GELOOF IN CHRISTUS JESUS DIE SLEUTEL OM DIE VERHOUDING TUSSEN OT EN NT REG TE VERSTAAN

GELOOF IN CHRISTUS JESUS DIE SLEUTEL OM DIE VERHOUDING TUSSEN OT EN NT REG TE VERSTAAN*

deur prof. L Floor**

Paulus se oordeel oor Timotheüs se verlede

‘n Bevestiging van wat hierbo opgemerk is, kry ons in die woorde wat Paulus oor sy helper Timotheüs uitspreek. Dit is opvallend op watter positiewe manier Paulus oor Timotheüs se jeug en opvoeding praat. In 2 Tim. 1 : 5 noem die apostel die naam van Timotheüs se moeder en sy grootmoeder, Eunice en Loïs. Die moeder en grootmoeder van Timotheüs was nie Christenvrouens nie, maar gelowige Joodse moeders wat hulle seun en kleinseun opgevoed het in die heilige Joodse tradisie.

Paulus wil egter nie van ‘n teenstelling tussen die geloof van Timotheüs en die geloof van sy moeder en grootmoeder weet nie. Veeleer tipeer Paulus Timotheüs se geloof as die volle ontplooiing van die Joodse geloof van sy moeder en grootmoeder. Paulus sien by hierdie Joodse helper van hom die vervulling van die Ou-Testamentiese geloof van die moeders. Om hierdie rede kan Paulus Timotheüs se opvoeding so positief waardeer as hy skrywe: „Maar bly in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim. 3 : 14 en 15).

Timotheüs het van sy moeder en grootmoeder die 0u Testament geleer. Daar is nie ‘n teenstelling tussen dit wat Timotheüs by sy moeder en grootmoeder en dit wat hy by Paulus geleer het nie. Alleen is dit Jesus Christus wat leer om die 0u Testament in die regte lig te sien. En daarom sê Paulus met nadruk nog daarby: deur die geloof in Christus Jesus. Die geloof in Christus Jesus is die sleutel om die 0u Testament op die regte manier te verstaan.

Daarom was dit vir Timotheüs ook nodig om naas die onderwys wat hy tuis gekry het, tot bekering en geloof in Jesus te kom. Deur sy geloof in Jesus Christus het Timotheùs se geloof eers tot volle ontplooiing en vervulling gekom.

Hoe Calvyn hierdie lyn van Paulus deurtrek

Vanaf Marcion tot vandag toe ontmoet ons mense wat van hierdie kontinuïteit ten opsigte van die 0u Testament soos ons dit by Paulus gevind het, niks wil weet nie. Daar is ‘n prinsipiële onoorbrugbare kloof tussen die 0u Testament en die Nuwe Testament. Dit is egter in stryd met die Heilige Skrif self.

Teenoor sommige wederdopers en Servet toon Calvyn aan dat daar vir die volk van God van alle tye altyd slegs een reël van religie en vroomheid gewees het. Volgens Calvyn verskil die verbond met die vaders in die 0u Testament in wese nie met die verbond wat Hy met ons gesluit het nie. Dit is dieselfde verbond. Daar is slegs ‘n onderskeid in die bediening.

En dan gee die hervormer drie redes waaruit blyk dat daar nie ‘n wesenlike verskil is tussen die 0u Testament en die Nuwe Testament nie.

Ten eerste was die Jode, soos ons, uitverkies tot dieselfde hoop van die onsterflikheid.

Ten tweede het hulle, soos ons, nie deur eie verdienste nie, maar net deur God se barmhartigheid die versoening met God ontvang.

En ten derde het hulle soos ons ook die Middelaar Jesus Christus geken deur Wie hulle, soos ons, met God verenig geword het en sy beloftes ontvang het.

Met uitvoerige verwysings na die 0u Testament gaan Calvyn hierdie drie stellings dan uit die Bybel bewys (Insitusies, deel 2, hoofstuk 10).

Die geloof in die 0u Testament was nie van ‘n ander struktuur as die geloof in die Nuwe Testament nie. Abraham het na die dag van Christus verlang (Joh. 8: 56) en die Jode het geestelike spys geëet en geestelike drank gedrink (1 Kor. 10 : 3 en 4).

Die kerkvader Augustinus het die kontinuïteit tussen 0u en Nuwe Testament so pragtig tot uitdrukking gebring met die woorde: Vetus Testamentum in Novo patet; Novum Testamentum in Vetere latet, die 0u Testament is in die Nuwe geopen en die Nuwe Testament is in die 0u Testament verborge.

Net geloof in Christus is nodig om die eenheid en onverbreeklike band te kan sien.

*(Bron: L. Floor, Mense rondom Paulus, bl. 80-81. Hoof opskrif asook beklemtonings bygevoeg)

___________________________________________________

Sien ook die volgende van prof. Floor: Die koninkryk van God en die aardse ryke.

**Prof. Floor was professor in NT aan die Teologiese Skool Potchefstroom (1978-1988).  Meer van prof. Floor se boeke en artikels aanlyn hier beskikbaar, asook hardekopie boeke by Pro Regno Boeke.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: