“The greatest menace to the Christian Church today comes not from the enemies outside, but from the enemies within; it comes from the presence within the Church of a type of faith and practice that is anti-Christian to the core. We are not dealing here with delicate personal questions; we are not presuming to say whether such and such an individual man is a Christian or not. God only can decide such questions; no man can say with assurance whether the attitude of certain individual ‘liberals’ toward Christ is saving faith or not. But one thing is perfectly plain–whether or no liberals are Christians, it is at any rate perfectly clear that liberalism is not Christianity” – J. Gresham Machen
“Intellektuele vryheid is waarheidsdiens, sowel t.o.v. Gods Woord as t.o.v. Gods skepping. Alle vryheid is in wese ordelik en wetmatig, anders was dit willekeur. Alle vryheid is in wese diens, nes die diepste sin van alle skepsel is: skepsel–wees, onderdaan–aan–Gods–ordinansie–wees, dienskneg–van–God–wees. Die diepste sin van alle skepsel is Godsdiens en in hierdie diens vind hy sy hoogste bevoegdheid en ware vryheid.” – prof dr HG Stoker
Ek het al in die verlede genoem om die boek van J. Gresham Machen te lees, Christianity and Liberalism, waar hy daarop wys dat die Christelike geloof en die Liberalisme in die kerk nie twee sienings is van die een ware geloof nie, maar twee verskillende gelowe is wat in stryd is met mekaar:
“The Christian gospel consists in an account of how God saved man, and before that gospel can be understood something must be known (1) about God and (2) about man. The doctrine of God and the doctrine of man are the two great presuppositions of the gospel. With regard to these presuppositions, as with regard to the gospel itself, modern liberalism is diametrically opposed to Christianity. It is opposed to Christianity, in the first place, in its conception of God.”
Soos met die verskuiwing van die ware na die valse kerk, is die verskuiwing van die Christelike geloof na die liberale geloof, iets wat geleidelik en partymaal langdurig plaasvind, sodat terwyl die proses aan die gang is, dit nie altyd te maklik is – ten minste in die praktyk – te sien wie Christen en wie liberalis is in die kerke nie.
Hier is ‘n kort samevatting/opsomming van die boek wat baie behulpsaam is:
Christianity and Liberalism by J. Gresham Machen, by Gary Gilley
Machen’s great classic, published in 1923 at the height of the Fundamentalist/Liberal battle, has been reviewed far too many times to need much comment by me. However, in the face of new waves of liberalism sweeping over the evangelical community, Christianity and Liberalism is as relevant today as when it was written. Indeed there is an eerie sense of déjà vu as Machen identifies the apostasies of old liberalism that have resurfaced in the new liberalism of the emergent church and other movements. A quick listing of some of these issues will show the similarities.
Old liberalism taught:
1. A sentimental religion (p. xi); Christianity is life, not doctrine (pp. 17, 38-39).
2. That doctrines are unimportant (pp. 5-6, 16-24, 43, 47) and experience, not truth, is what matters (p. xiv). Yet liberalism uses evangelical terminology which makes it all the more dangerous.
3. That tolerance is more important than truth (pp. 15, 40-45).
4. That we should not seek to know God but to feel Him (p. 47).
5. The fatherhood of God and brotherhood of man (pp. 51-55).
6. That sin is not our great problem (pp. 55-58).
7. Paganism (the enjoyment of life) as a substitute for Christianity (p. 56).
8. That the Bible is a musty record—authority rests in the individual and in pragmatism (pp. 60, 66-67).
9. That we are to follow the example of Jesus, not be concerned with His redeeming work (pp. 70, 82)
10. That the resurrection was not historical but amounts to Christ’s influence through us (p. 92).
11. That the Christian doctrine of salvation is to be criticized because it is narrow and exclusive (pp. 104-104), absurd (p. 106), and presents a cold, cruel and unloving view of God (pp. 109-111).
12. Enslavement to law and works by minimizing grace (p. 121).
13. That the betterment of the earth is the church’s agenda (pp. 125-134).
Machen ends his book with a call to defend the faith, eject false teachers from ministerial positions, separate from liberals if necessary, and serve in love and hope for God is still sovereign (pp. 146-152). Nevertheless he admits, “… in the meanwhile our souls are tired” (p. 151).
A quick read of this work published 90 years ago will remind believers of recent church history and prepare them for the battles in front of them. Highly recommended.
Uit hierdie samevatting kan ‘n mens sien die liberale ongeloof in die sigbare kerk vandag is niks nuuts nie, inteendeel, dit het reeds begin in die tuin van Eden (Gen.3:1), deur die vader van die leuen (Joh.8:44), is in die NT tye voortgesit (Matt.22:23; Hand.23:8), en is vandag nog net so lewendig, of dit binne of buite die kerk geskied, of dit op populêre vlak of in teologiese tydskrifte is.
Sien ook die volgende verwysings na teologiese liberalisme en Machen se boek (en daar is vele meer, soek gerus op google):
Reformed Audio Presents: J. Gresham Machen
Christianity, Liberalism and the New Evangelicalism
Liberalisme is in sy wese die verabsolutering van die mens en sy ‘vryheid’. Dit is die strewe om vry te wees van God, Christus en sy gebod, en jouself te red en geluk te bring hier op aarde, ‘n aardse messiaanse utopia gebaseer op die Mens. Die hemel is nou hier, die hel is iets van die verlede en bestaan nie werklik nie. In die liberale geloof word plek vir God, sy Woord en Christus gemaak, maar dan gestroop van alle goddelike majesteit, waarheid en goddelikheid: ‘n god, ‘n mensewoord, ‘n jesus los van christus in diens van die mens se begeertes en geluk, glad nie meer die ware God, Christus en sy onfeilbare Woord nie . Die liberalis en humanis se Rom.11:36 lui soos volg,
Uit my, deur my, en tot my is alle dinge. Aan die Mens die heerlikheid tot in ewigheid
Dit is in wese afgodery en ongehoorsaamheid en eindig in slawerny en die dood, die ewige dood.
Die opstand van die liberalis word soos volg verwoord in Ps.2:1-2,
“WAAROM woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: ‘Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!’”
Bybelse of ware vryheid is om God te dien volgens sy Woord in die krag van die Gees, dit is om dankbaar gehoorsaam te wees volgens sy goeie bevele, en ‘n mens kan alleen waarlik vry wees in en deur Jesus Christus wat ons kom bevry van onsself, die wêreld en die Satan (Joh.8:32-36).
In die artikels wat ek hier onder plaas van oudprof dr. HG Stoker, stel hy dit soos volg (beklemtonings bygevoeg):
“M.a.w. ongehoorsaamheid aan God lei tot slawerny. Gehoorsaamheid aan God lei tot vryheid. Wat beteken dit, dat die mens sy vryheid moet soek in die gehoorsaamheid aan die wil van God, en dat hy slawerny van verknegting vind in die ongehoorsaamheid aan God? Soek die mens juis nie in die moontlikheid om ongehoorsaam te kan wees, die bewys vir sy vryheid? En hier word gestel dat hy sy vryheid alleen kan vind as hy God gehoorsaam is. Dit klink verward en onlogies. En tog is dit wat die Skriflig oor en oor openbaar. Maar laat ons ons self ondersoek, en onsself afvra, met watter reg ons mensekinders ons vryheid soek in die moontlikheid van die ongehoorsaamheid aan Gods wil? is dié vraag nie ‘n ongeloofsvraag nie? Kan die ware kind van God ooit oorweeg om vryheid te soek in die moontlikheid van ongehoorsaamheid?
Vir die ongeloof is menslike vryheid en menslike gehoorsaamheid aan God twee verskillende dinge; vir hom is die mens alleen dan waarlik vry, as hy ongehoorsaam aan God kan wees. Hy kan nie toestem, dat ware menslike vryheid alleen moontlik is, wanneer die mens Gods gehoorsaam is, want hierdie gehoorsaamheidseis bind hom, beperk hom, maak hom onvry. Hy sien vryheid alleen in die betowerende lig van die sataniese verleiding: jy sal wees soos God. Hy wil wees soos God, of daar is geen vryheid nie. Dit is die dilemma van die ongeloof: Godegelykheid of onvryheid, goddelike vryheid of fatalisme. Met hierdie dilemma verloor hy die moontlikheid van menslike vryheid uit die oog.
Die Skrifgelowige daarenteen weet dat hy kind van God is. Daarin alleen kan hy sy vryheid vind. Gehoorsaamheid aan die wil van God ervaar hy nie as ‘n beperking en vernietiging van vryheid, maar as sy hoogste verwesenliking van vryheid. … Dis die Skrif-waarhede, wat u oë oopmaak vir die weg tot vryheid op elke gebied van die lewe. Skrifkennis en vryheid veronderstel mekaar. Sonder die lig van die Skrif wandel u in duisternis en struikel u teen alles aan. Sonder die Skriflig, sonder die Woord, kan u nie vry word nie. Geloof in die Woord van God is ‘n eerste eis vir vryheid.”
In die tweede artikel van dr. Stoker, Intellektuele Vryheid, skryf hy as volg, in antwoord op die liberale denkers, wetenskaplikes, godsdienstiges:
“Is vryheid outonomie, selfbepaling, selfbeslissing? Moet hy wat intellektueel vry is eiemagtig en outonoom beslis oor wat hy sal aanvaar en wat hy sal verwerp? Rus die bepaling van vryheid in die wils- en denkaktiwiteit van die subjek as sodanig? As dit die geval is, dan is die Calvinis in sy denke nie vry nie. Hy verwerp die goddelike outonomie, die vryheidsvergoddeliking, van die mens. Hy is geen rasionalis nie. Vir die Calvinis is alles, ook die mens en ook die menslike vryheid, gebonde, onderworpe, subjek aan die ordinansies van God. Vir denke is die ordinansie, die band, wat ware vryheid moontlik maak: die gebondenheid aan die objektief gegewe en geopenbaarde waarheid. …
So krenk die moderne wetenskaplikes die intellektuele vryheid van die Bybelgelowiges deur te eis dat elke intellektueel-ontwikkelde mens bv. in die ewolusie dogma moet glo, ook al sien hierdie mens dat geeneen van die bewyse vir ewolusie en ook nie algar saam steekhoudend is nie, en ook al beroep hy hom op die Woord van God self. …
Maar vryheid om vryheid te wees eis universele afhanklikheid. Om my intellektuele vryheid, my intellektuele bevoegdheid om die waarheid te dien, te kan verwesenlik is ek afhanklik van lig en lug, van voedsel en drank, van onderwysing en opvoeding. Waar ons self nie sien nie, moet ons gelei word; waar ons self nie kan loop nie, moet ons op mense steun. Maar ons mag nooit op hierdie mense steun omdat ons op hulle vertrou nie. Ons mag menslike leiding alleen aanvaar insover hierdie mense (ouers, onderwysers, ouderlinge, predikante, regeerders) self waarlik intellektueel vry is, d.w.s. op die onweerlegbare getuie van die Woord en van die Skepping van God.
Waar hulle intellektueel faal, waar ’n kerklike lering dwaal, moet ek hierdie leiding verwerp en my teen die leiers in beroep op geskrewe en geskape waarheid. Wie gelei word is dan alleen intellektueel vry, as hy weet dat sy leier intellektueel vry, d.w.s. waarheidsgebonde is. Die band van die waarheid, aan die Woord en aan die Skepping van God is die voorwaarde tot ware intellektuele vryheid nes die band aan lug en voedsel die voorwaarde aan die lewensvryheid is en nes die band aan water vir die vis die voorwaarde aan sy vryheid is. Buite hierdie bande heers, onvryheid, anargie, intellektuele dood.
As die skrifverwerper intellektuele vryheid vir homself eis in die sin dat hy die waarheid wil dien, soos hy dit sien, dan moet hy, om wetenskaplik regverdig te wees dieselfde vryheid aan die skrifgelowige gun. As die skrifgelowige Gods Woord aanvaar naas die natuur as bande tot intellektuele vryheid, as hy sy belydenis (wat ’n korte saamvatting van Gods Woord is) glo, dan mag die skrifverwerper deur geen “intellektuele” dwang hom onvry maak nie. As in die Heilige Skrif oor die skepping Gods gegewens geopenbaar is, wat van invloed is op sy natuurondersoek en sy natuurbeskouing, mag hy nie die skrifverwerper uit die sinagoge van die wetenskap werp nie en onder die onwetenskaplikes gereken word nie, solank hy volmondig ook t.o.v. die natuur die waarheid dien en in die natuur soek, vind en ondersoek, wat in die Skrif geopenbaar is.
Intellektuele vryheid is waarheidsdiens, sowel t.o.v. Gods Woord as t.o.v. Gods skepping. Alle vryheid is in wese ordelik en wetmatig, anders was dit willekeur. Alle vryheid is in wese diens, nes die diepste sin van alle skepsel is: skepsel–wees, onderdaan–aan–Gods–ordinansie–wees, dienskneg–van–God–wees. Die diepste sin van alle skepsel is Godsdiens en in hierdie diens vind hy sy hoogste bevoegdheid en ware vryheid.”
Hier is die volledige artikels uit dr. Stoker se pen (die lesings en ander werke van dr. Stoker is hier verkrygbaar op CD: Uit, deur en tot God is alle dinge):
1. VRYHEID EN SKRIFKENNIS
As ons wil weet wat vryheid is, moet ons sy wese nie in ‘n negatiewe bepaling soek nie, maar in ‘n positiewe bepaling. Deur te sê wat vryheid nie is nie, weet ons nog nie wat dit dan wel is. Daarom weet ons nog nie wat vryheid is nie, as iemand sê dat dit onbepaaldheid, nie-bepaaldheid, onafhanklikheid, nie-afhanklikheid, ongedetermineerdheid, nie-gedetermineerd-heid, ongebondenheid, nie-gebondenheid is. Bowendien is sulke negatiewe bepalinge misleidend. In hierdie geval, d.w.s. as ons vryheid as onbepaaldheid of onafhanklikheid opvat, kan ons nie onderskei tussen die vryheid van God en die vryheid van die mens nie met die gevolg dat ons Goddelike en menslike vryheid op een vlak langs mekaar plaas en sodoende die menslike vryheid vergoddelik of die vryheid Gods vermenslik opvat. So gesien bots die vryheid van God en mens.
Ons moet dus vryheid in positiewe sin leer verstaan. Ons moenie vra, wat vryheid nie is nie, maar wat vryheid wel is. Eers as vryheid positief verstaan het, kry die negatiewe bepaling enkelsinnige betekenis en kan ons ook vasstel in hoeverre die negatiewe bepaling juis is. Om uit te vind wat vryheid is, moet ons vra, waartoe dien die vryheid, wat doen die mens met sy vryheid, wat kan hy daarmee doen? Waarvoor, waartoe, waarin is die mens vry? Hoe verwesenlik hy sy vryheid en waarin soek hy die bevestiging en handhawing van sy vryheid? As ons die geskiedenis en ons eie tyd raadpleeg vir antwoorde op hierdie vrae, dan blyk dit dat die mens, wat sy vryheid nie in God soek nie, maar buite God om wil verwesenlik, verslaaf en verknog word aan daardie dinge, waarin hy sy vryheidsversekering gesoek het.
Die rasionalis soek sy vryheid in die vrymag van sy rede om soewerein te bepaal wat waar en geloofwaardig is en wat nie. Hy sit sy hart en siel op sy rede. En wat is die gevolg? Die rede, wat slegs middel is, word meester. Die rasionalis verkneg homself aan sy rede, hy word redeslaaf en sy rede word ‘n harde tugmeester, ‘n tiran. Die rede van elke rasionalis lei hom in sy swakheid, beperktheid en onvertroubaarheid tot ander insigte en so ontstaan onder die rasionaliste begripsverwarring, geestelike rewolusie, dink-chaos.
Neem die Franse Rewolusie met sy krete van vryheid, gelykheid en broederskap en met sy eis dat bo die mens geen God en geen meester erken word nie. Vryheid word hier gelyklik gesoek in die vrymag van elke individuele mens. Vryheid is hier nie in God, maar in die mens verknog. En wat is die gevolg? Die mensdom word verslaaf en verkneg aan daardie selfde mens, met sy luste, swakhede en grille, waarin hy sy vryheid veranker het. Staatsverwarring, rewolusie, magsmisbruik, chaos is die gevolg.
Sien u hoe die moderne mens vandag na hartelus sy vryheid soek in natuurtegniek, in nywerheidsontwikkeling, in industrieskepping, in handel en in geldbeheer? Hoe vry is die mens hier nie om na sy welbehae te skep en voort te bring. En wat is die gevolg? Die mens word kneg van sy eie voortbrengsels, hy word slaaf van die maaksel van sy hande, sy eie skeppinge verkry oor hom die oorhand. Oorproduksie en arbeidsloosheid, hongersnood gaan hand in hand. Die industrie-wese, nywerheid, handel en geld raak uit sy hande uit en onderdruk hul voortbrengs met ‘n onpersoonlike tirannie. Die mens word afhanklik van die magte wat hy met sy vryheid tevoorskyn getower het. Uit hierdie verknegtingstoestand sien die meeste net een uitweg, nl. oorlog. Maar as hy sy vryheid van oorlog verwag, word hy aan die gevolge daarvan verkneg met ‘n ystere onverbiddelikheid. Wie die ekonomiese verwarring en industriële slawerny vandag in die lig van Gods Woord sien, sal toestem, dat dit die gevolg is daarvan dat die mens in sy nywerheid en handel nie die verheerliking van God gesoek het nie, maar selfverheerliking, mensverankerde vryheid.
Die moderne geleerde natuurvorser soek sy vryheid en heerskappy, sy wetenskaplike heerlikheid in die feite van die natuur en in die beheersing van daardie feite deur die eksperiment. Hier kan hy vrymagtig heers en die waarheid aan sy menslike heerskappy onderwerp. En wat is die gevolg? Hy word verkneg aan ‘n wetenskap wat blind is vir beginsels, vir waardes en vir die Godsopenbaring in die Skrif. Hy word verkneg aan ‘n God-verloënende wetenskap, slaaf van ‘n tiran, wat alle religieuse geloof in Gods Woord as verouderd, middeleeus, bygelowig en bekrompe bestempel. Hy verloor sy vryheid aan die onverbiddelike natuurwet en eis dat alle menslike vryheid onderworpe moet word aan die dekrete van die wetenskap. Geboortebeperking moet wetenskaplik gereël word, swaksinniges en misdadigers moet gesteriliseer word, die regerings van die wêreld moet luister na die stem van hierdie onbetwyfelbare gesag. Intussen word teorie na teorie in die snippermandjie gegooi, en skud vandag die natuurwetenskappe tot in hul fondamente, aan natuurwette word getwyfel en heers vandag ‘n ongekende verwagtheid op natuurwetenskaplik gebied. Slaaf is ook hier die mens van die maaksel van sy hande, en ook hier lei die maaksel die maker in die afgrond in.
Moet ek nog meer voorbeelde gee? Lê dit nie voor die hand, dat hy wat die volkstem vrymaak, hom aan die grille en willekeur van die volkstem verkneg? Spreek dit nie vanself, dat wie in diktatorskappe op rasideologieë gebou, vryheid soek, hom hieraan verkneg, en sy persoonlike vryheid prysgee aan blinde ras-magte in die hande van ‘n nietige mens? Stem u nie toe dat hy wie sy vryheid en menslike heerlikheid soek in sinnelus, in plesierjag, in sensasie en sinneprikkeling hom hieraan verkneg, en hom verheug in die skynvryheid van sinnelike verslawing? So sou ons kan aangaan. Is dit nie ‘n wonderlike Goddelike ironie, wat God in die skeppingsordinansies gelê het, dat elkeen wat sy vryheid nie in God veranker nie, maar dit in die maaksel van sy hande verwesenlik, – slaaf en kneg sal word, van sy eie voortbrengsels?
Tot dusver het ons twee resultate bereik. (a) Ons moet onder vryheid nie iets negatiefs verstaan nie, maar ons moet in die eerste plek ‘n positiewe bepaling van vryheid soek. (b) As ons in die geskiedenis nagaan, hoe die mens sy vryheid positief trag te verwesenlik, dan blyk dit dat as hy buite God om sy vryheid soek, hy verkneg word aan dit, waarin hy gemeen het, dat hy vry was.
Op hierdie stadium wil ek u herinner aan ons onderwerp, wat lui: Vryheid en Skrifkennis. Die Skrif leer ons: U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad. Sou die Skrif ons dan ook nie kan belig wat ons onder vryheid in positiewe sin behoort te verstaan nie? Sou die Skrif ons nie kan wys hoe ons vry kan wees sonder om verkneg te word aan die voortbrengsels van ons hande? Sou die Skrif nie vir elkeen van ons kan sê waarin ons ons vryheid moet soek?
Die slang het Adam tot ongehoorsaamheid aan God verlei, en Adam het onvry geword, slaaf van die sonde. Die Satan het probeer om Christus tot ongehoorsaamheid te verlei, tot aanbidding van hom i.p.v. van God. Christus het geweier en nie alleen Sy vryheid verwesenlik nie, maar algar, wat Hy gekies het, vrygemaak van die sonde.
M.a.w. ongehoorsaamheid aan God lei tot slawerny. Gehoorsaamheid aan God lei tot vryheid. Wat beteken dit, dat die mens sy vryheid moet soek in die gehoorsaamheid aan die wil van God, en dat hy slawerny van verknegting vind in die ongehoorsaamheid aan God? Soek die mens juis nie in die moontlikheid om ongehoorsaam te kan wees, die bewys vir sy vryheid? En hier word gestel dat hy sy vryheid alleen kan vind as hy God gehoorsaam is. Dit klink verward en onlogies. En tog is dit wat die Skriflig oor en oor openbaar. Maar laat ons ons self ondersoek, en onsself afvra, met watter reg ons mensekinders ons vryheid soek in die moontlikheid van die ongehoorsaamheid aan Gods wil? is dié vraag nie ‘n ongeloofsvraag nie? Kan die ware kind van God ooit oorweeg om vryheid te soek in die moontlikheid van ongehoorsaamheid?
Vir die ongeloof is menslike vryheid en menslike gehoorsaamheid aan God twee verskillende dinge; vir hom is die mens alleen dan waarlik vry, as hy ongehoorsaam aan God kan wees. Hy kan nie toestem, dat ware menslike vryheid alleen moontlik is, wanneer die mens Gods gehoorsaam is, want hierdie gehoorsaamheidseis bind hom, beperk hom, maak hom onvry. Hy sien vryheid alleen in die betowerende lig van die sataniese verleiding: jy sal wees soos God. Hy wil wees soos God, of daar is geen vryheid nie. Dit is die dilemma van die ongeloof: Godegelykheid of onvryheid, goddelike vryheid of fatalisme. Met hierdie dilemma verloor hy die moontlikheid van menslike vryheid uit die oog.
Die Skrifgelowige daarenteen weet dat hy kind van God is. Daarin alleen kan hy sy vryheid vind. Gehoorsaamheid aan die wil van God ervaar hy nie as ‘n beperking en vernietiging van vryheid, maar as sy hoogste verwesenliking van vryheid. laat ons dit eers met eenvoudige voorbeelde verduidelik.
Wie is vry om kuns te skep? Wie vry die skilderkuns, die kunsiekuns, die digkuns te beoefen? Tog hy alleen met kunstenaarsaanleg. En het hy die aanleg homself gegee, of van God ontvang? Des te meer hy gehoorsaam is aan hierdie aanleg, waarmee hy gebore is, des te meer vry is hy. Iemand sonder hierdie aanleg is tog nie vry om jou kuns te beoefen nie. Ongehoorsaamheid hier vernietig vryheid. Maar verder wie skep die hoogste kuns, tog hy wat die kunsordinansies gehoorsaam. Hy wat gehoorsaam is aan die kunsordinansies, die skoonheidswette, skep gedrogte maar geen kuns nie. Sowel wat sy aanleg as wat die kunswette betref is hy alleen vry in om kuns te skep, wat gehoorsaam is. Ongehoorsaamheid hier vernietig vryheid.
Wie is vry om wetenskap te beoefen? Tog hy wat aanleg het vir wetenskaplike arbeid. En hierdie aanleg is ‘n gawe Gods, geen verdienste nie. Vryheid eis hier gehoorsaamheid en word deur ongehoorsaamheid vernietig. Wie is vry om wetenskap te beoefen? Tog hy, wat getrou onderskei, noukeurig oplet, en wat die waarheid, wat in die skepping voorgeteken is, gehoorsaam nateken. Ook hier is vryheid alleen in gehoorsaamheid moontlik. Wie ongehoorsaam is, mag allerhande fantastiese teorieë uitdink, maar gee daarmee wetenskaplike vryheid prys.
Vryheid moet altyd gesoek word in gehoorsaamheid aan die wil van God. Wie teen God kies, wie aan Sy ordinansies ongehoorsaam is, vernietig die moontlikheid van vryheid. Tog is dit merkwaardig, dat Christene in navolging van die ongeloof die vryheidsvraag so dikwels gesien het in die lig, waarin Satan ons vryheid voorspel, nl. in die lig van die vraag: Kan jy ongehoorsaam wees? Kan jy die wet oortree? In hierdie moontlikheid van wetsoortreding word dan die wese van vryheid gesoek, i.p.v. in die moontlikheid van wetsvervulling.
Wie in gehoorsaamheid aan God, wie in die moontlikheid van wetsoortreding die wese van vryheid soek, stel die mens bo die wet en plaas God en mens op een lyn as gelykwaardige groothede. Maar dit is die houding van die ongeloof, wat alleen vryheid wil aanvaar, as hy in sy vryheid gelyk is aan God, keurende die goeie en die kwaaie, beslissende in eie welbehae. Hier word onbeperkte en onbepaalde vryheid geëis. Die mens eis hier nie ware menslike vryheid maar Goddelike vryheid. Wie vryheid soek in die moontlikheid van ongehoorsaamheid aan God, in die moontlikheid van wetsoortreding, soek vryheid in ‘n botsing van die wil van God en van die mens, en as in hierdie botsing God sou wen, kan die mens nie vry wees nie. Gee God se wil egter pad vir die van die mens, dan erken hy die mens langs Hom as gelykwaardig en is God nie meer God nie. Hierdie vryheidsleer maak die mens tot heer, dit verheerlik die mens, i.p.v. dat dit God as Heer erken, God verheerlik. Elkeen wat vryheid soek in die moontlikheid van wetsoortreding, bou sy vryheidsleer op ‘‘ wilsbotsing tussen mens en God, en moet dan óf die menslike vryheid loën óf God se raadsbesluit afhanklik stel van menslike beslissings. Die vraag in ons kringe hoe die menslike vryheid gerym kan word met die predestinasieleer, is ‘n vraag wat alleen sin het in die ongeloofsvraag, wat vryheid soek in die moontlikheid van wetsoortreding. Maar as u vryheid soek in die moontlikheid van wetsvervulling, in die gawe Gods om gehoorsaam te kan wees, dan is die hoogste menslike vryheid identies met die verwesenliking van Gods raadsplan.
Wie vryheid soek in die moontlikheid van wetsoortreding, ontwikkel ‘n vryheidsleer, waarin die vryheid van die een mens die vryheid van die ander mens beperk en bedreig, ‘n vryheidsleer gebaseer op die rewolusionêre beginsel van die reg van die sterkste. Want as my vryheid gelyk is aan die van God, dan is elke mens se vryheid gelyk aan die van my en van God. In sy vryheid is elke mens ‘n klein godjie wat naas hom geen ander klein godjie duld nie. En wie beslis hier? Die mag van die sterkste, waarin die sterkste die vryheid van die swakkeres vernietig, en sy eie vryheid verloor in sy selfverknegting aan sy eie magslus en magsug. Maar as u vryheid soek in die wonderlike gawe om gehoorsaam te kan wees, in die gawe om die wet te kan vervul, dan harmonieer my vryheid met die van elke ander mens.
Ten slotte, as u vryheid soek in die moontlikheid van ongehoorsaamheid aan God, in die moontlikheid van wetsoortreding, dan bots vanself u vryheid en die wet. Gevolglik moet óf die wet gehandhaaf bly, maar dan kan daar geen vryheid wees nie, óf vryheid word gehandhaaf, maar dan kan dit geen wettige of ordelike wees nie, en word dit willekeur, rewolusionêr. Determinisme, indeterminisme met hul valse sintese selfdeterminisme is valse antwoorde op ‘n valse probleemstelling, waarin vryheid gesoek word in die moontlikheid van wetsoortreding i.p.v. in die juiste probleemstelling, wat vryheid soek in die moontlikheid van wetsvervulling, maar dan verval vanself die sinlose teëstelling van determinisme, indeterminisme, selfdeterminisme.
Wie vryheid soek in die moontlikheid van wetsoortreding, soek vryheid in menseverheerliking, in die tot-heer-making van die mens. So egter verlustig hy hom aan ‘n spieëlbeeld van die ware menslike vryheid, aan ‘n skynvryheid, wat in werklikheid slawerny en verknegting is. Let maar op hoe die rasionalis hom skyn-vry verlustig en verheerlik voel in sy verknegting aan die rede, hoe die wellustige hom skynbaar vry verheerlik weet in sy verslawing aan sy luste, hoe die moderne nywerheid die mens verheerlik met ‘n skynvryheid, hoe die teenswoordige natuurwetenskap sig skynbaar vry verslaaf aan feite-tirannie. En as die stem van die volk vergoddelik, verheerlik word, dan is ook hierdie verknegting aan sy willekeur skynvryheid. God is ‘n jaloerse God, Hy waak vir Sy eer en heerlikheid deur die mens wat in wetsoortreding sy vryheid soek te verblind met ‘n skynvryheid wat in wese ‘n verknegting beteken, sodat hy hom in sy dwaasheid vry waan, waar hy slaaf is. Maar wie in gehoorsaamheid aan Hom sy vryheid soek, wie sy vryheid soek in die moontlikheid van wetsvervulling, maak hy waarlik vry. Is so beskou nie die hele Psalm 119 een groot jubellied oor die menslike vryheid nie? “Ek sal my verlustig in u insettinge, U woord sal ek nie vergeet nie. Open my oë dat ek kan sien die wonders uit U wet. Ek sal op die weg van U gebooie wandel, want U verruim my hart. Ek wil my verlustig in U gebooie wat ek lief het. Here die aarde is vol van U goedertierendheid, leer my U insettinge. Maak my lewendig na U goedertierendheid”. Want dit is menslike vryheid.
Vir die ongeloof is dit ‘n selfkontradiksie om ware menslike vryheid te soek in gehoorsaamheid aan Gods wet, – vir die geloof is dit nie die geval nie.
As vryheid dan gesoek moet word in wetsvervulling, hoe gee dit die mens dan positiewe vryheid? Die antwoord hierop gee Genesis I vs. 26. Die mens sal heers oor visse, voëls, vee, diere, oor die hele aarde. Die mens se vryheid lê in sy Goddelike bestemming, dat hy aarde-onderwerper, natuurbeheerser is. Dit is die positiewe bepaling wat die Skrif van vryheid gee. Die mens is vrye kind van ‘n vrymagtige God, sy vryheid is natuurbeheersing in die diens van God, aarde-onderwerping ter ere Gods. Hierdie vryheid is alleen moontlik in gehoorsaamheid aan God, in eerbiediging van sy ordinansies. Hierdie vryheid is nie rewolusionêr nie, maar Christelik. Dit is ‘n gawe van God, wat die mens moet gebruik vir die tot-heer-making, vir die verheerliking van God. So is hy koningskind met ‘n vryheid, wat menslik is, ‘n vryheid na die beeld van die vryheid Gods. Hierdie natuurbeheersing sluit in selfbeheersing. Alleen hy wat homself beheers, beteuel kan die natuur beheers. Selfbeheersing is ‘n grondvoorwaarde vir hierdie vryheid. Selfbeheersing onder die staat van die sonde is alleen moontlik waar die kind luister na die leringe van sy moeder en die tug van sy vader lief het. Daarom sal ons, Christene, altyd onderwysing in die Skrifte, die vermeerdering van Skrifkennis en die tugtiging tot vryheid hand in hand laat gaan. Selfbeheersing, alle natuurbeheersing is alleen vryheid as dit God verheerlik. Dit is ware Christelike vryheidsleer.
Ook die ongelowige is natuurbeheerser. Maar sy natuurbeheersing verander deur sy selfsug en selfverheerliking in natuuroorheersing. Hy is nie heerser, maar oorheerser; hy is nie koningskind, maar tiran; hy bring nie God-verheerlikende orde nie, maar chaos, vernietiging en verwoesting; sy natuurbeheersing verbreek Gods ordinansies en maak die natuur stukkend; hy ontwikkel en ontplooi nie die verborge natuurkragte, maar dwing hulle met geweldenaarsywer na sy hand. Is dit dan ‘n wonder dat hulle so losgelaat terugslaan en hul beheerser verkneg? Die mens word verbrand deur die vuur wat hyself aangesteek het. Wie heers is koning, wie oorheers gee homself oor aan geweld, wat homself verslaaf. Oorheersing is geen vryheid nie, dit is ‘n vorm van selfverslawing. Hy wat sy vrye natuurbeheersing soek in ongehoorsaamheid aan Gods ordinansies, word deur hulle verkneg. Selfbeheersing word hier spontane uitlewing van wat in jou is, d.w.s. oorgawe aan oorheersing van jouself, aan selfverknegting, waarin jy jou vryheid verloor. Hy wat hom oorgee aan sinnelus of redevergoding is nie meer vry nie. Die moderne opvoedkunde, wat tug uitskakel en Skrifkennis verwerp, is geen opvoeding tot vryheid nie, maar tot slawerny. Dit verheerlik God nie, en dit verneder die mens tot ‘n wese, wat kneg is van homself.
En hierdie selfverknegting kan, wat ander betref, slegs lei tot onverdraaglike tirannie. Ongeloofsvryheid is skynvryheid, wat altyd verwoes en vernietig. Alleen die genade van God keer, dat hierdie verwoestingsproses sy volle vaart neem.
Menslike vryheid is natuurbeheersing, aarde-onderwerping om daarin God te verheerlik. Maar hierdie natuurbeheersing beteken nie net, dat die visse op tyd hul kos, en die diere op tyd hul water moet kry nie. Die mens moes meer doen as om net toe te sien, dat alles sy gereelde verloop het. Hy moes die aarde onderwerp; hy moes die paradys bewerk. Hy moes die natuurkragte en die lewenskragte van die aarde laat dien tot vermeerderde verheerliking van God; hy moes hulle tot nuwe groothede omvorm. M.a.w. hy moes uit natuurkultuur maak, hy moes die natuur omvorm tot kultuur. Menslike natuurbeheersing is kultuurskepping. Onder skepping verstaan ek nie, wat God alleen kan doen, nl. om iets uit niks daar te stel. Alle menslike skepping is omvorming van die natuur tot kultuur; maar dis meer as net ‘n beheersende sorg, wat toesien dat alles reg loop; dis vorming van nuwe verskynsels, kultuurverskynsels uit oue verskynsels, natuurverskynsels met behulp van die kragte, wat God in die mens geskep het, met behulp van die gees, wat God in sy neusgate geblaas het. Daarom spreek ek van kultuurskepping in waaragtige menslike sin.
Natuurbeheersing is kultuurskepping. Alles in die natuur wat die mens aanraak, beheers, word kultuur. Velde word plase; klanke wat in die lug sweef, word onder menslike beheersing taal, musiek; kleure verbind hy tot skilderkuns; uit die grond bou hy paleise; elektrisiteit gebruik hy vir verwarming, verligting en vir gesprekke oor afstande. Kyk maar rondom u, orals, waar die mens die aarde onderwerp, die natuur beheers, daar ontstaan kultuur.
Vryheid is dus, positief beskou, natuurbeheersing in die sin van kultuurskepping in gehoorsaamheid aan God. Die mens is as kultuurskepper beeld van God, nie goddelik nie. Maar soos God homself verlustig in die werk van Sy hande, verlustig die mens hom in sy vrye skepping van kultuur; en hierdie verlustiging is ‘n beheerskepping in die verordeninge Gods. Des te meer kultuur hy skep, des te meer verheerlik hy God en vind hy geluksaligheid in die goedertierendheid van God, wat hom so wonderlik gegun om God te verheerlik. Vryheid word hier openbaar in die verlustiging waarin die mens kultuurskeppend God eer, sodat hy uitjubel: al U werke loof U, o Here. Ware kultuurskepping verwek altyd jubelsange tot ere Gods. Dit is vryheid. Vry is die mens om na hartelus God te verheerlik met sy kultuurskeppinge. Vryheid is positief bepaal: natuurbeheersing, kultuurskepping in die diens van God. Vergelyk hiermee die misleidende negatiewe bepalinge van vryheid as onbepaaldheid, ongebondenheid.
Maar ook die ongelowige mens is kultuurskepper. Maar sy kultuurskepping is in sy ongehoorsaamheid nie vry nie, maar verknegtend. Hy word kneg van dit waarin hy hom skepper voel. Die maaksel van sy hande maak hom tot sy slaaf, omdat hy daarin homself, sy eie selfverheerliking soek, i.p.v. om hom te verlustig in die verheerliking gods deur sy kultuurskeppinge. Alles wat die mens in sy natuurbeheersing en kultuurskepping geniet is goed, solank hy dit geniet ter ere Gods. Hierdie genot, hierdie verlustiging, hierdie welbehae is menslike vryheid as hy daarin Gods goedertierendheid ondervind. Maar soek hy daarin sy eie grootheid en sy eie eer, dan verkneg dit hom aan homself en aan die werke van sy hande, en word hy onvry, slaaf.
Maar wonderlik is dit dat God hierdie selfverslawing van die ongeloof aan ‘n skynvryheid ook gebruik tot Sy verheerliking, en as middels in Sy hand, om Sy raadsplan te verwesentlik. Want ook die kultuurprodukte van die heidene verheerlik God teen wil en dank; want is Hy nie die gewer van al die goeie, ook van die kultuurskatte, wat die ongeloof in selfverknegting skep?
Die Skrif se lig op ons vryheidsvraagstuk gaan nog verder. Natuurbeheersing, kultuurskepping is net slegs ‘n algemene opdrag van God aan die mens nie, dit is ook ‘n intiem persoonlike opdrag. God gee aan elke mens ‘n bepaalde deel van hierdie algemene opdrag en gee hom daarvoor sy talente en die omstandighede, waarin hy hom plaas. M.a.w. God gee aan elke mens sy bepaalde doel van die natuur om te beheers, en om in God verheerlikende kultuur om te skep; Hy gee aan elke mens sy bepaalde vrye taak. Kortom hy roep elke mens tot die vryheid waartoe hy bestem is. Vryheidsverwesenliking is roepingsvervulling.
God roep ons daagliks, en nie net in ons professie en beroep nie, maar met ons hele lewe, deur ons hand te laat vind, wat dit kan doen. U hele lewe moet God-gewyd wees, om waarlik vry te wees. Met al u talente moet u woeker, want u het u talente nie vir niks gekry nie. In al die situasies waarin u kom, moet u weet wat u te doen staan. Waar u ook mag wees, wat u ook mag doen, alles wat u hand vind om te doen, behoort tot u roeping. U is vry in u roepingsvervulling. Des te beter u u roeping vervul, des te hoër is u vryheid. Maar as u roepingsblind is en nie sien waartoe God u roep, of as u onwillig is om u roeping te vervul en murmureer, in die mate, wat u u roeping versaak, is u kneg en slaaf van uself en van die sonde.
Elke mens het sy roeping. Die roeping van die een vul die roeping van die ander aan. Elke saamhorige groep mense, die kerk, die skool, die staat, die verenigings het sy roeping. Die roeping van die een groep vul die roeping van die ander groep aan. Namate elke mens en elke groep mens sy roeping vervul help hy die ander tot roepingsvervulling. Want die roepinge werk in mekaar in soos ‘n groot raderwerk. Dit nou beteken dat namate die een mens en die een groep van mense vry is, na die mate help hy die ander tot vryheid. Die verwesenliking van die hoogste vryheid van een mens vereis noodwendig dat al die ander ook hul hoogste vryheid sal verwesenlik. So verkry ons ‘n wonderlike vryheidsharmonie waarin die vryheid van die een die vryheid van die ander vereis, en waarin algar saam verwesenliking van Gods raadsplan en vrymag beteken. Hier harmonieer vanself die vryheid van elke mens met die van elke mens en met die van God. Hier is geen spanninge en botsinge nie.
Maar as u vryheid soek in ongehoorsaamheid, in die weiering om u roeping te vervul, in die verharding van u hart, dan bots u skynvryheid met die vrymag van God en handhaaf God Sy soewereiniteit deur verknegting; – en dan bots u vryheid met die van elke ander mens; – en namate u uself in ‘n skynvryheid verkneg, hinder u die ander om vry te wees. U ongehoorsaamheid bring u naaste tot val, want sy vryheid vereis u vryheid, nie u knegskap nie.
Dit nou bring ons tot die vraagstuk van vryheid en sonde. Deur die sonde beheers die mens nie meer die natuur, maar oorheers hy dit. Deur die sonde verkneg die mens hom aan sy eie kultuurskeppinge. Deur die sonde is hy t.o.v. sy roeping horende doof en siende blind. Deur die sonde soek hy homself en nie God nie. Deur die sonde wil die mens vry wees soos God, i.p.v. soos ‘n mens, en soek hy vryheid in ongehoorsaamheid en wetsoortreding soos ‘n slaaf, i.p.v. in gehoorsaamheid en wetsvervulling soos ‘n koningskind, ‘n kind van God. Deur die sonde is die mens nie meer vry nie, maar slaaf en kneg. Van hierdie slawerny word hy alleen verlos deur die kruis van Christus. Christus maak die mens weer vry, natuurbeheerser, kultuurskepper, roepingsvervuller. Hy verlos hom van die vloek van knegskap. Maar hierdie vryheid het die kind van God slegs in beginsel, want hy is nog in die mag van die sonde. Sy vryheid is dus ‘n ideaal, waarna hy moet strewe. Hy moet strewe daarna om God gehoorsaam te wees en die wet te vervul. Hy moet daarna strewe om natuurbeheerser en kultuurskepper in die ware sin van die woord te word. Hy moet daarna strewe om sy roeping te vervul. Hiervoor is nodig die krag van Christus en die voorligting van Gods Woord. En nou opeens sien ons die wonderlike nou verband wat daar bestaan tussen Skrifkennis en vryheid. Die Skrif leer ons wat vryheid is. Die Skrif leer ons hoe vryheid moontlik is. Die Skrif leer ons hoe ons na Vryheid moet streef. Is ‘n Vrye Skool nie ‘n skool wat volgens die in die Skrif geopenbaarde beginsels sy roeping trag te vervul nie? Is ‘n Vrye Kerk nie ‘n kerk gebou die beginsels deur Christus neergelê en in die Skrif geopenbaar nie? Is ‘n vrye wetenskap nie ‘n wetenskap wat in die vrese van die Here beoefen word en Sy woord gebruik as ‘n lamp vir sy voet en ‘n lig vir sy pad nie? Is ‘n vrye kuns nie ‘n kuns wat beoefen word om God en die Skriflig te aanvaar nie? Is kuns om die kuns nie pure kunsslawerny nie? Is ‘n vrye volk nie ‘n volk wat in die lig van Gods Woord sy van God gegewe roeping vervul nie? Is ‘n vrye mens nie juis hy, wat hom verlustig in Gods insettinge en Sy Woord nie vergeet nie?
Dis die Skrif-waarhede, wat u oë oopmaak vir die weg tot vryheid op elke gebied van die lewe. Skrifkennis en vryheid veronderstel mekaar. Sonder die lig van die Skrif wandel u in duisternis en struikel u teen alles aan. Sonder die Skriflig, sonder die Woord, kan u nie vry word nie. Geloof in die Woord van God is ‘n eerste eis vir vryheid.
2. INTELLEKTUELE VRYHEID
Ons hoor dikwels van die verdedigers van intellektuele vryheid beweringe (dikwels nie “ondersoek” en nie “bewys” nie) soos die volgende: “Die skrifgelowige (of die Calvinis in die besonder) het geen vryheid van denke en van ondersoek nie. Intellektueel vry is hy nie.”
Intellektuele vryheid (reg verstaan) is egter ’n vooraanstaande beginsel van die Calvinisme. Dit neem ’n ereplek in naas die beginsel van geloofsvryheid, van gewetensvryheid, van nasionale vryheid, van kringsvryheid (soewereiniteit in eie kring) waarvoor die Calvinisme al ’n eeue–oue stryd gestry het. Die Calvinisme (in teenstelling met die determinisme, fatalisme en die beginsel van tirannie aan die een kant, en in teenstelling met die determinisme, die toevalsgeloof, die anargie en die beginsel van revolusie aan die ander kant) is ware vryheidsleer. Die Calvinis eis van homself ware vryheid en gun hierdie vryheid ook aan sy teenstanders. Sy teenstanders eis hulle vryheid egter gewoonlik vir hulleself alleen op en hou geen rekening met die vryheidseis van die Calvinis nie.
Intellektuele vryheid is die reg en die plig van elke Calvinis.
Maar wat is hierdie intellektuele vryheid eintlik? Wat is vryheid?
Is vryheid ongebondenheid, bandeloosheid?
Moet hy wat intellektueel vry is, ongebonde, bandeloos, willekeurig in sy denke wees As dit die geval is, dan moet die Calvinis intellektuele vryheid verwerp. Egte intellektuele vryheid is egter gebonde aan die waarheid, aan die orde, aan die wet, wat die denke wil ontdek en ken.
Is vryheid outonomie, selfbepaling, selfbeslissing? Moet hy wat intellektueel vry is eiemagtig en outonoom beslis oor wat hy sal aanvaar en wat hy sal verwerp? Rus die bepaling van vryheid in die wils- en denkaktiwiteit van die subjek as sodanig? As dit die geval is, dan is die Calvinis in sy denke nie vry nie. Hy verwerp die goddelike outonomie, die vryheidsvergoddeliking, van die mens. Hy is geen rasionalis nie. Vir die Calvinis is alles, ook die mens en ook die menslike vryheid, gebonde, onderworpe, subjek aan die ordinansies van God. Vir denke is die ordinansie, die band, wat ware vryheid moontlik maak: die gebondenheid aan die objektief gegewe en geopenbaarde waarheid. Dit wat objektief buite en aan die mens gegee is, die saaklikheid, die werklikheid bepaal vir hom wat en hoe hy moet dink om waar in sy denke te wees. Nie die mens beslis en verwerp nie; dit is nie versoenbaar met hierdie selfverheffende hoogmoedshouding van die mens nie; dit vereis deemoed, onderwerping aan, diens aan die waarheid, die saaklikheid, die objektiwiteit. Die rasionalistiese hoogmoedshouding lei vanself tot subjektivisme en anargie in die denke en wetenskap. (Vandaar ook die verwarring wat teenswoordig heers in alle terreine van die wetenskap.) Vir die Calvinis is intellektuele vryheid diens, onderworpenheid, gebondenheid. Wie vryheid nie as diens, maar as outonomie en daardeur as heersing, d.w.s. oorheersing, sien as intellektueel revolusionêr, anargies, tirannies; sy denke tiranniseer in die kennis van die waarheid.
Is vryheid onafhanklikheid? Ja, en tegelyk veronderstel dit afhanklikheid. Alle vryheid het ’n positiewe element van ’n eie vrye bevoegdheid om te dien, van ’n soewereiniteit in eie kring, wat hom nie vervreem mag word nie. In die sin is vryheid onafhanklikheid, bevoegdheid, soewereiniteit. Om my te dwing om te aanvaar en te glo wat onwaar en vals is, om my met “intellektuele” en “wetenskaplike” geweld op te dring wat onwaar en verkeerd gesien is (ook al aanvaar die meerderheid van die “geleerdes” hierdie valse veronderstellinge en teorieë) is die krenking van die beginsel van intellektuele vryheid. So krenk die moderne wetenskaplikes die intellektuele vryheid van die Bybelgelowiges deur te eis dat elke intellektueel-ontwikkelde mens bv. In die ewolusie dogma moet glo, ook al sien hierdie mens dat geeneen van die bewyse vir ewolusie en ook nie algar saam steekhoudend is nie, en ook al beroep hy hom op die Woord van God self. Intellektuele vryheid beteken hier vanself onderwerping aan die mensewoord, aan teorieë deur mense opgestel. Die beroep op die Woord van God is vir hierdie geleerdes absurd. Onderwerp ek my aan hulle dan is ek waarlik onvry in my denke. Onderwerping aan menslike teorieë, menslike veronderstellinge, menslike wetenskap beteken uiteindelik onderwerping aan mense, afhanklikheid van mense vir waarheidskennis as mense, en dus: onvryheid. Intellektuele vryheid eis dat jy jou van geen mens as mens afhanklik sal stel nie t.o.v. wat jy aanvaar. Ook nie van predikante en ouderlinge as predikante en ouderlinge nie; ook nie van staatsregeerders as staatsregeerders nie. Die kerke (e.a.) outoriteite mag my as mense t.o.v. wat ek intellektueel aanvaar nie dwing nie. Alleen die waarheid soos in die natuur verwesenlik en in die Skriftuur van Godsweë geopenbaar bind my tot vryheid. Mense–band is hier mense–dwang, mense–afhanklikheid, intellektuele onvryheid.
Maar vryheid om vryheid te wees eis universele afhanklikheid. Om my intellektuele vryheid, my intellektuele bevoegdheid om die waarheid te dien, te kan verwesenlik is ek afhanklik van lig en lug, van voedsel en drank, van onderwysing en opvoeding. Waar ons self nie sien nie, moet ons gelei word; waar ons self nie kan loop nie, moet ons op mense steun. Maar ons mag nooit op hierdie mense steun omdat ons op hulle vertrou nie. Ons mag menslike leiding alleen aanvaar insover hierdie mense (ouers, onderwysers, ouderlinge, predikante, regeerders) self waarlik intellektueel vry is, d.w.s. op die onweerlegbare getuie van die Woord en van die Skepping van God. Waar hulle intellektueel faal, waar ’n kerklike lering dwaal, moet ek hierdie leiding verwerp en my teen die leiers in beroep op geskrewe en geskape waarheid. Wie gelei word is dan alleen intellektueel vry, as hy weet dat sy leier intellektueel vry, d.w.s. waarheidsgebonde is. Die band van die waarheid, aan die Woord en aan die Skepping van God is die voorwaarde tot ware intellektuele vryheid nes die band aan lug en voedsel die voorwaarde aan die lewensvryheid is en nes die band aan water vir die vis die voorwaarde aan sy vryheid is. Buite hierdie bande heers, onvryheid, anargie, intellektuele dood.
As die skrifverwerper intellektuele vryheid vir homself eis in die sin dat hy die waarheid wil dien, soos hy dit sien, dan moet hy, om wetenskaplik regverdig te wees dieselfde vryheid aan die skrifgelowige gun. As die skrifgelowige Gods Woord aanvaar naas die natuur as bande tot intellektuele vryheid, as hy sy belydenis (wat ’n korte saamvatting van Gods Woord is) glo, dan mag die skrifverwerper deur geen “intellektuele” dwang hom onvry maak nie. As in die Heilige Skrif oor die skepping Gods gegewens geopenbaar is, wat van invloed is op sy natuurondersoek en sy natuurbeskouing, mag hy nie die skrifverwerper uit die sinagoge van die wetenskap werp nie en onder die onwetenskaplikes gereken word nie, solank hy volmondig ook t.o.v. die natuur die waarheid dien en in die natuur soek, vind en ondersoek, wat in die Skrif geopenbaar is. Intellektuele vryheid is waarheidsdiens, sowel t.o.v. Gods Woord as t.o.v. Gods skepping. Alle vryheid is in wese ordelik en wetmatig, anders was dit willekeur. Alle vryheid is in wese diens, nes die diepste sin van alle skepsel is: skepsel–wees, onderdaan–aan–Gods–ordinansie–wees, dienskneg–van–God–wees. Die diepste sin van alle skepsel is Godsdiens en in hierdie diens vind hy sy hoogste bevoegdheid en ware vryheid.
Die Calvinis eis op wetenskaplik terrein die reg om intellektueel vry te wees en sodoende ’n waarlik Skrifgelowige wetenskap op te bou. Vryheid is ook ’n plig. ’n Christelike, d.w.s. Skrifgelowige, wetenskap op te bou is die plig van elke Bybel–gelowige. Die ware Christen is intellektueel vry alleen in die beoefening en bevordering van ’n Christelike Wetenskap; In die beoefening van ’n Neutrale Wetenskap is hy intellektueel waarlik onvry.
________________
“And it has already been observed that when the liberal preacher uses the word ‘God,’ he means something entirely different from that which the Christian means by the same word. God, at least according to the logical trend of modern liberalism, is not a person separate from the world, but merely the unity that pervades the world. To say, therefore, that Jesus is God means merely that the life of God, which appears in all men, appears with special clearness or richness in Jesus. Such an assertion is diametrically opposed to the Christian belief in the deity of Christ” – J. Gresham Machen