Die Kinderdoop en Besprinkeling: Ja of Nee?
deur dr. Willie Marais
(Voorwoord, Inhoudsopgawe en Inleiding)
Nota: Ek plaas graag dr. Willie Marais se boek hier oor die kinderdoop, soos ek dit verwerk om hier geplaas te word, hoofstuk vir hoofstuk. Hier onder is die voorwoord, inhoudsopgawe en inleiding. Sien hier vir meer inligting oor dr. Willie Marais. Die boek van dr. Willie is baie handig, soos mens kan sien in die inhoudsopgawe se 32 vrae/onderwerpe wat hy aanspreek (hoofstuk 32 bestaan ook uit 19 onderwerpe of vrae). Daar word nie net die basiese Skrifgronde, teologiese, konfessionele en kerkgeskiedkundige argumente weergegee aangaande die kinderdoop nie, maar ook baie ander beginsel- en praktiese vrae oor die kinderdoop, wat baie leersaam is om oor te besin. Hopelik kan die boekie baie gelowiges help om opnuut die verbondsdoop te verstaan, waardeer en vas te hou in leer en lewe (ek maak hier en daar opmerkings, gewoonlik vooraf gemerk met die woorde ‘nota’ of my voorletters: ‘slc’).
“En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou.” (Gen. 17:7)
“Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” (Hand. 2:39)
Voorwoord
In die harte van baie mense – binne en buite die kerk – leef daar talle vrae oor die doop: die noodsaaklikheid, die betekenis, die wyse, die moontlikheid van herhaling daarvan, ens. Helaas word in die prediking en die kategetiese onderrig dergelike en ander brandende vrae, nie altyd tot bevrediging van ons mense behandel nie. Wanneer dan na literatuur gesoek word, word die skokkende ontdekking gemaak dat daar heel weinig werke bestaan wat so eenvoudig geskrywe is dat dit maklik en met begrypende insig gelees kan word.
Om die rede word hierdie boek van die bekende dr. Willie Marais van harte verwelkom. Dit voorsien op ‘n waardige wyse in ‘n groot behoefte. Maar daar is ‘n tweede rede waarom ons hieroor dankbaar is. Hier is immers ‘n man aan die woord wat nie alleen jare lank met die leerstuk oor die doop besig is nie, maar wat ook skrywe uit ‘n hart vol brandende ywer en vuur vir die God van die verbond waarvan die doop die seel en die teken is, terwyl hy in sy eie lewe die krag van die bloed van Christus, waarvan die water in die doop die teken is, op ‘n lewensvernuwende wyse ondervind het.
AI hoef mens nie met alle formuleringe saam te stem nie, een ding is wel duidelik: dit is ‘n boek wat met groot seën gebruik kan word. Op talle – ook gewoon praktiese – sake werp dit ‘n helder en betroubare lig, en deurgaans voel die leser die gloed van die liefde waarmee dit geskrywe is, en waartoe dit tel kens weer oproep.
J.A. Heyns, M.A. (Stellenbosch), Th. Dr. (Amsterdam), D. Phil, (Potchefstroom), hoof van die departement Dogmatiek en Etiek aan die Universiteit van Pretoria. (April 1974)
INHOUDSOPGAWE
Inleiding
1. Hoe lei die Heilige Gees ons in sake soos die kinderdoop?
2. Mag iemand hom in die geheim laat oordoop?
3. Is dit verkeerd om jou te laat oordoop?
4. Is die dissipels van Handelinge 19 oorgedoop?
5. Mag ek my laat oordoop as my ouers ongered was toe hulle my ten doop gebring het?
6. Mag ek oorgedoop word as die predikant wat my gedoop het ongered was?
7. Is Martin Luther en Andrew Murray oorgedoop?
8. Hoe moet oor die aanwesigheid van en die gebrek aan vreugde by die wat oorgedoop word geoordeel word?
9. Is die inseën, opdra of toewy van kindertjies Bybels?
10. Is die doop van suigelinge ‘n noodsaaklikheid?
11. Wat word van die ongedoopte kindjie wat vroeg te sterwe kom?
12. Word ons nie deur die doop salig nie?
13. Waarom is Jesus dan groot gedoop?
14. Is die kinderdoop en besprinkeling gebooie en leringe van mense? Waarom vind ons geen duidelike voorbeeld in die Bybel van kindertjies wat gedoop is nie?
15. Is die kinderdoop van die begin af beoefen? Wat leer die vroeë kerkgeskiedenis ons?
16. Waarom vind ons geen spesifieke opdrag dat suigelinge qedoop moet word nie?
17. Mag alleen dissipels gedoop word?
18. Moet ons nie eers glo voordat ons gedoop mag word nie?
19. Leer die Bybel nie dat net bekeerlinge gedoop mag word nie?
20. Waarom lees ons dan in Hand. 8: 12 slegs van manne en vroue wat gedoop is?
21. Het die doop in die plek van die besnydenis gekom?
22. Moet die dopeling nie self vra om gedoop te word nie?
23. Waarom is lang betoë nodig om die kinderdoop te verklaar?
24. Waarom verskil die geleerdes so skerp oor die kinderdoop?
25. Is die verbond die grond vir die doop van suigelinge?
26. Kan die kinderdoop in die Bybelse kerkbegrip ingepas word?
27. Word die gawe van die Heilige Gees in die doop gegee?
28. Watter verband het die spreek in tale met die gawe van die Heilige Gees?
29. Mag iemand wat as suigeling gedoop is, sê dat hy nie gedoop is of gedoop was nie?
30. Moet die doop deur middel van besprinkeling of onderdompeling geskied?
31. Wat staan ons nou te doen?
32. Verskillende vrae oor praktiese aangeleenthede by die doop:
i. Moet die dopeling in water staan terwyl hy gedoop word?
ii. Mag die voorhoof van die suigeling alleen met nat vingers aangeraak word?
iii. Hoeveel maal moet die suigeling besprinkel word?
iv. Is dit reg dat water spesiaal uit die Jordaanrivier geskep word om die doop te bedien?
v. Word net die naam of ook die van van die dopeling genoem?
vi. Mag iemand tuis of buite die erediens gedoop word?
vii. Wie mag die doop bedien? 155
viii. Mag een die doopformule uitspreek en ‘n ander die doop bedien?
ix. Handhaaf die kerk wat volwassenes sowel as suigelinge doop dan twee verskillende dope?
x. Mag die een kerk die kinders van lidmate van ‘n ander of van ‘n susterskerk doop?
xi. Mag ‘n ongetroude moeder haar kind laat doop?
xii. Hoe staan die saak met die gebruik van doopgetuies?
xiii. Mag aangenome en vondeling-kinders gedoop word?
xiv. Wat word van ouers verwag wanneer hul kindertjies te vroeg gebore word?
xv. Mag die kindertjies van goddelose ouers gedoop word?
xvi. Mag ‘n swaksinnige, verstandelik vertraagde of ‘n idioot gedoop word?
xvii. Wat is die korrekte doopformule wat by die doop gebruik moet word?
xviii. Moet die bediening van die doop voor of na die prediking qeskied?
xix. Hoe lank mag met die doop van ons klndertjies getalm word?
33. Verwysings
34. ‘n Uitnodiging aan die leser!
INLEIDING
(deur dr. Willie Marais)
Eindelik het dit vir my moontlik geword om aan die versoek van talle vriende te voldoen om hierdie boek oor die doop te skrywe. Ons sien die doop as een van die twee sakramente (‘n sigbare teken wat ‘n onsigbare saak aandui) wat deur Christus ingestel is, as die uitwendige waterbad waarby Hy beloof het dat ons net so seker met Sy bloed en Gees gewas is van die onreinheid van ons siele, dit is van al ons sondes, as wat ons uitwendig gewas is met die water wat die onsuiwerheid van die liggaam wegneem.
Dit is ‘n heilige, sigbare waarteken en seël wat ingestel is om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die Evangelie des te beter te laat verstaan en te verseel: naamlik dat Hy ons vanweë die offerande van Christus, wat aan die kruis volbring is, vergewing van sondes en die ewige lewe uit genade skenk.
Dit is voorts vir ons duidelik dat suigelinge gedoop moet word, aangesien hulle net so goed as die volwassenes in die verbond van God en in Sy gemeente ingesluit is, en aan hulle nie minder as aan die volwassenes nie, deur die bloed van Christus beloof word die verlossing van die sondes en die Heilige Gees wat die geloof werk. Daarom moet hulle ook deur die doop, as deur die teken van die verbond, in die Christelike kerk ingelyf of ontvang en van die kinders van die ongelowiges onderskei word, soos dit gedoen is in die ou Verbond of Testament deur die besnydenis, waarvoor in die Nuwe Verbond die doop ingestel is (nota: hier verwys dr. Willie na Heidelbergse Kategismus, Sondag 27, vraag en antwoord 74).
Soos Christus ons beveel het, word ons met water gedoop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. En ons glo dat net soos die water die vuilheid van die liggaam afwas wanneer ons daarmee begiet word, net so doen die bloed van Christus dieselfde inwendig in die siel deur die Heilige Gees: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en wederbaar ons uit kinders van die toorn tot kinders van God. En dit geskied nie deur die uiterlike water nie, maar deur die bloed van Christus.
Die kerk gee aan ons van sy kant die sakrament en wat siqbaar is, maar die Here gee aan ons wat deur die sakrament aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes van die nuwe lewe. So word ons geloof voorts deur die sakrament van die doop versterk, en dit geld vir die ganse tyd van ons lewe, want ons geloofslewe gryp ons hele lewe lank terug na die feit van ons doop, waarmee die verband tussen ons doop en die voortdurende bekering bevestig word. Daarom verwerp ons ook die dwaling van almal wat nie met ‘n enkele doop tevrede is wat hulle een maal ontvang het nie. Ons glo dat almal wat die voorneme het om in die ewige lewe te kern, maar een maal gedoop moet word sonder dat dit ooit herhaal moet word, want ons kan ook nie twee maal gebore word nie (nota: hier verwys dr. Willie na Nederlandse Geloofsbelydenis artikels 33 en 34)
Hierdie standpunt word egter deur vele heftig bestry. En sedert die opspraakwekkende brosjure van Karl Barth het die vrae rondom die kinderdoop weer eens aktueel geword.
Ons leef in ‘n tyd waarin die kinders van die Here mekaar nodig het en die kerk dit nie kan bekostig om verdeeld te staan teen die aanvegtinge van buite nie. Maar wat is die situasie vandag? ‘n Duisternis van kerke wat mekaar byna almal in mindere of meerdere mate beveg. Hoe jammerlik tog is hierdie sondige verskeurdheid in die oë van die wêreld nie. Maar wat of wie is die oorsaak van hierdie verskeurdheid? Sedert die Hervorming was die vyande van die kinderdoop hoofsaaklik verantwoordelik vir die versnippering van die kerk. Die verdeeldheid wat tot stand gekom het is nie dieselfde verdeeldheid as wat Jesus op aarde veroorsaak nie (Vgl. Luk. 12 :49 – 53). Jesus bring verdeeldheid tussen die lewendes en die dooies, want Hy moet Sy gemeente reinig deur die waterbad deur die woord om dit te heilig (Efes. 5:25,26; Tit. 3:5), om sonder gebrek in liefde te wees (Efes. 1 :4), sodat Sy kinders volgens dieselfde reël mag wandel en eenstemmig kan wees (Filip. 3:16). Maar die vyande van die kinderdoop het verdeeldheid tussen lewendes en lewendes gebring.
Hoe baie hartseer, pyn en verskeurdheid of verdeeldheid tussen man en vrou, ouers en kinders, broers en susters en ook gemeentelede onderling is nie op hierdie wyse tot stand gebring nie? Hoe baie lidmate is nie hierdeur verwar en heen en weer geslinger nie? En die felheid waarmee die kerke aangeval word, geskied nie altyd op hoë vlak nie. Hoe dikwels word daar nie qesê dat predikante kindertjies doop met ‘n slegte gewete en dat hulle alleen maar met so ‘n onbybelse praktyk voortgaan omdat hulle nie hulle werk wil verloor nie. En aan lidmate word gesê dat hulle gebooie en leringe van mense aanhang en vader en moeder en broer en suster liewer het vir God, wanneer hulle weier om hulle te laat oordoop d.m.v. onderdompelinq eers nadat hulle tot geloof en bekering gekom het.
Kinders van die Here kan oor baie dinge saamstem en vir baie sake saamwerk, maar vroeër of later kom dit telkens weer en weer by die doopvont uit. Dit is by die doopvont dat die paaie uitmekaar gaan en waar die kerk talle van sy lidmate verloor.
Dit sal ons nie help om hierdie feite te ignoreer nie. Daar waar ons van mekaar weggegaan het, daar sal ons weer bymekaar moet uitkom. Die kerk het ‘n dure plig om rekenskap te gee van die geloofwaardigheid van hierdie leerstuk wat hy geslagte lank al verkondig en in die praktyk toepas.
En ek wil graag in hierdie boek ‘n beskeie bydrae lewer.
Die boek neem die vorm aan van 32 hoofstukke, waarin op allerlei vrae ingegaan word. As gevolg van hierdie opset was ek genoodsaak om reeds vroeg in hierdie werk, en op meer as een plek, argumente te bou op stellinge wat reeds aanvaar, maar eers later beredeneer en bewys word. Om lompheid uit te skakel het ek nie elke keer gesê dat dit later aangetoon sal word of reeds aangetoon is nie. Die inhoudsopgawe sat die leser egter help om op hierdie vrae ‘n onmiddellike antwoord te verkry.
By al die voordele wat hierdie metode inhou, het dit egter een nadeel, as dit werklik ‘n nadeel is, dat ek gedwing was om ter wille van volledigheid by elke antwoord sekere sake telkens te herhaal. Ek vertrou dat dit nie vir u hinderlik sal wees nie, maar tot hulp. Miskien sal dit goed wees as die leser die boek eers haastig deurlees om ‘n geheelbeeld te verkry, en dit daarna met die Bybel in die hand stelselmatig deur te werk. U kan selfs ook eerste die antwoorde op die vrae lees wat u interesseer of probleme besorg.
Ek kon in hierdie boek met die hoofstukke oor die verbond, die wese van die kerk en die aard van die geloof volstaan het, want die argumente hier is absoluut sterk genoeg om die Bybelse grondslag van die kinderdoop te bewys. Maar sodoende sou ek nie reg laat geskied aan die talle ander vrae wat deur die teenstanders van die kinderdoop gestel word nie. Ek moes in baie van hierdie ander gedeeltes die argumente van die andersdenkendes tegemoet kom en probeer om hulle op dieselfde vlak te oortuig of aan my lesers rekenskap te gee teenoor ‘n bepaalde soort van redeneertrant wat daagliks onder die volk in omloop is. Ek weet dat die Bybel ongelukkig sodoende soos ‘n soort wetboek hanteer word waaruit ‘n mens alles kan en moet bewys, in plaas van een stuk evangelie van Gods genade. Intussen moet ek tog ‘n ernstige woord van vermaning rig aan almal wat meen dat alles vandag nog gekopieer moet word soos dit in die Bybelse tye gedoen is of gebeur het, omdat dit geen onderskeid maak tussen die historiese en normatiewe in die Bybel nie; aan almal wat nie van die genade alleen wil en kan lewe nie, maar steeds iets wil en moet presteer vir hul sieleheil, al is dit net die sogenaamde gehoorsaamheid om hulle weer te laat doop, omdat niemand uit die werke van die wet gered kan word nie (Gal. 2: 16, 21) en die soenoffer van Jesus vir ons redding genoegsaam is (1 Petro 1:18, 19); aan almal wat die Bybel as ‘n wetboek met reglemente opvat en die reglemente wil uitvoer, sonder dat hul rus wil vind in die voorkomende genade van onse Heer, omdat hulle daardeur weer onder die juk van diensbaarheid gebring word (Vgl. Gal. 2:2-5).
Ek maak in my studie gebruik van die nuwere taalkunde in die eksegese, veral, wat die verstaan van die Griekse aoristus (die ou onbepaalde verlede tyd) betref. Hieruit word dit duidelik dat geen standpunt oor die doop uit die eksegese nie, maar alleen op dogmatiese grande gehandhaaf kan word.
Ek meen om in die boek aan te toon dat die kinderdoop van die begin af deur die Christelike kerk beoefen is en wel d.m.v. besprinkeling. Ek sal ook aantoon dat Hebr. 6:1-9 gebruik kan word om teen die wederdoop te waarsku. Ek meen ook dat ‘n ongedoopte kindjie wat vroeg te sterwe kom verlore is wanneer die sakrament deur veragting versuim word. Dit kan selfs moontlik ook die geval wees waar ouers eerlik van oortuiging was dat dit verkeerd sou wees om hulle kindjie ten doop te bring, al sou ons van hierdie laaste afleiding nie absoluut seker kan wees nie.
Ek skrywe aan almal wat die waarheid liefhet. Mag u my antwoord met welwillendheid ontvang en edelmoedig die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so is (Vgl. Hand. 17:11).
_____________________
Volgende hoofstuk/vraag: 1. Hoe lei die Heilige Gees ons in sake soos die kinderdoop?