Ware vryheid teenoor die valse vryheid wat ‘Vryheidsdag’ belowe

Ware vryheid teenoor die valse vryheid wat ‘Vryheidsdag’ belowe

Wat is vryheid?

Wat beteken dit om werklik vry te wees?

Waarvan wil u graag bevry word …

  • slegte gewoonte
  • werksistuasie
  • skool
  • gemeente
  • die staat

Vir party beteken ‘vryheid’ om te kan doen net wat hulle wil.

Niemand mag vir jou sê hoe om te lewe nie…

  • nie my ouers nie,
  • nie my familie nie,
  • nie die ouderlinge of kerk nie,
  • … selfs nie God nie …

Party mense dink dat bloot om ‘n kruisie op ‘n papiertjie te trek = ware vryheid

Dink maar aan die vieringe van ‘Vryheidsdag’ vanaf 27 April 1994 tot vandag toe.

Maar as ons na ons land kyk: dan sien ons mense wat nog vasgevang is in slawerny, ‘n groter slawerny as wat daar ooit is, mens sien dit daagliks in dien dagblaaie en sosiale media:

Dan sien ons mense en ‘n land wat vasgevang is in allerlei slawerny:

  • persoonlik
  • ekonomies
  • misdaad
  • polities

Daar word allerlei afgodery bedryf in ons land, God se Naam word gelaster, moord en doodslag neem toe, kinders eer nie meer hul ouers nie, en in die koerante en op TV sien ons daagliks hoe moord en diefstal toeneem.

Belangriker nog egter vir u en my: as u ernstig na u eie lewe van elke dag kyk … is u werklik vry? … ook nou en veral met die grendelstaat waaraan ons ons bevind. Is daar iets erger as hierdie inperkings wat mens ook al meer bevraagteken?

Wat is ware vryheid dan ? …. om waarlik vry te wees vandag ?

Kom ons kyk wat leer die Bybel wat dit is om waarlik vry te wees, wat ware vryheid is,

aan die hand van Joh. 8:32-36.

Die konteks van hierdie verse, die Fariseërs ondervra Jesus opnuut oor sy goddelike sending.

In Joh.8 vers 30 en 31 staan daar geskrywe:

30 Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo.

31 En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.

Jesus leer hier die Jode dat as hul in sy woord bly, dan is hul werklik sy dissipels.

Om ‘n dissipel te wees is om ‘n volgeling te wees, om ‘n lewe te hê wat daarna strewe om volgens God se Woord, die Bybel, voluit te lewe.

In hoofstuk 8 wys Jesus baie duidelik hoe radikaal dit is om Hom te volg:

  • Hy is die lig van die wêreld (v.12) teenoor die duisternis van die mens en die wêreld
  • Hy is van bo (heilig en verhewe), die mens is wêreld is van benede (v.23)

Christus stel hier sy heilige standaard soos geopenbaar in Sy Woord, teenoor mens en wêreld, hoe ons moet lewe as vry mense.

In Joh.8:32 lees ons verder:

32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Jesus belowe vir sy volgelinge, dat deur in Hom te glo, die waarheid hul sal vrymaak.

Dus, nie mense of politiek of geld maak mense vry nie, maar die waarheid maak ons vry.

Ja, ons kan in die grootste politieke vryheid lewe, ek kan op my eie op ‘n eiland bly … maar nogsteeds nie vry wees nie.

Maar wat is hierdie ‘waarheid’ waarvan Christus praat ?

Dit is die groot vraag wat Pilatus ook vir Jesus gevra het tydens sy verhoor: Wat is waarheid?

Hoe baie mense is daar wat vandag nie ook wonder oor wat die ‘waarheid’ is nie.

Vandag is daar baie valse profete wat probeer sê daar is geen waarheid nie, of dat daar baie waarhede is:

  • Die Moslem geloof is ook nou waar,
  • die Hindoe geloof is ook nou waar,
  • wat elke mens self wil glo … dit is ook waar vir hom.

Ja, elkeen skep sy eie waarheid waarvolgens hy wil lewe …

Maar dit is nie wat Jesus hier leer nie.

Die Bybel leer ons duidelik wat die waarheid is:

Waarheid is:

  1. Eerstens ‘n Persoon:

Jesus sê in Joh.14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”,

Dus, die waarheid is nie wat die mens daarvan maak of dink nie, maar Christus self.

Maar hoe weet ons dat Christus die waarheid is?

Dit sien ons daarin dat:

2) Tweedens is die waarheid God se Woord wat geopenbaar is:

In Jesus se gebed in Joh.17, bid Hy in vers 17: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.”

Sien u nou, hoekom dit so belangrik is om die Bybel te lees, die Bybel te bestudeer, om te eredienste toe te kom om die Woordverkondiging te hoor, bybelstudies by te woon, katkisasie van die kinders, goeie boeke en kommentare te lees, ens.

Hoe belangrik dit is om jou kind te leer vanuit die Bybel ! (Ps.78; 2 Tim.3:15-17).

‘n Mens kry baiemaal gelowiges wat worstel met lewensvrae,  vasgevang is in lewenskwessies … maar hul gaan nie deur gebed na God se Woord om antwoorde te soek nie.

  • Mense dink hul kan antwoorde van God kry alleen deur gebed, los van die Woord … die Waarheid.
  • Ons moet bid en studeer, albei !

… Maar nou ‘n baie belangrike vraag: hoekom wil mense en kan mense vandag nie die Waarheid glo en doen wat reg is nie?

Ons teks gee vir ons die antwoord:

Ons lees dat die Jode vir Jesus sê in vers 33:

33 Hulle antwoord Hom: Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word?

Die Jode het gedink hulle is nie slawe nie.

Hulle het gedink, omdat hul kerk toe kan gaan (oftewel sinagoge toe gaan) en hul eie godsdiens hou, hulle outomaties werklik vry is en vryheid het.

Hulle het gedink bloot omdat hul die fisiese nageslag is van Abraham is (vandag sou ons sê: omdat hul gedoop is), hulle sommer so vanself nie meer slawe is nie, en vanself “vry” is.

Dus, my naam is op die lidmaat register en daarom is dit sommer outomaties opgeskryf in die boek van die ewige lewe …

Daarom is hul kwaad, woedend omdat Jesus vir hul sê hulle moet nog vry word. …

Jesus wys vir hulle hul is nog in slawerny in verse 34 en 35:

34 … Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ’n dienskneg van die sonde is. 35 En die dienskneg bly nie vir altyd in die huis nie; die seun bly vir altyd.

In vers 34 sê Jesus vir die Jode omdat hul nog sonde doen, daarom is hul slawe en nie vry nie.

Daarmee sê hy dan ook by implikasie, dat alle mense, ook ek en u, van nature diensknegte van die sonde is.

Dit is klaar erg genoeg om in sonde te lewe, maar wat ‘n nog groter oordeel is: is om oorgegee te wees in jou sonde. As jy soos baie ongelowiges, of hulle wat eintlik nooit kinders van God was nie, begin ligsinnige grappies maak oor sonde, oor 7de gebod oortredings, nie meer in jou gewete geraak word as verkeerde dinge op TV sien nie, ‘n bespotting maak van ons ‘ou mense’ se waardes (calvinisme), ens.

Geen mens kan sê dat hy nie gesondig het of nogsteeds geneig is tot die sonde nie (Rom.3:19).

Maar wat is dit om te sondig of sondig te wees?

Eerstens, beteken dit dat ons van nature sondig is, dat ons die sonde wat Adam en Eva gedoen het, ge-erf het en daarom voor God skuldig staan. Daarom praat ons van ons ‘sondige natuur’.

Tweedens, is dit om nie volgens God se Wet te lewe nie.  Die Griekse woord vir sonde of om te sondig is hamartia, dit beteken letterlik “om jou doel te mis.”

Dit beteken dus om te mis waarvoor jy gemaak is, nl. om God te verheerlik deur volgens Sy Wet te lewe.

Jou doel as mens is nie om te sondig of ‘n lewe in sonde en slawerny te hê nie.

Die huidige lewe is nie normaal nie, dit is abnormaal.

Hulle wat ‘n lewenswyse van sonde goedkeur, is abnormaal, verkeerd.

Nie ouers of ‘n gemeente wat volgens God se wet hoe langer hoe meer probeer lewe nie.

Wat abnormaal is is om saam te woon.

Om as enkeling seksueel rein te lewe is normaal.

Om onrein, in egbreek, buite die huwelik te lewe, is abnormaal.

Dit wat die Skrif vra is werklik en normaal, die sonde, onder misleiding

van my sondige natuur, die wêreld en die Satan is die abnormale, die verkeerde!

Dus, volgens wat Jesus vir ons hier leer, is:

Om dan ‘n dienskneg, ‘n slaaf van die sonde te wees, is om heeltyd in die sonde te lewe, dus om te volhard in ‘n lewensstyl van sonde, in stryd met God se wet, en weier om te bekeer.

Om dit vir die Jode te verduidelik, gebruik Jesus in verse 33-35 die voorbeeld van ‘n slaaf en ‘n seun wat in ‘n huis woon.

In die wette van die OT, moes slawe na ‘n seker paar jare vrygestel word, of aan ‘n ander familie verkoop word.

Hy was dus nie permanent deel van ‘n sekere huis nie.

Daarteenoor was die seun altyd deel van die huis waarin hy gebore is.

Jesus gebruik hierdie beeld om vir die Jode te wys dat, al beroem en dink hulle hul is deel van die huishouding van God (omdat hul afstammelinge van Abraham is na die vlees), hul eintlik slawe in die huis is, omdat hul nog in die sonde is en nie die waarheid van God in Christus aanvaar nie.

Ja, die wet waarop hulle hul nog altyd beroem se doel was juis om hulle by Christus uit te bring … en nou dat die wet hul by Christus bring … verwerp hul Hom (sien Rom. 3:21,22; 10:4; Gal. 3:24).

Ja, hul is dus nog vasgevang in die sonde, hulle mis hul doel van hul as volk se hele OT bestaan: naamlik Jesus Christus self.

Daarom dat Jesus ook vir hul sê in vers 42:

As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur.

As God julle Vader was, sou julle My liefhê ….

Dus, alle mense wat aanhou volhardend lewe in sonde, dit goedkeur en nie daarvan wil bekeer na Christus nie –nie net die Jode in Jesus se tyd nie, maar ook vandag, en wat Christus en sy Woord verwerp- is nie waarlik vry nie, maar is slawe van die sonde, en daar is erge gevolge.

Elke mens, of dit die president van die land is, en/of die burgers van ‘n land, wat Jesus nog nie het as sy Koning en Verlosser nie, is nogsteeds ‘n slaaf van die sonde.

En dit is juis hierdie slawerny aan die sonde en verwerping van Jesus, wat al die slawerny, al die onvryheid ook in ons land en in ons lewens veroorsaak: afgodery, God se Naam wat gevloek word, kinders wat nie na hul ouers luister nie, moord, diefstal, verkragting, leuens, ens.

Dus ons land is nog in slawerny … en nie waarlik vry nie, ongeag die sogenaamde uiterlike politieke ‘vryheid’ …

Ja, ons kan selfs ‘n eie Afrikanerland kry, maar as dit sonder Christus se vryheid is, dan is dit bloot Afrikaner slawerny.

In Spreuke 8:35, 36, sê Wysheid, Christus self:

35 Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry ’n welbehae van die HERE. 36 Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.

Dit is nie omdat mense arm is, of nie huise of grond het nie.

Nee, dit is sonde wat die probleem is van ons mense en ons land.

Daarom moet ons vra, ook aan onsself:  is ek, is ons waarlik vry?

Het ek vryheid in Christus ongeag my moeilike omstandighede, ongeag my werksomstandighede, ongeag die grendelstaat toestand?

As u doelbewus en opsetlik in sonde bly lewe [toets dit aan die tien gebooie], dan is u nie “waarlik vry” nie.

Dan is u nog ‘n slaaf en kan nie vir God en u naaste dien nie.

U weet, ek dink dit is die rede waarom daar ‘n ampskrisis in ons kerke ontwikkel onder ons mans … want ons mans het te veel ander gode waarin hul nog verslaaf is: drank, geld, seks, sport, gemaksug … noem maar op …

Baie van hierdie dinge is nie opsigself verkeerd nie … maar as dit alles is waarom ons lewe wentel, dan raak dit ‘n probleem.

Ag, mag die dag weer kom dat ons mans die leiding neem en so passievol kan begin raak oor die kerk van Christus, ons mede-lidmate, … as wat ons vir bv vir rugby het !

En nou, hopelik is u nie soos baie van die Jode wat hul hart verhard teen Jesus en probeer beweer u het geen sondeprobleem nie, u is heeltemal vry en in geen slawerny nie.

Want ons is almal skuldig.

Juis daarom moet ons nou hierdie belangrike vraag beantwoord:

Maar hoe word ek dan bevry van hierdie  lewe van sonde en slawerny?

Hoe kan ons waarlik vry word, vryheid kry en in vryheid lewe

… ware innerlike vrede en vryheid wat vrug dra in ons alledaagse lewe, diensbaar teenoor God en my naaste ?

Jesus gee die enigste antwoord in vers 36:

As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.  (herhaal)

Jesus alleen is die ‘seun’ van vers 35 wat vir ‘altyd’ bly.

Hy is permanent in die woning van die Vader, omdat Hy soos die Vader heilig is (alhoewel Hy tydelik aarde toe moes kom om sy kinders te verlos).

Ja, net Christus kan vir ons as slawe (vers 35) ware vryheid gee, wat u ook vry kan maak van die sonde, om verkeerde dinge te begeer en te wil doen (v.44).

Geen mens, geld, sielkunde, plesier of politiek kan dit –ware vryheid- vir u gee nie.  

Dit is alleen deur die Evangelie, (wat beteken): die GOEIE NUUS! : Jesus se koms na die aarde, sy dood vir ons aan die kruis, sy opstanding en hemelvaart, dat Hy ons bevry van die sonde, die Satan en die dood:

En belangrik nou, ons word deur Christus bevry, nie om in wetteloosheid te lewe nie, maar juis om nou die res van ons lewens volgens sy wet in dankbaarheid te lewe.

As Christus ons red, dan is ons vry van die vloek, ewige dood en straf.

Maar in hierdie moet ons deur heiligmaking hoe langer hoe meer (HK) vry raak van ‘n sondige lewe: gedagtes en praktyk.

Kyk wat sê Christus in Johannes 8 is kenmerke van sy dissipels, hulle wat deur Christus vrygemaak is en waarlik vry is volgens v.36 (en dus ook van Christene vandag):

As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.  En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

= student/leerling van God se Woord

As God julle Vader was, sou julle My liefhê (v.42)

= liefde vir God en die naaste

47 Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.

= Gehoorsaamheid, ‘n dankbaarheidslewe

En dit alles werk Hy deur Sy Gees, die Gees wat ware vryheid bring volgens sy Woord.

In 2 Kor.3:17 leer ons ook dat “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.”

En die GEES van God werk nie los van sy Woord nie !

Alleen God se vryheid bring ware vrede.

Geen vrede, sê God, vir die goddelose nie, hulle wat sonder God en sy wet hul lewens wil bou.

Geen vryheid vir hulle wat hul gesinne of gemeentes los van God se Woord probeer bou nie.

Geen vrede en vryheid vir ‘n land wat nie deur Christus ware vryheid en vrede volgens sy wet wil erken nie.

Geen politieke of volksvryheid sonder Christus nie.

Daarom ook dat ons lees in Ps.127: 1 en 2,

As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet – net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!

As u in u eie lewe, gesinslewe, u beroep of wat ookal sonder Christus se vrymaking, sonder sy Gees en Woord probeer lewe, dan is u tevergeefs besig.

Tevergeefs !

Is u nie al moeg gestoei teen u Skepper nie ?

Maak die sonde en slawerny u nie moeg nie ?

Hou op spartel en vind ware rus in Christus: Matt.11:29-30!

Hoe lank nog gaan ons land en sy mense, veral nou in hierdie tye, nie God se strawwende Hand sien nie?

Ten einde is die grootste vraag nié in watter omstandighede ek en u ons tans bevind nie,

maar die grootste vraag is:

IS ONS VRY IN CHRISTUS, ONGEAG ONS OMSTANDIGHEDE?

En as ons dan ware vryheid ontvang, kan ons verder reformeer vir vryheid op alle terreine van ons lewens en denke,

gesin, gemeente, gemeenskap, land en volk, ens.

Christus deur sy Woord en Gees alleen bring ware deurgaande vryheid.

Die Evangelie van Christus, die goeie nuus van ware bevryding is ook die enigste hoop vir ons kerke en volke in SA.

“…want sonder My kan julle niks doen nie.” – Joh. 15:5.
___________________________________________

Sien ook hierdie artikels:

Die waarheid  maak vry: HG Stoker

“Foutiewe teorieë oor die waarheid veranker die waarheid nie in God nie, maar in die mens of die wêreld.  Die gevolg hiervan is dat die waarheid betwyfel of verwerp word, of dat dit as iets subjektief opgevat word, of dat daardeur die verstand (of rede) van die mens tot afgod vervals word.  Foutiewe vryheidsteorieë veranker ewe-eens menslike vryheid nie in God nie, maar in die mens.  Hiervolgens handhaaf sommige dat die mens sy vryheid aan homself en sy eie-aard alleen te danke het, d.w.s. dat die grond van menslike vryheid in die mens self rus; ander egter handhaaf dat waar die mens nie hierdie soort vryheid deelagtig kan wees nie, hy daarom ʼn speelbal moet wees van blinde aardse kragte of van onvernietigbare aardse wette of selfs van die noodlot..” -HG Stoker

Ware vryheid teenoor liberalisme

Bybelse of ware vryheid is om God te dien volgens sy Woord in die krag van die Gees, dit is om dankbaar gehoorsaam te wees volgens sy goeie bevele, en ‘n mens kan alleen waarlik vry wees in en deur Jesus Christus wat ons kom bevry het van onsself, die wêreld en die Satan (Joh.8:32-36).

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: