WEES GEWAARSKU!
Plek en datum: GK Matlabas 2017-07-17
Lees: Psalm 1 en 2
Teks: 2:10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde!
Tema: ‘n Waarskuwing teen die grondwet.
Psalms: 92:1,2; 92:3,4; 1:1,2; 2:1,2; 2:5,6.
Prediker: ds. Gustav Opperman
(Nota: hierdie en ander preke van ds. Opperman kan ook hier op youtube gekyk word: Woorde uit sy Woning)
________________________________
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
So was die skole nou weer in die nuus …
meer spesifiek die hofsaak rondom godsdiens in skole …
So het die regter die uitspraak gelewer,
heeltemal korrek volgens die land se grondwet,
dat daar wel godsdiens op skool mag wees …
dat die staat se skole wel
die Christelike geloof mag verkondig,
maar hulle mag nie Jesus
as die enigste weg en die waarheid
en die lewe verkondig nie.
Dit sou diskriminerend teenoor ander gelowe wees.
Volgens die land se grondwet is dit heeltemal korrek …
en u weet,
so word daar gesê:
Suid-Afrika het een van die beste grondwette in die wêreld.
Hoe moet die geloofsgemeenskap hierop reageer?
Die Tussenkerklike Raad,
bestaande uit die NG Kerk, die Hervormde kerk
en ook ons kerkverband, die GKSA
het ‘n verklaring uitgereik
wat sy verligting uitspreek
dat ons eintlik maar kan aangaan
soos ons nog altyd aangegaan het.
Een koerantopskrif lui:
Bly koelkop en sien dat almal wen.
Dis geskryf deur ‘n voormalige redakteur van die Kerkbode.
Bly koelkop, moenie opgewonde raak nie.
Almal kan wen in die situasie.
Dis ‘n wen-wen situasie.
Liewe Jesus wen, Allah wen, Krishna wen,
Boeddha wen, die Ateïs wen,
die Voorvaders wen, almal wen.
Is die nie wonderlik nie?
Ons het darem nog ‘n grondwet
wat nie soos die Amerikaanse grondwet
heeltemal téén godsdiens is nie.
Maar sê nou, broeders en susters,
sê nou ek dien ‘n HERE, ‘n jaloerse God,
‘n HERE wat vir sy volk gesê het:
Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.
‘n HERE wat nie van ‘n wen-wen situasie deel wil wees nie,
maar Een wat die eindes van die aarde
as sy besitting opeis?
Een wat nie koelkop gaan bly nie,
Een Wie se toorn gou kan ontvlam,
soos ons in Psalm 2 gelees het?
As dit my HERE is,
dan moet ek soos Dawid die mense waarsku,
die owerhede, bewindhebbers en meningsvormers waarsku:
Wees dan nou verstandig, o konings;
laat julle waarsku, o regters van die aarde
Julle is besig
om op die rand van die vulkaan te speel.
Kom ons kyk in meer besonderheid na Psalm een en twee.
Volgens baie verklaarders kan die twee psalms
as ‘n inleiding tot die hele Psalmbundel gesien word.
Hulle moet dan ook as ‘n eenheid beskou word.
Hulle behoort saam gelees te word.
Psalm 1 begin met die welgeluksaliges
en Psalm 2 word met dieselfde welgeluksaliges afgesluit.
Die welgeluksaliges is die mense
wat nie net wel is nie,
wat nie net gelukkig is nie,
maar boonop nog salig is.
Beter kan jy nie kry nie.
Teenoor hulle is daar ‘n ander soort mens:
goddeloos …
nie noodwendig sonder godsdiens nie,
maar wel sonder die ware God,
sonder die beskerming van God se Seun, die Gesalfde,
Goddeloos.
Ellendiger kan jy nie kry nie.
Dis die uitwerking van die verskriklike kloof
wat dwarsdeur die Bybel loop …
van Genesis 3 af
waar die Saad van die vrou
teenoor die saad van die Slang gestel word
tot die laaste verse in die boek Openbaring
waar die regverdiges
tot die poorte van die heilige stad toegelaat word.
Hulle geniet die vrugte van die boom van die lewe,
geplant by die hemelse waterstrome …
Die boom van die lewe en die vrugte daarvan …
is hulle s’n.
En die goddeloses
almal wat leuens liefhet en dit doen (Op 22:15)?,
Hulle sal buite gelaat word…
Hulle is nie te vinde
in die vergadering van die regverdiges nie.
Dis die verskil tussen die koring en die kaf,
waarna Johannes die Doper ook verwys het.
Net nog iets oor die Psalms
en hulle rol in die Bybel.
Ons moet verstaan
dat toe die meeste van die psalms geskryf was,
was daar eintlik nog net vyf boeke van die Bybel beskikbaar …
die eerste vyf boeke van Moses
of die Pentateug, soos dit bekend staan.
Nie dat dit baie saak maak nie,
want die Pentateug of die Wet,
soos dit ook genoem word,
bevat die kern van dit
wat in elk geval in die res van die Bybel staan.
Die verlossingsboodskap is daar.
Die waarskuwinge en die oordele …
dis alles reeds daar.
So, wanneer Dawid die gelowiges oproep
om die HERE se wet te oordink,
dag en nag te bepeins
wanneer hy daardie onderskeid tref tussen
die kring van die spotters en die regverdiges,
dan verwys hy eintlik na diegene
wat erns maak met die HERE se woord.
wat erns maak met die Bybel van destyds,
die eerste vyf boeke van Moses.
In daardie boeke lees ons reeds genoeg
van die mens se opstand teen die HERE,
van die mensdom se hoogmoed,
van hulle planne en hulle samesweringe.
Hulle samesweringe
om die bande van God se wet stukkend te ruk,
om die toue van God se verbondsbepalinge
van hulle af te werp.
Van Adam af na Kain na sy nageslag
tot die konings van Kanaän tot die toringbouers van Babel
tot die Sodomiete tot die Egiptiese Farao’s
tot die Amalekiete tot die Moabiete
tot die sameswering van Balak en Bileam …
Die konings van die aarde staan gereed,
en die vorste hou saam raad teen die Here
en teen sy Gesalfde [en sê:]
Laat ons hulle bande stukkend ruk
en hulle toue van ons afwerp.
Hulle hou saam raad.
Die raad van die Goddeloses van Psalm een
brei uit tot die raad van konings
en vorste en regters in Psalm twee.
Dis nie net meer gewone Goddeloses
wat hulself bokant God se wet stel nie,
dis nie net die simpel sondaars
wat neersien op die HERE se woord nie,
dit is ook die maghebbers, die meningsvormers, die ikone,
die professore, die kenners …
en hulle kom saam,
hulle hou saam kodesa
hulle vorm alliansies …
hulle skryf hulle eie grondwette …
hulle stel hulle eie manifeste op …
Ons het nie die HERE se wette nodig nie,
sê hulle.
Ons gaan ons nie deur die Tien Gebooie
of wat ookal laat bind nie.
Maar meer nog, hierdie opstand is persoonlik …
dis nie net gerig teen die wetboek nie …
dis ook gerig teen die heilige Wetgewer self.
Die vorste hou saam raad teen die HERE
en teen sy Gesalfde.
Dis gerig teen die HERE se Gesalfde, teen sy Christus.
Dis die gerig teen die Een
wat die Vader aangestel het
om alles wat in die wetboek staan,
uit te voer.
Dis gerig teen die Lam van God.
Hulle sê,
net soos Farao gesê het:
ons het nie hierdie HERE nodig nie.
Ons het ons eie gode …
die gode van die Nyl sorg vir ons,
die Songod sorg vir ons …
Trouens ons Farao’s is self gode.
Kyk hoe ongelooflike indrukwekkend is die piramides
wat vir hulle gebou is!
Daarom,
terwyl die Israeliete met heilige ontsag besig was
om hulle huise met die bloed van die Pasgalam beveilig,
gaan Farao en sy mense hulle gewone gang …
Toe,
terwyl die Israeliete bewend
agter hulle bebloede deurkosyne skuil,
kom God se oordeel oor die land …
en daar was nie ‘n Egiptiese huis,
wat nie deur die dood getref was nie.
En dit was die Tiende plaag,
nadat daar al nege ander was,
nege ander plae
om die Egiptenare en Israel te waarsku:
moenie met die HERE se genade speel nie.
Daarna het die Farao en al sy manne in die Rooi see verdrink.
Die bloed van die Pasgalam red, broeders en susters.
Die bloed van die God se Gesalfde red.
Dis wat God se heilige wet vir ons sê.
Hoor wêreld, luister mensdom.
Wees dan nou verstandig, o konings;
laat julle waarsku, o regters van die aarde.
Hierdie was die ook belangrikste les,
wat die kinders in Israel moes leer,
met die instelling van die Pasga moes leer.
Met die paasfees en elke ander dag moes die kinders leer …
dis wat die HERE gedoen het,
dis wat die HERE vir ons gedoen het,
dis wat die HERE vir my gedoen het
toe ek uit Egipteland getrek het …
En dit moet vir jou as teken wees op jou hand
en ‘n gedenkteken tussen jou oë,
(met ander woorde
dit moet jou doen en jou denke oorheers)
sodat die wet van die HERE in jou mond mag wees;
want met ‘n sterke hand
het die HERE jou uit Egipte uitgelei (Eks 13:8,9).
Welgeluksalig is die man
wie se behae in die wet van die Here is,
en hy oordink sy wet dag en nag …
en hy vertel dit vir sy kinders en kleinkinders,
skerp dit vir hulle in
en spreek daaroor
as jy in jou huis sit
en as jy op die pad is
en gaan lê
en as jy opstaan (Deu 6:7).
Om Psalms een en twee op te som:
ons leer uit die boeke van Moses
en uit die res van die Bybel:
God se Gesalfde is die Een wat redding bring,
maar God se Gesalfde is ook die Een
wat oordeel bring …
die verskriklike oordeel.
Die boek Openbaring is tog te duidelik daaroor.
Daar is dit die geslagte Lam
wat telkens die plae en die oordele oor die mensdom laat kom.
Van al die erdepot mense
van al die erdepot konings sal daar skaars skerwe oorbly
nadat die Gesalfde se ysterstaf deur hulle geswaai het.
Die Goddelose sal nie bestaan in die oordeel nie.
Wat is die kosbaarste les
wat ‘n kind kan leer,
oor en oor kan leer,
belangriker as enigiets anders?
My kind, my dierbaarste kind,
ons kan nie
niemand kan
vir Christus wegkruip nie,
niemand kan Hom ontvlug nie,
maar ons kan by Hom skuil,
ons kan agter sy bloed skuil.
Welgeluksalig is diegene
wat dit dag en nag oordink.
Welgeluksalig is almal wat by Jesus, die Gesalfde skuil!
U sien, die skuilplek, wat die mensdom nodig het,
is nie ‘n skuiling teen ander mense nie,
is nie teen die magte van chaos en anargie
wat besig is om ons land
en die wêreld oor te neem nie,
nie teen die Islamiete
wat besig om die weste te verower nie …
Ons het skuilplek nodig teen God se Gesalfde,
wat aan die kom is …
Hy wat kom
om die dooies en die lewendes te oordeel.
Daarom, geliefdes dien die HERE,
maar doen dit met vrees, met ontsag.
Wees bly oor julle verlossing,
juig daaroor …,
maar juig daaroor met bewing.
Dis mos wat ons in Psalm 2 vers 11 gelees het …
juig met bewing.
Dis ‘n woord vir die kinders van Sion,
vir die kerk, vir die geloofsgemeenskap.
Dis ‘n waarskuwing vir die geloofsgemeenskap
en hulle leiers.
U weet
hulle het ook die waarskuwing nodig,
is dit nie so nie?
Moses was mos self ongehoorsaam aan die HERE
en hy het nie die Beloofde Land binnegegaan nie.
Sy broer Aaron, het ‘n Goue Kalf gebou.
Hulle suster Miriam was opstandig
en daarvoor was sy met melaatsheid getref …
So kan ek aangaan …
In sy eerste brief skryf Paulus aan die Korintiërs:
God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie,
want hulle is neergeslaan in die woestyn (1 Kor 10:5)
So waar staan ons vandag, geliefdes,
ons wat tans besig is
om die een plaag van God na ander in hierdie land te ervaar?
Waar staan ons?
Ons staan daar
waar die Suid-Afrikaanse geloofsgemeenskap
sedert 1992 gestaan het …
toe daar vir die opstel van ‘n nuwe grondwet saam gebid was …
saam met die ander gelowe gebid was …
Ons staan presies daar in Kempton Park
toe die Rabbi en die Biskop en die Imam
en die Hindu en die Dopper Professor saam gebid het
dat elkeen se god die nuwe grondwet sal seën.
Ons staan presies daar waar ‘n ander Dopper Professor
verlede maand hand om die lyf met ‘n Allah aanbidder gestaan het …
ook nadat daar op die voormalige PUK kampus saam gebid was.
Dis die universiteit
wat eens bekend gestaan het
as die Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.
Hulle leuse het destyds uit die boek van die Psalms gekom:
In u lig.
Psalm 36 vers 10
By die HERE is die fontein van die lewe,
in sy lig sien ons die lig.
Toe die professor oor hierdie saambiddery uitgevra is,
het die hy geantwoord:
“die universiteitsowerheid moet die werklikheid bestuur
waarin hulle staan”.
Dis nou maar hoe dit is.
So moet die onderskeie skoolgemeenskappe
ook maar nou die werklikheid bestuur
waarbinne hulle staan.
Dis die werklikheid van die land se grondwet.
Ons moet koelkop bly
en sien dat almal wen.
Dit beteken die dominee of die pastoor nog welkom is
om die skool te kom open.
Hy mag maar vir kinders sê
dat Liewe Jesus almal lief het,
dat Liewe Jesus wil hê
dat hulle hul bes moet doen,
dat hulle die bal vir Jesus moet skop,
dat hulle tot alles in staat is
deur Jesus wat vir hulle krag gee …
Hy mag hulle maar hulle aanmoedig
om alles vir die Egiptiese roeispan uit te haal.
Hulle mag hulle maar aanspoor
dat as hulle baie hard werk
hulle ook eendag ‘n piramide sal kan bou,
maar Psalm 2,
mag die dominee nie voor die kinders oopmaak nie.
Dit sal teen die grondwet wees.
Psalm 2 sê:
Wees dan nou verstandig, o konings;
laat julle waarsku, o regters van die aarde.
Julle staan onder die oordeel van die Gesalfde.
Amen.
Leave a Reply