VEREIS ROMEINE 13 DAT ONS NIE PUBLIEKE EREDIENSTE HOU IN COVID-TYE EN WETGEWING NIE?

OPMERKINGS OP DS. CHRIS BOTHA SE ROMEINE 13 PREEK

VAN 10 JANUARIE 2021 (GK PRETORIA-KANDELAAR)

U moet asb eers na ds. Chris Botha se preek hier luister, om my opmerkings wat daarop volg, deeglik te verstaan, dankie:

Wat leer die Bybel ons van burgerlike gehoorsaamheid asook burgerlike ongehoorsaamheid

Algemene opmerking

Hierdie onderwerp, in die besonder of die kerk van Christus ongeag die owerheid se covid verbod daarop, voort moet gaan met publieke eredienste of nie, is nou met ons sedert Maart 2020, en ek het ‘n vermoede dit kan met ons wees vir jare wat kom, dalk net weer vir ander of ‘groter gevaar’ redes. Kom ons hoop en bid ek is heeltemal verkeerd.

Die paar sake wat ek hier onder vermeld, moet asb. gesien word in die lig van alles wat ek reeds oor die covid onderwerp geskryf en gepreek het. Dit is baie moeisaam om elke keer weer van vooraf te begin, en alles weer te herhaal, so ek vra hulle wat saam opreg worstel oor hierdie vraag om saam biddend te lees en te luister, ja, na beide kante van die saak: vir of teen eredienste in covid tye waar die staat dit verbied. Hier is van my skrywes en preke daaroor die afgelope 10 na 11 maande:

TEMA: COVID-19 preke en artikels

Inleiding

Ek vind my heeltemal met ds. Chris se eerste deel van die preek, waarin hy wys vanuit die Skrif, dat alle owerhede van God kom, goed en sleg, en ons moet ons – ter wille van die gewete voor God – aan hierdie goddelike instelling onderwerp in beginsel, dit is ons vertrekpunt. Ons moet die vrede van ons naaste, ook ‘n heidense owerheid soek ‘sover as dit van julle afhang’ (sien ook Jer. 29:7), vir hulle bid, en ons soek ‘n ‘lewe in vrede met alle mense’ (sien 1 Tim. 2:1-5), inderdaad (Rom. 12:18). 

Sien gerus my artikels en preke in die verlede hieroor, wat dit baie sterk beklemtoon, ons as gelowiges en kerke is nie onbybels en ongelowig revolusionêr nie, in die woorde van Groen van Prinsterer, is ons juis Anti-Revolusionêr, maar dan anti-revolusioner teen onsself, teen beide ‘kerk en staat’ wanneer ons in stryd met God se bevele optree, en juis daarin is ons goeie burgers van enige land:

Teen die Revolusie – die Evangelie van Jesus Christus (artikel/preek oor die gelowige midde revolusionêre tye, in die lig van Romeine 12 en 13)

Ons stem inderdaad verder saam dat nie menslike opinies, tradisies en idees, woede, opstand, ons tye, ens. ons optrede moet bepaal in covid tye nie, maar God se Woord alleen, sy eer alleen, en daarin soek ons ook die heil van ons naaste in hierdie moeilike uitdagende tye. Ons stem verder saam dat daar nie ‘n noodwendige teenstrydigheid is tussen die 4de, 5de en 6de gebooie nie, ook nie in hierdie sake nie, daarom het ons baie wysheid nodig om die sake te ken en te onderskei deur sy Gees en Woord.

En tog verskil opregte gelowiges wêreldwyd oor hierdie saak, wat die kerke en gelowiges se optrede behoort te wees, veral in terme van eredienste voortgaan in covid-tye, of nie. Ook in ons land, ook in ons kerkverband oor hierdie saak, wanneer dit kom by die verklaring en toepassing van sekere gedeeltes uit die Skrif, asook die implikasies van Romeine 13 en die owerheid se covid-wette, wat nou eredienste verbied.  Hier is na my mening ‘n paar verskille met my antwoord daarop, wat miskien nie almal gaan oortuig nie, maar hopelik help om mekaar beter te verstaan:

1. Ons verskil in die verstaan en beoordeling van die owerheid se wetgewing wat eredienste verbied

Ds. Chris meen ‘die verkondiging van evangelie self’ word nie verbied nie, net die samekomste wat God beveel het, waar die evangelie in die besonder deur God beveel is om te verkondig?   

Vir my klink dit na ‘n inherente weerspreking, want as die besonder Godsbepaalde, God verordineerde samekoms waar die evangelie in die besonder verkondig moet word in die week, verbied word, dan is dit ‘n ‘direkte’ verbod op die evangelie verkondiging, wat o.a. daar en op daardie dag spesifiek moet plaasvind, saam met ander kenmerke van ware kerk wees (sien NGB art. 27-29), of hoe? Besef en sien ons nog die noodsaak van die Here se aanbidding van rusdag tot rusdag, in samekomste, of is dit bloot net nog ‘n opsie … as dit ‘moontlik’ is?

Natuurlik, ons kan en moet orals, tydig en ontydig die evangelie verkondig, ons is sout en lig orals en elke dag (Matt. 5:13-16; 1 Kor. 10:31; Rom. 11:36) met alle maniere en middele (ook tegnologie), maar die mees belangrike en duidelikste plek waar die evangelie weekliks gehoor moet word, is tog, van rusdag tot rusdag in die publieke samekomste, of hoe?

As die Here beveel ons moet in die besonder dit op sy rusdag doen met die publieke samekomste, dan is die owerheid se verbod op die erediens as ‘godsdienstige sosiale byeenkoms’, al is dit vir hoe ‘n ‘goeie saak’, al ‘bedoel hul dit hoe goed’, ‘al wil hul hoeveel lewens red’, ‘al is dit hoe inkonsekwent’ ens., ens, is en bly dit tog nog steeds ‘n baie duidelike verbod op die evangelie verkondiging (en alles wat daarmee saamgaan) soos en waar die Here dit beveel het, of hoe?

Soos ek al telkemale op gewys het (sien my vorige preke en artikels hier), dit is nie die owerheid se onkunde, onbeholpenheid, onkonsekwentheid, ens, wat dit mag verskoon dat ons nie God se duidelike bevel nie meer kan/moet nakom nie (so terloops: die feit dat die owerheid ‘met goeie bedoelinge’ aborsie-moord ‘vroueregte en mediese versorging’ noem, en nie vir wat dit werklik is, ‘koelbloedige moord’ nie, beteken nie aborsie-moord is nie ‘moord’ nie, of hoe, hulle ‘goeie bedoelinge’ vir vrouesorg verander nie die ware werklikheid nie?), maar God se ewige Woord, die Here wat beveel wat daar mag wees en nie mag wees nie, beide in verbod en gebod, wat die lig op ons pad moet wees, ook en veral in pandemie tye. 

So bely ons dit ook volgens HK Sondag 38, in navolging van die Skrif:

“Vraag 103: Wat gebied God in die vierde gebod?

Antwoord: God wil ten eerste dat die Woordbediening en die skole in stand gehou word. Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom om die Woord van God te hoor, die sakramente te gebruik, die Here openlik aan te roep en die Christelike liefdegawes te gee. Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe.

Ons moet ‘veral’ saamkom op die rusdag, ‘openlik’ om die Here aan te roep in die publieke eredienste, op grond van God se bevel, wat Hy deur die vierde gebod ‘gebied’.  En die staat het nié die mandaat om dit te verbied wat God ‘gebied’ nie, hul mag nié die evangelieverkondiging op enige dag, en veral nie op die Here se rusdag in en deur die publieke eredienste verbied nie, dan tree hul in stryd met God se bevel, en wat ‘goeie dade’ en ‘wat goed is’ volgens Romeine 13:3,4. Gee Rom. 13 owerhede ‘n blanko tjek om die swaard te gebruik teen hulle wat ‘goed doen’, m.a.w. die Here aanbid en dien, dat hul dit met die swaard mag afdwing om nie die Here te aanbid nie? (Weereens, die heidene mag so dink, maar nie gelowiges en die kerk nie, of hoe?)

Ons kom rusdae saam om (onder andere): die Woord te hoor, waarvan die wesentlike inhoud is: die wet (beide tafels van die wet) en evangelie van ons Here, soos Hy beveel het. So, as die owerheid die plek, samekoms en geleentheid waarop ons ‘veral’ die Evangelie moet verkondig, verbied, dan verbied hy ‘n Goddelik wesentlike bepaalde aspek van evangelie verkondiging, ons kan dit nie ontken nie, en daarom:

Geld Hand. 4:19 en Hand. 5:29 duidelik in hierdie geval, dan moet die kerk van Christus, dan moet kerkrade, dan moet leraars verootmoedigend en nederig – natuurlik nie in ‘n arrogante hoogmoedige gees nie, maar dienend – bely teenoor die owerhede van die dag (wat baie kerkrade en gelowiges al die afgelope maande gedoen het met briewe aan die owerhede en ons deputate):

Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense, so help my God.


2. ‘n Tweede verskil, is dat dit blyk dat ds. Chris, en baie ander verklaarders van Romeine dit eensydig lees en verstaan, en nie die duidelike bybelse onderskeid maak – in die konteks van die hele Skrif – tussen die ‘onderwerping’ aan gesag/owerhede/persone/instansies ens. wat Hy daargestel het aan die eenkant, en die ‘gehoorsaamheid’ aan daardie persone en gesagsinstellings aan die anderkant nie.  Douglas Moo in sy Romeine kommentaar verduidelik dit as volg (beklemtoning bygevoeg – slc):

“In demanding “submission” to the state, Paul is not necessarily demanding obedience to every mandate of the state. Key to this restriction is the recognition that the word “submit” (hypotasso) in Paul is not a simple equivalent to “obey” (hypakouo). To be sure, they overlap, and in some contexts, perhaps, they cannot be distinguished (cf. 1 Peter 3: 1, 6). Moreover, submission is usually expressed through obedience. Nevertheless, submission is broader and more basic than obedience. To submit is to recognize one’s subordinate place in a hierarchy established by God.

It is to acknowledge that certain institutions or people have been placed over us and have the right to our respect and deference. In addition to rulers (see also Titus 3: 1), Paul also calls on believers to submit to their spiritual leaders (1 Cor. 16: 16) and even to one another (Eph. 5: 21; i.e., in the ways Paul outlines in 5: 22– 6: 9). Christian slaves are to submit to their masters (Titus 2: 9), Christian prophets to other prophets (1 Cor. 14: 32), and Christian wives to their husbands (1 Cor. 14: 35 [?]; Eph. 5: 24; Col. 3: 18; Titus 2: 5).

In each case, one person is to recognize the rightful leadership role that another human being has in his or her life. But implicit always in the idea of submission is the need to recognize that God is at the pinnacle of any hierarchy. While not always explicit, Paul assumes that one’s ultimate submission must be to God and that no human being can ever stand as the ultimate authority for a believer. The parallel between a Christian’s submitting to government and a wife’s submitting to her husband is particularly helpful. The wife is to recognize that God has ordained her husband to be her “head,” that is, her leader and guide. Thus, she must follow his leadership. But Paul would never think that a wife must always do whatever her husband demanded.

I once counseled a Christian woman who took her need to submit to her husband so seriously that she felt obliged to obey him by engaging in sex with him and another woman at the same time. I urged her to recognize that her ultimate allegiance was to God, the authority standing over her husband. She needed to follow the higher authority in this case and disobey her husband. But this did not mean that she was simply to dismiss her husband or to renounce his general authority over her. In a similar way, it seems to me, we can also, as believers, continue to submit to governing authorities even as, in certain specific instances, we find that we cannot obey them. When they order us to do something incompatible with our allegiance to God, our higher authority, we must, as Peter and John put it, “obey God rather than men” (Acts 5: 29). (Moo, Douglas J.; Romans (The NIV Application Commentary Book 6) (pp. 429-430). Zondervan.)

So, gelowiges erken alle gesag wat oor ons aangestel is, of dit ouers, kerkrade of die burgerlike owerhede is, ons onderwerp ons daaraan, dus erken daardie gesag is van God, ons mag nie anders nie. Maar ons gehoorsaamheid aan daardie goddelike instellings en gesag is nie onvoorwaardelik of absoluut nie, anders het man of vrou, ouer of ds/predikant/kerkraad ons afgod geword in die plek van die enigste ware God, in stryd met die eerste gebod en die res van die Skrif.

En ek glo ds. Chris en baie ander gelowiges wat saamstem dat daar ‘n verbod is op eredienste, sal in beginsel hiermee saamstem, die verskil is dan oor die vraag: het die owerhede, ja, slegte of goeie owerhede, die mandaat om dit wat God beveel het, te verbied? Ek glo van harte, die hele Skrif leer, néé.

In die woordeskat van ‘covid-tye’, die Here se eredienste en alles wat daarmee saamgaan, wat ons nie net na gees nie, maar ook na liggaam versterk, is ‘noodsaaklike dienste’ omdat God dit so bepaal het, wat soos al die ander ‘noodsaaklike dienste’, en nog meer moet voortgaan in alle tye, dit moet die geloofs- en kerlike standpunt wees van die kerk van Christus, ongeag die wêreld of die heidene se ‘interpretasie’ van die kerk as bloot maar net nog ‘n ‘sosiale organisasie of vergadering’.

En as die staat dit ontken en teenwerk, dan mag die kerk van Christus nie daarmee saamwerk nie, ons moet juis teenoor die hele wêreld getuig, dat God self, en die aanbidding van God wesentlik is, gelowiges het deur die eeue met hul lewens geboet daarvoor, en dat, saam met al die mediese en liggaamlike versorging, die geestelike versorging netso, en nog meer belangrik is tot heil van die hele totale mens, sien 1 Tim. 4:8.

3. Die beroep op Lev. 13 om geen eredienste te regverdig vir buitengewone omstandighede, gaan nie op nie.

Die melaatsheidswette en optrede van die melaatse, priester, die laer, die stad, ens., bevestig juis dat dit die is wat siek is, die wat melaats is, wat afgesonder moet word, nie hulle wat gesond is nie. Die aanbidding van God, die laer aktiwiteite moes voortgaan (v. 46; 14:8ev). En as ons meen dat omdat ons covid nie kan sien nie, en daarom moet almal verbied word om saam eredienste te hou, wel, dan moet ons vir altyd eredienste verbied, want ons ‘sien’ nooit wie is altyd siek of nie siek nie, in die verlede, hede of toekoms nie.  Nie gesondheidswette, die Wêreld ‘gesondheids’ organisasie of statistieke bepaal wesentlik eredienste of nie, maar God se Woord, sy bevele, sy wil, en dit is kerkrade wat daaroor moet besluit in die lig van die Woord, nie die staat nie.

4. Daniel 6 en die verbod op eredienste

Ja, inderdaad moet ons sover moontlik op ‘n ordelike en eerbiedige wyse getuig teenoor hulle wat ‘buite’ die kerk is, ook die ongelowige owerheid as hulle ons dwing om hulle ongehoorsaam te wees, wanneer eredienste en die aanbidding van God verbied word, soos Daniël en Petrus en Johannes gedoen het. Maar let juis op Daniël se optrede, toe hy hoor van die ‘verbod’ om alleen die enige ware God aan te roep, en die ‘gebod’ om ‘n mens te aanbid (v. 8):

En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ’n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.” (Dan. 6:11)

i. Daniël tree onmiddelik op, hy gaan aanbid die Here dadelik, soek nie toestemming of goedkeuring om dit te doen nie.

ii. Hy doen dit nie in die geheim nie, maar in die openbaar.

iii. Hy prys die Here, sing die Psalms.

Ja, natuurlik, hierdie is nie ‘n publieke erediens in Dan. 6 nie, maar die beginsels van aanbidding, ‘n eerste tafel aspek, geld en is van toepassing in ons huidige besinning, want Daniël se lewe is nou in groot gevaar, soos ons lewe in gevaar is met die covid pandemie, dus ‘n sesde gebod soos nou (saam met die 4de en 5de gebod kwessies):

Dit lyk vir my die nederige Daniël is besig om hier in standvastigheid selfs ‘uitdagend’ te doen wat ds. Chris veroordeel by ons wat glo die publieke eredienste moet bloot voortgaan omdat die Here dit beveel het, dat ons “soos (ons) tevore gedoen het” ons aanhou sal doen deur die Here se genade, wat Daniël hier openlik in die ‘openbaar’ doen? Dus ons en Daniël tree op teen die owerheid van ons dag omdat hulle iets beveel wat God nie beveel nie, die vierde gebod is mos ook belangrik soos die eerste of tweede of derde gebod is, of hoe?

Ja, mens kan amper sê Daniël tree ‘uitdagend en te revolusionêr’ op, hoekom het hy nie in die geheim gaan aanbid nie, hoekom hou hy nie die 6de gebod deur in die geheim te aanbid nie, of ten minste nie ‘tydelik’ te aanbid totdat die 6de gebod gevaar verby is nie? Nee, hy stel sy eie lewe in gevaar (oortreding van die 6de gebod volgens sommige?), wat dan mos ook ‘sonde’ is, soos ons wat erediensbywoning Sondae doen en gaan aanhou doen, in sommige se oë ‘sonde’ is, in covid 6de gebod-gevaar tye en in stryd met die owerheid se bevel?

Teenoor die owerheid van sy dag het Daniel geglo die aanbidding van God, in die publiek vir hom persoonlik moes voortgaan, midde Babilon, hy is God meer gehoorsaam as mense … soos baie van die kerk dit gaan wees komende Sondag en daarna, DV, om Hom nederig aan te hou aanbid in die publieke eredienste, van rusdag tot rusdag soos ons nog altyd gedoen het. … soos Daniël (6:11).

Gelowiges wat glo ons moet aanhou eredienste hou omdat God dit beveel het, en dat die owerheid buite sy mandaat optree om die evangelieverkondiging op die rusdae in samekomste verbied, bely van harte die inhoud van ons belydenis in navolging van die Skrif, soos verwoord in antwoord 94, aangaande die eerste gebod:

“Vraag: Wat gebied God in die eerste gebod?

Antwoord: …. Ek moet die enige ware God reg leer ken, Hom alleen vertrou, my slegs aan Hom met alle nederigheid en geduld onderwerp en van Hom alleen alle goeie dinge verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê, vrees en eer. Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel.

Ons glo dit is sy wil dat sy eredienste juis midde pandemie tye ordelik en rustig moet voortgaan.

Broeders wat meen die Skrif leer ons moet die owerhede in hierdie verbod op eredienste gehoorsaam, kan maar met ons verskil, maar weet dit, ons verskil met julle ook op grond van die Skrif alleen, dit is vir ons ‘n ook ‘n saak van beide tafels van die wet, van gewete voor ons heilige en liefdevolle God. Ons glo van harte dat deel van wat goed is midde hierdie swaar en uitdagende en hartseer tye, is die strewe om al drie gebooie (en natuurlik al die ander gebooie) in dankbaarheid na te kom, ja 4de, 5de en 6de gebod, mag die Here ons genadig wees in hierdie strewe, tot sy eer en die heil van ons naaste.

5. Die 6de gebod en die liefde vir ons naaste

En natuurlik ja, daar kan billike maatreëls wees wat ons tydens eredienste kan toepas as die ouderlinge dit goed ag in die lig van die Woord en mediese inligting wat oorweeg kan word, maar die saak bly vasstaan: as baie ander sosiale aktiwiteite en sogenaamde ‘essensiële dienste’ toegelaat word onder beperkte maatreëls, hoeveel te meer die mees ‘essensiële diens’, die Here se publieke eredienste, wat goed is vir ons ewigheidsbelange, maar ook goed is vir ons gemoedstemming en gesondheid in hierdie lewe, want die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van God gaan (Matt. 4:4)

Let wel: die saak vir voortgaande publieke eredienste staan en val nie by hierdie ‘konsekwentheids’ argument nie, dit staan of val by: wie bepaal of daar eredienste mag wees, in beide reën én droogte, gesondheid én siekte, vrede én oorlog, ens. (HK Sondag 9 en 10): by God of die mens?

Laastens, ek plaas hier weer twee artikels wat ek reeds in Mei 2020 geskryf het (en die ander een einde 2020), ek dink die sake daarin geld nog steeds, dalk nou nog meer (ek het die artikel so bietjie aangepas waar nodig):

DIE HERE BRING DIE VIRUS TYE OOR SY KERK OM TE SIEN WIE VREES EN VERTROU ONS WERKLIK

En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (Deut. 8:3)

Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” (Matt. 4:4)

Die burgerlike owerheid het besluit vanaf einde Des 2020 dat die land terug is op vlak 3. Daar het ongelukkig absoluut niks verander vir die kerke nie.  Die president se toespraak gisteraand kan in een sin saamgevat word:

Restaurante, gyms, ontspanningsplekke, winkels, ens. is ‘n essensiële dienste …. maar die Here se kerk, die eredienste Sondae, die bediening van die evangelie op rusdae is nie ‘essensiële dienste’ nie, daar is nie plek vir die kerk van die Here in krisistye nie, nie eers onder dieselfde ‘streng voorwaardes’ wat winkels, ondernemings, restaurante, ens., geniet nie.

‘n Mens kan dit egter van ‘n humanistiese onchristelike owerheid verwag, dat die kerk, die evangelie, die Here vir hul niks of maar min waarde en betekenis het.

MAAR, wat van die kerk van die Here?

Dit wat nou plaasvind, nl. dat die Here se kerke nie mag saamkom nie, is net die simptoom van ‘n baie groter en wesentliker probleem van die kerk (wat al dekades kom, myns insiens, vandat gereformeerdes de facto die koninkryksbeginsels van onder andere NGB artikel 36 verwerp het, HK Sondag 32-44 verwerp het), en daardie groter krisisprobleem is dat ons kerke nie net die vierde gebod versaak het nie (die eerste tafel van die wet), maar ook en veral die eerste drie gebooie, sien veral HK v/a 95:

Vraag 95: Wat is afgodery? Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.

Die owerheid is slegs een van God se  gesagsliggame wat die Here daargestel het (Rom. 13:1,2 sien die woord ‘magte’ in meervoud), langs die gesin, kerk, ens. Die owerheid het (in die verlede al) en is veral nou besig om alle gesag en mag oor te neem, ook die kerk s’n, om god op aarde te probeer speel = ‘n messiaanse staat of messiaanse staatisme. Hul beperk hul nie tot hul terrein van ‘wet en orde’ nie, wat hul in elkgeval glad nie goed uitvoer nie, as mens kyk na die misdaad en moord statistiek van ons land.  Dit is nie aan die owerheid gegee nie, maar aan die kerk (die ouderlinge) op hul terrein, die kerklike terrein, wat moet besluit of daar eredienste is of nie, en dit ook en veral in enige tyd van krisis, plaag of moeilike omstandighede.

‘Kerk en staat’ moet langs mekaar saam regeer onder God, nie die een oor die ander, soos nou nie. Wat tans aangaan, is humanistiese marxistiese Staatisme (sien hier die tien kenmerke van staatisme), waar die staat probeer doen wat ander gesagsinstellings van die Here en lewensterreine (veronderstel is om) te doen en oor besluite neem. Die huidige staat heers verkeerdelik oor die kerk van die Here en die hele lewe van ons land, asof hul god op aarde is waaraan alle mense afhanklik moet word, ook nou met die ekonomiese krisis wat ons in die gesig staar.  Slegs die Here het absolute gesag en mag oor alle terreine van die lewe, nie die kerk of die staat of enige ander gesagsinstelling nie.  Alle regeringsvlakke, persoonlik, gesin, gemeente of burgerlike regering is beperk.  Dit is tragies as ‘n land, volk en veral die kerk, nie eers besef watter groot slawe ons van die staatisme geword het nie (onwillig baiemaal, maar baiemaal ook vrywillig), en ons mense onderwerp aan net nog meer en meer slawerny van die staat, en dit alles sogenaamd in die ‘naam van die HERE en die Woord’, deur ‘n eensydige en/of verdraaide verklaring van Romeine 13 en ander Skrifgedeeltes.

Die corona-virus en die Here se voorsienigheid

Ek glo in die Here se voorsienigheid, gebruik Hy ook hierdie virus om te wys wie vrees en vertrou sy sigbare kerk werklik in ons tye, in die woorde van Deut. 13:3, beproef die Here ons ‘of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.’ Die Here wil sien of sy kerke, hulle wat sy Naam bely, werklik lewe van die Woord wat uit sy mond gaan, nie net die (eensydige) aanhang van die 5de en 6de gebod nie, nie net die tweede tafel nie, maar ook die eerste, tweede, derde en veral vierde gebod in hierdie tye, dus ook die eerste tafel, soos ons Here en sy Seun ons leer:

En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (Dt 8:3)

Op hierdie stadium lyk dit asof die kerk van die Here bloot net van brood en vrees lewe, net tweede tafel sake is ons oor bekommerd, Spr. 29:25, wat die staat sê, doen en gee, is absolute wet wat in detail uitgevoer word …. maar nie God se wet van aanbidding op sy rusdag nie? Die Koning van die Kerk, Jesus roep ons egter op om te , ‘lewe (van) elke woord (dus ook die eerste tafel, dus ook die eerste, tweede, derde en veral vierde gebod in ons tye) wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4).

Daar is al meer getuienis van kerke en ander instansies aan die owerheid wat besig is om uit te gaan, om die owerheid op te roep om die Here se kerk te laat gaan om Hom te aanbid soos Hy beveel (Ex.5:1-8; Hebr. 10:25), en dit is goed so, doen so voort, tydig en ontydig.  Maar onthou, dit spreek net die saak korttermyn aan … totdat ….. die volgende ‘ramp, plaag, pandemie, gevaar’ of wat ookal ons tref … en dan maak die owerheid weer die kerke toe vir maande, dalk jare …. en so bly ons slawe van die staat en ‘n valse heer, in stryd met die vryheid wat ons ontvang het in Christus vir elke terrein van lewe en denke.

Daarom moet die belangriker langtermyn onderwerp ook baie aandag geniet in ons tye: dat veral gelowiges en kerke sal besef en dit aan mekaar en die owerheid moet oordra: dit is nie aan die burgerlike owerheid gegee deur die Here om te besluit wanneer kerke ‘mag oop en toegemaak’ moet word in enige tye nie, die kerk besluit self daaroor in die lig van die Skrif, in die lig van hul Koning se stem (Joh. 10:27; Hand. 17:11) deur die gesag wat die Here daargestel het vir sy kerk, die ouderlinge (1 Tim. 3; Tit 1; Hebr. 13:17).

Mag die Here ons krag en wysheid gee, verootmoediging voor Hom vir uitkoms, en om te staan by ons ongetwyfelde Christelike geloof.

Beide kerk en staat moet dus opnuut opgeroep word tot bekering tot die enigste Koning, Jesus Christus, wat Koning is van beide die kerk en die wêreld:

Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil” (Ps 2:10–12)

Ons bely juis nou, in hierdie tye opnuut, ons opgestane Koning en Heer, Hy is nié meer in die krip of aan die kruis nie:

“…wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Ef 1:20–23)

ROMEINE 13: MOET DAAR EEN COVID WET WEES VIR ALLE KERKE EN GROEPE?

Die argument word baiemaal gevoer:

“Ons moet verstaan dat nie al die kerke en kerkgroepe gaan ordelik volgens ‘redelike’ covid maatreëls Sondag eredienste hou nie, maar in massas wanordelik ‘in duisende bymekaar kom’, en DAAROM is dit nodig dat alle kerke verbied word om eredienste te hou, ook hulle wat in groepe van bv. 50 of 100, wil bymekaar kom, al is dit hoe ordelik…’

Nou ongeag die beginsel vraag of die erediens se getal beperk mag word, al dan nie deur die staat, of die staat enigsins kan voorskryf watter reëls om na te kom of nie …. is hierdie spesifieke rede en/of goedkeuring van die absolute verbod op publieke eredienste ‘ogv dat baie ANDER onordelik en onverantwoordelik optree’ -oneag hoe goed bedoel ookal- onoortuigend en onbybels, want:

die burgerlike owerheid  word opgeroep om ‘n onderskeid te maak tussen ‘goeie en slegte dade’, in hierdie geval, ordelike en onordelike optredes, tussen kerke wat bv 100 in getal ordelik bymekaar kom, en hulle wat in 1000e ‘wanordelik’ bymekaar kom:

“… WANT die owerhede is geen voorwerp van vrees by die GOEIE dade nie, maar by die SLEGTE.” (Rom. 13:3)

Hoekom moet die ‘goeie ordelike’ kerke (of dit nou min of baie is) vervolg/verbied word, omdat daar hulle is wat wanordelik en ‘sleg’ optree ‘in massas teen alle regulasies’?

So, volgens almal wat hul beroep op Rom. 13 om te leer dat dit leer dat ons ‘onvoorwaardelik’ nie mag eredienste hou … as die Staat so sê nie…  en ‘omdat’ baie ander kerke nie die getalle beperking respekteer nie’…. julle eie argument daarvoor is dan direk in stryd met Rom. 13, wat duidelik onderskei tussen ‘goeie en slegte’ optredes al dan nie, of hoe?

Die burgerlike owerheid moet daarom die wanordelike oortreders straf en die ordelikes beskerm, sodat die ordelikes kan voortgaan in die eredienste, laasgenoemde moet nie dieselfde behandel word as ‘die een wat kwaad’ doen nie, Rom. 13:4.

Soos ek reeds baiemaal geskryf het, daar moet baie bekering en reformasie plaasvind – veral binne die kerk – oor die verhouding ‘kerk en staat’, beide staatisme en rewolusionisme moet verwerp word, sien gerus my blog (proregno.com) daaroor onder ‘covid-19’, maar ek skrywe hierdie hierbo om te wys dat die ‘kom-ons-verbied-alles-omdat-sommige-misbruik-maak-daarvan’ argument aangaande die ‘verbod op alle eredienste’, nie bybels verantwoordbaar is nie.

Ons verbied nie alle drank, omdat sommige (baie?) drank misbruik nie, of hoe? Ek persoonlik dink baie euwels sou vermy kan word om alle drank te verbied, punt…. maar ek weet drank is nie self die euwel wat verbied moet word nie, maar die misbruik daarvan is die groot probleem en moet op verskeie ander maniere aangespreek word. Dronkaards is die probleem, en moet aangespreek word, nie wyn self nie, of mense wat matig drink nie: “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” (Ef. 5:18)

Moet daardie selfde bybelse onderskeid nie ook getref word in terme van kerklike groepe en eredienste wat gehou word nie, soos Romeine 13 leer? As winkels, eetplekke, oefenplekke, filmplekke, ens., met sekere beperkings kan voortgaan, hoeveel te meer die noodsaaklike eredienste wat God beveel het?

3 thoughts on “VEREIS ROMEINE 13 DAT ONS NIE PUBLIEKE EREDIENSTE HOU IN COVID-TYE EN WETGEWING NIE?

Add yours

  1. Geagte broer,

    Kan u asb. vir my die skakel stuur na ds. Chris Botha se preek op Rom.13? Ek kan dit nie op internet kry nie. Sal baie waardeer.

    Ds. Gideon Aggenbag. 082 412 4122.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