Troosdiens: Psalm 23
Die HERE is my Herder, niks sal my ontbreek nie
(my Pa se begrafnis: 30 April 2020)

Opnames:
1. Troosdiens (Ps. 23) & grafverrigtinge (Slabbert):
Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie.
2. Huldeblyk en bedankings (Tobie, jnr.): Pa Tobie Le Cornu.
(Opmerking: die notas hier onder bevat nie alles van die audio-opname nie)
Geliefde familie en vriende,
Die Here bring ons vanoggend saam, om getroos te word met die afsterwe van ons geliefde Pa, oupa, vriend.
En, waar sal ons ander ons troos kry, as uit God se Woord, en dan spesifiek Ps.23.
Ps.23 is seker die mees bekende en mees geliefde Psalm in die hele Psalmboek.
In hierdie Psalm word die beeld/prent van ’n herder wat sy skape versorg, gebruik om die HERE se versorging, trou, beskerming en leiding van sy kinders, sy skape te verduidelik, wat deur die geloof in Jesus ons Opperherder (1 Petrus 2:25), aan Hom behoort.
Die skrywer is natuurlik Dawid, volgens die eerste vers.
Dawid was ’n skaapherder, voor hy die koning van Israel geword het.
En Dawid was bewus van die totale afhanklikheid van die skape teenoor die herder, vir alles wat die skape in hul lewe nodig het.
Daarom dan word die hele boodskap van hierdie Psalm, in v.1 saamgevat:
Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie. – Ps 23:1
Die res van die Psalm is dan ’n beskrywing van hoe die HERE ’n herder is, en daarom sal niks die skape, God se kinders, in die besonder dan hier Dawid, ontbreek nie.
Alles wat Dawid nodig het, om skaap te wees, d.w.s kind van God te wees, gee sy Herder, die Here.
Daar is baie dinge wat ons kan leer uit Ps. 23,
ek wil vanmiddag net drie dinge noem
hoe die HERE as herder voorsien,
en mag dit ons troos op ons pelgrimspad vorentoe.
1 Hy gee aan ons rus en leiding:
Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. – v.2,3
Wat dadelik opvallend is, in hierdie 2 verse, is die herhaling van die “Hy”, wat die herder doen.
– Hy laat my neerlê
– Hy lei my
– Hy verkwik my
Ja, dit is die Here alleen wat in al ons behoeftes voorsien, hier spesifiek ons liggaamlike behoeftes. Hy voorsien die nodige water, ‘n plek van rus in ons lewe.
In sy voorsienigheid gee Hy ons alles wat ons nodig het, nie wat ons begeer nie.
ook my Pa kon dit alles deur sy lange lewe beleef,
hoe die Here ook in sy liggaamlike behoeftes voorsien het …
Wie sal Hotel Belvedere (459) ooit vergeet, hoe baie mense my pa en ma
daar versorg het, daar was altyd kos en klere, daar was altyd genoeg,
nooit honger gaan slaap nie …..
Maar, die Here voorsien nie net ons liggaamlike behoeftes nie.
Nee, Hy wek ook ons siele weer op.
Ons wat so baiemaal teneergedruk word, ook soos nou, wat ons hartseer is oor Pa wat ons aan die dood moet afstaan, ons word herinner aan die dood.
2 Beskerming teen gevare en vyande, v.4,5
Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
Wanneer dit skemer begin raak het, het die herders hul skape teruggelei na die skaapskrale, en baiemaal moes hul deur gevaarlike gebiede/valleie gaan, of dit word al donker.
Die skape was egter getroos of versterk met die wete dat –
hul herder ‘met hul was’,
asook dat die herder se ‘stok en staf’ hul letterlik versorg
Natuurlik het Dawid ook ervaring hiervan gehad.
As hy aan Saul beskryf dat hy mansgenoeg is om Goliat aan te vat, dan beskryf hy die taak as ‘n herder as volg deur sy eie ervaring:
34 Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar ’n leeu of ’n beer kom en ’n stuk kleinvee uit die trop wegdra, 35 dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood.
Ja, die teks sê dit nie so duidelik nie, maar Dawid sou seker ook ‘n stok en ‘n staf gebruik het.
Maar, Dawid wil deur hierdie beeld ook ironies genoeg wys, dat hy, selfs as magtige koning, nie sonder die hulp van die HERE as sy Herder koning kan wees nie.
So, gaan ons, gaan elke kind deur ‘n dal van doodskaduwee,
lewensgevare in hierdie lewe
Pa het ook deur sy dal van doodskaduwees gegaan, geestelik en fisies, al die operasies, al die siektes, en elke keer het hy verder gegaan, GEDINK hy gaan nie my bevestiging as ds beleef nie…
tot die tyd wat die Here vir hom bestem het ….
Nou het ons Pa en Oupa, deur die finale dal van doodskaduwee gaan, finaal, na die ewige lewe!
Nou mag Pa beleef wat ons daar in vers 2 (lees) ….
WANT, die rede waarom ons Pa, en elkeen wat glo werklik kan rus nou maar veral in die ewigheid, is:
Jesus ons Opperherder en Verlosser stel dit so in Joh.10:11, 28,
28 Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape… En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
So het Hy vir Pa bewaar deur vyande en gevare in hierdie lewe
So bewaar Hy elke kind
Ja, en vir ons wat nog die geloofspad hier op aarde moet wandel,
weet daar sal altyd geestelike en fisiese gevare wees in hierdie lewe,
maar ons troos is die Here, wat met ons midde die gevare.
Die HERE is my Herder, niks sal my ontbreek,
om ongeag die lewensgevare sy kind te wees en Hom te dien nie.
En dan laastens, eintlik die hoogtepunt van die Here as ons Herder, kry ons in die laaste vers:
3. Ons as sy skape se ewige gemeenskap met die HERE
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae. – Ps 23:1-6
‘Goedheid en guns’, is die sleutel trooswoorde hier.
Dit is God se ewige verbondstrou,
Sy ewige liefde vir sy begenadigde uitverkore kinders in Jesus Christus,
Hy bly getrou aan sy beloftes wat Hy maak in tyd en ewigheid.
Ja, die Herder van Israel, die Herder van Dawid,
die Herder van al sy skape beloof niks sal ons ooit kortkom nie
(Hy gee wat ‘nodig’ is, nie wat ons altyd ‘begeer’ nie, en dit is ‘goed’ (Ps. 25:4)),
Hoekom sal ons ‘niks’ ons kortkom nie …. omdat ons so goed is?
Nee!
Omdat God so goed en gunstig is vir sy kinders in Christus,
en in ALLES voorsien het na liggaam en siel,
in lewe en sterwe,
“OM (vir) SY NAAM ONTWIL”, v.2 … te lewe, nou en tot in ewigheid.
Ek het my Pa vir amper 52 jaar geken, en nou dat hy oorlede is,
wonder ek hoekom het ek hom so liefgehad het … en toe ek weer Ps. 23 lees het ek dit opnuut besef …. ek was en is so lief vir hom, nie omdat hy volmaak was nie, maar juis omdat hy, soos ons almal, eintlik so swak was (sien 2 Kor. 12:9) … EN BESEF HET HOE NODIG HY DIE HERE HET, JESUS OM VIR AL SY SONDES TE STERWE
… HOE NODIG HY DIE HERE SE ‘GOEDHEID EN GUNS’ HET!
En hierdie goedheid en guns van ons Herder, van Jesus teenoor ons is
… tot in ‘lengte van dae’ ….
Of ek jonk is, of ek oud is
Of ek gesond is, of baie siek word soos Pa die afgelope tyd voor sy sterwe…
Dit is hierdie goedheid en guns wat Pa sy lewelank laat uitroep het,
sy hele lewe lank, maar ook aan die einde toe sy lyding swaar was:
Die Here is my my herder (my redder), NIKS sal my ontbreek nie !
My Pa was bekend vir die woorde wat hy baiemaal uitgeroep het,
as hy opnuut besef het wat Jesus sy Herder vir hom gedoen het, en,
as al sy kinders by hom was, saam Ma by ons huise waar ons gewoon en geleef het:
“Ek is ’n rykman!”
Ja, Pa was ryk, en …. nou …. ryker as ooit!
En nou weet Pa opnuut, dat hy ’n rykman is bo alles,
omdat die Here sy Herder was en is.
Dit is die enigste ware rykdom wat werklik saakmaak, geliefde familie en vriende!
MAAR, nou moet ons wat nog lewe,
as’t ware deur die dal van doodskaduwees wandel,
in hierdie lewe met sy gevare en vyande:
die Satan, die wêreld, en die grootste vyand: ons eie sonde….
Mag Christus ook nou, terwyl ons herinner word aan die dood en die lewe,
u en my se enigste Troos in lewe en sterwe wees,
ook en veral en nou in ons onsekere tye.
Laat ons saam en afsonderlik, soos Pa en Oupa, uitroep en leef:
Die HERE is my herder niks sal my ontbreek nie
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe
En ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
Amen.
Leave a Reply