REFORMASIE 500: Kan alleen volwassenes glo, of ook klein kindertjies?

REFORMASIE 500

KAN ALLEEN VOLWASSENES GLO,

OF OOK KLEIN KINDERTJIES ?

Sien die volgende oordenking (19 Februarie) van dr. SJ van der Walt in sy boek Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus:

“ONS WORD IN CHRISTUS INGELYF, MAAR NEEM SY WELDADE AAN” — Vr. 20.

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” — Hebr. 11:6.

Die geloof het twee kante, nl. ‘n passiewe en ‘n aktiewe kant. Die geloof is iets wat in ons gewerk word deur die wederbarende werking van die Heilige Gees. Deur die sonde het ons die vermoë verloor om te kan glo. Al hoor ons Gods Woord duisend maal en sien ons al sy wondere dag na dag, sal ons nogtans nie in God glo nie tensy Hy ons die geloof skenk. So lees ons byvoorbeeld in Efesiërs 2:8: “Want uit genade is julle gered,’ deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: die is die gawe van God”.

En hierdie genadegawe van God is nie beperk tot diegene wat volwasse is nie, maar selfs die kindertjies van verbondsouers kan dit in hul hartjies besit, al weet hul self nie daarvan nie. Hulle besit dit as ‘n vermoë of aanleg of onbewuste gerigtheid van hul sielsvermoëns. Hulle besit die geloof in kiem, al sluimer dit nog daarbinne in hul harte. ‘n Kind kan dus ook wedergebore en daarom gelowig wees, al besef hy nog niks daarvan nie. En daarom kan hulle ook deur die geloof salig word as hulle sterwe. Hulle sterf dan nie as ongelowiges nie maar as gelowiges. Hulle is deur die geloof in Christus ingelyf en word daarom deur Hom gered.

Die wederdopers beroep hulle dan ook ten onregte op ‘n teks soos Markus 16:16. Daar word wel gesê: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word…. “, maar die woorde is deur Jesus gespreek toe Hy sy dissipels uitgestuur het om die Evangelie te gaan verkondig onder die heidendom.

En dit spreek vanself dat by die sending onder die heidene alleen die volwassenes wat tot bekering kom en gelowig word, gedoop kan word. Waar ons egter te doen het met verbondskinders van gelowige ouers, is dit heeltemal ‘n ander saak. Hulle word beskou as geheilig in Christus en ontvang die teken van die verbond, nl. die doop, in die Nuwe Testament en die besnydenis onder die Ou Testament. Ons sal hierop egter later terugkom.

Alhoewel ons niks kan doen aan ons wedergeboorte nie, net so min as aan ons geboorte, beteken dit egter nie dat ons soos ‘n klip is wat gedra moet word nie. Die wedergeboorte verwek die geloof in ons, en die vrug van die geloof is dat ons dan Christus aanneem as ons persoonlike Saligmaker. Sodra ons ‘n bewuste lewe begin lei, groei die geloofsbewussyn in ons ook op en ons besef al duideliker wat ons eers net vaag gevoel het, nl. dat ons Verlosser leef en ons sal lewe. En so neem ons Christus dan aan van ganser harte en wy ons hele lewe aan Hom toe. Hy word vir ons alles in die lewe, en ons kleef Hom aan as ons hoogste goed.

Ons kry hom hartlik lief en laat ons deur Hom lei en regeer. Ons kan nie meer sonder Hom lewe nie, en as Hy ons sou verlaat, sou ons sterwe. Dit kan egter nie gebeur nie, omdat Hy ons ook aangeneem het en sy lewe vir ons afgelê het.

2 thoughts on “REFORMASIE 500: Kan alleen volwassenes glo, of ook klein kindertjies?

Add yours

  1. Mooi stuk. Ek kies Kuyper se kant teenoor die van Schilder met betrekking tot die debat oor die doop en wedergeboorte. Wat is die beskouing van die GKSA mbt veronderstelde wedergeboorte?

    1. Adi, volgens my kennis het die GKSA nie ‘n “amptelike” geref verbondsbeskouing vir of teen Kuyper of Schilder nie. Ons het nie ‘n verbondstryd soos Nederland gehad nie. Dink voor 1950’s het dit geneig na meer “pro kuyperiaans” en na 1950’s meer “pro schilderiaans”. Sien hierdie artikel wat Totius se seun geskryf het oor die verbondstryd daar in Nederland:

      Click to access skeuring-in-ndl-s-du-toit.pdf

      Hier is artikels oor die verbond op my blog, wat ook na die situasie in Nederland verwys:

      https://proregno.com/2010/06/23/n-vriend-van-god-artikels-oor-die-genadeverbond/

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: