Die Kinderdoop en Besprinkeling: Ja of Nee? (1. Hoe lei die Heilige Gees ons in sake soos die Kinderdoop?)

Die Kinderdoop en Besprinkeling: Ja of Nee?

1. Hoe lei die Heilige Gees ons in sake soos die Kinderdoop?

deur dr. Willie Marais 

Nota: Sien die inleiding, inhoudsopgawe, voorwoord van hierdie boek, asook inligting oor die skrywer hier. Hierdie vraag/hoofstuk is nie net belangrik om mens te help oor hoe om die saak aan te spreek oor die kinderdoop as jy daarmee verskil nie, maar dit geld ook vir enige leerstuk van die kerk waaraan mens tans behoort, en hoe ek die sake dan bybels en ordelik tot eer van die Here sal aanspreek. Nog ‘n belangrike aspek waarop dr. Willie wys is dat die Heilige Gees met ons ‘spreek’ en ons lei nie los of teen nie, maar volgens sy Woord.            ____________________________________________________

Vraag 1: HOE LEI DIE HEILIGE GEES ONS IN SAKE SOOS DIE KINDERDOOP?

Die Bybel is geen teologiese handboek nie. Sake soos bv. die leer van die drie-eenheid, die Christelike rusdag en die doop is teologiese vrae. Die antwoorde op hierdie vrae is nie altyd of vir almal altyd glashelder in die Bybel gegee nie. Daarom het die kerk langs die weg van stryd en moeisame besinning tot bepaalde formules gekom. En vir hierdie formules beroep die kerk hom nie net op sekere tekste nie maar op die getuienis van die ganse Skrif.1)

Daarmee wil die kerk nie beweer dat sy formules onfeilbaar is nie, maar verklaar onomwonde:

“En geen geskrifte van mense, hoe heilig hulle ook al gewees het, mag met die Goddelike Skrifte gelykgestel word niet of ook die gewoonte met die waarheid van God nie — want die waarheid is bo alles — of ook die groot menigte oudheid of die opvolging van tye of persone of die konsilies, verorderinge of besluite nie; want alle mense is uit hulself leuenaars en nietiger as die nietigheid self. Daarom verwerp ons van ganser harte alles wat met hierdie onfeilbare reët nie ooreenkom niet soos die apostels ons geleer het as hulle sê: Stel die geeste op die proef of hulle uit God is. En ook as iemand na iulle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie.”2)

Altyd sal die geskrifte en  besluite van die kerk weer en weer aan die Skrif getoets moet word. Aan die hele Skrif (Jes. 8:20; Ps. 1 19:9; 2 Tim. 3: 16; 4: 12; 2  21) en aan niks anders nie. En as die besluite van die kerk voortdurend aan die toets van die Skrif onderwerp moet word, dan seker ook die oorlegginge en gedagtes van die individuele gelowige (Hebr. 4: 1 2).

Wie weier om getoets te word, is reeds mislei (1 Joh. 4: 1 ). Al het elke gelowige die salwing van die Heilige, en al wil die salwing hom aangaande alles leer (1 Joh. 2:20, 27), is dit ook waar dat daar in die Skrif dinge staan wat deur die ongeleerden onvaste mense verdraai word net soos die ander Skrifte tot hulle eie verderf (2 Petr. 3:15, 16). Daarom het Christus ook aan sy kerk skrifgeleerdes en wyse manne gegee (Matt. 23:34) wat as voorgangers moet waak vir die siele van die gemeente waaroor God hulle as opsieners aangestel het (Hebr. 13: 17; Hand. 20:28, 29).

As die gelowige hom dus deur die Heilige Gees laat lei (Rom. 8:14), dan erken hy daarmee dat God hom ook deur geesvervulde mense kan lei, terwyl hy rekening hou met die moontlikheid dat goeie en Godvresende mense ook kan dwaal (Vgl. 2 Sam. 7:1-5; Matt. 16:22-23). Elkeen wat met die Bybel in die hand na hom toe kom, het nie noodwendig die waarheid beet nie, want die duiwel ken die Bybel beter as enigeen van ons en sal nie aarsel om ons selfs met Bybeltekste te verlei nie (Vgl. Matt. 4:6,7). Ons moet steeds versigtig wees soos slange (Matt. 10:16) en die Skrifte ondersoek of die dinge wat ons hoor die waarheid is (Hand. 17:1 1 ), want dit is niks besonders wanneer die dienaars van Satan hulle ook as dienaars  van die geregtigheid voordoen nie (2 Kor. 11: 14,15).

Maar dan moet ons nie leiding soek in gesigte, drome, openbaringe of tekens nie, want dit is die weg van ‘n owerspelige en slegte mens (Matt. 12:39). Alle drome of gesigte of tekens saÌ aan die Skrif getoets moet word, want die Skrif waarsku ons dat ons nie moet dink bo wat geskrywe is nie, want dan word ons teenoor andere opgeblase (1 Kor. 4:6), en alle hoogmoediges van hart is vir die Here ‘n gruwel (Spr. 16:5).

Intussen is dit ook die verlange van die Skrif dat die kinders van die kerk volgens dieselfde reël sal wandel en oor sake eensgesind sa} wees (Filip. 3:16). Daarom het Paulus en Barnabas toe daar in die kerk oor die besnydenis ‘n woordestryd was (Hand. 15:1) na Jerusalem gegaan, sodat die apostels en ouderlinge die saak kon ondersoek (Hand. 15:2, 6). En die hele kerk het oor die saak ‘n besluit geneem, wat d.m.v. ‘n skrywe vir voorligting aan die verskillende gemeentes deurgestuur is (Hand. 15:22 — 29). Dit was steeds die bedoeling van die Heilige Gees dat God nie ‘n God van wanorde is nie, en dat alles in die gemeente welvoeglik en ordelik sal geskied (1 Kor. 14:33, 40).

Dit mag dus nie aan elke gelowige se eie en willekeurige leiding oorgelaat word om oor sake na eie goeddunke te handel nie. Daar moet eenstemmigheid en orde in die gemeente wees. Wanneer iemand dus verklaar dat hy deur die Heilige Gees gelei word om dinge te leer en te doen wat in stryd met die vasgestelde reël en goeie orde van die betrokke gemeente is, terwyl hy nog lid van daardie gemeenskap wil bly, dan kom dié leiding beslis nie van die Heilige Gees nie, want die Heilige Gees kan ons nooit in stryd met wat Hy reeds in die Skrif aan ons openbaar het nie. Die Skrif leer: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie” (Matt. 12:25). Die kerk het reg daarop om van at sy lidmate te verwag om -in leer en lewenswandel met die vasgestelde reël en goeie orde saam te stem. So het almal van hulle by die aflegging van geloofsbelydenis daartoe plegtig ingestem.

Wanneer die gelowige meen dat die kerk oor een of ander saak dwaal, dan rus die bewyslas op hom om die kerk te oortuig dat die kerk deur die eeue heen die leiding van die Heilige Gees in die Skrif oor dié bepaalde saak verkeerd verstaan het, of sonder die getuienig van die Skrif oor sake besluite geneem het. Maar dan moet hy dit uit die Skrif aantoon en hom daarvoor nie op een of ander spesiale openbaring of gesig beroep nie, omdat die Skrif ons nie die reg gee om te dink bo wat geskrywe is nie (1 Kor. 4:6). Alle vermeende bonatuurlike openbaring of leiding sal met die getuienis van die Skri’ moet ooreenstem aangesien alleen die Skrif vir ons ja en amen is (2 Kor. 1 :20), dit wil sê, die einde van alle teëspraak is. En wanneer  hom tog op die Skrif beroep, sal daardie Skrifgetuienis getoets moet word aan die getuienis van die ganse Skrif.

Die vraagstuk met betrekking tot die doop van kinders is nie ‘n saak waar elkeen op spesiale leiding buite die Skrif om moet wag of na tekens moet soek of om gesigte en spesiale openbaring moet vra nie, maar ‘n saak waarin die gelowige met biddende opsien na Bo en studie  navorsing en gesprek moet soek om die wil van God te ken en ook te doen. Intussen word dit met goeie reg van hom verwag om hom as ‘n gehoorsame kind van sy kerk aan die verordeninge en besluite te onderwerp soos hy vantevore as in teenwoordigheid van God onderneem het om te doen.

Wanneer daar egter allerlei ernstige gewetensbesware opkom, moet hy ‘n neutrale houding inneem en sy  kerk met sy probleem in vertroue neem in die gesindheid van iemand wat erken dat hy nog baie moet leer en dat hy erken dat hy by meerdere lig en insig weereens met vrymoedigheid en vertroue die standpunt van sy kerk sal kan dien. Die opset en houding moet wees van een wat alles probeer om die goeie reg van die standpunt van sy kerk te wil aanvaar en verdedig, en nie dié van iemand wat alles probeer om sy kerk verkeerd te bewys nie. Alleen op hierdie wyse sal  iemand met ‘n goeie gewete uiteindelik dan die deure van sy eie kerk teen hom kan sien toegaan, wanneer hy desnieteenstaande hierdie optrede geen tevredenheid kon verkry nie, en eers nadat hy langs die kerklik gebaande weë en in die gesindheid van Christus, alles in werking gestel het om die kerk . waaraan hy behoort het van sy standpunt tevergeefs probeer oortuig het.

Verwysings

1 Visee G., Ons aller moeder, Loes, 1961, p. 127.

2. Die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 7 (voortaan: NGB)

_____________________

Vorige hoofstuk: Voorwoord, Inhoudsopgawe en Inleiding

Volgende hoofstuk/vraag: 2. Mag iemand hom in die geheim laat oordoop? 3. Is dit verkeerd om jou te laat oordoop?

One thought on “Die Kinderdoop en Besprinkeling: Ja of Nee? (1. Hoe lei die Heilige Gees ons in sake soos die Kinderdoop?)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: