PREEK: AMOS 3:6
WAT MOET DIE KERK GLO EN DOEN AS ENIGE ONHEIL ONS TREF?
Lees: Jesaja 45:5-8 en Amos 3:1-8
Teksvers: “Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie? (Amos 3:6b)
Preekopname (GK Carletonville, 2020-03-22):
Wat moet die kerk glo en doen as enige onheil ons tref?
(Nota: die audio opname is die volledige preek, die preekteks hier onder bevat die basiese inhoud, onthou egter die audio en teks bevat nie altyd dieselfde inhoud nie.)
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Wat doen die gelowige, as onheil ons tref,
persoonlik, gesin, gemeente, gemeenskap,
in die land wat ons woon, in die wêreld, soos nou met die corona-virus?
Die vraag is nie of onheil gelowiges ook tref nie,
maar wanneer dit ons tref in die lewe?
Ons hoor die woord ‘onheil’ daar in ons teksverse, spesifiek v.6
“Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie? (Amos 3:6)
Hierdie woord in die oorsponklike kan op baie sake wys,
afhangende van die konteks hoe dit gebruik word.
Die woord wys op ‘teenspoed, rampe, katestrofes, boosheid, oordele en strawwe van God, nood, kwaad, ondergang, ongeluk, moeilikhede’ alles wat die mens en wêreld kan tref.
In ons omgangstaal sal ons sê, wanneer iets ’n mens of samelewing tref,
wat ‘ons’ meen vir ons sleg is, na gees en of liggaam … soos nou bv. die corona virus.
Natuurlik kan die onheil wat ons tref in die lewe verskillende vorme aanneem,
om maar bloot die woorde van die HK daar te gebruik in Sondag 9 en 10,
Die HK praat van dat die lewe as ‘n ‘aardse jammerdal’… daar is hartseer, pyn, gebrokenheid ons ons lewe en wêreld, dit is ’n realiteit wat nie ontken kan word nie.
Die HK noem dan ook sake soos: ‘droogte, onvrugbare jare, siekte, armoede, teëspoed’.
Alles dinge wat ons tref wat ons bedruk kan maak, dit vir ons moeilik maak,
wat die lewe vir ons onaangenaam kan maak,
soos ons nou begin voel in ons wêreld,
hierdie virus, ongeag hoe erg of nie, of mens oor alles sekerheid of nie,
dit raak die hele lewe… persoonlik, gesin, gemeente, gemeenskap,
ekonomie, politiek, ontspanning, sport, onderwys, alles!
NOU IS DIE VRAAG: HOE MOET DIE GELOWIGES DIE KERK ENIGE ONHEIL,
OOK HIERDIE ONHEIL VAN ’N VIRUS WAT ONS TREF, REG VERSTAAN?
Dit wil ons vanoggend hoor uit God se Woord,
met die vertrekpunt Amos 3:1-8 as ons teksverse
(Ons wil leer wat ons moet glo oor onheil, rampe, siektes, pandemies wat ons tref.)
Amos, was ‘n 8ste eeu VC profeet,
tydens koning Jerobeam 2 se regeringstydperk,
wat deur die Here geroep is om teen Juda en veral die ryk van Israel te profeteer, 7:15.
Hy moet die strafredes, ja die gerig, die onheil wat die Here oor hul sou bring verkondig,
aan die volk wat hul nie van harte wou bekeer oor al hul sondes nie.
Die volk was skuldig aan afgodery (5:26), eerste tafel oortredings,
maar ook ongeregtigheid teen die naaste
Daar was baie onreg in die land, bedrog, oortredings van die 2de tafel
teen die naaste, 2:6-8; 4:1.
Ja, die godsdienste feeste het aangegaan, die uiterlike godsdiens,
maar daar was nie ware bekering en verootmoediging voor die Here nie.
Die volk se houding was: maar ons is mos die uitverkore volk,
die kinders van Abraham, die fout was die heidene, ongelowige volke,
nie ons nie, dit sal maar altyd goed gaan met ons, ongeag wat ons glo en doen,
ons kan maar voortgaan met ons lewens, in sonde, niks gaan gebeur nie.
Ja, geliefdes, is dit nie die gevaar van baie in ons tyd,
ons land en geskiedenis, ons kerke.
Ons kan bloot aanhou sondig, die Here sal niks doen nie.
Hy is mos ’n liefdevolle God wat nie ‘onheil’ bring nie.
Ja, dalk oor die heidene, maar tog nie oor sy kerk nie…?
Nee, geliefdes, die Woord, die hele Woord, OT en NT leer anders.
En dit wil ons nou juis sien uit Amos 3, hoe die Here ons aanspreek,
ook in ons tye van onheil, teëspoede, ongemak en vrae wat ons het.
Want dit is tog wat die gelowige en kerk van die Here bo alles moet vra:
Here wat leer U ons, wat ons moet glo en doen?
Dit is die oproep daar in vers 1… HOOR die Woord van die HERE,
oor jul lewens, die tye, waaroor alles gaan, die lewe, ens….
Eerstens dan, moet ons sien, die feit dat die Here sy volk, ons uitverkies het,
beteken nie dat Hy ons nie sal tugtig in sy liefde nie, verse 1-5.
Die Here het sy volk uitverkies, Hy kies sy kinders,
hul verlos hul uit Egipte (uit die sonde slawehuis) alleen uit genade, niks verdienste nie.
Vers 2, Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde; dáárom sal Ek by julle besoeking doen oor al julle ongeregtighede. (Amos 3:2)
Maar dan, vers 1, die Here sy volk verlos uit Egipte, sodat…
om Hom in dankbaarheid te dien, volgens sy Woord (sien ook Ef. 1:4).
Maar as hul Hom nie dien nie, sy gebooie verbreek, net kerk-kerk speel,
daarom sal die Here juis besoeking doen,
Hy sal onheil bring, verse 6 (lees vers 6b).
In verse 3-6 gebruik Amos dan ook verskillende beelde om twee sake heeltyd te beklemtoon:
– dat Amos, dat die Here se predikers, namens die Here spreek, hoor en luister daarom
as jy die Woord van die Here hoor, en,
– Daar is oorsaak en gevolg in die lewe, as ons in ’n verbondsverhouding met die Here staan,
dan is daar verantwoordelikheid wat ons moet nakom, anders is daar gevolge….
wat jy saai sal jy maai, Gal. 6:7.
EN, deur hierdie retoriese vrae wat gestel word,
roep dit almal uit om JA te antwoord, ek verwoord dit as volg:
– as twee saam afgespreek het, is die gevolg: hul wandel saam, v.3
Die profeet wandel saam met die Here, en verkondig sy wil
Toepassing: moenie dink jy kan die Here se profete/bedienaars verwerp,
maar dan nie die Here nie. As Israel Amos verwerp, sy boodskap = Here verwerp.
So, vandag nog, elkeen wat die evangelie verkondigers aanhou verwerp, verwerp die Here.
– as ’n leeu ’n prooi vang, is die gevolg sy brul, v.4
Die profeet se waarskuwings is die Here se waarskuwings, moet dit nie verwerp nie.
Julle staan in ‘n verbondsverhouding met Hom, wandel dus in julle lewe daarvolgens!
As die Here brul, spreek, waarsku, moet daar geluister word…
– ’n strik word gespan, die gevolg is die voël word gevang, v.5
God se oordele wat die profeet oor waarsku, sal plaasvind, as die volk hul nie bekeer nie.
AS die Here nie al reeds in hierdie lewe oordeel nie, sal dit in die finale oordeel plaasvind.
Nie dalk nie, dit sal kom…
– die basuin word geblaas, die bevolking is verskrik, 6b
Die basuin wil waarsku, die volk moet die Here vrees, sy oordele vrees, wakker word vir die komende oordeel.
Dit wil aandag trek, dit wil sê gee aandag.
Luister, hoor!
Maar nou, in die tweede plek, moet ons raaksien wat die profeet sê,
aan die einde van vers 6, dit is baie belangrik:
Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie? (Amos 3:6)
Nou, raak dit moeilik,
Amos sê dus, in die lyn van sy ander voorbeelde:
Die Here is die oorsaak, Hy ‘bewerk’ die onheil wat oor sy volk kom
Hier is onheil spesifiek is nie ‘sonde onheil’, asof die Here die outeur van sonde of boosheid is nie,
dit is die Here wat sy regverdige strawwe en plae oor sy volk bring,
in lyn met Deut. 32 (sien ook Lev. 26), waar die Here sy seën en strawwe vir die volk voorhou.
As hul afdwaal van sy verbond en woord, is daar gevolge in hierdie lewe,
en as hul nie bekeer nie, ook in die toekomstige lewe.
Dit is die Here wat hul later in ballingskap, in onheil sal bring.
(Toepassing): en nou … moet ons dit ook sê:
Dit is die Here wat die onheil van pandemies, soos ‘n corona virus, oor ons bring.
Die Here is besig om te brul, om te waarsku en uit te roep,
deur all tye sedert die sondeval, ook vandag nog….
Hoe moet ons dit verstaan, geliefdes? So:
Die gelowige het ‘n verduideliking geliefdes waar plae, siektes, peste, pandemies oor die algemeen vandaan kom?
Hier is dit:
17 En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. (Gen. 3:17-19)
Weens die sondeval, het die onvolmaaktheid gekom, het siektes, plae, peste, rampe en pandemies gekom, oor alle mense,
dit is deel van die algemene gevolg en gebrokenheid van die wêreld.
Rom. 8:18-23: nou is die hele skepping weens sonde nog aan die nietigheid onderworpe,
soveel te meer die mens! Ons is so nietig, swak, sieklik… ‘n virus in die lug kan ons vinnig doodmaak…
Dit is deel van die algemene oordeel van die Here oor die oorsaak, die sonde, en die straf is die dood deur die ganse geskiedenis.
Ons kan nie altyd persoonlik afleidings maak oor waarom tref onheil sekere spesifieke mense in die lewe nie,
daar kan sondige redes wees met gevolge, maar baiemaal het die Here ‘n ook ander plan:
dink aan Jesus wat gesê het daar in Joh. 9 dat die blinde man blind was nie weens sy sondes nie,
maar sodat God Homself kan verheerlik deur die wonderwerk wat Jesus sou doen, om die blinde man te genees.
Maar wat ons wel kan en moet raaksien, is dat die Here onheil bewerk en stuur,
om teenoor die ganse aarde te getuig teen die sondeval, die gevolg daarvan,
en dat ons die Here se redding en verlossing nodig het.
Dit is die Here se wekroep, Hy brul teen sonde van volke en lande nasies,
En, in die preke oor Openbaring het ons dit al baie gehoor, bv. Op. 6:8
dat die Here oordele, peste, plae stuur sodat die wêreld Hom sal erken,
en buig voor Hom, dink maar ook aan die plae wat oor Farao gekom het,
sodat God se Naam verheerlik mag word oor die ganse aarde,
en dat mense en volke hul redding by die Here alleen sal soek,
wat red en verlos in Christus.
Daarom dat Amos, sien verse 7,8 nie anders kan as om die Woord van die Here,
die tweesnydende swaard, ook vir die volk te bring nie.
Hy sê vir sy volksgenote, vir die kerk deur alle eeue, vir ons, en die hele wêreld
wat ook vandag vasgevang is in ‘n krisis, onheil van ‘n corona virus:
Sien my raak, die Skepper van hemel en aarde,
Ek is die Almagtige wat alles bewerk, ook die onheil weens julle sondes,
maar dan ook die heil, as julle jul bekeer na My, hoor hoe Jesaja dit stel:
Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep,
die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen. (Jes. 45:6-7)
Toepassing: En dit is nou die tragiese geliefdes, in ons tyd,
met hierdie virus wat ons getref het,
ja die Here werk orals daardeur, wat ons nie kan sien nie, goeie dinge wat daaruit kan kom.
Maar in terme van volke leiers en lande is daar geen ware verootmoediging en erkenning
dat dit die Here is wat duisternis en onheil bewerk nie,
en daarom soek hul ook nie sy lig en heil alleen nie.
Moet ons nie ook hierdie plaag sien in terme van die wêreld, wat wêreldwyd
in die woorde van Ps, 2, die Here se bande afgeruk het nie,
die verwerping van God en sy gebod, die verwerping van bv. sy skeppingsinstelling,
a) die huwelik tussen man en vrou wat vernietig word deur gay huwelike = oortreding van die 2de tafel van die wet.
b) Ek hoor alle gelowe wil weer saambid teen die virus, dus nie
die enigste ware God alleen aanbid en soek vir uitkoms nie,
Hy waarvan ons gelees het in Jes. 45, wat sê:
Ek is die HERE, daar is geen ander nie, v.6 = oortreding van die 1ste tafel van die wet.
Die Here se volk het van Hom afgedwaal, en staar sy onheil in die oog daar in die 8ste eeu vC.
Amos kan nie anders as om hul in liefde te waarsku nie,
Hy moet brul soos ’n leeu, waarsku!
Maar ons hoor ook in 5:4, dat Hy uitnooi en oproep, soos ’n Lam
4 Want so sê die HERE aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe! (Amos 5:4)
Ja, ons het dit laasweek duidelik gehoor, uit Op. 14,
die regverdige heilige oordeel van die Here is oppad, ook die finale oordeel.
die Lam wat geoffer is vir sonde is oppad … nou as die Leeu (Op. 5:5,6; 14:1,10).
Elke onheil wat ons tref, moet ons opnuut verootmoedig voor die Here,
opnuut ons sondes bely en daarteen stry, opnuut terugkeer na die Here, nader aan Hom.
soos Jesus ook leer daar in Luk. 13:1-5, toe daar onheil Siloam getref het,
toe ’n toring omgeval het en 18 dood is, die boodskap is: bekeer julle,
soek die Here se aangesig, hou aan bekeer, maak seker jou saak is reg met Hom.
Geliefdes, hoor dan laastens, ook die groot wonderlike troos van ons Here,
Dit is, ons groot troos is juis dat alle onheil wat ons tref, in en uit sy Vaderhand is.
Vers 6 is daarom nie net ’n waarskuwing nie, maar ook ’n groot troos.
As dit die Satan is wat in ‘beheer was’ van onheil, dan het ons geen troos gehad nie.
Ja, die skuld en oorsaak van alle onheil, sonde en gevolge, is die mens,
onder misleiding van die Satan, sien HK Sondag 3 en 4,
wat ons daar volgens die Skrif bely.
Maar die Here is die bepalende oorsaak van alles, Hy regeer en stuur alles, na sy beswil, ons ten goede.
Hy is almagtig en hou alles in sy Hand…. ook hierdie corona virus.
Wat moet ons doen?
Soos een ander prediker gesê het, en ek ook laasweek gepreek het:
die corona virus, en alle ander rampe, epidemies, nood, ens.
is eintlik nog net warrelwinde en waarskuwings wat ons en die wêreld wil wakker skud.
Die groot tsunami, orkaan is oppad, en dit is die ‘onheil’ van die Here se laaste oordeel.
ONS GROOTSTE KRISIS BLY DAAROM, NIE EEN OF ANDER POLITIEKE OF SOSIALE OF GESONDHEIDSKRISIS NIE,
MAAR DIE FEIT DAT MENS NIE LUISTER AS DIE LEEU VAN JUDA BRUL NIE,
AS DIE BASUIN VAN DIE EVANGELIE GEBLAAS WORD EN MENSE NIE WIL LUISTER NIE!
En daarom, kind van God, mag ek en u nie stil bly nie,
Ons moet aanhou brul, verkondig:
Alleen Jesus is die enigste waarheid, weg en lewe alleen te vind in die soeke van die Here.
Daar is geen ander Naam waardeur ons gered kan word van enige onheil nie, sien Hand. 4:12.
Dit Jesus, wat alle ewige plae, siektes, oordeel, onheil op Hom geneem het,
in ons plek gedra het, ons sonde virus gedra het,
sodat ons eendag in die ewigheid plaeloos, onheilloos vir ewig saam Hom en alle gelowiges mag lewe!
Hy het smaad van ons sonde virus gedra,
sodat ons volkome genees kan word na gees en liggaam.
Dit moet ons verkondig en uitdra in alle tye van onheil en swaarkry, ook as die tye erger kan raak in die toekoms.
Prakties, ja geliefdes, doen alle voorsorg om die huidige pandemie te probeer keer of beperk,
volg die mediese raad, regeringsbesluite sover moontlik, wees nie onverantwoordelik nie.
Maar ten einde is ons nie almagtig nie, en kan nie alle onheil keer nie,
ook nie die dood as dit so bepaal is nie.
Wat ons wel kan doen en moet doen, tydig en ontydig, 2 Tim. 4:1,2
is om seker te maak ek, en my gesin, gemeente, naaste, ens.
die Evangelie van Christus hoor.
Om te leer en te verkondig van die God wat heil én onheil bewerk, lig én duisternis skep,
wat oordeel, maar ook verlos in Christus!
Daarom kind van God, gemeente van God, midde pandemie tye, midde alle tye,
roep dit uit, brul dit uit, blaas die basuin:
“Soek die HERE, dan en dan alleen sal ons lewe!” (Amos 5:6)
…. al weet ons en beteken dit, dat ons nog kan en moet sterwe,
in hierdie lewe… (Joh. 11:25, 26) AMEN.
Leave a Reply