LEER PREDIKING: NGB artikel 36 – Die burgerlike owerheid (Romeine 13:1-7)
Lees: Romeine 12:1,2,17-13:14
NGB artikel 36: Die burgerlike owerheid
Teksverse: “LAAT elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, 2 sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. 3 Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy nie die mag vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; 4 want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. 5 Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete. 6 Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. 7 Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.” (Romeine 13:1-7)
Tema: Die burgerlike regering is slegs een van vier regeringsvorme wat almal onderwopre is aan God en volgens sy geopenbaarde wil moet dien en regeer
(Preekopname: GK Carletonville, 2022-06-26, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek).
Aflaai (regs kliek): NGB art. 36 (Rom. 13:1-7)
Politiek vierde! (x2)
Geliefdes in Christus,
Dit is wat die gelowige, die kerk se belydenis behoort te wees, wat ons eerstens uit Rom. 13 wil leer asook ons belydenis in NGB art. 36 in navolging van die Skrif.
Die burgerlike owerheid of regering (‘staat’), het nie die belangrikste plek in ons lewens nie,
Die staat kan ons nie red nie, hy is nie god nie, maar is wel een van vier magte of gesagsterreine, regerings wat God daar gestel het, v. 1,
LAAT elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel,
Daarom, dat ons in navolging van die Skrif bely in eerste 2 sinne van die NGB:
Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede aangestel het. Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer moet word…
Dit is die Here se wil dat daar oor ons burgerlike owerhede/regerings sal wees.
Maar baie belangrik geliefdes, en dit is een van die wesentlike dwalinge deur die eeue,
waarvoor baie gelowiges onkundig maar ook kwaadwillig val:
Ons praat so maklik van ‘die regering’, asof daar net een vorm van regering of mag is,
wat God ingestel het, terwyl daar eintlik ten minste 4 regerings of owerheidsvlakke is,
wat elkeen onder God, op sy terrein moet funksioneer tot eer van God, volgens sy geopenbaarde wil.
Vers 1 praat van ‘magte’ = meervoud, en natuurlik gaan dit hier primêr oor die burgerlike regering, maar in die konteks van die hele Skrif is daar ook die individuele regering, gesinsregering en gemeenteregering, wat Paulus op ander plekke ook duidelik leer.
Hier in die boek Romeine skryf hy vir die gemeente in Rome, oor hul roeping as kerk, en deel die basiese evangelie, dat Christus hul Verlosser en Koning is.
Maar dat hul as burgers van die hemelse koninkryk, nog steeds ook in hierdie lewe burgers is van die aardse koninkryke, en daarom ook die leer oor die burgerlike owerheid in Rom. 13:1-7.
Maar daar is ook die individuele regering onder God, sien Rom. 12:1,2 …. 13:13,14, waar jyself as geloof deur ‘Gees en Woord’ moet regeer.
In veral die boeke Efesiërs (6:1-4) en Kol. 3:18-25 leer ons van ouers wat regeer in die gesin.
1 Tim. 2 en 3 en Titus, die pastorale briewe leer ons van die regering in die gemeente deur die kerkraad.
SO, geliefdes, dit is die eerste belangrike saak wat ons leer, ons glo nie in staatisme nie, dat die staat verlosser is, en enigste regering is wat gehandhaaf moet word en ander regerings oorneem en as’t ware onderdruk nie.
Die sleuter van goeie burgerlike regerings is juis in samelewings, waar hierdie 3 ander regerings goed en reg funksioneer, dink aan Totius se uitspraak dat ‘kerk en staat’ gesond is, waar christelike gesinne goed regeer word.
Tweede saak wat ons wil leer, as elke regeringsvorm sy eie terrein het, wat is die doel en taak van die burgerlike owerheid?
Is dit om die gesondheid van sy burgers te waarborg?
Om die onderwys te voorsien?
Om van die wiegstoel tot die dood alles vir die burgers te doen?
Om die ekonomie te bepaal?
Nee geliefdes, ten minste nie volgens die Skrif hier in Rom. 13 soos ons ook bely in NGB art. 36 nie,
Een van die wesentlike probleme van seker alle burgerlike owerhede vandag, is dat hul messiaans wil wees, alles en almal wil red en versorg, en alles wil reguleer en wil bepaal … en ongelukkig dink baie christene dink dit is goed, of dit nou hierdie of die vorige bedeling was…
Wat leer die Skrif, wat is die spesifiek bepaalde taak van die burgerlike owerheid, Rom. 13:3-5,
“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy nie die mag vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete.”
Die burgerlike owerheid is daar om negatief te straf, die misdadigers, die oortreders,
positief beteken dit om die goeie burgerlike orde te handhaaf sodat die ander regerings hul lewenstake kan volbring.
Hulle moet ‘wet en orde’ handhaaf, konkreet polisiemag, weermag, howe, regspraak, ens.
Nie ekonomie en onderwys bepaal waarvan die huidige owerheid so gemors maak nie,
Nie gesondheids- of welsyndienste nie … dink aan die covid-regulering chaos en diktatuur.
Ons bely die burgerlike owerheid se take as volg, wat juis vloei soos ons bely,
uit die werklikheid van dat daar ‘n sondeval en sonde gevolge en dus misdaad is,
sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop. Vir dié doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf…
Die swaard wys dan ook op die burgerlike owerheid, soos dit gefundeer is in die OT, Gen. 9 asook die wette van Moses wat gaan oor juridiese burgerlike sake, om die doodstraf te handhaaf.
Die NAV vertaling het die woord ‘swaard’ wegvertaal, maar gelukkig het die 2020 vertaling daardie fout herstel.
Die belydenis kom, dit is die derde saak wat ons leer, dan by ‘n saak waaroor gelowiges deur die eeue baie verskil het, en vandag nog meer,
en dit is of die burgerlike owerheid bloot ‘n neutrale ‘algemene genade’ instelling of regering moet of behoort te wees, waarmee die gelowige of kerk niks te doen moet hê nie, of ten minste net as ‘n ‘noodsaaklike boosheid’ moet verdra?
Of, moet die burgerlike regering, soos alle ander regerings, of hul nou wil luister of nie,
buig voor die enigste Verlosser van hemele en aarde, asook enigste Koning van hemele en aarde,
Jesus Christus, op hul eie publieke terrein, en volgens God se wet moet regeer ook daar op hul terrein?
En hier is nou ‘n baie belangrike onderskeid wat ons ook moet handhaaf,
ons moet duidelik onderskei tussen wat God vra en eis van ‘n burgerlike owerheid,
meer spesifiek die ampstaak/roeping aan die eenkant van alle burgerlike owerhede,
en die spesifieke ampspersoon of persone of partye wat verkies is of tans regeer….
Met ander woorde: onderskei tussen wat ‘n burgerlike owerheid/president/leiers behoort te wees
volgens die Skrif, en wat hul tans is …. soos ons ook doen met ouers en kerkrade …
Die feit dat daar slegte ouers en slegte kerkrade kan wees, beteken nie dat daar goeies is en behoort te wees nie, of hoe?
Romeine 13, is eerstens en primêr opdrag aan die gelowiges, in hul gesins- en gemeente lewe,
dus eerste 3 regerings om tot eer van God te lewe ook in die wêreld, teenoor die owerhede van hul dag,
Maar geliefdes, Rom. 13 wil ook vir die keisers, regeerders deur die eeue,
wat die bepaalde regeringsvorm ookal is en kan wees (gesinshoofde – stamme – oudstes – rigters – konings -vorste – presidente – kabinette),
leer wat hul taak ook as owerhede is, wat hulle moet doen,
Daarom die woorde van v. 3-5, wat vir burgerlike owerhede wil leer wat hul take is,
Dat NIE NET DIE BURGERS VAN ‘N LAND NIE, MAAR OOK DIE OWERHEDE IS AAN GOD VERANTWOORDELIK VIR HOE HUL REGEER!
En, dat die owerheid ook ‘n taak het om, ja natuurlik die kerk nie oor te neem nie, nie voor te skryf nie, maar om ‘n omgewing te skep waarin die kerk sy roeping en taak kan volbring, soos ons bely:
En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord en die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel.
Die burgerlike owerheid moet die kerk beskerm, nie toemaak nie, nie daaroor wil heers nie,
Maar juis hul eie taak, wet en orde doen, sodat die kerk deur die evangelieverkondiging
alle afgodery en valse godsdiens sal teengaan en uitroei, en die burgerlike owerheid dit ook doen op hul terrein waar hul geroepe is om die bose magte deur ‘wet en orde en strawwe’ teen te gaan.
Die burgerlike owerheid bevorder die koninkryk van Jesus deur hul take na te kom, die misdadigers te straf, en die kerk te beskerm om die Woord orals te laat verkondig.
(ns. my eie standpunt van die sogenaamde kontroversiële le 21 woorde, of die ‘sodoende’ is in lyn met hierdie GKSA teoloë se verstaan van NGB artikel 36)
En soos ons daar bely, as elkeen sy roeping in sy terrein volbring, is die groter doel,
wat die doel is van die hele skepping, en alle mense en alle regerings …. Daardie woorde:
“… sodat God deur elkeen geeer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel”
Ons gereformeerde vaders het hiermee, in lyn met die Skrif, verwerp enige vorm van neutraliteit in die lewe, of mens die straatveer is, of daar in jou gesin, of in jou gemeente, of jy die regter is, ‘n onderwyser, besigheidsman, of president, JY MOET BUIG voor God in Christus,
nie net in jou persoonlike lewe nie, maar ook in jou ampstaak.
Dit is ook in wese wat Paulus leer, in 1 Tim. 2:1-4,
IN die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
Sien veral Calvyn se verklaring hier … hy wys daarop dat as die Skrif hier leer dat alle mense gered word, beteken dit alle soorte mense (dus nie elkeen kop vir kop nie), dus nie net die gewone burger in sy 3 regerings nie, maar ook konings … ja, ook owerhede moet gered word deur die evangelie, en dan, in hul 3 regeringsterreine, maar ook in die burgerlike regering, moet hul God dan dien.
Hulle, soos alle ander mense in hul regerings, is nie vrygestel van die koningsheerskappy van Jesus nie … die eis bly, of hul gehoorsaam is of nie,
Nie net koning Dawid nie, nie net ‘n Paul Kruger nie,
Maar ook ‘n Putin, Biden en Ramaphosa moet buig voor Christus en sy Woord,
CALVYN SE OPMERKING in sy Institusies voorwoord aan koning Frans I: KONINGS EN VORSTE IS ROWERS AS HUL GOD NIE ERKEN EN EER IN HUL WETGEWING NIE.
Regeerders moet die Skrifte ondersoek en waar dit gaan oor burgerlike orde en wetgewing,
kyk wat die beginsel daar is en in ons moderne tyd toepas, wette en strawwe, ens.
Paulus wys daarop, nadat hy vir beide burger en burgerlike owerheid daar in Rom. 13:1-7
geleer het dat hul beide voor God verantwoordelik is,
Die burger wat onderwerp, die owerheid wat orde handhaaf,
dan wys hy in v. 8-10, wat die norm en standaard is vir alle regeringsvlakke en owerhede,
Vir beide burger en owerheid:
“WEES aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ’n ander liefhet, het die wet vervul. Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.” (Rom. 13:8–10)
God se Woord, natuurlik in die vervulling in Christus, sien NGB art. 24, 25
moet die norm, standaard wees wat beide burger en burgerlike owerheid se optrede bepaal.
Daarom NGB se woorde in art. 36: “…sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel.”
Dit bring ons by die vierde saak wat ons leer,
Die gelowige, die kerk moet dus, soos Rom. 13 leer ‘ter wille van die gewete’ = ter wille van God wat owerhede daarstel …
Moet ons die heil van burgerlike owerhede soek … hoor mooi geliefdes,
Ons soek hul heil volgens die eise van die Woord, wat God nie net van die burger vra nie, maar ook die burgerlike owerheid.
En daarom bely ons volgens die Skrif die volgende verantwoordelikhede en take wat ons het teenoor die burgerlike owerhede:
Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, sodat ons in alle godsvrug en eerbaarheid ‘n rustige en stil lewe kan lei (1 Tim. 2:2: vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.).
Ons betaal belastings, soos Rom. 13:6, maar kyk wat daar staan, “Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is.” (Rom. 13:6)
En sien ook raak, soos met alle regerings, is daar ook, en veral ’n beperking op wat die burgerlike owerheid mag doen en nie mag doen nie, ons bely:
hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie …
Die vroedvroue wat geweier het om die Farao se moordplanne uit te voer, Ex. 1
Die vroeë kerk, wat nog altyd bely in die woorde van Petrus en Johannes, Hand. 5:29
“En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”
Daarom dat ons nie toegemaak het toe eredienste verbied is nie…
Maar ons moet ook reformerend ondersoek doen, hoe behoort burgerlike owerheid, take en persone te lyk in die lig van die Skrif, ook waar nog verdere gereformeer moet word oor wat ons verstaan as ‘n ‘Christelike owerheid’.
1 Tim. 2 het ons reeds gehoor om voorbidding te doen, nie net vir hul onderhouding nie, maar ook hul radikale hartgrondige bekering, om wet en orde te handhaaf, om te buig voor Christus, en hul ook te vermaan en waarsku:
“Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil” (Ps 2:10–12)
Dus, ons mag nie goddelose regeerders en partye ondersteun nie, bid en werk vir wesentlike bekering en verandering van ons leiers en regeerders op elke lewensterrein.
SO, om saam te vat, ons verwerp as gereformeerde gelowiges,
Beide uiterstes: die wederdoopse verwerping van burgerlike owerhede, asof ons geloof en kerkwees beteken burgerlike owerhede is nie deur God daar geplaas nie, en ons hoef nie te onderwerp nie, revolusioner wees, anargisties, opstandig, wetteloos en bandeloosheid…
Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en die regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder mense ingestel het, versteur.
MAAR, ek dink dit is die groter gevaar by gereformeerdes deur die eeue, ‘die blanko tjek’ burgerlike owerheid ‘goddelike reg’ van owerhede siening,
Onvoorwaardelike onderwerping …. en dit het ons gesien in die covid tye… hoe mense die burgerlike owerheid meer gevrees het as vir God, skokkend.
Maklik is God se gebod, 4de gebod ‘aangepas’, maar tot in die kleinste detail is die staat se regulasies uitvoer … al bewend en bang vir mense… en weë jou as jy dit durf bevraagteken het!
Ek het genoem, as die kerk maar 20 persent God en sy gebod gevrees en erns gemaak het as met covid regerings, sou die wereld anders gelyk het.
Laastens, ja geliefdes, die koninkryk van God in Christus, die evangelie, die kerk is nie afhanklik in sy voortgaan van enige koning, vors, burgerlike owerheid nie.
Die Here se raadsplan, sy reddingsplan sal geskied.
Maar dit beteken nie die burgerlike owerheid het nie ’n roeping nie,
so is die Here se evangelie nie afhanklik van ’n bepaalkde gesin of ‘n sekere plaaslike gemeente nie,
maar elkeen het ’n roeping en taak in God se koninkryk en heerskappy.
Bybelse gereformeerde Christene leer volgens die Bybel nog altyd,
sien NGB art. 1-35 wat ons van geleer het,
dat die hele skepping in alles God moes verheerlik,
die sondeval het alles aangetas, alle verhoudinge, elke terrein van die lewe,
al vier regerings, en as Christus kom en red en verander,
Dan raak dit alles weer, soos sonde alles aangetas het, so raak die evangelie en genade weer alles, die hele skepping, elke mens, elke ouer en gesin, elke gemeente, elke owerheid word opgeroep om God te dien en eer, in sy terrein, taak en roeping, elke duimbreedte behoort aan Christus, om volgens sy Woord en Gees te dien … of mense dit wil of gaan aanvaar of nie, daarvoor sal elkeen rekenskap gee, maar ons het die roeping en plig volgens Skrif en belydenis om die Verlosser Heerskappy van Christus orals te verkondig, met ‘n oproep tot geloof en bekering, elke burger en elke burgelike owerheid.
Vir almal en alle gesagsterreine en woorde geld as eis en opdrag, vir elke vader en moeder, elke kerkraad, vir elke koning, vors, vir keiser Nero, maar ook vir president Ramaphosa:
“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” (1 Kor. 10:31)
HOEKOM?
“Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom. 11:36)
AMEN.
_________________________________________
Sien hier meer artikels oor die burgerlike regering.
Leave a Reply