Die “Christusloosheid” van die Psalms in die “Direkte Vertaling” se “Inleiding op die Psalms”

Die “Christusloosheid” van die Psalms in die

“Direkte Vertaling” se “Inleiding op die Psalms”

Lees: Lukas 24:13-53 (veral verse 25-27, 32,44-45)

Ek verwys u hier onder na:

1) Die ‘Inleiding” op die Psalms soos dit verskyn in die beplande nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (verskyn einde van die jaar, DV), wat genoem word die “Direkte Vertaling” (DV),

2) Die ‘Inleiding’ op die Psalms, soos dit verskyn het in die Statenvertaling met verklarende kanttekeninge (SV, 1634).

Sien die groot verskil tussen die onderliggende teologie van beide hierdie vertalings en die verklaarders daarop, aangaande die Psalms.

Dit is baie duidelik uit hierdie Inleidings (asook bv. die notas/kanttekeninge op Psalm 2), dat die vertalers en verklaarders van die DV nie glo dat die Psalms in sy oorsprong, doel en wese Messiaans van aard is nie.  Die DV se Inleiding is ‘Christusloos’, en die verklarende notas in die DV by Psalm 2 gaan bloot voort in die lyn van die nie-Messiaanse Nuwe Vertaling (1983), die nie-Messiaanse ‘Bybel in Praktyk’ teologie en die nie-Messiaanse Cloete omdigting, waaroor reeds baie geskryf en besin is (sien dr. Attie Bogaards se afdeling oor die Psalms en Bybelvertaling hier).  In die DV se notas word bloot vermeld dat die NT skrywers sien in Psalms ‘heenwysings’ na Christus, die Psalms is nie wesentlik ‘Messiaanse Psalms’ opsigself nie, die Psalms het nie ontstaan oorspronklik met die ‘Gees van Christus’ nie (1 Petr. 1:10-12), maar is ‘n latere verstaan deur die NT kerk wat as’t ware Christus terug in die Psams ‘ingelees’ het.

Lees gerus ook hierdie artikel wat ek oor die algemeen geskryf het oor die saak van die Messiaanse Psalms en die DV waarin dit ontbreek:

Opmerkings oor die DV se Psalms

Die leser kan maar self beoordeel as die twee ‘Inleidings’ gelees en vergelyk word, waar Christus sentraal staan as die Sleutel, in die DV se Psalm inleiding, of die SV se Psalm inleiding, asook wat die aard en verklaring van die Psalms gaan wees na aanleiding van die Inleidings se onderskei sienings van die Psalms.

Nota: ek volg die nuutste DV Psalms uitgawe soos dit verskyn op die Bybelgenootskap se webblad: Die Psalms.

“En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.  En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.” (Luk. 24:44-47)

DIE DIREKTE VERTALING SE ‘INLEIDING’ OP DIE PSALMS

Dit kan hier gelees word, en vra uself af, as u die inleiding lees, die woorde wat Christus ons almal vra:

“Maar julle (julle vertalers en verklaarders van die Psalms in die DV -slc). wie sê julle is Ek?” in die Psalms self?”

DIE STATENVERTALING SE ‘INLEIDING’ OP DIE PSALMS

Ek gee vir u hier my Afrikaanse vertaling van die inleiding (daar is ‘n vertalingsprojek wat tans besig is om die Statevertaling met kanttekeninge in Afrikaans te vertaal). Behalwe die ‘Messianiteit van die Psalms’ wat so pragtig hier bely en verklaar word, sien ook hoe sola Scriptura, die genoegsaamheid van die Psalms, maar by implikasie ook die hele Skrif bely en gehandhaaf word deur die verklaarders/vertalers van die Statenvertaling. As u hierdie Inleiding lees, en dit vergelyk met die Inleiding van die DV, vra uself ook af, watter inleiding se Skrifverklaring metode en omgang, gaan ons harte opnuut brandend en opgewonde maak ook Christus en al sy weldade, en dat Hy alleen die Sleutel is tot alle redding en Skrifverstaan:

“Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” (Lukas 14:32)

Hier is die Statenvertaling se Inleiding (beklemtonings bygevoeg):
_____________________________________________________

“HIERDIE boek word tereg as ‘n spesiale juweel beskou, onder andere as kanonieke boeke van die Ou Testament in die kerk van God. Mens kan die waardigheid en bruikbaarheid daarvan nie genoeg oordink nie, en nog minder met woorde uitspreek of beskryf. Sommige noem dit ‘n plesierhof, apteek en skatkamer van Christene; ander ‘n anatomie of disseksie van gelowige siele, ‘n spieël van God se vele en onbegryplike genade.

Op dieselfde manier, ‘n volledige opsomming of ‘n kort begrip van die hele Bybel, die Wet en die Evangelie, of van die ware kennis en diens van God. Die rede daarvoor is, dit bevat aan die eenkant baie heilsame leringe van God se wese en die Heilige Drie-eenheid, van God se eienskappe, ewige raad, heilige Woord en werke, veral van sy genade en wedade aan sy kerk, asook sy geregtigheid en oordele oor alle goddeloses. Verder, van die Persoon en die saligmakende amp van die MESSIAS, ons Here JESUS ​​CHRISTUS, van sy ewige Godheid, menswording, lyding en sterwe, opstanding, hemelvaart, sy sit aan die regterhand van sy Vader, en die uitbreiding van sy koninkryk onder die heidene (nie-Jode?), deur die prediking van die Heilige Evangelie.

Die Psalms spreek verder van die sondige staat van die mens, van die aard en eienskappe van die wedergeboorte, ware berou, liefde en vrees vir God; asook die aard van ware geloof, die vertroue en roem in God, van die sekerheid van verlossing, die stryd van die gees en van die vlees; eweneens vanuit die algemene kerk van die Jode en heidene (nie-Jode?), die kerklike tug, van die gemeenskap van die heiliges, vergewing van sondes, die opstanding van die vlees en die ewige lewe.

Aan die ander kant bevat hierdie boek ook allerlei heilige geestelike oefeninge van die godsaligheid, soos: formuliere of voorskrifte van die lof en prys van God, van danksegging vir die ontvangs van weldade, geloftes van dankbaarheid, van baie oplettende en vurige gebede tot God, vir alles wat dien tot eer van Hom en vir die besondere en algemene beswil van gelowiges, veral in alle soorte kruisdra en beproewing. Dit behels baie heilige oordenkings en besondere lieflike vertroostings en versterkings in die geloof, geduld en alle godsvrug; sodat daar geen toestand van enige Christelike persoon gedink of gevind kan word, waarin hy nie uit hierdie boek na die bevrediging van sy gewete en die bevordering van sy verlossing gedien kan word nie.

Daarom moet elke Christen van enige staat, hierdie boek met spesiale ywer en aandag bestudeer en oordink, om gewoond te raak aan die werkswyse van die Heilige Gees wat daarin gebruik word. Hy moet nie twyfel dat dit op sy siel (as hy die regte sap en die deurdringende krag daarvan geproe het) ‘n baie soet en voordelige hemelse dou sal wees nie, en hy sal nie hartseer wees om dit die hele tyd in sy hart, mond en hande te dra nie. Die Heilige Gees in die Ou Testament, en ons Here JESUS ​​CHRISTUS homself en sy apostels, in die Nuwe Testament het dit herhaaldelik beveel, vir ons plesier, in diens van ons geheue, en die daaglikse gebruik, wat die wyse en goeie God aan Sy kerk oorgelewer het.

Die Hebreërs noem hierdie boek Tehillim, of korter Tillim, dit wil sê lofsange, of lofliedere, omdat ‘n goeie deel van die Psalms daardie inhoud bevat. Die Griekse opsieners het die woord Psalms en Psalter gebruik, wat ook in ons taal bewaar word in die Nuwe Testament, en ook in die Latyn en ander Christennasies, sowel as in ons taal, alhoewel die Griekse woord eintlik verwys na sulke lofsange wat op musiekinstrumente, met die vingers aangeraak of getrek is, op die manier van in die Ou Testament, in openbaarde godsdiens, in die tabernakel en in die tempel, en dit gesing is.

Daar word in die algemeen word daarna as die Psalms van Dawid verwys, omdat Dawid deur ‘n besondere gawe van die Heilige Gees uitgestaan het in die digting van Psalms (soos in 2 Sam. 23: 1, 2 vertel word), die meeste daarvan gemaak het. Die res is gedig deur ander profete en manne van God, soos Moses, Asaf, ens., en deur Esra na die Babiloniese gevangenis (soos mense dit verstaan) in een boek en die volgorde soos dit nou is, saamgevoeg, sonder om die tyd waarin elke psalm gemaak is, te volg.

Die Hebreërs verdeel hierdie boek (wat deur die Here CHRISTUS, Luk. 20:42, die Boek van die Psalms genoem word), in vyf dele of boeke, waarvan die eerste strek tot aan die einde van die 41ste psalm, afgesluit met Amen, ja amen; die tweede tot aan die einde van die 72ste, ook afgesluit met Amen, ja amen, die einde van Dawid se gebede; die derde tot die einde van die 89ste, wat ook afgesluit word met Amen, ja amen; die vierde tot die einde van die 106de, waar dit eindig met Amen, Halleluja; die vyfde tot die einde van die 150ste of laaste psalm, eindig met Halleluja.”

__________________________________________
VERGELYK DIE DV SE NOTAS EN DIE STATEVERTALING SE KANTTEKENINGE BY PSALM 2

Sien gerus ook die SV se kanttekeninge by Psalm 2, ek haal hier ‘n paar aan (en vergelyk dit dan met die notas by Psalm 2 by hierdie verse in die DV (sien die skakel hier):

Psalm 2: 2 “De koningen der aarde stellen zich op, en de 4vorsten beraadslagen tezamen, tegen den HEERE en tegen Zijn 5Gezalfde, zeggende:”

Kanttekening 5: 5 Of: Messías, naamlik die Here Christus, dit is, die Gesalfde, van wie Dawid met sy salwing en koninkryk ’n voorbeeld was.”

Psalm 2:6 “12Ik toch heb Mijn Koning 13gezalfd over Sion, den 14berg Mijner heiligheid.”

Kanttekening 12:Dit is die woorde van God die Vader, oor sy Seun Jesus Christus.”

Psalm 2:12 “27Kust den Zoon, opdat Hij niet toorne, en gij op den 28weg vergaat, wanneer Zijn toorn maar 29een weinig zou ontbranden. eWelgelukzalig zijn allen die op Hem betrouwen.”

Kanttening 27Dit is, eer Hom as my ewige Seun, en neem Hom as jul Koning aan, glo in Hom, wees Hom onderdanig. Vgl. Gén. 41:40 se kanttekening. 1 Sam. 10:1.

Konklusie
Dit lyk darem of die DV ‘n beter vertaling en hulpmiddel gaan wees as die NAV, maar ek sal dit nie aanbeveel bo die meer betroubare OAV wat ons reeds het nie, wat in grondteks keuse, vertaalmetode en veral openbaringshistoriese Skrifverklaring baie meer getrou aan die Teks self is, soos o.a. te vinde in die geestelike historiese wortels van die Statenvertaling met sy kanttekeninge, die geloof wat eens vir ons oorgelewer is deur die Reformasie van die 16de, 17de eeu, wat ‘n terugkeer was sola Scriptura, solo Christo, ens., ook wat Skrifvertaling en Skrifuitleg betref. Dit is die geloof wat saamgevat en bely is in die Sinode van Dordt, en deur ons vadere gebring is na die suidpunt van Afrika, en verder versprei het in hierdie kontinent, die bybelse gereformeerde geloof.

Ja, daar kan verbetering in vertalings plaasvind, daar kan goeie hulpmiddels bykom en ons verder help om die geloof oor te dra aan die nageslag, maar op hierdie stadium lyk dit ongelukkig nie vir my dat die Direkte Vertaling, veral met sy notas en inleidings, baie daarmee gaan help nie, veral nie as ek sien hoe hul met die Messianiteit van die Psalms en OT oor die algemeen omgaan nie, dit is baie jammer.

Ons wag nog om die finale produk te ontvang en te evalueer, op hierdie stadium lyk dit vir my dat dit ‘n hulpmiddel (met sekere voorbehoude) kan wees, maar sal dit nie kan aanbeveel as amptelike kansel en Kerkbybel vir amptelike gebruik nie.  Ek raai mense aan om aan te hou om die OAV te gebruik en die kanttekeninge van die Statevertaling te gebruik om met verklarings te help. Selfs in hierdie sin is die Bybel met Verklarende Aantekeninge ook baie behulpsaam, en kan ek ook die volgende twee Studiebybels aanbeveel:

The Reformation Study Bible (NKV)

The Reformation Heritage KJV Study Bible

Sien ook hier waar ek reeds ‘n paar ander opmerkings oor die Direkte Vertaling geskryf het, oor ander onderwerpe waaroor mens ook besorg is:

Die Direkte Vertaling: ‘n Paar aantal Opmerkings om te oorweeg

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: