VIDA EN GALASIERS 3:28
“Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.” – Galasiërs 3:28
Hierdie teks is al deur baie, veral die laaste 30 jaar, ingespan om vroue in die besondere ampte (VIDA) te probeer regverdig. As ‘n voorbeeld daarvan, sien die artikel (The theological-ethical implications of Gal. 3:28 for a Christian perspective on equality as a foundation value in the human rights discourse), wat verlede jaar gepubliseer is deur prof. JM Vorster, oud-prof van die Teologiese Skool in Potchefstroom (GKSA). Hy skryf daarin o.a. die volgende (In die Skriflig, vol. 53, no. 1 [2019]. Beklemtoning bygevoeg):
“The research focuses on this biblical passage, because Galatians 3:28 has enjoyed considerable prominence in biblical research over the last 30 years. The passage has often been cited in church debates about slavery and racial discrimination, the ordination of women in ecclesiastical offices, gay and lesbian matters, and as the foundation for the equality of all people. … ”
“Scholars who depart from a mere grammatical reading of the biblical texts (sola text), tend to resort to the complementarian and spiritual interpretation. Scholars who depart from feminist and liberationist readings, as well as a reading from the premise of a consistent biblical theology (tota Scriptura) developed by a revelation-historical or salvation-historical approach, lean towards an egalitarian reading.”
Vorster meen hierdie teks dui nie net op alle gelowiges, Jood of Griek, slaaf of vryman, man of vrou wat saam een en gelyk in Christus is en gered word nie, daardie vers beteken dat alle mense, ook man en vrou nou gelyk in taak/roeping en rol moet wees in die samelewing, maar ook en veral in die kerk. Eenheid is nie genoeg nie, daar moet ook eendersheid orals wees, en die kerk moet voorloop in hierdie gedagte.
Heel konkreet beteken dit vir hom dat om nie pro-VIDA te wees nie, in stryd is met egalitarisme van Gal. 3:28. Die ‘komplementariese standpunt’ (man en vrou is gelyk geskape in waarde en wese, en word gelyk gered in Christus, maar het volgens die skeppingsorde en God se bevele, verskillende rolle en take, wat daarop neerkom dat volgens die Skrif vroue nie in die besondere ampte kan dien nie, 1 Tim. 2 en 3; 1 Kor. 14; Tit. 1 = die GKSA se amptelike sinodebesluite) is volgens hom deel van die “deformation of the principle of equality” as gevolg van die sondeval (p. 4), deel van die probleem wat skuldig is aan die sonde van ‘diskriminasie’, teen die “Magna Charta of Christianity”, dit is nou, teen Gal. 3:28.
Volgens Vorster moet die kerk die wêreld voortgaan in die menseregte gelykheidsbeweging in die kerk, en mens kan nie anders as om af te lei dat -volgens die artikel se beoordeling- die “mans alleen as besondere ampsdraers’ (wat Vorster ook as ‘patriargie’ beskou?) vir Vorster deel is van die ‘evil of inequality’ wat teengewerk moet word, daarom skryf hy aan die einde die volgende woorde:
“The dispensation of evil is known for inhumane relationships such as patriarchy, racism and exploitation, among others. The new reign of God in Christ restores the creational principle of the equality of all people. This equality must be realised among the people of God (church) and must be pursued as a universal principle for all human relationships. The equality of all people is a new condition for human life brought forward by the reality of God’s kingdom in human history. This passage is indeed the Magna Charta of Christianity.” (p. 8)
In antwoord op prof. Vorster se artikel, drie bronne wat wys wat die regte betekenis, gebruik en toepassing van Gal. 3:28 is:
1. Manlik en Vroulik in die Kerk
In hierdie GTV konferensie wat gehou was in 2008, asook die boek wat daarmee gepubliseer is, is ook aangebied deur baie ‘scholars’, en belangrik, geleerdes wat nie net teen VIDA is nie, maar ook pro-VIDA. Hulle het daar tot die volgende konklusie gekom (wat ook die GKSA se amptelike besluit daaroor is) aangaande of Gal. 3:28 enige skriftuurlike grond aanbied vir VIDA (Manlik en Vroulik in die Kerk: Geslagtelikheid en die besondere dienste, Douw G Breed, Fika J van Rensburg, Gert JC Jordaan [redakteurs], PTP, 2008, bl. 101):
“9.6 Gevolgtrekking
Paulus beklemtoon in Galasiers 3:28 met die drie pare onderskeidings Jood/Griek, slaaf/vryman en man/vrou dat alma! wat in Christus glo, deel het aan die beloftes wat God aan Abraham gemaak het. Die eerste groepering wat Paulus noem, te wete Jood/Griek, is spesifiek van toepassing op die eis van die dwaalleraars dat die geadresseerders besny moes word. Die Galasiers hoef hulle egter nie soos die Jode te laat besny nie. Die ander twee groeperings, slaaf/vryman en man/vrou, het nie direk iets te doen met die vals leraars se eis dat die Galasiers besny moes word nie. Die
twee groeperings versterk egter die punt dat almal wat in Jesus Christus glo, deel het aan die belofte aan Abraham. Die lesers van Paulus se brief mag weet dat, wanneer beoordeel moet word of iemand deel is van die nageslag van Abraham, selfs uitdruklike onderskeidings soos slaaf/vryman en man/vrou onbelangrik is. Dan geld net die vraag of jy in Christus gedoop is en met Hom beklee is.
Uit die voorafgaande blyk dit dat Galasiers 3:28 ‘n baie spesifieke betekenis het vir die verstaan van Skrifdele wat handel oor die verhouding tussen man en vrou. Skrifdele waarin gestel word dat (i) die man die hoof van die vrou is (vgl bv Ef 5; 1 Kor 11 ); (ii) dat die vrou aan die man onderdanig moet wees (vgl bv 1 Kor 14; Ef 5; Kol 3:18) en dat (iii) die vrou moet swyg (vgl bv 1 Kor 14 en 1 Tim 2) sou in stryd wees met Galasiers 3:28, as aanvaar word dat die Skrifdele daarop dui dat die vrou nie soos die man deel in die verlossing van Christus nie. Alma! wat in Christus glo, ook vroue, deel in die belofte aan Abraham.
9.7 Toepassing op geslagtelikheid in die besondere dienste
Galasiers 3:26-29 handel dus nie oor die kwessie of die vrou in die besondere dienste mag dien al dan nie. Hierdie Skrifgedeelte werp wel lig op die feit dat alle gelowiges, ook vroue, in Christus deel het aan die verbondsbeloftes aan Abraham. In die lig van hierdie oorweldigende waarheid sou met reg gevra kan word of daar regtens op enige ander terrein – ook wat die besondere dienste in die kerk betref – enige onderskeid tussen man en vrou getref kan word.
Die antwoord op hierdie vraag is egter nie in Galasiers 3:26-29 nie.” (beklemtonings bygevoeg)
2. ONS IN CHRISTUS – CHRISTUS IN ONS
Nog ‘n oud-prof van die TSP van die GKSA, het die volgende kort maar kragtige artikel geskryf oor Gal. 3:28, wat wys om die ware betekenis van hierdie teks, wat ongelukkig misbruik word deur die humanistiese egalitariese bewegings buite, maar ook binne die kerk (beklemtonings bygevoeg):
“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ék nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself in my oorgegee het. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.” — (Gal. 2:20; 3:28).
“Ons moet hierdie twee gedagtes nie losmaak van mekaar nie. “In Christus” val alle onderskeidinge weg, nasionale (Jood en Griek), sosiale (slaaf en vryman), natuurlike (man of vrou). In Christus is ons almal een.
Soos die eenheid van die menslike geslag in Adam verbreek is deur die sonde, so is die eenheid van die menslike geslag weer herstel in Christus. In Christus is alles wat in die hemel is, sowel as wat op die aarde is, onder een hoof vergader (Ef. 1:10).
Dit is so: In Christus val die verskeidenhede nie weg nie —die van slaaf en vryman en van Jood en Griek net so min as die van man en vrou. Maar dit is nie wat Paulus hier wil sê nie. As ons dit hier wil inlees, dan verlê ons die klem van wat Paulus hier wil sê. Dit lê hier nie op die verskeidenheid nie, maar op die eenheid.
Daaruit dat die verskeidenheid tussen man en vrou nie wegval nie, volg nog nie dat dit nie die geval is met slaaf en vryman en van Jood en Griek nie. Paulus wil sê dat selfs die fundamentele onderskeiding, die van man en vrou met betrekking tot Christus nie tel nie. Só een is ons in Christus, ondanks alle verskille.
So is dit met ons in Christus!
Maar “Christus is ook in ons”.
Só in ons, dat Paulus sê: “ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (2:20). Dit moet ons egter nie so verstaan asof Paulus self verdwyn soos die mistikus van die middeleeue: mediteer en mediteer totdat hy in vervoering raak en verdwyn met sy ek, en soos die geval is, wanneer ons van ons godsdiens ‘n saak van die gevoel maak nie. Dan keer ons die saak weer om, en maak ons van “Christus in ons” weer ‘n “ons in Christus”.
As Paulus sê “ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my”, dan verdwyn Paulus nie. Paulus bly Paulus: “Wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het”. Hier is geen sprake van die uitwissing van persoonlikheid en van individualiteit nie.
Ons kan eerder sê: So het Paulus eers waarlik Paulus geword, Petrus waarlik Petrus, Johannes waarlik Johannes, die Jood waarlik Jood en die Griek waarlik Griek. “Ons in Christus” — dit laat die eenheid sien in Christus, die een Hoof in wie ons almal saamgevat is en in wie ons almal saam gesterf en saam opgestaan het en erfgename geword het van die ewige lewe.
“Christus in ons” — dit laat die verskeidenheid, die individuele sien in die eenheid, sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige (veelkleurige) wysheid van God bekend gemaak kan word, volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus onse Here (Ef. 3:10, 11).”
Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman, bl. 291
3. Dr. Attie Bogaards se verklaring (beklemtonings bygevoeg)
“3:28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie., daar is nie meer man en vrou nie. Wie hierdie teks gebruik ter regverdiging van die vrou in die amp, neem die konteks waarin dit staan nie in ag nie en begryp daarom nie waaroor dit hier uiteindelik gaan nie. Paulus trek hier nie ‘n streep deur dinge soos afkoms, geslag of posisie nie.
Al wat die apostel wil sê, is dat geen mens voorkeur by God het net omdat hy tot ‘n bepaalde volk behoort, omdat hy ryk is of wat ook al nie. Daar is geen bevoordeling op grond van volk, geslag ofstand nie. Almal bely dat hulle sondaars is en almal word gered deur die verdienste van Christus alleen. Almal word op een en dieselfde manier gered: deur die geloof alleen, deur genade alleen, sonder enige verdienste van ons kant.
Want (rede) julle is almal een dit wil sê een en dieselfde en nie die een Jood en die ander Griek en die ander slaaf nie. Die een is nie minder as die ander nie. Julle is een in Christus Jesus. Julle word almal, sonder onderskeid in volk of wat ook al, deur en danksy die werk van Christus alleen, aanvaar.”
Bron: Galasiërs: Jesus Christus alleen, Pretoria: Die Boekuitgewers, 2005, bl. 81.