Die Christelike huisgesin: HOOFSTUK 2. Die versteuring van die huisgesin

DIE CHRISTELIKE HUISGESIN

Herman Bavinck

[Vertaal deur S. Le Cornu uit die oorspronklike, Het Christelijk Huisgezin (Kampen: J.H. Kok, 1908).  Meer inligting oor Bavinck (1854-1921) kan hier bekom word: http://hermanbavinck.org/ Van sy werke kan hier, Paideia Press, en hier, Neo-calvinisme, afgelaai word]

Vorige inskrywings:

Inleiding en agtergrond (ook tot vertaalprojek)

Hoofstuk 1: Die oorsprong van die huisgesin

Inleiding tot hoofstuk 2 – S. Le Cornu
Die eerste 2 paragrawe van Bavinck se hoofstuk 2, wys baie duidelik waarom VIDA ‘n wesentlike saak is wat gelowiges, gemeentes en kerkverbande moet handhaaf volgens die Skrif, en nie ‘n geloofsaak wat afgemaak moet word as ‘middelmatig, onbelangrik, of iets wat geakkomodeer word want daar is belangriker sake’ nie, want dit tas ons siening van ‘skepping, skeppingsordeninge en sondeval’ aan [die erge gevolge as daar van God se skeppingsorde in gesin en gemeente afgedwaal word, o.a. in al die huweliksverbrokkelinge wat plaasvind tot vandag nog, soos aangedui in Bavinck se hfst. 2 en later ook hoofstuk 3], asook ons siening van Skrifgesag en Skrifbeskouing, wat alles vanselfsprekend ook te doen het met die evangelie van Christus, want die Skrif kan nie gebreek word nie (Matt. 4:4; Joh. 10:35; 2 Tim. 3:14-17), en omdat Christus ook gekom het om die huwelik en gesin te herstel, nie te vernietig nie (Ef. 1:4-6; 5:21-6:4; 1 Tim. 1:15; 2:7-15; 3:1ev, ens.).

Lees opnuut die inleiding tot hierdie vertaalprojek van Bavinck se boek, waarin ek aantoon hoekom hierdie boek so belangrik is vir elke gelowige, veral elke gesin en gemeente, en daarom het ek dit begin vertaal (dankie vir elkeen wat al donasies begin gee het vir die Bavinck vertaalprojek, hopelik kan sy Magnalia Dei – ‘n opsomming van sy magistrale werk, Gereformeerde Dogmatiek, 4 groot dele, die volgende projek wees.)

____________________________________

Hoofstuk 2 – DIE VERSTEURING VAN DIE HUISGESIN

Die sondeval en gevolge vir man en vrou
Die sonde waarvoor die mens, kort na sy skepping, homself skuldig aan gemaak het, het die gesin in geen geringe mate geraak nie. Die derde hoofstuk van Genesis vertel ons dat die vrou eerste verlei is. Paulus lei vanuit hierdie feit, en dat Eva na Adam geskape is, die gevolgtrekking af dat die vrou nie as leraar binne die gemeente mag optree nie en oor die man moet heers nie (1 Tim. 2:12–14; vgl. 1 Kor. 14:34).

Natuurlik wil  die apostel nie daardeur te kenne gee dat Adam  nie gesondig het en nie skuldig staan nie, want in Romeine 5:12 stel hy juis dat die één mens, Adam, was verantwoordelik vir al die sonde en dood in die wêreld; in hom en deur hom het die hele mensdom geval; alle mense het vanweë Adam se sonde in hom gesterwe  (1 Kor. 15:22).

Paulus wil sê dat dit die vrou was wat reg in die begin, die eerste was wat deur die slang verlei is, die eerste wat persoonlik geval het, vir haarself. Sy was die eerste wat haar skuldig gemaak het aan ongeloof teenoor God en haar man, aan liggelowigheid jeens die verleier. En haar man het in sy geloof en vertroue verswak, omdat sy vrou hom verlei het en as leraar teenoor hom opgetree het. Adam val nie op dieselfde wyse as wat Eva geval het nie. Eva val uit begeerlikheid; sy val omdat sy geglo het dat die eet van die vrugte haar soos God sou maak, maar Adam val, omdat die liefde vir sy vrou sy liefde tot God oortref het.

Die eerste sonde het dus onmiddellik ‘n ommekeer binne die huislike orde teweeg gebring. In plaas van om haar man te volg, het die vrou die leiding geneem. In plaas van om gehoorsaam te wees, neem sy die leiding in hande. In plaas van om ‘n helper te wees, verhef sy haar to meesteres en heerser. Adam en Eva het nie net individueel gesondig nie, as mense vir hulself nie, maar hulle het ook gesondig as man en vrou, as vader en moeder.  Hulle het met  hul eie lot, met die lot van hul gesin, en met die lot van die hele menslike geslag gespeel.

Dit het onmiddellik duidelik geword in die verskriklike gevolge van hulle sonde. Die eerste gevolge, waar die skuldbesef tot uitdrukking kom, is die gevoel van skaamte. “Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.[1] Skaamte is ‘n gevoel van ongemak, van onrustigheid, wat bestaan in vrees vir skande en ons oorval,  wanneer ons ons iets onbehoorliks gedoen het of gedink het ons gedoen het. Daardie onbeskeidenheid kan betrekking hê op verskeie dinge.

‘n Mens is skaam hom oor iets wat moes gebly het agter die gordyn van beskeidenheid en reinheid, maar tog deur ander waargeneem is. Hy skaam hom oor iets wat hy in stryd met die sedes, gebruike en beleefdheidsvorme van ordentlikheid gedoen het. ‘n Jongman skaam hom dikwels vir sy vriende oor die goeie impulse wat voortspruit uit sy gewete. Die wyse en verstandige[2] skaam oor die dwaasheid van die kruis. Die heiliges skaam hul voor God en ander oor die sondes waaraan hulle hulself skuldig gemaak het.

Maar, in die derde hoofstuk van Genesis word ons egter vertel dat Adam en Eva was skaam, omdat hulle naak was. Tog kon naaktheid nie die diepste bron van hulle skaamte egter wees nie, want hulle was ook naak vóór hulle oortreding en het hul toe nie geskaam nie. Hulle skuldgevoel kom wel hierin to uiting, dat hul nou ‘n gevoel van ongemak, ‘n onaangename besef kry van hul naaktheid, maar die oorsprong daarvan is nie in die naaktheid opsigself nie.

Dit het ‘n dieper oorsaak. Hulle het God se gebod oortree en was nie meer onskuldig nie, nie teenoor God nie en ook nie teenoor mekaar nie. Hulle oë het oopgegaan; hulle het nie meer vry teenoormekaar gevoel nie; hulle durf mekaar nie meer in die oë te kyk nie; hulle lees mekaar se skuld op die ander se gesigte en hulle hoor die weerklank daarvan oral rondom hulle in die hele natuur.

Daar het ‘n verskriklike verandering in die toestand van hulle siele plaasgevind het, en so het hulle alles anders begin sien – hulleself, mekaar, die wêreld om hulle, en veral God. Hulle het dit nie gewaag om Hom te sien nie, hulle het van sy aangesig gevlug en onder die bome van die tuin verberg. Inderdaad, hulle oë was geopen, maar in ‘n ander sin as die verleier belowe het.

Die seën in die skande: gewete en skaamte

Tog is die skande ook ‘n seën. ‘n Dier ken geen skaamte nie, en die duiwel ewe min. Skaamte is uniek aan die mensdom, aan die gevalle mensdom wat ongehoorsaam was aan God se gebod, wat dit ook aanvoel en erken. Skaamte is ‘n teken van ‘n ontwaakte gewete, daardie menslike vermoë wat ‘n mens skuldig stel en veroordeel.

Deur die gewete bly daar iets in die mens behoue wat sonde afkeur, wat as regter bo en oor hom staan, daardie iets wat die vrede, rus en tevredenheid wegneem op grond van die oortreding wat gepleeg is. Dubbel ongelukkig is die mens wat sy gewete stilmaak, dit verhard en verskroei, en dan uiteindelik gewetensloos en  skaamteloos word!

Selfs al pynig ons gewete ons en veroordeel ons, die gewete bind ons aan die wêreld van onsigbare dinge en weerhou ons daarvan om in dierlikheid weg te sink. En wat die gewete innerlik in die siel is, is skaamte uiterlik in die liggaam. Skaamte word tereg die liggaam se gewete genoem. Beide gewete en skaamte demonstreer die gebrokenheid en verdeeldheid van die menslike bestaan, die disharmonie van die menslike lewe, die gaping tussen wat ‘n persoon behoort te wees en wat ‘n persoon werklik is.

Albei wys terug tot daardie angswekkende gebeurtenis aan die begin van die geskiedenis, toe die mens afgeval het van die hoogte by die skepping, en neergedaal het van die taak waartoe die mensdom geroep was.

Gewete en skaamte saam dryf die mens om homself te bedek en om homself verberg. Naaktheid begin hom te pla, want die mense het sy onskuld verloor. Die verlies van die kleed van heiligheid het bedekking deur kleding noodsaaklik gemaak. Met die gewete en skaamte het hierdie kleed vir die mens van die grootste betekenis geword. Dit herinner aan sy Goddelike afkoms en diepste val; dit veronderstel sy skuld en bewaar sy menswees; dit werp die mens neer en hou die mens tegelykertyd staande.

Al drie onderskei die mens van engele en diere, en verskaf aan mense ‘n unieke posisie in skepping. Hulle verkondig die mensdom se behoefte, maar ook die mens se vatbaarheid vir verlossing. Hulle skep vir die mensdom ‘n terrein tussen hel en hemel; dit bewaar die mens buite die Paradys vir versoening deur die kruis.

Die straf vir vrou en man

Die straf wat oor die mensdom uitgespreek is na hul oortreding, wys in dieselfde rigting. Dit geld nie net vir die straf wat aan die slang gegee is nie, wat skeiding gemaak het tussen die saad van die slang en die saad van die vrou nie, die verbond tussen die mensdom en Satan verbreek het en in die plek daarvan God se verbond met die mensdom tot stand gebring het. Dit is ook waar van die besondere strawwe wat oor die vrou en die man gebring word, strawwe wat verband hou met die aard en roeping van elkeen, strawwe wat baie ernstig gevolge het vir die geskiedenis van die huisgesin.

Eva is nie net as mens gestraf nie, maar veral ook as moeder en as vrou – iets wat ‘n Goddelike verordening openbaar. God het die mens in terme van hul onderskeie sondes gestraf. Die vrou het haar roeping om ‘n hulp vir haar man te wees misbruik deur hom te verlei en tot ‘n val te bring. So word sy dus ook in haar roeping gestraf. Sy word as moeder gestraf, dit wat vir die vrou die grootste vreugde is, word haar grootste pyn.

Sy kan haar roeping voortaan nie meer vervul nie, behalwe deur voortdurende fisiese en geestelike smart. En tog kan sy haar nie aan hierdie roeping onttrek en haar daarvan losmaak nie, want sy bly vrou; ten spyte van die smartvolle lewe wat haar deel in die huwelik sal wees.  Haar siel strek met verlange daarna om hierdie roeping te vervul, sy bly aan haar man gebonde en verlang daarna saam met hom wees.

Die man word reeds in die vrou gestraf, want soos sy, het hy teenoor haar sy vryheid, onafhanklikheid en selfbeheersing verloor. As slaaf van sy luste, word hy slaaf van die vrou, om dan daarna sy wraak weens sy vernedering en selfverlaging te wreek in ‘n woedende tirannie (oor haar). En dan, gedryf na die man deur haar eie begeertes, soek die vrou om hom met haar liste te betower, of sy buig soos ‘n slaaf onder sy voete. Slawerny en tirannie is die sondes waaraan die onderlinge verhouding van man en vrou oorgegee en blootgestel is, sedert die oortreding van God se verordeninge.

Maar daarby, kom die man se eintlike straf, wat hom in sy besondere roeping raak, naamlik om in die sweet van sy aangesig te werk. Die aarde word ter wille van die mens vervloek, sodat dit vanself alleen dorings en distels voortbring.[3] Die skepping word aan nietigheid onderwerp, nie uit ditself en gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.[4]  Die hele natuur word verander in ‘n mag wat die mensdom teëstaan ​​met ‘n vyandigheid wat die menslike bestaan en menslike lewe onderdruk.

Wanneer die mensdom dus sy band met God verbreek, word sy harmonie met die wêreld ook verbreek. So moet die man uitgaan om die aarde te onderwerp langs die weg van voortdurende worsteling; hy moet die stryd taandurf teen skrikwekkende natuurkragte, woedende elemente, wilde diere, onherbergsame terreine, teen wind en weer, koue en hitte, klippe en stof. Hy moet werk met hoof en hand, pynlik, moeitevol, elke dag, sy hele lewe lank.

Stap vir stap moet hy die wêreld verower, die aarde onderwerp, die natuur aan hom diensbaar maak. So alleen, in die sweet van sy aangesig, sal hy homself, sy gesin, sy geslag aan die lewe hou. Honger en liefde dryf hom van nou af rusteloos voort.

Ook die straf is tot seën

Maar ook hierdie straf is weerens ‘n seën vir die mens as individu, vir die gesin, en vir die hele samelewing. Die redes daarvoor is, want dit sluit eerstens in dat die mens bly lewe, dat hy nie dadelik doodgaan soos hy verdien het nie, dat hy vrugbaar sou wees en vermeerder, en met sy geslag die aarde sou vul.

Met hierdie verwagting het die eerste man die naam van sy vrou verander. Sy was eers Mannin genoem, omdat sy uit die man geneem is en as hulp vir hom gegee is. Nou sal sy die naam dra van Eva, moeder van die lewendes, dra, omdat die vrou padgee vir die moeder, en haar bystand aan die man is nou bepaal as die een wat kinders baar en versorg.

Verder behou die mensdom die taak wat aan hulle toevertrou is aan die begin van skepping. Die mensdom word steeds geroep om die aarde te vul, om dit te onderwerp, en om heerskappy uit te oefen, al kan die mensdom hierdie roeping alleen gebrekkig en in ‘n beangste stryd doen. Tog is hierdie moeitevolle arbeid opsigself ‘n seën, omdat dit die mens in sy verhewenheid bo die natuur handhaaf midde die geestelike en morele verval wat plaasgevind het.

Uiteindelik lê die belofte ook in die straf wat hier opgelê is, naamlik dat God die mensdom op sy moeilike weg sal begelei, versterk en ondersteun in die vervulling van sy roeping, want Eva is die moeder van die lewe, sy dra die lewe in haar skoot, die lewe van die mensdom, die lewe van die saad van die vrou. Die vrou sal gered word deur kinders te baar; in haar vroulike en moederlike roeping sal sy nie net haar  mooiste en mees elegante deugde vertoon nie, maar Maria, die geseënde een onder die vroue, sal ook Eva se oortreding herstel.

In die Seun, wat uit haar gebore sou word, bereik die vrou en die man weer hul bestemming,[5] want in Christus, die dienskneg van die Here, word deur die arbeid van sy siel nie net die waarheid herstel en die versoeking bewerk nie, maar ook die wêreld oorwin.

Aan Adam en Eva met hulle nageslag, vorm die heilige gesin van Josef, Maria en die kind die goddelike eweknie.

_______________________________________________________

[1] Genesis 2:7.

[2] Van hierdie wêreld, en nie die gelowiges nie, sien 1 Kor. 1:18ev.

[3] Genesis 3:19.

[4] Romeine 8:20.

[5] Hulle skeppingsdoel as beeldraers van God.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: