“DIE YWER VIR U HUIS”
Kort nabetragting op die Eeufees van die Gereformeerde Kerk in S.A. (1859-1959)
deur prof. dr. S. Du Toit (1905-1982)
Inleiding – S. Le Cornu
Die lesing van prof. Fanus, soos hy bekend was, is nog net so aktueel as 82 jaar gelede, mag alle gelowiges en gemeentes orals bemoedig en vermaan word daardeur, om opnuut vas te staan in die geloof wat aan ons oorgelewer is, ook vir ons tye en toekoms. Prof. Fanus se vader, die bekende Totius, het 50 jaar vroeër ‘n soortgelyke nabetragting gehou, met die halwe eeu feesvieringe van die GKSA (1909), wat u gerus ook kan lees: Roeping en Toekoms. Dit is duidelik dat die seun voortbou op sy vader se treffende boodskap (Hebr. 13:7).
Prof. Fanus se boodskap vermaan en spoor ons aan, in die volgende 7 sake ook vir ons tye en toekoms:
1. dat ons ‘n vrye kerk is, nie ‘n staatskerk nie, vry om God te aanbid, nie die staat nie, die Here is ons Verlosser, nie die staat nie, ‘n boodskap wat baie kerke en gelowiges moet hoor midde die covid-tye (Hand. 4:12; 17:10).
2. die oproep tot bekering is die taal van die gereformeerde prediker en kerke: daar is geen strydigheid tussen die uitverkiesing- en verbondsleer aan die eenkant en die tydige en ontydige oproep tot geloof en bekering aan die anderkant nie, dit moet albei geleer en gepreek word, orals, maar veral ook in die kerke (Hand. 13:44-52).
3. dat die besondere ampte en die amp van gelowige in sy volheid moet reformeer en funksioneer in ons kerke, ons mag nie ‘predikantekerke’ wees nie (Rom. 12:1-8).
4. in die amp van gelowige, moet die Koningsheerskappy van Christus op elke terrein van die lewe uitgedra word (1 Kor. 10:31).
5. ons moet albei uiterstes vermy, om so die wêreld te wil verander dat ons ons gesinslewens afskeep, of so met ons eie dinge besig te wees, dat ons vergeet om die Woord orals uit te dra (Matt. 5:13-16).
6. die enigste bron vir die ywer vir die huis van die Here: geloof in ons Here Jesus Christus (Rom. 12:11).
7. ‘n Treffende aanhaling (daar is baie meer), waarmee ons as vaders voortdurend besig moet wees, saam al ons ander take, deur die Here se genade wat ons help:
“Die predikant digter Okke Jager het hier ‘n woord gespreek wat ons gedurig moet by bly: ‘Nie alleen die vader wat ‘n belangrike plek in die samelewing inneem, dien die Here nie, maar ook die vader wat met sy kind wegkruipertjie speel.’ En as dit geld van die vader, hoeveel te meer van die moeder, wat tog in die eerste plek huisvrou en moeder is.”
Die paar voetnotas is my opmerkings.
________________________________________________________
WOORD VOORAF
Hierdie tydrede is bedoel as ‘n kort nabetragting op die eeufeesviering van die Gereformeerde Kerk en ‘n aanvulling by die eeufeesrede van ondergetekende, waarin die reformatoriese taak in die hede weens gebrek aan tyd nie behandel kon word nie. Op versoek van ‘n aantal lidmate word dit in druk besorg, in die vertroue dat dit van betekenis kan wees vir die uitbreiding van die koninkryk van God. Die belangstellende leser word verder verwys na die gepubliseerde lesings en toesprake wat tydens die eeufees op Rustenburg gehou is. My hartlike dank aan Pro Rege-Pers Beperk vir die uitgawe.
S. du Toit.
Potchefstroom, Junie 1959.
Psalm 69:2-10
Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom. 3. Ek sink in grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my. 4. Ek is moeg van my geroep, my keel brand, my oë versmag terwyl ek wag op my God. 5. Die wat my sonder oorsaak haat, is meer as die hare van my hoof; die wat klaar staan om my te vernietig, wat sonder grond my vyande is, is magtig; wat ek nie geroof het nie, moet ek dan teruggee. 6. O God, U weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie. 7. Laat die wat U verwag, deur my nie beskaamd staan nie, o Here, HERE van die leërskare! Laat die wat U soek, deur my nie in die skande kom nie, o God van Israel! 8. Want om U ontwil dra ek smaad, bedek skande my aangesig. 9. Vreemd het ek vir my broers geword en ‘n onbekende vir die seuns van my moeder. 10. Want die ywer vir U huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad het op my geval.
Johannes 2:13-22
En die pasga van die Jode was naby, en Jesus het opgegaan na Jerusalem. 14. En Hy het in die tempel gevind die wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldwisselaars wat daar sit. 15. Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste en die kleingeld van die wisselaars het hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. 16. En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ‘n handelshuis maak nie. 17. En sy dissipels het onthou dat daar geskrywe is: Die ywer vir u huis het my verteer. 18. Toe antwoord die Jode en sê vir Hom: Watter teken toon U aan ons, dat U hierdie dinge doen? 19. Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig. 20. En die Jode sê: Ses-en-veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig? 21. Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek. 22. En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.
“Want die ywer vir u huis het my verteer …” Psalm 69:10; Joh. 2:17.
FEESJAAR
So pas het ons eeufees gevier — onvergeetlike dae op Rustenburg! Blydskap in die Here dat Hy ons in sy genade gegee het ‘n vrye Gereformeerde Kerk, vry van die staatsmag en vry van ‘n hiërargie wat die gewetens probeer verkneg.1) Die Here het ons veel meer gegee as wat ons ooit verwag het. Niemand sou so ‘n groot aantal feesgangers voorspel het nie. Daar het ‘n trilling in ons hart geroer wat geen mens sal kan verklaar nie. Ons was waarlik op berghoogtes.
DIE WERKLIKHEID
Maar nou kom die harde werklikheid. Ons gaan ‘n tweede eeu binne, en van alle kante hoor ons dat die eersvolgende jare krisisjare vir die Westerse beskawing, vir die blanke, vir die Afrikaanse volk en dus ook vir die Kerk van Christus, dus ook vir die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gaan wees. Die kreet van die gekleurdes op ons groot vasteland is: Die blanke moet weg uit Afrika! En onheilsprofete voorspel ‘n donker vasteland.2)
ROEPING EN TAAK
Met die oog op God gerig moet ons volk, moet ook die Gereformeerde Kerk die onbekende toekoms in, ‘n toekoms wat ons met gerustheid in die Hand van onse Here kan laat. Vir ons bly daar die dagbevel: om Kerk van Christus te wees, in die volle en ryke sin van hierdie woord. Om dit te kan wees sal ook ‘n Gereformeerde Kerk gedurig moet reformeer. Ons vaders het dit in die Latyn so mooi gesê: Ecclesia reformata, semper reformanda: ‘n gereformeerde kerk wat altyd moet reformeer.
REFORMASIE IN DIE LEWE
Aan die Bybel val daar hoegenaamd niks te hervorm nie. Daaraan kan nie af- of toegedoen word nie. Dit is die onfeilbare Woord van God vir alle geslagte en tye. Dit is ons vaste fondament.
Wat ons Belydenis betref, meer in besonder die Drie Formuliere van Eenheid — dit is opgestel deur mense en deur die Gereformeerde Kerke aanvaar omdat dit in ooreenstemming met Gods Woord is.3) Die eerbaarheid van ‘n jong dame word nie betwyfel nie. Ons uitgangspunt is dat daar op haar geen blaam rus nie, totdat die teendeel onteenseglik bewys is. So staan ons nie gedurig krities teenoor ons heerlike Belydenis nie. As mense beswaar het, moet hulle die besware aan die kerklike vergaderinge kenbaar maak. Maar ons hou vas aan die Belydenis totdat die onhoudbaarheid voor die bevoegde kerklike vergaderinge bewys is. Daar is geen sprake van ‘n gedurige hersiening nie.
Die groot vraag is egter: Hoe staan dit met die toepassing en uitlewing van hierdie heerlike beginsels, hoe staan dit met ons lewe, kerklik, huislik, persoonlik?
Kan dit nie miskien van ons gesê word dat ons die naam het dat ons lewe en dat ons tog dood is nie? ‘n Kerk wat weier om die soeklig van die Woord van God in hart en lewe te laat val, is ’n dooie Kerk, is die naam Gereformeerde Kerk nie waardig nie. Die suiwere nabetragting sal gedurige selfondersoek wees.
DIE GROOT HERVORMINGSDAAD
Met die oog hierop wys ons u op die groot hervormingsdaad van ons Here Jesus Christus, volgens die kerkvader Hiëronymus sy grootste daad gedurende sy omwandeling op aarde. En dan dink ons meteens aan die woord van die apostel Paulus (hoewel dit in ‘n ander verband gebruik is): Hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was (Fil. 2:5).
Die tempelreiniging, soos beskrywe in Joh. 2, vind plaas aan die begin van die openbare ampsbediening van Christus en — merkwaardig — hierdie begin is in die tempel, in die “huis van sy Vader.”
Dit is paasfees; en saam met die duisende pelgrims wat van alle kante na Jerusalem optrek, gaan ook die ware Paaslam, die Lam van God, om deel te neem aan die fees waar die paaslam simbolies geslag word.
Maar daar moet nog iets meer gebeur. Daar moet nog vervul word wat Maleagi geprofeteer het. As sy tydgenote vra: Waar is die God van die reg, dan antwoord die profeet in die Naam van die Here: Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare. Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers (Mal. 3:1, 2).
En as die boodskapper van wie Maleagi gespreek het, werklik daar is, spreek hy die vurige woorde uit: Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.
DIE TEMPEL ‘N HANDELSHUIS
In die tempel, meer bepaald in die sogenoemde “voorhof van die heidene”, waar ook onbesnedenes mog kom, vind Jesus ‘n toestand wat indruis teen die heiligheid van die huis van die Here. Hier word osse, skape en duiwe, na behoorlike ondersoek met die oog op moontlike gebreke wat hulle as offerdiere ongeskik maak, verkoop aan die pelgrims wat van ver kom en die diere nie oor die hele afstand kan meebring nie.
Hier is ook die tafels van die wisselaars wat die vreemde geld inwissel vir die gewyde geld waarin die jaarlikse hoofbelasting aan die tempel betaal moes word.
Met die eerste oogopslag sou ons sê: Wat is hierin verkeerd? Dit is tog uiters gerieflik vir die Jode en Jodegenote wat van ver kom. As die toorn van die Lam ontvlam in ‘n verterende gloed, kan ons egter baie seker wees dat daar iets gedoen word wat met die heiligheid van die huis van die Here lynreg in stryd is. Ons moet Jesus glo as Hy sê:
Julle het die huis van my Vader ‘n handelshuis gemaak!
Ons kan veilig aanneem dat allerlei wanpraktyke ingesluip het, dat die hele atmosfeer dié van ‘n Oosterse basaar was, die drukte en geskreeu waarvan nie pas by die atmosfeer wat in die tempel moet heers nie. Soos gewoonlik het daar seker ook ‘n grootskaalse swendelary plaasgevind, sodat pelgrims veels te veel moes betaal vir die diere en die kommissie op die ingeruilde geld buitensporig hoog was. Al met al, was hier drastiese reformasie nodig.
“YWER VIR U HUIS”
Die Seun van die Vader kon hierdie toestand in die huis van die Vader nie duld nie: Dadelik ontvlam sy toorn en sonder om ‘n woord te spreek tree Hy op as ‘n chirurg wat die operasiemes diep laat insny. Stokke en wapens mog nie in die tempelgebied gebring word nie. Daarom maak Hy ‘n sweep van die toutjies waarmee waarskynlik die diere vasgemaak was. Voorwaar geen gedugte wapen nie, maar dit was ook nie nodig nie. Dit is meer ‘n simbool van die gesag van Christus, waarmee Hy hulle so imponeer dat hulle nie die minste weerstand bied nie. Hy dryf almal uit die tempel uit, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer.
Ons kan ons die konsternasie voorstel wat op hierdie daad gevolg het. Ons kan in die gees die handelaars sien wat krampagtig aan hul tafels vasklem of wat op die grond soek na die geld wat tog so dierbaar is. Ons kan ons die gestommel voorstel as mens en dier halsoorkop probeer wegvlug voor die majesteit van Hom wie se heerlikheid ook hulle moes erken.
Die kern van die saak word gevind in die woorde wat Jesus aan die duiweverkopers rig: Neem hierdie dinge hier weg! Dit is reformasie: ‘n daad van alleen staan, van heilige moed in die bewussyn: Ek kan nie anders nie!4)
YWER WAT VERTEER
Geen wonder dus dat die dissipels aan die woorde van Psalm 69 dink nie: Want die ywer vir u huis het my verteer. Die digter — volgens die opskrif Dawid, die koning — tipe van Christus, verkeer in nood en lewensgevaar, onder meer vanweë die ywer vir die huis van die Here.
Die woord ywer is van dieselfde stam as die woord wat in die tweede gebod met “jaloers” vertaal is: “want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God …” Dit gaan hier dus om die liefdesywer, die heilige jaloersheid wat nie kan verdra dat daar iets met die huis van die Here verkeerd sal gaan nie. Hierdie liefdesywer het die digter verteer, letterlik: geëet.
Dit sou in Jesus Christus volle werklikheid word. Met sy reformasie daad het Jesus wat die Jode betref, sy doodvonnis geteken! As hulle ‘n teken vra om te bewys dat Hy die gesag het om hierdie dinge te doen, dan antwoord Hy: Breek hierdie tempel af … Inderdaad sou hulle net daar begin om die tempel van sy liggaam af te breek, sodat sy ganse lewe op aarde één lyde was, sodat Hy werklik verteer is deur die liefdesywer vir die huis van die Here.
DIE GRONDSLAG VIR ALLE HERVORMINGE
Hierdie Skrifgedeeltes was seker voor die geestesoog van alle hervormers van alle tye. Die liefdesywer mag ons ongetwyfeld nie net verteer as van die huis van die Here ‘n handelshuis gemaak word nie. Ons dink veral aan Calvyn, wat met betrekking tot die Roomse seremonies en bygeloof dieselfde woorde gebruik het: Neem daardie dinge hier weg!
Maar ons wil kom by ons eie Kerk. Gedurende die feesvieringe het ons gehoor van reformasiedade in die verlede. Nou kom ons by die hede. En die groot vraag is: Brand daar ook in ons die vuur van hierdie liefdesywer vir die huis van die Here? Is die gesindheid in ons wat ook in Jesus Christus was?
BAIE OM VOOR DANKBAAR TE WEES
Voordat ons wys op “dinge wat weggeneem moet word”, wil ons in herinnering roep die baie goeie dinge wat die Here in sy genade nog aan ons gee. Ja waarlik, ons mag dit nie verswyg en handel of ons Kerk ‘n puinhoop is nie. Ons moet ook bemoedig waar ons sien dat daar in die goeie rigting beweeg word. En dan dink ons aan vrome vaders en moeders, aan predikante, ouderlinge, diakens en lidmate wat die koue van die nag en die hitte van die dag gedurende die afgelope honderd jaar verdra het. Hulle pionierswerk, onder baie moeilike omstandighede, het dit vir die later geslagte moontlik gemaak om voort te arbei. Gedurende die eerste tyd was alles hoofsaaklik gerig op stryd na buite en konsolidasie na binne. Op die breë terrein van die koninkryk van God kon nog maar heel weinig gedoen word.
Maar veral sedert die dertigerjare van hierdie eeu het daar ‘n merkwaardige verandering ingetree. Ons sien orals tekens van lewe en groei. Ons dink aan die arbeid in sending en evangelisasie, aan die mooi ontplooiing van die diakonaat, onder meer in die oprigting van ouetehuise en tehuise vir onversorgde wese; aan die uitbreiding van ons Teologiese Skool en die Universiteit wat daaruit gebore is; aan die magtige Bedieningsfonds, wat as ‘n dankoffer byeengebring is; aan die talle kerkgeboue wat verrys het; aan die aksie van die susters; aan die toenemende begeerte na gesonde Christelike leesstof; aan die arbeid op die breë terrein van die koninkryk van die hemele; aan ons Calvinistiese Beweging met sy eie orgaan; aan bloeiende uitgewers- en drukpersaktiwiteit; aan die jongeliedevereniginge op Gereformeerde grondslag. So sou ons kon voortgaan. In die Eeufeesgedenkboek word dit alles vir u beskrywe.
Tog mag dit geen oorkussing wees om op te slaap nie. Die Here roep tot selfondersoek en tot reformasie waar dit nodig is.
DIE AMPTE
Ons wil die soeklig laat val op die ampte, besondere sowel as algemene, en begin by die leeramp, die amp van die bedienaar van die goddelike Woord.
DIE LEERAMP
Ons kan met dankbaarheid getuig dat aan ons Universiteit en Teologiese Skool daarna gestreef word om die aanstaande bedienaars van die Woord so deeglik moontlik op te lei. Oor die algemeen kan ons dan ook sê dat die prediking op ‘n hoë peil staan. Tog bly daar gevare waarteen ons moet waak.
In die eerste plek is daar die groot gevaar dat ons predikante se tyd so in beslag geneem word deur sake wat slegs sydelings, of glad nie, met hul amp in verband staan, dat hulle geen tyd vir rustige studie en oorpeinsing het nie. En dit is tog so onontbeerlik. ‘n Prediker wat elke Sondag twee preke moet lewer en daarby huis- en krankebesoek doen asook sy kategetiese werk, het werklik min tyd oor vir dinge wat net sydelings met sy werk in verband staan en wat net so goed deur ander lidmate gedoen kan word.
Kan ons lidmate hulle nie nou aan die begin van die tweede eeu voorneem om nie alleen gedurig vir hul sieleherder te bid nie maar dit ook vir hom moontlik te maak om waarlik bedienaar van die goddelike Woord, in die openbaar sowel as by die huise, te wees?5) En sal ons predikers, teologiese professore ingesluit, hulle nie voorneem om werklik predikers te wees nie, mense wie se oor elke môre deur die Here gewek word om te hoor soos die leerlinge (Jes. 50:4), wat gedurig besig is met sy Woord, om uit die goudmyn die kosbare goud te voorskyn te bring?
Ons wys in die tweede plek op faktore wat ons prediking onbedoeld in verkeerde vaarwaters kan lei en dit is baie goed dat die lidmate dit weet sodat hulle nie deur verkeerde opvattinge in die weg van die suiwere prediking staan nie. Ons het veral die oog op die gevaar van ‘n eensydige beklemtoning van die uitverkiesing en die verbond, gebore uit ‘n negatiewe reaksie teenoor Remonstrantisme en Metodisme wat juis hierdie groot waarhede misken.
Die uitverkiesings- en verbondsleer kan nie goddelose en sorgelose mense kweek nie maar die eensydige voorstelling wel. Uit vrees vir Remonstrantisme of Metodisme kan die prediker valse lydelikheid, passiwiteit by sy lidmate kweek deur doodsbang te wees om die woord “bekering” te gebruik, of dit net te verstaan as die daaglikse bekering van iemand wat reeds wedergebore is.
Wat die uitverkiesing betref, bestaan daar die gevaar dat eensydig nadruk gelê kan word op die uitverkiesing tot saligheid, wat ‘n valse gerustheid kan kweek en selfs ‘n verkeerde geestelike hoogmoed teenoor hulle wat buite staan. Die Skrif ken ook die gedagte van uitverkiesing tot diens “om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees” (Ef. 1:4). Wat ‘n magtige impuls kan daar nie uit so ‘n prediking uitgaan nie!
Die prediking is en bly roeping, sowel tot hulle wat wedergebore as tot die nog nie wedergebore is nie. Op onnaspeurlike wyse wek God deur sy Heilige Gees nuwe lewe in die harte van hulle wat van ewigheid uitverkore is. Maar die prediker kan nie in die hart sien nie, nóg in die verbondsgemeente, nóg wanneer hy tot heidene preek. Hy moet maar net die volle Raad van God verkondig, insluitende die roeping tot bekering.6) Die res kan hy aan God oorlaat.
Die verbondsleer kan so voorgestel word dat die prediker wat voor die verbondsgemeente optree moet uitgaan van die gedagte dat sy gemeente hoof vir hoof bestaan uit wedergeborenes, sodat sy prediking uitsluitlik te doen het met die daaglikse bekering en die heiligmaking, asook met die dieper inleiding in die Woord van God. Die gevaar is hier dat preke prakties Bybellesings word, geen adres het nie, pyle sonder punte is.
Met volle erkenning van die uitverkiesing en die genadeverbond moet ons daarop wys dat die leer van ons belydenisskrifte en formuliere anders is. Ons haal hier aan uit die Dordtse Leerreëls, met onderstreping van die gedeeltes wat veral in hierdie verband van toepassing is (hoofstuk III, IV, 17):
“Net so sluit ook die voormelde bonatuurlike werking van God, waardeur Hy ons wederbaar, volstrek nie uit en dit stoot volstrek nie omver die gebruik van die Evangelie wat die wyse God as ‘n saad van die wedergeboorte en ‘n spys vir die siel verorden het nie. Want deur middel van die vermaninge word die genade meegedeel. Hoe vaardiger ons dan ook ons amp uitoefen, des te heerliker word gewoonlik die weldaad openbaar wat God in ons werk, en sy werk vorder dan op die allerbeste manier”.
Dieselfde taal spreek die Nederlandse Geloofsbelydenis in art. 35: “Nou het die wat wedergebore is, tweërlei lewe in hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hul eerste geboorte meegebring het en wat alle mense besit; die ander is geestelik en hemels, wat aan hulle gegee word in die tweede geboorte wat plaasvind deur die Woord van die Evangelie, in die gemeenskap van die liggaam van Christus”.
Die prediking het dus nie alleen te doen met die daaglikse bekering nie maar wel deeglik ook met roeping en wedergeboorte, hoewel die werk van God vir ons onnaspeurlik is. Ons formulier vir die bevestiging van die dienaars van die Woord sê dan ook so treffend:
“Uit dit alles is duidelik hoe ‘n heerlike werk die herdersamp is, aangesien daardeur sulke groot dinge tot stand kom; ja dit is geheel-en-al noodsaaklik, omdat daardeur die mense tot die saligheid gebring word“.
Prof. Hoekstra vat dit in sy Homiletiek kernagtig saam: “Die doel van die prediking is om in die gemeente tot bekering te bring die wat nog buite Christus staan, en in hulle wat Christus toebehoort, die bekeringsproses te bevorder … Die prediking moet die gemeente onderwys in die waarheid, maar dien ewe seer om die wilslewe van die mens in aksie te sit” (vgl. in verband met hierdie sake bll. 192, 193, 194, 303).
Waarom ons dit alles in ‘n rede sê, wat tog nie vir die predikant alleen bedoel is nie maar ook vir die gemeente?
Omdat die gemeente ook moet besef wat werklik die bedoeling van die prediking is.
As ‘n mens ‘n verkeerde opvatting van uitverkiesing en genadeverbond het, doen dit vreemd aan as daar werklik gepreek word, en veral as die preek ons soos ‘n pyl in die hart skiet. Wat ‘n krag sal daar van ons in die tweede eeu uitgaan as die prediking gedoen word in ooreenstemming met die beginsels wat hierbo uiteengesit is!
En laat ons daaraan dink dat die predikant ook kategeet is en dat niemand anders hierdie werk uit sy hande kan neem nie. Al die ander leerkragte is net hulpkragte. Moet ons ons nie die vraag stel of ons genoegsame aandag aan die kinders van die gemeente gee nie? Of ons kategese werklik aan sy doel beantwoord?
DIE REGEERAMP
Is ons ouderlinge nog altyd op hoogte van die eise wat hulle amp stel? Bestudeer hulle die Woord van God, die Belydenis, die Kerkorde? Hulle aan wie saam met die bedienaars van die Woord die regering van die kerk opgedra is? Hulle wat moet waak dat die kerk nie in ‘n predikantekerk7) ontaard nie? Is hulle waarlik herder-ouderlinge?8)
Ons Kerkorde bepaal dat die huisbesoek sowel voor as na die Nagmaal moet geskied. By ons gebeur dit gereeld voor die Nagmaal, en besoekers van oorsee spreek hul waardering hiervoor uit, hoewel hulle ook bedenkinge opper. Daar is naamlik gevaar dat hierdie huisbesoek net op die Nagmaal toegespits word en in die grootste aantal gevalle neerkom op die vraag of daar beswaar met die oog op die gebruik van hierdie sakrament is.
Dit hou in die eerste plek die gevaar in dat die hele kerklike lewe op die Nagmaal toegespits word, wat ook al daaruit blyk dat die kerke met Nagmaal gewoonlik voller is as op gewone Sondae, ook waar afstande geen rol speel nie. Dit beteken dat die sakrament bo die Woord gestel word.
Hierdie euwel kan egter ook onder die bepalinge van ons Kerkorde grootliks verdwyn as die wyke so klein is dat ‘n ouderling werklik saam met sy wyk kan lewe, vir hulle waarlik ‘n herder kan wees.
Dan sal hy hulle sowel voor as na die Nagmaal kan besoek en op hoogte bly van die lewe in die huis, van die belangstelling in die kerk en die koninkryk van God, van wat in die huis gelees word, van die vereniginge waaraan die gesin behoort, van die vermaaklikhede waaraan hulle deelneem, sal daar gedeel kan word in hulle smart en vreugde. Dan sal tot versoening met die naaste nie slegs voor Nagmaal aangedring word nie maar gedurig. Dan kan die kerklike tug werklik tot sy reg kom.
Ons kom so by die saak van die geestelike gesprek.
Dit is die ervaring van menigeen dat dit tog so uiters moeilik gaan om die gesprek by die huisbesoek en andersins op sake van kerk en koninkryk te kry. Dit bly maar altyd by die alledaagse. En dan word soms nog gesê: Dit is Metodisties!
Ons wil hier slegs op antwoord: Dan was ons ou vaders en moeders almal Metodiste!
Die van ons wat reeds die middeljarige leeftyd bereik het, kan nog goed die vaders en moeders onthou wie se lus dit was om oor die Woord van die Here en sy kerk te spreek. Ons vrees dat ons oppervlakkigheid nie altyd te wyte is aan skroomvalligheid nie maar aan ’n proses van verwêreldliking wat verder deurgevreet het as wat ons besef. Ja, hierdie gesprekke kan sieklik-sentimenteel en selfs fariseesgetint wees, maar daar is tog ook die regte wyse om dit te doen.
Die ervaring leer dat waar die huisbesoek nie koud en formeel en gejaagd gedoen word nie, ons mense op ‘n verrassende wyse kan loskom. Miskien kan Bybelstudiekringe en die bespreking van ons Afrikaanse kanttekeninge weer die belangstelling in geestelike dinge aanwakker. Hier lê ‘n heerlike reformatoriese taak vir die herder-ouderling.
DIE AMP VAN DIE BARMHARTIGHEID
Wat ‘n heerlike amp, waarin die liefde van Christus besonderlik openbaar word! Ons het reeds gesê dat hierdie amp in ons Kerk mooi ontplooi het. Maar tog bly daar die noodsaaklikheid vir die volgende vrae: Is ons diakens werklik armversorgers? Help hulle waarlik die armes en ellendiges in die nood, nie alleen met uiterlike gifte nie maar ook met trooswoorde uit die Heilige Skrif? Bewys hulle weldadigheid aan alle mense, maar insonderheid aan die huisgenote van die geloof?9)
Het hulle nie in baie gevalle versorgers van die stoflike behoeftes van die Kerk geword nie, nie vrywillig nie, maar omdat dit die praktyk geword het dat hulle die kerklike bydraes moet gaan versamel?
Broeders en susters, kan dit nie by ons ‘n eeufeesvoorneme word nie dat ons voortaan self ons kerklike bydrae besorg op die plek waar die kerkraad dit ontvang, hetsy deur koeverte in die kollektebus, hetsy deur middel van die bank of hoe ook al. Kom ons sê vir onsself: “Voortaan gaan ek dit as ‘n skande beskou as die diaken na my toe moet kom vir my kerklike bydrae. Ek moet hom in staat stel om sy eintlike werk te doen”.
Ja, so lank as daar nog lidmate is wat hul plig in hierdie opsig nie ken nie, sal ons maar dankbaar van die onbaatsugtige diens van ons diakens gebruik moet maak. Maar dan moet nalatige lidmate besef dat dit ten koste van die armes is.
As die diakenamp weer waarlik beantwoord aan sy roeping, kan dit ook arbei tot voorkoming van armoede. Immers, voorkoming is altyd beter as genesing, en dit geld ook in die geval van armoede. Selfs as daar leniging van armoede moet wees, sal ‘n aalmoes nou en dan tog seker nie genoeg wees nie.
‘n Diaken kan veel doen om so ‘n huisgesin te rehabiliteer en te sorg dat die kinders behoorlik opgelei word, om deugdelike burgers te word. Ons dink aan die studielenings, soos bv. die C.H.O.-leningsfondse. In die sware stryd wat daar vir ons volk wag in die beskerming van ons erfenis in donker Afrika, sal ons gebruik moet maak van elke krag; en elke seun en dogter sal so ver moontlik toegerus moet word.
DIE EREDIENS
Ons vaders het gespreek van reformasie ten opsigte van leer, tug en diens. Ons het reeds gehandel oor die eerste twee. Nog ’n enkele woord oor die erediens. Ook waar die gemeente van die Here vergader is, moet dit gaan volgens die voorbeeld wat op die berg gegee is.
Hier is veel wat vir reformasie vatbaar is. Ons handel nie spesifiek oor die bywoning nie. Dit is ‘n saak vir die prediking. Ons as predikers moet ons afvra of die fout nie dikwels by ons lê nie, of ons nie soms meel saai in plaas van die lewende en kragtige saadkorrels van die Woord nie. Dit blyk in die praktyk dat waar die prediking Skriftuurlik en aktueel is, waar dit voorgedra word met die gloed van oortuiging, waar ‘n appél op die hart gemaak word, die gemeente wel kom. As daar nalatigheid is, moet die kerklike tug sy werk doen tot behoud van die sondaar.
Ons wil die vraag stel: Is ons eredienste nie soms koud en lusteloos nie? Hoe treurig is dit soms met die psalmgesang gesteld? Moet vreugde dan nie die Here se huis deurbewe nie, soos Psalm 98 sê? Ons Sinode het besluit dat daar ook meer gesing moet word en dat die aktiwiteit van die gemeente in die erediens groter moet wees. Daarom staan ons in baie gevalle waar gesing word. Daarom word aanbeveel om die geloofsbelydenis, die vaandel wat ons opsteek, staande uit te spreek, ens.
O, as daar by ons in die tweede eeu waaragtige honger en dors na die gepredikte Woord is, as die gemeente in groot getalle teenwoordig is, as die Here se huis van vreugde deurbewe word, as die kinderstemme duidelik gehoor kan word tussen die van die volwassenes en as daar ‘n kragtige prediking is, wat sal dit nie beteken nie! Dan sal die erediens ons elke Sondag inspireer vir die week wat voorlê!10)
Ja, ons wil verder gaan: Dan sal ons hele lewe erediens wees, ook van Maandag tot Saterdag. So kom ons tot die:
AMP VAN DIE GELOWIGE
Hierdie heerlike amp omvat alles wat die besondere ampte afsonderlik inhou. Elke gelowige moet ‘n profeet, ‘n koning en ‘n priester wees. Mits dit goed verstaan word, kan ons sê dat elke gelowige in die leeramp, die regeeramp en die amp van barmhartigheidsdiens staan. En dan het hy of sy ‘n roeping teenoor die kerk maar ook teenoor die koninkryk van God in die wye sin van die woord. En dit geld van man, vrou en kind, hoewel dit in die geval van die kind nader gespesifiseer moet word as: die jongmens. Die klein kind is nog ‘n ontvanger, hoewel die Here sy lof ook kan toeberei uit die mond van kinders en suigelinge (Psalm 8).
Ja, in die bedeling van die Nuwe Testament is die gelowiges die tempel van die Here, is hulle burgers van ‘n hemelse koninkryk met ‘n burgerplig wat daarmee in ooreenstemming is. En die burgerplig bestaan daarin dat daar verdedig en aangeval word. Die burgers kan nooit verklaar dat hulle geen taak meer het nie, want die Koningskap van Christus moet op al die terreine van die lewe gesien word.
Hoewel ons aan die begin daarop gewys het dat daar reeds veel is wat Gereformeerde gelowiges tot stand gebring het, is hier nog baie ruimte vir reformasie. Die gelowiges, ook die susters, moet meer tot die besef van hul roeping in die kerk kom. Ook van die krag van die vrou kan veel meer gebruik gemaak word as wat tans die geval is. As die huisgesinne dan ook ontwaak tot hul roeping, sal die susters minder hoef te sorg vir die stoflike dinge en meer aandag kan gee aan geestelike bouwerk.
Maar dan is daar nog die roeping in wat gewoonlik genoem word die kerk as organisme of die breër terrein van die koninkryk.11) Vir te veel Gereformeerdes gaan die godsdiens op in kerk hou. As hulle Sondae die kerk besoek en hul kerklike bydrae gee, dan het hulle verder geen burgerpligte in die koninkryk van die hemele nie. Maar ook hier wil die Here gebruik maak van die hele huisgesin.
Daar lê nog soveel terreine braak. Is dit nie so dat ons byvoorbeeld nog ver staan van ‘n waarlik Christelike politiek nie? Dat ons al meer as ‘n eeu worstel om die waaragtige Christelike skool te verkry? Dat ons nog nie ‘n behoorlike Christelike gesinsblad het nie en dat so baie van ons lidmate liewer al die prulle koop wat aangebied word tot vergiftiging van die siel van hul kinders, as dat hulle sal meehelp om Christelike blaaie te kry? Hoe beny ons die Nederlandse Gereformeerdes wat Christelike skole, rolprente, radiouitsendinge ens. het. Kan en mag ons sê dat ons taak verby is as ons die kerk dien? Moet ons nie die lig en die sout van die wêreld wees nie?
Minister De Klerk het alles treffend saamgevat toe hy in sy eeufeesrede verklaar het: “Opsommend sou ek sê dat die Gereformeerde Kerk se invloed in ons volkslewe steeds meer moet konsentreer op prediking en ampswerk, waardeur sy lidmate opgevoed, geslyp en toegerus word om as gesante van Christus en as helderdenkende mense van beginsel hulle lig — die lig van die Calvinisme — te laat skyn op elke terrein waarop hulle beweeg”.
Ja, as al die ampte, besondere en algemene, reg werk, dan sal dit ook in die volkslewe anders lyk.
Dit is besonder opmerklik dat met die uitdrukking “huis van die Here” reeds in die Ou Testament al nie uitsluitlik die tempel en die tempeldiens bedoel word nie. Van Moses word in Num. 12:7 gesê dat hy getrou was in die hele huis van die Here, en die diens in die heiligdom was juis nie sy spesifieke taak nie: hy was volksleier. In Hosea 8 is dit duidelik dat die hele tienstammeryk as “huis van die Here” aangespreek word.
As die huis van die Here so wyd is, sal die arbeid alle beskikbare kragte vra. Hier is nie plek vir “rustendes” nie. As ons werklik brand van ywer vir die huis van die Here, sal dit ons ook verteer. Dit was die lyfspreuk van die Benediktyner-monnikke: terar dum prosim — laat ek verteer word, as ek maar van nut is!
TWEE UITERSTES
Ons wil hier egter wys op twee uiterstes waarvoor ons op ons hoede moet wees. Daar is aan die een kant die man of vrou wat net leef vir hul eie huis en tuin, moontlik met nog ‘n hok vol troeteldiertjies daarby! Verder bekommer hulle hul oor die hele wêreld nie. Aan die ander kant is daar die man of vrou wat gedurig besig is met die sake van volk en kerk, hul huisgesin verwaarloos en hulself in die gejaagdheid van die lewe so afsloof dat nie alleen hul huisgesin ly nie maar ook hul eie gesondheid. Dan kan dit sonde teen die sesde gebod wees.
DIE REGTE OPTREDE
Wat is dan die regte wyse om ons Christelike burgerplig as burgers van die hemelse koninkryk uit te voer? Laat ons in die eerste plek onthou: Wie sy eie huis nie versorg nie, is erger as ‘n ongelowige. Dit help nie om gedurig besig te wees met sosiale werk en intussen eendsterte tuis te kweek nie. Die predikantdigter Okke Jager het hier ‘n woord gespreek wat ons gedurig moet bybly: “Nie alleen die vader wat ‘n belangrike plek in die samelewing inneem, dien die Here nie, maar ook die vader wat met sy kind wegkruipertjie speel”. En as dit geld van die vader, hoeveel te meer van die moeder, wat tog in die eerste plek huisvrou en moeder is.
Aan die ander kant: Die man of vrou wat brand van liefdesywer vir die huis van die Here, sal ook wel die tyd kan vind om in die samelewing te dien.12) Die besige mens voer meer uit as die leegloper. Maar ook hier moet dit nie gaan met ‘n onnatuurlike gejaagdheid nie. Ons Here Jesus Christus het vir ons die weg baie duidelik gewys: Hy het Homself te midde van groot drukte soms afgesonder in die eensaamheid om te bid, om weer met krag versterk te word in die gemeenskap met sy hemelse Vader. Hy sê vir sy dissipels as hulle van ‘n opdrag terugkeer: Rus ‘n bietjie. Die Christen kan in hierdie gejaagde tyd ook toon wat die kalmte van die geloof is: Die groot saak is maar wat ons lees in Psalm 40:4:
Net om u wil te doen soos in u Boek
die wonderskrif wat nooit vergaan
dit klaar van my geteken staan,
dit wil ek, HEER, van ganser harte soek.
Ek bied U hart en hande
in will’ge offerande
al wat ek is en het;
diep in my ingewand
waar liefde en ywer brand,
draag ek u heil’ge wet.
Wat sal ’n Gereformeerde Kerk kan beteken as dit die belydenis is van al sy lidmate!
En as u my vra: Waar kry ons die kragte en die middele om hieraan te beantwoord, dan kan ek op grond van die Woord van die Here verklaar: U kan dit koop in die handelshuis van die Here. Ja, sy huis is nie ’n handelshuis in die gewone sin van die woord nie, maar tog kan daar gekoop en geruil word:
,,Wie geen geld het nie, kom koop en eet, sonder geld en sonder prys” (Jes. 55:1, 2).
Aan die gemeente van Laodicea, wat gemeen het dat hulle ryk was, sê die Here:
,,Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy ryk kan word” (Openb. 3:18).
U kan in die huis van die Here ruil: sieraad vir as, vreugdeolie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat ook u genoem kan word ‘n terebint van geregtigheid (Jes. 61:3 v.).
Die tempel wat die Jode afgebreek het, is weer in drie dae opgebou; en as ons lede is van die liggaam van ons Here Jesus Christus, van sy tempel, dan maak Hy ons die hemelse skatte en gawes deelagtig. Ons nabetragting word ’n vooruitbetragting, en ons sien heerlike vergesigte, wat die toekoms ook al in sy skoot mag hou.
_______________________________________
1) Sien die verskillende artikels teen die misbruik van staatsmag in covid-tye.
2) Vandag is die oproep nog erger: die Christendom moet weg! Die evangelie en Woord van God moet of afgewater en aangepas word by die humanistiese (post)moderne onchristelike wêreld om te ‘oorleef’, of dit gaan vervolg word, soos ons dit al sien in verskillende wetgewings teen die vryheid van spraak om die evangelie tydig en ontydig suiwer te verkondig. Sien hierdie een voorbeeld, aangaande die PEPUDA-wetgewing wat beplan word.
3) “Ons aanvaar die belydenisskrifte omdat dit met die Woord ooreenstem en nie in soverre dit met die Woord ooreenstem nie.” prof. Paul de Bruyn (Die Gesonde Leer)
4) “Hier staan ek – ek kan nie anders nie! God help my! Amen.” – Maarten Luther
5) “… hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise, terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus. (Hand. 20:20-21)
6) Sien veral HK Sondae 31-33 oor die oproep tot bekering wat gepreek moet word.
7) Ons lees al vroeg van hierdie probleem in 1 Korinthiërs 1:10-16.
8) “Die krisis van die GKSA is die krisis van ouderlingskap.” ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)
9) Sien hierdie paar artikels oor diakenskap.
10) In ons covid-tye is dit tragies om die afname in erediensbywoning te sien, vir baie siek mense is dit natuurlik te verstaan, maar dit is asof baie wat wel gesond is, dit as verskonings gebruik om eredienste uit te stel of nie meer getrou die eredienste by te woon nie, contra Hebr. 10:25.
11) “Die Pelagiaan, Remonstrant en Metodis het ‘n keuse, maar die Gereformeerde het ‘n roeping. Dit is die verskil.” – Totius (Roeping en Toekoms)
12) “Die geskiedenis bewys dat as die huisgesin gesond is, beide kerk en staat bloei. Die huisgesin is die bron van die menslike samelewing. Gee ons dus Gereformeerde huisgesinne, en die Gereformeerde Kerk sal bloei. Anders gaan ons gewis ‘n donker toekoms tegemoet.” – Totius (Roeping en Toekoms)
Leave a Reply