PREKE: Drie preke oor die Genadeverbond vanuit Hebreërs 10:14-39

Drie preke oor die Genadeverbond vanuit Hebreërs 10:14-39

Lees vir al drie preke: Hebreërs 10:24-39

Teksvers: “Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;” (Heb 10:23)”

Oorsig

In hierdie drie preke gee ek onder andere aan die volgende sake aandag vanuit Hebreërs 10 en die res van die Skrif:

Preek 1: Hebr. 10:23b (‘…want Hy wat dit beloof het, is getrou‘)

– wat is die wese van die genadeverbond?

– wat is die verhouding ou(er)/OT en nu(wer) verbond/NT?

– die verskillende bedieninge/administrasies van die genadeverbond

– die groot troos van die Belofte van die genadeverbond vir ons en ons kinders

Preek 2: Hebr. 10:23a (‘Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou’...)

– wat is die plig, eis en verantwoordelikheid in die genadeverbond?

– die sekerheid van ons geloof

– die plek en roeping van erediensbywoning in ons dankbaarheidslewe

– die onderlinge vermaning en tug in die verbondsgemeenskap

Preek 3: Hebr. 10:26-39 (‘Want as ons opsetlik sondig … maar die regverdige sal uit die geloof lewe…’)

– die plek van waarskuwinge, vermaning en oproep in die lewe van die genadeverbond

– wys v. 26-31 op ware kinders van die Here wat verlore kan gaan?

– die sigbare en onsigbare aspek van die kerk

– kan hulle wat gewas is in Jesus se bloed verlore gaan?

– wie moet almal leer van v. 26-31 se dreigende waarskuwinge?

– valse profete en afvalliges in die verbondsgemeenskap

– die tweesnydende swaard bediening van die evangelie en die sakramente in die kerk

– die waarskuwinge wat ons ernstig moet opneem en mekaar in moet vermaan (v. 19-25).

________________________________________________________

PREEK 1: Preek 1: Hebr. 10:23b (‘…want Hy wat dit beloof het, is getrou‘)

Preekopname (GK Carletonville, 2021-04-26, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek):

Preek: Hebr. 10:23b

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Wat is die wesentlike bron, grond, oorsaak van ons troos en hoop vir hierdie lewe, maar in die besonder vir die ewigheid?

Die antwoord is oud geliefdes, dit kom al vanaf Genesis 3 na die sondeval,

en dit is in die woorde van ons teks:

…. WANT Hy wat dit (ons tydelike en ewige saligheid) beloof het, is getrou (x2)

Om dit anders te stel: Hy wat ons redding beloof het, sal dit getrou uitvoer.

Nie of nie, nie dalk nie, nie of jy jou deel doen nie, ens.

Nee, Hy wat beloof, sal dit doen.

En die feit dat Hy wat getrou is dit beloof en dit sal doen,

moet ons in dankbaarheid, v. 23, die ‘belydenis van die hoop onwankelbaar (laat) vashou’, elke dag van ons lewens, tot in ewigheid.’

So, ons tema is:

Ons enigste troos en hoop is dat die Here wat getrou is,

sy belofte van redding sal hou, sodat ons in dankbaarheid kan lewe,

in alle tye en omstandighede …. ook vandag.

Ons wil kortliks kyk 1) wat die wese van die Here se belofte van redding is,

2) ons wil sien hoe die Here getrou was in die verlede om sy belofte getrou uit te voer en sal aanhou uitvoer, en dan volgende week, laastens, wat beteken dit dan vir ons, en wat moet ons doen, as die Here nog altyd en deur die eeue en nou nog so getrou is, en doen wat Hy beloof het. (23b: leerstelling; 23a: toepassing)

1 WAT IS DIE BELOFTE VAN REDDING EN SORG IN WESE?

Ons het dit gelees in Hebr. 8:10,

Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.” (Heb 8:10)

Hierdie is die Belofte geliefdes,

die Belofte van die genadeverbond in wese:

Ek is en sal vir julle ’n God wees, en julle sal my kinders, my volk wees, vir ewig en altyd.

En Hy sal en het alles gedoen, om sy volk te red deur die geskiedenis,

van hulle sonde in en deur die Belofte, hoofletter… van sy genadeverbond,

Jesus Christus, dit wat ons gehoor het daar in Hebr. 10:16,17,

Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe, en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.” (Heb 10:16–17)

Die ‘ou’ of ‘ouer’ verbond of verbondbedeling van die OT, het dit

– Ek is en sal julle God wees, en julle is en sal my kinder wees –

op grond van die redding in Jesus Christus –

in wese reeds verkondig, op verskillende maniere en wyses, deur beloftes, seremonies, profesiee, maar dit is vervul toe Jesus aarde toegekom het, en alles kom doen en vervul het wat die inhoud van die belofte is.

So, om saam te vat: v. 23, dit wat God die Vader beloof het, wat Hy sal doen, is sy genadeverbond met al sy kinders in Jesus Christus, deur die krag van die Heilige Gees: Ek is julle God, julle my kinders, in Jesus deur die Gees.

Kom ons kyk dan na die tweede punt, hoe die Here sy belofte gemaak en uitgevoer het in die verlede

2  DIE HERE VOER SY BELOFTE VAN REDDING UIT IN JESUS CHRISTUS

Waar hoor ons die eerste keer die Here se belofte van redding?

Reg na die sondeval, hoor ons dit:

En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.” (Gen 3:15)

Hier hoor ons die eerste profesie van die komende Belofte,

Ons noem dit die Moederbelofte van die genadeverbond

wat sou volg in Gen. 15 en 17, die Belofte van die Evangelie vir die Here se kinders.

Uit die vrou se saad, deur al die duisende jare wat sou volg,

sal die Messias, die Christus gebore word, soos ons hoor in Gal.4:

Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet,” (Ga 4:4)

WANT, Hy wat dit beloof het, is getrou … Hy sal dit doen.

En dan, roep die Here vir Abraham,

en die Here beloof van hierdie komende belofte:

En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Ge 12:3)

Die Here beloof vir Abraham dat in sy saad, in sy nageslag, sal al die volke van die aarde geseën word.

En Hy doen dit, Paulus beskryf dit in Gal. 3;16, 29,

Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.” (Ga 3:16)

En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” (Ga 3:29)

Ja, in Christus, DIE saad van Gen. 3:15 word al sy kinders in en onder die volke gered, is ons erfgename van die beloftes en weldade van die genadeverbond:

Ek is julle God, julle is my kinders, die vergifnis van sonde, die ewige lewe.

In Gen. 17, kom die Here dan, en openbaar dit verder,

en gee ook ‘n teken van sy belofte en sy genadeverbond met sy kinders,

Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees

En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ’n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ’n God wees. Verder het God aan Abraham gesê: Maar jý moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag. Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word—” (Ge 17:7–10)

Hier voeg die Here die teken van die verbond by, in die OT bedeling van die genadeverbond, die besnydenis.

Die wese vind ons hier: Ek is julle God, julle my kinders.

Tydelik het dit behels ‘n nageslag en die land Kanaän,

maar sien ook, dit is ‘ewig’ vir altyd, van geslag tot geslag

dat die Here getrou is, en sy Belofte uitvoer deur die geslagte.

Die res van die OT herhaal dan ook hierdie belofte van die genadeverbond,

As die Here sy volk kom red wat in slawerny, in die sonde van Egipte is,

en later die verbond by Sinai hernu, wat ons die Mosaise of Sinai verbond noem,

dan nader Hy hul as die God van sy genadeverbond met Abraham,

Isak en Jakob, sien bv Ex. 2:24 en

En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken.” (Ex 2:23–25)

En as die Here sy wet gegee, die Tien gebooie, maar ook die seremoniële wette (wat tydelik was), en die burgerlike wette (wat in sy vorm tydelik was, maar die beginsels daarvan duur voort, sien NGB art. 25), dan begin Hy met dat

Hy wat hul redding uit Egipte beloof het, is getrou, Hebr. 10:23, en sal en het dit gedoen:

Ek is die HERE jou God, wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het” Ex. 20:1

Hy het sy kinders uit Egipte gered, want Hy is hul God en hulle sy kinders, en ja,

ons weet deur die res van die Skrif,  nie elkeen kop vir kop nie,

maar wel as volk in sy geheel, in sy uitverkorenes, in sy oorblyfsel,

word die Here se volk gered, tydelik maar bo alles geestelik in ewigheid,

sien Rom. 9:6-8 en 11:1-5.

Later, word met Dawid hierdie belofte van redding, die genadeverbond ook

hernu, en word daar geprofeteer oor Dawid se seun, wat sou kom,

die Verlosser, 2 Sam. 7,

As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. Hý sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees… (2 Sa 7:12–14)

Die Matteus evangelie begin met die geslagregister van Jesus, ‘die seun van Abraham, die seun van Dawid’

Hier sien ons ook die deurlopende lyn van die Here wat beloof, en dit sal doen, en Hy het.

En dan, word van die vervulling van die Ou Verbond met al sy bedelings, Abraham, Sinai, Dawid, ens. geprofeteer deur Jeremia, in Jer. 31:

Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” (Je 31:31–34)

Geliefdes, soos die Hebreër boek dit ook verduidelik,

met verwysing na hierdie gedeelte en ander gedeeltes uit die OT.

