LEER PREDIKING: NGB artikel 31 – Die ampsdraers van die kerk

LEER PREDIKING: NGB artikel 31 – Die ampsdraers van die kerk

Lees: 1 Tim. 1:15; 3:1,15; 5:17-25

NGB artikel 31: Die ampsdraers van die kerk

Teksverse: “LAAT die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. Want die Skrif sê: Jy mag ’n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd. Moenie ’n beskuldiging teen ’n ouderling aanneem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie. Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees.” (1 Tim. 5:17–20)

Tema: Die ampsdraers van die kerk

(Preekopname: GK Carletonville, 2022-03-06, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek).

Aflaai (regs kliek): NGB art. 31 (1 Tim. 5:17-20)

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Ons het by die behandeling van NGB art. 28&29 gehoor vanuit Hand. 20:27, dat ons die hele raad van God moet verkondig en leer.

Sentraal daarin is om die goeie nuus, die evangelie van Jesus Christus te hoor, hoe ons verlos word van sonde,  ongeregtigheid en die straf daarop, die oordeel van God, sodat ons die ewige lewe kan be-erwe.

Maar deel van die raad van God is om alles te leer wat nodig is, om tot eer van God en tot heil van ons naaste te lewe, ook in die kerklike lewe, soos ons dit ook bely daar in NGB art. 2.

Ons moet leer wie God Drie-enig is, wat die Bybel is, waar alles vandaan kom, waar die sonde vandaan kom, die boosheid van die verlore mens, en dan hoe ons dan deur God se genadige uitverkiesing en reddend werk in Christus gered word.

Dit het ons alles al geleer in NGB art. 1-26.

En nou, deel van die raad van God wat ons besig is om te leer, is oor wie en wat die kerk is:

NGB art. 27: die kerk is almal wat deur die bloed van Christus gered word.

NGB art. 28: ons is verplig om by die kerk, waar hy plaaslik gestalte kry, aan te sluit.

NGB art. 29: die drie kenmerke van die ware kerk.

En nou is ons by art. 30-32, wat handel oor die die regering van die kerk, die ampsdraers en die orde en tug van die kerk.

Ons het reeds begin leer met die behandeling van NGB art. 30 se preek, dat ongeag dat alle gelowiges, konings, priesters en profete is en self ook moet regeer deur sy Gees en Woord, dat die Here deur al die eeue, maar final nou in die NT, vir ons hierdie drie besondere ampte gegee het, naamlik diakens, ouderlinge en herders/bedienaars van die Woord.

Dit is begrond veral in 1 Tim. 3, waar ons leer van ouderlinge en diakens, en hul vereistes.

En nou kom ons vanoggend by artikels 31 en 32, wat volgens die Skrif, die gereformeerde kerkregering uiteensit, en ons gaan 7 beginsels hier raaksien wat wesentlik deel is van ons kerkregering tot eer van God en die dien van die gemeente.

(Eers 4 beginsels vandag en volgende keer by art. 32 die laaste drie)

“Maar, heel eerstens, die belangrike saak geliefdes, om raak te sien. Baie wil redeneer, dat om deel van die kerk te wees, dus te glo (NGB. art. 16-23) is wesentlik belangrik, NGB art. 27-29 ook dalk nog… maar HOE die kerk regeer word, wie in die ampte dien, die orde en tug is nie so belangrike saak nie, daarom dat bv. baie redeneer in ons dae:

… solank die Woord net verkondig word in die eredienste, maak dit nie saak wie dit is nie, kan sommer enige gelowige wees, dus nie net bekwame manne wat geroep word nie, maar ook susters.

Maar, kyk wat die Skrif hier stel in die pastorale briewe: ….

1 Tim. 1:15 … “Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.”

= belangrike wesentelike geloofsaak waaroor ons moet saamstem.

1 Tim. 3:1 … “DIT is ’n betroubare woord: as iemand na ’n opsienersamp verlang, begeer hy ’n voortreflike werk.”

= belangrike wesentlike geloofsaak waaroor ons moet saamstem.

Nie in dieselfde verhouding nie, want eersgenoemde is wesentlik saligmakend belangrik, en laasgenoemde ter wille van die orde en heil van die kerk, is wesentlik ordelik gehoorsaam belangrik … maar albei is belangrik om te handhaaf tot eer van God en die heil van die kerke.

Daarom het ons algemene sinode besluit, na 30 jaar of meer se studie, dat die kwessie van wie in die ampte dien, veral van predikant en ouderling, is ‘n saak waaroor al die kerke en dus kerkverband moet saamstem.

SO geliefdes, nie net bv. NGB art. 16-23 = verlossingsake, maar ook kerkwees en kerkregering sake (art. 27-32), moet gereformeerdes saam glo en onderhou, dit is wesentlike bindende sake vir kerke wat saam in verband (verbond) is, omdat ons glo dit is wat die Skrif leer.

So, hier is 7 sake oor ons kerkregering vanuit NGB art. 30-32:

1) Ons glo aan die 3 ampte beskouing

Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van ‘n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer.”

In die prediking by NGB art. 30 het ons gesien hoe die Skrif se ampte ontwikkel het van die OT na die NT, totdat ons God se finale openbaring kry daaroor in die NT, veral die pastorale briewe

In 1 Tim 3 kry ons die twee ampte van ouderling en diaken.

En dan soos die Here in sy voorsienigheid gegee het dat die diakonie amp ontstaan, sien Hand. 6, so het dit ook gebeur met die amp van leraar of predikant, iemand wat ‘n ouderling is, maar dan in die besonder gefokus is op die bediening van die Woord en sakramente.

Die begronding daarvan, deur gereformeerdes deur die eeue, is 1 Tim. 5:17,18 (lees)

Ouderlinge moet ge-eer word, en dan word daar vermeld  “veral die wat arbei in woord en leer”

Die woord ‘arbei’, wil wys wat veral gefokus is, toegewy is, afgesonder is, op die bediening van die Woord = leraars, herders, predikante.

En die konteks wys dit ook uit, v. 18 wil dan wys dat hul versorging nodig gaan hê (lees), omdat hul ‘voltyds = veral’ arbei in ‘woord en leer’

En Paulus skryf op ander plekke daarvan, hyself was enkel, en het nie die voorreg gebruik nie, maar vir ander (met gesinne en uitgawes), is dit nodig, God leer dit.

Iemand wat dan voltyds sy tyd en kragte aan die bediening gee, word dan deur gemeentes versorg, en daaruit vloei geliefdes, wat ons in ons DKO kry, sien artikels 1-20 wat ‘n praktiese uitwerking daarvan is, wat natuurlik in detail aangepas kan word, byvoegging of weglating na gelang van tye en omstandighede, solank die beginsel van versorging bly (sien KO art. 86)

2) Die ampte moet wettig verkies word volgens wat die Skrif leer, van hulle wat geroep word tot die besondere ampte

“Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van ‘n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer. Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit van God kom.”

Daarom praat gereformeerdes, van ‘n innerlike roeping wat moet plaasvind, asook ‘n uiterlike roeping. Dit is albei, nie net die een of die ander nie.

Die innerlike roeping is die gawes wat God gee asook die innerlike oortuiging wat Hy in die hart plaas, dit is subjektief van aard, 1 Tim. 3:1.

“DIT is ’n betroubare woord: as iemand na ’n opsienersamp verlang, begeer hy ’n voortreflike werk.”

Ja, soos baie ervaar het, is daar baiemaal worsteling en stryd of iemand geroep is tot die besondere ampte, maar daar is dus ‘n aspek van verlange en begeerte om te dien…

Maar dan moet die gemeente ook roep, aanwys, Christus roep deur sy kerk:

In Hand. 6 het ons gesien hoe die gemeente diakens verkies.

Ons hoor gereeld van die gemeentes wat ouderlinge aanstel en uitstuur, Hand. 15 vir ‘n bepaald taak.

Ons lees van 1 Tim. 4:14 van die handoplegging van die ouderlinge, dus hul ‘opsig en tug’ verantwoordelikheid, sien dit saam met die woorde van 1 Tim. 5:22 se woorde van versigtigheid = beoordeling, verantwoordelikheid, ens.

Dus die gemeente roep uiterlik en stuur.

Ons verwerp die selfaangestelde leraars en ouderlinge, sektes van huiskerke, ens., wat hulself roep en aanstel sonder die gemeentes se betrokkenheid.

Beide innerlike en uiterlike roeping nodig, van God en deyur God en sy kerke.

In art. 22 van ons KO word die verkiesing van ampsdraers soos volg verwoord:

Die ouderlinge word deur die gemeente onder die leiding van die kerkraad verkies volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is. By hierdie reëling staan dit elke kerkraad vry om vooraf aan die gemeentelede geleentheid te gee om die aandag op geskikte persone te vestig en om saam met die diakens vir die verkiesing die nodige aantal ouderlinge aan die gemeente vir approbasie voor te dra of om tweetalle of ‘n dubbele getal te stel waaruit die gemeente die nodige aantal kies. Die verkose broeders word, nadat hulle name verskillende male afgekondig is en geen wettige beswaar ingekom het nie, bevestig volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

Ja, die Woord gee vir ons die duidelike beginsels van kerkregering, maar nie die detail van uitvoering nie, daarom dat ons vaders dit so verwoord het “reëlings wat plaaslik is” … baie kandidate = verkiesing; min kandidate= approbasie, goedkeuring van die gemeente, volgens die standaard van die hele Skrif, in die besonder 1 Tim. 2-5 vereistes.

3) Christus is die enigste Hoof van die kerk, die ampsdraers is bedienaars van sy gesag, nie die gesag self nie

“Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag, omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is – die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk.”

Ons het hierdie reeds geleer by NGB art. 30 se tema, volgens Ef. 1:21-23, Christus is die enigste Hoof van sy kerk, dus ampsdraers is bedienaars van sy wil en gesag, nie die gesag en bron self nie.

Die ampte se roeping verskil in take en ‘fokusse’ (1 Tim. 5:17), maar hul waarde is dieselfde, gelyke gesag volgens sy Woord.
Filp. 1:1 ‘PAULUS en Timótheüs, diensknegte van Jesus Christus, aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filíppi is, saam met die opsieners en diakens’
1 Tim. 5:17 = alle ouderlinge moet ge-eer word, die ‘veral’ wys op fokus/tyd en v. 18, versorging, nie meer waarde of hoër gesag nie.
Geen rangorde of hierargie nie… in die praktyk moet ons pasop vir ‘dominiees kerke’ of ‘hoof ouderling’ kerke, kyk hier pragtig word hierdie bybels gereformeerde beginsel van kerkregering verwoord en gehandhaaf:
“Geen kerk mag oor ander kerke, geen bedienaar van die Woord oor ander bedienaars van die Woord, geen ouderling oor ander ouderlinge en geen diaken oor ander diakens enige heerskappy voer nie.” (Dordtse kerkorde art. 84)
Pasop egter ook vir die gevaar om hierdie beginsel te misbruik om nie te buig voor Christus en sy Woord nie, waar predikante en/of gemeentes eiewillig en in stryd met die Skrif besluite neem, en sogenaamd  ‘vryheid/akkomodasie/verdraagsaamheid’ soek vir hul onbybelse en ongereformeerd kerkordelike besluite … soos sommige gemeentes tans in ons kerkverband doen, wat in stryd met die Skrif, belydenis en KO susters as ouderlinge verkies.

4) Ons eer die besondere ampte, omdat dit God se regering is oor ons in sy gemeentes

“Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk wat hulle doen en sover moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met hulle moet saamleef.”

Ons lees daarom in 1 Tim. 5:19, “Moenie ’n beskuldiging teen ’n ouderling aanneem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie.

Dit geld vir enige regsaak of saak tussen gelowiges, maar ook om die ampte te beskerm.

Ja, ampsdraers kan hul roeping/amp misbruik, en moet aangespreek word, daarom het ons Kerkorde 79-81

Kyk die waarskuwing oor ampsdraers in 5:22.

Maar baiemaal is dit kwaadwillige lidmate wat nie die Woord wat ampsdraers bedien wil aanvaar nie, hul probleem is eintlik met God se regering, en dan wil hul dit ‘n persoonlike saak maak van ‘n ampsdraers ‘wat nie van hul hou nie’, en dan word die ampsdraers aangeval of valslik beskuldig … dit is selfs met Jesus gedoen, hoekom nie sy diensknegte nie?  Sien v. 24-25, daarom:

MAAR ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan;” (1 Thess 5:12)

In die prediking volgens die tema van NGB art. 32, staan ons stil by die volgende beginsels

5) God is ‘n God van orde, 1 Kor. 14:33, 40 en wil ook hê dat sake en dinge ordelik in sy gemeente geskied = gereformeerde begingsel van aanbidding/erediens

6) Ons moet vir die gemeente wat saam aanbid alleen onderhou wat volgens God se bevel is, nie elkeen se eie idees nie

7) Die kerkregering is ook daar om te tug volgens sy Woord

Ons almal, maar veral huidige ampsdraers moet hierdie 7 sake of beginsels uit die Skrif leer.

Ouers vir hul jongseuns wat moontlike ampsdraers gaan wees in die toekoms.

Die doel van alles: God se eer, heil van die gemeente,

Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid.” (1 Tim 3:15)

Mag die Here ons ook toerus, sodat ons sal weet hoe om ons gedra in die huis van God.

 AMEN.

One thought on “LEER PREDIKING: NGB artikel 31 – Die ampsdraers van die kerk

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: