Posted by: proregno | October 30, 2017

Reformasie 500 oordenking: Ons moet ons saligheid ook nie by heiliges soek nie (Kol. 1:19,20)

REFORMASIE 500

“ONS MOET ONS SALIGHEID OOK NIE BY DIE HEILIGES SOEK NIE”

deur dr. SJ van der Walt

“Want dit het die Vader behaag dat…. Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis ek sê deur Hom die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele” — Kol. 1:19 en 20.

HK Vraag 30 : Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?

Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem1. Slegs een van twee dinge is immers moontlik: of Jesus is nie ‘n volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met ‘n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is2.

Skriffundering: 1) 1 Korintiërs 1:13; 1 Korintiërs 1:30-31; Gal 5:4; 2) Jesaja 9:6; Kolossense 1:19-20; Kolossense 2:10; Hebreërs 12:2; 1 Johannes 1:7

__________________________

Christus is die versoening van ons sondes.

Deur Hom het ons vrede by God. En daarby kan niks meer bygevoeg word nie. Daar bly niks verder oor om te versoen nie. Hy het die ganse las van die toorn van God gedra, en niemand kan in sy plek intree om ons geheel of gedeeltelik salig te maak nie.

Daarom verskil ons van die Roomse, wat van die sg. heiliges en by uitstek van die maagd Maria verwag om vir hulle in te tree by God en vir hulle te pleit op grond van die soenverdienste van Jesus Christus. Wel verwerp hulle nie vir Christus as die Middelaar nie, maar hulle meen dat die heiliges vir hulle kan pleit en also help dat hulle die genade Gods in Christus mag ontvang.

Daarteenoor sê ons dat die Skrif ons nêrens meedeel dat die afgestorwe gelowiges vir ons intree en pleit, of dat hulle selfs weet wat presies met ons op aarde aangaan en wat ons nodig het nie. Verder is dit ook nie nodig vir hulle om vir ons te pleit nie, aangesien ons in die hemel ‘n groot Hoëpriester het wat al ons nood ken en verstaan en deur Wie ons met vrymoedigheid na die genadetroon kan gaan, aangesien Hy met sy eie bloed vir ons versoening teweeggebring het (Hebr. .4:14-16).

En ten slotte is die gevaar groot dat ons aan die sg. heiliges Goddelike verering sal toebring, soos die Rooms-Katolieke prakties inderdaad doen, veral met betrekking tot die maagd Maria. Hulle maak in werklikheid van haar veel meer as van die Here Jesus Christus. En so verval hulle naderhand prakties in die heidendom, wat naas die vadergod gewoonlik nog ‘n moedergodin ook het.

Die gevaar is daar dat ons op ‘n ander wyse ook in heiligesaanbidding of -verering kan val. Daarom het God dit so bewerk dat die graf van Moses onbekend gebly het. En so weet ons ook nie waar ‘n Calvyn begrawe lê nie. Ons is soms geneig om al te veel te maak van afgestorwe of selfs nog lewende kerkleiers of -leidsters. En dan dweep ons met hulle op ‘n wyse wat grens aan die verering van die Heiliges.

Die groot saak is dus dat ons wel ons voorgangers moet eer (Hebr. 13:7), maar dat ons tog sterk moet waak teen afgodiese verering van mense. Dit lê maar in ons verdorwe natuur dat ons op een of ander manier weer mense wil aangryp as ons redders of as hulp-redders. Ons kry so moeilik om te sê: Alles is net Gods genade. Van ons kant wil ons darem al te graag ook hand bysit en op ons groot manne ook staat maak. Ons kan maar nie besef dat ons tot niks in staat is nie en dat alleen God in Christus ons kan salig maak.

Die ware diensknegte van God sal die eerste wees om enige vorm van Goddelike verering vir hulself van die hand te wys, soos Paulus en Barabbas byvoorbeeld in Listre, toe die skare hulle afgodies wou vereer (Hand. 14:11-18). So het ook die engel vir Johannes skerp teëgespreek toe hy voor die voete van die engel neergeval het en hom wou aanbid (Openb. 22:8, 9). Christus, daarenteen, mag wel aanbid word, omdat Hy self God is, al het Hy ook die menslike natuur aangeneem. Thomas het hom aangespreek as “My Here en my God” (Joh. 20:28).

_____________________

Bron: Dr. SJ van der Walt Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus (15 Maart).


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: