GEMEENSKAP VAN DIE HEILIGES IN DIE KERK (HK v/a 55)

GEMEENSKAP VAN DIE HEILIGES IN DIE KERK

deur dr. SJ van der Walt 

“Julle moet nie elkeen na sy eie belang omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus was” — FilP. 2:4 en 5.

Hoe dikwels gebeur dit dat gelowiges tot dieselfde gemeente behoort, saam in één kerkgebou sit, saam aan die tafel van die Here aansit en tog mekaar nie eens ken nie en van mekaar niks af weet nie! Die enigste gemeenskap wat tussen hulle bestaan, is dat hulle name in dieselfde lidmateboek geskrywe staan.

Dit is dan, met respek gesê, nie veel anders as wat in ‘n hotel gebeur nie, waar almal se name in dieselfde boek ingeskryf word, terwyl die loseerders verder niks met mekaar te doen het nie.

As gelowiges behoort ons in mekaar belang te stel, mekaar op te soek en met mekaar om te gaan. Ons moet ook vir mekaar bid. Hoe baie gebeur dit nie dat ons in die gebed net aan onsself en ons dierbares dink en miskien so in die algemeen ook aan kerk en volk!

Maar ons behoort ook persoonlik te bid vir diegene wat ons by name bekend is en wat ons voorbidding nodig het. En dan hoef ons in die openbare gebed nie name van mense te noem nie, aangesien hulle by God bekend is en ook by die gemeente, as daar waaragtig ‘n gemeenskap van heiliges is. Die gevaar is nie denkbeeldig nie dat ons deur die noem van name in die gebed wil aantoon hoeveel belang ons in sulke mense stel, terwyl ons dan origens miskien niks vir hulle doen en hulle ook nie besoek nie.

Verder behoort ons mekaar te bemoedig en met raad en daad by te staan.

Die wat treur, moet ons vertroos.

Die wat dwaal, moet ons reghelp.

Die wat in sonde val, moet ons probeer ophelp en hulle vermaan.

Ons neem te dikwels die houding van Kaïn aan: Is ek my broer se wagter? (Gen. 4:9). Ons sal miskien ons broer beskinder of aangee by die kerkraad. Maar ons het nie die moed en die liefde vir ons naaste om hom persoonlik te vermaan en dan nie verder daarvan te praat nie. Nee, ons versuim ons plig, en dan verwag ons dat die predikant of ouderling moet speurder speel om agter te kom wat aangaan.

Ons eenheid, as ‘n gemeenskap van heiliges, moet ook daarin uitkom dat ons saam die Here loof en dien in sy huis. Ons gaan nie net kerk toe om ‘n preek te hoor nie. Nee, ons gaan om daar saam die Here te aanbid en te loof, as sy volk, soos ons so mooi kan sien in Psalms 42, 84 en 122. Die Here wil deur ons gedien wees as persone, as huisgesinne maar ook as gemeentes.

Watter kind is daar wat nie daarvan hou om saam met sy broers en susters te wees nie?

Waarom is ons plekke in die kerk dan so dikwels leeg?

Ook moet daar eenheid wees en liefde tussen die verskillende kerke onderling, sowel as tussen die kerk van vandag en dié van die verlede. Ons mag nie rewolusionêr gesind wees nie. Ook ons vaders en moeders en hul voorgeslagte het tot die gemeenskap van die heiliges behoort. En ons moet daarom aansluiting soek by die verlede en daarop voortbou.

Het ons ook al verskil op kleinere punte, behoort daar éénheid van gedagte, gevoel en wil te wees by almal wat Christus liefhet.

Ons moet één van hart en sin wees.
_______________________________________

Bron: Dr. SJ van der Walt Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus (1 Junie).

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: