DIE DIREKTE VERTALING (2020-vertaling): Die Messiaanse siening van die DV, spesifiek die Psalms, nog steeds ‘n groot probleem

DIE DIREKTE VERTALING (2020-vertaling)

Die Messiaanse siening van die DV, spesifiek die Psalms,

nog steeds ‘n groot probleem

Die Direkte Vertaling (DV) sal amptelik einde November bekendgestel word. Vir meer inligting oor hierdie nuutste Afrikaanse vertaling, sien hul webtuiste hier. Sien ook die voorafgaande artikel wat ek geskryf het oor die DV:

Die Direkte Vertaling: Gaan dit babelse verwarring veroorsaak?

Ek het in hierdie artikel genoem, dat ek soos ek die DV lees, opmerkings hier op my blog gaan plaas. Ek begin met die Messiaanse siening van die DV en sy vertalers, soos gesien word in veral hul vertaalkeuses, gebruik van hoofletters en nie-hoofletters, inleiding op die Psalms, die voetnotas, ens.

Die Messiaanse Psalms

Hier is my oorspronklike artikel wat ek destyds geskryf het (en aangestuur het vir Bybelgenootskap), wat u asb. moet lees voor u hier verder lees:

Die Messianse Psalms in die Direkte Vertalings

Nou lyk dit vir my die finale weergawe van die DV het die sogenaamde “Messiaanse probleem” probeer oplos deur ‘n “hoofletter” en “kleinletter” uitgawe saam uit te bring, om so almal gelukkig te probeer hou?

In die voorwoord (van die hoofletter uitgawe) staan daar dat daar verskil was tussen kerke oor die hoofletters en kleinletters waar daar na Christus verwys word in die OT, en is daar besluit om op aandrang van ‘sommige kerke’ twee weergawes deur te gee.

Die voorwoord se spesifieke woorde, wat hul siening van Christus in die OT openbaar (soos spesifiek gesien word veral in die kleinletter uitgawe. Beklemtonings bygevoeg), stel dit as volg:

“Omdat die vertaalspan uiteraard wel die toepassing van die Ou Testamentiese tekste in die Nuwe Testament op Jesus as die Christus aanvaar, is daar besluit om met behulp van voetnote in die Ou Testament oor en weer deur middel van kruisverwysings hierna te verwys.”

In my bogenoemde artikel oor die probleem van die nie-Messiaanse vertalings van die DV, het ek dit as volg gestel wat die probleem was (en my mening nog steeds is, hoofletters of nie):

“As mens kyk na sekere spesifieke eksplisiete Messiaanse gedeeltes in die Psalms, o.a. Psalm 2 en 110, dan blyk dit dat die Direkte Vertaling wel meer ‘letterlik’ wil vertaal oor die algemeen, maar ongelukkig bloot die nie-Messiaanse teologie en skrifbeskouing wat onderliggend is aan die NAV, Bybel in Praktyk en die Cloete omdigting, navolg in hul vertaalwerk.

Hier is twee voorbeelde (Psalm 2 en 110, en onthou – hierdie is die 2 Psalms wat die meeste aangehaal en as direk Messiaans aangedui word in die NT. Wat met hierdie twee Psalms gedoen word is deurslaggewend vir wat met die res van die spesifiek Messiaanse Psalms, asook die res van die OT gedoen word.  Die vertaling daarvan openbaar ook die verhouding OT tot die NT, skrifbeskouing, ens., van die vertalers) …”

Nou is die vraag: los ‘n ‘hoofletter’ vertaling die probleem op?

Wel, dit is seker ‘n verbetering op die ‘tekstuele ontkenning’ van die Messias deur ‘n kleinletter weergawe, waarin Christus afgegradeer word tot in die voetnotas… maar is die ‘hoofletter uitgawe’ beter in sy geheel oor hierdie kwessie?

Ja, sou ek sê, maar net as mens die voetnotas en die inleidings en die voorwoorde wegvat, want die onderliggende probleem word vererger in die voetnotas, want kyk wat word in die voetnotas gesê by die twee bekendste eksplisiete Messiaanse Psalms:

Psalm 2:2 (DV): “…teen die HERE en sy Gesalfde:e

Voetnoot e: gesalfde: Dit verwys hier na die Koning wat gesalf is; bgl. Ps. 2:6.

Wie is hierdie Gesalfde (gesalfde met ‘n kleinletter in voetnoot e?) waarvan Psalm 2 spreek?

Volgens die ‘hoofletter uitgawe’ se voetnotas, en lyk my ook inleiding op die Psalms = onsekerheid, ons weet nie, dit is nie ‘n ‘wesentlike’ saak nie…?

Hier is Ps. 2:12 (DV): “Soen die Seun,d sodat Hye nie toornig word…”

Voetnota d en e: “Soen die Seun: Daar is onsekerheid oor die betekenis van die bronteks. Die woord wat vertaal word as ‘die Seun’, is die ‘seun’, nie die gewone Hebreeuse woord nie. Dit verwys na die Koning as God se Seun, soos in Ps. 2:7… Hy: Daar is onsekerheid of ‘Hy na God of na die koning verwys.”

Hierdie voetnotas, is om die minste te sê, verwarrend en onduidelik, dit lyk my die vertalers/verklaarders is net oor een ding seker, en dit is hul sekere onsekerheid dat Psalm 2 nie ‘n Messiaanse Psalm is, wat inherent daar in die OT (nog voor ons die NT het) eksplisiet oor Christus gaan nie?

Waarom ook ‘Koning’ met ‘n hoofletter vertaal, en dan weer ‘n volgende keer met ‘koning’, ‘n kleinletter?

Dit wil voorkom asof die ontkenning en/of onsekerheid oor die Messiaaniteit van die OT, veral die Psalms, bloot van die Teks (al is daar hoofletters), na die voetnotas geskuif is? Wat ‘toegegee’ word in die vertaalteks, word weer met die voetnotas ‘weggeneem’ en/of ontken, of ten minste in onsekerheid gedompel?

Die verdere feit dat die DV se ‘Inleiding op die Psalms’ (nog steeds) geen erkenning en blyke gee van die (direkte/eksplisiete) Messiaanse aard van die Psalmboek nie, maak dat die besorgdheid oor die DV, ook die hoofletter uitgawe ongelukkig, nog steeds bly.

Daarom geld dit wat ek in my oorspronklike artikel reeds geskryf het (met klein veranderings) – oor die wese van die Messiaanse probleme van die DV proefvertalings – en nie bloot net oor die ‘hoofletter v kleinletter’ gesprek nie – netso in beginsel nog vir die finale weergawe van die DV (beide die hoof- en kleinletter uitgawes vir verskillende redes) geld, ek haal (weer) aan:

“Die BDV is verbetering op die NAV (1983) deur die verbondsnaam (Jahwe) aan te dui met hoofletters (HERE), maar hul volhard met die nie-Messiaanse verstaan van die OT, deur waar die Skrif self Christus direk aandui in die OT, hul dit ontken met die gebruik van kleinletters (seun, gesalfde, heer, ens.), in plaas van hoofletters soos met bv. die OAV (Seun, Gesalfde, Here, ens.)

En as iemand dan weer gaan kom met die argument, “maar die Hebreeus is nie in hoof en klein letters geskryf nie”, dan is die argument dan soveel te meer:

– as die vertalers dan ons Afrikaanse taalstruktuur (wat onderskei tussen hoof en kleinletters) kan gebruik om te onderskei tussen die Godsname in die BDV (HERE en/of Here en/of heer/here), hoekom kan hulle dan nie ook daardie selfde taalstruktuur gebruik om die Messias aanduidings aan te wys nie, dus waar Christus direk ter sprake is aan te dui met ‘n hoofletter, soos die OAV dit deeglik doen (Seun, Gesalfde, Here, ens.) ?

Waarom of hoekom is die hele Teks (OT én NT en hul verhouding tot mekaar) nie bepalend vir die vertaalkeuses van die BDV nie ?

As die Heilige Gees implisiet en eksplisiet deur latere Openbaring sekere gedeeltes as Messiaans aandui, waarom dit nie aandui in ‘n vertaling met bv. hoofletters nie (in die Teks self)?  Waarom hierdie verwerping van die gebruik om van hoofletters gebruik te maak om die Messias aan te dui (die hoofletter aanduiding word ook so gebruik met meeste betroubare moderne vertalings vandag, hoekom wil die BDV dit nie navolg nie?).

Ek het ook die ‘inleiding’ gelees tot die Psalms in die BDV.  Daar is geen sprake van enige verwysings na die Messias as een van die sentrale temas regdeur die Psalms nie, ook nie eers vermelding van die NT se verklaring daarvan nie.  Dit blyk dus dat daar geen erkenning van die Skrif-moet-Skrif verklaar beginsel is, of dat die eenheid van die Skrif vasgehou word nie ?

Is die vertalers se skrifbeskouing dus: die OT moet op sy eie verstaan word, die NT is weer ‘n ander openbaring met sy eie boodskap wat opnuut geskep word met ‘n ander betekenis, die Messias word teruggelees of ‘bygevoeg’ in die OT in (soos die ‘Bybel in Praktyk’ se verklarings dit verstaan) ?

Die eenheid van die Skrif gaan juis daardeur verlore, kontra Christus se woorde:  “… en die Skrifte nie gebreek kan word nie” (Joh.10:35; Luk.24:25-27).

Die enigste konklusie wat mens ongelukkig by uitkom, is dat die BDV volhard in die nie-Messiaanse teologie en skrifbeskouing wat onderliggend is aan die NAV, Bybel en Praktyk, Cloete omdigting, ens., wat basies leer dat:

– die Messiaanse verstaan van die OT was ‘n latere interpretasie of verwysing na die Messias in die eerste eeu,

– die Messias verklaring was nie deel van die ‘oorspronlike verstaan’ van die OT teksgedeeltes en veral Psalm 2 en 110 nie.

– die OT gelowiges het bloot ‘n ‘algemene messiaas (klein letter) idee en/of verwagting gehad’, en nie ‘n eksplisiete Messiaanse verwagting, dus ‘n spesifieke Persoon  verwag nie (sommiges beweer die Messias verwagting het eers ontstaan in die tyd van die ballingskap en daarna, en was nie van die begin af [Gen.3:15, sien HK v/a 19 daar nie).

Dit is natuurlik alles contra wat die Skrif leer en pragtig saamgevat word in HK v/a 18 en 19, die OT gelowiges het ‘n duidelike eksplisiete Messiaanse verwagting gehad, van ‘n Gesalfde wat sou kom, sien Matt.22:41-46; Luk.1:28-32,38; Joh.1:46; Hand.3:22-26; 26:22,23; 1 Pe.1:10-12; ens.  Dit is wat die ware kerk van Christus nog altyd bely….”

Tot hier ‘n aanhaling uit my vorige skrywe van die proefvertaling van die DV, sien gerus die volledige artikel waar ek wys hierbo.

Die Messiaanse dwaling

Dit lyk my die DV in sy geheel (nie noodwendig al die vertalers en samewerkers daarvan nie), se siening is dus: ja, ons erken ten volle “die toepassing van die Ou Testamentiese tekste in die Nuwe Testament op Jesus as die Christus”, menende dat die NT skrywers het OT tekste wat bloot oor konings van daardie tye gewys het, gaan ‘Messiaaniseer’, gaan herinterpreteer, ‘n ‘nuwe betekenis’ gaan gee.

Dit blyk hul glo nie die wese van die hele OT, en veral nog meer al die ‘eksplisiete’ Messiaanse verwysings, soos bv. Ps. 2 en 110, gaan eerstens, direk en indirek oor die Seun van God, die komende Messias nie, maar dit gaan eerstens oor aardse konings van daardie tye?

Die bybels-gereformeerde sieninge van die Messias in die OT

Nou moet daar enige onduidelikheid uit die weg geruim word. Die bybels-gereformeerde Messiaanse siening van die OT was nog altyd dat ons die openbaringshistoriese, of heilshistoriese, en die kultuurhistoriese konteks erken van die hele Skrif, en juis in ag neem om die Messiaanse tekste reg te verstaan ook in die OT. Ons ontken nie die aardse koninklike troonbestygings, Dawid en Salomo se koningskap en ander konings, wie se optrede die bepaalde historiese konteks is waarin en waardeur God se Gees sy Woord openbaar nie. Inteendeel, dit bevestig juis vir ons die tipologie van die koningskap, die konings as profetiese voorbeelde van dié Koning wat kom, wat heenwys na Christus, omdat die wese reeds teenwoordig was van die begin af, of dit Gen. 1, 3, die Psalms, Profete, of watter gedeelte ookal.

As Jesus verwys na Ps. 110 in Matt. 22:41-46 verwys, dan erken Hy wat daar reeds in Ps. 110 profeties deur die Gees van God geopenbaar is en in woorde neergelê is, ongeveer 1000 jaar voor die Seun van God se vleeslike menswording. Jesus, en die NT skrywers, kry nie ander of nuwe openbaringbetekenis om die OT nou ‘anders’ te verstaan of te verander nie, of dat Jesus nuwe betekenis ‘terug inlees’ in die OT nie. Nee, hul erken bloot deur die Gees van God wat daar nog altyd gestaan het en nou nog meer volkome in sy vervulling geopenbaar word, wat baie gelowiges in wese reeds duisende jare voor Christus reeds deur die geloof raakgesien het en verwag het, wat vir hul dalk nog ‘n skadu en heenwysing was, het volkome in vervulling gegaan, sien wat ons daarvan, volgens die Skrif bely in HK v/a 19.

Jesus is daarom nie net die nageslag (“NT”) nie, maar ook die ‘wortel’, die oorprong en bron (“OT”, en nog verder in die ewigheid, Tit. 1:1-4) van Dawid, sien Op. 22:16. Voor Dawid, voor Abraham, voor die hele OT, was Christus reeds as Seun van God, Joh. 1:103, en Hy openbaar Homself ‘baiekeer en op baie maniere in die (OT deur) die vaders (en) deur die profete…” (Hebr. 1:1).

Om maar net twee Skrifgetuienisse aan te haal, en daar is baie meer:

“44 En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.  45 Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.  46 En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan,  47 en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.” – Lukas 24:44-47

Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors,en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.” (1 Petrus 1:10–12)

Hierdie, en baie ander tekste in die NT, sê nié (soos blyk die DV nota teologie dit het nie), dat die NT skrywers het vir hul tyd Christus vir hul gaan skep terug in die OT nie!

Nee, deur die Gees van God, dieselfde Gees waardeur alles geskape is, waardeur Christus opgewek is, wat ons wedergeboorte bewerk, wat alles in stand hou, is ook die Woord van God gegee, en sê die Gees hier en elders dat Christus wesentlik, inherent, eksplisiet en inplisiet, direk en indirek deur die hele OT te vind is, en ons moet dit erken in ons belydenis, Bybelvertalings en Psalmboek.

Die DV inleiding en voetnotas vergelyk met Gereformeerde Studiebybels
Laastens, vergelyk maar gerus die DV se ‘inleidings’ en notas met ander Studiebybels (bv. Geneva Studiebybel; Reformation Studybible; Reformation Heritage Studybible, ESV Studybible, ens.), u sal dadelik die groot verskille sien, veral wat die Messiaanse kwessie betref, watter inlieidings en verklarende notas volg die Skrif getrou na, bring hoop, troos en sekerheid, en watter is verwarrend en onseker.

Ek haal hier vir u net aan uit die Statevertaling se samevatting, inleiding en sekere voetnotas (kanttekeninge) by die Psalms, spesifiek dan Psalm 2 en 110. Toets dan self wat ‘volgens die Skrif’ is, wat laat u hart brandende oor die Skrif (Luk. 24:32), en wat is daarom die beste om te gebruik as Bybel om ons geloof te bewerk, bevestig en te versterk deur die Gees (beklemtonings bygevoeg):

SAMEVATTING VAN DIE PSALMS
HIERDIE boek word tereg as ‘n spesiale juweel beskou, onder andere as kanonieke boeke van die Ou Testament in die kerk van God. Mens kan die waardigheid en bruikbaarheid daarvan nie genoeg oordink nie, en nog minder met woorde uitspreek of beskryf. Sommige noem dit ‘n plesierhof, apteek en skatkamer van Christene; ander ‘n anatomie of disseksie van gelowige siele, ‘n spieël van God se vele en onbegryplike genade. Op dieselfde manier ‘n volledige opsomming of ‘n kort begrip van die hele Bybel, die Wet en die Evangelie, of van die ware kennis en diens van God.

Die rede daarvoor is, dit bevat aan die eenkant baie heilsame leringe van God se wese en die Heilige Drie-eenheid, van God se eienskappe, ewige raad, heilige Woord en werke, veral van sy genade en wedade aan sy kerk, asook sy geregtigheid en oordele oor alle goddeloses.

Verder, van die Persoon en die saligmakende amp van die MESSIAS, ons Here JESUS ​​CHRISTUS, van sy ewige Godheid, menswording, lyding en sterwe, opstanding, hemelvaart, sy sit aan die regterhand van sy Vader, en die uitbreiding van sy koninkryk onder die heidene (nie-Jode?), deur die prediking van die Heilige Evangelie. 

Die Psalms spreek verder van die sondige staat van die mens, van die aard en eienskappe van die wedergeboorte, ware berou, liefde en vrees vir God; asook die aard van ware geloof, die vertroue en roem in God, van die sekerheid van verlossing, die stryd van die gees en van die vlees; eweneens vanuit die algemene kerk van die Jode en heidene (nie-Jode?), die kerklike tug, van die gemeenskap van die heiliges, vergewing van sondes, die opstanding van die vlees en die ewige lewe.

Aan die ander kant bevat hierdie boek ook allerlei heilige geestelike oefeninge van die godsaligheid, soos: formuliere of voorskrifte van die lof en prys van God, van danksegging vir die ontvangs van weldade, geloftes van dankbaarheid, van baie oplettende en vurige gebede tot God, vir alles wat dien tot eer van Hom en vir die besondere en algemene beswil van gelowiges, veral in alle soorte kruisdra en beproewing. Dit behels baie heilige oordenkings en besondere lieflike vertroostings en versterkings in die geloof, geduld en alle godsvrug; sodat daar geen toestand van enige Christelike persoon gedink of gevind kan word, waarin hy nie uit hierdie boek na die bevrediging van sy gewete en die bevordering van sy verlossing gedien kan word nie. Daarom moet elke Christen van enige staat, hierdie boek met spesiale ywer en aandag bestudeer en oordink, om gewoond te raak aan die werkswyse van die Heilige Gees wat daarin gebruik word. Hy moet nie twyfel dat dit op sy siel (as hy die regte sap en die deurdringende krag daarvan geproe het) ‘n baie soet en voordelige hemelse dou sal wees nie, en hy sal nie hartseer wees om dit die hele tyd in sy hart, mond en hande te dra nie.

Die Heilige Gees in die Ou Testament, en ons Here JESUS ​​CHRISTUS homself en sy apostels, in die Nuwe Testament het dit herhaaldelik beveel, ter wille van plesiere, diens van ons geheue, en die daaglikse gebruik, wat die wyse en goeie God aan Sy kerk oorgelewer het.

Die Hebreërs noem hierdie boek Tehillim, of korter Tillim, dit wil sê lofsange, of lofliedere, omdat ‘n goeie deel van die Psalms daardie inhoud bevat. Die Griekse opsieners het die woord Psalms en Psalter gebruik, wat ook in ons taal bewaar word in die Nuwe Testament, en ook in die Latyn en ander Christennasies, sowel as in ons taal, alhoewel die Griekse woord eintlik verwys na sulke lofsange wat op musiekinstrumente, met die vingers aangeraak of getrek is, op die manier van in die Ou Testament, in openbaarde godsdiens, in die tabernakel en in die tempel, en dit gesing is.

Daar word in die algemeen word daarna as die Psalms van Dawid verwys, omdat Dawid deur ‘n besondere gawe van die Heilige Gees uitgestaan het in die digting van Psalms (soos in 2 Sam. 23: 1, 2 vertel word), die meeste daarvan gemaak het. Die res is gedig deur ander profete en manne van God, soos Moses, Asaf, ens., en deur Esra na die Babiloniese gevangenis (soos mense dit verstaan) in een boek en die volgorde soos dit nou is, saamgevoeg, sonder om die tyd waarin elke psalm gemaak is, te volg.

Die Hebreërs verdeel hierdie boek (wat deur die Here CHRISTUS, Luk. 20:42, die Boek van die Psalms genoem word), in vyf dele of boeke, waarvan die eerste strek tot aan die einde van die 41ste psalm, afgesluit met Amen, ja amen; die tweede tot aan die einde van die 72ste, ook afgesluit met Amen, ja amendie einde van Dawid se gebede; die derde tot die einde van die 89ste, wat ook afgesluit word met Amen, ja amen; die vierde tot die einde van die 106de, waar dit eindig met Amen, Halleluja; die vyfde tot die einde van die 150ste of laaste psalm, eindig met Halleluja.”

Hoofstuk samevattings van Psalm 2 en 110
Psalm 2: “Profesie van die Koninkryk van die Messias, ons Here Jesus Christus; met ‘n ernstige opdrag aan die konings en regeerders van die aarde, dat hulle hul met gehoorsaamheid aan hierdie Koning moet onderwerp.”

Psalm 110: “In hierdie psalm (wat ’n kort samevatting van die hele Evangelie is) spreek Dawid oor die roeping van Jesus Christus tot die geestelike Koninkryk van sy gemeente en sy ewige Priesterdom; tegelyk stel hy die geweldige oorwinning oor Christus se vyande en sy triomf oor hulle.”

Kanttekeninge (voetnotas) by Ps. 2 en 110
Psalm 2: 2, “…teen die HERE en sy 5Gesalfde …”

Kanttekening 5: “Of: Messías, naamlik die Here Christus, dit is, die Gesalfde, van wie Dawid met sy salwing en koninkryk ’n voorbeeld was.”

Psalm 2:6, “12Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg”

Kanttekening 12: “Dit is die woorde van God die Vader, oor sy Seun Jesus Christus.”

Psalm 2:7, “15Ek wil vertel 17van die 16besluit: Die HERE het aan My gesê: bU is my Seun, 18vandag het Ek self U gegenereer.”

Kanttekeninge 15-18:

15 Dit is die woorde van die Seun van God.

16 Die Hebreeuse woordjie el word soms as van geneem. Sien Job 42:7 se kanttekening. Asof ’n mens sê: Aangaande dit of dat; dit is, van hierdie of daardie saak. Sien ook Ps. 59:18 se kanttekening. Anders: Ek sal die besluit, of gebod of volgens die gebod (naamlik wat die Vader aan My gegee het), oorvertel of vertel.

17 Of: insetting, verordening, wat die Vader gemaak het oor My, as sy enige en ewige Seun; soos dadelik in die volgende vertel word; as ’n fondament, waarop God Hom tot die Hoof en Here oor sy kerk gestel het. Sien oor hierdie besluit verse 6, 8, ens. Vgl. Filip. 2:6, 9, ens. Kol. 1:15-18.

18 Dit moet ’n mens verstaan van die ewige, onbegryplike, goddelike geboorte van die Seun van die Vader. Daarvan is die waarheid op verskeie maniere in die Ou en in die besonder in die Nuwe Testament geopenbaar, in die besonder deur die opstanding uit die dood. Rom. 1:4.”

Psalm 2:12, “27Kus die Seun, dat Hy nie toornig word…”

Kanttekening 27: “Dit is, eer Hom as my ewige Seun, en neem Hom as jul Koning aan, glo in Hom, wees Hom onderdanig. Vgl. Gén. 41:40 se kanttekening. 1 Sam. 10:1.”

Psalm 110:11Die HERE het 2tot my Here 3gespreek: 4Sit aan my regterhand, 5totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.”

1 Naamlik God die Vader.

2 Dit is, tot Christus, wat Dawid hier sy Here noem, want Christus is die Seun van Dawid na die vlees, maar Dawid se Here, aangesien Hy ’n waaragtige God is saam met God die Vader en die Heilige Gees. Hy is ’n Here van alle mense, maar insonderheid van sy uitverkorenes. Sien Matt. 22:43, 45. Mark. 12:36. Luk. 20:42. Hand. 2:34. Hebr. 1:13.

3 Naamlik in sy ewige raad, wat Hy vir ons op sy bepaalde tyd geopenbaar en laat verkondig het.

4 Dit is, heers in heerlikheid en majesteit, in die hemel en op aarde, 1 Kor. 15:25. Ef. 1:20, ens. Hebr. 1:3, 13; 8:1; 10:12, 13. Hierdie manier van spreek is geneem na aanleiding van die konings, wat diegene wat hulle wou eer, aan hul regterhand laat sit het. Sien 1 Kon. 2:19. Ps. 45:10.

5 Dit beteken: Totdat Ek u vyande (naamlik die vervolgers van die Kerk, ja, die dood self, 1 Kor. 15:25, 26) aan U onderwerp het. Hieruit kan ’n mens geensins tot die gevolgtrekking kom, dat Christus nie ’n ewige Koninkryk sou besit nie, hoewel die manier van die bediening van die Ryk van Christus, soos dit nou is, op die laatste dag met die eindoordeel sal ophou; want dan sal daar geen vyande meer wees wat die Kerk van Christus skade kan berokken nie, 1 Kor. 15:24, 28. Sien Gén. 28:15 se kanttekening.”

Psalm 110:4, “Die 17HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: 18U is 19priester avir ewig 20volgens die orde van Melgisédek.”

17 Sien oor hierdie psalm, insonderheid oor hierdie vierde vers, Hebreërs 7.

18 Of: Wees priester, of: U sal priester wees.

19 Naamlik wat Homself sal offer, op die altaar van die kruis, tot versoening van almal wat in Hom glo, Hebr. 5:9; 9; 10.

20 Of: na die wyse of gelykheid van Melgisédek, wat nóg begin van dae nóg einde van lewe gehad het. Net so: soos Melgisédek ’n koning en ook ’n priester was, Gén. 14:18, net so ook Jesus Christus, van wie Melgisédek ’n voorbeeld was.”

Psalm 110:5, “21Die Here aan u regterhand 22verbrysel 23konings 24op die dag van sy toorn.”

21 Naamlik die Here Jesus Christus, wat aan u regterhand sit; en so spreek Dawid hier God die Vader aan; of hy spreek die volk van God aan, aan wie beloof word dat Christus die Here hul sal bystaan en verdedig, soos in Ps. 16:8; 109:31.

22 Of: sal verbrysel of deursteek. ’n Profetiese wyse van spreke.

23 Verstaan hier sulke konings en prinse wat hul teen Christus verset en sy Kerk vervolg, soos in Ps. 2:9, 12.

24 Dit is, op die tydstip wat God bestem het dat sy toorn sal uitbreek.”

2 thoughts on “DIE DIREKTE VERTALING (2020-vertaling): Die Messiaanse siening van die DV, spesifiek die Psalms, nog steeds ‘n groot probleem

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: