DIE DIREKTE VERTALING (2020-VERTALING): Gaan die Direkte Vertaling babelse verwarring veroorsaak?

DIE DIREKTE VERTALING
GAAN DIE 2020 VERTALING BABELSE VERWARRING VEROORSAAK?

En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.” (Hand. 17:11)

Prof. Gerrit Smit (APK), een van die vertalers van die Direkte Vertaling (DV), het ‘n artikel geskryf om moontlike verwarring oor die hoofletter debat aangaande die nuwe DV aan te spreek. Dit kan hier gelees word:

Babelse verwarring oor die 2020 Bybelvertaling

Prof. Gerrit se artikel en my opmerkings wat daarop volg, is my afskop van hierdie onderwerp, alhoewel ek al deur die jare reeds hieroor geskryf het, met die proefvertalings van die Direkte Vertaling, sien hier. Soos ek hier onder ook vermeld, gaan ek in die toekoms, soos ek die DV deurlees, my opmerkings hier plaas vir belangstellendes, wat dit hier en elders graag wil bespreek (nota: u is welkom om die ‘comments’ afdeling hier onder te gebruik, let wel, ek laat geen skuilname en ‘keyboard warriors’ hier toe nie, u moet onder u regte naam hier opmerkings plaas). So hoop ek dit kan bydra om die kerk van Christus te help om hierdie nuwe vertaling billik te evalueer en daaroor besluite te kan neem vir gebruik.

_______________________________________________

Broeders, ‘n vraag oor ‘n sin in die bogenoemde artikel:

“Ons moet onthou dat hierdie vertaling (1933/53-slc) grootliks gebaseer was op die Nederlandse Statevertaling en nie uitsluitlik op die Hebreeuse en Griekse manuskripte van die Ou- en Nuwe Testament nie.”

Nou wat behels ‘grootliks’ en ‘uitsluitlik’ nou eintlik, dit skep vir my verwarring wat met hierdie uitsprake oor die Statevertaling (SV) en 1953/53 vertaling (OAV) én vertalers bedoel word?

Die gereformeerde Nederlandse vertalers skryf voor in die Nederlandse Statevertaling (1657), ‘hoofletters’ bygevoeg vir beklemtoning -slc:

“Bijbel, dat is de ganse Heilige Skrift, vervattende al die Canonieke Boeken des Ouden en des Nieuwen Testaments …. uit DE OORSPRONKLIKE TALE in onze Nederlandse taal getrouwelijk overgezet…”

Die gereformeerde Afrikaanse vertalers van beide die 1933/53 vertaling:

“DIE BYBEL, dit is die ganse Heilige Skrif wat al die kanonieke boeke van die Ou en Nuwe Testament bevat, oorgesit uit DIE OORSPRONKLIKE TALE….”

Beide SV en OAV se vertalers verklaar daarmee hul het uit die ‘oorspronklike tale’ (Hebreeus, Aramees, Grieks) vertaal, nie uit tale van hul eie dag of wat hul taal voorafgegaan het nie.

Natuurlik het hul soos seker alle vertalers deur die eeue gedoen het, heeltyd vertalings en ander tale vergelyk, en, omdat Nederlands en Afrikaans so nou verwant is aan mekaar veral meer in die verlede), gaan daar vanselfsprekend baie ooreenkomste wees, hoe dan anders.

En, hoekom is dit ‘n probleem vir baie, as albei ‘uit die oorspronklike’ by die dieselfde woorde, frases, ens. uitkom, dan beteken dit dalk juis dat albei getroue vertalings is volgens die ‘oorspronklike’ of hoe? (en ja, natuurlik is daar ook verskille tussen Ned. en Afr., en soms groot verskille [vandag baie meer!], wat ek goed agtergekom het toe ek die afgelope paar jare gehelp het om die kanttekeninge van die Statevertaling in Afrikaans te vertaal).

Maar die punt is, beide die Statevertaling en OAV verlaar dit is ‘uit die oorspronklike tale’ as brontale gedoen, nie ‘uit die Latyn/Frans/Duits/Nederlands, ens.’ nie, of hoe?

Of het die Statevertaling en OAV vertalers nie uit die ‘oorspronklike tale’ vertaal nie, of het hul dit dalk ‘baie swak’ gedoen, of moes daardie woorde nie voor in die Bybelvertalings gewees het nie?

Indien hul wel nie uit die oorspronklike vertaal het nie en/of swak gedoen het, dan moet ons eerlik wees en dit sê of, hoe?

Ek is versigtig vir die gevaar van ‘n (evolusionisties-post?)moderne benadering wat moontlik beweer aangaande die vertalers wat ons deur die eeue voorgegaan het:

a) hulle kon en het nou nie eintlik so goed vertaal nie, hulle het maar bloot ander tale se vertalings vertaal, nie ‘uit die oorspronklike’ nie, en/of,

b) eers nou in die 20/21ste eeu met al ons geleerheid, taaltegnieke, nuwe ontdekkings, nuwe tekste(?) kan ons nou eers waarlik korrek en duidelik en goed vertaal in ons taal, ‘nou’ is die Bybel vir die eerste keer ‘duidelik’?

Het ons al werklik mooi gedink wat al die verreikende implikasies is van sulke stellings, hoe goed ons dit ookal bedoel met al ons verbeterings aan Bybelvertalings?

Ja, daar is seker ‘n fyn lyn tussen die Woord bly dieselfde van geslag tot geslag deur alle eeue, asook om aan te hou reformeer ook in vertaalwerk, nuwe woorde, taal wat (ten goede) verander, verbeterings wat werklik nodig is, ens.?

En, laat ek dit baie duidelik stel, ek beweer hiermee glad nie dat prof. Gerrit dit wat ek nou laastens noem beweer nie, inteendeel. Maar soos hy, is ek ook eerlik dat daar vir my ook hier nou verwarring is in sekere uitsprake wat gemaak word oor bv. ouer vertalings, ouer/vorige vertalers, soos die van die SV en OAV, en dit moet myns insiens deeglik bespreek en verduidelik word om enige misverstande uit die weg te ruim oor die verlede en hede.

Ek het ook vandag my 2020 vertaling weergawe gekry, ja, DIE HOOFLETTER EEN… (ekself beplan om hopelik later ook hieroor te skryf, om ‘te hoofletter of nie te hoofletter nie’… wat is die konfessioneel-teologies-kerklike implikasies van ‘n hoofletter en nie-hoofletter uitgawe, wat sê ons daardeur vir die kerk van Christus … en die wêreld, oor die Messias van die … Nuwe … én Ou Testament?)

Ek gaan soos ek deur die DV lees, op my blog hier opmerkings maak van wat ek raaklees, in beide die vertaling en notas, boekinleidings, ens. Nie noodwendig net kritiese opmerkings/vrae waar ek dink dit nodig is nie, maar bloot ook om verskille uit te wys in vergelyking met bv. die SV, NAV, OAV, ander verklarende Bybels en notas, ens.

Ek is dankbaar saam prof. Gerrit dit volkome eens oor die wesentlike belangrikheid van die Messiaanse OT in sy dele en geheel, nie ‘net’ omdat die NT die OT ‘van toepassing maak’ op Jesus nie (ek glo die NT erken en bevestig dit wat reeds daar nog altyd staan, hul ontvang dit bloot, hul ‘maak’ dit nie Messiaans nie), maar juis omdat die OT wesentlik, inherent oor die Messias, die Seun van God reeds gaan vanaf die begin tot einde (vanaf Gen. 1 tot Op. 22), ja, nog voor die eerste eeu (en ons en die kerk deur alle eeue) die NT ontvang het en gelees het … soos die NT self, deur die Gees openbaar, 1 Petrus 1:10-12:

“Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd DIE GEES VAN CHRISTUS WAT IN HULLE WAS, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat OOR CHRISTUS sou kom en die heerlikheid daarna. AAN HULLE IS GEOPENBAAR dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.”

“Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.” (Op. 22:16)

Laastens, vra ek vir almal wat lief is vir die Here, vir sy Woord (in ons eie taal) en sy kerk, ook onder ons Afrikaanse volk:

Beoordeel elke vraag of kritiek oor die DV (en ander vertalings) van wie dit spesifiek kom, en elkeen op sy meriete.

Die feit dat ek op grond van wat ek reeds uitgewys het groot besorgdheid het oor die DV (gaan kyk hier en vergelyk wat het verander of nie in die nuutste DV uitgawe), beteken nie ek is saam op sommiges se “heksejag en samesweringsteorië bootjie nie’, of om vertalers persoonlik aan te val nie, ens.

Iteendeel, ek ken van die vertalers en medewerkers as kinders van die Here vir wie ek groot respek het, maar ek glo ons kan wel in liefde met mekaar verskil, al is dit selfs sterk verskil oor sekere sake en vertalings, en of dit gebruik kan of moet word.

Sien daarom my ‘kritiese opmerkings’ wat ek reeds gedoen het, en in die toekoms gaan doen, in die lig van ‘n medegelowige wat saam wil buig voor God se Woord, wat ons saam liefhet (Ps. 19; 119; 2 Tim. 3:15-17) en daarvoor bewe in eerbied en ontsag (Jes. 66:2).

Hoop regtig ons kan goeie gesprekke oor die DV voer, want ja, ten einde wil ons graag ‘n betroubare getroue vertaling gebruik in ons eie taal vir ons kerke, vir ons volks- en taalgenote behou.

Broedergroete in Jesus Christus, die Messias-Koning van die OT en NT, die genadeverbond van die Ou en Nuwe Testamentiese bedelings

Slabbert Le Cornu

4 thoughts on “DIE DIREKTE VERTALING (2020-VERTALING): Gaan die Direkte Vertaling babelse verwarring veroorsaak?

Add yours

  1. Mat 2:2 Die Griekse woord: anatole is volgens Strong o.a. ‘n styging van lig, dagbreek of Ooste. Die Wyse manne het Sy ster sien opkom (83 vertaling was reg!) Die direkte vertaling was toe nie so direk nie. Die ESV het ook :”we saw his star when it rose”. Dieselfde “ster” het in Mat 2:9 stil gestaan. Die enigste “ster” wat dit kan doen is ‘n swerwer (planeta) wat ons as planeet ken. Die Koningster ken ons as Jupiter. Die vertalers het die astronomiese betekenisinhoud nie raakgesien of erken nie.(Let asb. daarop dat astronomie nie astrologie is nie! )

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: