DIE KERKHERVORMING
deur prof. Bouke Spoelstra
[Bron: Beknopte Kerkgeskiedenis vir Katkisasie]
Agtergrond.
Die Germaanse stamme het teen die 6de eeu die Romeinse Ryk laat verkrummel. Hierdie blanke barbare het daardeur met die Christendom sowel as met die ou klassieke beskawing van die Grieke en Romeine in aanraking gekom. Die gees van hierdie twee, die Christendom en die klassieke kultuur, moes deur die Germaanse volke opgeneem word. Hulle moes dit hulle eie maak. Ons kan dit ‘n proses van beskawing noem. Gedurende die eeue en geslagte van die Middeleeue (6de tot die 16de eeu) het daar dus in Wes-Europa ‘n proses van geestelike rypwording plaasgevind.
In die 14de eeu is die boekdrukkuns uitgevind. Dit het dadelik die verspreiding van kennis en gedagtes bevorder. Op die kruin van hierdie periode kry ons die geestelike ontwaking wat gewoonlik die Renaissance genoem word. Die Renaissance (letterlik: wedergeboorte) was ‘n kultuurverskynsel waaruit blyk dat die menslike gees in Wes-Europa tot mondigheid gekom het. Nou het daar plotseling digters, skrywers, kunstenaars en groot denkers uit die Germaanse volke begin opstaan.
Vroeër is maar net deur enkelinge uit die werke van die ou Grieke en Romeine gelees en oorgeneem. Na die rypwording en beskawing van die Germaanse volke presteer van hulle eie mense nou op elke terrein van die lewe. Hierdie Renaissance wou die boeie van die Roomse Kerk, wat die vryheid van die menslike gees geknel het, afwerp. In baie opsigte wou dit weer terugkeer na die vryheid en skoonheidstandaarde van die ou Griekse heidendom. Dit wou die klassieke kuns en kultuur laat herleef. Die verval in die Roomse Kerk, veral die sedeloosheid en oppervlakkigheid, het hulle diep gegrief.
Voorlopers van die Hervorming.
Nog lank voor Luther en Calvyn was daar al manne wat die suiwer leer verdedig het teen die dwalinge van die Roomse Kerk. So was daar in Engeland John Wycliff (1324—1384). Hy het die Bybel bestudeer en baie van die Roomse dwalinge, soos hulle transsubstansiasieleer by die nagmaal, bestry. Dertig jaar na sy dood het die Roomse Konsilie (sinode) van Constanz hom tot ‘n ketter verklaar. Sy beendere is daarom in 1417 opgegrawe en wat nog daarvan oor was, is verbrand en die as verstrooi.
In Bohemië het Johannes Huss (1369-1415) onder invloed van Wicliff gekom. Hy het baie van die misstande en dwalinge uit die Roomse Kerk, veral die pouslike hiërargie, probeer bestry. Huss is met lis deur die kerk gevange geneem. Die Konsilie van Constanz het hom ter dood veroordeel en hy is in 1415 lewendig verbrand.
Daar was ook nog ander manne. Hulle wou die Roomse Kerk van binne uit probeer herstel. Hulle was dus nie hervormers nie, omdat hulle werk nie dadelik gevolge gehad het nie. Hulle het egter die kerkhervorming voorberei.
Ons moet onthou dat in die 16de eeu net die Roomse Kerk met al sy dwalinge, sy bygelowe, sy geestelikheid wat oor die leke heers, sy rykdomme, sy prag en praal, bestaan het. Op daardie tydstip het Rome begin om die magtige St. Pieterskerk te bou. Daarvoor was baie geld nodig. Daarom het daar mense rondgegaan om deur die sakrament van boetedoening ‘n aflaat van sondestrawwe te verkoop.
Martin Luther.
Luther was ‘n seun uit ‘n eenvoudige boerefamilie in Duitsland. Hy studeer aanvanklik in die regte. Op universiteit het hy reeds kennis gemaak met die nuwe gees, die Renaissance. Luther het egter nie daarmee saamgegaan nie.
Toe hy nog student was, is sy vriend op ‘n ruwe vegparty met ‘n mes doodgesteek. Daarna het Luther ‘n keer in ‘n geweldige storm gekom en gebid: “Help, St. Anna, ek sal ‘n monnik word!” In 1505 het hy toe na ‘n klooster gegaan. Van kleins af was hy sterk onder die indruk van God se geregtigheid, wat die sonde straf. In hom het een vraag gebrand: “Wanneer sal ek so heilig wees dat God my genadig sal wees?” Daarom het Luther in die klooster met al die mag van sy sterk wil gevas en sy liggaam gekasty en gefolter. Om rus te kry het hy ook begin om die Bybel te lees.
As priester moes hy in 1511 na Rome gaan. Baie van wat hy toe in die Roomse kerkstad gesien het, het hom diep gegrief.
In 1512 het hy dokter in die Teologie geword en begin om klas te gee in Wittenberg. Dit was omtrent in hierdie tyd dat Luther plotseling verstaan het wat dit beteken dat daar in die brief aan die Romeine staan: “die regverdige sal uit die geloof lewe” (Rom. 1:17). Toe het hy verstaan dat die geregtigheid van God nie die gelowige straf nie. God se straf het oor Christus gegaan. Wie so in Christus glo, is geregverdig. God neem die gelowige in sy barmhartigheid aan. Alles kom op die geloof aan. Toe het daar ‘n groot vrede en blydskap in Luther ontstaan. Om uit genade geregverdig te word was direk die teenoorgestelde as die boetedoening wat neergekom het op verdienstelike goeie werke en werkheiligheid (bieg en aflaat).
Die bom bars.
Toe pous Leo X vir Johannes Tetzel as een van sy agente na Duitsland gestuur het om aflaatbriewe te verkoop, het Tetzel ook in Wittenberg gekom en gesê: “So gou as die geld in die kis val, spring die siel uit die vagevuur”. Dit het soos ‘n vuur in Luther begin brand.
Op 31 Oktober 1517 het hy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg gespyker. In daardie tyd het dit beteken dat hy as geleerde enigeen uitdaag om sy stellinge te weerlê. Die stellinge was veral gemik teen die aflaat, teen die valse idee dat die pous sonde kan vergewe, dat skuldvergewing sonder berou plaasvind, ens. Niemand, behalwe Tetzel, het dit gewaag om Luther te probeer weerlê nie.
Toe die pous eindelik self ook Luther tot terugtrekking van sy stellinge wou dwing, het Luther hom op die Bybel beroep. Hy wou uit die Bybel, en nie uit gesegdes van Roomse geleerdes nie, oortuig wees. Luther het toe ook begin leer dat die hele pousdom ‘n menslike instelling was. Toe die pous egter ‘n ban (‘n vervloeking) teen Luther uitvaardig, het Luther dit in 1520 in die openbaar as ‘n “ban van die Antichris” verbrand.
In 1521 is Luther deur die keiser voor die Duitse Ryksdag (parlement) te Worms gedaag. Omdat sy aanklaers hom nie uit die Bybel kon weerlê nie en die keiser wou hê dat Luther maar liewers moes terugtrek, het hy uitgeroep: “Ek kan nie anders nie, hier staan ek, mag God my help, Amen”.
Op sy terugreis het van sy vriende hom na ‘n kasteel, die Wartburg, ontvoer. Hierdeur wou hulle verhoed dat hy dood-gemaak word. Baie mense het Luther toe reeds ondersteun. Vanuit die Wartburg het hy verder gewerk. Hy het Bybelverklaringe geskrywe en ook die Bybel in Duits vertaal, sodat die gewone volk dit van nou af self kon lees. Dit is die eerste Bybel in ‘n volkstaal, omdat die Roomse Bybel net in Latyn, die kerktaal, gebruik is.
Hiermee het die Here ‘n beweging, die Kerkhervorming, laat begin. Dit was in werklikheid die wedergeboorte van die Christelike kerk. Die Roomse Kerk wou hom nie bekeer nie; Daarom is ‘n nuwe kerk gebore. Net soos ‘n gelowige weder-gebore word en hom gedurig van sy sonde moet bekeer, so moes ook die vervalle en vervalste kerk wedergebore word en hom van sy dwalinge bekeer!
Hierdie terugkeer na die waarheid was nie die werk van een man en een dag nie. Feitlik saam met Luther het die Here nog ander groot Hervormers soos Calvyn, Melanchton, Zwingli, Knox e.a. beskik.
Luther is vir ons van belang omdat hy die instrument was wat die Kerkhervorming begin het. Calvyn is van soveel belang omdat hy die instrument van die Here was om die Kerkhervorming af te rond. As Gereformeerde Kerke staan ons in lyn met Calvyn se werk. Luther het nie so diep en so omvattend as Calvyn deurgetas nie. Luther het nog praktyke van die Roomse Kerk oorgehou. Hy het geglo ‘n mens neem in die nagmaal die letterlike liggaam en bloed van Jesus saam met die brood en wyn op. Hy wou ook dat elke vors moet bepaal watter godsdiens in sy land moet geld. Die politieke vors het dus oor die gewete van sy onderdane geregeer.
Johannes Calvyn (1509-1564).
Calvyn is uit ‘n aansienlike Franse familie gebore en was besonder begaafd. Reeds op 14jarige leeftyd het hy na die universiteit in Parys gegaan. Hy het eers in die regte gestudeer. Hoewel hy klein van postuur en veral in sy latere lewe sieklik was, was hy ‘n student met onvermoeide ywer en ‘n yster wilskrag.
Ongeveer Oktober 1533 het daar in sy lewe ‘n groot verandering ingetree. Ons weet daar nie veel van nie, omdat Calvyn oor sy eie siellewe geslote was. Die Here het hom deur sy Gees verlos van die dwalinge van die pousdom en hom na die waarheid gebring.
Calvyn moes in 1535 na Switserland vlug. In 1536 het sy groot werk, sy Institusie of onderwysing van die Christelike godsdiens, verskyn. Daarmee wou hy koning Frans I van Frankryk oortuig dat die Protestante wat so vervolg is, ware gelowiges is. Die uiters mooi boek is in verkorte vorm in Afrikaans verkrygbaar. Dit was die eerste sistematiese uiteensetting van die gereformeerde waarheid.
Calvyn het sy ander groot werk, soos die opstel van Kategismusse, vers-vir-vers-verklaring van die Bybel, ens., hoofsaaklik in Genève, Switserland, gedoen. Daar het Calvyn ook in die regering van die stad meegehelp, omdat Genève ‘n modelstad wou wees wat volgens die Woord van God geregeer word. Calvyn se geloofsbelydenis was die grondwet van die Republiek van Genève.
Tog het Calvyn met groot vuur die selfstandigheid en onafhanklikheid van die kerk verdedig. Hy het in die kerkregering vir die strenge handhawing van die tug op Bybelse wyse geywer. Calvyn het dit as ‘n vereiste gestel dat daar ‘n goeie kerkorde moet wees. Hy was nie bereid om in Genève te dien as die stadsraad voorskryf wie die sakramente mag gebruik nie. Volgens Calvyn moes die kerkraad dit doen.
Calvyn het self erken dat hy soms te heftig was in sy ywer. Met sy medewete is die antichristelike dwaalgees, Servet, in 1553 in Genève verbrand. Servet was ook deur die Roomse Kerk veroordeel. Nogtans lyk dit asof Calvyn in hierdie opsig nog geglo het aan die Middeleeuse opvatting dat ketters dood-gemaak moet word. Hierdie gebeurtenis is dikwels teen Calvyn gebruik.
Deur sy sieklike liggaam en sy geweldige werkvermoë is sy kragte totaal ooreis. In 1564 is hy op betreklik jeugdige leeftyd oorlede nadat hy ongelooflik baie werk gedoen het en ‘n nalatenskap daargestel het waarvan ons vandag nog met vrug gebruik maak. Sy invloed in elkeen van ons belydenis-skrifte en in ons kerkorde is bepalend. Hy was ook ‘n mens, maar waarlik ‘n gawe Gods! So beskik God die regte man op die regte tyd.
Die Calvinisme.
Die Roomse leer vra: Wat wil die kerk? Luther het gevra: Hoe word ek salig? Calvyn, daarenteë, het gevra: Hoe kry God sy eer? (vgl. Rom. 11:36).
Dit moet ons goed vashou, omdat ons daarmee ook van-dag nog ons eie lewe en ons kerklike en godsdienstige strominge moet beoordeel.
As ons die vraag stel soos Rome, draai alles om die kerk. As ons dit vra soos Luther, draai alles om die verlossing van die mens. (Dink maar aan die C.S.V., die Metodisme, die sektes en die oppervlakkige godsdienste.)
As ons egter die vraag stel soos Calvyn, draai alles om die eer van God. Dan moet ons met ons hele lewe, elke dag, die Here dien. Dit is dan waarlik godsdiens, mense wat God dien. (Ons kan dit so maklik omdraai, en dan is dit die Here wat ons moet salig maak, ons gebede moet hoor, ens. Kan dit nie maklik ‘n diens word waar God die mens dien nie?)
Ons moet die Here orals dien: in die skool, in die huis, op die sportveld, in die politiek, in die kerk. Die eenvoudigste mens in die eenvoudigste beroep kan die Here net soos ‘n minister of ‘n predikant verheerlik. ‘n Lidmaat dien die Here net soos ‘n ampsdraer.
Dit was die gedagte van roeping. Totius het gesê dat die woord roeping soos krygsmusiek in die ore van die gereformeerde belyer dreun. Wie geroep is, is buitekant en hy werk. Pres. Kruger het gesê: “Ook op staatkundige gebied bely ek die onveranderlike beginsels van Gods Woord”. Ons moet nooit dink ‘n mens dien die Here net in die Kerk nie. Nee, orals moet ons vra: Waar kry God sy eer? Vir sy eer moet ons werk, waar Hy ons ook roep! ‘n Mens kan op ‘n invalidestoel sy Naam verheerlik.
Die inhoud van Calvyn se leer kry ons feitlik weer in ons eie belydenisskrifte en in ons kerkorde. Daarom behandel ons dit nou nie verder nie.
Literatuur:
S. du Toit: Kerkgeskiedenis, hoofstukke 20—26.
A. Duvenage: Johannes Calvyn, Institusie.
H. Scholtemeijer: Johannes Calvyn: Die stryder vir die eer van God.
W. Hovy: Deur geloof alleen. Die lewensgeskiedenis van Maarten Luther.
VRAE:
- Wat het met die Germane gedurende die Middeleeue gebeur?
- Wat is die Renaissance en watter ideaal het dit gestel?
- Wat weet u van John Wicliff en Johannes Huss?
- Vir watter onderneming en hoe het Rome aan die begin van die 16de eeu geld ingesamel?
- Wat weet u van die jeug van Luther, en hoe het hy in die klooster gekom?
- Wat was die groot vraag in sy lewe?
- Watter Waarheid het Luther weer ontdek?
- Waarom het dit hom in botsing met Tetzel gebring?
- Wanneer, hoe en met watter doel het Luther in verset gekom?
- Wat het in 1521 met Luther gebeur en watter groot werk het hy daar gedoen?
- Watter plek beklee Luther m die Kerkhervorming ?
- Skets die jeug- en studiejare van Calvyn.
- Wat is die aanleiding vir en die betekenis van sy Institusie?
- Wat het Calvyn in Switserland gewerk? Watter stad is onlosmaaklik aan hom verbonde? Hoe het hy die kerk teenoor die staat gesien?
- Wat word Calvyn dikwels vandag nog verwyt?
- Wat is die kern van die leer van Rome, van Luther en van Calvyn?
- Wat is die praktiese betekenis van die Calvinisme?
___________________________
Sien ook:
Reformasiedag, 31 Oktober 2013
Ware bybelse reformasie in 1517 en vandag
10 Differences between Luther and Calvin
Leave a Reply