Posted by: proregno | June 2, 2008

KERK EN VOLK prof WJ Snyman

KERK EN VOLK
prof WJ Snyman

Inleiding (deur S Le Cornu )
Hierdie is ‘n lesing van wyle prof. WJ (Willie) Snyman, dosent in NT aan die Teologiese Skool, Potchefstroom (1946 – 1969). Die titel van sy lesing was ‘Kerk en Volk’ en is gelewer tydens ‘n huldeblykgeleentheid van sy emeritaat op 14 Augustus 1968 (Vir dié wat meer te wete wil kom van prof. Snyman, sien sy boek ‘Nuwe en Ou Dinge’ [Potchefstroom: Pro Rege, 1977], wat ‘n samestelling is van verskeie van sy artikels oor koninkryk, kerk en volk).

In hierdie lesing wys prof. Snyman die regte rigting aan oor hoe ons moet dink oor hierdie onderwerp vanuit ‘n gereformeerde openbaringshistoriese perspektief op die Heilige Skrif. Soos ek sy lesing deurgelees het, het ek besef dat ons beide die volkskerk- én wêreldkerkgedagte moet afwys. Ineersgenoemde is die kollektivisme (net die groep/gemeenskap is belangrik) die gevaar teenoor die wêreldkerkgedagte se gevaar van individualisme (net die losse individu is belangrik).

Die Skrif leer dat kerk en verbond beide ‘n individuele én kollektiewe (gemeenskaplike/organiese) kant of aspek het, en nie net die een of die ander nie. Dit is juis omdat die gemeenskaplikheid van die verbond baiemaal nie in ag geneem word nie, dat ons die leer van die verbond verkeerd verstaan.

Prof. Snyman se lesing gee ook baie waardevolle insigte i.v.m. die vraag aan wie die beloftes van die verbond behoort.Ongelukkig het ons die term ‘volk’ eksistensieël oftewel fenomenologies begin definieer, en nie vanuit die Skrif verbondsmatig nie. Fenomenologiese definisies werk met wat in die natuurlike openbaring na vore kom en gepositiveer word, wat volgens die geskiedenis bloot ‘is’ bv. ras, geskiedenis, taal, kultuur, ens., en nie vanuit Openbaring, dus wat ‘behoort’ ‘n volk te wees nie.Dit eindig gewoonlik daarin dat die natuur (bloed) die genade (geloof) opvreet, in plaas daarvan dat die geloof die bloed heilig in diens van God se Koninkryk (Bavinck).

Prof Snyman betoog onder andere as volg:
“… Ons glo aan die versekerde bestaan van die indiwidu in Christus, en aan die voortbestaan van die groep, nie los van die persone nie, maar in die persoon, en in hierdie geval in die wedergebore persoon. Dit sien ons as die grondslag van die juiste verhouding ook van kerk en volk. Dis maar net indie algemeen gestel. …”

“… Nie die Gereformeerde Kerk is die kern van die volk nie, maar die ware ge­lowiges. . . dis die kern van die volk. Dit is die volk soos hy finaal oorbly. Die ander is die kaf wat bestem is om te verdwyn. Dit is die gelowi­ges wat finaal oorbly, van elke volk, vir die nuwe aarde, en aan wie (soos Calvyn sê) hierdie aarde nou reeds behoort. Hulle sal die aarde beërwe as hul wettige eien­dom, en in hul gelowiges sal ook die volke dit beërwe. Dit is die positiewe verhouding tussen kerk en volk. Die volk, die mensheid,bly voortbestaan in sy gelowiges.
Ek is dankbaar dat die Skrifte vir ons hierdie lyn so laat sien, en dat ons met die Skrifte tussen hierdie twee uiterstes – enersyds die vereenselwiging van kerk en volk, en andersyds die skeiding van kerk en volk – die regte pad kan vind. Die Skrif gee vir ons te midde van die doolhof van gedagtes hierdie antwoord: In die gelowiges bestaan die huisgesinne voort. In die gelowiges bestaan ook die volk voort.
In die gelowiges bestaan die mensheid voort, met al sy verskeidenhede. Dis nie mense, dis nie indiwidue, wat gered word nie. Dis die mensheid wat gered word, die mensheid as ‘n boom wat gegroei het deur die hele geskiedenis heen. Wat nou vir my oorbly is om die gegewens na vore te bring waarop hierdie slotsom rus.”

Sien die volledige lesing hieronder, vir die begronding van prof. Snyman se siening oor kerk en volk.
_______________________________________

KERK EN VOLK
prof WJ Snyman

Nou: die onderwerp vir hierdie kollege, naamlik Kerk en Volk, ‘n onderwerp wat my belangstelling gehad het van die begin af, en waarmee ek nog maar steeds be­sig is.Ek wil begin deur te sê dat die vraagstuk van volk en kerk saamhang met die groot vraagstuk van alle eeue, ‘n algemene vraagstuk wat ek sou wil aandui as:die verhouding van die indiwidu tot die gemeenskap.

Ons moet dit sien teen hierdie algemene agtergrond, en as ‘n vraagstuk wat in ons tyd weer besonder aktueel is.Aan die een kant is daar die neiging om die indiwidu te laat opgaan in die groep, in die gemeenskap. Laat die gemeenskap nou wees: mensheid, volk, ras, klas; daar is altyd die een gevaar dat die bestaan van die in­diwidu en van die persoon daardeur opgeneem word. Ons het die eksponent daarvan vandag natuurlik in die Kommunisme. En dit is een van die groot probleme van ons tyd, dat die indiwidu opgeneem word in die gemeenskap, dat hy altyd meer en meer ‘n rat word in die masjinerie van die gemeenskapslewe.Daarteenoor het ons vandag die geweldige protes van die kant van die eksistensialisme waar weer eensydiglik die indiwiduele, die persoonlike, beklemtoon word teenoor die gemeenskap. Dit is kenmerkend van die eksistensialisme dat dit uiters indiwidualisties is.

Ons standpunt – en dit is die kern van my hele voordrag – kom hierop neer:
Ons glo aan die versekerde bestaan van die indiwidu in Christus, en aan die voortbestaan van die groep, nie los van die persone nie, maar in die persoon, en in hierdie geval in die wedergebore persoon. Dit sien ons as die grondslag van die juiste verhouding ook van kerk en volk. Dis maar net in die algemeen gestel.

Die verhouding van kerk en volk is ‘n veelbesproke saak, waarmee vandag nog altyd geworstel word. Ons weet verbasend goed (ook as Gereformeerdes) wat die verhouding nie moet wees nie.Ons weet baie goed dat die verhouding nie moet wees dat kerk en volk met mekaar vereenselwig moet word nie – dit is die volkskerkgedagte, wat deur ons verwerp word. En ons weet net so goed dat jy ook die kerk nie mag losmaak van die volk nie.Ons weet presies hoe dit nie moet wees nie: geen volkskerk nie; en ook geen kerk wat los staan van die volkslewe nie. Maar nou is die groot probleem hoe dit dan (positief) wel moet wees, naamlik die verhouding van volk en kerk.Ek wil sommer hier by die begin verwys na die proefskrif van prof. S.C.W. Duvenage wat handel oor die probleem van kerk en volk, en ek wil dadelik my groot waardering uitspreek vir die ontleding wat hy daar van die saak gegee het; veral dat hy in die proef­skrif aangetoon het dat as jy die woord “volkskerk” ge­bruik, jy baie noukeurig aandag daaraan moet gee wat jy noupresies met volkskerk bedoel.Daar is soveel verskillende opvattings in verband met die volkskerk.

En ek het besonder hoë waardering daarvoor dat prof. Duvenage in genoemde werk ‘n ontleding gegee het van die verskillende opvattinge omtrent die volkskerk.Hy het die volkskerkgedagte in Nederland behandel, en by al die opvattinge het hy dit saamgetrek in hierdie twee groot gedagtes van die volkskerk: waar jy die teokratiese aksent kry, en die volkskerk waar jy weer die missionêre aksent kry.Ek wil hier nou sommer aansluit by die volkskerk­gedagte met ‘n teokratiese aksent, en hoedat die verhou­ding van kerk en volk vroeër gesien is in Nederland, veral die opvatting van Wormse:

“Die Nederlandse volk is deur God gelei om met Hom in ‘n verbond van ge­nade te staan. Die Nederlandse volk is in sy geheel gedoop. Die Nederlandse volk is aan God toegewy deur die doop.Hy sien dan in die doop die skakel tussen die kerk en die volk. Die Nederlandse volk is nie maar ‘n na­tuurlike grootheid van ‘n stamverbondenheid nie, maar die volk word ook gekwalifiseer deur die verbond van die genade.”

As ons hierdie gedagte van Wormse, hierdie gedag­te oor die volkskerk, so lees, dan wil ek net (ek meen op goeie grond) konstateer dat hierdie volkskerkgedag­te, die teokratiese volkskerkgedagte, diep ingeweef is in die geskiedenis van ons Afrikaanse volk; dat in die opsig prakties volk en kerk vir ons saamval in ons ge­skiedenis, waar volk en kerk een geboortedatum het hier in Suid-Afrika; en dat presies van ons volk geld wat Wormse destyds gesê het van die Nederlandse volk, en dat ons dan in die opsig ook ‘n besondere volk is. Ons geskiedenis sê vir ons: daar is ‘n groot vereensel­wiging tussen volk en kerk.Daarom is dit vir ons so ‘n geweldige aktuele en belangrike probleem.

Ek sou daar baie meer van wou sê of kan sê, maar ek laat dit net by hierdie konstatering, en ek dink ek konstateer dit op goeie en stewige grond.Ek stem volkome saam met die kritiek van prof. Duvenage op die idee van die volkskerk. Met die volkskerkgedagte word die verhouding Kerk-Israel van die ou bedeling geprojekteer op die kerk van die nuwe Verbond – onoordeelkundig oorgebring (Ek kan hier net weer herinner aan baie preke ty­dens ons groot volksfeeste).Ek kan ons probleem in sy grootheid nou nog na­der omlyn: Dit gaan hier om die verhouding van Ou en Nuwe Testament.En dit gaan in hierdie probleem volks­kerk om (enersyds) ‘n oorbeklemtoning van die Ou Testament ten koste van die Nuwe Testament – om niks minder nie.

En by die gedagte van die losmaking van die kerk van die volk het ons te doen met ‘n oorbeklemtoning van die Nuwe Testament (die indiwiduele gelowige) ten koste van die Ou Testament.In hierdie opsig moet ons as Gereformeerdes lei­ding gee in ons volkslewe.Die regte pad is dat ons die Ou Testament en die Nuwe Testament nie teen me­kaar uitspeel nie, maar dat ons die hele Skrif ook in hierdie opsig tot sy reg laat kom, dit wil sê dat ons in die Nuwe Testament die verklaring van die Ou Testa­ment moet kry, en in die Ou Testament die verklaring van die Nuwe Testament (opmerking: vandag word hierdie hermeneutiese sleutel nie meer deur alle teoloë aanvaar nie, soos gesien word in die debat oor die Messiaanse profesieë en heenwysings – SLC).

Die onoordeelkundige verbinding van volk en kerk is Ou Testamenties. Prof.Duvenage het dit tereg gesê, in verband met al die voorstanders van die volkskerk in Nederland. En prof. Floor sê dit in sy proefskrif wat hy besig is om uit te werk, naamlik dat by Van Ruler, een van die pleitbesorgers van die volkskerkgedagte, daar ‘n devaluasie is van die Nuwe Testament.As ons oor hierdie sake praat, gaan dit dus oor ‘n waardering van Ou en Nuwe Testament. Dit is die ge­wig van ons probleem.Nog net dit in verband met die proefskrif van prof. Duvenage: Hy het die suiwere weg aangedui. Ook is ek bly dat ek met die standpunt wat ek bepleit, in die geselskap is van ‘n man soos Groen van Prinsterer. Dit was vir my ‘n verrassing om die volgende woorde van Groen van Prinsterer te lees:

“De Gereformeerden alhier (= Nederland), niet door aantal machtig, maar door onbedwingbaarheid van een moed en een volhar­ding uit geloofsvertrouwen enplichtsbesef, de kern der natie.”

Die suiwer beginsel
Hiermee word die suiwere beginsel gestel. Ter­loops: ek sou dit nie wil waag om met Groen van Prinsterer te sê dat ons, die Gereformeerde Kerk, die kern van die (ons) volk is nie. Ek sou wil sê hy is baie naby die kern. Ek sal dit so stel: Nie die Gereformeerde Kerk is die kern van die volk nie, maar die ware ge­lowiges. . . dis die kern van die volk.Dit is die volk soos hy finaal oorbly. Die ander is die kaf wat bestem is om te verdwyn. Dit is die gelowi­ges wat finaal oorbly, van elke volk, vir die nuwe aarde, en aan wie (soos Calvyn sê) hierdie aarde nou reeds behoort. Hulle sal die aarde beërwe as hul wettige eien­dom, en in hul gelowiges sal ook die volke dit beërwe.Dit is die positiewe verhouding tussen kerk en volk. Die volk, die mensheid, bly voortbestaan in sy gelowiges.

Ek is dankbaar dat die Skrifte vir ons hierdie lyn so laat sien, en dat ons met die Skrifte tussen hierdie twee uiterstes – enersyds die vereenselwiging van kerk en volk, en andersyds die skeiding van kerk en volk – die regte pad kan vind.Die Skrif gee vir ons te midde van die doolhof van gedagtes hierdie antwoord:In die gelowiges bestaan die huisgesinne voort. In die gelowiges bestaan ook die volk voort. In die gelowiges bestaan die mensheid voort, met al sy verskeidenhede. Dis nie mense, dis nie indiwidue, wat gered word nie. Dis die mensheid wat gered word, die mensheid as ‘n boom wat gegroei het deur die hele geskiedenis heen.Wat nou vir my oorbly is om die gegewens na vore te bring waarop hierdie slotsom rus.

Nuwe Testament
Die gegewens is sodanig, dat ons nie hoef te soek nie. ‘n Mens sou kon dink dat jy sal moet soek om die gedagte van volk ook in die Nuwe Testament te kry. Daar was ‘n tyd waarin ‘n mens self ook gedink het: in die Nuwe Tes­tament verdwyn die volk, want in die Ou Testament kry jy baie te doen met die volk, maar in die Nuwe Tes­tament kry jy te doen met die kerk. Daarverdwyn die volk en die nasies nou eintlik van die toneel.Totdat ‘n mens dan nou sien: die Nuwe Testament is vol van “nasies”. Dit is net vertaal met die woord “heidene”. Natuurlik, die nasies was almal heidene, maar omdat hulle heidene was, het hulle nie opgehou om nasies te wees nie. Hulle het ethnee (nasies) gebly, al was hulle heidens.

‘n Herinnering daaraan dat buite die besondere openbaring die verskeidenheid op­gelos word, en dat ethnee (nasies) naderhand heidene word, en hulle almal net heidene is; en dat dit eintlik die Christendom is wat weer die nasies red uit die hei­dendom, en hulle nasies laat bly, ook wanneer hulle verlos is uit die heidendom.En as ‘n mens dit in gedagte hou, dan sien jy dat ook die Nuwe Testament vol is van “nasies”, van Mat­teus tot in die laaste hoofstuk van Openbaring. Die Nuwe Testament spreek dus nie net oor die kerk nie, maar nasies neem daar ‘n baie belangrike plek in.Nou moet ek maar verder so ver moontlik elimi­neer en net op sekere punte konsentreer.

Johannes die Doper
Ek begin by die begin van die Nuwe Testament, naamlik by die groot gestalte van die oorgang van die Ou na die Nuwe Testament, Johannes die Doper. Hy lyk vir ons onbelynd; want die son was besig om op te kom, en dan word die morester onbelynd. Ek moet minder word, Hy moet meer word. Maar dit neem nie weg nie dat daardie gestalte sy belyning gehad het voordat die son opgekom het. En daardie belyning het ons in die Nuwe Testament, daardie kort (maarbelynde) beskry­wing.En die hedendaagse verwarring tussen volk en kerk is veral daaraan te wyte dat die figuur van Johan­nes die Doper nie raakgesien is nie, die skakel tussen Ou Testament en Nuwe Testament. Een van die belangrike sake in verband met Johannes die Doper is dat hy vir ons die verband lê tussen volk en kerk. Hy gee die sleutel.

As ons Johannes die Doper se optrede sien soos dit vir ons geteken word, dan los hy vir ons die hele probleem op. Dus, ons hoef nie by die konklusie of standpunt wat ek gestel het, te kom as ons met die Nu­we Testament klaar is nie – nee, die openbaring is mos soos ‘n pit wat groei, alles is daarin opgeslote; dis maar net ‘n ontsluiting van wat alles aanwesig is in die aan­vang.En hier in die aanvang kan ‘n mens tog die lyne, wat vir jou baie verwarrend lyk, alles bymekaar sien.In die eerste plek – en dit is in ons tyd veral weer geaksentueer met die ontdekking van die Dooie See­rolle, – die feit dat Johannes die Doper opgetree het in die midde van die volk. Hy het die volk nie prysgegee nie.

Hy preek: “Bekeer julle”.Wie is “julle?”Is dit al die mense?Nee, hy praat met bepaalde mense. Hy praat met die volk. Dit lyk onbelynd, maar in werklikheid is dit belynd. Hy spreek die hele volk toe. En die hele volk (staan daar) het na hom toe gekom. Hy het gespreek in die midde van die volk, hy het gestaan in die midde van die volk: daar in die woestyn van Judea, daar by die grootpad deur die Jordaan – dit was sy doopplek. Nie daar eenkant in die woestyn, daar by die Dooie See nie. Hy het niks te doen gehadmet ‘n sekte nie.Prediking en doop … dis die kerk, kenmerke van die ware kerk.

Met die Woord en Sakramente trek Johannes die Doper ‘n lyn binne in die volk – egter nie maar net ‘n kring binne die volk nie, met ‘n kerkie binne in ‘n groter kerk nie (waar die volk die groot kerk is en die eintlike kerk dan die kern is, soos ons dit dikwels voorgestel kry by die mense van die volkskerk­gedagte wat die volkskerk sien, nie as ‘n gegewe nie, maar as ‘n taak).Nee, die kring wat hy trek, is die kom van die volk, die oorblyfsel van die volk – dit wat van die volk sal oorbly, en wat sal bly voortbestaan. Lees Matt.3:10,12. Dit is die bome wat nie vrugte dra nie, wat uitgekap word.

Waar uitgekap word?
Uit die volk!En hy bring ons by die dorsvloer. Die oorblyfsel van Israel, die gelowiges – hulle is nog vlees en bloed, al is hulle gelowiges – is die koring van Israel. Die ander is die kaf wat wegwaai. As jy nie glo nie, en as jy nie ingelyf word in Christus nie, dan kry jy indivi­dualisme, dan lyk die mensheid soos stoppels, soos kaf. En daarin moet ons ook iets van die rampsaligheid sien!
Die gemeenskap word gered in die kerk, nie in individue nie. Die toestand van rampsaligheid, van verb­renheid, is juis dat die heerlike bande van familie, en ook die heerlike bande van volk, ontbreek. Ek sal sê dat die verlorene ‘n geisoleerde kaf, ‘n stoppel, is. Dit moet iets wees van die rampsaligheid. ‘n Mens dink aan die toestand wat juis ook al tot ‘n sekere mate intree in die tyd waarin ons lewe, waar gepraat word van die alienasie, die vervreemding, die geisoleerd­held van die individu … die eensame mens van die twintigste eeu.

En nou nog iets oor Matt.3:9, daardie bekende woord van Johannes die Doper, toe die Fariseërs en Skrifgeleerdes na hom gekom het:
“En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as Vader nie; want Ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek”.

In plaas van nou ‘n breedvoerige eksegese te gee, gee ek net die konklusie van prof. H.N. Ridderbos – wat tog nie verdink sal kan word van enige nasionale bevooroordeeldheid nie. Hy sê:

“Met deze woorden wordt de lichamelijke af­stamming niet tot een onverschillige zaak ver­klaard, noch ontkend dat de belofte aan Abra­ham niet in de eerste instantie diens lichamel­ijke nakomelingen geld.”

Dus: die verbond hou sy krag ook vir die liggaamlike afstammelinge van Abraham. Afstamming is nie ge­noeg nie, maar vir die wat ook Abraham se geloof besit, bly die verbond sy krag behou. Dus, jy kan die gelowiges nie losmaak van die natuurlike afstam­ming nie.Prof. Grosheide (my vroeëre leermeester) sê ook dat daar geen grond is nie vir die verklaring wat daarop neerkom dat Johannes die Doper sou gesê het dat Is­rael opsy geskuif sal word as volk en dat daardie “klip­pe” nou die heidene is wat hulle plek sal inneem.

Paulus leer dieselfde waarheid as Johannes die Doper in hierdie verband – Romeine 9:6: “Want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie.”

Vir ons beteken dit: Nie almal is Afrikaners wat uit die Afrikaners is nie. Die gelowiges, dit is die kern. Daarin trek jou volksgemeenskap, jou volksverband, saam. Daarin word jou volk behou. Nie almal is Israel wat uit Israel is nie.

Jesus Christus
Nou die optrede van Christus. Hier trek ons net ‘n paar groot lyne, en gaan nie op besonderhede in nie. Die Here Jesus het Sy optrede beperk, tot die einde toe, net tot Israel. Die uitsonderinge (vergelyk die met die Siro-Feniciese) het die reël bevestig. Ook aan sy apostels het Hy die uitdruklike bevel gegee: Bepaal julle tot Israel. Dit was by die eerste uitsending, tydens sy omwandeling nog.Ek herinner aan hierdie feit, ‘n openbaringshisto­riese feit, dat die Here Jesus nooit Israel, sy volk, verwerp het nie. Die volk het Hom verwerp. Hulle het hulle Koning verwerp, en met die verwerping van Christus het hulle aan hulleself die reg ontsê om Is­raeliete te wees. Met ander woorde, hulle het hulle afgesonder van die volk Israel, deur hulle Koning te verwerp, deurdie Romeinse Keiser te kies.

Dit was die laaste groot beslissing gewees, totdat die nasionalis­tiese Fariseërs aan Pilatus gesê het: As jy Hom loslaat, dan is jy nie die vriend van die Keiser nie. Hulle moes op die end kies vir die Keiser, teen hulle volk, omdat hulle teen Christus gekies het.Christus het Israel nooit verwerp nie. As Paulus in Rom.11:1 vra: “Het God miskien sy volk verstoot?” dan antwoord hy kortweg: “Nee, stellig nie!”Die historiese feit is dat die volk God en sy Ge­salfde verwerp het. Johannes sê in sy Evangelie (1:11): “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.”

Sy eie. Maar dan laat hy volg: “Maar die wat Hom aangeneem het. . .” Ewewydig met die verwerping deur sy volk loop daar ook die geskiedenis van aanneming; die wonder van die aanneming wat ook nou weer so onder ons aandag gekom het met die oorplanting van organe.Daar moes ‘n wonder gebeur om die oë te open, sodat Christus aangeneem word en nie verwerp word nie deur die liggaam van die volk, en om daardeur as volk gered te word. Die verskriklike wat ons nou weer geleer het by hierdie geskiedenis van oorplantings is dat ‘n liggaam ‘n noodsaaklike orgaan kan verwerp, ‘n hart kan verwerp, wat hom eintllk sy lewe sou gee.En dit is wat gebeur het in die Evangelies.In die geskiedenis is dit dan die ware Israel, uit Israel, waarop die ekklesia gebou is, die twaalf. Dit is die ware Israel, deur Christus.

Die volk is gebou op Christus, die verworpe steen. Uit Israel het die eerste lae gekom, deur die apostels, tot by Stefanus. Dan het ons die finaleverwerping. Maar dan het ons ook die vergadering van die eerstelinge, die oorblyfsel van Israel. En selfs Paulus gaan ook nog altyd eers weer (in sy sendingwerk) na die Jode toe, na die sinagoge toe, om hulle toe te bring.

Jerusalem
En dan nog ‘n enkele feit: hoedat aan Jerusalem vasgehou is. Die Here Jesus het altyd verder en verder be­weeg van Jerusalem, soos die volk Hom verwerp het. Die lyn van die openbaringsgeskiedenis loop weg van Jerusalem, tot op ‘n sekere punt. Maar dan gaan dit weer na Jerusalem toe. Jerusalem bly die middelpunt. Jesus het sy rug nie gedraai vir Jerusalem nie. Die pad is nie weg van Jerusalem af nie. Dis terug na Jerusalem.Ek moet hier wys op die woordjie kai (en) wat daar in Matt.16:21 staan: Dat hy na Jerusalem moet gaan, nie om te gaan sterf nie – dit was nie die deel van sy Jerusalemse reis dat hulle Hom moet kruisig nie; daar staan nie “om te” nie, daar staan “en” (konsekutief) – Die Here Jesus het geweet wat die gevolge van sy gaan na Jeru­salem sou wees. Maar hy het nie gegaan om wat die ge­volg sou wees, sy doel te maak nie. Dit was die gevolg. Maar Hy moes gaan. En waarom moes Hy gaan? Hy het na Jerusalem gegaan om daardie volk nog vir laas – die hele volk met sy leiers, op daardie paasfees – nog tot die uiterste toe, tot bekering te roep. Ons lees dat Jesus geween het oor Jerusalem, en oor sy volk.

Na die opstanding moet die dissipels ook weer na Jerusalem toe, te midde van al die gevare; na Jerusa­lem, na die sentrum van die volk. Jesus stuur hulle te­rug na Jerusalem om daar te wag vir die koms van die Koninkryk en die uitstorting van die Heilige Gees. Die dissipels se opdrag was ook nie maar net om (verstrooi­de) indiwidue bymekaar te maak nie, maar hulle moes na hulle volk gaan. Dit het gegaan om die volk.

Handelinge
Waarom het dit gegaan by die eerste vervolginge soos beskryf in Handelinge?
Dit het gegaan om hierdie kardinale vraag: Wie is die volk? Wie is die voortset­ting van die volk? Dit was die stryd. Dit was die diepte van die vyandskap. Dit was die offisiële leiers teen die kerk. En die vraag was: Wie is die ware Israel? En dit het gelei tot die finale verwerping van die offisiële Israel, maar intussen is die ware Israel vergader. Ook wat Israel betref, is die kerk die voortsetting van die volk van Israel in hulle gelowiges.En dit bring my by die tweede opmerking in ver­band met die opstandingsbevel: “Gaan heen, maak dis­sipels van die nasies.”

Dit kom hierop neer: Wat met Israel gebeur het, moet nou ook in elke nasie gebeur. Die kruis moet geplant word in elke nasie, want die verbond met Abraham geld nie alleen hom en sy nageslagte nie (Gen.17:7); dit geld ook nie net Abra­ham en alle geslagte nie (Gen.12:3); nee, dit geld alle nasies (Gen. 22:18). En daarom moet elke nasie voor die feit van Christus gestel word deur die Evan­gelieverkondiging, en moet uit elke nasie die wat aan God behoort,vergader word, en so uit elke nasie sy gelowiges toegebring word. Die geskiedenis van Is­rael is ook ‘n voorbeeld vir elke nasie: Christus, ge­stel tot ‘n val en opstanding, nie net vir Israel nie, maar vir elke nasie.E. Stauffer sê: elke volk neem op eie wyse aan­stoot teen die kruis.Elke volk het sy eie voorbehoude teen die woord van die kruis (ons Afrikaanse volk ook), en elke volk moet op sy eie wyse deur die krisis gaan. Die Jode het hulle aanstoot geneem: hulle wou krag sien. Die Grieke het hulle aanstoot geneem: hulle wou wysheid sien. En so het elke nasie dit wat hom voorbehoude gee, en elke volk het sy spesifieke “nee” vir Christus (opmerking: en wat is die Afrikanervolk se ‘nee’vir Christus? – SLC).

En elke volk kruisig Jesus op eie wyse, en dit is wan­neer daar gekies moet word tussen selfverheerliking en die kruis van Christus.So het elke volk ook sy “ja” vir Christus in sy gelowiges. En so kom elke volk tot ‘n val, en kom elke volk tot ‘n opstanding in sy gelowiges in Christus Jesus. In verband met Handelinge wil ek nou nog net wys op die bekende doopbevel (2:39):”Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep”. Ons het hier te doen met die eerste bekeerdes.

En die eerste bekeerdes is uit die volk Israel. En nou moet ons onthou dat dit nie maar ‘n algemene uitspraak is nie, maar ‘n uitspraak aan ‘n bepaalde adres, en dit is naamlik daardie deel van die volk Israel wat tot die geloof gekom het. Aan hulle sê Petrus nou, aan hulle (die gelowiges) in wie Israel hom voortsit: “Want aan julle kom die belofte toe en julle kinders.” Dus, die belofte aan Israel word nou gekonsentreer op hierdie oorblyfsel. En as ons eenmaal ingesien het dat dit met alle nasies so gaan soos dit met Israel gaan, dan is die belofte aan Abraham (dat in sy saad alle nasies geseën sal word) net so van toepassing op die gelowiges uit elke volk.

(opmerking: As God sy belofte van verlossing en die ewige lewe maak in Christus, dan openbaar en bedien Hy dit aan die volk in sy geheel, maar – dit geld net vir en behoort net aan- die gelowiges in die volk, want hulle, die gelowiges, en hulle alleen is waarlik Israel: “6 MAAR ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israelis nie. 7 Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. 8 Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.” – Romeine 9. Prof. Snyman, wat die kommentaar op die boek Romeine in die driedelige ‘Bybel met verklarende aantekeninge’ gedoen het, se verklarende aantekeninge by hierdie verse is as volg: “nie almal … Israel nie: wat die seën ontvang het, Gen.32:24 v., is nie almal die ware Israel nie. uit Israel is: wat na die vlees van Jakob afstam. Die volk bestaan alleen voort in die gelowige deel, Matt.3:10. Vir hulle alleen is die belofte bedoel. [7] kinders nie: kinders van God, vgl. v.4,8. Kindskap en ‘nageslag’ val nie saam nie, 4:12, vgl. Matt.3:9 In Isak…. genoem word: God het dit self gesê, Gen. 21:12. [8] kinders van die belofte: gebore uit die belofte, Gal.4:23, d.i. op bonatuurlike wyse, hoewel in aansluiting aan die natuurlike, 4:1,3, soos ook die geval is met diegelowiges, Joh. 1: 13. Op hulle is die beloftes van toepassing, Gal.4: 28. … kon bly staan: teenoor ,,verval”, v. 6. So het God self gesorg vir die onwankelbaar­heid van Sy verbond en woorde, vgl. 4:16.” (deel III: NT, p.425)
Dus, alhoewel die verbond kollektief aan almal bedien word, is die belofte van die verbond slegs vir die gelowiges, ‘die kinders van die belofte’.” Ten einde is die gelowiges die nageslag van Abraham, die ware Israel, en nie elkeen wat kop vir kop besny (OT) of gedoop (NT) is nie. So geld dit ook vir al die volke waar die kerk van Jesus Christus geplant word. – SLC]

Vervolgens Hand.3:23. Hier sluit Petrus in sy prediking direk aan by wat ons geleer het in verband met Johannes die Doper.”En elke siel wat nie na die Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word.”Wie is die volk?Die volk is die volk Israel.Dis nie ‘n geestelike volk sonder meer nie. Hy sal uit die volk uitgeroei word. Dis net soos Johannes die Doper gespreek het: Die kring word nou getrek binne die volk, en die ware volk word voortgesit in die gelowiges uit Israel.Hand.15:14: “Simeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir ­sy volk aan te neem.”” ‘n Volk”, (laos) dit is die naam wat Israel gedra het. God het vir Hom ‘n volk (laos) uit die heidene (nasies) vir sy Naam aangeneem. Hier word nou dikwels aansluiting gevind vir die gedagte dat die volk van God net uit die geestelike volk bestaan, en dat die geestelike volk losgemaak word van die nasies uit wie hulle uitgeneem word.

Ons moet net ‘n paar verse verder lees, ook ‘n aanhallng deur Simeon uit die profete:”Sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand.15:17).Met ander woorde, in elke volk gebeur wat in Israel gebeur: die uitverkorenes word vergader, en hulle ver­teenwoordig die nasies uit wie hulle uitgeneem is.RomeineNou nog ‘n paar opmerkings in verband met Romeine.

Romeine
Ons kan die kwessie van volk en kerk nie bespreek as ons nie ook stilstaan by Rom. 9 – 11 nie. Dit is hoofstukke wat ‘n hele referaat op sigself sou vereis, maar ek konsentreer op Rom.11:1; die vers trek die hele Romeine 9 tot 11 saam:”Het God miskien sy volk (die volk Israel -W.J.S.) verstoot? Nee, stellig nie!”Waarom nie?”Want ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.”Kyk nou watter geweldige aanspraak die apostel Pau­lus in sy persoon doen.

Het God sy volk verstoot? Hoe­genaamd nie, “Want ek is ‘n Israeliet”. As die apostel Paulus dit sê, dan kom dit op die volgende neer: In my bestaan die volk Israel voort. Hy, ‘n gelowige uit Israel, (uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin) is die bewys dat God sy volk nie ver­stoot het nie. In die gelowige word die volk voortgesit.En dan herinner Paulus ook aan die oorblyfsel, die sewe duisend, in die dae van Elia, wat hulle knieë vir die Baäl nie gebuig het nie (11:4). Natuurlik het Paulus geweet hy is nie alleen nie. Hy het geweet daar is nog duisende wat op hierdie tydstip uit Israel ook tot die geloof gekom het, en in wie die volk Israel hom voortsit.Dan wil ek nog graag wys op Rom.15. Daar het ons te doen met die hele kwessie in die gemeente van Rome – gelowiges uit die Jode en gelowiges uit die nasies (heidene). Paulus pleit dat hulle mekaar moet aan­neem, omdat God hulle aangeneem het uit die Jode, uit die heidene.

Hy pleit ook dat die gelowiges uit die Jode tog die gawes, wat hy versamel het uit die hei­dene,mag aanneem.Dus: mekaar se gawes aanneem, mekaar aanneem. En dan kom Rom.15:9-12. Daar wys Paulus op Christus wat gekom het vir Israel, en vir die nasies (die ethnê) ter vervulling van die Skrifte. En dan sê hy eers: die etnê (nasies) sal U loof en psalmsing. En dan sê hy: Die etnê (nasies) sal U loof saam met die laos (volk) van God, (die naam vir Israel). En dan sê hy: Prys die Here,alle nasies (panta ta etnê) -en, parallel daarmee: Prys die Here, alle volke. Met ander woorde laos, wat die naam was vir Israel, word nou ook van toepassing op die heidene, en wel in hulle gelowiges wat nou ook saam, uit alle nasies, die een groot laos (volk) van God vorm.

Dit is ook weer ‘n be­wys dat ons in verband met Hand.15 ons dit nie vir ons so moet voorstel asof God vir Hom nou een volk ver­samel as ‘n geestelike gemeenskap, los van die natuur­like gemeenskap nie.GalasiërsUit die briewe van Paulus wys ek tog op die brief aan die Galasiërs, en daaruit slegs op die merkwaardige uitspraak:,,En mag daar vrede en barmhartigheid wees our almal wat sal wandel volgens hierdie reel, en oor die Israel van God”. (Gal.6:16).Wat die eksegese betref, verwys ek u net na Ridderbos se Engelse kommentaar our Galasiërs, om te sien in watter moeilikheid ‘n eksegeet kom as hy daardie gedagte hier wil vind dat die Israel van God sonder meer van toepassing is op die geestelike Israel. Die “en” wat Paulus in die vers gebruik, is belangrik. Hy wis dus nie die verskil uit tussen die gelowiges uit die nasies nie. Die “Israel van God”, die volk van God, wis die verskille nie uit nie.EfesiërsTen slotte wil ek tog kom by Efesiërs 3, en daar­vandaan wil ek sommer maar die lyn deurtrek na Openbaring.Efesiërs is daar vol van. Hier gaan dit oor die universaliteit van die kerk.Maar ek wil U wys op Ef. 3 wat eindig met daardie gebed van Paulus.Eers Ef.3:3-6: Hier spreek die apostel Paulus van die groot verborgenheid. Wat is die groot verbor­genheid? Dat die nasies (heidene) mede-erfgename, mede-lede en mededeelgenote is van die belofte in Christus, van die verbond. (Dit slaan natuurlik terug op die belofte aan Abraham). Dit is iets nuuts in die geskiedenis. Dit is iets wat tog nooit bekend was aan die mense nie. Wel die daád. Maar hoe om al hierdie nasies weer bymekaar te kry, en saam tebring – dit was ‘n verborgenheid wat niemand kon uitvind nie, wat niemand kon uitdink nie, wat God uitgedink het.Wat is die verborgenheid?

Efese is die lied aan die kerk. En nou toon Paulus die kerk die groot verborgen­heid. Die kerk is nie ‘n godsdiens-historiese ontwikke­ling nie. Die kerk is nie ‘n menslike ontwikkeling nie. Die kerk is ‘n Godsgeheimenis, iets wat in sy raad be­kend was, wat Hy alleen geweet het, en wat Hy aan Paulbus geopenbaar het op ‘n heel besondere wyse. En wat is die verborgenheid soos dit geopenbaar is? Dat God ‘n weg het tot vereniging van Jode en heidene, van na­sies. Dat God die nasies, die volke, verenig deur sy eniggebore Seun, langs die weg van die kruis.Ek vra weer: Wie is die etnê? Grosheide sê dis die heiden-christene (maar dit is nie so nie). Die verborgenheid is seker, nie dat die christene uit die heidene (nasies) deelgenote is nie, maar dat in die christene uit die nasies die nasies deelgenote word aan die belofte in Christus.Dit bring ons dan by Ef.3:9-11. Die kerk is die verborgenheid. Dit is die Godsgeheimenis wat in Sy raadsplan verborge was, wat niemand kon uitvind nie. En hierdie geheimenis is ‘n skeppingsgeheim (Paulus praat hier van God die Skepper).

Dit is die groot ge­heimenis van die geskiedenis, wat nou nie meer ‘n ver­borgenheid is nie. Dit is die eenheid van die mensheid in Christus, in die gelowiges, teenoor die verbrokkeling van die mensheid. Die oplossing (van die geskiedenis) van die toekoms van die mensheid is nie volksverdeling nie. Babel is nie die laaste woord nie. Die laaste woord van die geskiedenisis die vereniging van volke in die huishouding van die genade.Hier is ongelukkig ‘n vertaling wat baie verwarrend is. As Paulus in Ef.3:9 sê: “En vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgen­heid…” dan moet dit eintlik wees: “die ekonomie” van die verborgenheid, “die inrigting” van die ver­borgenheid. Met ander woorde, hoe is dit saamgestel?Hoe is dit ingerig?Die antwoord is dat in hulle gelowi­ges al die nasies weer een word in Christus.En dan sê hy dat in die kerk die veelkleurige ryk­dom van God geopenbaar is. Dit is pluriformiteit. Al daardie ander opvattings van pluriformiteit is mislei­dend. Daar is net een pluriformiteit, en dit is dat God aangeroep word uit die verskillende volkere en nasies in Christus Jesus.

Met ander woorde, dat almal in Christus weer verenig is en dat jy die verskeidenbeid van nasies het in Christus, en dit is die veelkleurige rykdom van Christus wat in sy kerk geopenbaar is.En dan die gebed in Ef.3:14 v.v.: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus van wie elke geslag in die hemele en op die aarde Sy naam ontvang.””Voor die Vader” (pater) “van wie elke patria .” “Elke geslag.” Hier verskil ek met groot leedwese van die eksegese van Calvyn, want Calvyn is ook nie onfeilbaar nie. Ons het vandag ‘n teks voor ons wat Calvyn nie gehad het nie. Calvyn laat die patria sien op die geestelike familie in Christus, en dan sê hy (op grond van hierdie teks): Daar is maar net een verwantskap wat tel in die hemel en op die aarde, en dis die geestelike. Ons lesing wat ons vandag het (en dis die beste lesing) lui: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader (met weglating van “onse Here Jesus Chris­tus”) van wie elke patria genoem word..” Dit kom hierop neer dat ons die samestelling van die mensheid – ons kan dit nie in Afrikaans uitdruk nie – as “paternal” sien, vaderlik, met natuurlike afkoms.

Hier leer die Bybel vir ons weer die verwantskap van alle mense soos in Hand.17:26; en dat God die prototipe is van die hele vaderlike samestelling van die mens­heid; en dat alle mense so saamgebind is in afkoms in vader en kind. In Grieks word dit hier patria ge­noem omdat God pater heet. Met ander woorde, ons het ‘n refleks van die Vaderskap van God in die ganse skepping. Ons het almal een vader, en dit is Adam. Die menslike geslag is een groot familie. Wat word gered? Nie los mense nie, maar die menslike familie, die menslike patria. Ons het hier dus ‘n verbinding van skepping en verlossing.

Ons het hier ‘n verbinding van die kerk en die menslike geslag.In Christus is die patria verlos, families, geslagte, volke, en die hele mensheid in sy organiese ontwikkeling. Wat ver­lore gaan, is die afgekapte takke van die menslike geslag.

En so aanbid Paulus hier, as Jood, saam met al die nasies, in hulle gelowiges, die pater van alle patriai. En hy sien in die gelowiges die redding van nasies, geslagte en stamme.Nou die konklusie uit Efesiërs(1) Vereenselwiging van kerk met volk, en gevolglik opbreking van die kerk in volks­kerke enersyds, en losmaking van die kerk van die volk andersyds, beteken aantasting van hierdie verborgenheid, hierdie Godsge­heim van die kerk, die verbinding van vol­kere in hulle gelowiges: Die antwoord op die valse eenheid van Babel.(2) Nêrens in die Bybel word vir ons geleer dat in die geskiedenis geen nuwe volkere ge­bore mag word uit bestaande volkere nie. Dit gaan om die motief. Uitwissing van volks­grense, met die doel om daardeur op hierdie wyse die eenheid van die mensheid teweeg te bring … dit is verkeerd. Dit is sonde. Dit is miskenning van die verborgenheid, die ge­heim van God wat Hy vir Homself voorbehou het om op sy wyse die mensheid weer een te maak in Christus.

Ons mag dus nie standpunt inneem teen die vereniging, die eenheid van volkere nie – dit is ‘n valse teëstelling (naamlik eenheid of veelheid). Dit gaan hier om die ware eenheid in Christus, teenoor die valse eenheid wat op menslike wyse tot stand gebring moet word deur ‘n kunsmatige uitwissing van grense.OpenbaringTrouens, die groot verborgenheid het tot stand gekom in Christus, en die eenheid is al daar in die gelowiges uit alle volkere wat verbind is met Christus, en ook deur die Heilige Gees. En die groot verborgenheid sal nie van onder af opgebou word nie.

Openbaring
Die groot verborgenheid sal ons voltooid sien neerdaal uit die hemel van God, in Openb.21 beskrywe in sy veelkleurigheid. So word die stad die nuwe Jerusalem, beskrywe … in sy veelkleurigheid. En daardie veelkleurigheid van Openb. 21 en die verborgenheid van Openb. 21 wat voltooid uit die hemel sal neerdaal, staan teenoor die verborgenheid waarvan ons lees in Open.17:5: Die verborgenheid van die ander vrou. In Openb. 21 is die verborgenheid van die bruid van Christus. In Openb.17:5 die ver­borgenheid van die hoer – die is eenkleurig.

Opmerklik genoeg, eenkleurig rooi, en dit is juis in die teken van die kleur rooi dat daar vandag ook gestrewe word na ‘n eenheid van die mensheid. Dit is die Babelse eenheid wat al probeer is in Genesis, en versteur is, en wat telkens in die geskiedenis probeer is, waarop hierdie geskiedenis uitloop, maar wat weer versteur sal word, sodat die nuwe Jerusalem sal neerdaal in sy veelkleurigheid. En so lees ons in Openbaring ook in die laaste hoofstukke, van die verlostes, van hierdie natuurlike geledinge van die menslike geslag. Openb.5:9:”Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met U bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie.”En die groot skare wat Johannes gesien het, die groot menigte, is ook uit alle tale en volkere en nasies vergader. Sien Openb.7: Daar word eers genoem die verseëldes uit die verskillende stamme van Israel; Israel uit al sy stamme, en geslagte, op die nuwe aarde, om sy erfdeel te ontvang. En dan die groot menigte uit alle nasies en stamme en volke en tale – hulle het gestaan voor die troon van God en van die Lam.

En dit eindig in Openb. 21 daarmee dat die nasies daar sal ingaan:”En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.” (Openb.21:24).Elke nasie sal sy bydrae doen. Is dit nou ‘n enerse, geestelike, eenvormige mensheid? Nee. Op die nuwe aarde sal wees die mensheid soos hy gegroei het in sy verskeidenhede, die nasies in hulle gelowiges daar verteenwoordig.

Want ons glo per slot van rekening nie net aan die onsterflikheid van die siel nie, maar ons glo ook aan die opstanding van die liggaam, en daardie liggaam verbind, tot in alle ewigheid, met ons aardse afstamming.
__________________________________________________

Sien ook die volgende boeke oor die kwessie van die verhouding tussen:
– “Kerk en Volk”: JC Coetzee, Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament.
– “Eenheid en Verskeidenheid”: RJ Rushdoony, The One and the Many & Foundations of Social Order.


Responses

  1. […] https://proregno.wordpress.com/2008/06/02/kerk-en-volk-prof-wj-snyman/ […]

  2. […] Kerk en volk […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: