Die dwaling van baptiste dat die Nuwe Verbond net met ‘volwasse gelowiges’ is (hulle wat ‘n belydenis van geloof kan aflê), en nie ook met kinders van gelowiges nie
In die hernude stryd in verband met die kinderdoop byvoorbeeld, is die wyse waarop die Skrifgegewens gehanteer word van die allergrootste belang. Hier kan nie met ’n verwysing na ’n paar insidentele tekste volstaan word nie. Die vraagstuk van die eenheid van God se handele in Ou en Nuwe Verbond kom hier ter sprake. Gaan ons by ’n beroep op die Bybel uit van ’n teenstelling tussen Ou en Nuwe Testament of handhaaf ons die openbaringseenheid van die Heilige Skrif.” – prof. L. Floor
Ek wys hier onder in my artikel (Die genadeverbond met gelowiges en hul kinders in Christus, is in wese dieselfde in die OT en NT verbondsbedelings) – met verwysing na Skrifgedeeltes uit beide die OT en die NT – op die pragtige troosvolle ryke eenheid van die genadeverbond, die ou en nuwe verbond, met gelowiges en hul kinders, in Christus. Daar het definitief veranderinge in die bediening, die teken, en ander aspekte gekom (sien prof. Jordaan se artikel hier onder), daar is verskille in terme van bv. heenwysing en vervulling, skadu en werklikheid, bedekte na volle heerlikheid, ens., maar, ‘n baie belangrike maar, in sy wese is die ou en nuwe verbond, dit is die genadeverbond, presies dieselfde:
Ek is julle God, en julle is my kinders, op grond van Christus se kosbare bloed (Rom. 4; Gal. 3), en dit moet bedien word aan gelowiges en hul kinders, elkeen wat die Here sal roep (Gen. 17:7; Hand. 2:39).
Soos prof. Floor dit stel, ons moet waak teen die oorbeklemtoning van die OT (bv. Hebrew Roots bewegings vandag?), maar óók die onderbeklemtoning van OT ([ana]baptiste bewegings vandag?) van die OT, in die OT se verhouding tot die NT:
“Calvyn moes op twee fronte sy stryd voer. Teenoor die Rooms- Katolieke kerk met sy sterk Ou-Testamenties gekleurde erediens het Calvyn vanuit die Nuwe Testament God se heil in Christus verkondig en verdedig.
Teenoor die Doperse Beweging het Calvyn met krag die waarde en betekenis van die Ou Testament aangetoon. Ons vind by die Doperse Beweging ’n eensydige oriëntering op die Nuwe Testament. Die Ou Testament word as minderwaardig beskou. Daar is alles te aards en te liggaamlik. God se heil vertoon in die Ou Testment soveel stoflike, aardse trekke dat dit nie as die volle heil beskou kan word nie. In hul dualistiese benadering waarin die geestelike teenoor en bo die stoflike geplaas word, het die Doperse Beweging die Ou Testament as minderwaardig en verganklik teenoor die Nuwe Testament geplaas.”
Sien gerus as basis – van my skrywe hier onder – die deeglike verklaring van prof. Gert Jordaan in hierdie artikel, waar hy mooi aandui hoe mens die kwessie van die ou en die nuwe verbond, oftewel die ouer en nuwer bediening van die verbond, volgens die Skrif, reg moet verstaan, vir die heil en troos van sy volk, sy hele volk, klein en groot, en tot eer van God Drie-enig.
Die dwalinge van die baptiste begin juis, met ‘n verkeerde siening van die verhouding OT en NT, oor wie almal aan die nuwe bedeling van die genadeverbond behoort, en daaruit vloei dan hul hartseer verwerping van gelowiges se kinders uit die koninkryk, kerk en verbond van die Here, wat lei daartoe dat hul nie die teken van die Here se redding aan hulle wil bedien nie:
Prof. Jordaan spreek onder andere die volgende sake aan:
- Worstels van die begrip Verbond
- Verbond in die Ou Testament
- Verbond in die Nuwe Testament
- ‘n Definisie van die verbond
- Verbondsopenbaring in Christus se optrede (die Evangelies)
- Die uitbreiding van die verbondsvolk (Handelinge)
- Belofte en nageslag
- Verbondsopenbaring by die voleinding (Openbaring)
In die “Verbond in die Nuwe Testament” deel, gaan hy in op die belangrike saak van die verhouding tussen die ou en die nuwe verbond, met die behandeling van tekste soos 2 Kor. 3:4-4:6; Hebr. 7-10; 12:24; Gal. 4:24; Matt. 26:28; Luk. 22:20; 1 Kor. 11:25, ens.
‘n Paar aanhalings (beklemtonings bygevoeg):
“In 2 Kor 3:6 verwys die apostel Paulus na homself as ‘n “dienaar van die nuwe verbond” en verduidelik dan hoe die bediening van die nuwe verbond verskil van die bediening van die oue. L.W.: Paulus kontrasteer nie soseer die ou verbond en die nuwe verbond nie, maar wel die bediening van die ou verbond en die bediening van die nuwe verbond. Diakonia dui hier op die prediking. Die wyse waarop die ou verbond verkondig is, verskil dus van die wyse van verkondiging van die nuwe verbond.”
“Samevattend blyk dit uit 2 Kor 3:6 – 4:4 dat Jesus Christus die middelpunt van die bediening van die verbond is – die oue en die nuwe:
– Die gees (die bedoeling) van die bediening van die ou verbond was reeds om heen te wys na die heerlikheid van God wat in Christus geopenbaar sou word. In Christus as sy beeld het God Homself geopenbaar. Vgl. Heb 1:1: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.”
– Die bediening van die nuwe verbond, daarenteen, is ‘n direkte proklamering van die heerlikheid van God in sy Seun, Jesus Christus.”
“Die verhouding tussen die ou en die nuwe verbond is dus nie dié van twee teenoorstaande verbonde nie, selfs nie eens twéé verbonde nie, maar dit is een en dieselfde verbond, waarvan God twee verskillende bedienings gegee het. Die eerste bediening was beperk in heerlikheid, omdat dit bloot heenwysend was na die heerlikheid wat sou kom, die heerlikheid van Christus. Die eerste bediening was ook van verbygaande aard, want dit het tot ‘n einde gekom toe die bediening van Christus aangebreek het. Die tweede bediening is dan die volle bediening van die lewendmakende en regverdigmakende heerlikheid van Jesus Christus.
Wie egter, soos die Jode, blind is vir die Gees se bedoeling met die verbond, bly vassteek by die uiterlike bediening van die ou verbond. Die wet en die seremonies van die ou verbond word dan onderhou asof dit op sigself tot saligheid kan dien. So ‘n bediening van die verbond is ‘n bediening van die letter wat dood maak en veroordeel. Dit word die bediening van die dood. So het die Jode dan in werklikheid ‘n ander verbond bedien as die verbond wat God hulle beveel het om te bedien, en daarom ook ‘n ander verbond as wat die apostels bedien het. Hulle het dus daarvan gemaak: die bediening van twee verskillende verbonde!
Opmerking of vraag: wat hierdie laaste sin betref – is die baptiste se ‘verbondsbeskouing’, wat so groot kontras maak tussen die ‘ou en nuwe verbond’, veral as dit kinders raak, lyk my dan ook meer in lyn met die Joodse siening wat prof. Jordaan hier aanspreek en afwys ?
“In 2 Kor 3 het ons gesien dat die kontras nie soseer tussen die ou en die nuwe verbond is nie, maar tussen die bediening van die ou verbond (of dan: wat die Jode van die ou verbond gemaak het) en die bediening van die nuwe verbond. In Heb 7 -10 word die sluier nog verder gelig: Dit gaan nie oor die bediening van twee verbonde nie, maar oor twee bedienings van dieselfde verbond: die ou bediening van die verbond en die nuwe bediening van die verbond.”
“Heb 7 – 10 bevestig die volgende oor die verbond van God:
1.) Die nuwe verbond is nie ‘n ander verbond as die ou verbond nie. Dit is wel ‘n nuwe bediening van dieselfde verbond.
2.) Die ou bediening van die verbond het plaasgevind in skadubeelde wat God van die hemelse werklikheid van sy verbondsbeloftes gegee het.
3.) Die skadubeelde trek veral saam in die tabernakel, wat ‘n Ou-Testamentiese toonbeeld was van God se teenwoordigheid in die midde van sy volk; ook in die liturgiese handelinge van die Ou-Testamentiese offers, as toonbeeld van die volmaakte offer van Jesus Christus ter versoening van die sondes van die bondsvolk.
4.) Die nuwe bediening van die verbond vind plaas in Christus as volmaakte Hoëpriester. In Christus word God se teenwoordigheid werklikheid deurdat Hy as Verbondsmiddelaar direk toegang tot God het. In Hom word ons versoening met God werklikheid deurdat Hy die volmaakte en finale soenoffer vir ons sondes gebring het.
5.) Deur die Hoëpriesterlike werk van Jesus Christus word die verbondsbepalings des te kragtiger. God se beloftes is kragtiger omdat dit nou blywend in werking getree het. Ook sy verbondseise is kragtiger omdat hulle nou op soveel kragtiger beloftes berus. Maar ook sy verbondswraak word soveel kragtiger gestel, juis omdat die realisering van sy beloftes in Christus roep om ‘n des te groter dankbaarheidslewe by die begenadigdes.”
“Daarenteen was die verbond wat God met Abraham gesluit het, ‘n bevestiging van die “Jerusalem daarbo” (Gal 4:26), ’n afskaduwing van die hemelse Jerusalem (vgl. Heb 8:1-6). Die hemelse Jerusalem “is vry”, m.a.w. die ware verbond van God maak ons nie slawe nie maar bevry ons juis daarvan om deur eie wetsonderhouding die geregtigheid voor God te moet verdien. Die Jerusalem daarbo is ook “die moeder van ons almal” (Gal 4:26), m.a.w. ons almal – Ou- én die NuweTestamentiese gelowiges – het aan hierdie een ware genadeverbond deel. In die Ou Testament is dit wel skaduagtig bedien, maar in die Nuwe Testament is dit in Christus vir ons almal geopenbaar: God maak ons vry! Aan hierdie belofte van bevryding wat Hy op wonderbaarlike wyse in Christus laat waar word het, moet ons net in ware geloof bly vashou! Dit blyk dus dat die verbondsopenbaring in Gal 4:24 volkome eenstemmig is met dit wat ons in 2 Kor 3 en Heb 7 – 10 ontvang het.“
“In die Ou Testament reeds het dit duidelik geblyk dat die volk nie bloot identies met die fisiese afstammelinge van Abraham, met die histories-etniese Israel, is nie. Die ware Godsvolk is hulle wat in God se beloftes glo, volgens die geloofseis waarmee Abraham en sy hele nageslag gekonfronteer is, Gen. 15:6: “Abraham het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” Streng gesproke is elke Nuwe-Testamentiese oproep tot geloof dus in wese ‘n verbondsroep (bv. Joh. 20:31). In Jesus se prediking hoor ‘n mens dan ook telkens, byna soos ‘n refrein, sy verbondswoord aan ‘n begenadigde sondaar: “Jou geloof het jou gered” (bv. Matt 9:22; Mk 5:34; 10:52; Lk 7:50; 8:48; 17:19; 18:42).”
Belofte en nageslag
Waar Jesus in sy prediking die oorgang van die Ou- na die Nuwe-Testamnentiese (universele) verbondsvolk bekendgemaak het, sien ons in die prediking en optrede van sy apostels dat God ook by die Nuwe-Testamentiese sy beloftes nie maar net aan individue gee nie, maar aan hulle en hulle nageslag.
5.3.1 Aan die eerste bekeerlinge by Pinkster sê Petrus: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus … Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here ons God na Hom toe sal roep” (Hand 2:38,39).
5.3.2 Wanneer die tronkbewaarder van Filippi tot geloof kom, sê Paulus vir hom: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” Toe het Paulus hom gedoop, hom en al sy mense (Hd 16:32,33)
Sien die volledige artikel van prof. Jordaan hier: Verbond in die NT.
—————————
DIE GENADEVERBOND MET GELOWIGE OUERS EN HUL KINDERS IN CHRISTUS IS IN WESE DIESELFDE IN DIE OT EN NT VERBONDSBEDELINGS
deur S. Le Cornu
Die Vader se verbondsbelofte aan ons en ons kinders, in sy groot liefde vir sy kinders, is:
“Ek is julle God, en julle my kinders” (Gen. 17:7; Hebr. 11:10),
op grond van die reddende werk van en in Jesus Christus, sy Seun
(Gen. 3:15; 12:3; Gal. 3:8,16),
deur die Heilige Gees se kragvolle werking van die wedergeboorte
(Deut. 30:6; Ps. 51:12,13; Tit. 3:4-7)
waaruit volg al die heilsweldade wat Christus bewerkstellig het
vir sy uitverkorenes )
(Deut. 30: 2; Klaagl. 5:21, 22; Hand. 2:37, 38; 13:47, 48; 26:18; Ef. 1:3-14),
dat hul dit mag ontvang op die tyd wat die Vader vir elkeen bepaal het
(Gen. 15:6; Ps. 22:10,11; Hand. 13:48),
en tot eer van die Vader (Rom. 9; Ef. 1:3-6).
Hierdie belofte van die verbond, moet – op grond van God se bevel – bedien word aan gelowiges en hul kinders, in beide die OT en NT bedelings, met ’n oproep tot geloof en bekering:
1) Die genadeverbond met Abraham in Genesis 17:7, is met hom en sy nageslag,
“En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou.” (sien v. 10, 12, 23; 21:4)
2) Die vervulling van die genadeverbond word geprofeteer in Jer. 31-33, en dit word vermeld dat dit ook kinders, die nageslag, insluit,
33 Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.
34 En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie. (Jer. 31:33-34 )
38 En hulle sal vir My ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees. 39 En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. (Jer. 32:38-39; sien Hebr. 8:10, 11 hier onder)
3) Na die vervulling van die genadeverbond in Christus, in die NT-bedeling, is kinders nog deel van die bediening van die belofte van die genadeverbond,
“Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” (Hand. 2:39)
10 Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.
11 En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer en sê: Ken die Here nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle. (‘n aanhaling van Jer. 31, in Heb. 8:10-11)
Dus, in beide bedelinge, is die genadeverbond, die ou en nuwe verbond, met gelowiges en hul kinders, en so sal dit wees tot die laaste dag:
En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. – Op. 21:3.
In en deur die geslagte, vergader die Here sy uitverkore kinders, elkeen wat Hy sal roep, ‘klein en groot’, dus babas, kinders en volwassenes, kragtensy sy vrye welbehae (Romeine 9).
Die frase ‘klein en groot’ kan verskillende sake beteken, afhangende van die konteks. Die belangrikste vir hierdie onderwerp, is om te besef, dat dit insluitend is, nie uitsluitend is nie, die kring word groter, nie kleiner getrek nie, dit wil ‘almal’ betrek, natuurlik almal wat sy uitverkore kinders is, dus – soos in die OT bedeling – so ook in die NT bedeling, sy kinders, sy uitverkorenes onder groot én klein, in en deur die geslagte.
Daar het dus nie ’n verskraling, ’n kleiner kring vir die bediening van die genadeverbond, wat die teken van die doop betref, plaasgevind nie (dus nou net vir volwassenes of ouer kinders nie), maar ’n groter uitbreiding (bv. onder een volk na alle volke; van manlik alleen wat besny is, na manlik en vroulik wat gedoop word; ens.). Dit is daarom heel vreemd om kinders uit die bediening van die verbond te wil uitsluit, of ten minste klein kindertjies.
Soos die redding na Abraham gekom het, het hy geglo, en daardeur is sy hele huis, sy kinders, sy nageslag betrek. So vind dit ook in die NT plaas: as redding na iemand kom, hetsy manlik of vroulik, as hul tot geloof kom, dan is dit ’n bevestiging, ’n openbaring dat hy/sy “ ’n seun/dogter van Abraham” is (Luk. 13:16), dan is die implikasie daarvan dat die belofte van redding ook in daardie huise bedien sal word deur beide die Verbondswoord en die teken van die Verbond, aan daardie nuwe gelowiges en hul hele huis, dus ook as daar kindertjies is:
9 Toe sê Jesus aan hom (Saggeus): Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ’n seun van Abraham is. 10 Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was. (Lukk. 19:9-10)
Met hierdie baie belangrike woorde dui Jesus ook aan wat die wese, die wesentlike inhoud van die Abrahamitiese verbond was en is, en wat lyk my, baie (of alle?) baptiste heeltemal mis, as hul na die OT, die besnydenis, ou verbond, ens. verwys ((sien as voorbeeld hierdie artikel deur ‘n baptiste skrywer: Wat beteken jou doop?), nl.
die redding van sonde, en die ewige lewe in Christus (sien Romeine 4 en Gal.3) deur God se genade,
en dus nié – soos sommiges wil beweer – dat die belofte aan Abraham en sy nageslag bloot gegaan het oor ’n fisiese nageslag en land nie [beide hierdie sake – nageslag en land – verwys na, a) die groter werklikheid van al die Here se uitverkorenes onder alle volke, groot én klein; en, b) die nuwe Jerusalem, die ewige lewe, die nuwe hemel en aarde, ens – dus geestelike werklikhede, reeds in die OT bedeling, sien bv. Ps. 37:11; Matt. 5:5; Rom. 4:13; die Hebreër boek; Op. 11:15).
14 En ’n vrou met die naam van Lídia, ’n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ’n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. 15 En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. (Hand. 16:14-15 A53)
Daarom moet die bediening van die doop ook in die NT bedeling voortgaan aan gelowige ouers, en aan hul kinders, soos die Here beveel het, en omdat die Here – nie ons nie – uit en onder die geslagte en in die nageslagte, ‘onder groot en klein’, vir Hom ’n volk vergader, om Hom vir ewig te loof en te prys, alles na sy vrye welbehae.
Die Presbiteriaanse teoloog, dr. Benjamin Warfield se woorde vat dit in ’n neutedop saam:
“God het sy Kerk in die dae van Abraham gevestig en kinders daarin geplaas. Hulle moet daarin bly totdat Hy hulle daar uithaal. Hy het nêrens hulle uitgehaal nie. Hulle is daarom steeds lidmate van sy Kerk en as sulks geregtig op haar ordinansies. Die doop is een van daardie ordinansies.”
Om ons Here Jesus se woorde te gebruik, waar Hy oor die huwelik leer, van toepassing op hierdie onderwerp: laat ons nie skei wat die Here saamgevoeg het nie, nl. dat die Here se verbond, kerk en koninkryk bestaan uit beide volwassenes en (klein) kinder(tjie)s, gelowiges en hul kinders, ook in die NT bedeling, ook in die nuwe bediening of administrasie van die een ewige genadeverbond in Christus (Gen. 17:7; Hand. 2:39; Gal. 3:8;16; 2 Tim. 1:8,9; Tit. 1:2).
Artikel wat aansluit met historiese gronde vir kinderdoop: http://www.twoagespilgrims.com/doctrine/infant-baptism-in-early-church-history/