Leerprediking: Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 7
Die vleesgeworde en geskrewe Woord is volkome (1 Petrus 1:13)
Lees: 1 Petrus 1:1-13
Teks: “DAAROM, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.” (1 Petrus 1:13)
Tema: NGB artikel 7: Die volkomenheid van die Heilige Skrif
Preekopname (GK Carletonville, 2020-10-25, nota: die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die audio preek is meer volledig):
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Petrus verkondig deur die Gees aan die gelowiges in die verstrooiing, v. 1
en dus ook aan ons, die Evangelie van Jesus Christus.
In vers 13 spesifiek die woorde:
“DAAROM, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.” (1 Pe 1:13)
Ja, hoop ‘volkome’ op die genade van die Vader,
dit is die evangelie, wat julle by die openbaring van Jesus,
deur die krag van die Gees ontvang het.
En waar spesifiek hoor die kinders van die Here in die verstrooiing,
die Evangelie ‘volkome’?
Ja, daar in die eerste eeu deur die apostels self se getuienis en prediking,
maar dan ook v. 9-12, en later 2 Pe. 1:16-21,
deur die geskrifte van die OT en NT wat – ons in die woorde van NGB art. 2 – die heilige Goddelike Skrif noem,
Die vleesgeworde Woord, Jesus Christus, openbaar vir ons die Vader,
openbaar vir ons in die OT en NT sy geskrewe Woord.
Dit wat ons al geleer het sover, vanaf artikel 1 tot hier waar ons nou is.
Die enige God wat … sleutelwoord ‘volkome’ wys is, NGB art. 1
gee vir ons sy ‘volkome’ Woord, NGB art. 2-7,
wat in die woorde van NGB art. 7, die eerste twee sinne:
“… die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word1. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie2 – ja, al was daar ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32) 3, blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. …”
In NGB bely ons in navolging van die Skrif,
dat die ‘openbaring van Jesus Christus’ 1 Pe. 1:13,
van Gen. tot Op., en soos ons dit nou het in die OT en NT,
volkome is, volmaak is, ja, in alle opsigte,
die sentrale boodskap: die koninkryk en skap van God in JC deur die krag van die HG, asook elke liewe detail, is volmaak en volkome.
Die volkomenheid beteken juis dit, dit is perfek, dit is volmaak, dit is genoeg, voldoende, ons is daarmee tevrede, niks hoef bygevoeg te word of weggeneem te word nie, alles is daar wat nodig is, berus daarby, en daarom ook die woorde van Deut. 12:32 …”En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat”
Ja, in die woorde van NGB art. 4, “daar kan niks teen ingebring word nie”
En, daarmee moet ons – die kerk in die verstrooiing (1 Pe. 1:1) …. tevrede wees: die Bybel is genoeg, volkome.
MAAR, nou die groot vraag: waarvoor is is die Bybel ‘genoeg’, volkome?
Vir letterlik alles in die lewe ?
Leer die Bybel vir my watter kleur hemp ek moet aantrek,
Of hoe om met rekenaars te werk
Of gee die Bybel vir my die naam met wie ek moet trou,
Of waar ek moet bly.
Wel, volgens art.2 leer die Bybel ons wel hoe om tot eer van God te lewe,
in alles van my lewe, sien 1 Kor. 10:31.
So die Bybel gee vir my die algemene raamwerk en beginsels,
waarbinne ek die besluite kan neem,
Bv. die Bybel gee my nie naam nie, maar wel vereistes met wie ek moet trou, sien 1 Kor. 7:39.
Die Bybel is nie ‘n wetenskaplike handboek van alles en nog wat in die lewe nie … dank God, daarvoor, want die wetenskap is nie volkome, perfek nie, verander heeltyd, is vol foute en feilbaar.
Die Bybel is ‘n openbaringshistoriese Boek, onfeilbaar in alles wat dit spreek.
Waaroor gaan die ‘genoegsaamheid’ hier?
Dit lees ons in die eerste 2 sinne van ons belydenis:
Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word.
Dit behels dus die twee wesentlike sake:
– saligheid, d.w.s. die mens se redding
– die hele wyse waarop God gedien moet word
Let wel, die ‘gedien’ moet word, wys hier spesifiek op die erediens aan
en aanbidding van God.
Verduidelik: ‘lewensdiens’ en ‘erediens’ Latyn: cultus divinus
Lewensdiens bely ons in NGB art.2 (asook NGB art. 24, 25, 36)
Hier gaan dit bepaal oor die erediens en aanbidding in NGB artikel 7
Dus, eerstens, die Skrif leer volkome, genoegsaam van ons saligheid, van ons redding.
Dit wat ons gehoor het in v. 3, 11 en 12 …. (lees)
En, wat nou belangrik is, dit is genoeg, alles wat noodsaaklik is om te weet van Jesus, God se reddingsplan, hoekom en hoe ons gered word … God se wil aangaande ons redding, vind ons ‘volkome’ in die Bybel
– daar is nie ‘n nuwe openbaring of verlossingswyse nodig nie.
– ons het dit reeds in die Bybel
– ons het nie nuwe apostels nodig nie
Dink aan Paulus se woorde ook in 1 Kor.15:
3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; 5 en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.
Alle ander boeke, mense is hulpmiddels, maar om te weet wat ons moet glo vir ons saligheid, daarvoor is die Bybel genoegsaam.
Maar, tweedens, ook hoe ons die erediens, die aanbidding van God moet inrig, bely ons in sin 2 van NGB art.7:
Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was daar ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deu 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is.
Geliefdes, ook ALLES wat ons moet weet aangaande die aanbidding van God,
Alles wat ons nodig het om Hom te loof en te prys,
vind ons in die Bybel
Die belydenis beklemtoon die genoegsaamheid van die Skrif vir aanbidding, die erediens aan God, met woorde soos:
– ‘daarin breedvoerig beskrywe’
– ‘verbode om iets by te voeg of weg te laat’
– ‘ die leer van die Skrif is heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome’
In die OT vir hul tyd was wat God geopenbaar het genoeg om te leer van hul saligheid,
sien 1 Pe. 1:10-12,
maar ook vir hul erediens, daarom bv.
Deut.4:2 lees ons dan ook God se uitdruklike bevel:
Luister dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen, sodat julle mag lewe en inkom en die land wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle sal gee, in besit mag neem.
2 Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel.
En in Deut.12:29-32, wat hier in NGB aangehaal word:
32 Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.
En, as iemand dink dit was net in die OT, dat God volgens sy bevele gedien wil word, dat ons nou skielik in die NT God se erediens/aanbidding moet aanvul met ons eie idees en planne van aanbidding, nee, dink weer
In Matt.15 verwerp Jesus juis die gedagte dat sy Woord en erediens nie genoeg is nie, as ons lees:
8 Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.
9 Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.
Matt.28:19, as die Here die dissipels nader roep, bevel gee om orals die evangelie te verkondig, volke in sy Naam te doop, dan hoor ons ook die woorde:
En leer hul om alles te onderhou wat Ek beveel het
Ja, die bevele van die Here is genoeg, dit is volkome vir ons erediens, vir ons redding
Ons mag niks byvoeg, of niks weglaat nie, waarsku ons belydenis ons vanuit die Skrif, omdat die Woord volmaak en in alle opsigte volkome is.
Die groot tragedie van ons tyd, is dat die Skrif nou glad nie meer as genoegsaam beskou word nie
Die mens soek by homself en valse godsdienste om idees by te voeg by die Bybel, byvoeging by die redding en aanbidding van God, en daarteen waarsku die belydenis in die volgende sinne:
Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Psa 62:9 [Ou Vert. Vers 10]). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: “…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is” (1Jo 4:1) en: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…” (2Jo 1:10).
Rome was alreeds daarmee besig gewees om te sê dat die Skrif nie genoegsaam/volkome is vir ons redding en erediens nie
Hulle leer nou nog:
Redding: genade ja, maar plus werke. Christus doen alles, maar jy moet byvoeg met jou werke, hetsy deur die sakramente of jou geloof as ‘werk’.
Die sakramente is nog nodig vir saligheid, ens.
Erediens: dink aan al die seremonies wat hul weer byvoeg by die erediens. Dit is ook Rome wat die tradisie van kerklike feesdae en ekstra liedere so sterk bevorder, en baie protestante het gevolg.
Kanon: apokriewe boeke bygevoeg (sien weer NGB artikel 6), asook later dat die Pous ook soos die Skrif onfeilbare uitsprake kan maak, tradisie bevat ook gesag en waarheid gelyk aan die Skrif.
Leringe bygevoeg: Maria is medemiddelaar, vir altyd ‘n maagd, bid deur en vir heiliges, ens.
MAAR ook die pinkster en charismatiese groepe, wat nog openbaringe, tale, apostels en nuwe visioene soek in stryd met NGB art. 7 se Skrifleer.
Daarom die belydenis: – geen mense se boeke, geskrifte gelyk aan die Skrif nie
– ook nie tradisies of getalle of vergaderings nie: as my voorvaders verkeerd gedoen het … dan moet ons reformeer volgens die Skrif.
– ons doen dinge omdat Skrif dit leer, en nie omdat die meerderheid mense dit wil hê nie, of minderheid nie, sien Ex. 23:1-3
of omdat dit populêr is,
of omdat ander kerke, al is dit die meerderheid so sê nie
Die belydenis, in navolging van die Skrif waarsku juis daarteen:
Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Psa 62:9
Die verskeurdheid van kerke bevestig juis dat die kerk nie waarheid kan skep of self bron en norm wees nie.
God en sy Woord, die redding en erediens daarin is volmaak en volkome, nie die mens wat onvolkome en nietig en onvolmaak is nie.
Hoe kan ons nietige mense dan ‘n beter erediens as God uitdink?
LET WEL: ons is nie teen tradisie, mense, vergaderings, getalle ens. opsigself nie, ons leer graag van mekaar, ons het belydenisskrifte, ons het tradisies wat goed is, MAAR, dit is nie normatief, die waarheid self nie, maar dit wys en getuig van die waarheid, God en sy Woord!
In die woorde van ons belydenis: “…WANT DIE WAARHEID IS BO ALLES”
Alles moet God en sy Woord dien en daarna wys, en daaraan getoets word.
In ons eie geskiedenis het die eerste geslag doppers hul juis op art.7 beroep om die Gesange uit te weer.
Van der Vyver (Dirk Postma) wys daarop dat die Doppers hul beroep het op skrifgedeeltes soos Deut.4:2; Matt.15:9 en Op.22:19, om te bevestig:“dat die invoer van die Gesange gelykstelling was van ‘n menslike geskrif met die geïnspireerde Woord van God. Met ‘n beroep op Art.7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis het hulle die Woord van God as volmaak en genoegsaam beskou, waaraan niks toegevoeg mog word nie. Die Gesange naas die Psalms in die erediens het hulle beskou as sodanige toevoeging.”[1]
Daarom is hierdie belydenis vir ons so ‘n kosbare ‘n belydenis!
Die belydenis sê eenvoudig: wat ons redding betref en hoe ons die Here moet dien in die erediens, in aanbidding word volkome in die Skrif vir ons gegee, en daarmee moet ons TEVREDE wees.
Hoor dieselfde sentiment op ander plekke in ons belydenis:
NGB art.24 ons heiligmaking en goeie werke: ons moet ons voortdurend oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het.
NGB art.32: Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar ‘n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie.
NGB 33: Verder is ons tevrede met die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die sakrament van die doop en van die heilige nagmaal van Jesus Christus.
NGB art.35: Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die verordening wat Christus en sy apostels ons geleer het en ons sê dieselfde as wat hulle daarvan gesê het. En daarom verwerp ons alle menslike versindsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing.
Dus:
God se redding in Christus, is genoeg en volkome, ons is daarmee tevrede. Dit is volbring, volkome!
God het vir ons 66 boeke gegee, as sy Woord, en dit is vir ons genoeg, ons is daarmee tevrede!
God het in die NTvir ons die Sondag as sabbatdag gegee, en dit is genoeg en ons is daarmee tevrede!
God het in sy Woord vir ons sy Sangboek gegee, die Psalmboek, dit is genoeg en ons is daarmee tevrede!
God het vir ons 2 sakramente ingestel deur Christus, dit is genoeg en ons is daarmee tevrede!
God het geopenbaar oor wie in die besondere ampte moet dien in sy eredienste, dit is genoeg!
Ek hoop u sien die patroon, geliefdes:
Die vraag is nie soseer, bv. is sielkunde of filosofie verkeerd, of gesange, of die apokriewe boeke, of die feesdae of die ander dinge wat mense wil byvoeg by God se erediens nie.
Dit gaan daaroor dat dit wat God reeds gegee het, genoegsaam, volkome is en ons moet daarmee tevrede wees.
In 2 Kor.12:9 sê God vir Paulus:
9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.
Geliefde,
Is God se genade vir u genoeg ?
Is Jesus se redding vir u genoeg
Is God se erediens in die Skrif, vir u genoeg ?
Of probeer u byvoeg en wegneem na goeddunke,
soos dit u begeertes en behoeftes of ons tydsgees pas ?
Is u ontevrede met die Skrif, met die Psalms, met die rusdag van die Here, dalk ontevrede met Christus self?
Ag, mag dit nie so onder ons wees nie!
Laat ons tevrede wees:
In die woorde wat ons gesing het uit Ps. 131,
Voorwaar my siel is in my stil,
weer één met God se heil’ge wil.
Net soos ‘n kind, tevrede by
sy moeder, is my siel in my.
131:3
Laat Isr’el op die HEER vertrou,
sy hoop op Gods ontferming bou,
en stil berus in sy beleid
van nou af tot in ewigheid.
Laat ons, in die woorde van 1 Pe. 1:13, die lendene van ons verstand omgord, nugter wees, en volkome hoop op die genade wat ons deel geword het met die openbaring van Jesus Christus.
Dit is vir ons alles genoeg, ons is tevrede.
Amen.
[1] Ibid., p.204, 205.
Leave a Reply