Die ‘nuwe’ verbond, is nie wesentlik ’n ander verbond as wat reeds van die begin daar was nie,

die ‘nuwe verbond’, naamlik Jesus se vervulling van God se reddingsplan,

is in wese presies dieselfde as die verbond met Abraham, Moses, Dawid, ens.

Daar is net een genadeverbond, wat in verskillende tye, administrasie, maniere, wyses bedien is.

WANT, die wese bly dieselfde: Ek is julle God, julle is My kinders, in Jesus Christus, die Belofte, Hoof en Middelaar van die Verbond.

Al die ou administrasies en bedieninge van die verbond het hierdie wese as grondslag gehad.

Kyk na Jer. 31, wat Hebr. 3-10 leer:

– v. 32 verwys nie na hierdie wese wat verdwyn nie, maar die Sinai verbond wat bestaan het in seremonies, beelde, skaduwees, tempel wette, ens.

– die nuwe verbond, soos al die ander verbondsbedelinge, handhaaf die wese van die verbond, Vader – kinders & Jesus as die Belofte wat kom red.

– v. 33 wys op die groter heerlikheid van die verbond wat in Jesus vervul is,

Moses was goed vir sy tyd, het die evangelie gehad, daarom dat ons hoor in Joh. 1:17 dat die wetsbedeling (wat ook Jesus in skadus het) deur Moses gekom het, maar die genade en waarheid (waarvan die wet en profete getuig en gewys het, Rom. 3:21-23) het in Jesus gekom, daarom kan ons nie teruggaan na die ou bediening van die genadeverbond nie, maar vashou aan die vervulling in die nuwe verbondsbedeling, in Jesus Christus. Hebreërs wil ons dit leer: Moses was reg en goed vir sy tyd, maar Jesus het gekom, juis die wesentlike inhoud waarvan die OT bedeling ‘n skadu en heenwysing was!

Hy wat beloof het, het dit gedoen, dit is vervul, moenie by die skadus bly nie!

– v. 33b:  Ek vir julle ’n God, julle vir My ’n kind, wese van die verbond in beide OT en NT, want ons hoor dit in Hebr. 8:10 en verder.

– v. 34 vergifnis van sonde, dit wat ons hoor daar in Hebr. 10:16-18.

Geliefdes,

Hierdie genadeverbond, die Here wat doen wat Hy beloof, want Hy is getrou,

word vir ons pragtig saamgevat in ons belydenis, by v/a 19 van die HK,

wat juis die wese van die Here genadeverbond in OT en NT as volg saamvat:

Vraag: Waaruit weet jy dit? (in die konteks van ons teksvers: Waaruit weet jy dat God getrou is, en sal doen wat Hy beloof?  Waaruit weet jy dit dat Hy ons God is, en ons sy kinders vir ewig en altyd)

Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het (Gen. 3:15). Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders (Abraham, Isak en Jaob) en profete (bv. Jeremia) laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld (Moses/Sinai); Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul (nuwe verbond).

Volgende week kyk ons na : wat is die vrug, gevolg, en eise van die genadeverbond, maar vir nou:

Konkrete troos:

Dat verlossing ’n saak van die Here alleen is.

Jes. 9:6, “Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen”;

Ps. 130:8, “en Hyself sal Israel verlos van al sy ongeregtighede;

Matt. 1:21, dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos”;

Filp. 1:6, “omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus”

Ja, die Evangelie in een woord: ‘Hyself’…!

Die evangelie (goeie nuus) wat ons tydelik en ewig troos geliefdes, is daarom:

Ons Vader se Belofte, wat Hy gedoen het en sal doen: sy genadeverbond met al sy kinders in Jesus Christus, deur die krag van die Heilige Gees: Ek is julle God, julle my kinders, in Jesus deur die Gees.

Laat ons (daarom) die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;(Heb 10:23)

Amen.

____________________________________________________________

PREEK 2: Hebr. 10:23a (‘Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou’...)

Preekopname (GK Carletonville, 2021-05-03, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek):

Preek: Hebr. 10:23a

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Ons die vorige week nou geleer dat ons groot Troos is, v. 23b

“Hy wat dit beloof het, is getrou”, dus Hy voer dit uit, Hy doen dit.

Wat het Hy beloof en gedoen?

Dat Hy ons kragtens sy genadeverbond in en deur Jesus Christus, red en verlos, nou en tot in ewigheid.

Vers 17 het ons gleer dat Hy aan ons sondes en ongeregtigheid nooit meer dink nie.

Ons het vergifnis van sondes en die ewige lewe.

Maar, nou wil die Here ons leer wat die gevolge en vrug is van ons redding in Christus, uit genade alleen, deur die geloof alleen.

En dit hoor ons daar in die eerste deel van ons teksvers, Hebr. 10:23,

Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou.”

Om dit anders dan te stel: Hy wat ons redding beloof het en dit uitgevoer het in en deur Jesus Christus, omdat Hy getrou is aan sy beloftes van die genadeverbond, is dan die bron, oorsaak dat ons nou die belydenis van die hoop onwankelbaar kan en moet vashou. (x2)

Kortliks: Omdat God getrou is, kan en moet ons getrou wees aan Hom, ons moet vrugte van dankbaarheid dra, dit mag en kan nie anders nie!

Onthou wat ons so pragtig in navolging van die Skrif bely in ons doopsformulier:

Ten derde: Omdat alle verbonde uit twee dele bestaan, daarom word ons ook weer deur die doop vermaan en verplig tot ‘n nuwe gehoorsaamheid.

In HK v/a 64, Vraag: Maar maak hierdie leer nie mense onverskillig en roekeloos nie? Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat ‘n mens wat deur ‘n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie

Vanuit God se belofte en uitvoering van sy genadeverbond in Christus vir sy kinders, volg dan en word ons opgeroep en vermaan tot ‘n lewe van nuwe gehoorsaamheid

En dit is presies waartoe die Hebreër skrywer hier vanaf vers 19 en verder,

die gelowiges daar in die eerste eeu oproep, maar ook vir ons vandag.

Kyk daar in die vers 14 reeds:

Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.” (Heb 10:14)

Die ‘een offer’ Christus wat alles volbring het vir die vergifnis van ons sondes,

en die ewige lewe, lei tot ‘dat ons, sy kinders, volmaak geheilig word”

Ons regverdiging in Christus, lei tot ons heiligmaking in Christus, lewenslank.

Waartoe is ons uitverkies en gered in Christus?

Ef. 1:4, “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,” (Eph 1:4)

Ef. 2:8-10, “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (Eph 2:8–10)

En die Hebreër skrywer wil hulle hieraan herinner, in verse 19-21 wil hy hul dit leer,

voordat hy hul vermaan en oproep tot ‘n nuwe gehoorsaamheid,

sien v. 19-21, as basis van wat volg in vers 22-25.

“Terwyl ons dan”, terwyl wat:

ons nou in die heiligdom kan ingaan, deur die bloed van Jesus

Ja, die OT tempeldiens kon die priesters alleen verrig,

alleen die hoëpriester kan x1 keer per jaar in die Allerheiligste gaan,

maar nou dat Jesus gekom het, v. 20 en 21,

het Hy deur sy volmaakte offer, deur sy vlees,

deur sy liggaam wat vir ons gebreek is,

het Hy die voorhangsel geskeur,

sodat elke gelowige, koning, priester en profeet kan wees,

om tot die genadetroon van God te nader.

DIT is jou as gelowige se nuwe identiteit en status,

kind van God wat voor ons Vader kan verskyn, en bly lewe,

danksie die bloed van Jesus alleen.

En as ons dit weet, en moet glo en vashou, dan kom die Hebreër skrywer,

dan kom die Heilige Gees van God en roep ons op

om, in die woorde van ons teks “die belydenis van die Hoop onwankelbaar vas te hou’

Verse 22-25 behels 4/5 oproepe wat uitgaan aan die gelowige,

aan die kerk van die Here, aan u en my vanoggend, broers en susters.

Ons hoor heeltyd, 4/5 keer die woorde ‘LAAT ONS…’

Die woorde self beteken, iets wat jy begin het en aanhou moet doen jou lewe lank, nie net eenmaal nie, maar heeltyd, aanhoudend, moenie terugdraai nie, moenie stilstaan nie,

LAAT ons.. aanhou…!

Dit is 5 sake wat ons moet glo en moet doen, wat ons moet vashou in ons nuwe gehoorsame dankbaarheidslewe,

midde alle tye, ook nou met al die aanslae van die lewe en toekoms.

1) Vers 22: …. (lees)

Laat ons harte onverdeeld op die Here vertrou in wat Hy gedoen het.

Dit is wat ons laasweek geleer het, Hy is getrou aan sy beloftes,

wat Hy reeds gedoen het, en aanhou sal doen.

Daaorm kan ons met volle geloofsekerheid wandel deur die geloof,

midde ons tye.

As die aanslae van die Satan, die wêreld, en die oorblyfsels van die sonde in die hart kom, dan moet ons juis gryp na, v.19-21, ons het ‘n Groot priester wat klaar eens en vir altyd vir al ons sondes betaal het.

Ek moet dit persoonlik toe-ein en aan vashou deur die geloof.

Dat my hart besprenkel, my gewete gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gereinig met rein water.

Die doop, of dit nou klein of groot doop is, herinner ons dat God getrou is,

dat Hy dit vir ons gedoen het, en aanhou sal doen deur sy Woord en Gees.

Dit is die aanslae wat die gelowige deur die eeu beleef van die doodsvyande:

Nee wat, jy is verlore, kyk hoe sondig jy nog, keer terug na jou ou lewe, daar is geen … Hoop vir jou nie!

Dan antwoord die gelowige geliefdes, en dit is wat v. 22 wil leer:

“Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” (Rom. 8:1)

En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.” (Rom. 8:26–27)

En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles. Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God; en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.” (1 Jn 3:19–22)

2) Laat ons … lees vers 23

Onthou die konteks van die die hele Hebreër boek: nuwe gelowiges, wat in Christus glo, maar die aanslae van die lewe het gekom, vervolging en swaarkry, sien vers 34 …

en nou wou baie terugval na die Judaisme, of terug na die OT bedeling, na Moses, seremonies, ens. … voor Jesus gekom het.

Maar nou wil die Hebreër skrywer deur sy Gees hul oproep om te volhard in die vervulling van die genadeverbond en al sy weldade, waarvan die hele OT getuig en na heengewys het.

Konkreet beteken dit:

laat ons ons eie belydenis van geloof vashou,

wat ons beloof het ogv God se Belofte.

Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. (1 Tim. 6:12)

Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus,  (Heb. 3:1)

Terwyl ons dan ‚n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.  (Heb. 4:14)

3) Laat ons … lees vers 24

Hoor u, dit is nie elke keer ‘laat ek’ nie, maar ‘laat ons’

Ja, ons geloof is persoonlik, maar nie individualisties nie!

Die onwankelbare Hoop, God se beloftes van die genadeverbond, v.19-21 se inhoud, Jesus, moet ons met mekaar deel en mekaar daartoe oproep.

Baiemaal as mens sport kyk, dan sien mens die kameradie, toewyding, aan mekaar en ’n doelwit … hoeveel te meer vir ons as gelowiges, om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie werke, goeie werke soos God se woord openbaar!

Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. (Heb. 12:1-2)

4) Laat ons …. vers 25

Ja, weens v. 34 het baie dalk weggebly van die Here se eredienste?

Party verklaarders meen dat hul teruggeval het na die Joodse sabbat en sinagoges, die historiese konteks kan dit moontlik bevestig…

Die woord versuim wys op ‘verharding’, nie meer saam met die Here se kinders te vergader om opnuut die inhoud van v. 15-21 te hoor nie.

Die woord ‘byeenkoms’ vind ons op een ander plek, behalwe:

Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, (2 Thess. 2:1)

Hoor mooi geliefdes,

Omdat God getrou is en doen wat Hy beloof, naamlik om ons te red en te versorg,

daarom is ons verenig met Jesus, met die Here, God drie-enig.

Ons is byeengemaak, ons het byeengekom in Christus deur die geloof,

EN DAAROM, gaan ons na die Here se huis, daarom versuim ons nie die onderlinge byeenkomste, die eredienste nie … ons gaan kerk toe, dit is ons dankbare lewenswyse!

Verenig met Christus lei tot kerk toe gaan!

Dit is nie ‘ons gaan kerk toe OM met Jesus verenig te word nie’,

maar OMDAT ons verenig is met Jesus, daarom trek ons op na die huis van die HERE, Ps. 122!

En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Ef. 1:22–23)

En daarom ook ‘vermaan ons mekaar’ des te mate die dag sien nader kom.

Vermaan is positief: om te onderrig in die ware leer en lewe, op die regte weg te wys (2 Tim. 3:15-17), maar dan ook,

Negatief: om aan te spreek, tug as iemand afdwaal, reg te trek, reg te help,

In Hebr. 12 staan daar ook:

want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns …. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” (Heb 12:6, 7, 11)

Tugtiging is ware liefde, om vir mekaar om te gee en aan te spoor tot onderlinge liefde en goeie werke.

Die 3de kenmerk van ware gelowig wees en ware kerk wees (NGB art. 29), onderlinge liefdevolle tug.

So geliefdes, ons kerkbywoning opsigself red ons nie,

vers 19, alleen die bloed van Christus red ons,

maar ons kerkbywoning en soek na die Here se huis,

en dit wat in sy huis plaasvind OPENBAAR, getuig, sê waar jou hart, lewe is, jou skat is …. of nie!

En daarom, kom die Gees, met die waarskuwing wat volg in vers 26, en verder,

waarna ons volgende week gaan kyk.

As iemand opsetlik, versuimend die Here se huis nie opsoek nie,

sy Woord nie opsoek nie,

die Here se kinders nie opsoek saam nie, en

nie vermaan wil word daaroor en tugbaar is nie …

kan dit beteken dat so lidmaat die Here dalk nog nooit geken het of waarlik ken nie,

en deur ongeloof verlore sal gaan…

EN DAN KOM DIE GROOT VRAAG NA VORE:

Kan iemand wat werklik glo, in die genadeverbond is, dan verlore gaan?

Dit wil ons leer volgende week.

Vir nou:

Geliefdes, verbind u opnuut, op grond van Christus wat getrou is,

wat sy Beloftes maak en uitvoer in Christus,

om opnuut in ’n dankbare nuwe gehoorsaamheid te lewe.

Laat ons die belydenis onwankelbaar vashou,

in leer en lewe, in woord en daad, van harte

want Hy wat dit beloof het, is getrou.

Amen.

___________________________________________________

Preek 3: Hebr. 10:26-39 (‘Want as ons opsetlik sondig … maar die regverdige sal uit die geloof lewe…’)

Preekopname (GK Carletonville, 2021-05-10, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek):

Preek: Hebr. 10:26-39

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

In die vorige twee preke het ons nou geleer dat,

die Hebreër skrywer die gelowiges, die kerk van die Here,

bemoedig, om op grond van God se belofte van redding in Christus,

onwankelbaar aan Hom vas te hou in hul hele lewe,

van begin tot einde, in alle tye wat oor hul lewens kom.

Dit het ons in essensie gehoor en geleer daar uit Hebr. 10:23,

Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;” (Heb 10:23)

Die hoop is al God se beloftes van redding en sorg in Christus,

wat Hy vervul en uitgevoer het deur die eeue,

en sal doen tot die laaste dag vir elkeen van sy kinders.

En daarom word ons opgeroep om hierdie Hoop van redding vas te hou.

En die laaste oproep wat ons gehoor het, was daar in v. 25

om die onderlinge byeenkomste aan te hou bywoon, tot die laaste dag.

Dus om ons hele lewe lank kerk toe te gaan,

om daar in die besonder te hoor van die Here se beloftes,

sy Woord en sakramente te ontvang.

Maar, dan skielik, verse 26-31, kom ‘n groot waarskuwing en vermaning.

Ja, as mens dit lees, is dit eintlik ‘n skrikwekkende gedeelte.

Daar kom dadelik vrae op:

– van wie word hier gepraat?

– is dit ware gelowiges wat sulke dinge doen en verlore kan gaan vir ewig?

– die Hebreërskrywer wil juis deur sy hele brief of preek, v. 22 ‘volle geloofsekerheid’ by die Here se kinders bring,

en nou hierdie woorde, hoe pas dit in?

Geliefdes, hierdie is verskriklik belangrike vrae.

Ja, daar is baie tydelike lewensvrae wat ook belangrik is,

vrae oor die lewe hier en nou, wat belangrik is

maar die allerbelangrikste vraag wat die mens se toekoms betref,

is tog waar ek in ewigheid gaan deurbring (saam hoe God ge-eer word)?

Nou geliefdes, dit is hierdie vraag wat ons wil beantwoord vanoggend.

Ons wil op twee sake heeltyd fokus, en raaksien in hierdie gedeelte, v. 26-39

1 Dat v. 26-31 nie beteken dat gelowiges wat in Christus se bloed gewas is, wat uitverkore is, wat worstel met oorblywende sondes, verlore sal gaan vir ewig nie.

2 Maar dit beteken nie dat ons nie die waarskuwings nie moet hoor nie, want die Here leer hier en orals deur die Skrif, dat die Here se kinders, die sigbare kerk, almal wat Christus bely, moet nie net hoor van die Here se beloftes van redding nie, maar ons moet almal ook hoor van die Here se waarskuwinge en oproepe om nie afvallig te word van die geloof wat ons eenmaal bely het nie.

So dit wil ons leer, anders gestel:

1 wie is wat in die hande van die God se verskriklike oordeel eendag gaan val, volgens v. 26-31

2 Die waarskuwinge van hierdie verse moet gepreek en geleer word deur die kerk van die Here aan almal.

1 Wie is dit wat verlore gaan hier in verse 26-31

Hulle is die wat ‘opsetlik’ sondig, v.26

Die woord ‘opsetlik’ in die oorspronklike wys op ‘n volhardende keuse en lewenswyse, dit is iets waarvoor gekies word en in volhard word.

In die konteks, hulle wat kies, nadat hul deel geword het van die gemeente,

die byeenkomste eers getrou bygewoon het, v. 25, dit al minder doen,

en later glad nie meer doen nie.

Hulle het kennis van die waarheid ontvang, die bediening van die Woord en sakramente ontvang,

hulle is onderrig in die ware leer, selfs belydenis van geloof uiterlik afgelê eens saam die kerk,

maar hulle het dit alles verlaat.

En nou sê die Hebreër skrywer, daar is ‘geen offer’ meer nie.

In die eerste eeu Hebreër boek se konteks:

hulle wat wou terugkeer na die OT levitiese diens, ‘n verdraaide vorm daarvan los van Christus,

wat dink hul kan deur hul eie werke en verdraaiing daarvan gered word.

Maar Christus, onthou vers 14-22, het klaar alles volbring!

Hy is die enigste grond vir redding, Hom verwerp, opsetlik Hom verwerp,

dan is daar geen ander Naam waardeur, of manier om gered te word nie, Hand. 4:12.

Daar is nie ‘n ander reddingsplan of alternatief nie.

Al wat vir iemand oorbly wat Christus verwerp wat hy eers bely het,

is volgens vers 27 ‘n ‘verskriklike verwagting van oordeel en vuurgloed’.

En hier identifiseer die Hebreër skrywer nog duideliker wie hierdie persone is,

naamlik ‘teëstanders’.

Hierdie mense staan Christus die waarheid wat in die byeenkomste verkondig is,

deur die sakramente uitgebeeld is, nou teen .. is vyandig daarteenoor.

Hierdie teëstanders word genoem in 3:12; 6:1-8, (lees 3:12) = hulle met ‘bose en ongelowige harte’

Dit was die afvallige valse profete wat teen Christus en sy apostels was,

wat in die woorde van 1 Joh. 2:19, eers onder die ‘sigbare kerk’ was, maar later uitgegaan het.

En nou kom die waarskuwing aan die teëstanders, wat Christus valslik bely, maar nie van harte nie.

daar in vers 28 en 29.

As in die OT bedeling, die wet van Moses verwerp is, deur iemand wat skuldig was aan afgodery (Deut. 17:1-6),

en hy doodstraf gekry het, HOEVEEL TE MEER GAAN HUL GESTRAF WORD

… hoor u dit geliefdes, hoeveel te meer, hulle wat volgens vers 29, dan,

die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament,

waardeur hul geheilig is, onrein geag het, en die Gees gesmaad het.

In essensie: hulle wat die sonde van die Heilige Gees pleeg,

ongelowiges wat voorgee dat hul kinders van God is, en nie werklik is nie.

Die woorde van vers 29 wys verder op die ‘teëstanders’ se optrede, nl.

in die woorde ‘vertrap’ ‘onrein ag’ ‘smaad’, ja,

wat wys op hulle wat Christus verag, haat, en dit wat Christus kom doen het verwerp.

Paulus praat van die wrede wolwe wat inslyp, Hand. 20:28,29,

wat eers onder ons was, deur misleiding, valse belydenis, maar later sou uitgaan.

Dit is ‘n werklikheid geliefdes, deur die eeue, dink aan Judas wat eers een

was saam met die dissipels, maar nie van harte nie, wat afvallig geraak het.

En dit is die werklikheid geliefdes volgens die Skrif, maar ook die ervaring, geskiedenis van die kerk deur die eeue.

Baie wat, soos Jesus noem in Matt. 7, sê dat hul saam Jesus was, selfs wonders gedoen het, maar Jesus het hul nooit geken nie, hulle wat ongeregtigheid werk = sondes, oorteding van God se gebooie goedpraat en bevorder,

sien Mat. 5:17-20; Rom. 1:32, ens.

En die Here, Hebr. 10 vers 30, 31 oordeel sy sigbare kerk, 1 Pe. 4:17,

die oordeel begin by sy kerk wat sy Naam bely.

Dus geliefdes, hier in vers 26-31 gaan dit oor die wat die Here uiterlik bely, maar nie van harte nie, dit gaan nie oor kinders van die Here wat weens swakheid, tye van twyfel en onkunde nog in sonde val en worstel daarmee nie.

Dit gaan nie oor Ps. 51 Dawid gelowiges nie,

of Rom. 7 Paulus gelowiges nie,

maar hulle wat opsetlik, doelbewus, kwaadwillig, veragtelik die evangelie vertrap en verag

wat hul vir dekades gehoor en geleer is,

en dan hul rug daarop gedraai het,

die kerklidmate soos ‘n Judas of ‘n Demas

wat die wêreld lief gekry het.

Met hul goddeloosheid en ongeloof openbaar hierdie mense,

dat hul nooit werklik aan die Here behoort het nie,

nie waarlik tot bekering gekom en waarlik geloof gehad het nie.

Verse 14-22 geld nie vir hul nie, hulle het dit verag en verwerp.

Prof. PJS de Klerk vat hierdie gedeelte in sy Hebreër kommentaar as volg saam:

“Hulle besit slegs ‘n historiese geloof. Die godsdiens word naderhand sleur, en naderhand is die lus om die Here te dien ook weg. Die gevolg is dat die onderlinge byeenkomste in die kerk nagelaat word. Hierdie sonde is opsetlik omdat ons beter weet, so ‘n opsetlike sonde is die begin van die afval. Dit openbaar hom dan ook in ‘n verwerping aan die wil van God (vs. 28). Dit openbaar hom verder in die verloëning van Christus as Middelaar. Die Seun van God word vertrap, die bloed van die testament word as onrein geag en die Gees van die genade word smaadheid aangedoen (v 29). God is ‘n lewende God, wat dit alles Sien. Sy oordeel is verskriklik (vs. 27). Dit blyk uit aanhalings uit Deut. 32. Dis vreeslik om te val in die hande van die lewende God. Laat ons God bid om genade om in die geloof te volhard tot die end toe. Mag hierdie waarskuwing ons oë oopmaak vir die gevaarlike gewoonte om onkerklik te wees.”

2 Maar, tweedens, sien dan ook verse 32-39, hierdie verse leer ons dan juis wat die ware gelowiges aan moet vashou, in volhard, maar dan ook dat ons die waarskuwing moet hoor.

Kyk hoe begin vers 32, Maar onthou … onthou jul bekering, en dat die gelowige lewe beteken …. lyding, geen prosperity gospel nie, vers 33 en 34.

MOENIE, en dit is ‘n groot les geliefdes, dat jou omstandighede, wat op en af is, voor en teëspoed, jou geloof bepaal nie.

Jou ewige identiteit en troos en hoop is verse 14-22!

Hou jou oë op die ewigheid, vers 34b

Hou vas en volhard in die oproep van Hebr. 12:1-3 (lees)

Sien die lewe hier en sy worstelinge in die lig van die ewigheid,

die werklikheid van God se beloftes vir nou en die ewigheid,

Die oproep van Hebr. 12:28!

Ons het daarom deur die geloof lydsaamheid nodig, vers 36

Vers 38, dat ons deur die geloof, nie aanskouing sal wandel!

Die Belofte van redding het gekom, Jesus het alles volbring,

maar nou leef ons in die Belofte van sy wederkoms!

Vers 38 wys op ‘n geestelike ontrekking, dit wat v. 26-31 leer deur die ongelowiges wat vir ‘n tyd lank die ‘historiese geloof’ gehad het, maar dit moet ook konkreet verstaan owrd,

hy wat ontrek weens ongeloof en ongehoorsaamheid,

maar ook ook letter ontrek van die Here se kerk, die Here se byeenkomste, v. 25,

waardeur hulle openbaar dat die Here in sulkes geen behae het nie, sien ook 1 Kor. 10:1-13.

0Maar by ONS, in kontras met die hulle van v. 26-31,

is daar kragtens die Here se beloftes en genadeverbond in Christus,

geen ontrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe,

genade op genade, prys sy Naam!

Dit is ons groot troos geliefdes, om die Here se beloftes te hoor,

om die Evangelie aanhou te hoor tot versterking en bemoediging,

maar omdat God dit beveel het, dat dit ook geleer en gepreek moet word,

moet ons ook die waarskuwings en vermanings hoor van v. 26-31 hoor,

saam met die woorde van v. 19-25 en 32-39.

Onthou, ons kerkbanke getuig, ons ‘groot kerke’ getuig van baie wat eers by ons was,

maar nie meer is nie…..

Die tweesnydende swaard van die evangelie moet verkondiging word, tydig en ontydig, 2 Tim. 4:1-5,

soos ons in navolging van die Skrif dit ook bely in die HK So. 31

Sondag: 31 – VRAAG EN ANTWOORD: 84

Vraag: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met ‘n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie 11.

DIT IS IN ESSENSIE WAT DIE HEBREERSKRYWER ONS HIER LEER…

Laastens geliefdes, hoe kom ek dan my roeping na,

hoe luister ek dan konkreet na die Here se waarskuwings hier?

Hoe bekeer ek my as ek vandag sy stem hoor?

Die skrywer het dit eintlik reeds vir ons gegee, wat ons moet glo en doen…

verse 19-25, kom ons eindig daarmee met die hoop en bede vir mekaar

dat ons daarin deur sy genade mag volhard, tot die einde toe, en mekaar daartoe sal aanmoedig:

TERWYL ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ’n groot Priester oor die huis van God het,

laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.

Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;

en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;

en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie,

– maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

(Heb 10:19–25).

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: