TOTIUS OOR ‘BUITENGEWONE’ MAAR WERKLIKE LETTERLIKE SKEPPINGSDAE, NIE TYDPERKE OF DIE ‘DUISENDE JARE’ VAN 2 PETRUS 3:8 NIE
Ons moet die Skriftuur en natuur albei reg ‘lees’*
“Die enigste veilige uitgangspunt is dat ons aanneem dat daar géén tweestryd kan bestaan tussen die feite wat God in sy Woord openbaar, en dié wat in die natuur waargeneem kan word nie. Dit is dieselfde God wat enersyds spreek deur die boek van die Skriftuur en andersyds deur die boek van die natuur. En God kan, met eerbied gesê, Homself nie weerspreek nie.
As daar teenstrydighede vir ons menslike verstand bestaan, dan is dit daaraan te wyte dat ons kennis nog in ‘n toestand van ongereedheid verkeer.
Dit kan wees dat ons die Skrif op sekere punte nie reg gelees en verklaar het nie, of dat ons verklaring van die Skrifgegewens nog onvolledig is. Maar dit kan ook wees (en dit lê meer voor die hand) dat ons die boek van die natuur verkeerd lees.
Daar is al so dikwels op gewys dat wat in die natuurwetenskap feite genoem word, dikwels geen feite is nie maar veranderlike teorieë van geleerdes. Dit is dan ook ‘n haglike onderneming om die Skrif te wil versoen met die resultate van natuurondersoek wat nie absoluut vasstaan nie. Veral ten opsigte van die skepping geld hierdie oorweging. …”
Genesis 1 leer nie net ‘dat’ God geskape het nie, maar gee ook ‘n ‘reeks feite’ waarmee rekening gehou moet word
“Aan die een kant kan beweer word dat ons in Genesis 1 soseer ‘n opgawe van alle besonderhede omtrent die natuurwording besit, dat die natuurwetenskap heeltemal oorbodig is. Dit is verkeerd.
God het ons ‘n verstand gegee waardeur ons baie dinge kan ondersoek en ook baie dinge kan uitvind wat dien tot meerdere grootmaking van God en die mens tot nut kan wees. Ook ten opsigte van die natuurondersoek het God aan die mens ‘n taak gegee, en dit is pligmatig om God in hierdie opsig gehoorsaam te wees, te dien en te verheerlik. God het ons die boek van die natuur gegee om daarin te lees wat Hy aan ons ontsluit het. Aan hierdie boek moet aandag bestee word. Aan die inhoud daarvan moet nie te kort gedoen word nie.
Maar aan die ander kant mag ons ook nie beweer nie dat Genesis 1 net sê dat God geskep het sonder meer. Dat ons dus net met dié een feit rekening hou en alle ander besonderhede in Genesis 1 vermeld, maar kan verwaarloos, om so aan die wetenskap vry spel te laat.
Nee, Genesis 1 is, soos ons gesien het, geen menslike, swakke, verbygaande inkleding of beeldspraak aangaande één grondgedagte nie.
Dit bevat, soos prof. Aalders opmerk, ‘n reeks van feite, en daarmee, met die hele reeks, moet ernstig rekening gehou word. Daar was ‘n vaste orde, daar was ‘n reeks van skeppingsdade waarin alles geword het. Dit alles word ons meegedeel, nie om dit te verwaarloos en as ondienstig opsy te sit nie maar om te deurvors en God in sy werk te ken vir sover dit vir ons moontlik is.
Die bewering wat so dikwels gehoor word, dat Genesis 1 net sê dat God geskep het, sonder meer, moet dus ook afgewys word. Wie die gesag van die Woord van God erken, moet ook onvoorwaardelik aanneem die reeks feite wat God ons daarin aangaande die skepping meedeel.
Die vorige stuk het aangetoon dat daar teoloë was wat aan die Skeppingsberig soos dit daar staan geen reële (werklike) waarde geheg het nie. Die ses dae was vir hulle maar ‘n raamwerk om te
vertel wat feitlik in een oomblik tot stand gekom het. Omdat die skeppingswerk egter so ontsaglik omvangryk was, moes Moses (so word beweer) dié werk na die orde van ses dae groepeer.
Hierdie gevoele het ons weerlê, omdat dit nie ooreenkom met wat in Gen. 1 maar alte duidelik beskrywe word nie.
Die tydperke teorie
Noukom ons tot ‘n ander groep manne. Hulle vat die skeppingsdae as tydperke op, tydperke van lange duur. Dit doen hulle om ‘n harmonie te bewerkstellig tussen wat enersyds in die Bybel staan
en andersyds deur die wetenskap geleer word, met name die geologie (aardkunde) en paleontologie (die oudheidkundige studie wat hom besig hou met die ondersoek van oorblyfsels van plante en diere in die aardlae).
Die geologiese tydperke waarin die aarde in sy teenswoordige formasie tot stand gekom het, word dan tot ses teruggebring en met die ses skeppingsdae vereenselwig. Hierdie teorie het steun gevind by ‘n hele aantal teoloë en geoloë. Dit het so mooi gelyk, omdat hulle gemeen het dat daardeur ‘n ooreenstemming (concordia) bereik is tussen die Bybel en die wetenskap. Uit die groep manne wat hierdie teorie voorstaan, noem ons net die naam van Bettex, omdat sy geskrifte ook in ons land baie gelees word.
‘Soos duisend jaar…’?
Daar word ‘n beroep gedoen op 2 Petr. 3:8, waar staan „dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag”. Ook word aangehaal Ps. 90:4: „Duisend jaar is in ‘n oë soos die
dag van gister as dit verbyskiet, en soos ‘n nagwaak”.
Maar hierdie woorde het nie op die skeppingswerk betrekking nie. Daar word ons alleen gesê dat God die ewige wese is wat bo ons tydmaat verhewe is. Die kreatuur leef in die tyd, maar God se
bestaan is in die ewigheid.
Die Hebreeuse woord jom (dag)
‘n Tweede argument word aangevoer. Daar word betoog dat die Hebreeuse woord jom (dag) nie altyd die tydmaat tussen sonsopgang en -ondergang aandui nie maar soms in ruimer sin geneem moet word.
Aangehaal word Jes. 13:6, 9; Eseg. 13:5 en verwante plekke waar die uitdrukking „dag van die Here” voorkom; plekke waar, na die mening van die bedoelde manne, net so goed „tyd” of „tydperk” vir „dag” kan staan. Insonderheid word verwys na Eseg. 30:3: „Naby is die dag, ja, naby is die dag van die Here, ‘n dag van wolke; die tyd: van die nasies sal dit wees”. Hier word, so lui die gevolgtrekking, die woord „dag” en „tyd” in gelyke sin gebruik. In Jes. 34:8 en 61:2 kom iets dergelyks voor, want naas „die jaar van die welbehae van die Here” word in een asem genoem die „dag van die wraak
van onse God”.
Nou moet toegestem word dat die woord „jom” dikwels in die Bybel die betekenis van „tyd” het. Daaroor hoef nie lank geredeneer te word nie. Diegene wat die Afrikaanse Bybel aandagtig lees, sal
dan ook merk dat somtyds die uitdrukking voorkom „op die dag”, en weer „in die dag”. Die reël wat soveel moontlik by die vertaling gevolg is, is dit:
As „dag” die tydruimte tussen sonsopgang en -ondergang beteken, dan word die voorstel „op” gebruik; beteken „dag” egter ‘n tydruimte van langer duur, dan kom die voorstel „in” voor. In Eseg. 13:5 staan dan ook „in die dag van die Here”. So ook in baie ander plekke. Veral die term: „in dié dag” kom by die profete herhaaldelik voor.
Maar dit bewys nie wat die voorstanders van die tydperketeorie beweer nie.
„Dag” beteken tog altyd ‘n korter, afsienbare tydperk, maar die geologiese periodes omvat miljoene jare, volgens die bewering van baie geoloë.
In Gen. 1 word die woorde „aand” en „more” by elke dag herhaal. Dié hoofstuk self wys uit dat „dag” daar bedoel is as die tydruimte wat begin met dagbreek en eindig met die aandskemering.
Ons kan saamstem met wat prof. Aalders in hierdie verband sê:
„Die voorstelling wat die tydperketeorie moet gee asof die lig ontelbare male geskyn het en dan weer verdwyn het voordat daar een enkele skeppingsdag verloop het, is met Gen. 1 in stryd”.
Die voorstelling asof binne die grense van een enkele „dag” (d.w.s. tydperk) ‘n hele reeks van amper ontelbare dae en nagte opgesluit lê, is so verwarrend en soseer vreemd aan wat Gen. 1 so duidelik wil sê, dat die tydperketeorie nie met Gods Woord in die hand gehandhaaf kan word nie.
Dan, hierdie onhoudbare verklaring van Gen. 1 het ook nie die resultaat gelewer wat beoog is nie. Die ooreenstemming tussen die geologie soos dit nou gewoonlik gedoseer word, en die Bybel is nie
bereik nie, maar die verskille bestaan nog.
Ons moet dus bly by die letterlike opvatting van Gen. 1. ….
Die letterlike verklaring
“Die skeppingsdae in geen tydperke nie. Tot sover het ons nou gekom. Maar as die skeppingsdae dan werklike dae was, moet hulle ook as gewone dae beskou word?
Geelkerken stryd oor Gen. 2 en 3
Hierdie vraagpunt kan ons nie swyend verbygaan nie, te meer omdat dit in Nederland destyds ter sprake gekom het in verband met die Geelkerkensaak. Ook nou nog word telkens weer dieselfde punt na vore gebring. Soos ons lesers weet, het dit in die Geelkerkenstryd gegaan oor die kwessie of Gen. 2 en 3 letterlik verklaar moet word of nie. Dr. Geelkerken wou naas die letterlike verklaring ook opening gee vir ander opvattinge.
Kuyper en Bavinck oor die dae van Genesis 1
Terwyl dié stryd aan die gang was, is daar, as ons ons goed herinner, van die Geelkerken kant beweer dat ook Gen. 1 in die geding betrek moet word; dus nie net Gen. 2 en 3 nie. Verder is van dié kant aangevoer dat ook drr. Kuyper en Bavinck ten opsigte van Gen. 1 beweer dat ons daar te doen het met buitengewone dae. Sodat — dit was die gevolgtrekking — ook Kuyper en Bavinck geen voorstanders is van streng-letterlike verklaring van Gen. 1 nie.
En as dit die geval is — so was verder die gevolgtrekking — dan moet ten opsigte van Gen. 2 en 3 ook vryheid van verklaring toegelaat word.
Maar wat het Kuyper en Bavinck eintlik bedoel?
Prof. Aalders gee hulle bedoeling met hierdie woorde goed terug:
„Van gewone dae mag ‘n mens daarom nie spreek nie, omdat ons te doen het met die werkdae van God, dae waarop God die geheel enige werk van die skepping voltooi het. Alreeds hierom is daar voldoende rede om in elk geval te spreek van buitengewone dae of dae van buitengewone karakter, soos Bavinck dit uitdruk”.
Maar dit is glad iets anders as wat die Geelkerken manne bedoel het.
Iets buitengewoon wees en tog werklik plaasvind. Ons hoef hier maar net die wonder as voorbeeld by te bring, ‘n Wonder is iets buitengewoons, iets wat in die gewone gang van sake nie aanskou
word nie. En tog is ‘n wonder werklik, dit vind plaas voor die oë van die toeskouers en kan deur hulle getas word.
So spreek die genoemde godgeleerdes ook van die skeppingsdae as buitengewoon. Dit is werkdae, nie van die mens nie maar van God. Wat toe gebeur het, het daarna nooit weer gebeur nie, nl. die
totstandkoming van die skepping.
Wat Kuyper en Bavinck so laat spreek het, is veral die feit dat die son eers op die 4de dag geskape is. Die eerste drie dae was dus ten minste ongewoon, deurdat hulle nie veroorsaak is deur die op- en
ondergang van die son nie. En soos prof. Aalders opmerk, daar is alle rede om die buitengewoonheid uit te brei tot die laaste drie skeppingsdae. Toe was die son al daar, maar God bly nog steeds die werker, die dag is nog steeds sy werkdag, terwyl daarby nog geen mens aanwesig was nie.
Een ding is seker duidelik — al is ‘n dag buitengewoon (soos ook die laaste dag van die wêreld sal wees), en al kan ‘n mens die presiese duur daarvan nie bepaal nie, — ‘n dag word darem nooit
‘n tydperk nie.
Met die tydperkteorie het hierdie opvatting van Kuyper en Bavinck niks te maak nie.
Die duur van die skeppingsdae
Wat nou die duur van die skeppingsdae betref (veral van die eerste drie), daaromtrent sê prof. Aalders dit:
„Die onsekerheid aangaande die duur van die skeppingsdae sluit volstrek nie in dat hulle langer en selfs baie langer van duur was as „ons” dae nie. Hulle kon ewe goed korter en selfs baie korter gewees het as ons allerkortste winterdag”.
Turrentinus en van Maastricht
Ons ou Gereformeerde skrywers het al hulle aandag gewy aan die vraag of die skeppingswerksaamheid van God telkens die hele dag in beslag geneem het. Meestal is die vraag so beantwoord dat die afsonderlike skeppingsdade in slegs enkele oomblikke plaasgevind het
(Turrentinus, V. Mastricht).
In elk geval kan ons aan die almag van God geen paal of perk stel nie. Een enkele oomblik is vir God genoeg om te doen alles wat Hy wil. Hoeveel tyd, na ons maatstaf gereken, God in sy welbehae wou gebruik vir sy werk — daarvan weet ons niks nie.
Om weer prof. Aalders aan te haal:
„Die Heilige Skrif sê ons daar niks van nie, en ons mag die Skrif nie meer laat sê as wat hy inderdaad sê nie . .. . Om ons standpunt skerp te laat uitkom (skryf die professor verder) moet egter nog eens met alle klem gesê word: die skeppingsdae hoef nie langer geduur het as „ons” dae nie, hulle kan ook baie korter gewees het, hulle kan, in ons tydmaat, slegs enkele sekondes in beslag geneem het”.
Ons wil alleen laat blyk het dat Kuyper, Bavinck en Aalders geen voorstanders van die tydperkteorie is nie. Hulle hou hul aan die woorde van die Skrif. Verder pas dit ons om nie wyser te wil
wees as wat ons betaam nie.
In Gen. 1 staan „dae”, en daar bly ons by.”
“Die evolusieleer is onskriftuurlik en met Gods Woord onversoenbaar. Daarom mag die Christen geen versoening van Gods Woord met die evolusieleer soek nie. Doen hy dit tog, dan gee hy Gods Woord aan die ongeloof prys en verswak die Christendom in sy stryd teen die heidendom. Alleen ’n Christendom wat suiwer staan en vir Gods Woord gelowig sy hoof buig, staan sterk teenoor die heidendom. Gods Woord kan nie met die natuur bots nie, want dieselfde waaragtige God het die natuur geskape en Sy Woord ons gegee. Ware natuurwetenskaplike teorieë moet met die Bybel ooreenstem. Waarom sal ons dan die Bybel probeer versoen met teorieë wat nie met die Bybel ooreenstem nie? ”
“Maar wel baar dit verwondering dat soveel kerkleiers, soveel Christelike teoloë, die evolusieleer aanvaar en op allerlei kunsmatige maniere met die Bybelleer probeer versoen. Hierdie feit moet egter verstaan word in die lig van die volgende oorwegings: (a) Die Bybelkritiek is in die ondermyning van die Bybelgeloof ’n bondgenoot van die evolusieleer; (b) Hierdie teoloë glo dat die wetenskap en sy evolusieleer nie betwyfel mag word nie, omdat die wetenskap en sy evolusieleer op feite en op onbevooroordeelde eksperimentele feite-ondersoek alleen rus. (c) Hulle weet dat as hulle die evolusieleer beslis verwerp, hulle dan ontelbare geleerde manne uit die kerk sal verloor, terwyl hulle hierdie manne in die kerk wil behou.” – dr. HG Stoker (Die Evolusieleer, in: Koers in die Krisis I, Stellenbosch: Pro Ecclesia: 1935, bl.353-364)
“Ons moet dus t.o.v. die verhouding van Bybel en wetenskap nie die een aan die ander opoffer of subordineer nie, ook nie beide so skei, dat alle samehang en wisselwerking verlore gaan nie, maar elk in sy soewereiniteit erken en tog so ʼn samewerking soek, dat beide eenheid gewaarborg is, en wel om die eenheid van die waarheid, om die eenheid van die wetenskap, en om die eenheid van die menslike sielelewe en persoonlikheid. Dit beteken dat nie net die godsdiens en die geloof maar ook die wetenskap ge-christianiseer moet word.”
_____________________________________
*Beklemtonings en opskrifte bygevoeg.
Bron: Versamelde Werke, 1977-uitgawe, deel I, bl. 199-200, 203-207 (Kaapstad: Tafelberg Uitgewers).
Sien ook verskeie artikels oor die skepping, skeppingsdae, ens. hier.
Pro Regno uitgawe oor die skeppingsdae:
– “Die begrip ‘dag’ in Genesis 1 – verskillende verklarings”, deur prof. JL Heiberg
– “Pas met Verlichting werd het donker”, deur dr. Benno Zuiddam
– “Calvyn: Genesis bedoel wat dit sê”, deur dr. Jonathan Sarfati
– “Dae, tydperke of gewone dae?’ – Totius, Kuyper en Bavinck oor die lengte van die skeppingsdae”, deur Totius
– “In die bestek van ses dae”, deur dr. Kenneth L. Gentry, Jr.
– “Skepping en Erfsonde” – ‘n Paar opmerkings in antwoord op dr. Nico Vorster se artikel, Die teologies-polemiese gerigtheid van Genesis 1-3: implikasies vir die gereformeerde leer oor die erfsonde
Nuutse boek oor die skepping, ‘n baie deeglik verklaring van Genesis 1 en 2:
In the Beginning: Listening to Genesis 1 and 2, prof. C. van Dam
Sien ook: Creation and Change – Genesis 1:1–2:4 in the Light of Changing Scientific Paradigms, dr. Douglas Kelly
Leave a Reply