Posted by: proregno | March 30, 2020

SKRIFOORDENKINGS: HOM ALLEEN vs MENSVERAFGODING (die eerste gebod)

SKRIFOORDENKINGS:

HOM ALLEEN vs MENSVERAFGODING* 

deur dr. SJ van der Walt

“Die hart kan nooit rus voordat dit in God rus nie”. – Augustinus

HK Sondag: 34 – VRAAG EN ANTWOORD: 94

Vraag: Wat gebied God in die eerste gebod?

Antwoord: Ek moet ter wille van my siele heil en saligheid alle afgodery1, towery, waarsêery, bygeloof2, aanroeping van heiliges of ander skepsels3, vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer ken4, Hom alleen vertrou5, my slegs aan Hom met alle nederigheid6 en geduld onderwerp7 en van Hom alleen alle goeie dinge verwag8. Ek moet Hom met my hele hart liefhê9, vrees10 en eer11. Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel12.

Skriffundering:

  1. 1 Korintiërs 6:10; 1 Korintiërs 10:7; 1 Korintiërs 10:14; 1 Johannes 5:21
  2. Levitikus 19:31; Deuteronomium 18:9-12
  3. Matteus 4:10; Openbaring 19:10; Openbaring 22:8-9
  4. Johannes 17:3
  5. Jeremia 17:5; Jeremia 17:7
  6. 1 Petrus 5:5
  7. Romeine 5:3-5; 1 Korintiërs 10:10; Filippense 2:14; Kolossense 1:11; Hebreërs 10:36
  8. Psalm 104:27-28; Jesaja 45:7; Jakobus 1:17
  9. Deuteronomium 6:5; Matteus 22:37
  10. Deuteronomium 6:2; Psalm 111:10; Spreuke 1:7; Spreuke 9:10; Matteus 10:28
  11. Deuteronomium 10:20; Matteus 4:10
  12. Matteus 5:29-30; Matteus 10:37-39; Handelinge 5:29

“MENSVERAFGODING” — Vr. 94.

“Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie, en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie” — Matt. 10:37.

Die menslike hart is geneig om die mens in die plek van God te stel en te verafgood. Die sondaarsmens het homself liewer as vir God. En daarom het hy ook dikwels sy medemens, sy vader of moeder of kind, of sy vriend of vriendin liewer as wat hy God het. G’n wonder dat Jesus die liefde van ons hart opeis in absolute sin, sodat ons niemand liewer mag hê as vir Hom nie.

In die ou tyd is die keisers of hul seun dikwels as God aanbid. Die Romeinse keisers moes goddelike aanbidding ontvang, en die Christene is swaar vervolg omdat hulle nie die keiser wou aanbid nie. So lees ons ook in die Bybel van koning Herodes dat hy as ‘n god vereer is deur die volk. “En onmiddellik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe” (Hand. 12:21-23).

En is dit nie ‘n feit dat groot volksleiers of volkshelde dikwels eer en glorie ontvang, wat aan verafgoding grens! Hoe word daar in ons tyd nie gedweep met die sg. rolprentsterre en met allerlei kunstenaars en akteurs en aktrises nie! Hoe aanbid die jeug nie die sporthelde en sg. super-kragmense nie! Hoe dikwels dweep ouers nie met hul kinders nie en bewonder alles wat die kinders doen, op ‘n byna afgodiese wyse! Hulle kan eenvoudig g’n kwaad van hul kinders raaksien nie. En hoe pynlik is dit om te sien dat ‘n man sy vrou so bewonder dat hy eenvoudig sy siel sal verkoop, net om haar tevrede te stel, en haar slaafs navolg in sondige paaie. So ook vind ons dikwels dat ‘n vrou haar man byna afgodies vereer.

Ons leef in die tyd van mensvergoding. Sommige bewonder die mens se verstand, andere sy geeskrag, nog andere sy liggaamskrag of liggaamskoonheid, ens. Die mens het eintlik nog niks verander van die tyd na die sondvloed, toe hy vir hom ‘n toring wou bou wat tot aan die hemel reik nie. Hy wil nog steeds deur eie krag en wysheid sy eie heil uitwerk op aarde en ‘n toring van vastigheid en veiligheid bou. O, dat ons dan tog versigtig mag wees om nie ons vertroue op ‘n mens te stel nie en nooit aan ‘n mens die eer te gee, wat aan God alleen toekom nie. Daar is maar één God en Hom alleen moet ons aanbid (kyk Openb. 19:10).

Die gevaar is nie denkbeeldig nie dat ons, veral by ons volksfeeste en ons volksmonumente, meer eer aan ons helde kan gee as aan God. Wel mag en moet ons hul dade in gedagtenis hou en hulle eer vir wat hulle deur Gods genade kon volbring. Ons mag iemand ook wel prys terwyl hy nog lewe maar dan alleen om God daarin te verheerlik. Om byvoorbeeld die dokter te bedank “naas God” vir wat hy gedoen het, is te erg. Die mens mag nooit naas God gestel word nie. Daar kan ook gevaar in steek om spesiaal saam te kom om iemand te huldig. Ons vaders was altyd baie spaarsaam met hulde, uit vrees om aan ‘n mens die eer te gee wat aan God alleen toekom.

HOM ALLEEN – Vr. 94.

“Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” – Ps. 73:25

In die eerste gebod word nie alleen alle afgodery verbied nie maar word gebied dat ons net God alleen moet dien, die enige ware God van hemel en aarde. Niemand kan by God vergelyk word nie (Ps. 89:7). Voor Hom alleen moet ons in aanbidding kniel. Hy moet ons hoogste goed wees.

In Vr. 94 kom die uitdrukking: “Hom alleen” nie minder as drie maal voor nie. Dit is asof die Kategismus dit ons nie sterk genoeg op die hart kan druk nie dat ons God “alleen” moet dien, sonder om enige afgod bokant Hom of naas Hom te stel. Hy moet vir ons die enigste voorwerp van aanbidding wees. Ons mag ons hart nie verdeel nie maar moet al ons kragte in liefde aan Hom alleen wy.

En hoe moet ons Hom dan dien? Die Kategismus wys daarop dat ons Hom reg moet leer ken as die enigste, ware God, dat ons op Hom alleen moet vertrou, ons aan Hom alleen moet onderwerp, van Hom alleen alles wat goed is, moet verwag en dat ons Hom moet liefhê met ons hele siel en met al ons kragte. Dit kom dus alles hierop neer dat ons God bo alles in ons lewe moet stel en dat ons hele lewe in God sy middelpunt moet vind. Hy moet vir ons meer werd wees as alle skepsele, sodat ons eerder alles en almal sal laat vaar, maar niks opsetliks teen sy wil sal doen nie.

Om God te ken, moet dus vir ons meer werd wees as alle kennis en wetenskap van die wêreld. Om op God te vertrou onder alle omstandighede, moet die bron van krag in ons hele lewe wees. Om ons aan Hom te onderwerp in elke beslissing van ons lewe, moet vir ons die vreugde van ons siel wees. Om van Hom alleen al ons hulp en heil te begeer, moet vir ons die grondwet van ons ganse bestaan wees.

Om Hom lief te hê, te eer en te vrees as onse God en Saligmaker moet ons lewensbestaan self wees. Die Alfa en die Omega van ons lewe moet God alleen wees. Dan sal ons die moed van die martelare en die Hervormers, van Geuse en Hugenote hê. Dan sal ons vir niks en niemand op aarde vrees nie as vir God alleen. Dan sal ons wees “knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry”. Dan sal ons onverskrokke lewe en sterwe, as helde en heldinne van die geloof. Laat ons daarom steeds bid dat God alleen alles in ons lewe mag wees! En Hy sal ons nie beskaam nie. ‘n Lewe in God is ‘n lewe in oorwinning.

Die digter van Ps. 16 sê in die tweede vers: “Ek het tot die Here gesê: “U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie”. Kan ons dit ook sê? Is daar nie baie aardse dinge wat ons hoër ag as God nie? As ons op hierdie vraag ‘n eerlike antwoord moet gee, sal ons eers besef hoe diep skuldig ons ons gemaak het aan afgodery. Tog is dit so dwaas, want alle aardse goed is verganklik en kan die diepste van ons begeertes nooit tevrede stel nie. Of dink u dat ‘n man wat baie rykdom, gesondheid en voorspoed geniet, so besonder gelukkig is? Nee, dit is met alle mense soos Augustinus gesê het:

“Die hart kan nooit rus voordat dit in God rus nie”.
______________________________________
*Nota: hoof opskrif bygevoeg.

Bron: Dr. SJ van der Walt Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus (11-12 Oktober).


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Categories

%d bloggers like this: