Skrifongeloof in ons tyd – Bybel en wetenskap: HG Stoker se getuienis

“Die verskillende verhale en tekste in die Bybel moet liefs nie in die eerste plek gelees word as “woorde van God” nie, maar as woorde van mense.” – dr. Ben du Toit

“In die Skrif is daar ’n skopus of ’n sentrale fokus. Dit kulmineer in die kruisiging en opstanding van Jesus Christus. Dit bring hoop in ’n verwarrende en deurmekaar tyd, waar mense soekend is. Dit is die finale lens en dalk die heel belangrikste een waardeur ons na die Skrif behoort te kyk.” – dr. Braam Hanekom

“Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” – Jesus Christus (Matt.4:4)

“Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.” – Paulus (1 Thess.2:13)

“… want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. – Petrus (1 Pe 1:23)

“Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2Pe 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hyself het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.” – Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 3

In ‘n artikel, Wat sê die Bybel?, gee twee teoloë van die NG Kerk hul menings oor hoe die Bybel gelees moet word, Braam Hanekom en Ben du Toit, by die Kerkbode aanlyn.

Die vader van Skrifkritiek vind ons reeds in Gen.3:1-5, en hy versamel vir hom ‘n ‘kerk van skrifkritici’ deur die eeue wat hy deur hul eie valslik sogenaamde kennis bewaar en in stand hou (1 Tim.6:20) … ironies genoeg, met lidmate se geld wat meestal nie glo wat die Skrifkritici glo nie.

In die eerste eeu was daar die Sadduseërs wat die opstanding van die dode en die bestaan van engele bevraagteken het (Matt.22:23-33; Hand.23:8).

Veral vanaf die Verligtingseeue (18/19de eeu), het Vader Skrifkritiek baie kleintjies gekry, en sit hul vandag ons teologiese skole oor die land en wêreld vol, terwyl baie wat ‘teen hulle’ is, hul probeer beveg met ‘n beperkte afgewaterde ‘skopus teologie’ ten koste van die res van die Skrif:

“Ons glo in Jesus, ongeag dat die Bybel vol foute, onbetroubaar is, weersprekend is, nie geskiedkundig korrek nie, ens … want Vader Moderne Wetenskap sê so …”

Ware wetenskap in natuur en Skriftuur begin egter met die vrees van God, die erkenning dat as beide reg gelees word, Skriftuur en natuur mekaar nie weerspreek nie. Die Woord is die bril waardeur ons die wonder van God se skepping ontdek en geniet (Calvyn).

Ware wetenskap op alle gebiede buig voor Christus, nie andersom nie.

Ek wil u daarom wys op ‘n lesing/artikel van prof.dr. HG Stoker (1899-1993):

Die Bybel en wetenskap

Die artikel van prof. Stoker kan gelees word as antwoord op vandag se Skrifkritici, asook die twee artikels wat ek hierbo na verwys het, waar eersgenoemde artikel ‘n verskraling van die gesag en omvang van die Skrif is (skopus teologie – Hanekom), en laasgenoemde  ‘n verwerping van die Bybel as God se Woord is (deur die fokus te plaas op die menslike kant van die Skrif – du Toit).

Hier volg nou ‘n kort samevatting van bepaalde aspekte van Stoker se artikel, waarin ek deur aanhalings sy Skrifbeskouing en siening van Skrifgesag uitwys, asook hoe hy die verhouding tussen die Bybel en wetenskap verstaan (alle beklemtonings in aanhalings is bygevoeg):

1. Die wesentlike saak is: die Bybel is onfeilbaar en het goddelike gesag teenoor die Bybel is gewone mensewerk met blote menslike gesag:

“Hierop kan ons nou nie ingaan nie en beperk ons tot die Christelike standpunte, wat die Bybel as hoogste bron vir die kennis van God aanvaar. Maar ook hier ontbreek die eensgesindheid van beskouinge. Ons het eers die teëstelling van die katolisisme en die protestantisme, en binne die protestantisme ʼn serie teëstellinge, wat wissel van die mees ortodokse en wel letterlike Bybelgeloof, die handhawing van die Bybel as onfeilbaar en van goddelike gesag met ʼn serie tussenstandpunte tot die mees liberale, wat die Bybel beskou as gewone mensewerk, histories natuurlik gegroei met bloot menslike gesag en vol van menslike tekortkominge en waarin die soendood van Christus geloën word.”

2. Ons mag geen teenstrydigheid tussen Bybel en wetenskap handhaaf nie:

“As Bybel en wetenskap in een of meer opsigte bots, dan kan ons eerstens die inkonsekwensie-standpunt aanvaar, d.w.s. beide glo. Dan glo ons bv. Sondae dat God die mens geskape het, en Maandae dat hy en die aap van ʼn gemeenskaplike dierlike voorouergroep afgestam het. Alhoewel meer as een hierdie inkonsekwensie in hul siel duld, glo ek tog dat hierdie standpunt die meeste mense nie sal kan bevredig nie, en wel om die eenheid van die sielelewe en van die persoonlikheid wat so ʼn verdeling in ʼn wetenskaplike mens en in ʼn gelowige mens as twee aparte wesens as onnatuurlik en abnormaal stel, – en ook nie om die eenheid van die wetenskap en van die waarheid nie, waarin logiese inkonsekwensie-kontrabande is of behoort te wees.”

3. Vandag se gevaar: die Bybel moet (aanhou) aanpas by die nuutste moderne ongelowige wetenskaplike teorieë (bv. dat Gen.1 en 2 nou mitologies verstaan moet word in die lig van die evolusieleer):

“Die ander standpunt egter, dat die geloof wel diensmaagd van die wetenskap is, en sy sanksie in die wetenskaplike navorsings en bewyse moet vind, – en dat die geloof en in besonder die teologie sig gedurig moet aanpas aan die konstellasie van die natuurwetenskaplike denke, word vandag wel in groot kringe aangeneem. Hiervolgens moet die Bybel-eksegese in die eerste plek rekening hou met die vorderinge en teorieë op die gebied van die natuur- en ander kosmiese wetenskappe. As vroeër in die tyd van Linnaeus bv. geglo is in die konstantheid van die soorte, dan is ʼn letterlike eksegese van Genesis 1 en 2 geregverdig, en as vandag die geleerdes in die evolusieleer glo, dan moet Genesis 1 en 2 as allegories of mitologies of figuurlik opgevat en ge-eksegetiseer word.

En as oor enkele jare die beskouinge van die genetici en van die meeste plantkundiges nl. dat evolusie van laag na hoog en van een genus na ʼn ander onwaar is, die opperhand kry, dan mag die teoloë Genesis weer letterlik interpreteer, as hulle wil. Die geloof en die Bybel-eksegese moet dan die golwinge van die teorieë-stroom in die wetenskap mee maak, en na hul pype dans. M.i. is hierdie oplossing ook fout, omdat dit aan die vryheid en soewereiniteit van die geloof en die teologie tekort doen, en die Bybel nie aanvaar soos dit m.i. aanvaar behoort te word, as die onfeilbare Woord van God. Ons kom egter op hierdie oplossing weer terug.”

4. Die skopus van die Bybel (die Koninkryk van God in Jesus Christus) maak nie ander gedeeltes van die Bybel (bv. geskiedkundige gegewens) minder noodsaaklik en minder onfeilbare Woord van God nie:

“Nes in ʼn skildery ʼn sentrale tema gegee is, wat belig word deur die minder sentrale of periferale omtrekke, so ook het ons in die Bybel die sentrale temas wat belig en gedra word deur die meer periferale omtrekke. Nie elke deel van die Bybel is van ewe sentrale betekenis nie, maar daarom is die meer periferale gegewens nie minder noodsaaklik en nie minder Gods Woord nie. Daar is Bybel-moeilikhede, waarop ek netnou terugkom, maar in die lig van die wonderlike eenheid van die Bybel as geheel het hierdie moeilikhede vanself minder ernstige betekenis, – nes bv. in ʼn skildery hier en daar ʼn kleur kan wees, wat nie heeltemal in die geheel inpas nie, of wat later ingevoeg of oorgewerk is, sonder om die eenheidskonsepsie van die kunsstuk heeltemal te vernietig. Vir hom egter, wat die eenheid van Gods Woord nie raaksien nie, is elke Bybel-moeilikheid vanself van ʼn geweldige groot betekenis om die Bybel te betwyfel, nes vir hom, wat die eenheid van die kunsstuk nie begryp nie vir wie veral klein gebreke geweldig hinder. Diegene wat van die moeilikhede in dele van die Bybel tot die geheel verhoog, vind die moeilikhede onoorkomelik en kan die eenheid dan nie raaksien nie. Ons moet met die eenheid begin om die Bybel reg te verstaan en om dan elke deel in sy besondere betekenis te waardeer.”

5. Die Bybel het ‘n bonatuurlike oorsprong, is organies in sy geheel en dele deur die Heilige Gees ge-inspireer, waardeur die Bybel onfeilbaar is al het dit ‘n eg menslike karakter:

“Die tweede punt, waarop ek u aandag wil vestig in verband met die reformatoriese Bybel-opvatting, is dat die Bybel bo alle ander boeke ʼn absoluut bevoorregte posisie inneem: die Woord van God in absolute sin. Dit beteken nou dat in die totstandkoming van die Bybel ons nie net soos die Bybel-kritiek wil, met natuurlike faktore moet rekening hou nie, maar ook en in die eerste plek met sy bonatuurlike oorsprong. Die teorieë, wat dit wil verduidelik gebruik gewoonlik die term inspirasie. Met inspirasie word nie bedoel natuurlike inspirasie, soos alle mense dit kan kry in filosofie, digkuns, en in teologiese oorpeinsinge nie, maar ʼn deur die Heilige Gees gesuiwerde inspirasie, waardeur die Bybel onfeilbaar word. … Organies is die Bybel geïnspireerd, in elke deel en in die geheel. Daarom ook is nodig die Bybel in sy geheel en as eenheid te leer sien, maar ook sy eg menslike karakter nie uit die oog te verloor nie.”

6. Die Bybel moet aanvaar word soos die Bybel homself openbaar:

“In die vierde plek moet ons erken, dat menigeen beswaar maak teen die goddelike karakter van die Bybel, – want hoe sou ons weet dat die Bybel waarlik Gods Woord is in ʼn sin van geen ander teologiese geskrif dit is nie. Ons kan antwoord: die Bybel self wil prima facie so verstaan word, en in my geloofservaring kan ek die Bybel nie anders aanvaar nie as wat die Bybel tot my spreek.”

7. Die evolusieleer is direk in stryd met die Bybel en geen natuurkundige ontdekking wat die Bybel weerlê nie:

“Die evolusieteorie bv. van die dierlike afstamming van die mens is gebaseer op beginsels en metodes, wat met die beginsels van die Bybel bots, en as ons dieselfde verskynsels op ander beginsels sou analiseer en verklaar, soos bv. die genetici doen, dan verval die evolusieteorie vanself. Sulke soort botsings tussen Bybel en wetenskappe hoef dus ook nie fataal vir ons geloof te wees nie. Die eis is om teenoor hierdie soort wetenskap ʼn ander een op te bou, wat wel skrifgelowig is. Daar is m.i. nog geen enkele absoluut bewese natuurkundige ontdekking of teorie wat die Bybel finaal en absoluut op een of ander punt weerlê nie. Die Bybel staan vandag nog in sy absolute en onfeilbare karakter.”

8. Daar is nie teenstrydighede of weersprekings in die Bybel nie, wel ‘moeilikhede’ wat ‘swaar is om te verstaan’ maar oplosbaar is (sien 2 Pe.3:16):

“Bybel moeilikhede … Ons kan mismoedig word of kleingelowig en ons Bybel-geloof deur hulle aan die wankel laat bring, of ons kan vol vertroue aanvaar dat hulle oplosbaar moet wees, omdat God wat die wêreld geskape het en in Sy Woord Hom aan ons geopenbaar het, ʼn waaragtige God is, wat Homself nie teëspreek nie.”

9. Die skeppingsleer (en alle wonders en leringe van die Skrif) is logies, terwyl teïstiese evolusie (‘kreatiewe evolusie’) onlogies is:

“Vir die wondergeloof is die “iets uit niks” nie onlogies nie, soos bv. die skepping van die wêreld uit niks deur God, omdat dit as iets super-logies van die begin af gekarakteriseer is, – maar vir die wetenskappe van die natuur is die begrip van ʼn kreatiewe evolusie wel onlogies. Bowendien is die kombinasie van terme: kreasie en evolusie ʼn contradictio in terminis, nes bv. ʼn vierkantige sirkel of ʼn ronde reghoek dit is.”

10. Alle wetenskap is voorlopig en veranderend, en dus nie onfeilbaar nie:

“Dit beteken nou dat die waarde van die resultate van die wetenskappe alleen van ʼn betreklike aard is, nl. insover as wat nie alleen die feite maar ook die beginsels korrek gesien is, en oor die vraag of die beginsels juis is, heers verskil.”

11. Die wetenskap kan nie die Bybel feilbaar maak of verkeerd bewys nie, en evolusie is geen feit nie:

“Daarom kan ʼn mens nie sommer gladweg ʼn wetenskaplike resultaat teenoor die Bybel gaan stel nie en handhaaf dat daarmee die feilbaarheid van die Bybel bewys is nie. Die evolusie is insover dit die ontwikkeling van laag na hoog betref geen feit nie, want niemand kan dit as ʼn feit voor my oë demonstreer nie; die evolusie in hierdie sin is ʼn beginsel. Daarom bewys ook alle evolusionistiese eksperimente hierdie beginsel, omdat die eksperimente aan die beginsel onderworpe is. Dieselfde feite gesien deur die lig van ʼn ander beginsel, bv. die van die genetici, toon weer aan dat die vertikale evolusie ongeldig is. ʼn Horisontale evolusie binne die perke van die genus en op die organisasiehoogte van die genus, is wel ʼn feit, wat voor my oë demonstreerbaar is, en wat die oorerwingsnavorser vanself ook erken.”

12. Daar heers groot verwarring tussen verskillende wetenskappe vandag:

“As die navorsers nie eensgesind is t.o.v. die saaklike kontrole, die logiese kontrole, en die metode-kontrole nie, dan verskil hulle vanselfsprekend en in konsekwensie ook in hul sistematisering van die verkreë kennis. M.a.w. die eenheid van wetenskap ontbreek, daar bestaan verskillende wetenskappe, wat mekaar vandag in verwarring deurdring.”

13. Daar is en sal geen vrede wees tussen ware Bybel-geloof en ware wetenskap aan die eenkant teenoor Bybel-ongeloof en ‘neutrale’-naturalistiese of ongeloofswetenskap (o.a. Bybelkritici en evolusioniste) aan die anderkant nie, en, enige poging tot versoening sal daartoe lei dat die Bybel moet buig voor die ongeloofswetenskap van die Bybelkritici en evolusionisties-naturalistiese wetenskaplikes:

“Die verhouding van ons Bybel-geloof teenoor die neutrale of positivistiese wetenskap is vanselfsprekend skeef, onnatuurlik, teennatuurlik. ʼn Wetenskap, wat soos die positiviste God en Sy Woord negeer, – en waarin die geloof aan God en aan Sy openbaring prinsipieel geen plek het nie, – m.a.w. waarin Gods- geloof en Bybel-geloof as nie-wetenskaplik bestempel word, – is van staanspoor af onversoenlik en onversoenbaar met die Bybel-geloof. In hierdie opvatting is alleen moontlik ʼn streng eis, dat die godsdiens en die geloof, wil hulle erkenning vind, hulle meedoënloos onderwerp aan die diktate en eise van die natuurwetenskappe.

Pogings om konsiliasie tussen beide te bewerkstellig, soos so dikwels gebeur vandag, veral in kringe van Bybel-kritici, e.a., eindig noodwendig met die opoffering van Gods Woord aan die naturalistiese woord van die mens. Orals, waar in hierdie verband Bybel en wetenskap bots, moet in logiese konsekwensie die Bybel die onderspit delf.”

14. Kompromie tussen Bybelgeloof en evolusiegeloof breek die ware geloof en kerk van Christus af en is ‘n valse vrede:

Beide platforms is so verskillend dat ʼn koalisie, waarin die Bybel sy soewereiniteit behou – nes die wetenskap dit eis om te behou, – prinsipieel uitgesluit is. Daarom bewys die konsiliatoriese geeste, wat positivisties wetenskaplik en Christelik tegelyk te wees en koalisie wil bewerkstellig ʼn slegte diens aan die Bybel-gelowige en aan die kerke, wat die Bybel onvervals wil handhaaf. Want hierdie vrede-apostels offer slag op slag telkens meer van die Bybel en wel noodwendig aan die wetenskap op.”

15. Die hele kosmos, alle wetenskappe ingesluit, moet bestudeer word en beoefen word ‘in U lig’ (Ps.36:10, die ou PU vir CHO se leuse):

“Wedersyds belig die wetenskappe ook mekaar se objekte. So belig die natuurwetenskappe probleme, van die biologie of van die matematiese, ens. en ook alle wetenskaplike probleme waar die teoloog mee werk, en die teologieprobleme, waar die ander wetenskappe mee werk. Die omvattendste lig op alle probleme bied die lig wat God in Sy Woord op die wêreld werp. Derhalwe bestudeer die Christelike wetenskappe die probleme “in U lig”, soos die psalmdigter sê.

16. Die Bybel is God se Woord in alles wat dit spreek, nie net die saligheidsuitsprake nie. Skopus-teologie is onlogies:

Die Bybel immers openbaar nie net religieuse en etiese waarhede nie, maar die verhouding van hierdie waarhede tot die hele kosmos. As die Bybel aan die mens sy weg tot saligheid openbaar en nie ook meedeel, wat die mens is, wat sy houding nie net tot God maar ook tot die kosmos en ook God se verhouding tot die kosmos waarvan die mens ʼn integrerende deel is, – dan sweef mos die hele saligheidsopenbaring in die lug. Die openbaring van die weg van saligheid van die mens belig vanself en meteen die kosmiese posisie van die mens. Om te eis dat die Bybel alleen in sy religieuse en etiese gedeeltes Gods Woord is, en in die ander gedeeltes nie is nie is kunsmatig en onlogies.

“Om die mens sy verhouding tot God te openbaar moes die Bybel vanself mede-openbaar die verhouding van die hele kosmos tot God en van die geskiedenis van die mens tot God. Om dus die kosmologiese en historiese gedeeltes van die Bybel as nie Gods Woord te beskou beteken die miskenning van die verband van die mens met die kosmos en die verband van die kosmos tot God. Nes ons in ʼn skildery ʼn voor- en ʼn agtergrond het, is die voorgrond van die Bybel, d.w.s. die hooftema, die verlossing van die mens deur die bloed van Christus – maar hierdie voorgrond word alleen dan ten volle verstaanbaar as dit deur die agtergrond gedra word. … Dit is dus nie onnodig en sinloos dat die Bybel kosmologiese en historiese gedeeltes het nie, maar dit vanself vereis. Afgesien egter hiervan gee die Bybel dit as openbaring van God.”

17. Die Woord van God lei al ons wetenskaplike denke, omdat die waarheid een is:

“Die eenheid van die wetenskap en van die waarheid, die eenheid van sy sielelewe en sy persoonlikheid vereis juis die erkenning van die Woord van God as leidend ook vir ons wetenskaplike denke.”

18: Die Bybele se alledaagse taalgebruik bevestig die historiese gebeure:

“Sê Josua moes die stilstaan van die son tegnies geformuleer het in die terme van Galileo en Newton, dan sou sy tydgenote en nageslagte daar niks van gesnap het nie, maar dan sou dit bowendien onsuiwer en verouderd geformuleer gewees het volgens die tegniese terminologie van Einstein van vandag. Wie Josua se son bestry op grond van Galileo se teorieë veg teen windmeulens.”

19. Ons moet onbevooroordeeld wetenskap beoefen, maar kan nooit veronderstellingloos wetenskap beoefen nie:

“Onbevooroordeeldheid is egter nie dieselfde as veronderstellingloosheid nie. Geen wetenskap kan beoefen word, sonder bepaalde veronderstellinge betreffende die wetmatigheid van die natuur of die kousaliteit, of die doelmatigheid, of watter ander beginsels ook. En as die Bybel my oë oopmaak vir die doelmatigheid in die natuur self, en ek hierdie beginsel in die wetenskap erken, dan is dit omdat die verskynsels self hierdie beginsel openbaar en dit noodsaaklik is om in my analise daarvan hierdie beginsel te veronderstel. Bevooroordeeldheid is dit beslis nie.”

20: Die skeppingseenheid van God maak wetenskapsbeoefening van die verskeidenheid in die kosmos moontlik:

“Waar vir die Christen die eenheid van die wêreld in die eerste plek geleë is daarin dat dié ʼn skeppingseenheid van God is, en die veelheid en verskeidenheid van die kosmiese verskynsels hierdie eenheid nie weerspreek nie, maar grootser laat uitkom, – bestaan by hom eerder die behoefte om die verskeidenheid so volmondig en konsekwent as moontlik te erken, as om dit te verkleineer deur onbeperkte generalisasies en deur brûe te slaan oor wesensverskille of ‘missinglinks’ te soek tussen soortverskille. Die teenswoordige wetenskap egter generaliseer so uitermatig om die eenheid van die kosmos gewaarborg te kry deur een kosmiese beginsel, omdat hy die eenheid nie transendent in ʼn skeppingseenheid gewaarborg het nie. Daarom moet hy die evolusielyn generaliseer van die amoeba deur die vis en die dier tot die mens, daarom wil hy stof en lewe oorbrug deur die holistiese struktuurbeginsel, die dier en die mens deur die kreatiewe evolusiebeginsel, daarom soek hy op alle gebied ‘missing links’ om die diskontinu gapinge tussen die wesensverskillende verskynsels te oorbrug. Die Skrifgelowige navorser het hierdie behoeftes nie, en voel sig vry om wesensverskille en onoorbrugbare soortverskille te ontdek en te erken. Hy hoef nie na een of ander vorm van monisme te vry nie, hy is nie gebonde aan net een metode, soos die natuurwetenskappe hulle heil net en alleen of in hoofsaak van die induktiewe metode wil laat afhang nie. Tyd ontbreek om hierdie gedagtegange verder uit te werk. Dis genoeg as gesien word dat die houding van die Christen navorser op grond van sy Skrifgeloof anders en vryer is as die van die Skrifnegeerder. Ook hier geld dat die geloof in Gods Woord ʼn mens waarlik vry maak.”

21. Stoker se samevattende slotwoorde

“Ons moet dus t.o.v. die verhouding van Bybel en wetenskap nie die een aan die ander opoffer of subordineer nie, ook nie beide so skei, dat alle samehang en wisselwerking verlore gaan nie, maar elk in sy soewereiniteit erken en tog so ʼn samewerking soek, dat beide eenheid gewaarborg is, en wel om die eenheid van die waarheid, om die eenheid van die wetenskap, en om die eenheid van die menslike sielelewe en persoonlikheid. Dit beteken dat nie net die godsdiens en die geloof maar ook die wetenskap ge-christianiseer moet word.”

My slotwoord

Stoker se woorde spreek tot die Bybelongeloof en kompromieë van ons dag.  Die probleem met meeste geleerdes, is dat hulself te GROOT geword het in al hul ‘geleerdheid’ … en juis daarom word God se stem al stiller, en eindig hul dan met die mens se stem:

” … die Bybel moet liefs nie in die eerste plek gelees word as “woorde van God” nie, maar as woorde van mense.”

Ja, die ‘woorde van mense’, en nie die ‘woorde van God’ nie, staan dan sentraal. Daarteenoor skryf die gelowige geleerde, Paulus (beklemtoning bygevoeg):

“Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.” (1 Thess.2:13)

Die Verligtingsgod, die postmoderne God met sy mensewoorde is nié die ware God van die Bybel nie. Laat ons duidelikheid daaroor kry.

Soos Israel van ouds die volke om hul se gode begin aanbid het en verruil het vir die ware ewige God, so het die verligtingsmoderne en postmoderne teoloë die denkgode van hul tyd, of dit nou panteisme of panenteisme of feminisme of evolusionisme of watter ander god ook al is begin aanbid. Hulle het dwaas geword in hul gemoed, en skep vir hulle gode volgens hul nuwe gees, die Tydsgees.

Daarteenoor is die ware enige God volgens die Heilige Skrif, wat die Woord van God is:

– die Almagtige,

– die Skepper van hemel en aarde,

– wie se eniggebore Seun, Jesus Christus ons Here is,

– wat gebore is uit die maagd Maria,

– gely het onder Pilatus,

– gekruisig het, gesterf het en begrawe is, en

– neergedaal het na die hel,

– wat op die derde dag opgestaan het uit die dood,

– opgevaar het na die hemel,

– en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

– waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

Dit doen Hy alles deur sy Woord en Gees, en geen mens, mag of slim geleerde kan dit stop nie,

– die Heilige Gees vergader deur sy onfeilbare foutelose ewige Woord,

– vir die Here ‘n heilige algemene Christelike kerk,

– hulle – nie die universiteit nie – is die ware gemeenskap van heiliges,

– wat deur sy Gees alles glo wat in sy Woord geopenbaar is,

wat genadiglik uit dankbaarheid kan weet en bely:

– ons sondes is ons vergewe danksy Christus alleen !

– ons liggame gaan op die laaste dag weer opstaan om met ons siele verenig te word, want ons het nie ‘n halwe Verlosser nie, maar Een wat vir beide gees én liggaam gesterf het, want Hy het self in beide gees én liggaam opgestaan, Halleluja!

– en dan ontvang ons, die volkome ewige lewe, wat ons nou reeds in beginsel ontvang uit genade, deur die geloof in Jesus Christus (Ef.2:8-10). Amen.

Die Christelike geloof, ons saligheid in lewe en sterwe in Christus, die eer van God staan en val by die volgende woorde:

Die Bybel is die ewige onfeilbare foutlose Woord van God.

Maar ons troos, is die troos van 1 Petrus 1:24, 25:

“Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, 25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.”

Vandag nog word daardie Woord aangehoor en verkondig, orals maar veral elke rusdag, waar die Here sy volk orals vergader onder alle volke, tot die laaste uitverkorene ingekom het (NGB artikel 37).

Die Here van die leerskare sal dit doen (Jes.9:6,7).

Hy is Getrou (1 Kor.1:9).

6 thoughts on “Skrifongeloof in ons tyd – Bybel en wetenskap: HG Stoker se getuienis

Add yours

    1. Wynand, jy is welkom, sodra ek iets hier plaas, is dit openbare domein en kan jy dit gebruik (met ‘n verwysing), jy hoef nie elke keer toestemming te vra nie. Goed gaan, Slabbert

  1. BAIE baie dankie, julle twee. Ek gaan dit op ons blogs ook sit. Mag die Here deur Sy Gees hierdie boodskap vér laat trek!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: