die instelling van die huisbesnydenis en die kinderbesnydenis die sakrament van die besnydenis aan die geloof vooraf laat gaan, mag ons nie sê dat dit nie kan nie. Dan wil ons wyser wees as God.
Ten slotte moet daar nog op gewys word dat ook die natuurlike faktor van bloedafstamming reeds in die Ou Testament nie as basis vir die besnydenis gedien het nie. Soos ons reeds gesien het, was die kinderbesnydenis eintlik ‘n huisbesnydenis. Ons mag die besnydenis in die Ou Testament nie tot ‘n suiwer vleeslike saak van bloed, voortplanting en nasionale afkoms beperk nie. Dit is die groot fout van Karl Barth dat hy die besnydenis net op die natuurlike geboorte beperk.
Daar is wel ‘n biologiese motief met betrekking tot die besnydenis, maar daardie motief is nie deurslaggewend nie. Die natuurlike gebeure van voortplanting, wat ‘n skeppingsopdrag van God is, word in God se verbond nie onderbreek of verontagsaam nie maar in berekening gebring: vir jou en jou nageslag geld die verbond (Heyns, 1978:342). God se genadewerk slaan nie atomisties individualisties in die geskiedenis in nie maar vloei in die skeppingsmatige verbande tussen ouers en kinders.
Die besnydenis is in die Ou Testament ‘n huisbesnydenis (Gen. 17:12). Eie kinders maar ook slawe en hulle kinders moes die sakrament van die besnydenis ontvang. Hier gaan dit nie primêr om Abraham en sy biologiese saad nie maar om Abraham en sy huis. Die huis beteken dan die leefruimte, die leefklimaat van Abraham. Daardie klimaat en daardie ruimte word immers deur die heilryke teenwoordigheid van die God van die verbond beheers (Graafland, 1979:25).
In die besnydenis – ook in die kinderbesnydenis – sien ons reeds dieselfde motief wat later ook vir die doop van Johannes kenmerkend sou wees: die heenwysing na Hom wat die geregtigheid deur sy lyding en sterwe bewerk het.
Die unieke en die besondere van die besnydenis in die Ou Testament is dat daarin ‘n heenwysing geleë is na die heilsgebeure in Christus. Wanneer Paulus in Rom. 4:11 die besnydenis ‘n seël van die geregtigheid van die geloof noem, bedoel hy daarmee die geregtigheid wat hy in Rom. 3:21-31 as die geregtigheid van Christus aangedui het.
Hoewel die besnydenis as teken ‘n seël van die geregtigheid van die geloof is, is dit tog nog ‘n onvervulde teken. Die besnydenisgestalte is die beloftegestalte. Die geregtigheid waarheen die besnydenis wys, moet nog deur Christus volbring, verwerf word. Maar tog kan Abraham deur die geloof reeds daarin deel.
Die besnydenishandeling self gaan ook nog met bloed gepaard. Die bloedgestalte wys op die heil in Christus. Dit is kenmerkend vir die verkondiging van die heil in die Ou Testament dat dit met bloed gepaard gegaan het. Die hele offerdiens is daarvan die duidelikste voorbeeld.
Die besnydenishandeling kom dan ook tot ‘n einde nadat Christus sy bloed gestort het. Dan kom daar ‘n ander teken en seël waarby geen bloed meer hoef te vloei nie.
______________________________
Deel 1 kan hier gelees word.
Prof Paul de Bruyn se resensie van prof. Floor se boek.
Sien ook prof Floor se kleiner boekie oor die onderwerp: Grootdoop, kinderdoop, herdoop